Hoofstuk 10
Die getuienis van ’n unieke planeet
1, 2. Wat sê waarnemers oor ons planeet Aarde?
ONS planeet Aarde is waarlik ’n wonder—’n seldsame, pragtige juweel in die ruimte. Ruimtevaarders het gesê dat die aarde se blou hemel en wit wolke, soos vanuit die ruimte gesien, “dit verreweg die aantreklikste voorwerp gemaak het wat hulle kon sien”.1
2 Dit is egter veel meer as net mooi. “Die aarde is die grootste van alle kosmologiese, wetenskaplike raaisels, en dit verydel al ons pogings om dit te verstaan”, het Lewis Thomas in Discover geskryf. Hy het bygevoeg: “Ons begin nou eers besef hoe vreemd en pragtig dit is, hoe dit die asem beneem, die allerfraaiste voorwerp wat om die son dryf, omsluit deur sy eie blou atmosfeerborrel, terwyl dit sy eie suurstof vervaardig en inasem, sy eie stikstof uit die lug haal en in sy eie grond sit, en sy eie weer veroorsaak.”2
3. Wat sê die boek The Earth oor ons planeet, en waarom?
3 Die volgende feit is ook interessant: Uit al die planete in ons sonnestelsel het wetenskaplikes slegs op Aarde lewe gevind. En watter wonderlike verskeidenheid lewende dinge is daar tog—mikroskopiese organismes, insekte, plante, visse, voëls, diere en mense. Daarbenewens is die aarde ’n yslike skatkamer wat alles bevat wat nodig is om al daardie lewe te onderhou. Die boek The Earth het dit raak gestel: “Die aarde is die wonder van die heelal, ’n unieke sfeer.”3
4. Watter illustrasie kan gebruik word om te toon hoe uniek die aarde is, en watter gevolgtrekking moet ons maak?
4 Om toe te lig hoe uniek die aarde is, kan jy jou voorstel dat jy in ’n dorre, lewelose woestyn is. Skielik kom jy op ’n pragtige huis af. Die huis het lugversorging, verhitting, sanitêre pypwerk en elektrisiteit. Die yskas en ander kaste is vol kos. In die kelder is daar brandstof en ander voorrade. Gestel jy het nou vir iemand gevra waar al hierdie dinge in so ’n dorre woestyn vandaan kom. Wat sou jy dink as die persoon geantwoord het: “Dit het per toeval hier verskyn”? Sou jy dit glo? Of sou jy vanselfsprekend aanneem dat dit ’n ontwerper en bouer gehad het?
5. Watter Bybelse getuienis is gepas ten opsigte van ons planeet Aarde?
5 Al die ander planete wat wetenskaplikes bestudeer het, het geen lewe nie. Maar Aarde wemel van lewe, wat onderhou word deur baie ingewikkelde stelsels wat lig, lug, hitte, water en voedsel in fyn balans voorsien. Dit gee blyk dat dit spesiaal gebou is om lewende dinge gerieflik te huisves—soos ’n pragtige huis. En soos een van die Bybel se skrywers logies geredeneer het: “Elke huis word deur iemand gebou, maar Hy wat alle dinge gebou het, is God.” Ja, die oneindig groter en verbasender “huis”—ons planeet Aarde—verg die bestaan van ’n merkwaardig intelligente ontwerper en bouer, God.—Hebreërs 3:4.
6. Hoe het sommige erken dat die planeet Aarde wel blyk gee van intelligente ontwerp?
6 Hoe meer wetenskaplikes die planeet Aarde en die lewe daarop ondersoek, des te duideliker besef hulle dat dit inderdaad voortreflik ontwerp is. Scientific American het verwonderd gesê: “Wanneer ons in die heelal inkyk en die talle fisiese en astronomiese ongelukke sien wat tot ons voordeel meegewerk het, lyk dit amper asof die heelal geweet het dat ons gaan kom.”4 En Science News het erken: “Dit wil voorkom of sulke besondere en eksakte toestande nouliks per toeval kon ontstaan het.”5
Die regte afstand van die son af
7. Hoe kry die aarde net die regte hoeveelheid energie in die vorm van lig en hitte van die son af?
7 Onder die talle eksakte toestande wat noodsaaklik is vir lewe op aarde is die hoeveelheid lig en hitte wat van die son af ontvang word. Die aarde kry slegs ’n klein deeltjie van die son se energie. Dit is egter net die regte hoeveelheid om lewe te onderhou. Dit is omdat die aarde net die regte afstand van die son af is—gemiddeld 150 000 000 kilometer. As die aarde veel nader aan of verder van die son geleë was, sou dit te warm of te koud vir lewe gewees het.
8. Waarom is die aarde se wentelsnelheid om die son so belangrik?
8 Terwyl die aarde een maal per jaar om die son wentel, beweeg dit teen ’n snelheid van ongeveer 107 200 kilometer per uur. Daardie snelheid is net reg om die aantrekkingskrag van die son te neutraliseer en die aarde op die regte afstand te hou. Indien daardie snelheid sou afneem, sou die aarde na die son toe getrek word. Mettertyd sou Aarde ’n verskroeide woesteny word soos Mercurius, die planeet naaste aan die son. Gedurende die dag is Mercurius se temperatuur meer as 300 grade Celsius. Maar as Aarde se wentelsnelheid sou toeneem, sou dit verder van die son af beweeg en sou dit ’n bevrore woesteny word soos Pluto, die planeet waarvan die baan die verste van die son af reik. Pluto se temperatuur is ongeveer 180 grade Celsius benede vriespunt.
9. Waarom is dit belangrik dat die aarde teen ’n sekere snelheid om sy as draai?
9 Daarbenewens draai die aarde elke 24 uur een keer om sy as. Dit veroorsaak gereelde tydperke van lig en duisternis. Maar gestel die aarde het net een keer per jaar om sy as gedraai. Dit sou beteken dat dieselfde kant van die aarde heel jaar lank na die son gekeer sou wees. Daardie kant sou waarskynlik ’n vuurwarm woestyn word, terwyl die kant weg van die son af ’n bevrore woesteny sou word. Min, indien enige, lewende dinge sou in daardie uiterste omstandighede kon bestaan.
10. Hoe beïnvloed die aarde se helling die klimaat en oeste?
10 Terwyl Aarde om sy as draai, hel dit 23,5 grade in verhouding tot die son oor. As die aarde nie oorgehel het nie, sou daar geen seisoensveranderinge gewees het nie. Die klimaat sou gedurig dieselfde gewees het. Hoewel dit die lewe nie onmoontlik sou maak nie, sou dit dit minder interessant maak en sou dit die huidige oeskringlope op baie plekke drasties verander. Indien die aarde verder oorgehel het, sou daar buitengewoon warm somers en bitter koue winters gewees het. Maar die aangename seisoensveranderinge met hulle interessante verskeidenheid is aan die helling van 23,5 grade te danke. In baie dele van die aarde is daar verfrissende lentes met plante en bome wat ontwaak en pragtige blomme wat bloei, warm somers wat allerhande buitelugbedrywighede moontlik maak, fris herfsweer met asemrowende vertonings van blare wat verkleur, en winters met pragtige tonele van berge, woude en velde onder ’n sneeukombers.
Ons verbasende atmosfeer
11. Wat maak die aarde se atmosfeer so uniek?
11 Die atmosfeer wat die aarde omring, is ook uniek—inderdaad verbasend. Geen ander planeet in ons sonnestelsel het dit nie. Ook nie ons maan nie. Dit is waarom ruimtevaarders ruimtepakke nodig gehad het om daar aan die lewe te bly. Maar geen ruimtepakke is op die aarde nodig nie, want ons atmosfeer bevat die regte verhouding gasse wat onontbeerlik is vir lewe. Sommige van daardie gasse is op sigself dodelik. Maar omdat lug hierdie gasse in veilige verhoudings bevat, kan ons hulle inasem sonder dat skade aangerig word.
12. (a) Hoe is dit duidelik dat ons net die regte hoeveelheid suurstof het? (b) Watter noodsaaklike funksie verrig stikstof?
12 Een van daardie gasse is suurstof, en dit maak 21 persent uit van die lug wat ons inasem. Daarsonder sal mense en diere binne minute doodgaan. Maar te veel suurstof sal ons bestaan in gevaar stel. Waarom? Suiwer suurstof is giftig as dit te lank ingeasem word. En hoe meer suurstof daar is, des te makliker brand dinge. As daar te veel suurstof in die atmosfeer was, sou brandbare stowwe hoogs ontvlambaar word. Brande sal maklik uitbreek en moeilik wees om te beheer. Suurstof is wyslik verdun met ander gasse, veral stikstof, wat 78 persent van die atmosfeer uitmaak. Maar stikstof is nie net ’n verdunningsmiddel nie. Daar kom elke dag dwarsoor die aarde miljoene weerligstrale tydens donderstorms voor. Hierdie weerlig laat stikstof met suurstof verbind. Die verbindings wat gevorm word, word deur reën na die aarde gebring, en plante gebruik dit as messtof.
13. Watter rol speel die regte hoeveelheid koolstofdioksied in die lewenskringloop?
13 Koolstofdioksied maak minder as een persent van die atmosfeer uit. Van watter nut is so ’n klein hoeveelheid? Daarsonder sal plante doodgaan. Plante het daardie klein hoeveelheid nodig; hulle neem dit op en gee dan suurstof af. Mense en diere asem suurstof in en koolstofdioksied uit. ’n Groter persentasie koolstofdioksied in die atmosfeer sal vir mense en diere nadelig wees. ’n Kleiner persentasie sou nie plantelewe kon onderhou nie. Watter wonderlike, eksakte, selfonderhoudende kringloop is tog vir die planteryk, diereryk en mensdom gereël!
14, 15. Hoe dien die atmosfeer as ’n beskermende skild?
14 Die atmosfeer onderhou nie net lewe nie. Dit is ook ’n beskermende skild. Ongeveer 24 kilometer bokant die grond filtreer ’n dun laag osoongas skadelike straling van die son af uit. Sonder hierdie osoonlaag sou sulke straling lewe op aarde vernietig. Die atmosfeer beskerm die aarde ook teen meteore. Die meeste meteore bereik nooit die grond nie omdat hulle tydens hulle val deur die atmosfeer verbrand en vir ons na verskietende sterre lyk. Anders sou miljoene meteore alle dele van die aarde tref en groot skade aan lewe en eiendom aanrig.
15 Die atmosfeer is nie alleen ’n beskermende skild nie, maar dit verhoed dat die hitte van die aarde in die koue ruimte verlore gaan. En die aarde se swaartewerking verhoed dat die atmosfeer self ontsnap. Daardie swaartekrag is net sterk genoeg om dit te doen, maar nie so sterk dat dit ons bewegingsvryheid belemmer nie.
16. Wat kan oor die prag van die lug gesê word?
16 Die atmosfeer is nie alleen onontbeerlik vir lewe nie, maar die veranderende lug is ook baie mooi om te aanskou. Die omvang en prag daarvan gaan eenvoudig die verbeelding te bowe. Die aarde is omring deur die oneindig majestueuse en kleurryke panoramas van die lug. In die ooste kondig ’n goue gloed die dagbreek aan, terwyl die westerkim in pragtige vertonings van pienk, oranje, rooi en pers die dag vaarwel sê. Golwende wit, katoenagtige wolke kondig ’n mooi lente- of somersdag aan; in die herfs sê ’n wolkekleed soos van lamwol dat die winter nader kom. Die naghemel is asemrowend met sy sterreprag, en ’n maanlignag het ’n unieke bekoring.
17. Wat het ’n skrywer oor die lug gesê, en wie kom die eer hiervoor toe?
17 Watter verbasende voorsiening is ons aarde se atmosfeer tog in elke opsig! ’n Skrywer in The New England Journal of Medicine het gesê: “In die geheel beskou, is die lug ’n wonderbaarlike prestasie. Dit werk, en vir die doel waarvoor dit gemaak is, is dit so onfeilbaar soos enigiets anders in die natuur. Ek twyfel of enigeen van ons aan ’n manier kon dink om dit te verbeter, behalwe miskien om nou en dan ’n wolk van hier af soontoe te verskuif.”6 Hierdie kommentaar laat ons dink aan wat ’n man duisende jare gelede erken het toe hy sulke merkwaardige dinge gesien het—dat hulle “die wonderlike werk [is] van Hom wie se kennis volmaak is”. Hy het natuurlik die Persoon in gedagte gehad “wat die hemele geskape en hulle uitgesprei het”.—Job 37:16, NAV;Jesaja 42:5.
Water—’n buitengewone stof
18. Wat is sommige van die eienskappe van water wat dit buitengewoon maak?
18 Die aarde bevat ’n ontsaglike voorraad water met eienskappe wat noodsaaklik is vir lewe. Dit kom in groter oorvloed voor as enige ander stof. Een van water se talle nuttige eienskappe is dat dit as ’n gas (waterdamp), ’n vloeistof (water) en ’n vaste stof (ys) voorkom—almal binne die aarde se temperatuuruiterstes. Boonop moet die duisende grondstowwe wat mense, diere en plante nodig het in ’n vloeistof, soos bloed of sap, vervoer word. Water is uiters geskik hiervoor, want meer stowwe los daarin op as in enige ander vloeistof. Sonder water sou voeding nie kon voortgaan nie, aangesien lewende organismes op water staatmaak om die stowwe op te los waarvan hulle leef.
19. Watter buitengewone eienskap het water wat verys, en waarom is dit so belangrik?
19 Water is ook buitengewoon in die wyse waarop dit verys. Wanneer water in mere en seë kouer word, word dit swaarder en sink dit. Dit verplaas die ligter, warmer water en laat dit opstyg. Maar wanneer water die vriespunt nader, keer die proses om! Die kouer water word nou ligter en styg op. Wanneer dit verys, dryf dit. Die ys is ’n isolator en verhoed dat die dieper water daaronder verys. So beskerm dit seelewe. Sonder hierdie unieke eienskap sou daar elke winter al hoe meer ys na die bodem sak waar die son se strale dit nie die volgende somer kon laat smelt nie. Die water in riviere, mere en selfs die oseane sou gou soliede ys word. Die aarde sou in ’n onherbergsame, bevrore planeet verander.
20. Hoe word reën gevorm, en hoe getuig die grootte van reëndruppels van bedagsame ontwerp?
20 Nog iets buitengewoons is die wyse waarop gebiede ver van riviere, mere en seë af lewensonderhoudende water kry. Elke sekonde verander die son se hitte duisendmiljoene liters water in waterdamp. Hierdie waterdamp, wat ligter as lug is, styg op en vorm wolke in die lug. Wind en lugstrome verskuif hierdie wolke, en onder die regte toestande val die vog as reën. Maar reëndruppels word nie baie groot nie. Gestel dit was nie die geval nie, en reëndruppels het yslik groot geword. Dit sou rampspoedig wees! Maar reën kom gewoonlik af in die regte grootte, en saggies, sodat ’n grashalm of die delikaatste blom selde daardeur beskadig word. Van watter meesterlike, bedagsame ontwerp getuig water tog!—Psalm 104:1, 10-14; Prediker 1:7.
“Die produktiewe land”
21, 22. Van watter wysheid spreek die samestelling van “die produktiewe land”?
21 Een van die Bybelskrywers beskryf God as die Een wat “die produktiewe land deur sy wysheid stewig bevestig het” (Jeremia 10:12, NW). En hierdie “produktiewe land”—die grond van die planeet Aarde—is indrukwekkend. Die samestelling daarvan getuig van wysheid. Grond het eienskappe wat onontbeerlik is vir plantegroei. In die aanwesigheid van lig kombineer plante die voedingstowwe en water in die grond met koolstofdioksied uit die lug om voedsel te vorm.—VergelykEsegiël 34:26, 27.
22 Die grond bevat chemiese elemente wat nodig is om mense- en dierelewe te onderhou. Maar plante moet eers hierdie elemente omskep in vorme wat deur die liggaam opgeneem kan word. Klein lewende organismes help hiermee. En daar is miljoene van hulle in net een teelepel grond! Hulle kom in tallose verskillende vorme voor, maar elkeen omskep dooie blare, gras en ander afvalmateriaal in ’n bruikbare vorm, of maak die grond los sodat lug en water daarin kan kom. Sekere bakterieë omskep stikstof in verbindings wat plante nodig het om te groei. Die teellaag word verbeter wanneer erdwurms en insekte voortdurend deeltjies van die ondergrond na die oppervlak bring.
23. Watter herstelvermoëns het die grond?
23 Weens misbruik en ander faktore word grond weliswaar beskadig. Maar hierdie skade hoef nie permanent te wees nie. Die aarde het verbasende ingeboude herstelvermoëns. Ons kan dit sien waar brande of vulkaanuitbarstings die grond verwoes het. Mettertyd groei plante weer geil in hierdie gebiede. En wanneer besoedeling beheer word, herstel die grond, selfs grond wat in ’n barre woesteny omgeskep is. Om die basiese probleem by die misbruik van die grond op te los, het die aarde se Skepper hom bowenal voorgeneem om “die verderwers van die aarde te verderf” en om dit as die ewige tuiste te bewaar wat hy oorspronklik vir die mensdom berei het.—Openbaring 11:18; Jesaja 45:18.
Nie net toeval nie
24. Watter vrae kan ons oor blinde toeval stel?
24 Hier is ’n paar dinge wat jy in gedagte kan hou terwyl jy oor die voorgaande nadink: Was dit blinde toeval wat die aarde op net die regte afstand van die son—sy bron van energie in die vorm van lig en hitte—af geplaas het? Was dit blote toeval wat meegebring het dat die aarde teen net die regte snelheid om die son beweeg, elke 24 uur om sy as draai en teen net die regte hoek oorhel? Was dit toeval wat die aarde toegerus het met ’n beskermende, lewensonderhoudende atmosfeer wat uit presies die regte mengsel gasse bestaan? Was dit toeval wat die aarde die water en grond gegee het wat nodig is om voedsel voort te bring? Was dit toeval wat soveel smaaklike en kleurryke vrugte, groente en ander voedselsoorte voorsien het? Was dit toeval wat meegebring het dat soveel skoonheid in die lug, die berge, die strome en mere, die blomme, plante en bome, en in soveel ander genotvolle lewende dinge bestaan?
25. Watter gevolgtrekking het baie mense oor ons unieke planeet gemaak?
25 Baie het tot die gevolgtrekking gekom dat al hierdie dinge nouliks aan blinde toeval toegeskryf kan word. Hulle sien eerder oral die onmiskenbare stempel van bedagsame, intelligente, doelbewuste ontwerp. Omdat hulle dit besef, meen hulle dat dit net reg is dat die bevoordeeldes ‘God vrees en Hom heerlikheid gee’ omdat hy die Een is wat “die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het”.—Openbaring 14:7.
[Lokteks op bladsy 129]
“Die aarde is die wonder van die heelal, ’n unieke sfeer”
[Lokteks op bladsy 135]
Sonder suurstof sou mense en diere binne minute doodgaan
[Lokteks op bladsy 137]
‘Die lug is ’n wonderbaarlike prestasie’
[Lokteks op bladsy 137]
Sonder water kan diere en plante nie die voedingstowwe kry wat hulle nodig het nie
[Lokteks op bladsy 141]
Die aarde dra die onmiskenbare stempel van doelbewuste ontwerp
[Diagram/Prent op bladsy 130]
Aangesien elke huis ’n ontwerper en bouer het, wat dan van ons veel ingewikkelder en beter toegeruste aarde?
[Diagram]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Geutpyp
Geut
Bakstene
Houtdakspane
Dakvenster
Pleister
Hout
Lat
A, A-10
13, 1
12, 12
E, E, E, E
[Diagram/Prente op bladsy 132, 133]
Die aarde se helling bring aangename seisoensveranderinge mee
Somer
Herfs
Winter
Lente
[Diagram]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
’n Helling van 23,5°
[Diagram/Prent op bladsy 134]
Sommige gasse sou op sigself dodelik wees, maar vermeng met ander in die atmosfeer onderhou hulle lewe
Samestelling van die aarde se atmosfeer
78% Stikstof
21% Suurstof
1% Alle ander gasse
[Diagram]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die atmosfeer beskerm die aarde teen skadelike straling en teen meteore
[Volbladillustrasie op bladsy 128]
[Prent op bladsy 131]
Die aarde se wentelsnelheid hou dit net die regte afstand van die son af
[Prent op bladsy 136]
’n Naghemel het ’n unieke bekoring
[Prent op bladsy 138]
Water sak af wanneer dit kouer word, maar styg op net voordat dit verys. Dit verhoed dat die aarde ’n bevrore planeet word
[Prent op bladsy 139]
Lig van die son af, koolstofdioksied uit die lug en water en chemikalieë uit die grond verbind wonderbaarlik om voedsel te vorm
[Prente op bladsy 140]
Die aarde het verbasende herstelvermoëns. Plantegroei verskyn gou weer
[Prent op bladsy 141]
Was dit blinde toeval wat soveel aangename dinge vir ons genieting voorsien het?