Hoofstuk 21
In die sinagoge van Jesus se tuisdorp
DAAR is ongetwyfeld heelwat opgewondenheid in Nasaret wanneer Jesus terugkeer. Voor hy ’n jaar of wat tevore daar weg is om deur Johannes gedoop te word, was Jesus bekend as ’n timmerman. Maar nou het hy alom bekend geword as ’n wonderdoener. Die inwoners wil graag sien hoe hy van hierdie wonderdade onder hulle verrig.
Hulle afwagting word groter wanneer Jesus, volgens sy gewoonte, na die dorp se sinagoge gaan. Gedurende die diens staan hy op om te lees, en die boekrol van die profeet Jesaja word aan hom oorhandig. Hy vind die plek waar dit praat van die Een wat deur Jehovah se gees gesalf is, wat vandag hoofstuk 61 in ons Bybel is.
Nadat hy gelees het hoe hierdie Een vrylating vir die gevangenes en die herstel van gesig vir die blindes, asook Jehovah se jaar van welbehae sou uitroep, gee Jesus die boekrol vir die dienaar terug en gaan sit. Alle oë is op hom gevestig. Toe praat hy, en verduidelik waarskynlik breedvoerig: “Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.”
Die mense verwonder hulle oor sy “aangename woorde” en sê vir mekaar: “Is Hy nie die seun van Josef nie?” Maar Jesus weet dat hulle hom wonders wil sien doen, en vervolg: “Julle sal My ongetwyfeld hierdie spreekwoord toevoeg: Geneesheer, genees uself! Alles wat ons hoor wat in Kapernaüm gebeur het, doen dit hier in u vaderstad ook.” Jesus se voormalige dorpsgenote meen blykbaar dat genesing by die huis moet begin sodat sy eie mense eerste daarby baat kan vind. Hulle voel dus dat Jesus hulle in die gesig gevat het.
Omdat hy besef wat hulle dink, verwys Jesus na toepaslike gevalle in die geskiedenis. Daar was baie weduwees in Israel in die dae van Elia, sê hy, maar Elia is nie na een van hulle gestuur nie. Hy het eerder na ’n nie-Israelitiese weduwee in Sidon gegaan, waar hy ’n lewensreddende wonderwerk verrig het. En in die dae van Elisa was daar baie melaatses, maar Elisa het net Naäman van Sirië gereinig.
Woedend oor hierdie ongunstige vergelykings uit die geskiedenis wat hulle selfsug en ongeloof aan die kaak stel, staan diegene in die sinagoge op en dryf Jesus uit die stad uit. Hulle bring hom tot by die rand van die berg waarop Nasaret gebou is en probeer om hom van die krans af te gooi. Maar Jesus ontglip hulle en kom veilig weg. Lukas 4:16-30; 1 Konings 17:8-16; 2 Konings 5:8-14.
▪ Waarom is daar opgewondenheid in Nasaret?
▪ Wat dink die mense van Jesus se toespraak, maar wat maak hulle dan so kwaad?
▪ Wat probeer die mense aan Jesus doen?