Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • jv hfst. 1 bl. 10-18
  • Waarom moet Jehovah getuies hê?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom moet Jehovah getuies hê?
  • Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah se soewereiniteit betwis
  • Wat dit beteken om ’n getuie te wees
  • Vroeë getuies van Jehovah
  • ’n Nasie van getuies
  • Getuienis aangaande die Messias
  • Jehovah is ons Soewereine Heer!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Die geskil waarby ons almal betrokke is
    Aanbid die enigste ware God
  • Waarom neem dit so lank om die geskil te besleg?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Ondersteun Jehovah se soewereiniteit!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
Sien nog
Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
jv hfst. 1 bl. 10-18

Hoofstuk 1

Waarom moet Jehovah getuies hê?

JEHOVAH SE GETUIES is wêreldwyd bekend vir hulle volharding om oral met mense oor Jehovah God en sy Koninkryk te praat. Hulle het ook die reputasie dat hulle ’n volk is wat trou bly aan hulle oortuigings ondanks alle vorme van teëstand, selfs die dood.

“Dit was veral Jehovah se Getuies wat in die twintigste eeu die slagoffers van godsdiensvervolging in die Verenigde State was”, sê die boek The Court and the Constitution, deur Archibald Cox (1987). “Jehovah se Getuies . . . is al oor die hele wêreld deur regerings aangeval en vervolg”, sê Tony Hodges. “In Nazi-Duitsland is hulle gevange geneem en na konsentrasiekampe gestuur. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is die [Wagtoring]genootskap in Australië en Kanada in die ban gedoen. . . . Nou [in die sewentigerjare] word Jehovah se Getuies in Afrika vervolg.”—Jehovah’s Witnesses in Africa, 1985-uitgawe.

Waarom die vervolging? Wat is die doel van die predikingswerk? Het Jehovah se Getuies werklik hulle opdrag van God ontvang? Waarom sou Jehovah in elk geval getuies hê—en boonop getuies wat onvolmaakte mense is? Die antwoorde hou verband met geskille wat in ’n universele hofsaak verhoor word—verreweg die belangrikste saak wat ooit beredeneer is. Ons moet hierdie geskille ondersoek sodat ons kan verstaan waarom Jehovah getuies het en waarom hierdie getuies bereid is om selfs die hewigste teëstand te verduur.

Jehovah se soewereiniteit betwis

Hierdie lewensbelangrike geskille gaan om die regmatigheid van Jehovah God se soewereiniteit, of oppermagtige heerskappy. Jehovah is die Universele Soewerein omdat hy die Skepper, die Godheid en die Almagtige is (Gen. 17:1; Ex. 6:3, NW; Openb. 4:11). Daarom het hy die reg om oor alles in die hemel en op die aarde te heers. (1 Kron. 29:12, sien voetnoot in NW.) Maar hy oefen altyd sy soewereiniteit op ’n liefdevolle wyse uit. (Vergelyk Jeremia 9:24.) Wat verwag hy dan van sy intelligente skepsele? Dat hulle hom moet liefhê en waardering teenoor sy soewereiniteit moet betoon (Ps. 84:11). Maar duisende jare gelede is Jehovah se regmatige soewereiniteit betwis. Hoe? Deur wie? Genesis, die eerste boek van die Bybel, werp lig op die saak.

Dit sê dat God die eerste mensepaar, Adam en Eva, geskep en ’n pragtige tuintuiste gegee het. Hy het hulle ook beveel: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Gen. 2:16, 17). Wat was “die boom van die kennis van goed en kwaad”, en waarop sou dit dui as hulle van sy vrugte sou eet?

Dit was ’n letterlike boom, maar God het dit vir ’n simboliese doel gebruik. Omdat hy dit “die boom van die kennis van goed en kwaad” genoem het en omdat hy beveel het dat die eerste mensepaar nie daarvan moes eet nie, het die boom gepas God se reg gesimboliseer om vir mense te besluit wat “goed” (behaaglik vir God) en wat “kwaad” (nie behaaglik vir God nie) is. Die teenwoordigheid van hierdie boom het dus die mens se respek vir God se soewereiniteit getoets. Ongelukkig het die eerste mensepaar God nie gehoorsaam nie en van die verbode vrugte geëet. Hulle het nie hierdie eenvoudige, dog deeglike toets van gehoorsaamheid en waardering geslaag nie.—Gen. 3:1-6.

Hierdie oënskynlike klein daad het opstand teen Jehovah se soewereiniteit beteken. Hoe so? As ons verstaan hoe ons as mense gemaak is, sal dit ons help om die erns van Adam en Eva se daad te verstaan. Toe Jehovah die eerste mensepaar geskep het, het hy hulle ’n buitengewone gawe gegee—wilsvryheid. Om hierdie gawe aan te vul, het Jehovah vir hulle verstandelike vermoëns gegee, wat waarnemingsvermoë, redeneervermoë en oordeelsvermoë ingesluit het (Hebr. 5:14, NW). Hulle was nie soos verstandelose robotte nie; ook was hulle nie soos diere nie, wat hoofsaaklik op instink reageer. Hulle vryheid was egter relatief, onderworpe aan die oppergesag van God se wette. (Vergelyk Jeremia 10:23, 24.) Adam en Eva het gekies om van die verbode vrugte te eet. Hulle het hulle vryheid dus misbruik. Wat het hulle hierdie weg laat volg?

Die Bybel verduidelik dat ’n geesskepsel van God opsetlik ’n weg van teëstand en verset teen God ingeslaan het. Hierdie skepsel, wat later as Satan bekend geword het, het deur ’n slang in Eden gepraat en Eva, en déúr haar Adam, van onderworpenheid aan God se soewereiniteit weggelok (Openb. 12:9). Deur van die boom te eet, het Adam en Eva hulle oordeel hoër as God s’n geag en getoon dat hulle self wou oordeel wat goed en wat kwaad is.—Gen. 3:22.

Die geskil wat daardeur geopper is, was: Het Jehovah die reg om oor die mensdom te heers, en oefen hy sy soewereiniteit in die belang van sy onderdane uit? Hierdie geskil is duidelik geïmpliseer deur die Slang se woorde aan Eva: “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” Hy het geïmpliseer dat God verkeerdelik iets goeds van die vrou en haar man weerhou het.—Gen. 3:1.

Die opstand in Eden het nog ’n geskil geopper: Kan mense onder beproewing aan God getrou bly? Hierdie verwante geskil het 24 eeue later duidelik na vore gekom in die geval van getroue Job. Satan, die ‘stem’ agter die slang, het Jehovah openlik uitgetart en gesê: “Is dit verniet dat Job God vrees?” Satan se aantyging was: “Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom, beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land.” Satan het dus beweer dat eiebelang die motief vir Job se opregtheid was. Hy het verder beweer: “Huid vir huid, en alles wat iemand het, sal hy gee vir sy lewe.” Aangesien daar, soos Jehovah gesê het, ‘niemand soos Job op die aarde was nie’, het Satan in werklikheid beweer dat hy enige kneg van God teen Hom kan laat draai (Job 1:8-11; 2:4). Al God se knegte is derhalwe indirek uitgedaag wat hulle onkreukbaarheid en lojaliteit teenoor Sy soewereiniteit betref.

Toe die geskille eers geopper is, moes hulle besleg word. Die tyd wat verloop het—nou ongeveer 6 000 jaar—en die hopelose mislukking van menseregerings toon duidelik dat mense God se soewereiniteit nodig het. Maar wil hulle dit hê? Is daar mense wat Jehovah se regverdige soewereiniteit hartgrondig sal erken? Ja! Jehovah het sy getuies! Maar kom ons ondersoek eers wat dit behels om ’n getuie te wees voor ons hulle getuienis bespreek.

Wat dit beteken om ’n getuie te wees

Die woorde wat uit die oorspronklike tale as “getuie” vertaal word, gee ons insig in wat dit beteken om ’n getuie vir Jehovah te wees. In die Hebreeuse Geskrifte is die selfstandige naamwoord wat as “getuie” (ʽedh) vertaal word, afgelei van ’n werkwoord (ʽoedh) wat “terugkeer” of “herhaal, doen weer” beteken. Die Theological Wordbook of the Old Testament sê aangaande die selfstandige naamwoord (ʽedh): “’n Getuie is iemand wat sy getuienis nadruklik bevestig deur herhaling. Die woord [ʽedh] is ’n bekende woord in die regstaal.” A Comprehensive Etymological Dictionary of the Hebrew Language for Readers of English voeg by: “Die oorspr[onklike] betekenis [van die werkwoord ʽoedh] was waarskynlik ‘hy het herhaaldelik en kragtig gesê’.”

In die Christelike Geskrifte het die Griekse woorde wat as “getuie” (marʹtus) en “getuig” (mar·tu·reʹo) vertaal word ook ’n wetlike konnotasie gehad, hoewel hulle mettertyd ’n breër betekenis aangeneem het. Volgens die Theological Dictionary of the New Testament “word die konsep van getuie [gebruik] in die sin van iemand wat getuig van bepaalbare feite sowel as in die sin van iemand wat getuig van waarhede, d.w.s. die bekendmaking en belydenis van oortuigings”. ’n Getuie dra dus op grond van direkte persoonlike kennis feite oor, of hy verkondig beskouings of waarhede waarvan hy oortuig is.a

Die getroue lewenswandel van eerste-eeuse Christene het die betekenis van “getuie” ’n stap verder gevoer. Baie van daardie vroeë Christene het ondanks vervolging en in doodsgevaar getuig (Hand. 22:20; Openb. 2:13). Gevolglik het die Griekse woord vir getuie (marʹtus, waarvan die woord “martelaar” ook afgelei is) teen ongeveer die tweede eeu G.J. die betekenis gekry wat van toepassing was op mense wat bereid was om “die erns van hulle getuienis of belydenis met die dood te seël”. Hulle is nie getuies genoem omdat hulle gesterf het nie; hulle het gesterf omdat hulle lojale getuies was.

Wie was die vroeë getuies van Jehovah dan? Wie was bereid om—in woorde en deur hulle lewenswyse—“herhaaldelik en kragtig” te verkondig dat Jehovah die regmatige, waardige Soewerein is? Wie was bereid om, selfs tot in die dood, hulle onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf?

Vroeë getuies van Jehovah

Die apostel Paulus sê: “Ons [het] so ’n groot wolk [Gr., neʹfos, wat dui op ’n wolkmassa] van getuies rondom ons” (Hebr. 12:1). Hierdie ‘wolkmassa’ van getuies het kort ná die opstand teen God se soewereiniteit in Eden te voorskyn begin kom.

In Hebreërs 11:4 identifiseer Paulus Abel as die eerste getuie van Jehovah deur te sê: “Deur die geloof het Abel ’n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het; en deur dieselfde geloof spreek hy nog nadat hy dood is.” In watter opsig was Abel ’n getuie vir Jehovah? Die rede waarom Abel se offer “beter” as Kain s’n was, is die kern van die antwoord.

Kortom, Abel het die regte offer met die regte motief gebring en dit met die regte werke gestaaf. Sy gawe was ’n bloedoffer wat die lewe van die eersgeborenes van sy kudde verteenwoordig het—terwyl Kain lewelose produkte geoffer het (Gen. 4:3, 4). Geloof, wat Abel se offer aanneemlik gemaak het, was nie die beweegrede vir Kain se offer nie. Kain moes sy aanbidding verander. Maar hy het getoon dat sy hartsgesindheid sleg was deur God se raad te verwerp en getroue Abel te vermoor.—Gen. 4:6-8; 1 Joh. 3:11, 12.

Abel het die geloof aan die dag gelê waarin sy ouers te kort geskiet het. Deur sy getroue lewenswandel het hy sy oortuiging bekend gemaak dat Jehovah se soewereiniteit regverdig en waardig is. Gedurende die eeu of wat wat hy geleef het, het Abel getoon dat ’n mens só getrou aan God kan wees dat hy selfs sy getuienis met sy dood sal seël. En Abel se bloed “spreek” nog, want die geïnspireerde verslag van sy martelaarskap is vir toekomstige geslagte in die Bybel bewaar!

Ongeveer vyf eeue ná Abel se dood het Henog ‘met God begin wandel’ en ’n lewenswandel nagestreef wat in harmonie met Jehovah se standaarde van goed en kwaad was (Gen. 5:24). Teen daardie tyd het die verwerping van God se soewereiniteit tot ’n vermenigvuldiging van goddelose gebruike onder die mens gelei. Henog was oortuig dat die Oppersoewerein teen goddelose mense sou optree, en God se gees het hom beweeg om hulle toekomstige vernietiging te verkondig (Jud. 14, 15). Henog het selfs tot in die dood ’n getroue getuie gebly, want Jehovah het “hom weggeneem”, blykbaar om hom van ’n gewelddadige dood deur sy vyande te red (Hebr. 11:5). Henog se naam kon dus by die lys van die “groot wolk van getuies” van voor-Christelike tye gevoeg word, ’n lys wat al hoe langer geword het.

’n Gees van goddeloosheid het menseaangeleenthede steeds deurdring. Gedurende die leeftyd van Noag, wat ongeveer 70 jaar ná Henog se dood gebore is, het engeleseuns van God na die aarde toe gekom en blykbaar mensegestaltes aangeneem en saam met aantreklike vroue geleef. Die kinders wat hulle voortgebring het, het bekend gestaan as Nefilim; hulle was reuse onder die mense (Gen. 6:1-4, vgl. NW). Wat was die gevolge van hierdie onnatuurlike verbintenis tussen geesskepsele en mense en van die basterras wat hulle voortgebring het? Die geïnspireerde verslag antwoord: “Toe [het] die HERE [ge]sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, . . . Toe sien God die aarde aan, en—dit was verdorwe, want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe” (Gen. 6:5, 12). Hoe jammer tog dat die aarde, God se voetbank, ‘met geweld vervul’ was.—Gen. 6:13; Jes. 66:1.

Daarenteen was ‘Noag ’n regverdige man’, iemand wat ‘onberispelik onder sy tydgenote was’ (Gen. 6:9, NAV). Hy het sy onderworpenheid aan God se soewereiniteit gedemonstreer deur te doen “net soos God hom beveel het” (Gen. 6:22). Hy het in geloof opgetree en “die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin” (Hebr. 11:7). Maar Noag was meer as net ’n bouer; as ’n “prediker [of boodskapper] van geregtigheid” het hy mense teen die komende vernietiging gewaarsku (2 Pet. 2:5). Maar daardie goddelose geslag het, ondanks Noag se vrymoedige getuienis, ‘geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggevoer het nie’.—Matt. 24:37-39, vgl. NW.

Ná Noag se dag het Jehovah getuies onder die postdiluviaanse aartsvaders gehad. Abraham, Isak, Jakob en Josef het onder die vroeë lede van daardie wolk van voor-Christelike getuies getel (Hebr. 11:8-22; 12:1). Hulle het getoon dat hulle Jehovah se soewereiniteit ondersteun deur hulle onkreukbaarheid te handhaaf (Gen. 18:18, 19). Hulle het dus gehelp om Jehovah se naam te heilig. Pleks van sekuriteit in die een of ander aardse koninkryk te soek, het hulle “bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was” en in geloof “die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is” (Hebr. 11:10, 13). Hulle het Jehovah as hulle Heerser aanvaar en hulle hoop op die beloofde hemelse Koninkryk gevestig as ’n uitdrukking van sy regmatige soewereiniteit.

In die 16de eeu v.G.J. was Abraham se afstammelinge slawe wat van Egiptiese slawerny bevry moes word. Dit was toe dat Moses en sy broer Aäron sleutelfigure in ’n ‘godestryd’ geword het. Hulle het voor Farao verskyn en Jehovah se ultimatum gestel: “Laat my volk trek.” Maar trotse Farao het sy hart verhard; hy wou nie ’n groot nasie van slawearbeiders verloor nie. Hy het gesê: ‘Wie is Jehovah na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek? Ek ken Jehovah nie, en ek sal Israel ook nie laat trek nie’ (Ex. 5:1, 2). Deur daardie minagtende reaksie het Farao, wat volgens mening self ’n lewende god was, geweier om Jehovah se godheid te erken.

Omdat die geskil van godheid nou geopper is, het Jehovah vervolgens bewys dat hy die ware God is. Farao het deur middel van sy priesters wat towery beoefen het die mag van al Egipte se gode gekombineer om Jehovah se mag uit te tart. Maar Jehovah het tien plae gestuur, wat elkeen deur Moses en Aäron aangekondig is, om sy heerskappy oor die aarde se elemente en skepsele asook sy oppermag oor Egipte se gode te toon (Ex. 9:13-16; 12:12). Ná die tiende plaag het Jehovah Israel deur “’n sterke hand” uit Egipte uitgelei.—Ex. 13:9.

Dit het baie moed en geloof geverg van Moses, die “sagmoedigste van alle mense”, om nie een keer nie, maar baie keer voor Farao te verskyn (Num. 12:3, NW). Moses het egter nooit die boodskap verwater wat Jehovah hom beveel het om vir Farao te gee nie. Nie eens die dreigement van die dood kon sy getuienis stil nie! (Ex. 10:28, 29; Hebr. 11:27). Moses was ’n getuie in die ware sin van die woord; hy het “herhaaldelik en kragtig” van Jehovah se godheid getuig.

Ná daardie verlossing uit Egipte in 1513 v.G.J. het Moses die boek Genesis geskryf. Daarmee het ’n nuwe era—die era waartydens die Bybel geskryf is—begin. Aangesien Moses blykbaar die boek Job geskryf het, het hy ’n mate van insig gehad in die geskil tussen God en Satan. Maar namate die opskrifstelling van die Bybel sou vorder, sou die geskille ten opsigte van God se soewereiniteit en die mens se onkreukbaarheid duidelik opgeteken word; alle betrokkenes sou dus volledige kennis kon opdoen van die groot geskille wat daarby betrokke is. Intussen het Jehovah in 1513 v.G.J. die grondslag gelê vir die voortbrenging van ’n nasie van getuies.

’n Nasie van getuies

In die derde maand ná hulle vertrek uit Egipte het Jehovah die Israeliete in ’n uitsluitlike verbondsverhouding met hom gebring en hulle sy “eiendom” gemaak (Ex. 19:5, 6). Deur Moses het hy nou met hulle as ’n nasie gehandel en hulle ’n teokratiese regering gegee wat op die Wetsverbond as hulle nasionale grondwet gebaseer was (Jes. 33:22, NW). Hulle was Jehovah se uitverkore volk, wat georganiseer was om hom as hulle Soewereine Heer te verteenwoordig.

Maar in die daaropvolgende eeue het die nasie nie altyd Jehovah se soewereiniteit erken nie. Nadat hulle hul in die Beloofde Land gevestig het, het Israel soms afvallig geword en die demonistiese gode van die nasies aanbid. Omdat hulle hom nie as regmatige Soewerein gehoorsaam het nie, het Jehovah toegelaat dat hulle beroof word, en dit het dus gelyk of die gode van die nasies sterker as Jehovah was (Jes. 42:18-25). Maar in die agtste eeu v.G.J. het Jehovah die gode van die nasies openlik uitgedaag om daardie misvatting op te klaar en ’n antwoord te gee op die vraag: Wie is die ware God?

Deur die profeet Jesaja het Jehovah die uitdaging gerig: “Wie onder hulle [die gode van die nasies] kan dit vertel [akkuraat profeteer]? Of kan hulle ons selfs die eerste dinge [dit wil sê dinge vooruit] laat hoor? Laat hulle [as gode] hulle getuies bring, sodat hulle regverdig verklaar kan word, of laat hulle [die mense van die nasies] hoor en sê: ‘Dit is die waarheid!’” (Jes. 43:9, NW). Ja, die gode van die nasies moes getuies bring wat van hulle gode se profesie kan getuig: “Dit is die waarheid!” Maar nie een van daardie gode kon ware getuies bring wat van hulle godheid kon getuig nie!

Jehovah het duidelik aan Israel getoon dat hulle ’n verantwoordelikheid gehad het om ’n antwoord te gee op die vraag: Wie is die ware God? Hy het gesê: ‘Júlle is my getuies, . . . en my kneg wat Ek uitverkies het, sodat julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is—voor My is geen God geformeer nie, en ná My sal daar geeneen wees nie. Ek, Ek is Jehovah en daar is geen Heiland buiten My nie. Ék het verkondig en verlos en dit laat hoor, en daar was geen ander god onder julle nie; en julle is my getuies, spreek Jehovah, en Ek is God.’—Jes. 43:10-12.

Jehovah se volk Israel het dus ’n nasie van getuies uitgemaak. Hulle kon Jehovah se regmatige, waardige soewereiniteit nadruklik bevestig. Op grond van hulle vorige ondervindinge kon hulle met oortuiging verkondig dat Jehovah die Groot Verlosser van sy volk en die God van ware profesie is.

Getuienis aangaande die Messias

Ondanks die oorvloedige getuienis van daardie ‘wolkmassa’ van voor-Christelike getuies was God se kant van die geskille nie geheel en al besleg nie. Waarom nie? Omdat Jehovah, op God se vasgestelde tyd, wanneer daar duidelik bewys is dat mense Jehovah se heerskappy nodig het en dat hulle nie met welslae op hulle eie kan regeer nie, almal moet oordeel wat weier om sy regmatige gesag te respekteer. Daarbenewens reik die geskille wat geopper is baie verder as die mensesfeer. Aangesien ’n engel in Eden in opstand gekom het, het die kwessie van onkreukbaarheid teenoor God se soewereiniteit ook God se hemelse skepsele geraak en ingesluit. Daarom was dit Jehovah se voorneme dat ’n geesseun na die aarde moes kom, waar Satan die volle geleentheid sou hê om hom op die proef te stel. Daardie geesseun sou die geleentheid gegee word om ’n volmaakte antwoord te gee op die vraag: Sal enigiemand aan God getrou bly, ongeag watter beproewinge oor hom gebring word? Wanneer hy sy lojaliteit so bewys het, sal hierdie seun van God die mag as Jehovah se groot verdediger gegee word, wat die goddeloses sal vernietig en God se oorspronklike voorneme ten opsigte van die aarde ten volle sal vervul.

Maar hoe sou hierdie een uitgeken kon word? In Eden het Jehovah ’n “saad” belowe wat die slangagtige Teenstander se kop sou verbrysel en God se soewereiniteit sou regverdig (Gen. 3:15). Deur die Hebreeuse profete het Jehovah baie besonderhede in verband met daardie Messiaanse “saad” voorsien—sy agtergrond en bedrywighede en selfs die tyd wanneer hy sou verskyn.—Gen. 12:1-3; 22:15-18; 49:10; 2 Sam. 7:12-16; Jes. 7:14; Dan. 9:24-27; Miga 5:1.

Teen die middel van die vyfde eeu v.G.J., toe die Hebreeuse Geskrifte voltooi is, was die profesieë reeds opgeteken en is daar gewag op die koms van die Messias om hulle te vervul. Die getuienis van hierdie getuie—trouens, God se grootste getuie—sal in die volgende hoofstuk bespreek word.

[Voetnoot]

a Byvoorbeeld: Party eerste-eeuse Christene kon van geskiedkundige feite aangaande Jesus getuig—oor sy lewe, dood en opstanding—omdat hulle eerstehandse kennis daarvan gehad het (Hand. 1:21, 22; 10:40, 41). Maar mense wat later geloof in Jesus gestel het, kon getuienis aflê deur aan ander te verkondig wat sy lewe, dood en opstanding beteken het.—Hand. 22:15.

[Lokteks op bladsy 11]

Mense kan kies of hulle by Jehovah se soewereiniteit wil baat vind. Maar hulle moet eers daarvan hoor

[Lokteks op bladsy 13]

Abel was die eerste getuie van Jehovah

[Lokteks op bladsy 14]

Henog het getuig oor God se oordeel teen die goddeloses

[Lokteks op bladsy 17]

Jehovah het dit aan ’n hele nasie duidelik gestel wat hulle verantwoordelikheid as sy getuies was

[Lokteks op bladsy 18]

“Júlle is my getuies, . . . en Ek is God”

[Prent op bladsy 10]

Die gebeurtenisse in Eden het belangrike geskille geopper: Is Jehovah se soewereiniteit regverdig? Sal sy skepsele aan hom getrou wees?

[Prent op bladsy 15]

Noag was ’n prediker van geregtigheid voordat God die wêreld deur middel van ’n vloed vernietig het

[Prent op bladsy 16, 17]

Moses en Aäron het kragtig van Jehovah se godheid vir Farao getuig

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel