Hoofstuk 4
Onveilige “Babilon” is tot vernietiging gedoem
1. (a) Wat beteken die woord “babilon”, en wie het die stad met daardie naam gestig? (b) Watter bouprojek het ambisieuse Nimrod onderneem, en met watter gevolg?
DIE wêreld word vandag gekenmerk deur verwarring—op politieke, maatskaplike en godsdienstige gebied. Die Afrikaanse vertaling van die Hebreeuse Bybelwoord vir verwarring is “babilon”. In Genesis word Babilon Babel genoem, ’n naam wat ook “verwarring” beteken. Die stad met daardie naam is gestig deur Nimrod, ’n opstandeling teen Jehovah (Genesis 10:8-10). Daar het mense onder die leiding van ambisieuse Nimrod begin om ’n toring te bou wat hemelwaarts sou reik om Jehovah te trotseer. Jehovah het hierdie Godonterende projek gedwarsboom deur die gemeenskaplike taal van die bouers te verwar sodat hulle mekaar nie kon verstaan terwyl hulle saam probeer werk het nie.—Genesis 11:1-9.
2. (a) Wat het in 539 v.G.J. met die wêreldmoondheid Babilon gebeur, en was dit die einde van die stad met daardie naam? (b) Wat was die eertydse stad Babilon nie?
2 Lank daarna lees ons dat ’n nuwe stad met die naam Babilon daar by die Eufraatrivier bestaan het (2 Konings 17:24, NW; 1 Kronieke 9:1, NW). In 539 v.G.J. is die Babiloniese Wêreldmoondheid omvergewerp deur Kores die Grote, die keiser van Medo-Persië, ter vervulling van Jehovah se profesie in Jesaja 45:1-6. Hoewel Babilon ’n groot val ondervind het, is hy toegelaat om as ’n stad voort te bestaan. Volgens berig het hy selfs nog in die tweede helfte van die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling bestaan (1 Petrus 5:13). Daardie antieke stad was egter nie “Babilon die Grote” waarvan die apostel Johannes in die boek Openbaring hoofstuk 17 geskryf het nie.
3. Wat is die ware identiteit van Babilon die Grote?
3 Die apokaliptiese “Babilon die Grote”, wat uitgebeeld word as ’n onsedelike vrou wat op “’n skarlakenrooi dier” ry, stel die wêreldryk van valse godsdiens voor, waaronder al die kerke van die sogenaamde Christendom tela (Openbaring 17:3-5). Volgens wat die apostel Johannes oor haar gesê het, het hierdie simboliese organisasie haar skuldig gemaak aan geestelike hoerery met al die politieke heersers van die aarde. Die wêreldryk van valse godsdiens, Babilon die Grote, oefen nog steeds geweldige invloed uit.
“’n Vriend van die wêreld”—nie van God nie
4. Hoe het Babilon die Grote haar misdade teen die mensdom gedurende die Eerste Wêreldoorlog vermenigvuldig?
4 Die posisie van Babilon die Grote is egter baie onveilig, en dit is veral die geval sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog. Gedurende daardie botsing het sy haar misdade teen die mensdom vermenigvuldig. Die geestelikes van die Christendom, wat bely dat hulle volgelinge van Jesus Christus is, het die jongmanne na die slagvelde toe gepreek. Wyle Harry Emerson Fosdick, ’n vername Protestantse geestelike, het die oorlogspoging gesteun, maar later erken: “Selfs in ons kerke het ons die oorlogsvaandels geplaas . . . Uit die een mondhoek het ons die Vredevors geloof en uit die ander het ons oorlog verheerlik.” Die priesters en ander geestelikes van die Christendom het tydens eredienste vir die vegtende leërs gebid en hulle het as kapelane vir die leër, die vloot en die lugmag gedien.b
5. (a) Watter woorde van Jakobus 4:4 het die valse Christendom nie ter harte geneem nie? (b) Wat moet die goddelike oordeel oor haar wees?
5 Onder leiding van hierdie godsdiensleiers het die valse Christendom nie die woorde in Jakobus 4:4 ter harte geneem nie: “Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God.” Die valse Christendom tree dus tot vandag toe op as ’n vyand van die allerhoogste God. Sy geniet beslis nie goddelike beskerming nie, en om hierdie belangrike rede is haar blote voortbestaan onseker. Haar politieke vriende kan nie vertrou word nie, en die antigodsdienstige gety word al hoe sterker. Dit is nie om haar ontwil dat God sê: “Raak my gesalfdes nie aan . . . nie.”—1 Kronieke 16:22.
“Gaan uit haar uit, my volk”
6, 7. (a) Watter dringende oproep word in Openbaring 18:4 gedoen, en tot wie is dit gerig? (b) Wanneer het ’n vroeëre maar soortgelyke oproep begin geld vir die Jode wat in eertydse Babilon weggekwyn het?
6 Gedurende hierdie voleinding van die stelsel gaan die volgende goddelike oproep dringend op tot hierdie gesalfdes en hulle metgeselle: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê . . . nie” (Openbaring 18:4). Ja, gaan uit die wêreldryk van valse godsdiens, Babilon die Grote, uit.
7 Hierdie oproep is ’n weerklank van die woorde van Jeremia 50:8 en 51:6, 45, wat gerig was tot die oorblyfsel Jode wat deur Jehovah tot 70 jaar gevangenskap en ballingskap in die land Babilonië gevonnis is. Daardie woorde het begin geld vir die Jode wat in 537 v.G.J. in Babilonië weggekwyn het nadat die voorspelde Kores die Grote sy Medo-Persiese troepe langs die feitlik drooggelegde bedding van die Eufraatrivier tot in die stad Babilon gebring het.
8. (a) Hoe het Kores die Grote Jesaja 45:1-6 vervul? (b) Waarom moes die een wat deur Kores die Grote afgeskadu is volgens hierdie profetiese patroon optree?
8 In die eerste jaar van sy bewind het Kores die Grote opgetree ter vervulling van die profesie in Jesaja 45:1-6. Die een wat deur keiser Kores afgeskadu is, maar wat verreweg magtiger is, naamlik Jesus Christus, het eweneens volgens hierdie profetiese patroon opgetree. Dit was op die bestemde tyd nadat hy sy heerskappy in die hemel aan die regterhand van Jehovah God begin uitoefen het toe die vasgestelde “tye van die nasies” in Oktober 1914 verstryk het (Lukas 21:24). Gedurende die Eerste Wêreldoorlog van 1914-1918 was die oorblyfsel geestelike Israeliete in gevangenskap aan Babilon die Grote en haar politieke minnaars.
9, 10. (a) Hoe is daar teen agt lede van die Genootskap se hoofkwartierpersoneel opgetree? (b) Watter getuienis is daar dat Babilon die Grote agter die beweging gesit het om ’n einde aan die werk van Jehovah se volk te maak?
9 In die Verenigde State is die jongste boek wat destyds deur die Wagtoringgenootskap uitgegee is, The Finished Mystery, byvoorbeeld as sedisieus verbied. Die twee skrywers van die boek is in Brooklyn, New York, voor die federale hof gedaag en ten onregte tot 20 jaar gevangenisstraf in die federale strafgevangenis te Atlanta, Georgia, gevonnis. So ook die president van die uitgewersmaatskappy, die sekretaris-penningmeester en drie ander lede van die hoofkwartierpersoneel. ’n Vertaler wat aan die Genootskap verbonde was, is tot die helfte van daardie tyd in die federale strafgevangenis gevonnis.
10 Op 4 Julie 1918 is hierdie agt toegewyde Christene gevolglik per trein na Atlanta, Georgia, gestuur waar hulle hulle vryheid ontneem is. Die lede van die hoofkwartierpersoneel van die Wagtoringgenootskap in Brooklyn moes toe na hul beste vermoë na sake omsien. Wie was vir hierdie situasie verantwoordelik? Die boek Preachers Present Arms antwoord: “Die gevolgtrekking na ’n ontleding van die hele saak is dat die kerke en die geestelikes oorspronklik agter die beweging gesit het om die Russelliete [Getuies] uit te wis. . . . Toe die nuus van die twintigjarige vonnisse die redakteurs van die godsdienspers bereik het, het feitlik al hierdie publikasies, groot en klein, hulle oor die gebeurtenis verheug. Ek kon geen simpatieke woorde in enige van die ortodokse godsdienstydskrifte kry nie.”—Ray H. Abrams, bladsye 183, 184.
’n Val—maar nie vernietiging nie
11, 12. (a) Wat was Babilon die Grote se plan? (b) Hoe het sy ’n groot val ondervind, dog nie tot vernietiging nie? (c) Wat was die uitwerking op Jehovah se bevryde volk?
11 Maar die blydskap in Babilon die Grote sou nie lank duur nie. In die noordelike lente van 1919 het Babilon die Grote ’n groot val ondervind, waarna daar sekere godsdiensontwikkelinge sou wees voordat sy heeltemal vernietig word. Dit was Babilon die Grote se plan om Jehovah se volk vir ewig onderdruk en in gevangenskap te hou. Maar in Maart 1919 is die deure van die gevangenis vir die agt verteenwoordigers van die Wagtoringgenootskap oopgeforseer en is hulle op borgtog vrygelaat. Hulle is later heeltemal van alle aanklagte vrygespreek.
12 Babilon die Grote se blydskap het nou tot die verlede behoort! Die boek Preachers Present Arms sê aangaande die hof se besluit om die Getuies vry te laat: “Hierdie uitspraak is deur stilswye in die kerke begroet.” Maar groot was die vreugde van Jehovah se volk. Hulle wêreldwye organisasie is herstel. By hulle byeenkoms in 1919 te Cedar Point, Ohio, het die Genootskap se president die duisende aanwesiges tot optrede aangespoor met sy toespraak “Kondig die Koninkryk aan.” Jehovah se getuies was weer eens vry en het God se Koninkryk moedig in die openbaar bekend gemaak! Babilon die Grote het ’n val ondervind, maar is nie vernietig nie. Die Grotere Kores, Jesus Christus, het haar verslaan en sy getroue volgelinge bevry.
13. Wat het Babilon die Grote gedoen toe die Volkebond op die toneel verskyn het?
13 Babilon die Grote is gevolglik toegelaat om tot in die na-oorlogse tydvak voort te bestaan. Toe die Volkebond voorgestel is as ’n liggaam om wêreldvrede te bewaar, het die Federale Raad van die Kerke van Christus in Amerika dit gesteun en in die openbaar aangekondig dat die Volkebond “die politieke beliggaming van die Koninkryk van God op aarde” is. Toe die voorgestelde Volkebond eindelik opgerig is, het Babilon die Grote daarop geklim en aldus op hierdie simboliese “skarlakenrooi dier” begin ry.—Openbaring 17:3.
14. (a) Wat was Babilon die Grote se handelwyse gedurende die Tweede Wêreldoorlog? (b) Wat het Babilon die Grote gedoen toe die mensgemaakte werktuig om die vrede te bewaar ná die Tweede Wêreldoorlog uit die afgrond gekom het?
14 Toe hierdie ondoeltreffende werktuig om die vrede te bewaar met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in die afgrond van onbedrywigheid ingegaan het, was Babilon die Grote sonder ’n rydier (Openbaring 17:8). Maar sy was aan die sy van die 57 nasies wat in die Tweede Wêreldoorlog gewikkel geraak het. Dit het haar nie gehinder dat sy haar trou tussen die strydende partye moes verdeel nie, net soos die feit dat sy in honderde verwarrende godsdienssektes en denominasies verdeel is haar nog nooit gekwel het nie. Toe die mensgemaakte werktuig om die vrede te bewaar, in die vorm van die Verenigde Volke, aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog uit die afgrond van onbedrywigheid gekom het, het Babilon die Grote dadelik daarop geklim en begin om haar invloed daaroor uit te oefen.
Die politieke magte val Babilon aan
15, 16. (a) Watter ontsagwekkende skouspel gaan die mensdom binnekort gadeslaan? (b) Wat het die almagtige God bepaal, in ooreenstemming met Openbaring 17:15-18?
15 Die hele wêreld van die mensdom gaan binnekort ’n ontsagwekkende skouspel gadeslaan. Dit is wanneer die politieke magte Babilon die Grote aanval met die doel om haar uit te wis. Die nuus kan mense wat opreg glo dat alle gelowe goed is, heeltemal ontsenu. Maar die Universele Soewerein, Jehovah God, het bepaal dat Babilon die Grote geen plek in die ganse heelal het nie en dat sy die skeppingsryk lank genoeg besoedel het. Sy moet op gewelddadige wyse heeltemal vernietig word.
16 Daar is reeds magtige werktuie op die toneel waarmee God haar vernietiging kan bewerk, naamlik die politieke elemente van die wêreld. Die Godgeïnspireerde boek Openbaring voorspel dat Jehovah dit so sal bestier dat haar minnaars haar aanval en haar naak sal maak sodat sy ontbloot word vir wat sy werklik is—’n demonbesete bedrieër! En dan sal hulle haar as ’t ware met vuur verbrand en in die as lê. Hulle sal haar behandel soos wat sy die onwrikbare aanbidders van die ware God behandel het.—Openbaring 17:15-18; 18:24.
17. Laat die anti-Babilonse prestasies van die politieke magte hulle hulle tot die aanbidding van Jehovah God keer, en hoe weet ons dit?
17 Hierdie gewelddadige, antigodsdienstige daad van die politieke magte beteken nie dat hulle daarna sal begin om Jehovah God te aanbid nie. Hulle woeste anti-Babilonse daad beteken nie dat hulle nou die vriende van God gaan word nie. Anders sou hulle nie later optree soos die boek Openbaring toon hulle wel gaan optree nie (Openbaring 17:12-14). Hulle sal dalk in ekstase wees oor die antigodsdienstige prestasies wat Jehovah God hulle toegelaat het om te behaal, maar hulle sal steeds mislei word deur “die god van die wêreld”, Satan die Duiwel, die meedoënlose teenstander van Jehovah God wat alles in die stryd werp.—2 Korinthiërs 4:4.
18, 19. (a) Wie sal nie behoue bly om die regverdiging van Jehovah se universele soewereiniteit deur middel van die “Vredevors” te sien nie? (b) Maar wie sal ewiglewende getuies wees van Jehovah se regverdiging ten opsigte van Babilon die Grote?
18 Babilon die Grote sal nie behoue bly om die groot hoogtepunt te sien nie, naamlik die regverdiging van Jehovah se universele soewereiniteit deur middel van die “Vredevors”, wat nou die “Sterke God” aan die regterhand van die enige almagtige en allerhoogste Godheid, Jehovah, is.—Jesaja 9:5.
19 Onder ondeurdringbare, goddelike beskerming sal die getuies van Jehovah die gebeure as toeskouers gadeslaan (Jesaja 43:10, 12). Op bevel van die regverdige hemele sou hulle gehoorsaam uit Babilon die Grote uitgegaan het (Openbaring 18:4). Hulle regverdige genot oor wat hulle aanskou, sal geen perke ken nie. Daarna sal hulle vir ewig getuies van Jehovah wees en vir ewig kan getuig oor hoe hy homself ten opsigte van Babilon die Grote geregverdig het.—Openbaring 19:1-3.
[Voetnote]
a Kyk bladsye 468-500 van die boek “Babylon the Great Has Fallen!” God’s Kingdom Rules!, wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee word, vir ’n breedvoerige identifisering.
b Die boek Preachers Present Arms, deur Ray H. Abrams (New York, 1933), bevat ’n breedvoerige bespreking van die geestelikes se steun vir die Eerste Wêreldoorlog. Die boek sê: “Die geestelikes het aan die oorlog sy hartstogtelike, geestelike betekenis en dryfkrag verleen. . . . Die oorlog self was ’n heilige oorlog om die Koninkryk van God op aarde te bevorder. As iemand sy lewe vir sy land afgelê het, het hy dit vir God en Sy Koninkryk afgelê. God en land het sinoniem geword. . . . Die Duitsers en die Geallieerdes was in hierdie opsig eenders. Elke kant het geglo dat hulle die alleenreg op God het . . . Die meeste van die teoloë het hoegenaamd geen probleem gehad om Jesus reg aan die voorpunt van die hewigste gevegte uit te beeld waar hy sy troepe na die oorwinning aanvoer nie. . . . Sodoende het die kerk ’n integrerende deel van die oorlogstelsel geword. . . . Die [kerk]leiers het geen tyd verkwis om op ’n oorlogsgrondslag deeglik georganiseerd te raak nie. Binne vier-en-twintig uur na die oorlogsverklaring het die Federale Raad van die Kerke van Christus in Amerika planne beraam vir die volste samewerking. . . . Baie van die kerke het baie meer gedoen as wat daar van hulle gevra is. Hulle het werwingskantore geword om soldate te werf.”—Bladsye 53, 57, 59, 63, 74, 80, 82.