Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • si bl. 91-94
  • Bybelboek nommer 17—Ester

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bybelboek nommer 17—Ester
  • “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • INHOUD VAN ESTER
  • WAAROM NUTTIG
  • Mordegai en Ester
    My boek met Bybelverhale
  • Sy het verstandig, moedig en onselfsugtig opgetree
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Glanspunte uit die boek Ester
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Sy het verstandig, moedig en onselfsugtig opgetree
    Volg hulle geloof na
Sien nog
“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
si bl. 91-94

Bybelboek nommer 17—Ester

Skrywer: Mordegai

Waar geskryf: Susan, Elam

Geskrif voltooi: ca. 475 v.G.J.

Beskrewe tydperk: 493–ca. 475 v.G.J.

1. Watter verhaal ontvou hom in die boek Ester?

KORTOM, ons het hier die verhaal van Ahasveros, koning van Persië, wat sommige meen Xerxes I was, wie se ongehoorsame vrou Vasti deur die Jodin Ester, die niggie van Mordegai, vervang word. Haman, die Agagiet, beraam die dood van Mordegai en al die Jode, maar hy word aan sy eie galg gehang terwyl Mordegai tot eerste minister bevorder en die Jode verlos word.

2. (a) Waarom het sommige die inspirasie van die boek Ester betwis? (b) In watter vorm word God se naam blykbaar in die boek Ester gebruik?

2 Daar is natuurlik diegene wat wil beweer dat die boek Ester nie geïnspireerd of nuttig is nie maar bloot ’n pragtige legende is. Hulle baseer hulle bewering op die afwesigheid van God se naam. Hoewel dit so is dat God nie regstreeks gemeld word nie, is daar blykbaar in die Hebreeuse teks vier gevalle waar ’n akrostigon van die Tetragrammaton voorkom, die beginletters van vier opeenvolgende woorde wat JHWH (Hebreeus, יהוה), of Jehovah, vorm. Hierdie beginletters word in ten minste drie ou Hebreeuse manuskripte besonder opvallend gemaak en word ook in die Masora deur rooi letters aangedui. Boonop is daar in Ester 7:5 blykbaar ’n akrostigon van die goddelike verklaring: “Ek sal blyk te wees.”—Kyk voetnote in NW-naslaanuitgawe oor Ester 1:20; 5:4, 13; 7:7, asook 7:5.

3. Watter gebeurtenisse dui op geloof in en gebed tot God, en watter gebeurtenisse dui op God se bestiering van sake?

3 Dwarsdeur die verslag is dit baie duidelik dat Mordegai die wet van Jehovah aanvaar sowel as gehoorsaam het. Hy het geweier om neer te buig om ’n man te eer wat waarskynlik ’n Amalekiet was; God het die Amalekiete vir uitwissing bestem (Est. 3:1, 5; Deut. 25:19; 1 Sam. 15:3). Mordegai se woorde in Ester 4:14 toon dat hy bevryding van Jehovah verwag het en dat hy geloof in die goddelike bestiering van die hele verloop van gebeurtenisse gestel het. Die feit dat Ester, sowel as die ander Jode, drie dae gevas het voor sy na die koning gegaan het, openbaar vertroue in God (Est. 4:16). Dat Ester guns in die oë van Hegai, die bewaker van die vroue, gevind het en dat die koning nie kon slaap die nag toe hy die amptelike verslae gevra het en gevind het dat daar nie aan Mordegai eer bewys is vir sy vroeëre goeie daad nie, dui ook op God se bestiering van gebeurtenisse. (Est. 2:8, 9; 6:1-3; vergelyk Spreuke 21:1.) Die woorde “die voorskrifte aangaande die vastyd en die . . . weeklag [“hulpgeroep”, NW]” verwys ongetwyfeld na gebed.—Est. 9:31.

4. Wat bewys dat die boek Ester eg en feitelik is?

4 Baie feite bewys dat die verslag eg en feitelik is. Dit is deur die Joodse volk aanvaar, wat die boek eenvoudig Meghil·lahʹ genoem het, wat “rol; boekrol” beteken. Dit is blykbaar deur Esra, wat beslis ’n fabel sou verwerp het, in die Hebreeuse kanon opgeneem. Vandag nog hou die Jode die Purimfees, of Lotfees, ter viering van die groot bevryding in Ester se tyd. Die boek gee ’n lewendige beskrywing van Persiese maniere en gebruike wat in harmonie is met die bekende geskiedenisfeite en argeologiese vondste. Die boek Ester gee byvoorbeeld ’n akkurate beskrywing van die manier waarop die Perse ’n man geëer het (6:8). Argeologiese opgrawings het aan die lig gebring dat die beskrywings van die koning se paleis in die boek Ester tot in die fynste besonderhede juis is.a—5:1, 2.

5. Watter juistheid gee die verslag van Ester ’n tint van egtheid, en by watter tydperk pas die taal?

5 Hierdie juistheid word ook in die verslag self opgemerk, soos in die noukeurige vermelding van hofbeamptes en -dienaars en waar dit selfs die name van Haman se tien seuns noem. Mordegai en Ester se geslagslyn word teruggevoer tot Kis van die stam van Benjamin (2:5-7). Daar word verskeie kere na die amptelike verslae van die Persiese regering verwys (2:23; 6:1; 10:2). Die taal van die boek is Laathebreeus, waarby talle Persiese en Aramese woorde en uitdrukkings gevoeg is, ’n styl wat ooreenkom met dié van Kronieke, Esra en Nehemia en dus heeltemal pas by die tydperk waarin dit geskryf is.

6. (a) Watter tydperk word vir die boek Ester aangegee? (b) Waarop dui die getuienis met betrekking tot die skrywer, asook waar en wanneer dit geskryf is?

6 Daar word gemeen dat die gebeure van Ester hulle afgespeel het in die dae toe die magtige Persiese ryk op sy hoogtepunt was en dat dit nagenoeg 18 jaar van die regering van Ahasveros (Xerxes I) dek. Die tydperk, wat tot omstreeks 475 v.G.J. strek, word aan die hand van getuienis van Griekse, Persiese en Babiloniese bronne bepaal.b Mordegai, ’n ooggetuie en ’n hoofkarakter in die verslag, was heel waarskynlik die skrywer van die boek; die intieme en gedetailleerde verslag toon dat die skrywer hierdie gebeure in die paleis Susan moes belewe het.c Hoewel Mordegai nie in enige ander Bybelboek gemeld word nie, bestaan daar geen twyfel dat hy werklik ’n historiese figuur is nie. Dit is interessant dat ’n ongedateerde spykerskrifteks gevind is wat, volgens A. Ungnad van Duitsland, van Mardoeka (Mordegai?) as ’n hoë beampte aan die hof van Susa (Susan) gedurende die regering van Xerxes I praat.d Dit was ongetwyfeld daar in Susan dat Mordegai die verslag oor die gebeure in Ester voltooi het onmiddellik na hulle plaasgevind het, dit wil sê, omstreeks 475 v.G.J.

INHOUD VAN ESTER

7. Watter krisis ontstaan by Ahasveros se feesmaal, en wat doen die koning gevolglik?

7 Koningin Vasti afgesit (1:1-22). Dit is die derde jaar van die regering van Ahasveros. Hy hou ’n groot feesmaal vir die beamptes van sy ryk waartydens hy hulle 180 dae lank die rykdom en heerlikheid van sy koninkryk toon. Dan is daar ’n groot sewedaagse fees vir al die mense in Susan. Terselfdertyd hou koningin Vasti ’n feesmaal vir die vroue. Die koning spog met sy rykdom en heerlikheid en, vrolik van die wyn, ontbied hy Vasti om haar skoonheid aan die volk en die vorste te toon. Koningin Vasti bly weier. Op raad van hofbeamptes, wat daarop wys dat hierdie slegte voorbeeld dwarsdeur die ryk afbreuk aan die koning se aansien kan doen, onthef Ahasveros Vasti van haar amp as koningin en stuur hy briewe uit wat al die vrouens maan om “aan hulle manne eer [te] bewys” en elke man om altyd “in sy huis baas [te] wees”.—1:20, 22.

8. (a) Watter gebeure lei daartoe dat Ester koningin word? (b) Watter komplot word deur Mordegai blootgelê, en watter aantekening word daarvan gemaak?

8 Ester word koningin (2:1-23). Later stel die koning beamptes aan om die mooiste maagde in al 127 provinsies van die ryk te soek en hulle na Susan te bring, waar hulle deur skoonheidsbehandeling gereedgemaak sal word om aan die koning voorgestel te word. Ester is een van die gekose jong vroue. Ester is ’n Joodse weeskind, “skoon van gestalte en mooi van aansien”, wat deur haar neef Mordegai, ’n beampte in Susan, grootgemaak is (2:7). Ester se Joodse naam, Hadassa, beteken “Mirt”. Hegai, die bewaker van die vroue, is ingenome met Ester en gee haar spesiale behandeling. Niemand weet dat sy ’n Jodin is nie, want Mordegai het haar aangesê om dit geheim te hou. Die jong vroue word een vir een na die koning gebring. Hy kies Ester as sy nuwe koningin, en ’n feesmaal word gehou om haar kroning te vier. Kort hierna hoor Mordegai van ’n sameswering om die koning te vermoor en hy laat Ester die koning hiervan “uit naam van Mordegai” in kennis stel (2:22). Die komplot word blootgelê, die samesweerders word opgehang en ’n aantekening word in die koninklike annale gemaak.

9. Hoe maak Mordegai Haman kwaad, en watter koninklike bevel verkry laasgenoemde teen die Jode?

9 Haman se komplot (3:1–5:14). Ongeveer vier jaar verstryk. Haman, blykbaar ’n afstammeling van die Amalekitiese koning Agag wat deur Samuel gedood is, word eerste minister (1 Sam. 15:33). Die koning verhoog hom en beveel al sy dienaars in die koning se poort om voor Haman te buig. Dit sluit Mordegai in. Mordegai weier egter om dit te doen en vertel die koning se dienaars dat hy ’n Jood is. (Vergelyk Exodus 17:14, 16.) Haman is vervul met woede en wanneer hy uitvind dat Mordegai ’n Jood is, sien hy hierin ’n uitstekende geleentheid om eens en vir altyd van Mordegai en al die Jode ontslae te raak. Die lot (pur) word gewerp om ’n goeie dag vas te stel vir die uitwissing van die Jode. Haman gebruik sy gunstige posisie voor die koning en beskuldig die Jode van wetteloosheid en vra dat daar skriftelik opdrag gegee word dat hulle verdelg word. Haman bied aan om 10 000 talente silwer (gelyk aan nagenoeg R171 756 000) by te dra om die slagting te finansier. Die koning stem in, en geskrewe bevele, wat met die koning se ring verseël is en bepaal dat die Jode op 13 Adar as ’n volk uitgeroei moet word, word na alle dele van die ryk gestuur.

10. Hoe tree Mordegai en Ester met geloof in Jehovah se mag op?

10 Wanneer hulle van die wet hoor, bedryf Mordegai en al die Jode rou in sak en as. Daar word ‘gevas en geween en gerouklaag’ (Est. 4:3). Wanneer Mordegai Ester van die Jode se benarde situasie vertel, huiwer sy aanvanklik om tussenbeide te kom. Om ongenooid voor die koning te verskyn, kan die dood tot gevolg hê. Mordegai lewer egter bewys van sy geloof in Jehovah se mag deur te sê dat as Ester hulle in die steek laat, sy in elk geval sal sterf en redding ‘van ’n ander kant af vir die Jode tot stand sal kom’. Het Ester bowendien nie dalk juis vir “’n tyd soos hierdie” koningin geword nie? (4:14). Sy besef wat op die spel staan en stem in om haar lewe te waag, en al die Jode in Susan vas drie dae vir haar.

11. Hoe gebruik Ester haar begunstigde posisie voor die koning, maar watter plan beraam Haman teen Mordegai?

11 Dan verskyn Ester in haar beste koninklike gewaad voor die koning. Sy vind genade in sy oë en hy steek sy goue septer na haar uit, wat haar lewe spaar. Sy nooi die koning en Haman nou na ’n feesmaal. Tydens die feesmaal dring die koning by haar aan dat sy haar versoek bekend maak en verseker hy haar dat dit tot “die helfte van die koninkryk” toegestaan sal word, waarop sy die twee na nog ’n feesmaal die volgende dag nooi (5:6). Haman gaan verheug weg. Maar daar sit Mordegai in die poort van die koning! Weer weier hy om Haman te eer of vir hom bevrees te wees. Haman se vreugde slaan oor in woede. Sy vrou en vriende stel voor dat hy ’n 50 el (22,3 meter) hoë galg bou en ’n bevel van die koning kry om Mordegai daaraan op te hang. Haman laat dadelik die galg bou.

12. Watter wending in gebeure lei daartoe dat Ahasveros, tot Haman se vernedering, aan Mordegai eer bewys?

12 Die bordjies word verhang (6:1–7:10). Daardie nag kan die koning nie slaap nie. Hy laat die kronieke haal en vir hom voorgelees word, en hy ontdek dat hy Mordegai nie beloon het toe dié sy lewe gered het nie. Later vra die koning wie in die voorhof is. Dit is Haman wat die koning se magtiging vir Mordegai se dood kom vra. Die koning vra Haman hoe iemand wat die koning behaag het eer bewys moet word. In die veronderstelling dat die koning hom in gedagte het, skets Haman ’n kwistige program van eerbetoon. Maar die koning beveel hom: “Doen so aan Mordegai, die Jood”! (6:10). Haman het geen ander keuse nie as om Mordegai met koninklike prag te klee, hom op die koning se perd te laat sit en hom oor die stadsplein te lei terwyl hy voor hom uitroep. Haman haas hom huis toe, vernederd en treurend. Sy vrou en vriende kan hom geen troos bied nie. Haman is gedoem!

13. Wat onthul Ester by die feesmaal, en die voltrekking van watter vonnis aan Haman het dit tot gevolg?

13 Dit is nou die tyd vir Haman om die feesmaal saam met die koning en Ester by te woon. Die koningin verklaar dat sy en haar volk verkoop is om uitgeroei te word. Wie het dit gewaag om hierdie goddeloosheid te bedryf? Ester sê: “Die teëstander en vyand is hierdie slegte Haman!” (7:6). Die koning staan woedend op en loop uit na die tuin. Haman, wat alleen by die koningin is, pleit om sy lewe, en die koning word nog woedender wanneer hy terugkeer en Haman op die koningin se rusbank sien. Hy beveel summier dat Haman opgehang word aan die einste galg wat Haman vir Mordegai laat bou het!—Ps. 7:17.

14. Hoe beloon die koning Ester en Mordegai, en met watter bevelskrif begunstig hy die Jode?

14 Mordegai kry bevordering en die Jode word verlos (8:1–10:3). Die koning gee Ester al Haman se besittings. Ester vertel Ahasveros van haar verwantskap aan Mordegai, wat deur die koning tot Haman se vorige posisie bevorder word en die koninklike seëlring gegee word. Ester waag weer eens haar lewe deur voor die koning te verskyn met die versoek dat die geskrewe bevel om die Jode te vernietig ongedaan gemaak word. “Die wette van die Perse en Meders” kan egter nie herroep word nie! (1:19). Maar die koning verleen Ester en Mordegai die gesag om ’n nuwe wet te skryf en dit met die koning se ring te verseël. Hierdie bevelskrif, wat net soos die vorige na al die dele van die ryk gestuur word, staan die Jode die reg toe om op dieselfde dag dat Haman se wet van krag word “bymekaar te kom en hulle lewe te verdedig, deur te verdelg en dood te maak en uit te roei elke gewapende mag van volk of provinsie wat hulle in benoudheid mag bring, saam met kindertjies en vroue, en hulle besittings as buit te plunder”.—8:11.

15. (a) Wat is die uitslag van die stryd, en watter fees stel Mordegai in? (b) Tot watter posisie word Mordegai verhoog, en waarvoor gebruik hy sy gesag?

15 Wanneer die vasgestelde dag, die 13de Adar, aanbreek, kan niemand voor die Jode standhou nie. Op Ester se versoek aan die koning word die stryd op die 14de dag in Susan voortgesit. Altesaam 75 000 van die Jode se vyande word dwarsdeur die ryk gedood. Nog 810 word in die paleis Susan gedood. Onder hulle is Haman se tien seuns, wat die eerste dag doodgemaak word en die tweede dag aan die galg opgehang word. Geen buit word geneem nie. Op die 15de Adar word daar gerus, en die Jode maak dit ’n dag van feesmaaltye en vrolikheid. Mordegai gee die Jode nou skriftelike instruksies om hierdie fees van “die Pur, dit is die lot”, elke jaar op die 14de en 15de Adar te hou, en hulle doen dit tot vandag toe (9:24). Mordegai word in die koninkryk verhoog en gebruik sy posisie as die vernaamste man naas koning Ahasveros ‘tot heil van sy volk en om tot welsyn van sy hele nageslag te spreek’.—10:3.

WAAROM NUTTIG

16. Watter goddelike beginsels en prysenswaardige voorbeelde is daar vir Christene in die boek Ester?

16 Hoewel geen ander Bybelskrywer regstreeks uit Ester aanhaal nie, is die boek in volkome harmonie met die res van die geïnspireerde Skrif. Trouens, dit verskaf ’n paar uitstekende illustrasies van Bybelbeginsels wat later in die Christelike Griekse Geskrifte gemeld word en wat vir Jehovah se aanbidders in alle eeue geld. ’n Ondersoek van die volgende gedeeltes sal nie net toon dat dit die geval is nie, maar sal ook ons Christelike geloof opbou: Ester 4:5—Filippense 2:4; Ester 9:22—Galasiërs 2:10. Die beskuldiging wat teen die Jode ingebring is dat hulle nie die koning se wette gehoorsaam nie, kom ooreen met die beskuldiging wat teen die vroeë Christene ingebring is (Est. 3:8, 9; Hand. 16:21; 25:7). Ware knegte van Jehovah weerlê sulke beskuldigings onbevrees en met gebedsvertroue in God se krag om te bevry, na die uitstekende voorbeeld van Mordegai, Ester en hulle mede-Jode.—Est. 4:16; 5:1, 2; 7:3-6; 8:3-6; 9:1, 2.

17. Hoe het Mordegai en Ester die regte voorbeeld gestel met betrekking tot hulle onderwerping aan God en “die hoër owerhede”?

17 As Christene moet ons nie dink dat ons situasie van dié van Mordegai en Ester verskil nie. Ons lewe ook onder “die hoër owerhede” in ’n vyandige wêreld. Ons wil wetsgehoorsame burgers wees in watter land ons ook al woon, maar ons wil terselfdertyd die regte balans vind tussen ons verpligting om ‘die keiser te betaal wat die keiser toekom en God wat God toekom’ (Rom. 13:1, NW; Luk. 20:25). Eerste minister Mordegai en koningin Ester het goeie voorbeelde van toegewydheid en gehoorsaamheid in hulle sekulêre pligte gestel (Est. 2:21-23; 6:2, 3, 10; 8:1, 2; 10:2). Mordegai het egter geweier om die koninklike bevel te gehoorsaam om voor die veragtelike Agagiet, Haman, neer te buig. Hy het boonop toegesien dat ’n versoek om ’n wetlike uitkoms gerig word toe Haman planne gesmee het om die Jode te vernietig.—3:1-4; 5:9; 4:6-8.

18. (a) Wat bewys dat die boek Ester ‘deur God geïnspireer en nuttig is’? (b) Hoe moedig dit die verdediging van God se Koninkryksbelange aan?

18 Al die getuienis dui daarop dat die boek Ester deel uitmaak van die Heilige Bybel, wat ‘deur God geïnspireer en nuttig is’. Selfs sonder om God of sy naam direk te meld, verskaf dit ons voortreflike voorbeelde van geloof. Mordegai en Ester was nie blote verdigsels van die een of ander verteller se verbeelding nie, maar was ware knegte van Jehovah God, persone wat onvoorwaardelike vertroue in Jehovah se reddingsvermoë gestel het. Hoewel hulle onder “hoër owerhede” in ’n vreemde land gewoon het, het hulle van elke wetlike middel gebruik gemaak om die belange van God se volk en hulle aanbidding te verdedig. Ons kan vandag hulle voorbeelde navolg “in die verdediging en [wetlike] bevestiging van die evangelie” van God se Koninkryk van bevryding.—Filip. 1:7, vgl. NW.

[Voetnote]

a Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 764; Dl. 2, bladsye 327-31.

b Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsye 613-16.

c McClintock en Strong se Cyclopedia, die herdruk van 1981, Dl. III, bladsy 310.

d A. Ungnad, “Keilinschriftliche Beiträge zum Buch Esra und Ester”, Zeitschrift für die alttestamentliche Wissenschaft, LVIII (1940-41), bladsye 240-4.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel