Finansieel ondersteun deur vrywillige bydraes
Al die werk wat vroeër bespreek is, word deur vrywilligers gedoen, wat beteken dat uitgawes laag gehou word. Die bediening van huis tot huis en die verspreiding van die lektuur word vrywillig deur Jehovah se Getuies gedoen. Hulle dek hulle eie onkoste. Die ouere manne wat oor die gemeentes toesig hou, bygestaan deur die bedieningsknegte, ontvang geen betaling vir hulle dienste nie. Hulle dek almal hulle eie onkoste.
Selfs die lede van die Bestuursliggaam en alle ander wat hulle voltyds besig hou met die voorbereiding en vervaardiging van Bybels en Bybellektuur ontvang slegs hulle kamer en maaltye en ’n klein toelae om koste te dek. Dieselfde geld vir die voltydse reisende opsieners.
Die klein bydraes wat vir lektuur ontvang word, dek gewoonlik net die basiese koste van materiaal, vervaardiging en versending. Alle ander uitgawes word gedek deur vrywillige geldelike bydraes deur Jehovah se Getuies self, hetsy deur skenkings of deur erflatings.
By alle vergaderinge van Jehovah se Getuies, hetsy op gemeentevlak of by byeenkomste, is daar bydraebusse beskikbaar vir die wat graag ’n bydrae wil gee. Geen kollektes word gehou nie. Daar is geen ledegeld of tiendes wat betaal moet word nie. Soos die Skrif bepaal, kan elkeen bydra soos hy hom in sy hart voorgeneem het.—2 Korinthiërs 8:12; 9:7.
• Hoe word al die werksaamhede van Jehovah se Getuies finansieel ondersteun?