Hoofstuk 9
Ons ontsagwekkende heelal
1, 2. (a) Hoe kan die stoflike hemele beskryf word? (b) Watter vrae stel denkers, en wat kan die antwoorde ons help om vas te stel?
DIE sterrehemel vul mense al duisende jare lank met verwondering. Op ’n helder nag hang die pragtige sterre soos skitterende juwele teen die duisternis van die ruimte. ’n Maanligaand baai die aarde in ’n unieke skoonheid.
2 Diegene wat nadink oor wat hulle sien, wonder dikwels: ‘Wat is daar presies in die ruimte? Hoe is dit georganiseer? Kan ons uitvind hoe dit in aansyn gekom het?’ Antwoorde op hierdie vrae sal ons ongetwyfeld help om akkurater vas te stel waarom die aarde met sy mense en ander lewensvorme bestaan, en wat die toekoms inhou.
3. Wat is een gevolg van groter kennis van die heelal?
3 Baie eeue gelede is daar gemeen dat die heelal bestaan uit die paar duisend sterre wat met die blote oog gesien kan word. Maar nou, met kragtige instrumente wat die hemele aftas, weet wetenskaplikes dat daar veel, veel meer is. Trouens, die dinge wat waargeneem is, is baie ontsagwekkender as wat enigiemand ooit gedroom het. Die menseverstand word verstom deur die ontsagwekkendheid en ingewikkeldheid daarvan. Volgens die tydskrif National Geographic laat die dinge wat die mens nou oor die heelal te wete kom “hom verstom staan”.1
Ontsagwekkende grootte
4. Wat is in die 1920’s ontdek?
4 In die laaste eeue het astronome wat die hemele met hulle groot teleskope gefynkam het dowwe wolkformasies waargeneem. Hulle het aangeneem dat dit nabygeleë gaswolke is. Maar in die 1920’s, toe daar begin is om sterker teleskope te gebruik, is daar gevind dat hierdie “gasse” iets veel groter en betekenisvoller is—galaktiese of melkwegstelsels.
5. (a) Wat is ’n galaktiese stelsel? (b) Wat sluit ons Melkweg in?
5 ’n Galaktiese stelsel is ’n ontsaglike groep sterre, gas en ander materiaal wat om ’n sentrale kern wentel. Dit is al ’n eilandheelal genoem, want elkeen is op sigself soos ’n heelal. Beskou byvoorbeeld die galaktiese stelsel genaamd die Melkweg waarin ons ons bevind. Ons sonnestelsel, dit wil sê die son en die aarde en ander planete met hulle mane, is ’n deel van hierdie galaktiese stelsel. Maar dit is slegs ’n uiters klein deeltjie daarvan, want ons Melkweg bevat meer as 100 miljard sterre! Sommige wetenskaplikes skat dat dit ten minste 200 tot 400 miljard sterre bevat. En een wetenskapredakteur het selfs gesê: “Daar kan soveel as vyf- tot tienbiljoen sterre in die Melkwegstelsel wees.”2
6. Wat is die deursnee van ons Melkweg?
6 Die deursnee van ons Melkweg is so groot dat dit 100 000 jaar sou duur om dit oor te steek as ’n mens teen die snelheid van lig (299 792 kilometer per sekonde) kon reis! Hoeveel kilometer is dit? Wel, aangesien lig ongeveer 9,5 biljoen (9 500 000 000 000) kilometer in ’n jaar aflê, moet jy dit met 100 000 vermenigvuldig om die antwoord te kry: ons Melkweg is ongeveer 950 duisendbiljoen (950 000 000 000 000 000) kilometer in deursnee! Die gemiddelde afstand tussen sterre in die Melkweg is glo ongeveer ses ligjaar, of ongeveer 56 biljoen kilometer.
7. Waarop word die getal galaktiese stelsels in die heelal geskat?
7 Vir die menseverstand is dit feitlik onmoontlik om sulke groottes en afstande te begryp. En tog is ons Melkweg net die begin van wat in die buitenste ruimte is! Daar is iets selfs verstommender. Dit is: Daar is nou soveel galaktiese stelsels ontdek dat daar gesê word dat hulle “so algemeen soos grashalms in ’n weiveld is”.3 Daar is om en by tienmiljard galaktiese stelsels in die waarneembare heelal! Maar daar is nog baie meer buite die bereik van hedendaagse teleskope. Sommige astronome skat dat daar 100 miljard galaktiese stelsels in die heelal is! En elke galaktiese stelsel kan honderdmiljarde sterre bevat!
Melkwegbondels
8. Hoe is galaktiese stelsels gerangskik?
8 En dit is nie al nie. Hierdie ontsagwekkende galaktiese stelsels is nie lukraak deur die ruimte versprei nie. Hulle kom gewoonlik voor in bepaalde groepe genaamd melkwegbondels, soos druiwekorrels in ’n tros. Duisende van hierdie melkwegbondels is al waargeneem en gefotografeer.
9. Wat sluit ons melkwegbondel in?
9 Sommige bondels bevat betreklik min galaktiese stelsels. Ons Melkweg is byvoorbeeld ’n deel van ’n bondel van ongeveer 20 galaktiese stelsels. In hierdie groep is daar een “naburige” galaktiese stelsel wat op ’n helder nag sonder ’n teleskoop gesien kan word. Dit is die Andromeda-sterrestelsel, wat net soos ons Melkweg spiraalvormig is.
10. (a) Hoeveel galaktiese stelsels kan daar in ’n bondel wees? (b) Wat is die afstande tussen galaktiese stelsels, en tussen melkwegbondels?
10 Ander melkwegbondels bestaan uit dosyne, moontlik honderde of selfs duisende galaktiese stelsels. Een sodanige bondel bevat vermoedelik 10 000 galaktiese stelsels! Die afstand tussen die galaktiese stelsels in ’n bondel kan gemiddeld ongeveer eenmiljoen ligjaar wees. Maar die afstand van een melkwegbondel na ’n ander kan honderd keer meer wees. En daar is selfs getuienis dat die bondels self in “superbondels” gerangskik is, soos druiwetrosse aan ’n wingerdstok. Watter enormiteit en skitterende organisasie tog!
Soortgelyke organisasie
11. Watter soortgelyke organisasie vind ons in ons sonnestelsel?
11 Wanneer ons na ons sonnestelsel kyk, vind ons nog ’n voortreflik georganiseerde reëling. Die son, ’n ster van middelmatige grootte, is die “kern” waarom die aarde en ander planete met hulle mane in presiese bane wentel. Hulle wentel jaar na jaar met sulke wiskundige sekerheid dat astronome akkuraat kan voorspel waar hulle op enige oomblik in die toekoms sal wees.
12. Hoe is atome georganiseer?
12 Wanneer ons na oneindig klein dingetjies—atome—kyk, sien ons dieselfde presisie. ’n Atoom is ’n wonder van orde, en die orde daarvan kom ooreen met dié van die sonnestelsel. Dit bestaan uit ’n kern wat deeltjies genaamd protone en neutrone bevat, waarom daar klein elektrone wentel. Alle materie bestaan uit hierdie boustene. Dit is die getal protone en neutrone in die kern en die getal en rangskikking van die elektrone wat daarom wentel wat een stof van ’n ander laat verskil. Dit het ’n voortreflike orde, aangesien al die elemente waaruit materie bestaan in presiese volgorde gerangskik kan word op grond van die getal van hierdie boustene wat aanwesig is.
Wat is vir hierdie organisasie verantwoordelik?
13. Waardeur word die ganse heelal gekenmerk?
13 Soos ons gesien het, is die grootte van die heelal waarlik ontsagwekkend. So ook die wonderlike orde daarvan. Van die oneindig groot tot die oneindig klein dinge, van melkwegbondels tot atome, word die heelal deur voortreflike organisasie gekenmerk. Die tydskrif Discover het gesê: “Ons was verbaas om die orde waar te neem, en ons kosmoloë en fisici vind steeds nuwe en verbasende aspekte van die orde. . . . Ons het altyd gesê dat dit ’n wonderwerk is, en ons beskou steeds die ganse heelal as ’n wonder.”4 Selfs die woord wat algemeen in die sterrekunde gebruik word om die heelal te beskryf—“kosmos”—is ’n erkenning van hierdie ordelike struktuur. Een woordeboek definieer dit as “’n ordelike, harmoniese, sistematiese heelal”.5
14. Wat het ’n voormalige ruimtevaarder gesê?
14 Voormalige ruimtevaarder John Glenn het gepraat van “die ordelikheid van die ganse heelal om ons”, en gesê dat die galaktiese stelsels “almal in voorgeskrewe bane in verhouding tot mekaar beweeg”. Hy het gevolglik gevra: “Kon dit sommer net gebeur het? Was dit ’n ongeluk dat ’n klomp uitskot skielik vanself in hierdie bane begin beweeg het?” Hy het die gevolgtrekking gemaak: “Ek kan dit nie glo nie. . . . ’n Mag het al hierdie dinge in hul wentelbane geplaas en hou dit daar.”6
15. Waarop dui die eksakte ontwerp en organisasie van die heelal?
15 Trouens, die heelal is so akkuraat georden dat die mens die hemelligame kan gebruik as grondslag om sy tyd te meet. Maar enige goed ontwerpte uurwerk is onteenseglik die produk van ’n ordelike verstand wat die vermoë het om te ontwerp. Slegs ’n intelligente persoon besit ’n ordelike verstand wat dinge kan ontwerp. Wat dan van die veel ingewikkelder ontwerp en betroubaarheid wat dwarsdeur die heelal aangetref word? Gee dit nie blyk van ’n ontwerper, ’n maker, ’n verstand—intelligensie—nie? En het jy enige rede om te glo dat intelligensie apart van ’n persoonlikheid kan bestaan?
16. Watter gevolgtrekking moet ons oor die heelal maak?
16 Ons kan nie daarvan wegkom nie: Voortreflike organisasie vereis ’n voortreflike organiseerder. Niks in ons ondervinding dui daarop dat enigiets wat georganiseerd is per toeval, per ongeluk, gebeur nie. Al ons lewenservaring toon eerder dat alles wat georganiseer is ’n organiseerder moet hê. Elke masjien, rekenaar, gebou, ja, selfs potlood en papier, het ’n maker, ’n organiseerder, gehad. Die veel ingewikkelder en ontsagwekkender organisasie in die heelal moes dus logies ook ’n organiseerder gehad het.
Wet vereis ’n wetgewer
17. Watter rol speel wette in die heelal?
17 En die ganse heelal, van atome tot galaktiese stelsels, word deur bepaalde fisiese wette beheer. Daar is byvoorbeeld wette wat hitte, lig, klank en swaartekrag beheer. Fisikus Stephen W. Hawking het gesê: “Namate ons die heelal verder ondersoek, vind ons dat dit glad nie arbitrêr is nie, maar dat dit sekere goed omskrewe wette gehoorsaam wat op verskillende terreine van krag is. Dit lyk baie redelik om aan te neem dat daar sekere verenigende beginsels is, sodat alle wette ’n deel van ’n groter wet is.”7
18. Wat was ’n vuurpyldeskundige se gevolgtrekking?
18 Vuurpyldeskundige Wernher von Braun het verder gegaan toe hy gesê het: “Die natuurwette van die heelal is so presies dat ons geen probleem het om ’n ruimtetuig te bou wat na die maan kan vlieg nie, en dat ons die vlugtyd met die presisie van ’n breukdeel van ’n sekonde kan bepaal. Hierdie wette moes deur iemand daargestel word.”8 Wetenskaplikes wat wil hê dat ’n vuurpyl om die aarde of die maan moet wentel, moet sulke universele wette gehoorsaam as hulle welslae wil behaal.
19. Wat moet daar wees as daar wette is?
19 Wanneer ons aan wette dink, erken ons dat hulle van ’n wetgewende liggaam af moet kom. As ons ’n verkeersteken sien wat sê: “Stop”, weet ons vir seker dat dit by ’n persoon of ’n groep persone ontstaan het. Wat dan van die omvattende wette wat die materiële heelal beheer? Sulke briljante wette getuig beslis van ’n hoogs intelligente wetgewer.
Die Organiseerder en Wetgewer
20. Wat het Science News gesê?
20 Nadat Science News kommentaar gelewer het oor al die besondere orde en wet wat so duidelik in die heelal te sien is, het dit gesê: “Bepeinsing oor hierdie dinge ontstel kosmoloë, want dit wil voorkom of sulke besondere en eksakte toestande nouliks per toeval kon ontstaan het. Een manier om die vraag te hanteer, is om te sê dat alles beplan is en dit aan die Voorsienigheid toe te skryf.”9
21. Wat is sommige persone bereid om te erken?
21 Baie mense, waaronder talle wetenskaplikes, is nie bereid om dit te erken nie. Maar ander is bereid om toe te gee dat die intelligensie waarop die getuienis bly dui, wel bestaan. Hulle erken dat die ontsaglike grootte van die heelal, die presisie daarvan en die wette wat dit beheer nooit net per ongeluk tot stand kon gekom het nie. Al hierdie dinge moet die produkte van ’n bomenslike verstand wees.
22. Hoe het een Bybelskrywer die Maker van die heelal geïdentifiseer?
22 Dit is die gevolgtrekking van een Bybelskrywer wat van die fisiese hemele gesê het: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam.” “Hy” word geïdentifiseer as die Een “wat die hemele geskape en hulle uitgesprei het”.—Jesaja 40:26; 42:5.
Die bron van energie
23, 24. Hoe kan materie voortgebring word?
23 Bestaande materie word deur universele wette beheer. Maar waar het al die materie vandaan gekom? In Cosmos sê Carl Sagan: “Aan die begin van hierdie heelal was daar geen galaktiese stelsels, sterre of planete, geen lewe of beskawings nie.” Hy beskryf die verandering van daardie toestand tot die huidige heelal as “die mees ontsagwekkende transformasie van materie en energie waarvan ons die voorreg gehad het om ’n flou skynsel te sien.”10
24 Dit is die sleutel tot ’n begrip van hoe die heelal in aansyn kon gekom het: Daar moes ’n transformasie van energie en materie gewees het. Hierdie verband is bevestig deur Einstein se beroemde formule, E=mc2 (energie is gelyk aan massa maal die snelheid van lig kwadraat). Een gevolgtrekking wat uit hierdie formule afgelei word, is dat materie uit energie voortgebring kan word, net soos geweldige energie uit materie voortgebring kan word. Die atoombom het laasgenoemde bewys. Astrofisikus Josip Kleczek het gevolglik gesê: “Die meeste en moontlik alle elementêre partikels kan geskep word deur die verstofliking van energie.”11
25. Wat is die bron van die ontsagwekkende krag wat nodig was om die heelal te skep?
25 Daar is dus wetenskaplike getuienis dat ’n bron van oneindige energie oor die grondstof sou beskik om die heelal te skep. Die Bybelskrywer wat vroeër aangehaal is, het gesê dat hierdie bron van energie ’n lewende, intelligente persoon is: “Vanweë die oorvloed van dinamiese energie, en omdat hy sterk is in krag, ontbreek daar nie een van hulle [die hemelligame] nie” (Jesaja 40:26, NW). Uit die Bybelse standpunt was hierdie bron van onbeperkte energie die oorsaak van watGenesis 1:1 beskryf: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.”
Die begin nie chaoties nie
26. Waaroor is wetenskaplikes dit vandag meestal eens?
26 Wetenskaplikes is dit vandag oor die algemeen eens dat die heelal wel ’n begin gehad het. Een vername teorie wat probeer om hierdie begin te beskryf, staan bekend as die Ontploffingsteorie. “Feitlik alle onlangse besprekings van die oorsprong van die heelal is op die Ontploffingsteorie gebaseer”, sê Francis Crick.12 Jastrow praat van hierdie kosmiese “ontploffing” as “letterlik die skeppingsoomblik”.13 Astrofisikus John Gribbin het egter in New Scientist erken dat hoewel wetenskaplikes “in die reël daarop aanspraak maak dat hulle in fyn besonderhede kan beskryf” wat na hierdie “oomblik” gebeur het, die oorsaak van “die skeppingsoomblik ’n raaisel bly”. En, het hy gemymer, “miskien het God dit tog gemaak”.14
27. Waarom is die Ontploffingsteorie te beperk?
27 Die meeste wetenskaplikes is egter nie bereid om hierdie “oomblik” aan God toe te skryf nie. Daar word gewoonlik gesê dat die ontploffing chaoties was, soos die ontploffing van ’n kernbom. Maar het hierdie soort ontploffing beter organisasie tot gevolg? Het die bomme wat in oorlogstyd op stede val voortreflik ontwerpte geboue, strate en verkeerstekens tot gevolg? Inteendeel, sulke ontploffings veroorsaak verwoesting, wanorde, chaos, ontwrigting. En wanneer dit ’n kernbom is, is die ontwrigting volkome, soos dit in 1945 met die Japannese stede Hirosjima en Nagasaki die geval was.
28. Watter gevolgtrekking moet gemaak word oor die sterk kragte wat meegewerk het om die heelal te skep?
28 Nee, ’n blote “ontploffing” kon nie ons ontsagwekkende heelal met sy verbasende orde, ontwerp en wette skep nie. Slegs ’n magtige organiseerder en wetgewer kon die sterk kragte wat aan die werk was, beheer sodat dit voortreflike organisasie en wette tot gevolg kon hê. Wetenskaplike getuienis en logika bied dus vaste steun vir die Bybel se verklaring: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.”—Psalm 19:2.
29. Wat word deur die waarnemings van die wetenskap sowel as ons eie waarnemings bevestig?
29 Die Bybel beantwoord dus vrae waaroor die evolusieteorie nie duidelikheid kon gee nie. Die Bybel laat ons nie in die duister oor wie vir die oorsprong van alle dinge verantwoordelik is nie, maar gee vir ons die antwoord—eenvoudig en verstaanbaar. Dit bevestig die waarnemings van die wetenskap, sowel as ons eie, dat niks vanself ontstaan nie. Hoewel ons nie persoonlik aanwesig was toe die heelal gemaak is nie, is dit duidelik dat dit ’n Baasbouer moes hê, net soos die Bybel redeneer: “Elke huis word deur iemand gebou, maar Hy wat alle dinge gebou het, is God.”—Hebreërs 3:4.
[Lokteks op bladsy 115]
Die dinge wat die mens nou omtrent die heelal te wete kom, laat “hom verstom staan”
[Lokteks op bladsy 117]
Ons Melkweg bevat meer as 100 miljard sterre
[Lokteks op bladsy 118]
Galaktiese stelsels is in groepe gerangskik, soos druiwekorrels in ’n tros
[Lokteks op bladsy 12]
Wetenskaplikes “vind steeds nuwe en verbasende aspekte van die orde”
[Lokteks op bladsy 123]
Voortreflike organisasie vereis ’n voortreflike organiseerder
[Lokteks op bladsy 123]
Die heelal ‘gehoorsaam sekere goed omskrewe wette’
[Lokteks op bladsy 125]
“Dit wil voorkom of sulke besondere en eksakte toestande nouliks per toeval kon ontstaan het”
[Volbladillustrasie op bladsy 114]
[Prent op bladsy 116]
’n Tipiese, spiraalvormige galaktiese stelsel
[Prent op bladsy 116, 117]
Ons sonnestelsel, in die vierkant hierbo, is nietig wanneer dit met ons Melkwegstelsel vergelyk word
[Prent op bladsy 119]
Die Andromeda-sterrestelsel, wat met ons Melkweg ooreenkom, is net ’n klein deeltjie van die ontsagwekkende heelal wat volgens sommige ongeveer 100 miljard galaktiese stelsels bevat
[Prente op bladsy 121, 121]
Die planete in ons sonnestelsel wentel met groot presisie om die son
Die orde in ’n atoom kom ooreen met dié van die sonnestelsel
[Prent op bladsy 122]
’n Presisiehorlosie is die produk van ’n intelligente ontwerper. Is die veel groter presisie in die heelal dan nie die produk van ’n hoër, intelligente ontwerper nie?
[Prent op bladsy 124]
Om ’n vuurpyl in ’n wentelbaan te plaas, moet bewegingswette en die wet van swaartekrag gehoorsaam word. Sulke wette vereis ’n wetgewer
[Prent op bladsy 125]
Verkeerswette moes in verstande ontstaan
[Prente op bladsy 126]
Die atoombom het getoon dat materie en energie met mekaar verband hou
Laat bomontploffings geboue meer georganiseerd word?
[Prent op bladsy 127]
“Elke huis word deur iemand gebou, maar Hy wat alle dinge gebou het, is God.”—Hebreërs 3:4