Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ws hfst. 1 bl. 4-12
  • Die begeerte na wêreldwye vrede en veiligheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die begeerte na wêreldwye vrede en veiligheid
  • Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die begin van ’n mededingende soewereiniteit
  • Hoe om vrede met God te geniet
  • Die herder van meer as net die “klein kuddetjie”
  • ’n Veilige toekoms—Hoe jy dit kan vind
    ‘n Veilige toekoms—Hoe jy dit kan vind
  • Ware vrede en veiligheid is ophande!
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Goddelike vrede vir die wat deur Jehovah geleer word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Laat “die vrede van God” jou hart bewaar
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
Sien nog
Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
ws hfst. 1 bl. 4-12

Hoofstuk 1

Die begeerte na wêreldwye vrede en veiligheid

1, 2. Watter dringende behoefte het die hele mensdom, en waarom?

VREDE en veiligheid is wat ons hier op aarde wil hê. Die behoefte aan so ’n wenslike situasie was nog nooit dringender as vandag nie. Dit is nie net met ons as individue die geval nie, maar ook met die hele mensdom rondom die aardbol.

2 Dit is waarom die teenswoordige bevolking van die aarde in die tyd der tye lewe! ‘Hoe is dit moontlik’, vra jy miskien, ‘aangesien ons nou al lank lewe in die vreeswekkendste tydperk in die ganse mensegeskiedenis, die eeu van kernwapens?’

3. (a) Wat is glo die rede waarom die nasies die kernbom besit? (b) Wat sou gewone gesonde verstand voorskryf?

3 Ten minste agt nasies is volgens berig in staat om die kernbom te vervaardig. En daar word geskat dat 31 lande teen die jaar 2000 kernwapens kan hê. Die rede waarom hulle die allernuutste bomme wil besit, is glo dat dit ’n beskerming sal wees, iets wat ander nasies wat soortgelyk gewapen is, sal afskrik, ’n bedreiging van kernweerwraak. In die lig van so ’n toedrag van wêreldsake sou gewone gesonde verstand voorskryf dat die nasies moet instem tot naasbestaan in wedersydse verdraagsaamheid.

4. Watter voorneme het die Skepper ten opsigte van veiligheid, al het hy nie mensepogings om veiligheid te verkry gedwarsboom nie?

4 Is dit egter bloot mensgemaakte vrede wat ons begeer, tesame met watter veiligheid die mens ook al kan bied? Hoewel die Skepper nie mensepogings om vrede en veiligheid dwarsoor die wêreld tot stand te bring en te handhaaf gedwarsboom het nie, het hy sy volmaakte manier om ons natuurlike begeerte na vrede en veiligheid te bevredig. Hy het sy vasgestelde tyd om ontslae te raak van almal wat die veiligheid wil versteur van diegene wat hom wil aanbid. Hoe bly is ons tog om te weet dat sy tyd hiervoor ophande is!

5. Wat het die geïnspireerde psalmis oor die aarde gesê, en wat is die Skepper se voorneme met die mens?

5 Na duisende jare van onstuimige mensegeskiedenis is dit te verwagte dat daar ’n intense, aardwye begeerte na vrede en veiligheid sal wees. Die aarde was van die begin van die mens se bestaan af sy natuurlike habitat. Die geïnspireerde psalmis het gesê: “Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee” (Psalm 115:16). Reg uit die staanspoor was dit die Skepper se liefdevolle voorneme dat die mens ’n vol lewe in sy Godgegewe aardse tuiste moes geniet.

6. In watter opsig sou die eerste mens en sy afstammelinge soos God kon optree?

6 Volgens die skeppingsverhaal in Genesis 2:7 het God “die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword.” Geen ander lewende skepsel op aarde was op die mens se lewensvlak of het oor die mens se bevoegdheid—die vermoë om soos God heerskappy uit te oefen—beskik nie. Dit was boonop nie net die eerste menseskepsel wat hierdie heerskappy sou uitoefen pie; dit sou ook deur sy afstammelinge uitgeoefen en geniet word.

7. Hoe het Adam ’n vrou gekry, en wat het hy gesê toe hierdie volmaakte skepsel na hom gebring is?

7 Daarom het die Skepper vir Adam ’n vrou gegee. Sy sou die moeder van alle toekomstige menslike aardbewoners wees. Dit is waarom die man die volgende kon sê toe hierdie volmaakte skepsel na hom gebring is: “Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees.” Daarom het hy haar mannin, ’isj·sjaʹ, genoem, wat die vroulike vorm is van die Hebreeuse woord ’isj wat met man vertaal word.—Genesis 2:21-23.

8. Watter instruksies het die Skepper aan die eerste mensepaar gegee?

8 Die Skepper en hemelse Vader het vir die eerste mensepaar gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit” (Genesis 1:28). Hierdie prosedure was iets heeltemal nuuts in die geskiedenis van intelligente skepsele. Die geesbewoners van die onsigbare hemele is nie deur voortplanting in aansyn geroep nie.

9. Hoe beskryf Psalm 8:5, 6 die goddelike bestel?

9 Dit is geen wonder dat “die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het” ten tye van die aarde se skepping nie (Job 38:7). Alles was destyds vreedsaam en harmonies in die ganse heelal. In vervoering oor die goddelike bestel het die psalmis in die agtste psalm oor die mens uitgeroep: “U het hom weinig minder gemaak as ’n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon” (Verse 5, 6). Volgens hierdie psalm het God alles hier op aarde onder die mens se voete gestel.

Die begin van ’n mededingende soewereiniteit

10. (a) Wat het ontstaan voordat die eerste mensekind verwek is? (b) Wat kon gevolglik oor die mensdom opgerig word?

10 Verbasend genoeg was daar ’n opstand in die universele organisasie van Jehovah God nog voordat die eerste mensekind verwek is. Die situasie kon lei tot die oprigting van ’n nuwe soewereiniteit, ’n nuwe opperheerskappy, oor die mensdom—indien die mensdom van Jehovah se universele organisasie geskei en vervreem kon word. ’n Soewereiniteit kon as mededinger vir syne opgerig word. Dit het vereis dat die eerste leuen vertel word, ’n leuen wat Jehovah God in ’n valse lig gestel het.

11. Wat het die eerste rebel geword deur Jehovah God in ’n valse lig te stel?

11 Toe hy die eerste leuen vertel het, het hierdie eerste rebel teen God die eerste leuenaar, die eerste duiwel of lasteraar, geword. In skerp teenstelling met hom het Jesus Christus gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe” (Johannes 14:6). Vir sy godsdiensteenstanders het Jesus gesê: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ’n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan.”—Johannes 8:44.

12. (a) Hoe het die Duiwel die eerste leuen vertel, en wat was die uitwerking daarvan op Eva? (b) Wat was die gevolg toe Adam die verbode vrug geëet het?

12 Deur ’n slang in die tuin van Eden, of paradys van genot, as spreekbuis te gebruik, het die Duiwel die eerste leuen aan die eerste vrou vertel. Hy het beweer dat haar Skepper ’n leuenaar is en sodoende Eva se gemoedsrus versteur. Hy het haar in haar vermeende onkunde onveilig laat voel, en daarom het sy die verbode vrug geëet. Sy het haar man, Adam, omgepraat om die verbode vrug saam met haar te eet en aldus by haar aan te sluit in haar opstand teen Jehovah God (Genesis 3:1-6). Die ongehoorsame egpaar het hulle vrede met God verloor en is uit die paradys van genot verdryf om buitekant in onveiligheid te lewe. Romeine 5:12 (NAV) beskryf hierdie jammerlike toedrag van sake deur te sê: “Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het.”

13. Watter keuse moet elkeen van ons vandag doen?

13 Die hedendaagse situasie verg dat ons ’n besliste keuse moet doen. Dit is ’n keuse tussen die mededingende soewereiniteit van Satan die Duiwel, “die god van hierdie wêreld”, en die soewereiniteit van Jehovah, die allerhoogste en almagtige God van die heelal.—2 Korinthiërs 4:4; Psalm 83:19.

Hoe om vrede met God te geniet

14. Watter vrede en veiligheid kan ons selfs nou begin geniet?

14 Tot hul groot leed wil die meeste mense nie die almagtige God se voorsiening vir sy aanbidders om selfs in hierdie uiters betreurenswaardige toedrag van mensesake betreklike vrede en veiligheid te geniet aanneem of daarin glo nie. Maar Jehovah is die “God wat vrede gee”, en dit is ons geseënde voorreg om nou ’n vrede en veiligheid te begin geniet wat nimmer sal faal nie (Romeine 16:20, NAV; Filippense 4:6, 7, 9). Dit is ’n vrede en veiligheid wat hy selfs nou aan sy liggaam van aardse knegte, sy sigbare organisasie, gee ter vervulling van sy immer betroubare beloftes. Dit is ’n vrede en veiligheid wat ons slegs in samewerking met sy sigbare organisasie op aarde kan geniet.

15. Is dit onredelik om te dink dat God ’n organisasie het, en wat het Jesus Christus besef?

15 Die opvatting dat God nie ’n organisasie, ’n georganiseerde volk, het wat hy uitsluitlik erken nie, strook nie met die duidelike leringe van die Skrif nie. Jesus Christus het besef dat sy hemelse Vader ’n sigbare organisasie het. Tot Pinkster van 33 G.J. was dit die Joodse organisasie in ’n verbondsverhouding met Jehovah God onder die Wet van Moses.—Lukas 16:16.

16. (a) Tussen watter partye was Moses die middelaar? (b) Tussen watter partye is die Grotere Moses, Jesus Christus, die Middelaar?

16 Net soos die eertydse nasie Israel deur die middelaar Moses ’n verbondsverhouding met Jehovah God gehad het, het die nasie van geestelike Israel, “die Israel van God”, ’n verbondsverhouding deur ’n middelaar (Galasiërs 6:16). Dit is soos die apostel Paulus aan sy Christenmedewerker geskryf het: “Daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus” (1 Timotheüs 2:5). Was Moses die middelaar tussen Jehovah God en die mensdom oor die algemeen? Nee, hy was die middelaar tussen die God van Abraham, Isak en Jakob en die nasie wat uit hulle vleeslike afstammelinge bestaan het. Die Grotere Moses, Jesus Christus, is eweneens nie die Middelaar tussen Jehovah God en die hele mensdom nie. Hy is die Middelaar tussen sy hemelse Vader, Jehovah God, en die nasie van geestelike Israel, wat uit net 144 000 lede bestaan. Hierdie geestelike nasie is soos ’n klein kudde van Jehovah se skape.—Romeine 9:6; Openbaring 7:4.

Die herder van meer as net die “klein kuddetjie”

17. (a) As wat het Jehovah God Jesus Christus aangestel? (b) Wat het Jesus gesê vir diegene wat die hemelse Koninkryk gaan beërwe?

17 In Psalm 23:1 is koning Dawid van eertydse Israel geïnspireer om te sê: “[Jehovah] is my herder; niks sal my ontbreek nie.” Jehovah, die Opperherder, het Jesus Christus as “die goeie herder” aangewys (Johannes 10:11). In Lukas 12:32 het Jesus diegene van wie hy die Goeie Herder is, aangespreek: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.”

18. (a) Wie kom vandag ooreen met die Nethinim en die kinders van die nie-Israelitiese dienaars van Salomo? (b) Aan wie is hulle ten nouste verbonde?

18 In vervloë tye was daar nie-Jode, soos die Nethinim of tempelbediendes en die kinders van die nie-Israelitiese dienaars van Salomo, aan die nasie Israel verbonde (Esra 2:43-58, vgl. NW; 8:17-20, vgl. NW). Daar is vandag eweneens manne en vroue wat deur Jesus Christus ten volle aan God toegewy is, maar wat nie geestelike Israeliete is nie. Hulle is egter verbonde aan die oorblyfsel van geestelike Israel omdat hulle hulle aan Jehovah God toegewy het deur Jesus Christus, “wat Homself gegee het as ’n losprys vir almal” (1 Timotheüs 2:6). Hulle oortref die 144 000 geestelike Israeliete wat die hemelse Koninkryk gaan beërf vandag ver in getal.

19. Wat het Jesus Christus gesê om aan te dui dat hy die Herder van meer as net die “klein kuddetjie” sou wees?

19 Op God se bestemde tyd sou Jesus Christus aangewys word as die Herder oor ’n veel groter kudde “skape” wat deur hom ’n aardse erfenis sal ontvang. Dit is hulle wat hy in gedagte gehad het toe hy gesê het: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.” Met hierdie “ander skape” in gedagte het die apostel Johannes ook aangaande Jesus geskryf: “Hy is ’n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.”—Johannes 10:16; 1 Johannes 2:2.

20. (a) Hoe vergelyk die getal “ander skape” met dié van die oorblywende lede van die “klein kuddetjie”? (b) Wat beteken die herderlike sorg van die Goeie Herder vir hulle almal?

20 Daar is vandag om en by 9 000 wat bely dat hulle lede van die oorblyfsel van die “klein kuddetjie” geestelike skape is. Daar is andersyds miljoene toegewyde mense wat saam met die gesalfde oorblyfsel die voetstappe van die Goeie Herder, Jesus Christus, navolg. Hulle word in meer as 200 lande rondom die aardbol aangetref. Wat beteken die herderlike sorg van daardie Goeie Herder vir hulle almal? Dit beteken vrede en veiligheid! Indien hulle nie vrede in hulle geledere gehad het nie, sou daar nie hartgrondige eenheid en onverbreeklike samewerking onder hulle gewees het nie. As hulle nie liefdevol oor mekaar se geestelike belange besorg was nie, sou hulle nie die veiligheid gehad het wat hulle wel geniet nie. Hulle begeerte na aardwye vrede en veiligheid word dus nou reeds in ’n mate bevredig.

[Prent op bladsy 4, 5]

Die Skepper het sy volmaakte manier om mense se begeerte na vrede en veiligheid te bevredig

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel