Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • gt hfst. 89
  • ’n Genadereis na Judea

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Genadereis na Judea
  • Die grootste mens wat nog geleef het
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Genadesending na Judea
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Jesus leer mense in Perea op pad na Judea
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Hoekom Jesus nie haastig was nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • ‘Sy uur het nog nie gekom nie’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Die grootste mens wat nog geleef het
gt hfst. 89

Hoofstuk 89

’n Genadereis na Judea

’N PAAR weke vroeër, gedurende die Fees van die Tempelwyding in Jerusalem, het die Jode Jesus probeer doodmaak. Daarom het hy noord gereis, klaarblyklik na ’n gebied nie ver van die See van Galilea af nie.

Onlangs het hy weer suidwaarts na Jerusalem koers gekies en langs die pad in die dorpe van Perea, ’n gebied oos van die Jordaanrivier, gepreek. Nadat hy die gelykenis van die ryk man en Lasarus vertel het, gaan hy voort om sy dissipels dinge te leer wat hy hulle al vroeër, terwyl hulle in Galilea was, geleer het.

Hy sê byvoorbeeld dat dit vir iemand beter sou wees “as ’n meulsteen aan sy nek gehang en hy in die see gegooi word” as dat hy een van God se “kleintjies” laat struikel. Hy beklemtoon ook die nodigheid om te vergewe en verduidelik: “En as [’n broer] sewe maal op ’n dag teen jou sondig en sewe maal op ’n dag na jou terugkom en sê: Ek het berou—moet jy hom vergewe.”

Toe die dissipels vra: “Gee ons meer geloof”, antwoord Jesus: “As julle geloof gehad het soos ’n mosterdsaad, sou julle vir hierdie moerbeiboom sê: Word ontwortel en in die see geplant—en hy sou julle gehoorsaam wees.” Selfs geringe geloof kan derhalwe groot dinge tot stand bring.

Daarna beskryf Jesus ’n lewensgetroue situasie wat die regte gesindheid van ’n dienaar van die almagtige God toelig. “Wie is daar van julle wat ’n dienskneg het wat ploeg of vee oppas”, sê Jesus, “en as hy inkom van die veld vir hom sal sê: Kom dadelik hier aan tafel? Sal hy nie eerder vir hom sê nie: Maak vir my die aandete klaar en omgord jou en bedien my totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink? Bedank hy daardie dienskneg, omdat hy gedoen het wat hom beveel is? Ek glo nie. So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.” God se knegte moet dus nooit dink dat hulle God ’n guns bewys deur hom te dien nie. Hulle moet eerder altyd onthou watter voorreg hulle het om hom as sy vertroude huisgenote te aanbid.

Dit is blykbaar kort nadat hy hierdie gelykenis vertel het dat ’n boodskapper by hom aankom. Maria en Martha, die susters van Lasarus, wat in Betanië van Judea woon, het hom gestuur. “Here, hy vir wie U liefhet, is siek”, sê die boodskapper.

Jesus antwoord: “Hierdie siekte is nie tot die dood toe nie, maar tot die heerlikheid van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.” Jesus vertoef nog twee dae daar waar hy is en sê dan vir sy dissipels: “Laat ons weer na Judea gaan.” Hulle herinner hom egter: “Rabbi, die Jode het onlangs probeer om U te stenig, en gaan U weer daarnatoe?”

“Is daar nie twaalf ure in die dag nie?” antwoord Jesus. “As iemand in die dag wandel, stamp hy hom nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. Maar as iemand in die nag wandel, stamp hy hom, omdat die lig nie in hom is nie.”

Jesus bedoel blykbaar dat die “ure in die dag”, of die tyd wat God bepaal het vir Jesus se aardse bediening, nog nie verstryk het nie, en dat niemand hom voor daardie tyd kwaad kan aandoen nie. Hy moet die kort tydjie van “die dag” wat vir hom oor is ten volle benut, omdat “die nag” daarna sal kom, wanneer sy vyande hom doodgemaak het.

Jesus voeg by: “Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak.”

Die dissipels dink blykbaar dat Lasarus rustig slaap en dat dit ’n positiewe teken is dat hy gesond sal word, en antwoord: “Here, as hy slaap, sal hy gesond word.”

Jesus sê toe ronduit vir hulle: “Lasarus is dood. En Ek is bly om julle ontwil dat Ek nie daar was nie, sodat julle kan glo. Maar laat ons na hom toe gaan.”

Thomas besef dat Jesus in Judea doodgemaak kan word, maar hy wil hom nogtans ondersteun. Gevolglik moedig hy sy mededissipels aan: “Laat ons ook gaan om saam met Hom te sterwe.” Die dissipels waag dus hulle lewens en vergesel Jesus op hierdie genadereis na Judea. Lukas 13:22; 17:1-10; Johannes 10:22, 31, 40-42; 11:1-16.

▪ Waar het Jesus onlangs gepreek?

▪ Watter leringe herhaal Jesus, en watter lewensgetroue situasie beskryf hy, om watter punt toe te lig?

▪ Watter nuus ontvang Jesus, en wat bedoel hy met “die dag” en “die nag”?

▪ Wat bedoel Thomas wanneer hy sê: ‘Laat ons gaan om saam met Hom te sterwe’?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel