Vervolg ter wille van die geregtigheid
Jy hoor moontlik by vriende en familielede dat Jehovah se Getuies in die moeilikheid kom met die gereg, dat hulle deur sommige regerings verbied is of dat hulle in ander opsigte slegte mense is. Waarom hierdie ongunstige berigte oor hulle?
Dit is nie omdat die Getuies die wet veronagsaam nie, maar omdat hulle die voetstappe van Jesus navolg. Jesus het vir sy dissipels gesê dat mense hulle sal beledig, vervolg en valslik allerhande kwaad teen hulle sal spreek. Dit is omdat God se groot teenstander, Satan, die god van hierdie wêreld is, en hy wil mense graag van God se diens afkeer.—Mattheüs 5:10-12; 10:16-22, 34-39; 24:9, 10; Johannes 15:17–16:3; 2 Timotheüs 3:12; 1 Petrus 5:8; Openbaring 12:17.
Toe die apostels in hegtenis geneem en voor die hof gebring is, was dit nie omdat hulle misdadigers, geweldenaars of oproerstokers was nie. Dit was omdat hulle die goeie nuus verkondig het. Toe die apostel Paulus hom op ’n hoër hof beroep het, was dit om die reg van Christene om die goeie nuus te verkondig te verdedig en wetlik te bevestig.—Handelinge 4:18-20; 5:28-32; Filippense 1:7.
Vandag is Jehovah se Getuies wetsgehoorsame Christene wat hulle belasting betaal en wat gesagdraers eerbiedig. Hulle betaal aan die keiser wat die keiser toekom en aan God wat God toekom. As hulle met enige regeringsowerheid bots, is dit omdat die regering nie hulle predikingswerk erken nie, of omdat hulle neutraal staan ten opsigte van die aangeleenthede van die nasies. Hier moet Jehovah se Getuies dieselfde standpunt inneem as die apostels, wat gesê het: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”—Handelinge 5:29; Markus 12:17; Johannes 18:36; Titus 3:1, 2.
Jehovah se Getuies soek nie vervolging nie, maar wil liewer ’n rustige en stil lewe lei. As hulle egter vervolg word omdat hulle aan God se wet gehoorsaam is en die voorbeeld van Jesus Christus volg, verduur hulle dit met blydskap.—Mattheüs 5:10-12; Handelinge 5:40, 41; 1 Korinthiërs 4:12; 1 Timotheüs 2:2; 1 Petrus 3:14, 15; 4:12-16.
• Waarom word Jehovah se knegte beledig en vervolg?
• Waarom bots Jehovah se Getuies soms met regeringsowerhede, soos ook met die Christenapostels die geval was?
• Hoe beskou Jehovah se knegte vervolging?
[Prente op bladsy 29]
Jesus is voor Pilatus gebring en die apostel Paulus is gevange gesit omdat hulle God se Koninkryk verkondig het