Vrae wat belangstellendes dikwels stel
Sekere vrae word meer as ander gestel. ’n Paar van hulle word hier bespreek.
As God liefde is, waarom laat hy goddeloosheid toe?
God laat wel goddeloosheid toe, en miljoene op aarde bedryf dit willens en wetens. Hulle verklaar byvoorbeeld oorloë, werp bomme op kinders, verskroei die aarde en veroorsaak hongersnode. Miljoene rook en kry longkanker, maak hulle skuldig aan owerspel en kry seksueel oordraagbare siektes, drink te veel sterk drank en kry lewerskrompeling, ensovoorts. Sulke mense wil nie werklik ’n einde aan alle goddeloosheid sien nie. Hulle wil net hê dat die straf daarvoor opgehef moet word. Wanneer hulle maai wat hulle gesaai het, roep hulle uit: “Waarom ek?” En hulle beskuldig God, soosSpreuke 19:3 sê: “’n Mens se sotheid bederwe sy weg, maar sy hart is vertoorn op die HERE.” En as God ’n einde aan hulle goddeloosheid gemaak het, sou hulle geprotesteer het omdat hulle nie meer die vryheid het om dit te doen nie!
Die hoofrede waarom Jehovah boosheid toelaat, is om ’n antwoord op Satan se aantyging te voorsien. Satan die Duiwel het gesê dat God nie mense op die aarde kan sit wat tydens beproewing aan Hom getrou sou bly nie (Job 1:6-12; 2:1-10). Jehovah laat Satan toe om voort te bestaan sodat hy ’n geleentheid kan hê om sy aantyging te staaf. (Vergelyk Exodus 9:16.) Satan gaan voort om nou wee te veroorsaak en om mense van God weg te keer terwyl hy probeer om sy aantyging te staaf (Openbaring 12:12). Maar Job het sy onkreukbaarheid behou. Jesus het. Ware Christene doen dit nou.—Job 27:5; 31:6; Mattheüs 4:1-11; 1 Petrus 1:6, 7.
Ek sou graag wou glo aan ’n aardse paradys waar mense vir ewig lewe. Maar is dit nie te goed om te glo nie?
Nie volgens die Bybel nie. Dit klink net te goed om te glo omdat die mensdom die kwaad al soveel eeue lank ken. Jehovah het die aarde geskape en die mensdom beveel om dit met regverdige manne en vroue te vul wat na die plante- en dierelewe daarop sou omsien en die skoonheid daarvan sou bewaar in plaas van skend. (Kyk bladsye 12 en 17.) Daardie beloofde paradys is nie te goed om te glo nie. Die teenswoordige droewige toestand is eerder te sleg om voort te duur. Dit gaan deur die paradys vervang word.
Geloof in hierdie beloftes is nie liggelowigheid nie. “Die geloof is . . . uit die gehoor.” As God se Woord bestudeer word, word die wysheid daarvan duidelik en neem geloof toe.—Romeine 10:17; Hebreërs 11:1.
Hoe kan ek mense antwoord wat spot en sê dat die Bybel ’n mite en onwetenskaplik is?
Bybelse argeologie bevestig ’n groot deel van die Bybel se geskiedkundige akkuraatheid. Die ware wetenskap strook met die Bybel. Die volgende feite was in die Bybel lank voordat sekulêre geleerdes dit ontdek het: die volgorde van die stadiums van die aarde tydens sy ontwikkeling, dat die aarde rond is, dat dit aan niks in die ruimte hang nie en dat voëls migreer.—Genesis hfst. 1; Jesaja 40:22; Job 26:7; Jeremia 8:7.
Vervulde profesieë toon dat die Bybel geïnspireer is. Daniël het vooraf die opkoms en ondergang van wêreldmoondhede asook die tyd wanneer die Messias sou kom en om die lewe gebring sou word, voorspel (Daniël hfste. 2 en 8; 9:24-27). Vandag word nog profesieë vervul, en dit identifiseer ons tyd as “die laaste dae” (Mattheüs hfst. 24; 2 Timotheüs 3:1-5). Dit is onmoontlik vir mense om sulke voorkennis te hê (Jesaja 41:23). Kyk die Wagtoringgenootskap se boeke Is die Bybel werklik die Woord van God? en Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? vir meer bewyse.
Hoe kan ek my bekwaam om Bybelvrae te beantwoord?
Jy moet die Bybel bestudeer en daaroor peins, en terselfdertyd God se gees vra om jou te lei (Spreuke 15:28; Lukas 11:9-13). “As iemand van julle wysheid kortkom,” sê die Bybel, “laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word” (Jakobus 1:5). Daar is ook Bybelstudiehulpe wat geraadpleeg kan word. ’n Mens het gewoonlik ander se hulp nodig, soos toe Filippus saam met die Ethiopiër gestudeer het (Handelinge 8:26-35). Jehovah se Getuies hou Bybelstudies gratis saam met belangstellendes in hulle huise. Dit staan jou vry om hierdie diens aan te vra.
Waarom staan baie mense Jehovah se Getuies teë en raai hulle my af om saam met hulle te studeer?
Jesus se prediking is teëgestaan, en hy het gesê dat sy volgelinge ook teëgestaan sou word. Toe sommige deur Jesus se leer beïndruk is, het godsdiensteenstanders skerp geantwoord: “Julle is tog nie ook mislei nie? Het iemand uit die owerstes in Hom geglo, of uit die Fariseërs?” (Johannes 7:46-48; 15:20). Baie wat jou afraai om saam met die Getuies te studeer, is òf oningelig òf bevooroordeeld. Studeer saam met die Getuies en kyk self of jou begrip van die Bybel verbeter of nie.—Mattheüs 7:17-20.
Waarom besoek die Getuies mense wat hulle eie godsdiens het?
Hulle volg Jesus se voorbeeld wanneer hulle dit doen. Hy het na die Jode gegaan. Die Jode het hulle eie godsdiens gehad, maar dit was in baie opsigte nie meer getrou aan die Woord van God nie (Mattheüs 15:1-9). Alle nasies het een of ander soort godsdiens, hetsy sogenaamd Christelik of nie-Christelik. Dit is lewensnoodsaaklik dat mense se oortuigings met God se Woord ooreenkom, en die Getuies se poging om hulle hiermee te help, is ’n blyk van naasteliefde.
Glo die Getuies dat hulle godsdiens die enigste regte een is?
Enigiemand wat sy godsdiens ernstig opneem, behoort te dink dat dit die regte een is. Waarom sou hy of sy dit dan andersins beoefen? Christene word vermaan: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21). ’n Persoon moet seker maak dat sy oortuigings deur die Skrif gesteun kan word, want daar is slegs een ware geloof.Efesiërs 4:5 beaam dit waar dit praat van “een Here, een geloof, een doop”. Jesus het nie saamgestem met die hedendaagse, vrysinnige beskouing dat daar baie weë, baie godsdienste, is wat almal na redding lei nie. Hy het eerder gesê: “Die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.” Jehovah se Getuies meen dat hulle dit gevind het. Anders sou hulle na ’n ander godsdiens soek.—Mattheüs 7:14.
Glo hulle dat net hulle gered sal word?
Nee. Miljoene der miljoene wat in vergange eeue gelewe het en wat nie getuies van Jehovah was nie, sal in ’n opstanding terugkom en die geleentheid kry om te lewe. Baie wat nou lewe, sal nog hulle standpunt vir die waarheid en geregtigheid inneem voor die “groot verdrukking” begin, en hulle sal gered word. Jesus het daarbenewens gesê dat ons mekaar nie moet oordeel nie. Ons kyk na die uiterlike; God kyk na die hart. Hy sien akkuraat en oordeel barmhartig. Hy het die oordeel aan Jesus gegee, nie aan ons nie.—Mattheüs 7:1-5; 24:21.
Watter geldelike bydraes word verwag van diegene wat die vergaderinge van Jehovah se Getuies bywoon?
Aangaande geldelike bydraes het die apostel Paulus gesê: “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief” (2 Korinthiërs 9:7). By die Koninkryksale en byeenkomssale van Jehovah se Getuies word daar nooit kollektes gehou nie. Bussies word op plekke gesit waar dit vir enigiemand wat ’n bydrae wil gee gerieflik is om dit te doen. Niemand weet wat ander gee nie. Sommige kan meer as ander gee; sommige kan dalk niks gee nie. Jesus het getoon wat die regte beskouing is toe hy kommentaar gelewer het oor die skatkis by die tempel in Jerusalem en diegene wat bydraes gee: dit is ’n mens se vermoë om te gee en die gees waarin daar gegee word wat tel, nie die bedrag nie.—Lukas 21:1-4.
Sal daar van my verwag word om te preek as ek een van Jehovah se Getuies word?
Wanneer ’n mens vervul word met die kennis van die beloofde aardse paradys onder Christus se Koninkryk wil jy dit aan ander vertel. Jý sal dit ook wil doen. Dit is goeie nuus!—Handelinge 5:41, 42.
Dit is ’n belangrike manier om te toon dat jy ’n dissipel van Jesus Christus is. In die Bybel word Jesus “die getroue en waaragtige Getuie” genoem. Toe hy op aarde was, het hy gepreek en gesê: “Die koninkryk van die hemele het naby gekom”, en hy het sy dissipels uitgestuur om dieselfde te doen (Openbaring 3:14; Mattheüs 4:17; 10:7). Later het Jesus sy volgelinge beveel: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies . . . en leer hulle.” Hy het ook voorspel dat ‘hierdie evangelie van die koninkryk in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies verkondig sou word’ voordat die einde kom.—Mattheüs 28:19, 20; 24:14.
Daar is baie maniere om hierdie goeie nuus te verkondig. Gesprekke met vriende en kennisse bied dikwels die geleentheid om dit te doen. Party doen dit deur briewe te skryf of die telefoon te gebruik. Ander pos lektuur wat materiaal bevat waarin hulle meen een van hulle kennisse besonder belang sal stel. Omdat hulle niemand wil oorslaan nie, gaan die Getuies van huis tot huis met die boodskap. Jy wil dalk een van hulle vergesel.
Die Bybel bevat hierdie hartlike uitnodiging: “Die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Openbaring 22:17). Die taak om vir ander van die paradysaarde en die seëninge daarvan te vertel, is iets wat gewillig gedoen moet word, uit ’n hart gevul met ’n begeerte om hierdie goeie nuus aan ander te bring.
Ons is seker dat jy ander vrae oor Jehovah se Getuies en hulle oortuigings het. Sommige daarvan is moontlik omstrede. Ons wil hulle graag beantwoord. Die ruimte in hierdie brosjure is beperk; daarom nooi ons jou om hulle aan die plaaslike Getuies te stel, hetsy by hulle vergaderinge by die Koninkryksaal of wanneer hulle jou tuis besoek. Of jy kan jou vrae aan die naaste takkantoor van die Wagtoringgenootskap stuur. Kyk die lys hieronder.