Hoofstuk 32
God se toorn word tot ’n einde gebring
1. Wat sal plaasgevind het wanneer die sewe bakke geheel en al uitgegooi is, en watter vrae ontstaan nou in verband met die bakke?
JOHANNES het reeds die engele aan ons voorgestel wat beveel is om die sewe bakke uit te gooi. Hy sê vir ons dat dit “die laastes [is], want deur middel daarvan word die toorn van God tot ’n einde gebring” (Openbaring 15:1; 16:1). Hierdie plae, wat Jehovah se strafmaatreëls teen goddeloosheid op die aarde openbaar, moet geheel en al uitgegooi word. Wanneer dit verby is, sal God se oordele voltrek wees. Satan se wêreld sal nie meer bestaan nie! Wat beteken hierdie plae vir die mensdom en die heersers van die teenswoordige goddelose stelsel? Hoe kan Christene voorkom dat hulle saam met hierdie gedoemde wêreld geteister word? Dit is lewensbelangrike vrae, en hulle gaan nou beantwoord word. Almal wat daarna smag dat regverdigheid seëvier, sal lewendige belangstelling toon in wat Johannes vervolgens sien.
Jehovah se toorn teen “die aarde”
2. Wat gebeur wanneer die eerste engel sy bak op die aarde uitgooi, en wat word deur “die aarde” gesimboliseer?
2 Die eerste engel gaan oor tot aksie! “En die eerste het weggegaan en sy bak op die aarde uitgegooi. En ’n skadelike en kwaadaardige sweer het aan die mense gekom wat die merk van die wilde dier gehad en wat sy beeld aanbid het” (Openbaring 16:2). Soos in die geval van die eerste trompetstoot simboliseer “die aarde” hier die oënskynlik bestendige politieke stelsel wat Satan in Nimrod se tyd, meer as 4 000 jaar gelede, hier op die aarde begin bou het.—Openbaring 8:7.
3. (a) Hoe het baie regerings van hulle onderdane dinge vereis wat op aanbidding neerkom? (b) Wat het die nasies as ’n plaasvervanger van God se Koninkryk voortgebring, en wat is die uitwerking op dié wat dit aanbid?
3 In hierdie laaste dae het baie regerings van hulle onderdane dinge vereis wat op aanbidding neerkom en volgehou dat die Staat bo God of enige ander lojaliteit verhef moet word. (2 Timoteus 3:1; vergelyk Lukas 20:25; Johannes 19:15.) Sedert 1914 het dit iets algemeens geword dat nasies hulle jeug vir diensplig oproep sodat die nasies in staat of gereed is om die soort totale oorloë te voer wat die bladsye van die hedendaagse geskiedenis met soveel bloed bevlek het. Gedurende die dag van die Here het die nasies ook die beeld van die dier—die Volkebond en sy opvolger, die Verenigde Nasies—as ’n plaasvervanger van God se Koninkryk voortgebring. Hoe lasterlik is dit tog om te verklaar, soos sommige pouse onlangs gedoen het, dat hierdie mensgemaakte liggaam die nasies se enigste hoop op vrede is! Dit staan God se Koninkryk onversetlik teë. Dié wat dit aanbid, word geestelik onrein, vol swere, net soos die Egiptenaars wat Jehovah in Moses se dag teëgestaan het, met letterlike sere en swere geteister is.—Eksodus 9:10, 11.
4. (a) Waarop lê die inhoud van die eerste bak van die toorn van God sterk klem? (b) Hoe beskou Jehovah dié wat die merk van die wilde dier aanvaar?
4 Die inhoud van hierdie bak lê sterk klem op die keuse waarvoor mense staan. Hulle moet óf die wêreld se misnoeë óf Jehovah se verontwaardiging verduur. Dwang word op die mensdom uitgeoefen om die merk van die wilde dier te aanvaar, sodat “niemand sal kan koop of verkoop nie, behalwe iemand wat die merk het, die naam van die wilde dier of die getal van sy naam” (Openbaring 13:16, 17). Maar ’n prys moet hiervoor betaal word! Jehovah beskou dié wat die merk aanvaar, as mense wat met “’n skadelike en kwaadaardige sweer” getref is. Sedert 1922 is hulle in die openbaar gemerk as mense wat die lewende God verwerp het. Hulle politieke planne misluk, en hulle is beangs. Geestelik is hulle onrein. Tensy hulle berou toon, sal hierdie “skadelike” siekte tot die dood lei, want dit is nou Jehovah se oordeelsdag. Daar is geen neutrale posisie nie—’n mens is óf deel van die wêreld se stelsel van dinge óf jy dien Jehovah aan die kant van sy Christus.—Lukas 11:23; vergelyk Jakobus 4:4.
Die see word bloed
5. (a) Wat vind plaas wanneer die tweede bak uitgegooi word? (b) Hoe beskou Jehovah dié wat in die simboliese see woon?
5 Die tweede bak van God se toorn moet nou uitgegooi word. Wat sal dit vir die mensdom beteken? Johannes sê vir ons: “En die tweede het sy bak in die see uitgegooi. En dit het bloed geword soos van ’n dooie, en elke lewende siel het gesterf, ja, die dinge in die see” (Openbaring 16:3). Soos die tweede trompetstoot word hierdie bak gerig teen “die see”—die siedende, opstandige mensemassa wat van Jehovah vervreemd is (Jesaja 57:20, 21; Openbaring 8:8, 9). In Jehovah se oë is hierdie “see” soos bloed, ongeskik vir enigiets om in te lewe. Daarom moet Christene geen deel van die wêreld wees nie (Johannes 17:14). Wanneer die tweede bak van God se toorn uitgegooi word, openbaar dit dat alle mense wat in hierdie see woon, in Jehovah se oë dood is. As gevolg van gemeenskapsverantwoordelikheid is die mensdom skuldig aan die grootskaalse vergieting van onskuldige bloed. Wanneer Jehovah se dag van toorn aanbreek, sal hulle letterlik sterf deur die toedoen van sy teregstellingsmagte.—Openbaring 19:17, 18; vergelyk Efesiërs 2:1; Kolossense 2:13.
Hulle word bloed gegee om te drink
6. Wat vind plaas wanneer die derde bak uitgegooi word, en watter woorde sê ’n engel en die altaar?
6 Die derde bak van God se toorn het, soos die derde trompetstoot, ’n uitwerking op varswaterbronne. “En die derde het sy bak in die riviere en die waterfonteine uitgegooi. En hulle het bloed geword. En ek het die engel wat oor die waters is, hoor sê: ‘U, die Een wat is en wat was, die Een wat lojaal is, is regverdig, omdat u hierdie beslissings gegee het, want hulle het die bloed van heiliges en van profete uitgestort, en u het vir hulle bloed gegee om te drink. Hulle verdien dit.’ En ek het die altaar hoor sê: ‘Ja, Jehovah God, die Almagtige, waaragtig en regverdig is u regterlike beslissings.’”—Openbaring 16:4-7.
7. Wat word afgebeeld deur “die riviere en die waterfonteine”?
7 Hierdie “riviere en die waterfonteine” beeld die sogenaamde vars bronne van leiding en wysheid af wat deur hierdie wêreld aanvaar word, soos die politieke, ekonomiese, wetenskaplike, opvoedkundige, maatskaplike en godsdiensfilosofieë wat mense se handelswyse en besluite rig. Pleks dat mense op Jehovah, die Fontein van die lewe, vertrou vir lewegewende waarheid, het hulle ‘vir hulle stukkende reënputte uitgekap’ en ‘die wysheid van hierdie wêreld wat dwaasheid by God is’, ingedrink.—Jeremia 2:13; 1 Korintiërs 1:19; 2:6; 3:19; Psalm 36:9.
8. Op watter maniere het die mensdom hom bloedskuld op die hals gehaal?
8 Sulke besoedelde “waters” het mense bloedskuldig laat word deur hulle byvoorbeeld aan te spoor om op groot skaal bloed te vergiet in oorloë, wat in die afgelope eeu meer as honderdmiljoen lewens geëis het. Veral in die Christendom, waar die twee wêreldoorloë uitgebreek het, was mense “haastig om onskuldige bloed te vergiet”, en dit het die bloed van God se eie getuies ingesluit (Jesaja 59:7; Jeremia 2:34). Die mensdom het hom ook bloedskuld op die hals gehaal deur die misbruik van groot hoeveelhede bloed vir oortappings, wat in stryd is met Jehovah se regverdige wette (Genesis 9:3-5; Levitikus 17:14; Handelinge 15:28, 29). Om dié rede het hulle reeds smart gemaai deur die geweldige toename van vigs, hepatitis en ander siektes weens bloedoortappings. Die volle vergelding vir alle bloedskuld sal binnekort kom wanneer oortreders die doodstraf ondergaan deurdat hulle in “die groot wynpers van die toorn van God” vertrap word.—Openbaring 14:19, 20.
9. Wat behels dit wanneer die derde bak uitgegooi word?
9 Toe die Nylrivier in Moses se dag in bloed verander is, kon die Egiptenaars aan die lewe bly deur ander waterbronne te soek (Eksodus 7:24). Maar vandag, gedurende die geestelike plaag, kan mense nêrens in Satan se wêreld lewegewende waters vind nie. Wanneer hierdie derde bak uitgegooi word, behels dit die aankondiging dat die wêreld se “riviere en die waterfonteine” soos bloed is en geestelike dood meebring vir almal wat daarvan drink. Tensy mense hulle tot Jehovah keer, maai hulle sy ongunstige oordeel.—Vergelyk Esegiël 33:11.
10. Wat maak “die engel wat oor die waters is”, bekend, en watter getuienis voeg “die altaar” by?
10 “Die engel wat oor die waters is”, dit wil sê die engel wat hierdie bak op die waters uitgooi, verheerlik Jehovah as die Universele Regter, wie se regverdige beslissings absoluut is. Gevolglik sê hy van hierdie oordeel: “Hulle verdien dit.” Die engel het ongetwyfeld self baie van die bloedvergieting en wreedheid aanskou wat deur duisende jare heen deur die valse leerstellings en filosofieë van hierdie goddelose wêreld aangestook is. Hy weet derhalwe dat Jehovah se regterlike beslissing reg is. Selfs God se “altaar” praat. Openbaring 6:9, 10 sê dat die siele van dié wat ’n marteldood gesterf het, aan die voet van hierdie altaar is. “Die altaar” voeg dus kragtige getuienis by met betrekking tot die geregtigheid en regverdigheid van Jehovah se beslissings.a Dit is beslis gepas dat dié wat soveel bloed vergiet en misbruik het, self gedwing word om bloed te drink, as simbool van die feit dat Jehovah hulle ter dood veroordeel.
Mense word met vuur verskroei
11. Wat is die teiken van die vierde bak van die toorn van God, en wat vind plaas wanneer dit uitgegooi word?
11 Die teiken van die vierde bak van die toorn van God is die son. Johannes sê vir ons: “En die vierde het sy bak op die son uitgegooi; en aan die son is dit gegee om die mense met vuur te verskroei. En die mense is met groot hitte verskroei, maar hulle het die naam van God gelaster, wat die gesag oor hierdie plae het, en hulle het nie berou getoon om aan hom heerlikheid te gee nie.”—Openbaring 16:8, 9.
12. Wat is hierdie wêreld se “son”, en wat word aan hierdie simboliese son gegee?
12 Vandag, aan die voleinding van die stelsel van dinge, skyn Jesus se geestelike broers “so helder soos die son . . . in die koninkryk van hulle Vader” (Matteus 13:40, 43). Jesus self is “die son van regverdigheid” (Maleagi 4:2). Maar die mensdom het hulle eie “son”, hulle eie heersers wat in verset teen God se Koninkryk probeer skyn. Die vierde trompetstoot het aangekondig dat die ‘son, maan en sterre’ in die Christendom se hemele in werklikheid bronne van duisternis is, nie van lig nie (Openbaring 8:12). Die vierde bak van God se toorn toon nou dat die wêreld se “son” ondraaglik warm sou word. Dié wat as sonagtige leiers beskou word, sou die mensdom “verskroei”. Dít sou aan die simboliese son gegee word. Met ander woorde, Jehovah sou dit toelaat as deel van sy vurige oordeel oor die mensdom. In watter sin het hierdie verskroeiing plaasgevind?
13. In watter sin het sonagtige heersers van hierdie wêreld die mensdom “verskroei”?
13 Ná die Eerste Wêreldoorlog het die heersers van hierdie wêreld die Volkebond gestig in ’n poging om die probleem van wêreldveiligheid op te los, maar dit het misluk. Gevolglik is ander eksperimentele vorme van heerskappy, soos Fascisme en Nazisme, op die proef gestel. Kommunisme het aangehou om uit te brei. Pleks van die mensdom se lot te verbeter, het die sonagtige heersers in hierdie stelsels begin om ‘die mense met groot hitte te verskroei’. Oorloë in Spanje, Etiopië en Mantsjoerye het aanleiding gegee tot die Tweede Wêreldoorlog. Die hedendaagse geskiedenis toon dat Mussolini, Hitler en Stalin as diktators direk en indirek verantwoordelik was vir die dood van tienmiljoene mense, insluitende baie van hulle eie burgers. Meer onlangs het internasionale of burgerlike konflikte die mense van lande soos Viëtnam, Kampuchea, Iran, Libanon en Ierland, sowel as lande in Latyns-Amerika en Afrika, “verskroei”. Voeg hierby die voortgesette stryd tussen die supermoondhede, wie se verskriklike kernwapens die hele mensdom tot as kan verbrand. In hierdie laaste dae is die mensdom beslis aan ’n verskroeiende “son”, hulle onregverdige heersers, blootgestel. Wanneer die vierde bak van God se toorn uitgegooi word, word hierdie geskiedenisfeite uitgewys, en God se volk het dit oor die hele aarde verkondig.
14. Wat het Jehovah se Getuies deurgaans verkondig as die enigste oplossing vir die mensdom se probleme, en hoe het die mensdom as geheel daarop gereageer?
14 Jehovah se Getuies het deurgaans verkondig dat die enigste oplossing vir die mensdom se verbysterende probleme God se Koninkryk is, waardeur Jehovah van voorneme is om sy naam te verheerlik (Psalm 83:4, 17, 18; Matteus 6:9, 10). Maar die mensdom as geheel het hulle ore gesluit vir hierdie oplossing. Baie wat die Koninkryk verwerp, laster ook die naam van God, net soos Farao toe hy geweier het om Jehovah se soewereiniteit te erken (Eksodus 1:8-10; 5:2). Aangesien hierdie teenstanders glad nie in die Messiaanse Koninkryk belangstel nie, kies hulle om onder hulle eie versengende “son” van onderdrukkende menseheerskappy te ly.
Die troon van die wilde dier
15. (a) Waarop word die vyfde bak uitgegooi? (b) Wat is “die troon van die wilde dier”, en wat behels dit wanneer die bak daarop uitgegooi word?
15 Waarop gooi die volgende engel sy bak uit? “En die vyfde het sy bak op die troon van die wilde dier uitgegooi” (Openbaring 16:10a). “Die wilde dier” is Satan se regeringstelsel. Dit het nie ’n letterlike troon nie, net so min as wat die wilde dier self letterlik is. Maar die melding van ’n troon toon dat die wilde dier koninklike gesag oor die mensdom uitoefen; dit strook met die feit dat daar ’n koninklike kroon op elkeen van die dier se horings is. Trouens, “die troon van die wilde dier” is die grondslag, of bron, van hierdie gesag.b Die Bybel openbaar die ware oorsprong van die koninklike gesag van die wilde dier wanneer dit sê dat “die draak . . . aan die dier sy krag en sy troon en groot gesag gegee” het (Openbaring 13:1, 2; 1 Johannes 5:19). Wanneer die bak op die troon van die wilde dier uitgegooi word, behels dit dus ’n aankondiging wat openbaar watter rol Satan werklik daarin gespeel het en nog steeds daarin speel om die wilde dier te ondersteun en te begunstig.
16. (a) Wie dien die nasies, of hulle dit nou besef of nie? Verduidelik. (b) Hoe weerspieël die wêreld Satan se persoonlikheid? (c) Wanneer sal die troon van die wilde dier omvergewerp word?
16 Hoe word hierdie verhouding tussen Satan en die nasies gehandhaaf? Toe Satan Jesus versoek het, het hy hom in ’n visioen al die koninkryke van die wêreld gewys en hom “al hierdie gesag en hulle heerlikheid” aangebied. Maar daar was ’n voorwaarde—Jesus moes eers ’n daad van aanbidding voor Satan verrig (Lukas 4:5-7). Kan ons ons voorstel dat die regerings van die wêreld hulle gesag teen ’n laer prys ontvang? Glad nie. Volgens die Bybel is Satan die god van hierdie stelsel van dinge, sodat die nasies hom dien, of hulle dit nou besef of nie (2 Korintiërs 4:3, 4).c Hierdie situasie blyk uit die samestelling van die teenswoordige wêreldstelsel, wat op enge nasionalisme, haat en eiebelang gegrond is. Dit is georganiseer soos Satan dit wil hê—om die mensdom onder sy beheer te hou. Die korrupsie in regerings, die magswellus, die leuenagtige diplomasie, die wapenwedloop—dit alles weerspieël Satan se verdorwe persoonlikheid. Die wêreld onderskryf Satan se onregverdige standaarde en maak hom sodoende sy god. Die troon van die wilde dier sal omvergewerp word wanneer hierdie dier uitgewis word en die Saad van God se vrou Satan self uiteindelik in die afgrond werp.—Genesis 3:15; Openbaring 19:20, 21; 20:1-3.
Duisternis en knaende pyn
17. (a) Watter verband bestaan tussen die vyfde bak wat uitgegooi word en die geestelike duisternis waarin die koninkryk van die wilde dier nog altyd gehul was? (b) Hoe reageer mense wanneer die vyfde bak van God se toorn uitgegooi word?
17 Die koninkryk van hierdie wilde dier verkeer sedert die begin daarvan in geestelike duisternis. (Vergelyk Matteus 8:12; Efesiërs 6:11, 12.) Die vyfde bak bring ’n verskerpte openbare aankondiging van hierdie duisternis mee. Dit dramatiseer dit selfs, in die sin dat hierdie bak van God se toorn op die troon van die simboliese wilde dier uitgegooi word. “En sy koninkryk het verduisterd geword, en hulle het hulle tonge begin kou van die pyn, maar hulle het die God van die hemel gelaster weens hulle pyne en weens hulle swere, en hulle het nie berou gehad oor hulle werke nie.”—Openbaring 16:10b, 11.
18. Watter ooreenkoms is daar tussen die vyfde trompetstoot en die vyfde bak van God se toorn?
18 Die vyfde trompetstoot is nie presies dieselfde as die vyfde bak van God se toorn nie, aangesien die trompetstoot ’n sprinkaanplaag aangekondig het. Maar let daarop dat die son en die lug verduister is toe hierdie sprinkaanplaag losgelaat is (Openbaring 9:2-5). En in Eksodus 10:14, 15 lees ons van die sprinkane waarmee Jehovah Egipte geteister het: “Hulle was ’n baie swaar las. Voor hulle het sulke sprinkane nog nooit so verskyn nie, en ná hulle sal sulke sprinkane nooit weer so verskyn nie. En hulle het die sigbare oppervlak van die hele land bedek, en die land het donker geword.” Ja, duisternis! Vandag het die wêreld se geestelike duisternis baie duidelik geword as gevolg van die vyfde trompetstoot en die vyfde bak van God se toorn wat uitgegooi is. Die snydende boodskap wat deur die hedendaagse sprinkaanswerm verkondig word, het foltering en pyn tot gevolg vir die goddeloses wat “eerder die duisternis as die lig liefgehad het”.—Johannes 3:19.
19. Wat word in ooreenstemming met Openbaring 16:10, 11 deur die openbare ontmaskering van Satan as die god van hierdie stelsel van dinge veroorsaak?
19 As wêreldheerser het Satan baie ongelukkigheid en lyding veroorsaak. Hongersnood, oorloë, geweld, misdaad, dwelmmisbruik, onsedelikheid, seksueel oordraagbare siektes, oneerlikheid, godsdienshuigelary—dit is ’n paar van die dinge waardeur Satan se stelsel gekenmerk word. (Vergelyk Galasiërs 5:19-21.) Nogtans het die openbare ontmaskering van Satan as die god van hierdie stelsel van dinge pyn en verleentheid veroorsaak vir dié wat volgens sy standaarde leef. “Hulle het hulle tonge begin kou van die pyn”, veral in die Christendom. Baie voel gegrief omdat die waarheid hulle lewenstyl blootlê. Party voel bedreig daardeur, en hulle vervolg dié wat dit bekend maak. Hulle verwerp God se Koninkryk en smaad Jehovah se heilige naam. Hulle siek, versweerde godsdienstoestand word blootgelê, sodat hulle die God van die hemel laster. Nee, hulle “het nie berou . . . oor hulle werke nie”. Ons kan dus nie ’n massabekering voor die einde van hierdie stelsel van dinge verwag nie.—Jesaja 32:6.
Die Eufraatrivier het opgedroog
20. Hoe word die Eufraatrivier geraak deur die sesde trompetstoot sowel as die sesde bak wat uitgegooi word?
20 Die sesde trompetstoot het die loslating aangekondig van “die vier engele . . . wat by die groot rivier, die Eufraat, vasgebind is” (Openbaring 9:14). Geskiedkundig was Babilon die groot stad wat aan die Eufraatrivier geleë was. En in 1919 het die loslating van die simboliese vier engele met ’n betekenisvolle val van Babilon die Grote gepaardgegaan (Openbaring 14:8). Dit is derhalwe opmerkenswaardig dat die sesde bak van God se toorn ook die Eufraatrivier raak: “En die sesde het sy bak op die groot rivier, die Eufraat, uitgegooi, en sy water is opgedroog, sodat die weg vir die konings wat van die sonsopgang af kom, berei kon word” (Openbaring 16:12). Ook dit is slegte nuus vir Babilon die Grote!
21, 22. (a) Hoe het die beskermende waters van die Eufraatrivier in 539 v.G.J. vir Babilon opgedroog? (b) Wat is die “waters” waarop Babilon die Grote sit, en hoe is hierdie simboliese waters nou reeds besig om op te droog?
21 In die bloeityd van eertydse Babilon was die oorvloedige waters van die Eufraat ’n belangrike deel van sy verdedigingstelsel. In 539 v.G.J. het hierdie waters opgedroog toe dit deur die Persiese leier Kores weggekeer is. Sodoende kon Kores die Pers en Darius die Meder, die konings wat van “die sonsopgang” af (dit wil sê die ooste) gekom het, Babilon binnedring en dit verower. In die kritieke uur kon die Eufraatrivier nie hierdie groot stad beskerm nie (Jesaja 44:27–45:7; Jeremia 51:36). Iets soortgelyks gaan met hedendaagse Babilon, die wêreldstelsel van valse godsdiens, gebeur.
22 Babilon die Grote ‘sit op baie waters’. Volgens Openbaring 17:1, 15 simboliseer hierdie waters “volke en menigtes en nasies en tale”—hordes aanhangers wat sy as ’n beskerming beskou het. Maar die “waters” is besig om op te droog! In Wes-Europa, waar sy vroeër groot invloed gehad het, is daar honderdmiljoene mense wat godsdiens vandag openlik ignoreer. In party lande was daar baie jare lank ’n uitgesproke beleid om die invloed van godsdiens te probeer vernietig. Die volksmassa in hierdie lande het haar nie verdedig nie. Wanneer die tyd vir Babilon die Grote se vernietiging aanbreek, sal haar kwynende aantal aanhangers ook glad nie ’n beskerming wees nie (Openbaring 17:16). Hoewel sy beweer dat sy ’n ledetal van duisendmiljoene het, sal Babilon die Grote vind dat sy weerloos is teen “die konings wat van die sonsopgang af kom”.
23. (a) Wie was die konings wat in 539 v.G.J. van “die sonsopgang” af gekom het? (b) Wie is gedurende die dag van die Here “die konings wat van die sonsopgang af kom”, en hoe sal hulle Babilon die Grote vernietig?
23 Wie is hierdie konings? In 539 v.G.J. was dit Darius die Meder en Kores die Pers, wat deur Jehovah gebruik is om die eertydse stad Babilon te verower. In hierdie dag van die Here sal die valse godsdiensstelsel van Babilon die Grote ook deur menseheersers vernietig word. Maar dit sal weer eens ’n goddelike oordeel wees. Jehovah God en Jesus Christus, “die konings wat van die sonsopgang af kom”, sal die “gedagte” in die harte van menseheersers gesit het om teen Babilon die Grote te draai en haar geheel en al te vernietig (Openbaring 17:16, 17). Wanneer die sesde bak uitgegooi word, word dit in die openbaar aangekondig dat hierdie oordeel spoedig voltrek gaan word!
24. (a) Hoe is die inhoud van die eerste ses bakke van Jehovah se toorn bekend gemaak, en met watter gevolg? (b) Wat maak Openbaring bekend voordat dit ons van die oorblywende bak van God se toorn vertel?
24 Hierdie eerste ses bakke van Jehovah se toorn bevat ’n boodskap wat ’n mens tot nadenke stem. God se aardse knegte, wat deur die engele ondersteun word, het die inhoud van hierdie bakke regoor die aarde bekend gemaak. Sodoende is alle dele van Satan se wêreldstelsel behoorlik gewaarsku en het Jehovah individue ’n geleentheid gebied om hulle tot regverdigheid te wend en te bly lewe (Esegiël 33:14-16). Maar nog een bak van God se toorn bly oor. Voordat Openbaring ons egter daarvan vertel, maak dit eers bekend hoe Satan en sy aardse agente probeer om die bekendmaking van Jehovah se oordele teë te werk.
Vir Armageddon versamel
25. (a) Wat vertel Johannes ons omtrent onrein, padda-agtige “geïnspireerde uitinge”? (b) Hoe is daar in die dag van die Here ’n weersinwekkende padda-agtige plaag van “onrein geïnspireerde uitinge”, en met watter gevolg?
25 Johannes sê vir ons: “En ek het drie onrein geïnspireerde uitinge wat soos paddas gelyk het, uit die bek van die draak en uit die bek van die wilde dier en uit die mond van die valse profeet sien kom. Hulle is in werklikheid uitinge wat deur demone geïnspireer is en doen tekens, en hulle gaan uit na die konings van die hele bewoonde aarde, om hulle te versamel vir die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” (Openbaring 16:13, 14). In Moses se dag het Jehovah ’n walglike plaag van paddas oor Farao se Egipte gebring, sodat ‘die land begin stink het’ (Eksodus 8:5-15). Gedurende die dag van die Here is daar ook ’n weersinwekkende padda-agtige plaag, hoewel uit ’n ander bron. Dit bestaan uit Satan se “onrein geïnspireerde uitinge”, ’n duidelike simbool van die propaganda wat bedoel is om alle menseheersers, “konings”, te manipuleer om Jehovah God teë te staan. Daardeur verseker Satan dat hulle nie van standpunt verander wanneer die bakke van God se toorn uitgegooi word nie, maar dat hulle onwrikbaar aan Satan se kant is wanneer “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” begin.
26. (a) Uit watter drie bronne kom sataniese propaganda? (b) Wat is “die valse profeet”, en hoe weet ons dit?
26 Die propaganda kom van “die draak” (Satan) en “die wilde dier” (Satan se aardse politieke stelsel), diere waarmee ons reeds in Openbaring kennis gemaak het. Maar wat is “die valse profeet”? Net sy naam is nuut. Ons het vroeër ’n wilde dier met twee horings soos ’n lam gesien wat groot tekens voor die wilde dier met die sewe koppe gedoen het. Hierdie bedrieglike dier het soos ’n profeet vir daardie wilde dier opgetree. Hy het die aanbidding van die wilde dier bevorder en selfs ’n beeld daarvoor laat oprig (Openbaring 13:11-14). Hierdie wilde dier met die twee horings soos ’n lam moet dieselfde wees as “die valse profeet” wat hier gemeld word. Ter bevestiging hiervan lees ons later dat die valse profeet, soos die simboliese wilde dier met die twee horings, “voor [die wilde dier met die sewe koppe] die tekens gedoen het waarmee hy dié mislei het wat die merk van die wilde dier ontvang het en dié wat sy beeld aanbid”.—Openbaring 19:20.
27. (a) Watter tydige waarskuwing gee Jesus Christus self? (b) Watter waarskuwing het Jesus gegee toe hy op die aarde was? (c) Hoe het die apostel Paulus Jesus se waarskuwing herhaal?
27 Met soveel sataniese propaganda aan die werk is die volgende woorde wat Johannes opteken, inderdaad tydig: “Kyk! Ek kom soos ’n dief. Gelukkig is die een wat wakker bly en sy boklere bewaar, sodat hy nie naak sal loop en mense sy skande sien nie” (Openbaring 16:15). Wie kom “soos ’n dief”? Jesus self, wat op ’n onverwagte tyd as Jehovah se Skerpregter kom (Openbaring 3:3; 2 Petrus 3:10). Terwyl Jesus nog op die aarde was, het hy ook sy koms met dié van ’n dief vergelyk en gesê: “Hou dus aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie. Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie” (Matteus 24:42, 44; Lukas 12:37, 40). Die apostel Paulus het hierdie waarskuwing herhaal: “Jehovah se dag [kom] net soos ’n dief in die nag . . . Wanneer hulle ook al sê: ‘Vrede en veiligheid!’ dan sal skielike vernietiging oombliklik oor hulle kom.” Satan sit agter enige sodanige valse uitroep van “Vrede en veiligheid!”—1 Tessalonisense 5:2, 3.
28. Watter waarskuwing het Jesus gegee van hoe wêreldse druk weerstaan moet word, en wat is “dié dag” wat Christene nie wil hê “soos ’n strik” oor hulle moet kom nie?
28 Jesus het ook gewaarsku teen die soort druk wat hierdie wêreld, deurdrenk van propaganda, op Christene sal uitoefen. Hy het gesê: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe, en dié dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom soos ’n strik nie. . . . Bly dus wakker en doen te alle tye smeekbedes dat julle daarin sal slaag om te ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur en om voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:34-36). “Dié dag” is “die groot dag van God die Almagtige” (Openbaring 16:14). Namate “dié dag” van die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit nader kom, word dit al hoe moeiliker om die sorge van die lewe die hoof te bied. Christene moet waaksaam en op hulle hoede wees en wakker bly totdat daardie dag aanbreek.
29, 30. (a) Wat impliseer Jesus se waarskuwing dat dié wat aan die slaap gevind word, beskaam sou word deurdat hulle hulle “boklere” sou verloor? (b) As wat identifiseer boklere die draers daarvan? (c) Hoe kan ’n persoon sy simboliese boklere verloor, en met watter gevolg?
29 Maar wat impliseer die waarskuwing dat dié wat aan die slaap gevind word, beskaam sou word deurdat hulle hulle “boklere” sou verloor? In eertydse Israel het enige priester of Leviet wat by die tempel wag gestaan het, ’n groot verantwoordelikheid gehad. Joodse kommentators vertel ons dat as enigiemand betrap is terwyl hy tydens sulke wagdiens geslaap het, sy klere van hom weggeneem en verbrand is, sodat hy in die openbaar beskaam is.
30 Jesus waarsku hier dat iets soortgelyks vandag kan gebeur. Die priesters en Leviete het Jesus se gesalfde broers voorafgeskadu (1 Petrus 2:9). Maar Jesus se waarskuwing geld by uitbreiding ook vir die groot menigte. Die boklere wat hier gemeld word, identifiseer die draer daarvan as ’n Christengetuie van Jehovah. (Vergelyk Openbaring 3:18; 7:14.) As persone sou toelaat dat die druk van Satan se wêreld hulle aan die slaap sus of onbedrywig laat word, sal hulle waarskynlik hierdie boklere verloor—met ander woorde, hulle sal hulle rein identiteit as Christene verloor. So ’n situasie sou skandelik wees. ’n Mens sou dan gevaar loop om alles te verloor.
31. (a) Hoe beklemtoon Openbaring 16:16 dat Christene moet wakker bly? (b) Wat het party godsdiensleiers aangaande Armageddon bespiegel?
31 Dit raak selfs dringender dat Christene moet wakker bly namate die volgende vers van Openbaring sy vervulling nader: “En hulle [die demoongeïnspireerde uitinge] het hulle [die aardse konings, of heersers] versamel na die plek wat in Hebreeus Har–Magedon genoem word” (Openbaring 16:16). Hierdie naam, wat meer dikwels as Armageddon weergegee word, kom net een keer in die Bybel voor. Maar dit het die mensdom se verbeelding aangegryp. Wêreldleiers het teen ’n moontlike kern-Armageddon gewaarsku. Armageddon is ook al verbind met die eertydse stad Megiddo, die plek waar talle beslissende veldslae in Bybeltye plaasgevind het, en party godsdiensleiers het derhalwe bespiegel dat die finale oorlog op die aarde in daardie beperkte gebied sal plaasvind. In hierdie opsig het hulle dit heeltemal mis.
32, 33. (a) In plaas van ’n letterlike plek te wees, wat stel die naam Har–Magedon, of Armageddon, voor? (b) Watter ander Bybelterme is soortgelyk aan “Armageddon” of hou daarmee verband? (c) Wanneer sal dit tyd wees vir die sewende engel om die laaste bak van die toorn van God uit te gooi?
32 Die naam Har–Magedon beteken “die berg Megiddo”. Maar in plaas van ’n letterlike plek te wees, stel dit die wêreldsituasie voor waarin alle nasies wat in verset teen Jehovah God is, versamel word en waar hy hulle finaal sal vernietig. Dit omvat die hele aarde (Jeremia 25:31-33; Daniël 2:44). Dit kom ooreen met “die groot wynpers van die toorn van God” en “die laagvlakte van die beslissing”, of “die Josafatlaagvlakte”, waar die nasies versamel word om deur Jehovah tereggestel te word (Openbaring 14:19; Joël 3:12, 14). Dit hou ook verband met “die land van Israel” waar die sataniese leërs van Gog van Magog vernietig word en die plek “tussen die groot see en die heilige Sieraadberg” waar die koning van die noorde as gevolg van die optrede van Migael, die groot vors, “geheel en al tot sy einde . . . kom”.—Esegiël 38:16-18, 22, 23; Daniël 11:45–12:1.
33 Wanneer die nasies tot in hierdie situasie gemanipuleer is deur die kwakende propaganda wat van Satan en sy aardse agente uitgaan, sal dit tyd wees vir die sewende engel om die laaste bak van die toorn van God uit te gooi.
“Dit het geskied!”
34. Waarop gooi die sewende engel sy bak uit, en watter aankondiging kom “uit die heiligdom, van die troon af”?
34 “En die sewende het sy bak op die lug uitgegooi. Hierop het ’n harde stem uit die heiligdom, van die troon af, gekom en gesê: ‘Dit het geskied!’”—Openbaring 16:17.
35. (a) Wat is “die lug” van Openbaring 16:17? (b) Wat openbaar die sewende engel deur sy bak op die lug uit te gooi?
35 “Die lug” is die laaste lewensonderhoudende element wat geteister word. Maar dit is nie die letterlike lug nie. Daar is niks omtrent die letterlike lug wat maak dat dit Jehovah se ongunstige oordele verdien nie, net so min as wat die letterlike aarde, see, varswaterbronne of son verdien om deur Jehovah geoordeel te word. Dit is eerder “die lug” wat Paulus bespreek het toe hy Satan “die heerser van die gesag van die lug” genoem het (Efesiërs 2:2). Dit is die sataniese “lug” wat die wêreld vandag inasem, die gees, of algemene geestesneiging, wat sy hele goddelose stelsel van dinge kenmerk, die sataniese denke waarvan elke aspek van die lewe buite Jehovah se organisasie deurtrek is. Deur sy bak op die lug uit te gooi, openbaar die sewende engel dus God se gramskap teen Satan, sy organisasie en alles wat die mensdom beweeg om Satan te ondersteun in sy teenstand teen Jehovah se soewereiniteit.
36. (a) Wat maak die sewe plae uit? (b) Wat word aangedui deur Jehovah se verklaring: “Dit het geskied!”?
36 Hierdie plaag en die vorige ses maak al Jehovah se oordele teen Satan en sy stelsel uit. Hulle is ’n aankondiging van ondergang vir Satan en sy saad. Wanneer hierdie laaste bak uitgegooi is, sê Jehovah self: “Dit het geskied!” Daar is niks meer om te sê nie. Wanneer die inhoud van die bakke van God se toorn tot Jehovah se bevrediging bekend gemaak is, sal daar geen uitstel wees in sy voltrekking van die oordele wat deur hierdie boodskappe aangekondig is nie.
37. Hoe beskryf Johannes wat plaasvind nadat die sewende bak van die toorn van God uitgegooi is?
37 Johannes sê verder: “En daar het weerligstrale en stemme en donderslae gekom, en ’n groot aardbewing het plaasgevind soos daar nie plaasgevind het sedert daar mense op die aarde gekom het nie, só ’n omvangryke aardbewing, só groot. En die groot stad het in drie dele geskeur, en die stede van die nasies het geval; en Babilon die Grote is voor die aangesig van God in herinnering gebring, om haar die beker van die wyn van die toorn van sy gramskap te gee. En elke eiland het gevlug, en berge is nie gevind nie. En ’n groot hael, met elke steen omtrent ’n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval, en die mense het God gelaster weens die plaag van die hael, want die plaag daarvan was buitengewoon groot.”—Openbaring 16:18-21.
38. Wat word gesimboliseer deur (a) die “groot aardbewing”? (b) die feit dat “die groot stad”, Babilon die Grote, in “drie dele” skeur? (c) die feit dat ‘elke eiland gevlug het, en berge nie gevind is nie’? (d) “die plaag van die hael”?
38 Jehovah tree weer eens op onmiskenbare wyse teenoor die mensdom op, en dit word aangedui deur “weerligstrale en stemme en donderslae”. (Vergelyk Openbaring 4:5; 8:5.) Die mensdom sal geskud word soos nog nooit tevore nie, asof deur ’n verwoestende aardbewing. (Vergelyk Jesaja 13:13; Joël 3:16.) Hierdie ontsaglike skudding sal “die groot stad”, Babilon die Grote, verpletter, sodat dit in “drie dele” skeur—simbolies van die stad se ineenstorting tot onherroeplike ondergang. “Die stede van die nasies” sal ook val. “Elke eiland” asook “berge”—instellings en organisasies wat in hierdie stelsel so blywend lyk—sal verdwyn. “’n Groot hael”, baie groter as dié wat Egipte tydens die sewende plaag geteister het, met elke haelkorrel wat omtrent ’n talent weeg, sal pynlik neerkom op die mensdom (Eksodus 9:22-26).d Hierdie swaar stortbui bevrore water beeld waarskynlik buitengewoon swaar mondelinge uitinge van Jehovah se oordele af wat aandui dat die einde van hierdie stelsel van dinge uiteindelik aangebreek het! Jehovah sal heel moontlik ook letterlike hael in sy vernietigingswerk gebruik.—Job 38:22, 23.
39. Hoe sal die meeste mense optree ondanks die sewe plae wat uitgegooi word?
39 So sal Satan se wêreld Jehovah se regverdige oordeel ondergaan. Tot die einde toe sal die meeste mense aanhou om hulle teen God te verset en hom te laster. Soos dit met Farao van ouds die geval was, sal hulle harte nie deur die herhaalde plae of deur die finale dodelike klimaks van hierdie plae versag word nie (Eksodus 11:9, 10). Daar sal nie op die laaste nippertjie ’n grootskaalse verandering van gesindheid wees nie. Met hulle laaste asem sal hulle uitvaar teen die God wat sê: “Hulle sal moet weet dat ek Jehovah is” (Esegiël 38:23). Nietemin sal die soewereiniteit van Jehovah God die Almagtige geregverdig wees.
[Voetnote]
a Vir voorbeelde van lewelose dinge wat as ’n getuie optree of getuienis aflê, vergelyk Genesis 4:10; 31:44-53; Hebreërs 12:24.
b ’n Soortgelyke gebruik van “troon” kom voor in die woorde wat profeties tot Jesus gerig is: “God is u troon tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig” (Psalm 45:6). Jehovah is die bron, of grondslag, van Jesus se koninklike gesag.
c Sien ook Job 1:6, 12; 2:1, 2; Matteus 4:8-10; 13:19; Lukas 8:12; Johannes 8:44; 12:31; 14:30; Hebreërs 2:14; 1 Petrus 5:8.
d As Johannes die Griekse talent in gedagte gehad het, sou elke haelsteen omtrent 20 kilogram weeg. Dit sou ’n verwoestende haelstorm wees.
[Venster op bladsy 221]
“Op die aarde”
Die Johannes-klas het Jehovah se gramskap teen “die aarde” bekend gemaak met verklarings soos die volgende:
“Na eeue van inspanning het politieke partye bewys dat hulle nie teen die huidige toestande opgewasse is nie en die onrusbarende probleme nie kan oplos nie. Ekonome en staatsmanne, wat die vraag noukeurig ondersoek het, vind dat hulle niks kan doen nie.”—Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie, 1920, bladsy 67.
“Daar is vandag nie een regering op aarde wat aan die verlange van ’n redelike gedeelte van die wêreld voldoen nie. Baie volke word deur diktators geregeer. Die hele wêreld is so te sê bankrot.”—’n Gewenste regering, 1924, bladsy 5.
“Om . . . aan hierdie stelsel van dinge ’n einde te maak, is die enigste manier om die wêreld van kwaad te bevry en die plek in te ruim vir vrede en geregtigheid om te bloei.”—“Hierdie goeie nuus van die koninkryk”, 1954, bladsy 24.
“Die teenswoordige wêreldbestel het hom onderskei deur toenemende sonde, ongeregtigheid en opstand teen God en sy wil. . . . Dit is onvatbaar vir verbetering. Dit moet dus weg!”—Die Wagtoring, 1 Februarie 1982, bladsy 6.
[Venster op bladsy 223]
“In die see”
Die volgende is net ’n paar van die verklarings wat die Johannes-klas deur die jare heen gepubliseer het om God se gramskap teen die rustelose, opstandige “see” van goddelose mense wat van Jehovah vervreemd is, bekend te maak:
“Die geskiedenis van elke nasie toon dat dit ’n stryd tussen die klasse was. Dit was ’n paar teen die meerderheid. . . . Hierdie stryde het tot talle revolusies, groot lyding en baie bloedvergieting gelei.”—Government, 1928, bladsy 244.
In die nuwe wêreld sal “die simboliese ‘see’ van die rustelose, opstandige, goddelose volke waaruit die simboliese wilde dier lank gelede opgekom het om deur die Duiwel gebruik te word . . . weg wees”.—Die Wagtoring, 1 Desember 1967, bladsy 534.
“Die mensegemeenskap is vandag geestelik siek en krank. Nie een van ons kan hom red nie, want God se Woord toon dat die siekte daarvan ’n siekte tot die dood is.”—Ware vrede en veiligheid—Uit watter bron?, 1975, bladsy 131.
[Venster op bladsy 224]
“In die riviere en die waterfonteine”
Die derde plaag het “die riviere en die waterfonteine” blootgelê deur verklarings soos die volgende:
“Die geestelikes, wat beweer dat hulle [Christus se] leringe verkondig, het oorlog geheilig, dit tot iets heiligs verklaar. Hulle het behae daarin geskep om hulle portrette en standbeelde langs dié van bebloede soldate te laat vertoon.”—The Watch Tower, 15 September 1924, bladsy 275.
“Spiritisme is gegrond op ’n groot onwaarheid, die leuen van oorlewing ná die dood en van die onsterflikheid van die mensesiel.”—What Do the Scriptures Say About “Survival After Death”?, 1955, bladsy 51.
“Mensefilosofieë, politieke teoretici, maatskaplike organiseerders, ekonomiese raadgewers en voorstanders van godsdienstradisies het geen werklik lewegewende verkwikking meegebring nie . . . Sulke waters het die drinkers daarvan selfs beweeg om die Skepper se wet aangaande die heiligheid van bloed te skend en aan godsdiensvervolging deel te neem.”—Resolusie wat by die “Ewige Goeie Nuus”- Internasionale Byeenkoms in 1963 aangeneem is.
“Nie die wetenskaplike redding nie, maar die vernietiging van die mensdom is wat van die mens self verwag kan word. . . . Ons kan nie verwag dat selfs al die sielkundiges en psigiaters in die wêreld die mensdom se denkwyse sal verander nie . . . Ons kan nie daarop staatmaak dat enige internasionale polisiemag gestig sal word . . . en hierdie aarde ’n veilige plek sal maak om in te lewe nie.”—Saving the Human Race—In the Kingdom Way, 1970, bladsy 5.
[Venster op bladsy 225]
“Op die son”
Terwyl die “son” van menseheerskappy die mensdom gedurende die dag van die Here “verskroei” het, het die Johannes-klas, met verklarings soos die volgende, die aandag gevestig op wat gebeur:
“Vandag bedreig Hitler en Mussolini, die eiemagtige diktators, die vrede van die hele wêreld, en die Rooms-Katolieke Hiërargie ondersteun hulle ten volle in hulle vernietiging van vryheid.”—Fascism or Freedom, 1939, bladsy 12.
“Die hele geskiedenis deur was die beleid wat deur diktators gevolg is, Regeer of ruïneer! Maar die regulasie wat nou deur God se geïnstalleerde Koning, Jesus Christus, op die hele aarde toegepas gaan word, is, Word geregeer of geruïneer.”—Wanneer alle nasies verenig onder God se koninkryk, 1964, bladsy 24.
“Sedert 1945 is meer as 25 miljoen mense gedood in sowat 150 oorloë wat rondom die aardbol gevoer is.”—Die Wagtoring, 1 April 1980, bladsy 7.
“Die nasies rondom die wêreld . . . steur hulle weinig aan internasionale verantwoordelikheid of gedragsreëls. Sommige nasies dink dat hulle die volste reg het om enige middel te gebruik wat hulle nodig ag om hulle doelstellings te bereik—menseslagtings, sluipmoorde, skakings, bomaanvalle, en so meer . . . Hoe lank sal die nasies mekaar nog verdra terwyl hulle hulle aan sulke sinnelose en onverantwoordelike gedrag skuldig maak?”—Die Wagtoring, 15 Februarie 1985, bladsy 4.
[Venster op bladsy 227]
“Op die troon van die wilde dier”
Jehovah se Getuies het die troon van die wilde dier blootgelê en Jehovah se veroordeling daarvan bekend gemaak met verklarings soos die volgende:
“Die regeerders en politieke gidse van die nasies [word] beïnvloed . . . deur boosaardige bomenslike magte wat hulle onweerstaanbaar aandrywe in ’n selfmoord-optog na die beslissende stryd van Armageddon.”—Na Armageddon—God se nuwe wêreld, 1954, bladsy 8.
“Die ‘wilde dier’ van onteokratiese menslike regering het sy mag, gesag en troon van die Draak gekry. Daarom moet hy hom hou aan die partybeleid, die Draak-beleid.”—Na Armageddon—God se nuwe wêreld, 1954, bladsy 14.
“Die Heidense nasies kan hulle alleenlik aan . . . die kant van God se Hoofteenstander, Satan die Duiwel, skaar.”—Resolusie wat by die “Goddelike Oorwinning”- Internasionale Byeenkoms in 1973 aangeneem is.
[Venster op bladsy 229]
“Sy water is opgedroog”
Nou reeds is steun vir Babiloniese godsdiens op baie plekke besig om op te droog, en dit is ’n aanduiding van wat sal gebeur wanneer “die konings wat van die sonsopgang af kom”, tot die aanval oorgaan.
“’n Landwye opname het getoon dat 75 persent van diegene wat in munisipale gebiede [van Thailand] woon, glad nie na Boeddhistiese tempels gaan om na preke te luister nie, terwyl die aantal op die platteland wat die tempels wel besoek, geleidelik besig is om af te neem tot omtrent vyftig persent.”—Bangkok Post, 7 September 1987, bladsy 4.
“Taoïsme het sy betowering verloor in die land [China] waar dit sowat twee millenniums gelede gestig is. . . . Sonder die towermiddels waarmee lede van die priesterdom en hulle voorgangers voorheen ’n groot aanhang verkry het, vind hulle dat hulle nie opvolgers het nie en dus voor die feitlike ondergang van Taoïsme as ’n georganiseerde geloof op die vasteland staan.”—The Atlanta Journal and Constitution, 12 September 1982, bladsy 36-A.
“Japan . . . het een van die grootste konsentrasies buitelandse sendelinge ter wêreld, byna 5 200, maar . . . minder as 1% van die bevolking is Christene. . . . ’n Fransiskaanse priester wat sedert die 1950’s hier werk, . . . is van mening dat ‘die dag van die buitelandse sendeling in Japan verby is’.”—The Wall Street Journal, 9 Julie 1986, bladsy 1.
In Engeland is daar gedurende die afgelope drie dekades “byna 2 000 van die 16 000 Anglikaanse kerke weens onbruik gesluit. Die bywoningsyfer het so ver gedaal dat dit een van die laagste is in die lande wat as Christelik geklassifiseer word. . . . ‘Engeland is nie nou ’n Christelike land nie’, het [die biskop van Durham] gesê.”—The New York Times, 11 Mei 1987, bladsy A4.
“Ná ure van driftige beraadslaging het [Griekeland se] Parlement vandag wetgewing goedgekeur wat die Sosialistiese Regering in staat stel om groot eiendomme oor te neem wat deur die Grieks-Ortodokse Kerk besit word . . . Bowendien verleen die wet niegeestelikes beheer oor kerkrade en komitees belas met die administrasie van kosbare kerkbeleggings, waaronder hotelle, marmergroewe en kantoorgeboue.”—The New York Times, 4 April 1987, bladsy 3.
[Prente op bladsy 222]
Die eerste vier bakke van die toorn van God veroorsaak plae wat ooreenkom met dié wat op die eerste vier trompetstote volg
[Prent op bladsy 226]
Die vyfde bak lê die troon van die wilde dier bloot
as die gesag wat Satan aan die wilde dier gegee het
[Prent op bladsy 231]
Demoniese propaganda versamel die aarde se heersers tot die brandpuntsituasie, Har–Magedon, waar Jehovah se oordele op hulle uitgegooi sal word
[Prent op bladsy 233]
Dié wat deur Satan se besoedelde “lug” aangedryf word, moet die voltrekking van Jehovah se regverdige oordele ondergaan