Hoofstuk 17
’n Ander beskouing van gehoorsaamheid
1. Waarom het Jehovah toegelaat dat die Babiloniërs Jerusalem vernietig?
VOOR Jerusalem deur die Babiloniërs vernietig is, het Jehovah die Jode jare lank gewaarsku teen wat aan die kom was, en waarom. Hulle het die neigings van hulle verharde harte gevolg in plaas daarvan om aan God gehoorsaam te wees.—Jeremia 25:8, 9; 7:24-28.
2. (a) Watter voordele hang redelikerwys van gehoorsaamheid aan God af? (b) Hoe het Israel in ’n verbondsverhouding met Jehovah gekom?
2 Jehovah dwing niemand om hom te dien nie, maar hy verwag redelikerwys gehoorsaamheid van almal wat sy goedkeuring en die seëninge van lewe wat daarmee gepaard gaan, wil geniet. Nadat hy Israel uit Egipte verlos het, het Jehovah vir die volk gesê: „As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees” (Exodus 19:5, 6). Nadat God sy vereistes vir hulle gestel het en „die boek van die verbond” aan hulle voorgelees is, het hulle uit hulle eie vrye wil die verantwoordelikheid aanvaar wat aan so ’n verhouding met God gekoppel was.—Exodus 24:7.
3. (a) Op watter maniere het Israel daarna ’n opstandige gees teenoor Jehovah geopenbaar? (b) Waarom is daardie gebeure in die Bybel opgeteken?
3 Dit het egter nie lank geduur voor ’n opstandige gees kop uitgesteek het nie. Die kinders van Israel het nie openlik hulle geloof in Jehovah verloën nie. Maar baie het, in stryd met sy wet, probeer om Egiptiese gebruike met die aanbidding van Jehovah te vermeng (Exodus 32:1-8). Later het sommige krities geraak teenoor die manne wat Jehovah as sy sigbare verteenwoordigers gebruik het (Numeri 12:1-10; 16:1-3, 31-35). As ’n nasie het Israel nie die nodige geloof getoon om volgens God se woord op te tree nie; hulle is deur mensevrees aangedryf (Numeri 13:2, 31-33; 14:1-4; Hebreërs 3:17-19). Wanneer die oortredings onopsetlik was, kon diegene wat nederig berou getoon het vergifnis ontvang. Maar oor ’n tydperk van nege eeue het die nasie moedswillig die een goddelike vereiste na die ander veronagsaam, en dikwels sommer baie tegelyk. Die dinge wat hulle gedoen het, en die uiteinde daarvan, is in die Bybel opgeteken as waarskuwende voorbeelde vir ons.—2 Kronieke 36:15-17; 1 Korinthiërs 10:6-11.
4. (a) Wie was die Regabiete? (b) Onder watter verpligting het Jonadab hulle geplaas?
4 In die dae van Jeremia, nadat hulle herhaaldelik gewaarsku is teen die rampspoedige gevolge van hulle weg, het Jehovah aan die Jode ’n voorbeeld voorgehou—die Regabiete. Hulle was nie-Israeliete, afstammelinge van die Jonadab wat getoon het dat hy dit volkome eens was met Jehu, wat geen mededinging ten opsigte van Jehovah geduld het nie. Hierdie Jonadab het, as aartsvader van die stam van die Regabiete, sy nakomelinge beveel om tot in ewigheid geen wyn te drink nie, en ook om nie in huise te woon of die land te bewerk nie, maar om as swerwers in tente te woon. So sou hulle ’n sobere, eenvoudige lewe lei, vry van selfbevrediging en die euwels van die stadslewe, terwyl hulle Jehovah aanbid saam met die Israeliete onder wie hulle gewoon het.
5. Hoe was die Regabiete voorbeeldig ten opsigte van gehoorsaamheid?
5 Sou ’n mens kon verwag dat die Regabiete aan hulle menslike voorvader gehoorsaam sou wees terwyl die Jode geweier het om na Jehovah, die Universele Soewerein, te luister? Die Regabiete hét gehoorsaam gebly, en op ’n baie voorbeeldige manier. Hoewel hulle in Jerusalem skuiling gesoek het toe Juda deur Babiloniese en Siriese leërs binnegeval is, het hulle aangehou om in tente te woon. Maar hoe vasbeslote was hulle om nie hulle mond aan wyn te sit nie, al is die volk onder wie hulle gewoon het, toegelaat om dit te drink? Jehovah het Jeremia beveel om die Regabiete in ’n eetkamer van die tempel in te bring, wynbekers voor hulle neer te sit en hulle te nooi om te drink. Hulle het geweier. Waarom? Hulle het ongetwyfeld geweet hoe toegewyd hulle voorvader aan Jehovah was en besef dat hy liefdevol oor hulle welsyn begaan was, en daarom het hulle gehoorsaam gebly aan sy bevel. Jehovah het behae geskep in hierdie goeie voorbeeld van gehoorsaamheid wat die Jode se ongehoorsaamheid aan Jehovah aan die kaak gestel het.—Jeremia 35:1-11.
6. (a) Wie is vandag soos die Regabiete? (b) Wie is die teenbeeld van ongehoorsame Israel?
6 Daar is vandag mense wat soos die Regabiete is. Hulle is die Here se „ander skape”. Die vraag is nie vandag of hulle wyn sal drink nie. (Vergelyk 1 Timotheüs 5:23.) Dit is ’n persoonlike saak, mits hulle nie strawwe drinkers of miskien dronkaards word nie (Spreuke 23:20; 1 Korinthiërs 6:9, 10). Maar godvrugtige gehoorsaamheid is noodsaaklik. In teenstelling met die valse Christendom, die teenbeeld van afvallige Israel, toon die hedendaagse Regabiete-klas deur hulle dade dat hulle die waarde van godvrugtige gehoorsaamheid besef. Hoe sal dit hulle tot voordeel strek?
7. (a) Watter bemoedigende belofte het Jehovah aan die Regabiete gemaak? (b) Watter hoop bied dit aan die hedendaagse Regabiete-klas?
7 Weens hulle toewyding het Jehovah aan die Regabiete ’n belofte gegee wat van groot profetiese betekenis vir ons dag is. Hy het gesê: „Omdat julle geluister het na die gebod van julle vader Jonadab en al sy gebooie gehou en gedoen het net soos hy julle beveel het, daarom, so spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Daar sal vir Jonadab, die seun van Regab, nooit ’n man ontbreek wat altyd voor my aangesig sal staan nie” (Jeremia 35:18, 19). Hulle was onder die oorlewendes van Jerusalem se vernietiging in 607 v.G.J. En die klas wat deur hulle afgeskadu is, sal oorlewendes wees van die komende vernietiging van die valse Christendom en van die res van die wêreld wat sy eie, onafhanklike koers inslaan en weier om Jehovah se soewereiniteit te erken.
WAAROM GEHOORSAAMHEID MOEILIK KAN WEES
8. Waarom vind baie mense dit moeilik om gehoorsaam te wees?
8 Baie mense vind dit moeilik om gehoorsaamheid te leer. Hulle het grootgeword in ’n wêreld waar elkeen maak soos hy lus het. Hulle hou miskien van wat hulle leer omtrent die lewe onder God se Koninkryk. Maar as hulle denke deur trotsheid benewel word, kan hulle wegskram van sommige van God se vereistes of fout vind met die manier waarop hierdie vereistes aan hulle bekend gemaak word (Spreuke 8:13; 16:18). Naäman, die Siriese leërowerste in die dae van die profeet Elisa, het daardie probleem gehad.
9. (a) Hoe het dit gekom dat Naäman na Elisa gegaan het? (b) Wat het hy verwag, maar wat het gebeur?
9 Naäman was melaats. Maar omdat ’n gevange Israelitiese dogtertjie moedig haar geloof uitgespreek het dat Naäman genees kon word as hy maar net na Jehovah se profeet Elisa wou gaan, het Naäman na Israel gereis. Hy het met perde en strydwaens voor Elisa se huis stilgehou. Naäman was ’n vername man en het verwag dat Elisa sou uitkom om hom te ontmoet en dan ’n seremonie sou uitvoer waartydens hy Jehovah aangeroep en sy hand heen en weer oor die aangetaste vlees beweeg het totdat dit genees was. Maar Elisa het bloot ’n boodskapper uitgestuur om vir hom te sê dat hy hom sewe maal in die Jordaan moet gaan was.—2 Konings 5:1-12.
10. (a) Hoe het Naäman gereageer? (b) Wat het hom uiteindelik beweeg om gehoorsaam te wees? (c) Wat was die resultaat?
10 Naäman se trots was gekrenk. Hy is smoorkwaad daar weg. Maar nadat sy dienaars met hom geredeneer het, het hy hom in geloof verootmoedig. „Daarop het hy afgeklim en sewe maal in die Jordaan ondergeduik volgens die woord van die man van God, en sy vlees het teruggekeer soos die vlees van ’n jong seun, en hy het rein geword.” Dit het Naäman daarvan oortuig dat Jehovah die enigste ware God is, en hy het, ten spyte van sy aanvanklike reaksie, besef dat Elisa se voorskrifte inderdaad van God gekom het.—2 Konings 5:13-15.
11. (a) Op watter maniere is die „ander skape” deur Naäman afgebeeld? (b) Watter belangrike lesse moet ons almal leer?
11 Sien jy miskien sommige van Naäman se karaktertrekke in jouself? Soos die geval is met ander nie-Israeliete wat geloof getoon het, word Naäman in die Skrif gebruik as ’n voortipe van die „ander skape” wat ware aanbidding aanneem. Hulle is almal in sonde gebore en was eens geestelik siek. Hulle moes almal by Jehovah se gesalfde diensknegklas om hulp aanklop en dan gehoorsaam optree volgens wat hierdie „dienskneg” hulle uit God se Woord geleer het (Mattheüs 24:45). Party het aanvanklik nie al die Skriftuurlike raad wat hulle gekry het, waardeer nie—soos die nodigheid om gemeentevergaderinge gereeld by te woon, die belangrikheid van afgeskeidenheid van die wêreld of die noodsaaklikheid van Christelike waterdoop. Hulle het dalk gehuiwer om hulle toe te wy en in water gedoop te word omdat hulle hart weerstand gebied het teen die vereiste om ‚hulself te verloën’ ten einde ’n volgeling van Christus te wees. In party gevalle het hulle die manier gekritiseer waarop verantwoordelike persone in die gemeente hulle raad gegee het. Maar almal wat waarlik die Here se „ander skape” wil wees, moet mettertyd die belangrikheid van nederigheid en liefdevolle gehoorsaamheid leer.—Jakobus 4:6; Mattheüs 16:24.
GEBOOIE VIR ONS BESWIL
12, 13. (a) Waarom strek gehoorsaamheid aan Jehovah se gebooie ons tot voordeel? (b) Hoe kan dit toegelig word?
12 Namate ons meer van Jehovah en sy weë leer, begin ons besef hoe waar die woorde is wat hy lank gelede tot sy knegte gespreek het: „Ek is die Here jou God wat jou onderrig tot jou beswil, wat jou lei op die pad waarop jy moet gaan. As jy maar aan my gebooie gehoorsaam was . . . ” (Jesaja 48:17, 18, NAV). Dit is Jehovah se opregte begeerte dat sy volk rampe vermy en die lewe geniet deur op sy gebooie ag te gee. Hy weet hoe ons gemaak is en wat vir ons ware geluk sal bring. Hy waarsku ons teen gedrag wat ons kan verderf of ons verhouding met ander kan skaad.
13 Diegene wat ag gegee het op sy waarskuwing teen hoerery en owerspel is die ontsteltenis, siekte en buite-egtelike geboortes gespaar wat deur hierdie dinge veroorsaak word (1 Korinthiërs 6:18; Hebreërs 13:4). Deur raad soos dié in 2 Korinthiërs 7:1 toe te pas, het hulle vry gebly van verslawing aan tabak en ander dwelmmiddels wat die gesondheid skaad en tot ’n vroeë dood kan lei. Sy gebod dat ‚hulle hulle onthou van bloed’, het sy knegte gehelp om groter vertroue in hom te stel as die Een van wie al hulle vooruitsigte op toekomstige lewe afhang, en dit het hulle terselfdertyd beskerm teen aaklige siektes wat deur bloedoortappings versprei kan word.—Handelinge 15:28, 29.
14. Hoe vind ons daarby baat wanneer ons eers die Koninkryk soek en ons nie onnodig met die wêreld inlaat nie?
14 Solank ons in die wêreld is, sal ons ’n mate van onvermydelike kontak daarmee hê. Maar Jehovah waarsku ons om nie ons hoop daarop te vestig nie en om nie ’n deel daarvan te wees nie. Hy weet wat die toekoms vir die wêreld inhou. Hoe dwaas sou dit tog nie wees om jou hele lewe lank op te bou aan iets wat God gaan afbreek nie! Nog erger, die wat dit doen, sal op die ou end dieselfde lot hê as die wêreld waaraan hulle hulle lewe gewy het. Hoe nuttig dus die raad wat God se Seun gegee het: Soek God se Koninkryk! Stel dit eerste in jou lewe!—1 Johannes 2:17; Mattheüs 6:33.
15. (a) Wat moet ons leer om te doen as ons onder diegene wil wees wat sal terugkry wat Adam verloor het? (b) Hoe sal Jehovah gedurende die Millennium met ons praat?
15 Jehovah, wat presies weet wat ons nodig het, is nou besig om sy volk vir lewe in sy regverdige nuwe stelsel voor te berei. Adam se ongehoorsaamheid het tot menslike onvolmaaktheid, die verbeuring van die ewige lewe en uitsetting uit die Paradys gelei. As ons onder diegene wil wees wat geseën word met wat Adam verloor het, moet ons beslis toon dat ons luister wanneer God praat. En hoe sal hy met ons praat gedurende die komende Millennium, terwyl die mensdom tot volmaaktheid gelei word? Deur die Messiaanse Koninkryk. Sal daardie regering ook sigbare, aardse verteenwoordigers hê? Ja. Die Koning sal „vorste in die hele land” in sy diens hê. (Psalm 45:17; vergelyk Jesaja 32:1, 2.) Deur liefdevolle gehoorsaamheid aan hierdie vorste sal die mensdom hulle onderworpenheid aan hulle hemelse Koning toon.
16. Waarom is gehoorsaamheid aan die ouere manne nou ’n beskerming, en hoekom is dit goeie voorbereiding vir die lewe in God se Nuwe Orde?
16 Ter voorbereiding vir daardie tyd verskaf Jehovah nou opleiding deur sy sigbare, teokratiese organisasie. In die gemeentes het hy geestelik ouere manne, of ouderlinge, aangestel. Hulle hou die nodige toesig oor gemeentelike vergaderinge en neem die leiding in die prediking van die Koninkryksboodskap. Hulle onderrig almal wat Jehovah wil dien in die toepassing van Bybelbeginsels en hulle waarsku liefdevol teen strikke wat ’n mens se verhouding met God kan benadeel. Jehovah se Getuies oor die hele wêreld het ook tot die besef gekom dat gehoorsaamheid aan die ouere manne se instruksies dikwels tot lewensbehoud tydens storms, aardbewings en geweldpleging lei. Die gemeente behoort nie aan die ouere manne nie; dit behoort aan God. Die ouere manne maak nie daarop aanspraak dat hulle geïnspireer is nie. Maar die Skrif toon dat God hulle gebruik om die leiding te gee, en gehoorsaamheid aan hulle weerspieël eerbied vir die reëling wat Jehovah gebruik om sy knegte vir oorlewing tot in sy Nuwe Orde voor te berei.—Handelinge 20:28; Hebreërs 13:17.
17. Wat moet ons beweeg om gehoorsaam te wees?
17 Maar sulke gehoorsaamheid spruit nie bloot uit die begeerte om onder die oorlewendes van die komende wêreldvernietiging te wees nie. Daar is veel meer by die saak betrokke. Wat? Waardering vir die lewe en vir al God se voorsienings om dit te onderhou. Dankbaarheid vir sy gawes wat ons lewe verryk—die vermoë om te dink, om skoonheid en geestelike standaarde te waardeer, om ons Skepper te ken en te aanbid. Ook bewustheid van die groot liefde van God wat hom beweeg het om sy eie Seun te gee om sy lewe op te offer sodat ons die geleentheid kan hê om vir ewig te lewe.
18. Hoe beskou ons gehoorsaamheid aan God en sy organisasie wanneer ons hom eers goed leer ken het?
18 Vir diegene wat God goed leer ken het, is gehoorsaamheid nie ’n onaangename taak nie. Omdat hulle sy voornemens en vereistes goed verstaan en gesien het watter goeie resultate daaruit voortvloei wanneer hulle hierdie vereistes nakom, bestaan daar by hulle geen twyfel dat God se weg die enigste redelike en verstandige weg is nie. Hulle besef dat dit ’n beskerming is. Dit is ook ’n manier waarop hulle hulle liefde vir God kan toon. Hulle skep groot behae daarin om aan hom gehoorsaam te wees.—1 Johannes 5:3; Psalm 119:129.
[Prente op bladsy 135]
Net soos melaatse Naäman moet party hulle trots te bowe kom