Hoofstuk 39
Die Stryder-Koning seëvier by Armageddon
Visioen 13—Openbaring 19:11-21
Onderwerp: Jesus lei die leërs van die hemel om Satan se stelsel van dinge te vernietig
Tyd van vervulling: Ná die vernietiging van Babilon die Grote
1. Wat is Armageddon, en wat gaan dit vooraf?
ARMAGEDDON—’n skrikwekkende woord vir baie! Maar vir liefhebbers van regverdigheid dui dit die langverwagte dag aan wanneer Jehovah finale oordeel aan die nasies sal voltrek. Dit is nie die mens se oorlog nie, maar “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige”—sy dag van wraak teen die aarde se heersers (Openbaring 16:14, 16; Esegiël 25:17). Die groot verdrukking sal reeds begin het met die verwoesting van Babilon die Grote. Dan sal die skarlakenkleurige wilde dier en sy tien horings, op aanstigting van Satan, hulle aanval op Jehovah se volk toespits. Die Duiwel, toorniger as ooit op God se gemalinorganisasie, is vasbeslote om sy nalopers te gebruik om tot die dood teen die oorblywendes van haar saad oorlog te voer (Openbaring 12:17). Dit is Satan se laaste kans!
2. Wie is Gog van Magog, en hoe manipuleer Jehovah hom om Sy volk aan te val?
2 Die Duiwel se venynige aanval word in Esegiël hoofstuk 38 treffend beskryf. Daar word die verlaagde Satan “Gog van die land Magog” genoem. Jehovah sit figuurlike hake in Gog se kakebene en trek hom en sy talryke krygsmag na die aanval. Hoe doen hy dit? Deur te veroorsaak dat Gog Sy Getuies sien as ’n weerlose volk “wat uit die nasies versamel is, wat rykdom en eiendom versamel, dié wat op die middelpunt van die aarde woon”. Hulle is die middelpunt van belangstelling op die aarde as die een volk wat geweier het om die wilde dier en sy beeld te aanbid. Hulle geestelike krag en voorspoed maak Gog woedend. Gog en sy talryke krygsmag, insluitende die wilde dier uit die see met sy tien horings, ruk dus op vir die slagting. Maar in teenstelling met Babilon die Grote geniet God se rein volk goddelike beskerming!—Esegiël 38:1, 4, 11, 12, 15; Openbaring 13:1.
3. Hoe raak Jehovah van Gog se krygsmag ontslae?
3 Hoe raak Jehovah van Gog en sy hele menigte ontslae? Luister! “‘Ek sal deur my hele bergstreek ’n swaard teen hom oproep’, is die woord van die Soewereine Heer Jehovah. ‘Die swaard van elkeen sal teen sy eie broer wees.’” Maar nie kernwapens of konvensionele wapens sal in hierdie stryd van nut wees nie, want Jehovah sê: “Ek sal met hom in die gerig tree, met pes en met bloed; en ’n oorstromende stortreën en haelstene, vuur en swael sal ek op hom laat reën en op sy krygsbendes en op die baie volke wat saam met hom sal wees. En ek sal my beslis groot maak en my heilig en my bekend maak voor die oë van baie nasies; en hulle sal moet weet dat ek Jehovah is.”—Esegiël 38:21-23; 39:11; vergelyk Josua 10:8-14; Rigters 7:19-22; 2 Kronieke 20:15, 22-24; Job 38:22, 23.
Die Een wat “Getrou en Waaragtig” genoem word
4. Hoe beskryf Johannes Jesus Christus in oorlogsmondering?
4 Jehovah roep ’n swaard op. Wie hanteer hierdie swaard? As ons na Openbaring terugkeer, vind ons die antwoord in nog ’n opwindende visioen. Voor Johannes se oë gaan die hemele oop om iets werklik ontsagwekkends te openbaar—Jesus Christus self in oorlogsmondering! Johannes sê vir ons: “En ek het die hemel geopend gesien, en kyk! ’n wit perd. En die een wat daarop sit, word Getrou en Waaragtig genoem, en hy oordeel en voer oorlog in regverdigheid. Sy oë is ’n vuurvlam, en op sy kop is baie krone.”—Openbaring 19:11, 12a.
5, 6. Wat beteken (a) die “wit perd”? (b) die naam “Getrou en Waaragtig”? (c) oë soos “’n vuurvlam”? (d) “baie krone”?
5 Soos in die vroeëre visioen van die vier ruiters is hierdie “wit perd” ’n gepaste simbool van regverdige oorlogvoering (Openbaring 6:2). En wie van God se seuns kan regverdiger wees as hierdie magtige Stryder? Aangesien hy ‘Getrou en Waaragtig genoem word’, moet hy “die getroue en waaragtige getuie”, Jesus Christus, wees (Openbaring 3:14). Hy voer oorlog om Jehovah se regverdige oordele te voltrek. Hy tree dus op in sy hoedanigheid as Jehovah se aangestelde Regter, die “Magtige God” (Jesaja 9:6). Sy oë is vreeswekkend, soos “’n vuurvlam”, gevestig op die komende vurige vernietiging van sy vyande.
6 Daar is krone op die kop van hierdie Stryder-Koning. Die wilde dier wat Johannes uit die see sien kom het, het tien krone gehad, wat sy tydelike heerskappy oor die aarde afgebeeld het (Openbaring 13:1). Maar Jesus het “baie krone”. Sy glorieryke heerskappy is ongeëwenaard, aangesien hy “Koning [is] van dié wat as konings heers en Here van dié wat as here heers”.—1 Timoteus 6:15.
7. Wat is die geskrewe naam wat Jesus het?
7 Johannes se beskrywing sê verder: “Hy het ’n naam wat geskryf is wat niemand behalwe hy self ken nie” (Openbaring 19:12b). Die Bybel noem God se Seun reeds by name soos Jesus, Immanuel en Migael. Maar hierdie onvermelde “naam” staan blykbaar vir die posisie en voorregte wat Jesus gedurende die dag van die Here geniet. (Vergelyk Openbaring 2:17.) Jesaja sê in sy beskrywing van Jesus sedert 1914: “Hy sal genoem word: Wonderlike Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors” (Jesaja 9:6). Die apostel Paulus het Jesus se naam met Sy uiters hoë diensvoorregte verbind toe hy geskryf het: “God [het Jesus] ook tot ’n hoër posisie verhef en hom goedgunstig die naam gegee wat bo elke ander naam is, sodat in die naam van Jesus elke knie sou buig.”—Filippense 2:9, 10.
8. Waarom kan net Jesus die geskrewe naam ken, en met wie deel hy party van sy verhewe voorregte?
8 Jesus se voorregte is uniek. Buiten Jehovah self kan net Jesus begryp wat dit beteken om so ’n hoë posisie te beklee. (Vergelyk Matteus 11:27.) Van al God se skepsele kan net Jesus derhalwe hierdie naam ten volle verstaan. Nietemin laat Jesus sy bruid in party van hierdie voorregte deel. Daarom beloof hy: “Die een wat oorwin . . . ek sal op hom . . . my nuwe naam [skryf].”—Openbaring 3:12.
9. Wat word aangedui deur die feit dat (a) Jesus ‘geklee is in ’n bokleed wat met bloed besprinkel is’? (b) Jesus “Die Woord van God” genoem word?
9 Johannes voeg by: “En hy is geklee in ’n bokleed wat met bloed besprinkel is, en sy naam is: Die Woord van God” (Openbaring 19:13). Wie se “bloed” is dit? Dit kan Jesus se lewensbloed wees, wat ten behoewe van die mensdom vergiet is (Openbaring 1:5). Maar in hierdie verband verwys dit meer waarskynlik na die bloed van sy vyande wat vergiet word wanneer Jehovah se oordele aan hulle voltrek word. Dit laat ons dink aan die vroeëre visioen waarin die wingerdstok van die aarde geoes en in die groot wynpers van die toorn van God getrap word totdat die bloed “tot aan die tooms van die perde” kom—’n afbeelding van ’n groot oorwinning oor God se vyande (Openbaring 14:18-20). Die bloed waarmee Jesus se bokleed besprinkel is, bevestig ook dat sy oorwinning beslissend en volkome is. (Vergelyk Jesaja 63:1-6.) Nou sê Johannes weer dat Jesus by ’n naam genoem word. Hierdie keer is dit ’n alombekende naam—“Die Woord van God”—wat hierdie Stryder-Koning as Jehovah se Vernaamste Woordvoerder en Voorstander van die waarheid identifiseer.—Johannes 1:1; Openbaring 1:1.
Jesus se medestryders
10, 11. (a) Hoe toon Johannes dat Jesus nie alleen is in die stryd nie? (b) Wat word aangedui deur die feit dat die perde wit is en dat die ruiters geklee is in “wit, skoon, fyn linne”? (c) Wie maak die hemelse “leërs” uit?
10 Jesus voer hierdie stryd nie alleen nie. Johannes sê vir ons: “Ook het die leërs wat in die hemel was, hom op wit perde gevolg, en hulle was geklee in wit, skoon, fyn linne” (Openbaring 19:14). Die feit dat die perde “wit” is, dui op regverdige oorlogvoering. “Fyn linne” is gepas vir die Koning se ruiters, en die helder, skoon witheid daarvan dui ’n rein, regverdige posisie voor Jehovah aan. Wie maak dan hierdie “leërs” uit? Dit sluit ongetwyfeld die heilige engele in. Vroeg in die dag van die Here het Migael en sy engele Satan en sy demone uit die hemel gewerp (Openbaring 12:7-9). Verder sal “al die engele” Jesus bedien terwyl hy op sy glorieryke troon sit en die nasies en bewoners van die aarde oordeel (Matteus 25:31, 32). In die beslissende oorlog, wanneer God se oordele finaal voltrek word, sal Jesus sekerlik weer deur sy engele vergesel word.
11 Ander sal ook hierby betrokke wees. Toe Jesus sy boodskap aan die gemeente in Tiatira gestuur het, het hy beloof: “Aan hom wat oorwin en my dade tot die einde toe onderhou, sal ek gesag oor die nasies gee, en hy sal met ’n ysterstaf as herder teenoor die mense optree, sodat hulle soos kleivoorwerpe verbrysel sal word, net soos ek van my Vader ontvang het” (Openbaring 2:26, 27). Wanneer die tyd aanbreek, sal die broers van Christus wat reeds in die hemel is, ongetwyfeld ’n aandeel daaraan hê om met hierdie ysterstaf as herders teenoor mense en nasies op te tree.
12. (a) Sal God se knegte op die aarde aan die stryd by Armageddon deelneem? (b) Hoe is Jehovah se volk op die aarde by Armageddon betrokke?
12 Maar wat van God se knegte hier op die aarde? Die Johannes-klas sal nie daadwerklik aan die stryd by Armageddon deelneem nie; en ook nie hulle lojale metgeselle, die mense uit al die nasies wat na Jehovah se geestelike huis van aanbidding stroom nie. Hierdie vredeliewende mense het reeds van hulle swaarde ploegskare gesmee (Jesaja 2:2-4). En tog is hulle grootliks hierby betrokke! Soos ons reeds gesien het, is dit Jehovah se skynbaar weerlose volk wat venynig deur Gog en sy hele menigte aangeval word. Dit is die teken vir Jehovah se Stryder-Koning, ondersteun deur die leërs in die hemel, om ’n uitwissingsoorlog teen daardie nasies te begin voer. (Esegiël 39:6, 7, 11; vergelyk Daniël 11:44–12:1.) God se volk op die aarde sal, as toeskouers, baie hierin belangstel. Armageddon sal hulle redding beteken, en hulle sal vir ewig lewe as ooggetuies van Jehovah se groot oorlog van regverdiging.
13. Hoe weet ons dat Jehovah se Getuies nie teen alle heerskappy is nie?
13 Beteken dit dat Jehovah se Getuies teen alle heerskappy is? Glad nie! Hulle gehoorsaam die apostel Paulus se raad: “Laat elke siel onderdanig wees aan die hoër owerhede.” Hulle besef dat hierdie “hoër owerhede”, solank die teenswoordige stelsel voortduur, met God se toestemming bestaan om ’n mate van orde in die mensegemeenskap te handhaaf. Jehovah se Getuies betaal dus hulle belasting, gehoorsaam die wette, respekteer verkeersreëls, laat hulle registreer, ensovoorts (Romeine 13:1, 6, 7). Verder lewe hulle Bybelbeginsels na deur waarheidliewend en eerlik te wees; naasteliefde te betoon; ’n sterk, sedelike gesin op te bou; en hulle kinders op te lei om voorbeeldige burgers te wees. Sodoende betaal hulle nie net ‘aan die keiser terug wat aan die keiser behoort nie, maar aan God wat aan God behoort’ (Lukas 20:25; 1 Petrus 2:13-17). Aangesien God se Woord toon dat die regeringsmagte van hierdie wêreld tydelik is, berei Jehovah se Getuies hulle nou voor vir die voller lewe, die werklike lewe, wat binnekort onder Christus se Koninkryksheerskappy geniet sal word (1 Timoteus 6:17-19). Hoewel hulle geen aandeel daaraan sal hê om die magte van hierdie wêreld omver te werp nie, het die Getuies eerbiedige ontsag vir wat God se geïnspireerde Woord, die Heilige Bybel, sê aangaande die oordeel wat Jehovah binnekort by Armageddon gaan voltrek.—Jesaja 26:20, 21; Hebreërs 12:28, 29.
Die finale stryd!
14. Wat word gesimboliseer deur die “skerp lang swaard” wat uit Jesus se mond kom?
14 Op watter gesag voltooi Jesus sy oorwinning? Johannes deel ons mee: “En uit sy mond kom ’n skerp lang swaard om die nasies mee te slaan, en hy sal met ’n ysterstaf as herder teenoor hulle optree” (Openbaring 19:15a). Hierdie “skerp lang swaard” stel Jesus se godgegewe gesag voor om te beveel dat almal wat weier om God se Koninkryk te ondersteun, tereggestel word (Openbaring 1:16; 2:16). Hierdie treffende simboliek stem ooreen met Jesaja se woorde: “Hy [Jehovah] het my mond soos ’n skerp swaard gemaak. In die skaduwee van sy hand het hy my weggesteek. En hy het my geleidelik ’n skerp pyl gemaak” (Jesaja 49:2). Hier het Jesaja Jesus voorafgeskadu, wat God se oordele bekend maak en voltrek, soos met ’n trefseker pyl.
15. Wie sal reeds op hierdie tydstip aan die kaak gestel en geoordeel wees, en waarvan dui dit die begin aan?
15 Op hierdie tydstip sal Jesus reeds ter vervulling van Paulus se woorde opgetree het: “Dan sal die wettelose inderdaad geopenbaar word, met wie die Here Jesus sal wegdoen deur die gees van sy mond en wat hy tot niet sal maak deur die openbaarwording van sy teenwoordigheid.” Ja, Jesus se teenwoordigheid (Grieks, pa·rou·siʹa) kan sedert 1914 gesien word aan die feit dat die mens van wetteloosheid, die geestelikes van die Christendom, aan die kaak gestel en geoordeel is. Hierdie teenwoordigheid sal treffend geopenbaar word wanneer die tien horings van die skarlakenkleurige wilde dier hierdie oordeel voltrek en die Christendom, tesame met die res van Babilon die Grote, verwoes (2 Tessalonisense 2:1-3, 8). Dit sal die begin van die groot verdrukking wees! Daarna sal Jesus aandag skenk aan wat van Satan se organisasie oorbly, ooreenkomstig die profesie: “Hy sal die aarde met die roede van sy mond slaan; en met die gees van sy lippe sal hy die goddelose doodmaak.”—Jesaja 11:4.
16. Hoe beskryf die Psalms en Jeremia die rol van Jehovah se aangestelde Stryder-Koning?
16 Die Stryder-Koning, wat deur Jehovah aangestel is, sal ’n onderskeid tref tussen dié wat behoue sal bly en dié wat sal sterf. Jehovah, wat profeties met hierdie Seun van God praat, sê: “Jy sal hulle [die aarde se heersers] met ’n ystersepter breek, asof hulle ’n pottebakkershouer is, sal jy hulle stukkend slaan.” En Jeremia rig die volgende woorde aan sulke verdorwe regeringsleiers en dié wat hulle slaafs volg: “Weeklaag, o herders, en skreeu! En rol rond, o vooraanstaandes van die kudde, want julle dae om geslag en verstrooi te word, is vervul, en julle sal val soos ’n begeerlike houer!” Hoe begeerlik hierdie heersers ook al vir ’n goddelose wêreld gelyk het, een hou van die Koning se ystersepter sal hulle verpletter, asof ’n mooi houer stukkend geslaan word. Dit sal wees net soos Dawid aangaande die Here Jesus voorspel het: “Die staf van u sterkte sal Jehovah uit Sion stuur en sê: ‘Gaan oorwin te midde van jou vyande.’ Jehovah aan u regterhand sal beslis konings verpletter op die dag van sy toorn. Hy sal oordeel voltrek onder die nasies; hy sal ’n oorvloed van lyke veroorsaak.”—Psalm 2:9, 12; 83:17, 18; 110:1, 2, 5, 6; Jeremia 25:34.
17. (a) Hoe beskryf Johannes die teregstellingsoptrede van die Stryder-Koning? (b) Meld ’n paar profesieë wat toon hoe rampspoedig die dag van God se toorn vir die nasies sal wees.
17 Hierdie magtige Stryder-Koning verskyn weer in die volgende toneel van die visioen: “Hy trap ook die wynpers van die toorn van die gramskap van God die Almagtige” (Openbaring 19:15b). In ’n vorige visioen het Johannes reeds gesien hoe die “wynpers van die toorn van God” getrap word (Openbaring 14:18-20). Jesaja beskryf ook ’n teregstellingswynpers, en ander profete vertel hoe rampspoedig die dag van God se toorn vir al die nasies sal wees.—Jesaja 24:1-6; 63:1-4; Jeremia 25:30-33; Daniël 2:44; Sefanja 3:8; Sagaria 14:3, 12, 13; Openbaring 6:15-17.
18. Wat onthul die profeet Joël in verband met Jehovah se oordeel oor al die nasies?
18 Die profeet Joël assosieer ’n wynpers met Jehovah se koms om “al die nasies rondom te oordeel”. En dit is Jehovah wat die bevel gee, ongetwyfeld aan Sy mede-Regter, Jesus, en sy hemelse leërs: “Steek ’n sekel in, want die oes het ryp geword. Kom, daal neer, want die wynpers het vol geword. Die parskuipe loop oor; want hulle slegtheid het oorvloedig geword. Menigtes, menigtes is in die laagvlakte van die beslissing, want die dag van Jehovah is naby in die laagvlakte van die beslissing. Die son en die maan sal beslis donker word, en die sterre sal hulle glans intrek. En uit Sion sal Jehovah brul, en uit Jerusalem sal hy sy stem laat hoor. En hemel en aarde sal beslis bewe; maar Jehovah sal ’n toevlug vir sy volk wees en ’n vesting vir die kinders van Israel. En julle sal moet weet dat ek Jehovah julle God is.”—Joël 3:12-17.
19. (a) Hoe sal die vraag in 1 Petrus 4:17 beantwoord word? (b) Watter naam is op Jesus se bokleed geskryf, en waarom sal dit gepas wees?
19 Dit sal inderdaad ’n dag van onheil wees vir ongehoorsame nasies en mense, maar ’n dag van verligting vir almal wat Jehovah en sy Stryder-Koning hulle toevlug gemaak het! (2 Tessalonisense 1:6-9). Die oordeel wat in 1918 by die huis van God begin het, sal sy klimaks bereik het en ’n antwoord verskaf het op die vraag in 1 Petrus 4:17: “Wat sal die einde wees van dié wat nie aan die goeie nuus van God gehoorsaam is nie?” Die glorieryke Oorwinnaar sal die wynpers klaar getrap het en sodoende bewys het dat hy die Verhewene is van wie Johannes sê: “En op sy bokleed, ja, op sy dy, het hy ’n naam wat geskryf is: Koning van die konings en Here van die here” (Openbaring 19:16). Hy het bewys dat hy oneindig magtiger is as enige aardse heerser, enige menslike koning of heer. Sy waardigheid en prag is allesoortreffend. Hy het gery “ter wille van waarheid en nederigheid en regverdigheid” en het vir altyd geseëvier! (Psalm 45:4). Op sy bloedbesprinkelde klere is die naam geskryf wat aan hom verleen is deur die Soewereine Heer Jehovah, vir wie hy as Regverdiger optree!
Die groot aandmaal van God
20. Hoe beskryf Johannes “die groot aandmaal van God”, en aan watter vroeëre, maar soortgelyke, profesie laat dit ons dink?
20 In Esegiël se visioen word die voëls en die wilde diere ná die vernietiging van Gog se menigte na ’n fees genooi! Hulle verwyder die karkasse uit die landskap deur die lyke van Jehovah se vyande te eet (Esegiël 39:11, 17-20). Johannes se volgende woorde laat ons dadelik aan hierdie vroeëre profesie dink: “Ek het ook ’n engel in die son sien staan, en hy het met ’n harde stem uitgeroep en vir al die voëls wat in die middel van die hemel vlieg, gesê: ‘Kom hier, kom bymekaar vir die groot aandmaal van God, sodat julle die vlesige dele van konings en die vlesige dele van militêre bevelvoerders en die vlesige dele van sterk manne en die vlesige dele van perde en van dié wat op hulle sit, en die vlesige dele van almal, van vrygeborenes sowel as van slawe en van klein en groot, kan eet.’”—Openbaring 19:17, 18.
21. Wat word aangedui deur (a) die feit dat die engel ‘in die son staan’? (b) die feit dat die dooies bo-op die grond gelaat word? (c) die lys van dié wie se lyke op die grond gelaat sal word? (d) die uitdrukking “die groot aandmaal van God”?
21 Die engel ‘staan in die son’, ’n strategiese posisie om die aandag van die voëls te trek. Hy nooi hulle om gereed te wees om die vlees te verslind van dié wat binnekort deur die Stryder-Koning en sy hemelse leërs verslaan sal word. Die feit dat die dooies bo-op die grond gelaat sal word, toon dat hulle in openbare skande sal sterf. Soos eertydse Isebel sal hulle nie ’n eervolle begrafnis hê nie (2 Konings 9:36, 37). Die lys van dié wie se lyke daar gelaat sal word, toon die omvang van die vernietiging: konings, militêre bevelvoerders, sterk manne, vrygeborenes en slawe. Geen uitsonderings nie. Elke spoor van die opstandige wêreld wat Jehovah teëstaan, sal verwyder word. Hierna sal daar nie meer ’n rustelose see van verwarde mense wees nie (Openbaring 21:1). Dit is “die groot aandmaal van God”, aangesien dit Jehovah is wat die voëls daarheen nooi.
22. Hoe som Johannes die verloop van die finale oorlog op?
22 Johannes som die verloop van die finale oorlog op: “En ek het die wilde dier en die konings van die aarde en hulle leërs versamel gesien om die oorlog te voer teen die een wat op die perd sit en teen sy leër. En die wilde dier is gevang, en saam met hom die valse profeet wat voor hom die tekens gedoen het waarmee hy dié mislei het wat die merk van die wilde dier ontvang het en dié wat sy beeld aanbid. Hulle is albei lewend in die vuurpoel geslinger wat met swael brand. Maar die res is gedood met die lang swaard wat uitgaan uit die mond van die een wat op die perd sit. En al die voëls het versadig geword met hulle vlesige dele.”—Openbaring 19:19-21.
23. (a) In watter sin word “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by “Armageddon” gevoer? (b) Watter waarskuwing het “die konings van die aarde” verontagsaam, en met watter gevolg?
23 Nadat die sesde bak van Jehovah se gramskap uitgegooi is, het Johannes gesê dat “die konings van die aarde en die hele wêreld” deur demoniese propaganda versamel word na “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”. Dit word gevoer by Armageddon—nie ’n letterlike plek nie, maar die wêreldwye situasie wat die voltrekking van Jehovah se oordeel vereis (Openbaring 16:12, 14, 16, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Nou sien Johannes die gevegslinie. Daar, teen God opgestel, is al “die konings van die aarde en hulle leërs”. Hulle het hardnekkig geweier om hulle aan Jehovah se Koning te onderwerp. Hy het hulle ’n billike waarskuwing gegee in die geïnspireerde boodskap: “Kus die seun, sodat [Jehovah] nie vertoornd word en julle van die weg vergaan nie.” Omdat hulle hulle nie aan Christus se heerskappy onderwerp het nie, moet hulle sterf.—Psalm 2:12.
24. (a) Watter oordeel word aan die wilde dier en die valse profeet voltrek, en in watter sin is hulle “lewend”? (b) Waarom moet “die poel van vuur” figuurlik wees?
24 Die wilde dier met die sewe koppe en tien horings wat uit die see gekom het en Satan se politieke organisasie voorstel, word vir ewig verdelg, en saam met hom die valse profeet, die sewende wêreldmoondheid (Openbaring 13:1, 11-13; 16:13). Terwyl hulle nog “lewend” is, of nog funksioneer in hulle eendragtige teenstand teen God se volk op die aarde, word hulle in “die poel van vuur” gewerp. Is dit ’n letterlike poel van vuur? Nee, net so min as wat die wilde dier en die valse profeet letterlike diere is. Dit is eerder ’n simbool van algehele, finale vernietiging, ’n plek waaruit daar geen terugkeer is nie. Later sal die dood en Hades, sowel as die Duiwel self, hierin gegooi word (Openbaring 20:10, 14). Dit is beslis nie ’n inferno van ewige pyniging vir die goddeloses nie, aangesien die blote gedagte aan so ’n plek vir Jehovah verfoeilik is.—Jeremia 19:5; 32:35; 1 Johannes 4:8, 16.
25. (a) Wie word “gedood met die lang swaard . . . van die een wat op die perd sit”? (b) Moet ons verwag dat enige van dié wat “gedood” word, ’n opstanding sal kry?
25 Alle ander wat nie regstreeks deel van ’n regering uitgemaak het nie, maar wat nietemin ’n onhervormbare deel van hierdie verdorwe mensewêreld was, word ook “gedood met die lang swaard . . . van die een wat op die perd sit”. Jesus sal verklaar dat hulle die dood verdien. Moet ons verwag dat hulle ’n opstanding sal kry, aangesien die poel van vuur nie in hulle geval gemeld word nie? Ons word nêrens meegedeel dat dié wat op hierdie tyd deur Jehovah se Regter tereggestel word, opgewek sal word nie. Soos Jesus self gesê het, almal wat nie “skape” is nie, sal weggaan “die ewige vuur in wat vir die Duiwel en sy engele berei is”, dit wil sê “die ewige vernietiging in” (Matteus 25:33, 41, 46). Dit is die klimaks van “die dag van die oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense”.—2 Petrus 3:7; Nahum 1:2, 7-9; Maleagi 4:1.
26. Beskryf kortliks die uitslag van Armageddon.
26 So kom Satan se hele aardse organisasie aan sy einde. Die “vorige hemel” van politieke heerskappy het verbygegaan. Die “aarde”, die skynbaar permanente stelsel wat Satan deur die eeue heen opgebou het, is nou geheel en al vernietig. Die “see”, die goddelose mensemassa wat Jehovah teëstaan, bestaan nie meer nie (Openbaring 21:1; 2 Petrus 3:10). Maar wat gaan Jehovah met Satan doen? Johannes vertel ons vervolgens.