Hoofstuk 14
Eerbied vir die lewe as ’n gawe
1, 2. Waarom moet ons diepe eerbied vir die lewe as ’n gawe toon?
DIEPE eerbied vir die lewe is ’n grondslag vir ware vrede en veiligheid. Maar daar is vandag ’n groot gebrek aan sulke eerbied vir die lewe. Mense het baie bedrewe geword in die wyse waarop hulle ander se lewe neem, maar nie een van hulle kan die lewe teruggee as iemand eers dood is nie.
2 Eerbied vir die lewe is ’n heilige plig teenoor die Lewegewer, Jehovah God. Van hom het die psalmis gesê: “By U is die fontein van die lewe” (Psalm 36:10). Ons is ons lewe aan God verskuldig, nie net omdat hy die mens geskep het nie, maar ook omdat hy toegelaat het dat die mensdom tot nou toe voortbestaan en middele voorsien het om die lewe te onderhou (Handelinge 14:16, 17). En wat meer is, hy het gereël dat sy Seun die Vrykoper of Verlosser van die mensdom word deur dit met sy lewensbloed te koop (Romeine 5:6-8; Efesiërs 1:7). Gevolglik bied hy nou aan almal wat dit wil aanneem die geleentheid om vir ewig in sy regverdige Nuwe Orde te lewe. Hoe kan ons, met die oog hierop, ons diepe eerbied en waardering vir God se gawe—die lewe—toon?
3. Watter invloed het dit op ’n persoon se gesindheid teenoor die lewe as hy vir vermaak na geweldpleging kyk?
3 As ons in alle erns eerbied vir die lewe wil toon, sal ons byvoorbeeld nie soos ander wees wat hulle gedagtes bloot vir afleiding voed met programme wat geweld uitbeeld nie. Die aanvaarding van geweld as “vermaak” het baie mense hard en ongevoelig gemaak teenoor menselyding en lewensverlies. Maar as ons dankbaar is vir God se goedheid en die hoop wat hy gee, sal ons so ’n gees weerstaan. Ons sal waardering vir die lewe as ’n gawe van God opbou. Dit sal ’n uitwerking hê op hoe ons ons lewe gebruik, hoe ons ander mense behandel, selfs hoe ons die ongeborenes beskou.
Eerbied vir die lewe van ongeborenes
4. (a) Wanneer word die lewe aan ’n mens se kinders oorgedra? (b) Wat toon of God reeds voor geboorte in ’n menselewe belangstel?
4 Die vermoë om die lewe oor te dra, is ’n wonderlike, Godgegewe voorreg. Daardie lewe word oorgedra, nie by geboorte nie, maar wanneer bevrugting plaasvind. Volgens die Encyclopædia Britannica is dit dan dat “die lewensgeskiedenis van die individu as ’n onderskeie en biologiese wese begin”. Dit sê ook: “’n Nuwe individu word geskep wanneer die elemente van ’n kragtige saadsel met dié van ’n vrugbare eier saamsmelt.”60 God se belangstelling in menselewe begin eweneens voor geboorte. Die psalmis Dawid het die volgende woorde tot God gerig: “Ú het . . . my in my moeder se skoot geweef. . . . U oë het my ongevormde klomp [“embrio”, NW] gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe.”—Psalm 139:13-16; Prediker 11:5.
5. Waarom hou die argumente wat aangevoer word in ’n poging om aborsie te regverdig nie steek nie?
5 Die lewens van miljoene ongebore kinders word elke jaar opsetlik deur middel van vrugafdrywing, of aborsie, beëindig. Is dit moreel reg? Sommige voer aan dat die ongebore baba nie van die lewe bewus is nie en nie buite die baarmoeder aan die lewe kan bly nie. Maar dit is ook basies waar van ’n pasgebore baba. By geboorte het hy geen besef van die betekenis van die lewe nie, en hy kan ook nie sonder voortdurende sorg aan die lewe bly nie. Die lewende sel wat ten tye van bevrugting gevorm is, word so ’n baba mits daar nie daarmee ingemeng word nie. Wanneer ’n pasgebore baba se lewe geneem word, word dit feitlik oral as ’n misdaad beskou, en geweldige pogings word aangewend om selfs vroeggebore babas te red. Waarom is dit dan nie ook ’n misdaad om die lewe van die ongeborenes te neem nie? Waarom moet lewe as heilig beskou word eers nadat die baba die baarmoeder verlaat het, en nie ook terwyl dit in die baarmoeder is nie?
6. Hoe toon die Bybel wat God se beskouing van die saak is wanneer ’n ongebore kind se lewe opsetlik geneem word?
6 Die belangrike saak is nie net hoe mense sake beskou nie, maar wat God, die Lewegewer, sê. Vir Jehovah is die lewe van die ongebore kind kosbaar, iets waarmee daar nie gespeel moet word nie. Hy het aan eertydse Israel ’n wet gegee wat spesifiek daardie lewe beskerm. Wanneer ’n swanger vrou tydens ’n worsteling tussen twee manne beseer is of as gevolg daarvan ’n miskraam gehad het, het hierdie wet kwaai strawwe voorgeskryf (Exodus 21:22, 23). Wanneer die lewe van ’n ongebore kind opsetlik geneem word, sal dit selfs ernstiger wees. Kragtens God se wet moes enigeen wat opsetlik ’n menselewe geneem het as ’n moordenaar ter dood veroordeel word (Numeri 35:30, 31). God het nog steeds dieselfde hoë agting vir die lewe.
7. Waarteen word ons beskerm wanneer ons God se wil in verband met die lewe van ’n ongebore kind eerbiedig?
7 Diepe eerbied vir God se wil in verband met die lewe van die ongebore kind hou groot voordele in. Deur ouers ten volle verantwoordelik te maak vir daardie lewe, voorsien Jehovah ’n buffer teen seksuele promiskuïteit met al sy slegte vrugte. Dit sluit seksueel oordraagbare siektes, ongewenste swangerskappe, buite-egtelike kinders, ontwrigte gesinne en die geestespanning van ’n onrein gewete in. Eerbied vir die lewe kan dus nou tot gesinsvrede bydra en ’n belangrike faktor wees by die verkryging van toekomstige seëninge.
Eerbied vir jou eie lewe
8. Waarom moet ons eerbied vir God se wil toon deur die wyse waarop ons ons eie liggaam behandel?
8 Wat van die manier waarop ons ons eie lewe bejeën? Baie mense sê: ‘Ek het nie gevra om gebore te word nie. Dus is dit my saak wat ek met my lewe doen. Ek sal maak soos ek wil.’ Maar moet ’n gawe versoek word voordat die ontvanger dit kan waardeer? Die lewe self is onteenseglik goed. Dit is slegs menslike onvolmaaktheid en boosheid wat die lewe van baie van sy vreugde beroof. Dit is nie Jehovah God se skuld nie. En hy beloof om dit deur sy Koninkryksregering reg te stel. Ons moet dus die lewe wat hy ons gee op so ’n wyse lei dat dit eerbied vir sy wil en voorneme toon.—Romeine 12:1.
9. Wat sê die Bybel oor vraatsug en dronkenskap?
9 Een manier waarop ons sulke waardering kan toon, is deur matigheid by eet en drink. Vraatsug en dronkenskap word deur God veroordeel (Spreuke 23:20, 21). Maar net soos matige eetgewoontes geoorloof is, so ook die matige gebruik van sterk drank. Dit word deur talle tekste getoon.—Deuteronomium 14:26; Jesaja 25:6; Lukas 7:33, 34; 1 Timotheüs 5:23.
10. (a) Hoe toon ’n dronkaard minagting vir die lewe? (b) Waarom is dit, in die lig van 1 Korinthiërs 6:9, 10, belangrik om dronkenskap te vermy?
10 Die Bybel veroordeel derhalwe nie die gebruik van drank nie. Dit is die misbruik van sterk drank wat veroordeel word. En tereg ook, want dit benadeel die liggaam, laat drinkers dwaas handel en kan hulle selfs ’n gevaar vir ander maak (Spreuke 23:29-35; Efesiërs 5:18). In die Verenigde State alleen ly ten minste 10 miljoen mense aan alkoholisme, en een gevolg daarvan is meer as 30 000 sterftes elke jaar as gevolg van lewerskrompeling. Die Nasionale Raad op Alkoholisme sê: “Die gesamentlike koste vir die nasie is om en by [90 miljard rand] per jaar as gevolg van werkversuim, gesondheids- en welsynsdienste, eiendomskade en mediese onkoste. . . . Sterk drank speel ’n rol by 50% van al die noodlottige ongelukke wat vandag op die paaie plaasvind. Meer as 80% van brandsterfte, 65% van verdrinkings, 22% van ongelukke tuis, 77% van valongelukke, 36% van voetgangerongelukke en 55% van arrestasies hou verband met die gebruik van sterk drank. Ruim 44% van vlieëniers wat in ongelukke betrokke was, het gedrink. Gewelddadigheid wat toegeskryf word aan die gebruik van sterk drank, is verantwoordelik vir ongeveer 65% van alle moorde, 40% van aanrandings, 35% van verkragtings, 30% van ander seksmisdade, 30% van selfmoorde, 55% van gevegte of aanrandings in die huis en 60% van die gevalle van kindermishandeling.”61 Die koste in terme van ontwrigte gesinne, geruïneerde lewens en menselyding is onberekenbaar. Dit verbaas ons dus nie dat God se Woord sê nie: “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders . . . of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.”—1 Korinthiërs 6:9, 10.
11. Is dit verstandig om persoonlike probleme te probeer ontvlug deur jou aan drank te vergryp?
11 Sommige is weliswaar intens bewus van die terneerdrukkende uitwerking van die wêreldtoestand. Die oorloë, misdade, inflasie, armoede en ook die druk en spanning daarvan dra by tot persoonlike probleme. Maar ’n mens bereik niks as jy dit probeer ontvlug deur jou aan drank te vergryp nie. Dit skep net vir ’n mensself en vir ander meer probleme, en in die proses vernietig jy jou waardigheid, jou doel in die lewe en jou naam by God.
Die gebruik van dwelms
12. Waarom wend baie mense hulle tot dwelms?
12 In ’n poging om die probleme van die lewe te ontvlug, wend baie mense hulle tot hallusinogeniese dwelms. Diegene wat sulke dwelms gebruik, verruil die werklikheid vir ’n droomgevoel of beswyming. Baie gebruik sterk dwelms soos heroïen en kokaïen. Sommige neem groot dosisse van verskeie dwelms in die vorm van pille. Hoe beïnvloed dit hulle lewe?
13. Watter uitwerking het sommige van hierdie dwelms op die gebruiker, en watter waarskuwings rig die Bybel daarteen?
13 Hulle gebruik van hierdie dwelms lei maklik tot die verlies van selfbeheersing, en dit het uitwerkings wat ooreenkom met dié wat by ’n dronk persoon waargeneem word (Spreuke 23:29-34). En daar word oor die algemeen toegegee dat hierdie dwelms gevaarlik kan wees. In die stad New York is heroïenverslawing byvoorbeeld die vernaamste doodsoorsaak onder mense tussen die ouderdomme 18 en 35. Watter gruwelike minagting is dit tog nie vir die lewe nie!
14, 15. Waarom toon diegene wat dagga rook nie eerbied vir die lewe as ’n gawe nie?
14 Maar wat van die flouer dwelm dagga? Dit kan ook op verskeie maniere gevaarlik wees. Daggarokers kom dikwels met sterker dwelms in aanraking deur middel van kontakte met dwelmsmouse en ander rokers. En baie wat van die dwelm afhanklik geraak het in die mening dat dit spanning en depressie verlig, sal waarskynlik na sterker dwelms oorslaan.
15 Maar al gebeur dit ook nie, is dit gevaarlik om dagga te rook. Dit bevat meer kankerverwekkende agense as sigarette, en is skadeliker vir die longe. Voortdurende gebruik kan lewerskade, genetiese gebreke en breinskade tot gevolg hê. Kanada se Verslaafdheidsnavorsingstigting sê dat dagga “’n sterk dwelm met ’n wye reeks gesondheidsgevare is”.62 ’n Dwelmdeskundige het gesê: “Dagga is ’n baie skadelike dwelm. Die afgelope 10 jaar is om en by 10 000 verhandelings in die wetenskaplike gemeenskap gepubliseer wat op die gesondheidsgevaar wys.” Hy het melding gemaak van “’n akute risiko wat baie ernstig is vir adolessente wat dinge uit die hoof probeer leer”, daar dit die geheue en konsentrasievermoë verswak. Van die daggaroker het hy gesê: “Hy kan nie ’n motor behoorlik bestuur of ’n tikmasjien gebruik nie. Langdurige gebruik rig ernstiger skade aan aan die immuniteitstelsel wat die liggaam teen siekte verdedig.”63 Vroue wat dagga gedurende swangerskap rook, loop ’n veel groter gevaar om kinders met breinskade te hê. Kan ’n mens, in die lig hiervan, sê dat daggarokery eerbied vir die lewe toon?
16. Aan watter ander ernstige gevaar kan die gebruik van dwelms ’n persoon blootstel, en hoe moet dit ons beskouing van die saak beïnvloed?
16 Daar is nog ’n kragtige rede om die gebruik van dwelms te vermy. Dit kan daartoe lei dat ’n persoon onder die beheer van die demone kom. Hierdie assosiasie van dwelms met okkultisme is glad nie nuut nie. Towenaars het in die verlede dwelms gebruik. Vine se Expository Dictionary of New Testament Words sê: “In towery het die gebruik van dwelmmiddels, hetsy flou of sterk, gewoonlik gepaard gegaan met besweringe en beroepe op okkulte magte.” Hierdie opmerkings word gemaak in verband met die Griekse woord (phar·ma·kiʹa, letterlik “die gebruik van dwelms”) wat in Galasiërs 5:20 met “towery” of “die beoefening van spiritisme” (NW) vertaal word. (Kyk ook Openbaring 9:21; 18:23.) Dwelms kan ’n mens dus aan demoninvloed blootstel. Hoe kan enigeen wat eerbied vir sy Lewegewer het homself net ter wille van ’n kortstondige gevoel aan daardie gevaar blootstel?
17, 18. (a) Watter ander slegte vrugte word met dwelmgebruik geassosieer? (b) Hoe beskou Jehovah se Christengetuies gevolglik die gebruik van dwelms?
17 Dit is welbekend dat die gebruik van dwelms onafskeidelik verbonde is aan misdadigheid en die morele verval in die gemeenskap. Die onwettige verkoop van dwelms is ’n belangrike bron van inkomste vir georganiseerde misdaad. Baie dwelmslawe steel om hulle gewoonte te finansier. Ander wend hulle tot prostitusie. Gesinne word uitmekaargeskeur wanneer ’n lid ’n dwelmslaaf word. Swanger moeders dra die verslawing aan hulle babas oor, wat soms weens die onttrekkingsfoltering sterf. En in die meeste lande is dit onwettig om sulke dwelms om nie-mediese redes te besit en te gebruik.—Mattheüs 22:17-21.
18 Wil jy enigiets te doen hê met ’n gewoonte wat met al daardie slegte vrugte verbind word? Jehovah se Getuies wil nie! Hulle vermy die gebruik van dwelms vir opwinding of om die werklikheid te ontvlug. Hulle koester hoë agting vir die lewe en wil dit gebruik op ’n wyse wat met God se wil strook.
Die gebruik van tabak en soortgelyke produkte
19. Waarom sal eerbied vir die lewe ’n mens se beskouing van die gebruik van tabak, betelneute en die blare van die kokaplant beïnvloed?
19 Iets wat vandag nog algemener is, is die gebruik van tabak en, in sommige lande, betelneute en kokablare. Al hierdie dinge beskadig die liggaam en, in sommige gevalle, die verstand. Regerings het al gewaarsku dat tabak verband hou met kwale soos longkanker, hartkwaal, chroniese brongitis en emfiseem. Toon dit eerbied vir die gawe van die lewe as ’n mens sulke gewoontevormende en skadelike produkte gebruik?
20, 21. (a) Beteken die feit dat die Bybel sulke gebruike nie by name verbied nie dat hulle in orde is? (b) Watter Bybelbeginsels toon dat sulke gebruike geen plek in die lewe van ’n kneg van God het nie?
20 Iemand kan dalk sê dat al hierdie dinge deur God gemaak is. Dis waar, maar so ook paddastoele. Daar is nietemin sekere soorte wat dodelik is as hulle geëet word. Iemand anders sal miskien sê dat die Bybel sulke gewoontes nie uitdruklik veroordeel nie. Heeltemal reg. Maar soos ons gesien het, is daar baie dinge wat nie spesifiek in die Bybel veroordeel word nie en wat tog verkeerd is. Die Bybel verbied ons nêrens spesifiek om ons vullis in ons buurman se werf te gooi nie. Maar die gebod “jy moet jou naaste liefhê soos jouself” behoort vir enigeen van ons genoeg te wees om te besef hoe verkeerd dit sou wees. Die rookgewoonte openbaar eweneens ’n gebrek aan liefde, aangesien die rook ander kan irriteer en selfs hulle gesondheid kan benadeel.—Mattheüs 22:39.
21 In 2 Korinthiërs 7:1 sê God se Woord vir ons: “Laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.” As iets “heilig” is, is dit “rein, onbevlek, onbedorwe”. Jehovah bewaar homself rein van verdorwenheid en verlaag hom nooit tot onheilige optrede nie. Hy verwag tereg dat ons voortgaan om ‘heiligmaking te volbring’ in die mate wat dit vir mense moontlik is (Romeine 12:1). Hy verwag ook dat ons hom ‘uit ons hele hart, siel, verstand en krag moet liefhê’. Maar hoe kan enigiemand dit doen as hy hom skuldig maak aan gebruike wat sy liggaam besoedel, sy gesondheid skaad en sy lewe verkort?—Markus 12:29, 30.
22. Wat kan ’n persoon in staat stel om die houvas wat so ’n slegte gewoonte op hom het te verbreek?
22 Al lyk dit of die een of ander van hierdie gewoontes ’n wurggreep op iemand het, kan hy dit te bowe kom en vry word. Kennis van God en sy voornemens bied ’n kragtige beweegrede om dit te doen. ’n Persoon kan ‘vernuwe word in die gees van sy gemoed’ (Efesiërs 4:23). Dit sal ’n nuwe lewenswyse open wat tot persoonlike tevredenheid lei en God eer.
Eerbied vir die lewe, soos deur bloed verteenwoordig
23. (a) Wat is die enigste gebruik van bloed wat God in sy wet aan Israel goedgekeur het? (b) Waarom moet die betekenis van daardie offers ons noukeurig oor God se wil in hierdie saak laat nadink?
23 Ons bloed moet ook in aanmerking geneem word wanneer ons van die lewe praat. God het mense- en dierebloed as die simbool van lewe gekies. Dit blyk uit die wet wat hy aan Noag en later aan die nasie Israel gegee het. Die enigste goedgekeurde gebruik van bloed was by offerandes (Genesis 9:3, 4; Levitikus 17:10-14). Die offerandes het almal die een offer van Jesus, waartydens hy sy lewensbloed ten behoewe van die mensdom uitgestort het, afgebeeld (Hebreërs 9:11-14). Dit op sigself moet ons noukeurig aandag laat skenk aan God se wil in hierdie saak.
24. Wat sê Handelinge 15:28, 29 oor die beskouing wat Christene van die gebruik van bloed moet hê?
24 Geld God se verbod op die gebruik van bloed steeds vir ware Christene? Ja, soos blyk uit die amptelike verklaring wat deur die apostels en ander ouere manne van die eerste eeuse Christengemeente uitgereik is. Onder die leiding van God se gees het hulle geskryf: “Die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is [waarvan die bloed gevolglik nie uitgeloop het nie] en van hoerery. As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen.”—Handelinge 15:28, 29.
25. Deur watter gebruike toon die wêreld dat hulle God se wil in verband met die gebruik van bloed veronagsaam?
25 Baie mense veronagsaam God se wil in verband met bloed. Hulle gebruik dit in voedsel, vir mediese doeleindes, selfs in handelsprodukte. Maar dit behoort ons nie te verbaas nie, aangesien die wêreld so min agting vir die lewe self toon. As ons egter die lewe waardeer en besef dat ons voor God aanspreeklik is, sal ons nie sy wil ignoreer of hom beledig deur sy gebooie te oortree nie.
26, 27. Waarom sou pogings om ’n mens se teenswoordige lewe te red deur aan God ongehoorsaam te wees nie eerbied vir hom toon nie?
26 Hoewel ons dus besorg is oor ons gesondheid en ons lewe probeer beskerm, is daar sekere perke wat ons nie moet oorskry nie. Jesus het dit duidelik getoon toe hy gesê het: “Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe.”—Johannes 12:25.
27 As dit op ’n keuse neerkom tussen die dood weens gehoorsaamheid aan God en ongehoorsaamheid aan hom om die dood vry te spring, sal die kneg van God die dood bo ongehoorsaamheid verkies. Jesus kon die dood vrygespring het deur aan God ongehoorsaam te wees. Maar hy was nie. En mense vóór hom het dieselfde onverbreeklike toegewydheid aan God geopenbaar (Mattheüs 26:38, 39, 51-54; Hebreërs 11:32-38). Hulle het nie toegelaat dat hulle teenswoordige lewe hulle verhinder om die ewige lewe te beërf nie.
28. Waarvoor berei ons voor as ons waardering vir die Bybel se beskouing van die lewe aankweek?
28 Is dit ook hoe jy die lewe beskou? Besef jy dat jy in ooreenstemming met die wil van God moet lewe as jy wil hê dat jou lewe waarlik sinvol moet wees? Ons moet nou daardie beskouing aankweek, daar dit een manier is waarop ons vir die lewe in God se Nuwe Orde voorberei. Hoe geborge en veilig sal ons dan oral en te eniger tyd voel, wetende dat almal wat op aarde lewe opregte eerbied vir God se gawe, die lewe, het!