Hoofstuk 6
’n Wêreld wat vernietig is
1. (a) Het wêreldvernietiging die mensdom al ooit tevore in die gesig gestaar? (b) Waarom kan ons dankbaar wees dat Noag nie die waarskuwing daaromtrent in die wind geslaan het nie?
EENMAAL tevore het wêreldvernietiging voor die deur gestaan. Mense van alle nasies kan dankbaar wees dat daar onder hulle voorouers ’n man was wat nie God se waarskuwing in verband met ’n wêreldvloed in die wind geslaan het nie. Omdat Noag geluister en gehoorsaam het, het hy en sy vrou, hulle drie seuns en dié se vrouens die Vloed oorlewe. Ons het almal van hulle afgestam.—Genesis 10:1, 32.
2. Waarom het God daardie wêreld vernietig?
2 God het daardie wêreld vernietig omdat hy gesien het dat die aarde vol geweld was. ‚Die boosheid van die mens op die aarde was groot’ (Genesis 6:3, 5, 13). Toestande was baie soos die in ons 20ste eeu.
3. Wat het die toestand so laat versleg?
3 Wat het die toestand in Noag se dag so laat versleg? ’n Belangrike faktor word in Genesis 6:2 gemeld, waar ons lees: „Die seuns van God [het gesien] dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het.” Maar wat was daarmee verkeerd? Wel, dit was nie bloot ’n geval van mans wat besluit het om te trou nie. Hierdie „seuns van God” was engele, geesskepsele, wat die beeldskone vroue op aarde en die genietinge van die huwelik gesien en toe menslike gedaantes aangeneem het. (Vergelyk Job 1:6.) Deur menslike liggame aan te neem en te trou, was hulle aan God ongehoorsaam. Die Skrif sê dat hulle „hul eie woning verlaat het” en dat hulle omgang met vroue ‚onnatuurlik’, pervers, was (Judas 6, 7, vergelyk NW; 1 Petrus 3:19, 20). Hulle basterkinders was abnormaal groot en is Nefilim, of „kappers”, genoem omdat hulle bullebakke was.—Genesis 6:4, NW.
4. (a) Waarom het Noag genade gevind voor God? (b) Watter voorsorg is vir die behoud van lewe getref?
4 Hoewel Noag reg in daardie korrupte wêreld gelewe het, het hy genade gevind in die oë van Jehovah. Waarom? Omdat ‚Noag ’n regverdige man was’. Hy het geweet van die geskille wat in Eden geopper is, en hy was onberispelik, „’n man van onkreukbaarheid” (Genesis 6:8, 9, vergelyk The Jerusalem Bible). Om die behoud van Noag en sy gesin tesame met eksemplare van elke soort landdier en voël te verseker, het Jehovah hom beveel om ’n ark, ’n groot kisagtige vaartuig, te bou. Soos God verduidelik het: „Kyk, Ék bring ’n watervloed oor die aarde, om van onder die hemel te verdelg alle vlees waar ’n lewensgees in is. Alles wat op die aarde is, sal wegsterwe” (Genesis 6:13-17). Noag was verstandig en het God se bevele gehoorsaam.
5. Hoe omvattend was die Vloed?
5 Die Vloed het in die jaar 2370 v.G.J. gekom, soos die Bybel se breedvoerige chronologie aandui. Dit was die grootste aardramp in die mens se geskiedenis, selfs tot vandag toe. So oorweldigend was dit dat „al die hoë berge onder die ganse hemel bedek was” (Genesis 7:19). Deur middel van die Vloed het „die wêreld van daardie tyd . . . vergaan” (2 Petrus 3:6, NAV). Maar iemand sal dalk vra: ‚Waar is al daardie water nou, as selfs die hoogste berge onder water gestaan het?’ Dit is klaarblyklik nog hier op die aarde.
6. Wat het ná die Vloed van al die water geword?
6 Ons moet besef dat die Bybel nie sê dat enige berge in Noag se dag so hoog soos die berg Everest was nie. Wetenskaplikes sê dat die berge in die verlede baie laer was as vandag en dat party selfs van onder die see opgestoot is. Daar word ook gemeen dat die oseane eens op ’n tyd kleiner en die vastelande groter was as wat hulle nou is, soos blyk uit die feit dat rivierlope tot ver onder die oseane strek. Maar wat die huidige situasie betref, het die tydskrif National Geographic in sy nommer van Januarie 1945 berig: „Wat volume betref, is daar tien maal soveel water in die oseaan as wat daar grond bo seevlak is. Stort al hierdie grond eweredig in die see, en die hele aarde sal [2,4 kilometer] diep onder die water staan.” Nadat die vloedwaters geval het, maar voordat die styging van berge en die daling van seebeddings die water van die land laat afloop het en voordat die poolyskappe gevorm het, was daar dus oorgenoeg water om „al die hoë berge” te oordek, soos die Bybel sê.—Genesis 7:17-20; 8:1-3; vergelyk Psalm 104:8, 9.
7, 8. Watter bewys van die Vloed bestaan daar buite die Bybel?
7 So ’n oorweldigende wêreldvloed moes tog sekerlik ’n onuitwisbare indruk op die oorlewendes gemaak het. Hulle sou die nageslag daarvan vertel. Aangesien die Bybelverslag sê dat al die nasies van dieselfde groep Vloedoorlewendes afstam, is dit redelik om te verwag dat daar in alle dele van die aarde herinneringe aan daardie groot aardramp sal wees. Is dit die geval? Dit is inderdaad!
8 Namate die nakomelinge van die Vloedoorlewendes na vergeleë plekke weggetrek het en eeue verloop het, het die besonderhede verwronge geraak en is die verhaal by plaaslike godsdiensopvattings aangepas. Maar dit kan nouliks toeval wees dat daar in oerlegendes rondom die wêreld herinneringe is aan ’n groot vloed wat die mensdom verdelg het met uitsondering van ’n handjievol wat saam gespaar is. Verhale hieroor word in Mesopotamië en ander dele van Asië, in Australië en die Suidsee-eilande, onder tientalle Indiaanstamme in Noord- en Suid-Amerika, in die legendes van die antieke Grieke en die Romeine, in Skandinawië en onder stamme in Afrika aangetref. Baie van hierdie verhale maak melding van diere wat, saam met mense, in ’n boot behoed is. En in ooreenstemming met die Bybelverslag vertel party van voëls wat uitgestuur is om vas te stel of die water gesak het. (Vergelyk Genesis 7:7-10; 8:6-12.) Geen ander antieke gebeurtenis word so wyd onthou nie.
9. Watter gebruike getuig van ’n herinnering aan die gebeure van „die tweede maand” op Noag se kalender?
9 Geskiedkundige besonderhede in verband met die Vloed het gebruike tot op ons dag beïnvloed. Hoe? Wel, die Bybel berig dat die Vloed „in die tweede maand, op die sewentiende dag van die maand” begin het. Daardie „tweede maand” kom ooreen met die laaste deel van Oktober en die eerste deel van November op ons kalender (Genesis 7:11). Daarom is dit betekenisvol dat baie mense rondom die wêreld gedurende daardie tyd van die jaar ’n Dag van die Dode of Voorouerfees vier. Waarom juis dan? Omdat hierdie gebruike bewys lewer van herinneringe aan die vernietiging wat deur die Vloed veroorsaak is.a
10. Waarom is die Bybelverslag oor die Vloed die betroubaarste en van die grootste persoonlike waarde?
10 Dit is egter die Bybel self wat onvervalste getuienis bevat oor wat gebeur het. Wat Noag gesien en ervaar het, is later in die Bybel opgeteken. Eeue later het God self, by monde van die profeet Jesaja, van „die waters van Noag” melding gemaak (Jesaja 54:9). God se eersgebore Seun het die gebeure van Noag se dag waargeneem. Later, toe hy op aarde was, het hierdie Een, Jesus Christus, van die Vloed gepraat as ’n geskiedkundige feit en ook verduidelik waarom so baie daarin omgekom het.
‚HULLE HET NIE DAAROP AG GESLAAN NIE’
11. Waarom is so baie mense in die Vloed vernietig?
11 Jesus het nie gesê dat almal buite Noag se huisgesin krimineel gewelddadig was nie. Hy het eerder gesê: „Net soos hulle was in die dae van die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het [nie daarop ag geslaan het, NW] voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens [Jesus Christus] wees.”—Mattheüs 24:37-39.
12. Waarom was hulle versuim om ‚ag te slaan’ so ernstig?
12 Dit was nie verkeerd van hulle om matig te eet en te drink of om eerbaar te trou nie. Maar deur aan te hou om hulle lewens op sulke persoonlike strewes toe te spits nadat hulle van die komende wêreldramp verwittig is, het hulle getoon dat hulle nie werklik vir Noag of vir Jehovah God, wie se waarskuwingsboodskap Noag verkondig het, geglo het nie. As hulle geglo het, sou hulle ernstig navraag gedoen het oor hoe hulle die ramp kon oorleef en dan sonder versuim stappe gedoen het om aan die vereistes te voldoen. Miskien het party van die mense saamgestem dat iets gedoen moet word om ’n einde te maak aan die wydverspreide geweld van daardie tyd, maar ’n wêreldvloed het ongetwyfeld vir hulle baie onwaarskynlik gelyk. Gevolglik het hulle, soos Jesus gesê het, ‚nie ag geslaan [op God se boodskap by monde van Noag] totdat die Vloed gekom en almal weggevoer het nie’. Dit is opgeteken as ’n waarskuwende voorbeeld vir ons.
13. (a) Hoe reageer baie mense vandag soos voorspel is wanneer hulle hoor dat Christus onsigbaar teenwoordig is, en waarom? (b) Wat ignoreer hulle, volgens Petrus?
13 Die geïnspireerde apostel Petrus het eweneens ’n waarskuwing aan ons gerig toe hy geskryf het: „Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae [en dit is nou] spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.” Sulke persone wil nie teenoor iemand aanspreeklik wees nie. Daarom weier hulle om te dink aan Christus se teenwoordigheid en wat dit sal beteken vir almal wat ’n goddelose lewenswyse volg. Maar Petrus vervolg: „Moedswillig vergeet hulle dat daar van lankal af hemele was en ’n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord van God, waardeur die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het. Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ’n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.”—2 Petrus 3:3-7.
14. Waarom behoort die vervulling van „die woord van God” ten tye van die skepping en in Noag se dag ons tot ernstige nadenke te stem?
14 Die spotters ignoreer die feit dat „die woord van God” nie onvervuld bly nie. Om hulle standpunt te weerlê, vestig die apostel Petrus ons aandag op die tyd van die skepping. God het destyds gesê: „Laat daar ’n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters en waters.” Nadat God daardie woorde gespreek het, het hy „die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel is, geskei van die waters wat bo die uitspansel is”. So is „die woord van God”, sy verklaring van voorneme, vervul (Genesis 1:6, 7). Sy woord is ook vervul toe hy ’n wêreldvloed in Noag se dag gebied het en daardie waters gebruik het om „die toenmalige wêreld” te verdelg. En dit sal deur daardie selfde onstuitbare woord van God wees dat die huidige, goddelose stelsel vernietig sal word.
15. (a) Hoe weet ons dat 2 Petrus 3:7 nie die verbranding van die planeet Aarde voorspel nie? (b) Wat is die „hemele” en „die aarde” wat „vir die vuur bewaar” word?
15 Die gebeure ten tye van die Vloed was ’n skaduwee van dinge wat sou kom. Die aarde is nie destyds vernietig nie, maar wel goddelose mense. Wat word dan bedoel met die woorde: „Die teenswoordige hemele en die aarde . . . word vir die vuur bewaar”? (2 Petrus 3:7; 2:5). Wel, watter uitwerking sou letterlike vuur op die reeds vuurwarm son en sterre in die fisiese hemele hê? En hoe sou die verbranding van die letterlike aarde strook met God se voorneme om daarvan ’n paradys te maak? Dit spreek vanself dat „die teenswoordige hemele en die aarde” waarvan hier gepraat word, simbolies moet wees. (Vergelyk Genesis 11:1; 1 Konings 2:1, 2; 1 Kronieke 16:31.) Die „hemele” stel die regeringsmagte voor wat oor die mensdom in die algemeen troon, en „die aarde” is die goddelose mensegemeenskap. In die groot dag van Jehovah sal hulle geheel en al vernietig word, asof deur vuur. Diegene wat aanhou spot met die goddelike waarskuwing in hierdie verband, stel hulle aan lewensgevaar bloot.
VERLOSSING VIR PERSONE VAN GODVRUGTIGE TOEWYDING
16. Wat is die sleutel tot verlossing, soos 2 Petrus 2:9 toon?
16 Die verhaal van die Vloed bevat ’n belangrike les wat ons vandag ter harte moet neem. Wat is dit? Na vermelding van wat God in Noag se dag gedoen het, sê die apostel Petrus: „Jehovah weet om mense van godvrugtige toewyding uit beproewing te verlos, maar om onregverdige mense te bewaar vir die dag van oordeel om afgesny te word” (2 Petrus 2:9, NW). Die sleutel tot verlossing is dus om ’n persoon van godvrugtige toewyding te wees.
17. Hoe het Noag bewys gelewer van godvrugtige toewyding?
17 Wat beteken dit? Noag was ongetwyfeld ’n man van godvrugtige toewyding. „Noag het met God gewandel” (Genesis 6:9). Hy het ’n lewensweg gevolg wat ooreengekom het met Jehovah se geopenbaarde wil. Hy het ’n intieme, persoonlike verhouding met God gehad. Dit was ’n kolossale taak om die ark te bou en eksemplare van al die voëls en diere te versamel. Noag het nie besluit om te wag en te kyk wat gebeur nie. Hy het geloof gehad. „Noag het dit gedoen. Net soos God hom beveel het, so het hy gedoen” (Genesis 6:22; Hebreërs 11:7). Mense moes herinner word aan Jehovah se regverdige weë en gewaarsku word teen die komende vernietiging van die goddeloses. Ook dít het Noag gedoen as ’n „prediker van geregtigheid”.—2 Petrus 2:5.
18. Waarom moes elkeen wat die Vloed oorleef het sulke toewyding gehad het?
18 Wat van Noag se vrou, sy seuns en hulle vrouens—wat is van hulle vereis? Die Bybelverslag praat hoofsaaklik van Noag omdat hy die familiehoof was, maar die ander was seer sekerlik ook persone van godvrugtige toewyding. Hoe so? Jehovah het later die geval van Noag se kinders vir sy profeet Esegiël aangehaal om te toon dat, as Noag op daardie tyd in Israel gelewe het, sy kinders nie op grond van hulle vader se regverdigheid verlossing kon verwag nie. Hulle was oud genoeg om gehoorsaam of ongehoorsaam te wees, en daarom moes hulle persoonlik bewys lewer van hulle toegewydheid aan Jehovah en sy regverdige weë.—Esegiël 14:19, 20.
19. Wat moet ons dus nou doen, en hoe?
19 Met die oog op die sekerheid van die naderende wêreldvernietiging spoor die Bybel ons aan om dit goed in gedagte te hou en te toon dat ons ook persone van godvrugtige toewyding is (2 Petrus 3:11-13, NW). Onder die afstammelinge van Noag is daar vandag mense in alle dele van die aarde wat op daardie wyse raad ag slaan en wat tot in die „nuwe aarde” sal oorlewe.
[Voetnoot]
a The Worship of the Dead (Londen; 1904), deur kolonel J. Garnier, bladsye 3-8; Life and Work at the Great Pyramid (Edinburgh; 1867), Dl. II, deur professor C. Piazzi Smyth, bladsye 371-424.