Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • re hfst. 35 bl. 251-258
  • Die teregstelling van Babilon die Grote

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die teregstelling van Babilon die Grote
  • Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom word hy ’n agtste koning genoem?
  • Tien konings een uur lank
  • Die verwoesting van die hoer
  • Die uitvoering van God se gedagte
  • ’n Stryd teen twee wrede diere
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Vrede, veiligheid en die ‘beeld van die dier’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Openbaring – Wat dit vir God se vyande beteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Jehovah openbaar “wat binnekort moet plaasvind”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
Sien nog
Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
re hfst. 35 bl. 251-258

Hoofstuk 35

Die teregstelling van Babilon die Grote

1. Hoe beskryf die engel die skarlakenkleurige wilde dier, en watter soort wysheid is nodig om die simbole van Openbaring te verstaan?

DIE engel beskryf die skarlakenkleurige wilde dier van Openbaring 17:3 verder en sê vir Johannes: “Hiér is dit ’n kwessie van die intelligensie wat wysheid het: Die sewe koppe beteken sewe berge, waarop die vrou sit. En daar is sewe konings: vyf het geval, een is, die ander een het nog nie gekom nie, maar wanneer hy wel kom, moet hy ’n kort tydjie bly” (Openbaring 17:9, 10). Die engel dra hier wysheid van bo oor, die enigste wysheid wat ons kan help om die simbole in Openbaring te verstaan (Jakobus 3:17). Hierdie wysheid verskaf verligting aan die Johannes-klas en hulle metgeselle aangaande die erns van die tye waarin ons lewe. Dit bou in toegewyde harte waardering vir Jehovah se oordele, wat binnekort voltrek gaan word, en skerp ’n heilsame vrees vir Jehovah in. Soos Spreuke 9:10 sê: “Die vrees van Jehovah is die begin van wysheid, en die kennis van die Allerheiligste is verstand.” Wat openbaar goddelike wysheid aan ons omtrent die wilde dier?

2. Wat beteken die sewe koppe van die skarlakenkleurige wilde dier, en hoe is dit dat ‘vyf geval het en een is’?

2 Die sewe koppe van hierdie wrede dier staan vir sewe “berge”, of sewe “konings”. Albei terme word in die Skrif vir regeringsmagte gebruik (Jeremia 51:24, 25; Daniël 2:34, 35, 44, 45). In die Bybel word ses wêreldmoondhede gemeld wat ’n invloed op die aangeleenthede van God se volk gehad het: Egipte, Assirië, Babilon, Medo-Persië, Griekeland en Rome. Vyf hiervan het reeds gekom en gegaan toe Johannes Openbaring ontvang het, terwyl Rome nog baie beslis ’n wêreldmoondheid was. Dit kom goed ooreen met die woorde “vyf het geval, een is”. Maar wat van “die ander een” wat sou kom?

3. (a) Hoe is die Romeinse Ryk verdeel? (b) Watter verwikkelinge was daar in die Weste? (c) Hoe moet die Heilige Romeinse Ryk beskou word?

3 Die Romeinse Ryk het nog honderde jare ná Johannes se dag voortbestaan en selfs uitgebrei. In 330 G.J. het keiser Konstantyn sy hoofstad verskuif van Rome na Bisantium, wat hy tot Konstantinopel hernoem het. In 395 G.J. is die Romeinse Ryk verdeel in ’n Oostelike en Westelike deel. In 410 G.J. is Rome ingeneem deur Alarik, koning van die Wes-Gote (’n Germaanse stam wat hulle tot die Ariaanse vorm van die “Christelike godsdiens” bekeer het). Germaanse stamme (ook “Christelik”) het Spanje en ’n groot deel van Rome se gebied in Noord-Afrika verower. Daar was eeue van omwenteling, onrus en herskikking in Europa. Vername keisers het in die Weste verskyn, byvoorbeeld Karel die Grote, wat in die 9de eeu ’n bondgenootskap met pous Leo III gesluit het, en Frederik II, wat in die 13de eeu geheers het. Maar hoewel hulle ryk die Heilige Romeinse Ryk genoem is, was dit baie kleiner as dié van die vroeëre Romeinse Ryk toe hy op sy magtigste was. Dit was eerder ’n herstel of ’n voortsetting van hierdie eertydse moondheid as ’n nuwe ryk.

4. Watter oorwinnings het die Oostelike Ryk behaal, maar wat het met baie van die voormalige gebied van eertydse Rome in Noord-Afrika, Spanje en Sirië gebeur?

4 Rome se Oostelike Ryk, met Konstantinopel as sy hoofstad, het ietwat gespanne betrekkinge met die Westelike Ryk gehad. In die sesde eeu het die Oostelike keiser Justinianus I ’n groot deel van Noord-Afrika herower, en hy het ook in Spanje en Italië tussenbeide getree. In die sewende eeu het Justinianus II gebiede van Masedonië wat deur Slawiese stamme verower is, vir die Ryk herwin. Maar teen die agtste eeu was baie van die voormalige gebied van eertydse Rome in Noord-Afrika, Spanje en Sirië onder die oorheersing van die nuwe ryk van Islam en is dit derhalwe nie meer deur Konstantinopel en Rome beheer nie.

5. Hoewel die stad Rome in 410 G.J. geval het, waarom het dit nog baie eeue geduur voordat alle spore van die politieke Romeinse Ryk van die wêreldtoneel verdwyn het?

5 Die stad Konstantinopel self het ietwat langer voortbestaan. Dit het herhaalde aanvalle deur Perse, Arabiere, Bulgare en Russe deurstaan totdat dit uiteindelik in 1203 verower is—nie deur Moslems nie, maar deur Kruisvaarders uit die Weste. In 1453 het dit egter onder die mag van die Ottomaanse Moslemheerser Mehmet II gekom en spoedig die hoofstad van die Ottomaanse, of Turkse, Ryk geword. Hoewel die stad Rome in 410 G.J. geval het, het dit dus nog baie eeue geduur voordat alle spore van die politieke Romeinse Ryk van die wêreldtoneel verdwyn het. En selfs toe was sy invloed nog steeds waarneembaar in godsdiensryke wat op die pousdom van Rome en die Oosters-Ortodokse kerke gegrond was.

6. Watter splinternuwe ryke het ontstaan, en watter ryk het die suksesvolste geword?

6 Maar teen die 15de eeu het party lande splinternuwe ryke opgebou. Hoewel party van hierdie nuwe keiserlike moondhede in die gebied van voormalige Romeinse kolonies voorgekom het, was hulle ryke nie bloot voortsettings van die Romeinse Ryk nie. Portugal, Spanje, Frankryk en Nederland het almal setels van wydgestrekte ryke geword. Maar die suksesvolste ryk was Brittanje, wat die septer geswaai het oor ’n ontsaglike ryk waaroor ‘die son nooit ondergegaan het nie’. Hierdie ryk het op verskillende tye oor groot dele van Noord-Amerika, Afrika, Indië en Suidoos-Asië, sowel as die uitgestrektheid van die Stille Suidsee, uitgebrei.

7. Hoe het ’n soort tweeledige wêreldmoondheid ontstaan, en hoe lank het Johannes gesê sou die sewende ‘kop’, of wêreldmoondheid, bestaan?

7 Teen die 19de eeu het party van die kolonies in Noord-Amerika hulle reeds van Brittanje afgeskei om die onafhanklike Verenigde State van Amerika te vorm. ’n Mate van politieke konflik het tussen die nuwe nasie en die voormalige moederland voortgeduur. Nietemin het die Eerste Wêreldoorlog albei lande verplig om hulle gemene belange te erken en het dit hulle in ’n spesiale verhouding verbind. Sodoende het ’n soort tweeledige wêreldmoondheid ontstaan, saamgestel uit die Verenigde State van Amerika, tans die rykste nasie ter wêreld, en Groot-Brittanje, die setel van die grootste ryk ter wêreld. Hier is dan die sewende ‘kop’, of wêreldmoondheid, wat tot in die tyd van die einde bestaan en in wie se gebiede die hedendaagse Getuies van Jehovah aanvanklik gevestig geraak het. In vergelyking met die lang heerskappy van die sesde kop bly die sewende net “’n kort tydjie”, totdat God se Koninkryk alle volksentiteite vernietig.

Waarom word hy ’n agtste koning genoem?

8, 9. Wat noem die engel die simboliese skarlakenkleurige wilde dier, en in watter sin spruit hy uit die sewe voort?

8 Die engel verduidelik verder aan Johannes: “En die wilde dier wat was, maar nie is nie, hy is ook self ’n agtste koning, maar spruit uit die sewe voort, en hy gaan in die vernietiging weg” (Openbaring 17:11). Die simboliese skarlakenkleurige wilde dier ‘spruit voort’ uit die sewe koppe; dit wil sê, hy kom voort uit, of het sy bestaan te danke aan, daardie koppe van die oorspronklike “wilde dier uit die see”, waarvan die skarlakenkleurige wilde dier ’n beeld is. In watter sin? Wel, in 1919 was die Anglo-Amerikaanse moondheid die oorheersende kop. Die vorige ses koppe het geval, en hierdie tweeledige kop het die posisie van oorheersende wêreldmoondheid oorgeneem. Hierdie sewende kop, as die huidige verteenwoordiger van die opeenvolging van wêreldmoondhede, was die stukrag agter die stigting van die Volkebond en is nog steeds die vernaamste voorstander en geldelike ondersteuner van die Verenigde Nasies. Die skarlakenkleurige wilde dier—die agtste koning—“spruit” dus simbolies uit die oorspronklike sewe koppe “voort”. Volgens hierdie beskouing strook die verklaring dat dit uit die sewe voortgespruit het, goed met die vroeëre openbaring dat die wilde dier met twee horings soos ’n lam (die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid, die sewende kop van daardie oorspronklike wilde dier) mense aangespoor het om die beeld te maak en lewe daaraan gegee het.—Openbaring 13:1, 11, 14, 15.

9 Bowendien het regerings wat vanuit die setels van party van die vorige koppe geheers het, naamlik Griekeland, Iran (Persië) en Italië (Rome), tesame met Groot-Brittanje, onder die oorspronklike lede van die Volkebond getel. Later het regerings wat oor die gebied van die vorige ses wêreldmoondhede geheers het, ondersteunende lede van die beeld van die wilde dier geword. In hierdie sin kan daar ook gesê word dat hierdie skarlakenkleurige wilde dier uit die sewe wêreldmoondhede voortgespruit het.

10. (a) Hoe kan daar gesê word dat die skarlakenkleurige wilde dier “ook self ’n agtste koning” is? (b) Hoe het ’n leier van die voormalige Sowjetunie steun vir die Verenigde Nasies uitgespreek?

10 Let daarop dat die skarlakenkleurige wilde dier “ook self ’n agtste koning” is. Die Verenigde Nasies van vandag is derhalwe ontwerp om soos ’n wêreldregering te lyk. Dit het soms al selfs soos een opgetree deur leërs in die oorlogsveld uit te stuur om internasionale geskille te beëindig, soos in Korea, die Sinai-skiereiland, sommige Afrikalande en Libanon. Maar dit is slegs die beeld van ’n koning. Soos ’n godsdiensbeeld het dit geen werklike invloed of mag buiten wat daaraan verleen is deur dié wat dit geskep het en dit aanbid nie. Soms lyk hierdie simboliese wilde dier swak; maar dit is nog nooit op groot skaal deur diktatoriale lede verlaat nie—iets wat die Volkebond tot in die afgrond laat steier het (Openbaring 17:8). Hoewel sy menings op ander gebiede geheel en al verskil, het ’n vooraanstaande leier van die voormalige Sowjetunie hom in 1987 by die pouse van Rome aangesluit deur steun vir die VN uit te spreek. Hy het selfs “’n omvattende stelsel van internasionale veiligheid” wat op die VN gegrond is, bepleit. Soos Johannes spoedig uitvind, sal die tyd aanbreek wanneer die VN met aansienlike gesag sal optree. Dan sal dit, op sy beurt, ‘in die vernietiging weggaan’.

Tien konings een uur lank

11. Wat sê Jehovah se engel omtrent die tien horings op die simboliese skarlakenkleurige wilde dier?

11 In die vorige hoofstuk van Openbaring het die sesde en sewende engel bakke van die toorn van God uitgegooi. Ons is sodoende in kennis gestel dat die aarde se konings vir God se oorlog by Armageddon versamel word en dat ‘Babilon die Grote voor die aangesig van God in herinnering gebring gaan word’ (Openbaring 16:1, 14, 19). Nou sal ons meer besonderhede ontvang oor hoe God se oordele aan hulle voltrek gaan word. Luister weer na Jehovah se engel wanneer hy met Johannes praat. “En die tien horings wat jy gesien het, beteken tien konings, wat nog nie ’n koninkryk ontvang het nie, maar hulle ontvang een uur lank gesag as konings saam met die wilde dier. Hulle het een gedagte, en daarom gee hulle hulle mag en gesag aan die wilde dier. Hulle sal teen die Lam veg, maar die Lam sal hulle oorwin omdat hy Here van die here en Koning van die konings is. Ook sal die geroepenes en uitverkorenes en getroues wat saam met hom is, oorwin.”—Openbaring 17:12-14.

12. (a) Wat beeld die tien horings af? (b) Hoe het die simboliese tien horings ‘nog nie ’n koninkryk ontvang nie’? (c) Hoe het die simboliese tien horings nou “’n koninkryk”, en vir hoe lank?

12 Die tien horings beeld al die politieke magte af wat tans op die wêreldtoneel heerskappy voer en wat die beeld van die wilde dier steun. Baie min van die lande wat nou bestaan, was in Johannes se dag bekend. En dié wat was, soos Egipte en Persië (Iran), het vandag ’n heeltemal ander politieke stelsel. In die eerste eeu het die ‘tien horings dus nog nie ’n koninkryk ontvang nie’. Maar nou, in die dag van die Here, het hulle “’n koninkryk”, of politieke gesag. Met die ineenstorting van die groot koloniale ryke, veral sedert die Tweede Wêreldoorlog, het baie nuwe nasies ontstaan. Hulle, sowel as die ouer moondhede, moet ’n kort rukkie—net “een uur lank”—saam met die wilde dier regeer voordat Jehovah alle wêreldse politieke gesag by Armageddon beëindig.

13. In watter sin het die tien horings “een gedagte”, en watter gesindheid teenoor die Lam word hierdeur verseker?

13 Nasionalisme is vandag een van die sterkste dryfkragte agter hierdie tien horings. Hulle het “een gedagte” in die sin dat hulle liewer hulle nasionale soewereiniteit wil bewaar as om God se Koninkryk te aanvaar. Dit was hulle hele doel toe hulle die Volkebond en die Verenigde Nasies in die eerste plek onderskryf het—om wêreldvrede te bewaar en sodoende hulle eie bestaan te verseker. So ’n gesindheid verseker dat die horings die Lam, die “Here van die here en Koning van die konings”, sal teëstaan, want dit is Jehovah se voorneme dat sy Koninkryk onder Jesus Christus binnekort al hierdie koninkryke sal vervang.—Daniël 7:13, 14; Matteus 24:30; 25:31-33, 46.

14. Hoe kan die heersers van die wêreld teen die Lam veg, en wat sal die gevolg wees?

14 Daar is natuurlik niks wat die heersers van hierdie wêreld teen Jesus self kan doen nie. Hy is in die hemel, ver buite hulle bereik. Maar Jesus se broers, die oorblywendes van die vrou se saad, is nog op die aarde en is oënskynlik kwesbaar (Openbaring 12:17). Baie van die horings het reeds bittere vyandigheid teenoor hulle getoon, en op hierdie manier het hulle teen die Lam geveg (Matteus 25:40, 45). Maar dit sal binnekort tyd wees vir God se Koninkryk om “al hierdie koninkryke [te] verbrysel en daar ’n einde aan [te] maak” (Daniël 2:44). Dan sal die konings van die aarde dit met die Lam uitveg, soos ons binnekort sal sien (Openbaring 19:11-21). Maar hier leer ons genoeg om te besef dat die nasies nie suksesvol sal wees nie. Hoewel hulle en die skarlakenkleurige wilde dier, die VN, hulle “een gedagte” het, kan hulle nie die groot “Here van die here en Koning van die konings” oorwin nie, en hulle kan ook nie “die geroepenes en uitverkorenes en getroues wat saam met hom is”, oorwin nie, wat sy gesalfde volgelinge insluit wat nog op die aarde is. Ook laasgenoemdes sal oorwin het deur hulle onkreukbaarheid te handhaaf in antwoord op Satan se gemene aantygings.—Romeine 8:37-39; Openbaring 12:10, 11.

Die verwoesting van die hoer

15. Wat sê die engel omtrent die hoer en omtrent die gesindheid en optrede van die tien horings en die wilde dier teenoor haar?

15 God se volk is nie die enigste teikens van die vyandigheid van die tien horings nie. Die engel vestig nou weer Johannes se aandag op die hoer: “En hy sê vir my: ‘Die waters wat jy gesien het, waar die hoer sit, beteken volke en menigtes en nasies en tale. En die tien horings wat jy gesien het, en die wilde dier, hulle sal die hoer haat en sal haar verwoes en naak maak, en hulle sal haar vlesige dele opeet en haar heeltemal met vuur verbrand.’”—Openbaring 17:15, 16.

16. Waarom sal Babilon die Grote nie vir beskermende steun op haar waters kan staatmaak wanneer politieke regerings teen haar draai nie?

16 Net soos eertydse Babilon op sy beskermende waters staatgemaak het, maak Babilon die Grote vandag staat op haar ontsaglike ledetal wat uit “volke en menigtes en nasies en tale” bestaan. Die engel vestig tereg ons aandag hierop voordat hy van ’n skokkende verwikkeling vertel: Politieke regerings van hierdie aarde sal Babilon die Grote met geweld aanval. Wat sal al hierdie “volke en menigtes en nasies en tale” dan doen? God se volk waarsku Babilon die Grote alreeds dat die water van die Eufraatrivier sal opdroog (Openbaring 16:12). Daardie waters sal uiteindelik heeltemal wegvloei. Hulle sal die weersinwekkende ou hoer geen doeltreffende steun kan gee wanneer sy in die grootste nood verkeer nie.—Jesaja 44:27; Jeremia 50:38; 51:36, 37.

17. (a) Waarom sal die rykdom van Babilon die Grote haar nie red nie? (b) Hoe sal die einde van Babilon die Grote allesbehalwe waardig wees? (c) Wat benewens die tien horings, of individuele nasies, sal ook aan die verwoesting van Babilon die Grote deelneem?

17 Die ontsaglike materiële rykdom van Babilon die Grote sal haar beslis nie red nie. Dit kan haar verwoesting selfs bespoedig, want die visioen toon dat die wilde dier en die tien horings haar koninklike gewade en al haar juwele sal verwyder wanneer hulle aan hulle haat uiting gee. Hulle sal haar rykdom plunder. Hulle ‘maak haar naak’ deur haar ware karakter tot haar skande te ontbloot. Wat ’n verwoesting sal dit tog wees! Haar einde is ook allesbehalwe waardig. Hulle vernietig haar, ‘eet haar vlesige dele op’ en maak haar ’n lewelose geraamte. Ten slotte ‘verbrand hulle haar heeltemal met vuur’. Sy word soos ’n draer van die pes verbrand, sonder om eens behoorlik begrawe te word! Dit is nie die nasies alleen, wat deur die tien horings voorgestel word, wat die groot hoer vernietig nie, maar “die wilde dier”, naamlik die VN self, neem saam met hulle aan hierdie verwoesting deel. Dit sal die vernietiging van valse godsdiens goedkeur. Baie van die meer as 190 nasies in die VN het reeds deur hulle stempatroon vyandigheid teenoor godsdiens getoon, veral teenoor dié van die Christendom.

18. (a) Watter potensiaal vir die nasies om teen Babiloniese godsdiens te draai, is reeds gesien? (b) Wat sal die basiese rede vir die hewige aanval teen die groot hoer wees?

18 Waarom behandel die nasies hulle voormalige minnares so wreed? Ons het in die onlangse geskiedenis die potensiaal gesien vir die nasies om so teen Babiloniese godsdiens te draai. Amptelike staatsteenkanting het die invloed van godsdiens in lande soos die voormalige Sowjetunie en China grootliks verminder. In Protestantse dele van Europa staan die kerke weens wydverspreide onverskilligheid en twyfel leeg, sodat godsdiens feitlik dood is. Die uitgestrekte Katolieke ryk word verdeel deur opstand en onenigheid, wat haar leiers nie tot bedaring kan bring nie. Ons moet egter nie uit die oog verloor dat hierdie finale, hewige aanval teen Babilon die Grote ’n blyk is van God se onveranderlike oordeel oor die groot hoer nie.

Die uitvoering van God se gedagte

19. (a) Hoe kan die voltrekking van Jehovah se oordeel aan die groot hoer toegelig word deur sy oordeel oor afvallige Jerusalem in 607 v.G.J.? (b) Wat het die verlate, onbewoonde toestand van Jerusalem ná 607 v.G.J. vir ons dag voorafgeskadu?

19 Hoe voltrek Jehovah hierdie oordeel? Dit kan toegelig word deur Jehovah se optrede teen sy afvallige volk in die ou tyd, van wie hy gesê het: “By die profete van Jerusalem het ek afskuwelike dinge gesien: hulle pleeg egbreuk en wandel in leuens; en hulle het die hande van die kwaaddoeners versterk, sodat hulle nie sou terugkeer, elkeen van sy slegtheid nie. Hulle het almal vir my soos Sodom geword, en sy inwoners soos Gomorra” (Jeremia 23:14). In 607 v.G.J. het Jehovah Nebukadnesar gebruik om ‘die klere uit te trek en die pragtige voorwerpe weg te neem’ van daardie geestelik owerspelige stad en dit ‘naak en ontbloot agter te laat’ (Esegiël 23:4, 26, 29). Eertydse Jerusalem was ’n patroon van die hedendaagse Christendom, en soos Johannes in vroeëre visioene gesien het, sal Jehovah die Christendom en die res van valse godsdiens op soortgelyke wyse straf. Die verlate, onbewoonde toestand van Jerusalem ná 607 v.G.J. toon hoe godsdienstige Christendom sal lyk nadat sy van haar rykdom gestroop en tot haar skande ontbloot is. En die res van Babilon die Grote sal niks beter vaar nie.

20. (a) Hoe toon Johannes dat Jehovah weer menseheersers sal gebruik om oordeel te voltrek? (b) Wat is God se “gedagte”? (c) Hoe sal die nasies hulle “een gedagte” uitvoer, maar wie se gedagte sal in werklikheid uitgevoer word?

20 Jehovah gebruik weer menseheersers om oordeel te voltrek. “Want God het dit in hulle harte gesit om sy gedagte uit te voer, ja, om hulle een gedagte uit te voer deur hulle koninkryk aan die wilde dier te gee, totdat die woorde van God volbring sal wees” (Openbaring 17:17). Wat is God se “gedagte”? Om te reël dat die skerpregters van Babilon die Grote verenig om haar heeltemal te vernietig. Die heersers se beweegrede vir hulle aanval teen haar sal natuurlik wees om húlle “een gedagte” uit te voer. Hulle sal dink dat dit in hulle nasionalistiese belang is om die groot hoer aan te val. Hulle sal moontlik die voortbestaan van georganiseerde godsdiens binne hulle grense as ’n bedreiging vir hulle soewereiniteit beskou. Maar dit sal in werklikheid Jehovah wees wat sake manipuleer; hulle sal sy gedagte uitvoer deur sy eeue oue, owerspelige vyand met een slag te vernietig!—Vergelyk Jeremia 7:8-11, 34.

21. Aangesien die skarlakenkleurige wilde dier gebruik sal word om Babilon die Grote te vernietig, wat sal die nasies klaarblyklik met betrekking tot die Verenigde Nasies doen?

21 Ja, die nasies sal die skarlakenkleurige wilde dier, die Verenigde Nasies, gebruik om Babilon die Grote te vernietig. Hulle handel nie op eie inisiatief nie, want Jehovah sit dit in hulle harte “om hulle een gedagte uit te voer deur hulle koninkryk aan die wilde dier te gee”. Wanneer die tyd aanbreek, sal die nasies dit klaarblyklik nodig ag om die Verenigde Nasies te versterk. Hulle sal dit as ’t ware tande gee deur al hulle gesag en mag daaraan te verleen sodat dit valse godsdiens kan aanval en met welslae teen haar kan stry “totdat die woorde van God volbring sal wees”. Op dié manier sal die eeue oue hoer heeltemal vernietig word. En dankie tog daarvoor!

22. (a) Wat word in Openbaring 17:18 aangedui deur die manier waarop die engel sy getuienis afsluit? (b) Hoe reageer Jehovah se Getuies op die opheldering van die verborgenheid?

22 Asof hy die sekerheid van Jehovah se voltrekking van oordeel aan die wêreldryk van valse godsdiens wil beklemtoon, sluit die engel sy getuienis af met die woorde: “En die vrou wat jy gesien het, beteken die groot stad wat ’n koninkryk oor die konings van die aarde het” (Openbaring 17:18). Soos Babilon van Belsasar se tyd is Babilon die Grote “op die weegskaal geweeg en te lig bevind” (Daniël 5:27). Haar teregstelling sal vinnig en beslissend wees. En hoe reageer Jehovah se Getuies op die opheldering van die verborgenheid van die groot hoer en van die skarlakenkleurige wilde dier? Hulle verkondig Jehovah se dag van oordeel ywerig, terwyl hulle opregte waarheidsoekers op ‘aangename’ wyse antwoord (Kolossense 4:5, 6; Openbaring 17:3, 7). Soos ons volgende hoofstuk sal toon, moet almal wat behoue wil bly wanneer die groot hoer tereggestel word, optree, en dít sonder versuim!

[Prente op bladsy 252]

Die opeenvolging van sewe wêreldmoondhede

EGIPTE

ASSIRIË

BABILON

MEDO-PERSIË

GRIEKELAND

ROME

ANGLO-AMERIKA

[Prent op bladsy 254]

“Hy is ook self ’n agtste koning”

[Prent op bladsy 255]

Hulle keer die Lam die rug toe en ‘gee hulle mag en gesag aan die wilde dier’

[Prent op bladsy 257]

Die Christendom sal, as die vernaamste deel van Babilon die Grote, soos eertydse Jerusalem volkome verwoes wees

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel