Studie nommer 6—Die Christelike Griekse teks van die Heilige Skrif
Die oorskrywing van die teks van die Griekse Geskrifte; hoe dit tot vandag in Grieks en ander tale oorgedra is; die betroubaarheid van die huidige teks.
1. Hoe het die Christelike opvoedkundige program op dreef gekom?
DIE vroeë Christene het die geskrewe ‘woord van Jehovah’ wêreldwyd aan ander geleer en verkondig. Hulle het Jesus se woorde net voor sy hemelvaart ernstig opgeneem: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Jes. 40:8; Hand. 1:8). Soos Jesus voorspel het, het die eerste 120 dissipels die heilige gees met sy energieverskaffende krag ontvang. Dit was op Pinksterdag, 33 G.J. Daardie selfde dag het Petrus die voortou in die nuwe opvoedkundige program geneem deur ’n deeglike getuienis te gee, met die gevolg dat baie die boodskap met blydskap aangeneem het en ongeveer 3 000 nuwelinge by die pas gestigte Christengemeente gevoeg is.—Hand. 2:14-42.
2. Watter goeie nuus is toe verkondig, en waarvan was hierdie getuieniswerk ’n bewys?
2 Hierdie dissipels van Jesus Christus is tot groter aksie as enige ander groep in die hele geskiedenis aangespoor en het ’n onderrigtingsprogram van stapel gestuur wat uiteindelik na elke uithoek van die destyds bekende wêreld uitgebrei het (Kol. 1:23). Ja, hierdie toegewyde getuies van Jehovah was gretig om hulle voete te gebruik en het van huis tot huis, van stad tot stad en van land tot land geloop terwyl hulle “die evangelie [“goeie nuus”, NW] van die goeie” verkondig (Rom. 10:15). Hierdie goeie nuus het oor Christus se losprysvoorsiening, die opstandingshoop en die beloofde Koninkryk van God gehandel (1 Kor. 15:1-3, 20-22, 50; Jak. 2:5). Nog nooit tevore is die mensdom so ’n getuienis aangaande onsigbare dinge gegee nie. Dit het ’n ‘bewys van die dinge wat nie gesien word nie’, ’n demonstrasie van geloof, geword vir die talle wat nou op grond van Jesus se offer Jehovah as hulle Soewereine Heer aanvaar het.—Hebr. 11:1; Hand. 4:24, NW; 1 Tim. 1:14-17.
3. Wat het die Christenbedienaars van die eerste eeu G.J. gekenmerk?
3 Hierdie Christenbedienaars, mans en vroue, was verligte bedienaars van God. Hulle kon lees en skryf. Hulle was geleerd in die Heilige Skrif. Hulle was mense wat ingelig was oor wêreldgebeure. Hulle was gewoond daaraan om te reis. Hulle was soos sprinkane deurdat hulle nie toegelaat het dat enige hindernis hulle voorwaartse momentum om die goeie nuus te versprei, stuit nie (Hand. 2:7-11, 41; Joël 2:7-11, 25). In die eerste eeu van die Gewone Jaartelling het hulle onder mense gewerk wat in talle opsigte baie eenders was as die mense van vandag.
4. Wat is in die dae van die vroeë Christengemeente onder Jehovah se inspirasie en leiding geskryf?
4 As progressiewe verkondigers van “die woord van die lewe” het die vroeë Christene alle Bybelrolle wat hulle kon kry goed benut (Filip. 2:15, 16; 2 Tim. 4:13). Vier van hulle, naamlik Mattheüs, Markus, Lukas en Johannes, is deur Jehovah geïnspireer om “die evangelie van Jesus Christus” op skrif te stel (Mark. 1:1; Matt. 1:1). Party van hulle, soos Petrus, Paulus, Johannes, Jakobus en Judas, het onder inspirasie briewe geskryf (2 Pet. 3:15, 16). Ander het kopiiste van hierdie geïnspireerde mededelings geword, wat tot almal se voordeel onder die toenemende aantal gemeentes uitgeruil is (Kol. 4:16). Daarbenewens het “die apostels en [ouere manne] in Jerusalem” onder die leiding van God se gees leerstellige besluite geneem, wat vir latere gebruik opgeteken is. Hierdie sentrale bestuursliggaam het ook briewe met instruksies aan die wydverspreide gemeentes gestuur (Hand. 5:29-32; 15:2, 6, 22-29, vgl. NW; 16:4). En hiervoor moes hulle hul eie posdiens instel.
5. (a) Wat is ’n kodeks? (b) In watter mate het die vroeë Christene die kodeks gebruik, en wat was die voordele daarvan?
5 Ten einde die Skrif vinniger te versprei en dit in ’n gerieflike vorm vir naslaanwerk beskikbaar te stel, het die vroeë Christene spoedig die kodeksvorm van manuskripte in plaas van boekrolle begin gebruik. Die kodeks se vorm is soortgelyk aan dié van die hedendaagse boek, waarvan die bladsye maklik omgeblaai kan word om ’n verwysing na te slaan, terwyl ’n boekrol dikwels heelwat afgerol moes word. Die kodeksvorm het dit ook moontlik gemaak om kanonieke geskrifte saam te bind, terwyl dié in boekrolvorm dikwels in aparte rolle gehou is. Die vroeë Christene was pioniers wat die gebruik van die kodeks betref. Dit is selfs moontlik dat hulle dit uitgevind het. Terwyl nie-Christelike skrywers maar traag was om die kodeks te begin gebruik, is die oorgrote meerderheid van die Christelike papiri van die tweede en derde eeu in kodeksvorm.a
6. (a) Wanneer was die tydperk van klassieke Grieks, wat het dit ingesluit, en wanneer het Koine, of gewone Grieks, ontwikkel? (b) Hoe en in watter mate het Koine in swang gekom?
6 Koine (gewone Grieks) as voertaal. Die sogenaamd klassieke tydperk van die Griekse taal het van die negende eeu v.G.J. tot die vierde eeu v.G.J. geduur. Dit was die tydperk van die Attiese en Ioniese dialek. Dit was gedurende hierdie tyd, en veral in die vyfde en vierde eeu v.G.J., dat baie Griekse dramaskrywers, digters, redenaars, historici, filosowe en wetenskaplikes gedy het, waarvan Homerus, Herodotus, Sokrates, Plato en ander beroemd geword het. Die tydperk van ongeveer die vierde eeu v.G.J. tot omstreeks die sesde eeu G.J. was die era van wat Koine, of gewone Grieks, genoem word. Die ontwikkeling daarvan was hoofsaaklik die gevolg van die militêre operasies van Alexander die Grote, wie se leër bestaan het uit soldate wat uit alle dele van Griekeland gekom het. Hulle het verskillende Griekse dialekte gepraat, en namate hierdie dialekte vermeng geraak het, het ’n gemeenskaplike dialek, Koine, ontstaan en in swang gekom. Alexander se verowering van Egipte en Asië, laasgenoemde tot by Indië, het Koine onder talle volke laat versprei, sodat dit die internasionale taal geword het, wat dit ook baie eeue lank gebly het. Die Griekse woordeskat van die Septuagint was die Koine van Alexandrië, Egipte, gedurende die derde en tweede eeu v.G.J.
7. (a) Hoe getuig die Bybel dat Koine in die tyd van Jesus en sy apostels gepraat is? (b) Waarom was Koine goed geskik vir die bekendmaking van God se Woord?
7 In die dae van Jesus en sy apostels was Koine die internasionale taal van die Romeinse ryk. Die Bybel self getuig van hierdie feit. Toe Jesus aan die folterpaal genael is, moes die opskrif bo sy kop nie net in Hebreeus, die taal van die Jode, geskryf word nie, maar ook in Latyn, die land se amptelike taal, en in Grieks, wat feitlik net soveel in die strate van Jerusalem gepraat is as in Rome, Alexandrië of Athene self (Joh. 19:19, 20; Hand. 6:1). Handelinge 9:29 toon dat Paulus die goeie nuus aan Griekssprekende Jode in Jerusalem verkondig het. Koine was teen daardie tyd ’n dinamiese, lewende, goed ontwikkelde taal—’n taal wat geredelik gebruik kon word en goed geskik was vir Jehovah se verhewe voorneme om die goddelike Woord verder bekend te maak.
DIE GRIEKSE TEKS EN DIE OORDRAGING DAARVAN
8. Waarom ondersoek ons nou die reservoir van manuskripte van die Griekse Geskrifte?
8 In die vorige studie het ons geleer dat Jehovah sy waters van waarheid in ’n reservoir van geskrewe dokumente bewaar het—die geïnspireerde Hebreeuse Geskrifte. Maar wat van die Geskrifte wat deur die apostels en ander dissipels van Jesus Christus geskryf is? Is dit met soortgelyke sorg vir ons bewaar? ’n Ondersoek van die reusereservoir van manuskripte wat in Grieks sowel as in ander tale behoue gebly het, toon dat dit wel die geval is. Soos reeds verduidelik, bestaan hierdie deel van die Bybelkanon uit 27 boeke. Ondersoek gerus die maniere waarop die teks van hierdie 27 boeke oorgedra is, wat toon hoe die oorspronklike Griekse teks tot vandag toe behoue gebly het.
9. (a) In watter taal is die Christelike Geskrifte geskryf? (b) Watter uitsondering merk ons in die geval van Mattheüs?
9 Die bron van Griekse manuskripte. Die 27 kanonieke boeke van die Christelike Geskrifte is in die gewone Grieks van die dag geskryf. Maar die boek Mattheüs is blykbaar eers in Bybelse Hebreeus geskryf, spesifiek vir die Joodse volk. Die vierde-eeuse Bybelvertaler Hieronimus sê dat dit die geval was en dat die boek later in Grieks vertaal is.b Waarskynlik het Mattheüs dit self vertaal—aangesien hy ’n Romeinse staatsamptenaar was, ’n tollenaar, het hy ongetwyfeld Hebreeus, Latyn en Grieks geken.—Mark. 2:14-17.
10. Hoe is die Bybelse geskrifte aan ons oorgedra?
10 Die ander Christenbybelskrywers, Markus, Lukas, Johannes, Paulus, Petrus, Jakobus en Judas, het almal hulle dokumente in Koine geskryf—die gewone, lewende taal wat die Christene en die meeste ander mense van die eerste eeu verstaan het. Die laaste van die oorspronklike dokumente is omstreeks 98 G.J. deur Johannes geskryf. Sover bekend is, het nie een van hierdie 27 oorspronklike manuskripte in Koine tot vandag toe behoue gebly nie. Maar uit hierdie oorspronklike bron het daar kopieë van die oorspronklike manuskripte, kopieë van kopieë en kopiefamilies na ons gevloei en ’n reusereservoir van manuskripte van die Christelike Griekse Geskrifte gevorm.
11. (a) Watter skat van manuskripkopieë is vandag beskikbaar? (b) Watter kontras vorm hierdie manuskripte met klassieke werke wat hulle getal en ouderdom betref?
11 ’n Reservoir van meer as 13 000 manuskripte. Vandag het ons ’n baie groot skat van manuskripkopieë van al 27 kanonieke boeke tot ons beskikking. Party hiervan bevat groot dele van die Skrif; ander is blote fragmente. Volgens een berekening is daar meer as 5 000 manuskripte in die oorspronklike Grieks. Daarbenewens is daar meer as 8 000 manuskripte in verskeie ander tale—altesaam oor die 13 000 manuskripte. Hulle dateer uit die tydperk vanaf die 2de eeu G.J. tot die 16de eeu G.J. en is almal nuttig om vas te stel wat die ware, oorspronklike teks was. Die oudste van hierdie talle manuskripte is die papirusfragment van die Evangelie van Johannes in die John Rylands-biblioteek in Manchester, Engeland. Hierdie fragment staan bekend as P52 en dateer vermoedelik uit die eerste helfte van die tweede eeu, moontlik omstreeks 125 G.J.c Hierdie kopie is dus net sowat ’n kwarteeu na die oorspronklike geskryf. As ons in gedagte hou dat net ’n handjievol manuskripte beskikbaar is om die teks van die meeste klassieke skrywers vas te stel, en dat hierdie manuskripte in die meeste gevalle eers etlike eeue na die oorspronklike geskrifte geskryf is, kan ons besef wat ’n skat van getuienis daar is om ons te help om ’n gesaghebbende teks van die Christelike Griekse Geskrifte saam te stel.
12. Waarop is die eerste manuskripte geskryf?
12 Papirusmanuskripte. Soos in die geval van vroeë kopieë van die Septuagint is die eerste manuskripte van die Christelike Griekse Geskrifte op papirus geskryf, en dit is tot omstreeks die vierde eeu G.J. vir Bybelmanuskripte gebruik. Die Bybelskrywers het blykbaar ook papirus gebruik wanneer hulle briewe aan die Christengemeentes gestuur het.
13. Watter belangrike papirusvonds is in 1931 openbaar gemaak?
13 Groot hoeveelhede papirusgeskrifte is in Egipte se Fajoem-provinsie gevind. Laat in die 19de eeu het ’n aantal Bybelse papiri aan die lig gekom. Een van die belangrikste van alle hedendaagse manuskripvondste was ’n ontdekking wat in 1931 openbaar gemaak is. Dit het uit dele van 11 kodekse bestaan en gedeeltes van 8 verskillende boeke van die geïnspireerde Hebreeuse Geskrifte en 15 boeke van die Christelike Griekse Geskrifte bevat, almal in Grieks. Die tyd van hierdie papiri se skrywe wissel tussen die tweede eeu en die vierde eeu van die Gewone Jaartelling. Heelwat van hierdie vonds se dele van die Christelike Griekse Geskrifte is nou in die Chester Beatty-versamelings, en hulle word as P45, P46 en P47 aangegee, met die simbool “P” wat vir “Papirus” staan.
14, 15. (a) Wat is party van die vername papirusmanuskripte van die Christelike Griekse Geskrifte wat in die tabel op bladsy 313 aangegee word? (b) Toon hoe die New World Translation hierdie manuskripte gebruik het. (c) Wat word deur die vroeë papiruskodekse bevestig?
14 Papiri van ’n ander merkwaardige versameling is van 1956 tot 1961 in Genève, Switserland, gepubliseer. Hulle staan bekend as die Bodmer-papiri en bevat onder andere vroeë tekste van twee Evangelies (P66 en P75) wat uit die begin van die derde eeu G.J. dateer. In die tabel wat hierdie studie voorafgaan, word party van die vernaamste ou Bybelpapiri van die Hebreeuse en Christelike Griekse Geskrifte aangegee. In die laaste kolom is daar verwysings na skriftuurplase in die New World Translation of the Holy Scriptures waarvan die vertaling deur hierdie papirusmanuskripte gesteun word, en dit word in die voetnote by daardie verse aangedui.
15 Hierdie papirusvondste verskaf bewys dat die Bybelkanon reeds baie vroeg voltooi was. Tussen die Chester Beatty-papiri is daar twee kodekse—die een bestaan uit dele van die vier Evangelies en Handelinge (P45) en die ander uit nege van Paulus se 14 briewe (P46)—wat toon dat die geïnspireerde Christelike Griekse Geskrifte kort na die dood van die apostels byeengebring is. Aangesien dit ’n ruk sou geduur het voordat hierdie kodekse gesirkuleer het en uiteindelik na Egipte geneem is, is dit duidelik dat hierdie Geskrifte niks later nie as die tweede eeu in hulle standaardvorm saamgestel was. Teen die einde van die tweede eeu het daar dus geen twyfel bestaan nie dat die kanon van die Christelike Griekse Geskrifte, en gevolglik ook die kanon van die hele Bybel, voltooi was.
16. (a) Watter unsiaalmanuskripte van die Christelike Griekse Geskrifte het tot vandag toe behoue gebly? (b) In watter mate is die unsiaalmanuskripte in die New World Translation gebruik, en waarom?
16 Velyn- en leermanuskripte. Soos ons in die vorige studie gesien het, is daar omstreeks die vierde eeu G.J. begin om duursamer velyn, ’n fyn soort perkament wat gewoonlik van kalfs-, lams- of bokvel gemaak is, in plaas van papirus te gebruik om manuskripte te skryf. Party baie belangrike Bybelmanuskripte wat vandag nog bestaan, is op velyn geskryf. Ons het reeds die velyn- en leermanuskripte van die Hebreeuse Geskrifte bespreek. In die tabel op bladsy 314 word party van die vernaamste velyn- en leermanuskripte van sowel die Christelike Griekse as die Hebreeuse Geskrifte aangegee. Die aangegewe manuskripte van die Griekse Geskrifte was heeltemal in hoofletters geskryf en word unsiale genoem. Die New Bible Dictionary sê dat daar 274 unsiaalmanuskripte van die Christelike Griekse Geskrifte is, en hulle dateer uit die vierde eeu G.J. tot die tiende eeu G.J. Dan is daar die meer as 5 000 kursiewe manuskripte, of minuskels, wat in lopende skrif geskryf is.d Hierdie manuskripte, ook op velyn, is geskryf tussen die negende eeu G.J. en die tyd toe daar met drukwerk begin is. Omdat die unsiaalmanuskripte uit sulke vroeë tye dateer en oor die algemeen akkuraat is, het die New World Bible Translation Committee hulle baie dikwels gebruik om die Griekse teks noukeurig te kon vertaal. Dit word aangedui in die tabel “Party van die vernaamste velyn- en leermanuskripte”.
DIE ERA VAN TEKSKRITIEK EN -SUIWERING
17. (a) Watter twee gebeurtenisse het tot ’n dieper studie van die Griekse teks van die Bybel gelei? (b) Vir watter werk is Erasmus beroemd? (c) Hoe word ’n gedrukte meesterteks saamgestel?
17 Die teks van Erasmus. Dwarsdeur die lang duister Middeleeue, toe Latyn dominant was en Wes-Europa deur die ystervuis van die Rooms-Katolieke Kerk beheer is, was vakkundigheid en geleerdheid op ’n lae peil. Maar toe drukwerk met gegote letters in die 15de eeu in Europa uitgevind is en die Hervorming vroeg in die 16de eeu begin het, was daar groter vryheid en het belangstelling in die Griekse taal herleef. Dit was gedurende hierdie vroeë herlewing van geleerdheid dat die bekende Nederlandse geleerde Desiderius Erasmus sy eerste uitgawe van ’n Griekse meesterteks van die “Nuwe Testament” uitgegee het. (So ’n gedrukte meesterteks word voorberei deur ’n aantal manuskripte noukeurig met mekaar te vergelyk en dié woorde wat die algemeenste voorkom as die oorspronklikes te gebruik. ’n Meesterteks sluit dikwels voetnote in oor enige variante lesings in sommige manuskripte.) Hierdie eerste uitgawe is in 1516, ’n jaar voor die Hervorming in Duitsland begin het, in Basel, Switserland, gedruk. Daar was baie foute in die eerste uitgawe, maar ’n verbeterde teks het in daaropvolgende uitgawes in 1519, 1522, 1527 en 1535 verskyn. Erasmus het net ’n paar betreklik nuwe kursiewe manuskripte vir kollasionering en die voorbereiding van sy meesterteks gehad.
18. Wat is deur Erasmus se teks moontlik gemaak, en wie het dit goed benut?
18 Erasmus se gesuiwerde Griekse teks het die basis vir beter vertalings in etlike van die Wes-Europese tale geword. Dit het beter vertalings moontlik gemaak as dié wat vantevore uit die Latynse Vulgaat vertaal is. Die eerste wat Erasmus se teks gebruik het, was Martin Luther van Duitsland, wat sy vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Duits in 1522 voltooi het. Ondanks kwaai vervolging het William Tyndale van Engeland kort daarna, in 1525, sy Engelse vertaling van Erasmus se teks voltooi terwyl hy in ballingskap op die Europese vasteland was. Antonio Brucioli van Italië het Erasmus se teks in 1530 in Italiaans vertaal. Die verskyning van Erasmus se Griekse teks het ’n era van tekskritiek ingelui. Tekskritiek is die metode wat gebruik word om die oorspronklike Bybelteks te rekonstrueer en te herstel.
19. Wat is die geskiedenis van die Bybel se verdeling in hoofstukke en verse, en wat is daardeur moontlik gemaak?
19 Die verdeling in hoofstukke en verse. Robert Estienne, of Stephanus, was ’n prominente 16de-eeuse drukker en redakteur van Parys. As redakteur het hy besef watter praktiese waarde dit sou hê om ’n stelsel van hoofstukke en verse vir vinnige naslaanwerk te gebruik, en daarom het hy hierdie stelsel in 1551 in sy Grieks-Latynse Nuwe Testament ingevoer. Die Hebreeuse Geskrifte is vir die eerste keer deur die Masorete in verse verdeel, maar die huidige verdeling van die hele Bybel het vir die eerste keer in Stephanus se Franse Bybel van 1553 verskyn. Hierdie verdeling is in latere Engelse Bybels gevolg en het die opstelling van Bybelkonkordansies moontlik gemaak, soos die een deur Alexander Cruden in 1737 en die twee uitgebreide konkordansies op die Engelse Authorized Version—dié van Robert Young, wat vir die eerste keer in 1873 in Edinburg gepubliseer is, en dié van James Strong, wat in 1894 in New York gepubliseer is.
20. Wat was die Textus Receptus, en waarvoor het dit die basis geword?
20 Textus Receptus. Stephanus het ook etlike uitgawes van die Griekse “Nuwe Testament” uitgereik. Hulle was hoofsaaklik op Erasmus se teks gebaseer, met verbeteringe ooreenkomstig die Complutensiese Poliglot van 1522 en 15 betreklik nuwe kursiewe manuskripte van die vorige paar eeue. Stephanus se derde uitgawe van sy Griekse teks in 1550 het as ’t ware die Textus Receptus (Latyn vir “aanvaarde teks”) geword waarop ander 16de-eeuse Engelse vertalings en die King James Version van 1611 gebaseer is.
21. Watter gesuiwerde tekste is sedert die 18de eeu geproduseer, en hoe is hulle gebruik?
21 Gesuiwerde Griekse tekste. Later het Grekiste al hoe suiwerder tekste geproduseer. ’n Uitmuntende teks was dié van J. J. Griesbach, wat toegang gehad het tot die honderde Griekse manuskripte wat teen die einde van die 18de eeu beskikbaar geword het. Die beste uitgawe van Griesbach se hele Griekse teks is in 1796-1806 gepubliseer. Sy meesterteks was die basis vir Sharpe se Engelse vertaling in 1840 en is die Griekse teks wat in The Emphatic Diaglott gedruk is, wat in 1864 vir die eerste keer volledig gepubliseer is. Ander baie goeie tekste is deur Konstantin von Tischendorf (1872) en Hermann von Soden (1910) geproduseer, en laasgenoemde was die basis vir Moffatt se Engelse vertaling van 1913.
22. (a) Watter Griekse teks word alom aanvaar? (b) As basis vir watter Engelse vertalings is dit gebruik?
22 Die teks van Westcott en Hort. ’n Griekse meesterteks wat alom aanvaar word, is dié wat in 1881 deur geleerdes B. F. Westcott en F. J. A. Hort van die Cambridge-Universiteit geproduseer is. Die Britse Hersieningskomitee, waarvan Westcott en Hort lede was, het proewe van Westcott en Hort se Griekse teks geraadpleeg vir hulle hersiening van die “Nuwe Testament” van 1881. Hierdie meesterteks was die vernaamste teks wat gebruik is vir die Engelse vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in die New World Translation. Hierdie teks is ook die grondslag van die volgende vertalings in Engels: The Emphasised Bible, die American Standard Version, An American Translation (Smith-Goodspeed) en die Revised Standard Version.e Die teks van Nestle is ook vir laasgenoemde vertaling gebruik.
23. Watter ander tekste is vir die New World Translation gebruik?
23 Die New World Bible Translation Committee het ook die Griekse teks van Nestle (die 18de uitgawe, 1948) vir vergelyking gebruik. Die komitee het ook die tekste deur Katolieke Jesuïetegeleerdes José M. Bover (1943) en Augustinus Merk (1948) geraadpleeg. Die Wêreldbond van Bybelgenootskappe se teks van 1975 en die Nestle-Aland-teks van 1979 is geraadpleeg om die voetnote van die naslaanuitgawe van 1984 by te werk.f
24. Watter ou vertalings is ook tydens die vertaling van die New World Translation geraadpleeg? Meld ’n paar voorbeelde.
24 Ou vertalings uit die Grieks. Buiten die Griekse manuskripte is daar vandag ook baie manuskripte van vertalings van die Christelike Griekse Geskrifte in ander tale vir studiedoeleindes beskikbaar. Daar is ongeveer 30 fragmente van Oud-Latynse vertalings en duisende manuskripte van Hieronimus se Latynse Vulgaat. Die New World Bible Translation Committee het na hierdie manuskripte verwys, sowel as na die Koptiese, Armeense en Siriese vertalings.g
25. Van watter besondere belang is die Hebreeuse vertalings waarna die New World Translation verwys?
25 Daar is ten minste van die 14de eeu af Hebreeuse vertalings van die Griekse Geskrifte geproduseer. Hierdie vertalings is van belang omdat verskeie daarvan die goddelike naam op verskillende plekke in die Christelike Geskrifte herstel het. Die New World Translation verwys dikwels na hierdie Hebreeuse vertalings, wat aangedui word met die simbool “J” met ’n bostandige syfer. Verdere besonderhede word verstrek in die voorwoord by die New World Translation of the Holy Scriptures—With References, bladsye 9-10, en aanhangsel 1D, “Die goddelike naam in die Christelike Griekse Geskrifte”.
TEKSVARIANTE EN HULLE BETEKENIS
26. Hoe het teksvariante en manuskripfamilies ontstaan?
26 Daar is talle teksvariante onder die meer as 13 000 manuskripte van die Christelike Griekse Geskrifte. Die 5 000 manuskripte in Grieks alleen bevat baie sulke verskille. Dit is te verstane dat elke kopie wat van vroeë manuskripte gemaak is sy eie kenmerkende skrywersfoute sou bevat. Wanneer enige van hierdie vroeë manuskripte na ’n sekere gebied gestuur is om daar gebruik te word, sou hierdie foute herhaal word in die kopieë in daardie gebied en kenmerkend van ander manuskripte in die gebied word. Sodoende het families van soortgelyke manuskripte ontstaan. Is die duisende skrywersfoute dan nie verontrustend nie? Openbaar hulle nie ’n gebrek aan getroue oorlewering van die teks nie? Hoegenaamd nie!
27. Watter versekering het ons aangaande die getrouheid van die Griekse teks?
27 F. J. A. Hort, ’n mede-uitgewer van die Westcott en Hort-teks, skryf: “Verreweg die meeste van die woorde van die Nuwe Testament is bo alle siftingsprosesse van die kritiek verhewe, omdat daar geen variante is nie en hulle net oorgeskryf hoef te word. . . . As betreklik onbeduidende kwessies . . . opsy geskuif word, kan die woorde wat na ons mening steeds twyfelagtig is nouliks meer as ’n duisendste van die hele Nuwe Testament wees.”h
28, 29. (a) Wat moet ons finale gevolgtrekking oor die gesuiwerde Griekse teks wees? (b) Watter gesaghebbende verklaring het ons hieroor?
28 Die beoordeling van teksoorlewering. Wat is dan die finale gevolgtrekking oor tekstuele getrouheid en egtheid na al hierdie eeue van oorlewering? Daar is nie net duisende manuskripte wat vergelyk kan word nie, maar vondste van ouer Bybelmanuskripte gedurende die afgelope paar dekades voer die Griekse teks terug tot ongeveer 125 G.J., net ’n paar dekades na die dood van die apostel Johannes in ongeveer 100 G.J. Hierdie manuskripgetuienis gee ons groot sekerheid dat ons nou ’n betroubare Griekse teks in ’n gesuiwerde vorm het. Let op hoe die voormalige direkteur en bibliotekaris van die Britse Museum, sir Frederic Kenyon, hierdie saak beoordeel het:
29 “Die tydperk tussen die oorspronklike skrywe en die oudste beskikbare getuienis word so kort dat dit in werklikheid onbeduidend is, en die laaste grond vir enige twyfel dat die Skrif ons bereik het wesenlik soos dit geskryf is, is nou uit die weg geruim. Die egtheid sowel as die algemene getrouheid van die boeke van die Nuwe Testament kan as ’n finaal bevestigde saak beskou word. Maar algemene getrouheid en sekerheid oor besonderhede is twee verskillende dinge.”i
30. Waarom kan ons vol vertroue wees dat die New World Translation aan sy lesers die getroue “woord van Jehovah” oordra?
30 Die voorgaande opmerking aangaande “sekerheid oor besonderhede” word gedek deur dr. Hort se woorde wat in paragraaf 27 aangehaal is. Dit is die tekssuiweraars se werk om besonderhede reg te stel, en hulle het dit in groot mate gedoen. Om hierdie rede word die gesuiwerde Griekse teks van Westcott en Hort oor die algemeen as ’n besonder goeie teks aanvaar. Gevolglik kan die Christelike Griekse Geskrifte in die New World Translation, wat op hierdie uitstekende Griekse teks gebaseer is, die getroue “woord van Jehovah” aan sy lesers oordra soos dit op so ’n wonderlike wyse vir ons in die Griekse reservoir van manuskripte bewaar is.—1 Pet. 1:24, 25, NW.
31. (a) Wat het hedendaagse vondste aangaande die teks van die Griekse Geskrifte geopenbaar? (b) Wat was volgens die tabel op bladsy 309 die hoofbron vir die teks van die Christelike Griekse Geskrifte in die New World Translation, en wat is party van die sekondêre bronne wat gebruik is?
31 Sir Frederic Kenyon se kommentaar in sy boek Our Bible and the Ancient Manuscripts, 1962, bladsy 249, is ook vir ons van belang: “Ons moet vergenoeg wees met die wete dat die algemene egtheid van die Nuwe Testament se teks merkwaardig gesteun is deur die hedendaagse vondste wat die tydperk tussen die oorspronklike handskrifte en ons oudste beskikbare manuskripte soveel verkort het, en dat die verskillende lesings, al is hulle ook interessant, nie die fundamentele leerstellings van die Christelike geloof beïnvloed nie.” Soos die tabel “Bronne vir die teks van die New World Translation—Christelike Griekse Geskrifte” op bladsy 309 toon, is daar van alle beskikbare dokumente gebruik gemaak om ’n noukeurig vertaalde Engelse teks te verskaf. Waardevolle voetnote steun al hierdie getroue lesings. Die New World Bible Translation Committee het van die beste produkte van die Bybelkunde wat deur die eeue heen ontwikkel is gebruik gemaak om sy puik vertaling te produseer. Watter vertroue kan ons tog vandag hê dat die Christelike Griekse Geskrifte, soos dit tans vir ons beskikbaar is, inderdaad die “voorbeeld van gesonde woorde” bevat soos neergeskryf deur die geïnspireerde dissipels van Jesus Christus. Mag ons in geloof en in liefde aan hierdie kosbare woorde bly vashou!—2 Tim. 1:13.
32. Waarom is die manuskripte en teks van die Heilige Skrif hier so breedvoerig bespreek, en met watter bevredigende resultaat?
32 Hierdie sowel as die vorige studie is aan ’n bespreking van die manuskripte en teks van die Heilige Skrif gewy. Waarom is dit so uitvoerig behandel? Die doel was om afdoende bewys te lewer dat die teks van die Hebreeuse sowel as die Griekse Geskrifte wesenlik dieselfde is as die egte, oorspronklike teks wat Jehovah getroue manne van die ou tyd geïnspireer het om neer te skryf. Daardie oorspronklike geskrifte was geïnspireer. Die kopiiste, al was hulle ook hoe vaardig, was nie geïnspireer nie (Ps. 45:2; 2 Pet. 1:20, 21; 3:16). Daarom was dit nodig om die reusereservoir van manuskripkopieë te deursoek om die suiwer waters van waarheid soos dit oorspronklik vanaf die Groot Bron, Jehovah, gevloei het duidelik en onmiskenbaar te identifiseer. Alle dank aan Jehovah vir die wonderlike gawe van sy Woord, die geïnspireerde Bybel, en die verkwikkende Koninkryksboodskap wat uit die bladsye daarvan vloei!
[Voetnote]
a Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 354-5.
b Sien bladsy 176, paragraaf 6.
c Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 323; New Bible Dictionary, tweede uitgawe, 1986, J. D. Douglas, bladsy 1187.
d New Bible Dictionary, tweede uitgawe, bladsy 1187.
e Sien die tabel “Party van die vernaamste Bybelvertalings in sewe belangrike tale” op bladsy 322.
f The Kingdom Interlinear Translation of the Greek Scriptures, 1985, bladsye 8-9.
g Sien die NW-naslaanuitgawe se voetnote by Lukas 24:40; Johannes 5:4; Handelinge 19:23; 27:37; en Openbaring 3:16.
h The New Testament in the Original Greek, 1974, Dl. I, bladsy 561.
i The Bible and Archaeology, 1940, bladsye 288-9.