Hoofstuk 13
Herken aan ons gedrag
ONS lewe in ’n tydperk waarin sedelike standaarde wat lank gerespekteer is deur groot gedeeltes van die mensdom verwerp word. Die meeste godsdienste van die Christendom het hulle voorbeeld gevolg, óf uit sogenaamde verdraagsaamheid óf met die argument dat die tye verander het en dat die taboes van vroeëre geslagte nie meer geld nie. Wat die gevolge betref, het Samuel Miller, ’n dekaan aan die Harvard- Teologiese Fakulteit, gesê: “Die kerk neem eenvoudig nie die leiding nie. Hy het die kultuur van ons tyd geneem en geabsorbeer.” Dit het die lewe verwoes van diegene wat op hierdie kerke vir leiding vertrou het.
Daarenteen het die L’Eglise de Montréal, die weekblad van die Katolieke aartsbisdom van Montreal, Kanada, die volgende oor Jehovah se Getuies gesê: “Hulle het buitengewone sedelike waardes.” Talle onderwysers, werkgewers en staatsamptenare stem hiermee saam. Waaraan kan hierdie reputasie toegeskryf word?
Om een van Jehovah se Getuies te wees, behels baie meer as om aan ’n sekere raamwerk van leerstellige opvattinge te glo en hierdie opvattinge aan ander te verkondig. Die vroeë Christelike geloof het as “die Weg” bekend gestaan, en Jehovah se Getuies besef dat die ware godsdiens vandag ’n leefwyse moet wees (Hand. 9:2). Maar soos in die geval van ander dinge het die hedendaagse Getuies nie onmiddellik ’n gebalanseerde begrip gehad van wat dit behels nie.
“Karakter of verbond—Watter?”
Hoewel hulle begin het met gesonde skriftuurlike raad oor die noodsaaklikheid daarvan om soos Christus te wees, het die klem wat sommige vroeë Bybelstudente op sogenaamde “karakterontwikkeling” gelê het sekere aspekte van ware Christelikheid op die agtergrond gedruk. Party het skynbaar gedink dat as hulle lieftallig is—altyd vriendelik en gaaf optree, sag praat, nie wys dat hulle kwaad is nie, die Skrif daagliks lees—dit sou waarborg dat hulle hemel toe gaan. Maar hulle het die feit uit die oog verloor dat Christus sy volgelinge ’n werk gegee het om te doen.
Hierdie saak is onomwonde reggestel in die artikel “Karakter of verbond—Watter?” in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Mei 1926.a Dit het getoon dat pogings om ’n “volmaakte karakter” te ontwikkel terwyl ’n mens in die vlees is daartoe gelei het dat sommige mismoedig geraak en opgegee het, terwyl dit terselfdertyd ’n “Farisese” gesindheid by ander laat posvat het en hulle die waarde van Christus se offerande uit die oog laat verloor het. Nadat die artikel geloof in Christus se vergote bloed beklemtoon het, het dit beklemtoon hoe belangrik dit is om ‘dinge te doen’ deur bedrywig te wees in God se diens en sodoende te bewys dat jy ’n weg volg wat God behaag (2 Pet. 1:5-10). Destyds, toe ’n groot deel van die Christendom nog voorgegee het dat hulle die sedelike standaarde van die Bybel volg, het hierdie klem op bedrywigheid die kontras tussen Jehovah se Getuies en die Christendom duideliker gemaak. Die kontras het selfs duideliker geword namate almal wat bely het dat hulle Christene is te staan gekom het voor sedelike geskille wat iets algemeens geword het.
‘Onthou julle van die hoerery’
Die Christelike standaard met betrekking tot geslagsedelikheid is lank gelede in verstaanbare taal in die Bybel uiteengesit. “Dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery . . . Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie ’n mens nie, maar God” (1 Thess. 4:3-8). “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Hebr. 13:4). “Weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders . . . of egbrekers of wellustelinge of sodomiete . . . sal die koninkryk van God beërwe nie.”—1 Kor. 6:9, 10.
Die aandag is reeds in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) vir November 1879 op hierdie standaard vir ware Christene gevestig. Maar dit is nie herhaaldelik of breedvoerig bespreek asof dit ’n groot probleem onder die vroeë Bybelstudente was nie. Namate die wêreld se gesindheid egter permissiewer begin raak het, is die aandag al hoe meer op hierdie vereiste gevestig, veral gedurende die jare voor en ná die Tweede Wêreldoorlog. Dit was nodig, aangesien sommige onder Jehovah se Getuies gemeen het dat ’n bietjie losheid wat geslagsedelikheid betref iets persoonliks was solank hulle net in die predikingswerk besig gebly het. Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Maart 1935 het weliswaar duidelik gesê dat deelname aan die velddiens nie onsedelike gedrag veroorloof nie. Maar nie almal het dit ter harte geneem nie. Die Wagtoring het die saak dus weer in sy nommer van 15 Augustus 1941 (Engelse uitgawe, 15 Mei 1941) in ’n taamlik breedvoerige artikel met die titel “Noag se dag” bespreek. Dit het getoon dat die seksuele losbandigheid in Noag se dag een rede was waarom God die wêreld destyds vernietig het, en dit het getoon dat wat God toe gedoen het ’n voorbeeld gestel het van wat hy in ons dag sou doen. Dit het onomwonde gewaarsku dat ’n kneg van God wat sy onkreukbaarheid handhaaf nie ’n gedeelte van sy dag daaraan kon bestee om die Here se wil te doen en hom dan daarna met “die werke van die vlees” kon besig hou nie (Gal. 5:17-21). Dit is gevolg deur nog ’n artikel, in Die Wagtoring van 1 November 1942 (Engelse uitgawe, 1 Julie 1942), wat gedrag veroordeel het wat nie in ooreenstemming met die Bybel se sedelike standaarde vir ongetroudes en getroudes was nie. Niemand moes dink dat deelname aan die openbare verkondiging van die Koninkryksboodskap as een van Jehovah se Getuies losbandigheid veroorloof nie (1 Kor. 9:27). Daar is mettertyd selfs strenger maatreëls getref om die sedelike reinheid van die organisasie te waarborg.
Sommige wat destyds die begeerte uitgespreek het om Getuies van Jehovah te wees, het in gebiede grootgeword waar proefhuwelike aanvaarbaar was, waar geslagsomgang tussen verloofdes toegelaat is of waar ooreenkomsverhoudings tussen mense wat nie met mekaar getroud was nie as normaal beskou is. ’n Paar egpare het probeer om hulle van geslagsomgang te onthou. Ander persone het, hoewel hulle nie geskei was nie, die onverstandige weg gevolg deur uitmekaar te gaan. Om die nodige leiding te gee, het Die Wagtoring in die vyftigerjare al hierdie situasies in oënskou geneem, huweliksverantwoordelikhede bespreek, die Bybel se verbod op hoerery beklemtoon en verduidelik wat hoerery is, sodat daar geen onduidelikheid sou wees nie.b—Hand. 15:19, 20; 1 Kor. 6:18.
Op plekke waar mense wat met Jehovah se organisasie begin omgaan het nie die Bybel se sedelike standaarde ernstig opgeneem het nie, is spesiale aandag aan die saak geskenk. Toe N. H. Knorr, die Wagtoringgenootskap se derde president, in 1945 in Costa Rica was, het hy gevolglik ’n toespraak oor Christelike sedelikheid gehou waarin hy gesê het: “Ek wil vir almal van julle hier vanaand wat met ’n vrou saamleef maar nog nie wettig getroud is nie ’n bietjie raad gee. Gaan na die Katolieke Kerk en sluit by hulle aan, want julle kan dié soort ding daar beoefen. Maar hierdie is God se organisasie, en julle kan dié soort ding nie hier beoefen nie.”
Aan die begin van die sestigerjare, toe homoseksuele hulle gebruike meer openlik begin beoefen het, het baie kerke die saak bespreek en hulle toe as lidmate aanvaar. Sommige kerke orden homoseksuele nou selfs tot geestelikes. Die publikasies van Jehovah se Getuies het ook hierdie vraagstukke bespreek om opregte mense te help wat vrae hieroor gehad het. Maar onder die Getuies was daar nooit enige onsekerheid oor hoe homoseksualiteit beskou sou word nie. Waarom nie? Omdat hulle nie die Bybel se vereistes beskou asof dit bloot die menings van mense uit ’n ander tydperk is nie (1 Thess. 2:13). Hulle hou graag Bybelstudies met homoseksuele sodat hulle Jehovah se vereistes kan leer, en hulle kan die vergaderinge van die Getuies bywoon om te luister, maar niemand wat aanhou om homoseksualiteit te beoefen, kan een van Jehovah se Getuies wees nie.—1 Kor. 6:9-11; Jud. 7.
Geslagsomgang tussen ongetroude jongmense het in onlangse jare iets baie algemeens in die wêreld geword. Jongmense in die gesinne van Jehovah se Getuies het die druk gevoel, en sommige het begin om die gebruike van die wêreld om hulle te volg. Hoe het die organisasie hierdie situasie hanteer? Artikels wat daarop gemik was om ouers en jongmense te help om ’n skriftuurlike beskouing van dinge te hê, het in Die Wagtoring en die Ontwaak! verskyn. Dramas wat op werklike gebeure gegrond was, is by byeenkomste opgevoer om almal te help om bewus te wees van die wrange vrugte wat ’n mens pluk wanneer jy die Bybel se sedelike standaarde en die voordele van gehoorsaamheid aan God se gebooie verwerp. Een van die eerste van hierdie dramas is in 1969 opgevoer, naamlik: “Die weg van die onafhanklike lê met dorings en distels besaai.” Spesiale boeke is voorberei om jongmense te help om die wysheid van Bybelraad te waardeer. Onder hulle was Jou jeug—Hoe om dit ten beste te benut (wat in 1976 [in Engels] uitgegee is) en Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk (wat in 1989 uitgegee is). Plaaslike ouere manne het individue en gesinne geestelik gehelp. Die gemeentes van Jehovah se Getuies is ook deur die uitsetting van onberouvolle sondaars beskerm.
Die wêreld se sedebederf het nie tot ’n permissiewer beskouing onder Jehovah se Getuies gelei nie. Inteendeel, die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies lê al hoe meer klem op die noodsaaklikheid daarvan om nie net ongeoorloofde geslagsdade te vermy nie, maar ook invloede en situasies wat sedelike waardes afbreek. Gedurende die afgelope drie dekades het hulle onderrig voorsien om mense te versterk teen “geheime sondes” soos masturbasie en om hulle bewus te maak van die gevaar van pornografie, seepoperas en musiek met ’n verderflike uitwerking. Hoewel die wêreld se sedelike standaarde dus afwaarts neig, neig dié van Jehovah se Getuies opwaarts.
Gesinslewe gerig deur Goddelike standaarde
Die gesinslewe onder Jehovah se Getuies is grootliks bevoordeel deur hulle stipte gehoorsaamheid aan die Bybel se standaard van geslagsedelikheid. Maar die feit dat ’n mens een van Jehovah se Getuies is, is nie ’n waarborg dat jy nie gesinsprobleme sal ondervind nie. Die Getuies is nietemin oortuig dat God se Woord die heel beste raad gee oor hoe om sulke probleme die hoof te bied. Die organisasie het vir hulle baie hulpmiddele beskikbaar gestel om hulle te help om daardie raad toe te pas; en wanneer hulle dit toepas, strek die resultate hulle inderdaad tot voordeel.
Die sesde deel van Studies in the Scriptures het in 1904 reeds ’n breedvoerige bespreking oor huweliksverantwoordelikhede en ouerlike pligte bevat. Sedertdien is honderde artikels gepubliseer en talle toesprake in alle gemeentes van Jehovah se Getuies gehou om elke gesinslid te help om sy godgegewe rol te verstaan. Hierdie onderrig in opbouende gesinslewe is nie net iets vir pasgetroudes nie, maar is ’n voortdurende program vir die hele gemeente.—Ef. 5:22–6:4; Kol. 3:18-21.
Sou poligamie aanvaar word?
Hoewel gebruike met betrekking tot die huwelik en die gesinslewe van die een land tot die ander verskil, besef Jehovah se Getuies dat die standaarde wat in die Bybel uiteengesit word oral geld. Namate die Getuies se werk in hierdie 20ste eeu in Afrika op dreef gekom het, het hulle daar, soos hulle dit oral doen, geleer dat die Christenhuwelik net een huweliksmaat toelaat (Matt. 19:4, 5; 1 Kor. 7:2; 1 Tim. 3:2). Tog was daar honderde wat die Bybel se blootlegging van afgodediens aanvaar het en met vreugde Jehovah se Getuies se boodskap oor God se Koninkryk aangeneem het, maar wat gedoop is sonder dat hulle poligamie opgegee het. Om hierdie situasie reg te stel, het Die Wagtoring van 15 Mei 1947 (Engelse uitgawe, 15 Januarie 1947) beklemtoon dat die ware Christelike godsdiens glad nie poligamie toelaat nie, ongeag wat die plaaslike gebruik is. ’n Brief wat aan die gemeentes gestuur is, het almal wat bely het dat hulle Jehovah se Getuies is, maar wat poligamiste was, in kennis gestel dat hulle ses maande gegee sou word om hulle huweliksake in ooreenstemming met die Bybelstandaard te bring. Dit is beklemtoon deur ’n toespraak wat broer Knorr gehou het toe hy Afrika daardie selfde jaar besoek het.
In Nigerië het heelparty wêreldse mense voorspel dat pogings om poligamie onder Jehovah se Getuies af te skaf die einde van die Getuies daar sou beteken. En dit is waar dat nie alle poligamiste wat vroeër as Getuies gedoop is selfs in 1947 die nodige veranderinge aangebring het nie. Asuquo Akpabio, ’n reisende opsiener, vertel byvoorbeeld dat ’n Getuie by wie hy in Ifiayong gebly het hom om middernag wakker gemaak en geëis het dat hy die aankondiging oor verpligte monogamie terugtrek. Omdat hy geweier het om dit te doen, het sy gasheer hom daardie nag in die gietende reën uitgegooi.
Maar liefde vir Jehovah het ander die nodige krag gegee om sy gebooie te gehoorsaam. Hier is net ’n paar van hulle. In Zaïre het ’n man wat ’n Katoliek sowel as ’n poligamis was twee van sy vrouens weggestuur sodat hy een van Jehovah se Getuies kon word, hoewel dit ’n baie groot toets vir sy geloof was om die een weg te stuur wat hy die liefste gehad het omdat sy nie ‘die vrou van sy jeug’ was nie (Spr. 5:18). In Dahomey (nou Benin) het ’n voormalige Metodis wat steeds vyf vrouens gehad het baie moeilike wetlike struikelblokke oorkom om die nodige egskeidings te verkry sodat hy gedoop kon word. Hy het nietemin aangehou om vir sy vorige vrouens en hulle kinders te sorg, net soos ander wat hulle byvrouens weggestuur het. Warigbani Whittington, ’n Nigeriër, was die tweede van haar man se twee vrouens. Toe sy besluit het dat dit vir haar die heel belangrikste is om Jehovah, die ware God, te behaag, het sy voor die woede van haar man en toe dié van haar eie familie te staan gekom. Haar man het haar en haar twee kinders laat gaan, maar sonder geldelike hulp—nie eers vir vervoer nie. Tog het sy gesê: ‘Nie een van die materiële voordele wat ek agtergelaat het, kan vergelyk word met die feit dat ek Jehovah behaag nie.’
Wat van egskeiding?
Poligamie is nie iets algemeens in Westerse lande nie, maar ander onskriftuurlike gesindhede is daar aan die orde van die dag. Een hiervan is die idee dat dit beter is om ’n egskeiding te verkry as om ongelukkig getroud te wees. In onlangse jare het sommige van Jehovah se Getuies begin om hierdie gesindheid na te volg en ’n egskeiding aan te vra weens “onverenigbaarheid van geaardhede”. Hoe het die Getuies hierdie situasie hanteer? ’n Kragtige onderrigtingsveldtog oor Jehovah se beskouing van egskeiding word deurentyd deur die organisasie gevoer tot voordeel van dié wat al lank Getuies is sowel as die honderdduisende wat elke jaar by hulle geledere aansluit.
Op watter Bybelriglyne het Die Wagtoring die aandag gevestig? Onder andere die volgende: In die Bybelverslag oor die eerste mensehuwelik is die eenheid van die man en vrou beklemtoon; dit sê: ‘’n Man moet sy vrou aankleef en hulle moet een vlees wees’ (Gen. 2:24). Later, in Israel, het die Wet egbreuk verbied en beveel dat enigiemand wat daaraan skuldig was die doodstraf moes kry (Deut. 22:22-24). Egskeiding op ander gronde as egbreuk is toegelaat, maar net ‘weens die hardheid van hulle harte’, soos Jesus verduidelik het (Matt. 19:7, 8). Hoe het Jehovah dit beskou as iemand sy huweliksmaat verstoot het om met iemand anders te trou? Maleagi 2:16 sê: “Ek haat egskeiding.” Tog het hy diegene wat ’n egskeiding verkry het, toegelaat om in die gemeente van Israel te bly. As hulle daar wel die dissipline aanvaar het wat Jehovah sy volk gegee het, kon hulle hart van klip moontlik mettertyd deur ’n sagter hart vervang word, ’n hart wat ware liefde vir sy weë kon openbaar.—Vergelyk Esegiël 11:19, 20.
Die Wagtoring het al dikwels gesê dat Jesus, toe hy oor egskeiding gepraat het soos dit in eertydse Israel beoefen is, getoon het dat ’n hoër standaard onder sy volgelinge ingestel sou word. Hy het gesê dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe op grond van hoerery (por·neiʹa, “onwettige geslagsomgang”), en met iemand anders trou egbreuk pleeg; en selfs al trou hy nie weer nie, sou hy maak dat sy vrou egbreuk pleeg (Matt. 5:32; 19:9). Die Wagtoring het dus getoon dat enige egskeiding vir Christene iets baie ernstigers is as wat dit in Israel was. Hoewel die Skrif nie sê dat elkeen wat skei uit die gemeente gesit moet word nie, word diegene wat boonop egbreuk pleeg en nie berou toon nie deur die gemeentes van Jehovah se Getuies uitgesit.—1 Kor. 6:9, 10.
Daar het in onlangse jare revolusionêre veranderinge plaasgevind in die wêreld se gesindhede ten opsigte van die huwelik en gesinslewe. Jehovah se Getuies bly ten spyte hiervan by God, die Insteller van die huwelik, se standaarde soos dit in die Bybel uiteengesit is. Hulle gebruik daardie riglyne en probeer opregte mense help om die moeilike omstandighede waarin so baie hulle bevind die hoof te bied.
Baie van dié wat Bybelonderrig by Jehovah se Getuies ontvang het, het gevolglik dramatiese veranderinge in hulle lewe aangebring. Mans wat eers vroueslaners was, mans wat nie hulle verantwoordelikhede wou nakom nie, mans wat materieel vir hulle gesin gesorg het, maar nie emosioneel en geestelik nie—baie duisende van hulle het liefdevolle mans en vaders geword wat goed na hulle huisgesin omsien. Vrouens wat uiters onafhanklik was, vrouens wat hulle kinders verwaarloos het en hulleself nie versorg of hulle huis netjies gehou het nie—baie van hulle het vrouens geword wat hoofskap respekteer en ’n weg volg wat daartoe lei dat hulle mans en hulle kinders hulle innig liefhet. Jongmense wat skaamteloos aan hulle ouers ongehoorsaam was en oor die algemeen teen die samelewing in opstand gekom het, jongmense wat hulle eie lewe geruïneer het deur hulle optrede en sodoende hulle ouers groot hartseer besorg het—baie van hulle het ’n godvrugtige doel in die lewe begin nastreef, en dit het gehelp om hulle persoonlikheid te verander.
’n Belangrike voorvereiste vir sukses in die gesinskring is natuurlik om eerlik met mekaar te wees. Eerlikheid is ook noodsaaklik in ander verhoudinge.
Hoe verreikend is die vereiste om eerlik te wees?
Jehovah se Getuies besef dat hulle eerlik moet wees in alles wat hulle doen. As grondslag vir hulle beskouing gebruik hulle tekste soos die volgende: Jehovah self is “die God van waarheid” (Ps. 31:5, NW). Daarenteen is die Duiwel, soos Jesus gesê het, ‘die vader van die leuen’ (Joh. 8:44). Dit is dus begryplik dat “’n leuenagtige tong” een van die dinge is wat Jehovah haat (Spr. 6:16, 17). Sy Woord sê vir ons: “Lê die leuen af en spreek die waarheid” (Ef. 4:25). En Christene moet nie net die waarheid spreek nie, maar hulle moet, soos die apostel Paulus, ‘hulle in alle dinge eerlik gedra’ (Hebr. 13:18, NW). Jehovah se Getuies kan op geen lewensterreine tereg ’n ander waardestelsel toepas nie.
Toe Jesus die tollenaar Saggeüs aan huis besoek het, het die man erken dat sy sakegebruike verkeerd was en het hy stappe gedoen om vir sy vroeëre dade van afpersing te vergoed (Luk. 19:8). Sommige wat in onlangse jare met Jehovah se Getuies begin omgaan het, het soortgelyke stappe gedoen sodat hulle ’n skoon gewete voor God kan hê. In Spanje het ’n verstokte dief byvoorbeeld die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Sy gewete het hom spoedig begin pla; hy het dus gesteelde goedere aan sy vorige werkgewer en sy bure teruggegee en ander artikels na die polisie geneem. Hy moes ’n boete betaal en ’n kort vonnis in die gevangenis uitdien, maar nou het hy ’n skoon gewete. In Engeland het ’n voormalige diamantdief ná net twee maande van Bybelstudie saam met een van Jehovah se Getuies hom tot die polisie se verbasing oorgegee; hulle het toe reeds ses maande na hom gesoek. Gedurende die twee en ’n half jaar wat hy daarna in die gevangenis was, het hy die Bybel ywerig bestudeer en geleer om Bybelwaarhede aan ander te verkondig. Ná sy vrylating het hy hom as een van Jehovah se Getuies laat doop.—Ef. 4:28.
Jehovah se Getuies is baie bekend vir hulle eerlikheid. Werkgewers het al uitgevind dat Getuies nie alleen nie by hulle sal steel nie, maar dat hulle nie leuens sal vertel of gegewens sal vervals wanneer hulle werkgewers dit van hulle verwag nie—nee, nie eers wanneer hulle gedreig word dat hulle hulle werk sal verloor nie. Dit is vir Jehovah se Getuies baie belangriker om ’n goeie verhouding met God te hê as om die goedkeuring van enige mens weg te dra. En hulle besef dat alles, ongeag waar hulle is of wat hulle doen, “oop en bloot [is] voor die oë van Hom met wie ons te doen het”.—Hebr. 4:13; Spr. 15:3.
Die koerant La Stampa het in Italië oor Jehovah se Getuies gesê: “Hulle woorde strook met hulle dade . . . Die morele ideale van naasteliefde, magsweiering, niegewelddadigheid en persoonlike eerlikheid (wat vir die meeste Christene ‘Sondagreëls’ is wat slegs goed is vir preke van die kansel af) maak deel van hulle ‘daaglikse’ lewenswyse uit.” En in die Verenigde State het Louis Cassels, die godsdiensredakteur vir die United Press International, Washington, DC, geskryf: ‘Getuies staan met groot getrouheid by hulle oortuiging, selfs al kom dit hulle baie duur te staan.’
Waarom dobbelary nie ’n kwessie onder hulle was nie
Eerlikheid is in die verlede gewoonlik vereenselwig met gewilligheid om hard te werk. Die gemeenskap het oor die algemeen neergesien op dobbelary, dit wil sê, om ’n som geld te verwed op die uitslag van ’n spel of iets anders. Maar namate ’n selfsugtige word-ryk-gesindheid in die 20ste eeu begin posvat het, het dobbelary—wettig en onwettig—iets algemeens geword. Dit word nie net deur die onderwêreld bevorder nie, maar dikwels ook deur kerke en sekulêre regerings met die doel om geld in te samel. Hoe het Jehovah se Getuies hierdie verandering van gesindheid in die gemeenskap die hoof gebied? Op grond van Bybelbeginsels.
Soos daar al in hulle publikasies getoon is, is daar geen spesifieke gebod in die Bybel wat sê: Jy mag nie dobbel nie. Maar ’n mens pluk altyd net wrange vrugte as jy dobbel, en hierdie vrugte word al ’n halwe eeu lank deur Die Wagtoring en die Ontwaak! blootgelê. Daarbenewens het hierdie tydskrifte getoon dat dobbelary, in watter vorm ook al, gesindhede behels waarteen die Bybel waarsku. Byvoorbeeld, geldgierigheid: “Die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels” (1 Tim. 6:10). En selfsug: “Jy moenie selfsugtig ’n sterk begeerte hê na . . . iets wat aan jou naaste behoort nie.” (Deut. 5:21, NW; vergelyk 1 Korinthiërs 10:24.) Ook gierigheid: ‘Moenie omgaan met iemand wat, al staan hy as ’n broeder bekend, ’n gierigaard is nie’ (1 Kor. 5:11). Daarbenewens waarsku die Bybel daarteen om op “Geluk” staat te maak asof dit die een of ander bonatuurlike mag is wat gunste aan ons kan bewys (Jes. 65:11, NW). Omdat Jehovah se Getuies hierdie skriftuurlike waarskuwings ter harte neem, dobbel hulle glad nie. En sedert 1976 wend hulle ’n spesiale poging aan om niemand in hulle geledere te hê wie se sekulêre werk hulle duidelik as deel van ’n dobbelinrigting identifiseer nie.
Dobbelary was nog nooit werklik ’n kwessie onder Jehovah se Getuies nie. Hulle weet dat pleks van ’n gees van wins ten koste van ander te bevorder, moedig die Bybel hulle aan om met hulle hande te werk, om getrou om te sien na wat aan hulle toevertrou is, om vrygewig te wees en mededeelsaam teenoor diegene wat gebrek ly (Ef. 4:28; Luk. 16:10; Rom. 12:13; 1 Tim. 6:18). Is dit opvallend vir ander wat met hulle te doen kry? Ja, veral diegene met wie hulle sake doen. Dit is niks ongewoons dat sekulêre werkgewers Getuies van Jehovah soek om vir hulle te werk nie omdat hulle weet dat Jehovah se Getuies pligsgetrou en betroubaar is. Hulle besef dat dit die Getuies se godsdiens is wat hulle maak wat hulle is.
Wat van tabak en dwelms?
Die Bybel maak nie melding van tabak of van die baie ander dwelms wat vandag misbruik word nie. Maar dit verskaf wel riglyne wat Jehovah se Getuies help om vas te stel watter optrede God behaag. Die Wagtoring (Engelse uitgawe) het dus reeds in 1895, waar dit oor die gebruik van tabak gepraat het, die aandag op 2 Korinthiërs 7:1 gevestig wat sê: “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.”
Daardie raad was jare lank voldoende. Maar namate tabakmaatskappye advertensies begin gebruik het om die rookgewoonte aantreklik te maak en toe die misbruik van “onwettige” dwelms iets algemeens geword het, was meer nodig. Ander Bybelbeginsels is beklemtoon: respek vir Jehovah, die Gewer van lewe (Hand. 17:24, 25); naasteliefde (Jak. 2:8) en die feit dat iemand wat nie sy medemens liefhet het nie, God nie werklik liefhet nie (1 Joh. 4:20); asook gehoorsaamheid aan sekulêre heersers (Tit. 3:1). Daar is getoon dat die Griekse woord phar·ma·kiʹa, wat basies “die gebruik van dwelms” beteken, deur Bybelskrywers gebruik is wanneer hulle van “towery” gepraat het, vanweë die gebruik van dwelms in spiritistiese gebruike.—Gal. 5:20.
Die Vertroosting het in 1946 getoon hoe oneerlik sigaretadvertensies dikwels is, aangesien mense betaal word om te sê hoe wonderlik dit is om te rook. Namate wetenskaplike bewyse beskikbaar gekom het, het die Vertroosting se opvolger, die Ontwaak!, ook bewyse gepubliseer dat tabakgebruik kanker, hartkwaal en skade aan die ongebore kind van ’n swanger vrou veroorsaak en nierokers benadeel wat gedwing word om rookgevulde lug in te asem, sowel as bewyse dat nikotien verslawend is. Die aandag is gevestig op die bedwelmende uitwerking van dagga en op bewyse dat dit tot breinskade kan lei. Die ernstige gevare van ander verslawende dwelms is ook herhaaldelik tot voordeel van die lesers van die Wagtoringpublikasies bespreek.
Lank voor regeringsinstellings dit eens was oor die mate waarin hulle mense teen die nadelige gevolge van tabakgebruik moet waarsku, het Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Maart 1935 dit duidelik gestel dat niemand wat tabak gebruik ’n lid van die hoofkwartierpersoneel van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap of een van sy aangestelde verteenwoordigers kan wees nie. Nadat al die knegte in die gemeentes van Jehovah se Getuies deur die Genootskap aangestel is (’n reëling waarmee daar in 1938 begin is), het Die Wagtoring van 1 November 1942 (Engelse uitgawe, 1 Julie 1942) gesê dat die verbod op tabakgebruik ook vir al hierdie aangestelde knegte geld. In sommige gebiede het daar ’n hele aantal jare verloop voordat dit ten volle toegepas is. Maar die meeste Getuies van Jehovah het gunstig gereageer op die skriftuurlike raad en die goeie voorbeeld van diegene wat die leiding onder hulle geneem het.
As ’n verdere stap om daardie Bybelraad konsekwent toe te pas, is niemand wat nog gerook het van 1973 af toegelaat om gedoop te word nie. Gedurende die daaropvolgende maande is diegene wat betrokke was by die verbouing van tabak of die bevordering van tabakverkope gehelp om te besef dat hulle nie daarmee kon aanhou en as Getuies van Jehovah aanvaar kon word nie. Die raad van God se Woord moet konsekwent in elke aspek van die lewe toegepas word. Hierdie toepassing van Bybelbeginsels op die gebruik van tabak, dagga en die sogenaamd harde dwelms beskerm die Getuies. Hulle kon ook met behulp van die Skrif baie duisende mense help wie se lewe deur dwelmmisbruik verwoes is.
Is alkoholiese drank anders?
Die Wagtoringpublikasies het nie die standpunt ingeneem dat alkoholiese drank dieselfde as dwelmmisbruik is nie. Waarom nie? Hulle verduidelik: Die Skepper weet hoe ons gemaak is, en sy Woord veroorloof die matige gebruik van alkohol (Ps. 104:15; 1 Tim. 5:23). Maar die Bybel waarsku ook teen strawwe drinkery, en dit veroordeel dronkenskap ten sterkste.—Spr. 23:20, 21, 29, 30; 1 Kor. 6:9, 10; Ef. 5:18.
Omdat die oormatige inname van sterk drank die lewe van baie mense verwoes het, was Charles Taze Russell self ten gunste van geheelonthouding. Maar hy het erken dat Jesus wel wyn gedrink het. Daar was gedurende die 19de eeu en aan die begin van die 20ste eeu baie openbare veldtogte dat drank in die Verenigde State verbied moet word. Die Wagtoring het vryelik gesimpatiseer met diegene wat die skade wat drank veroorsaak, probeer bekamp het, maar hulle het nie deelgeneem aan die veldtog om ’n drankverbod uitgevaardig te kry nie. Maar die tydskrif het baie duidelik getoon watter skade die oormatige gebruik van drank kan doen en het dikwels gesê dat dit beter is om wyn en drank heeltemal te vermy. Diegene wat gemeen het dat hulle sterk drank matig kon gebruik, is aangespoor om Romeine 14:21 in gedagte te hou waar dit sê: “Dit is goed om geen vleis te eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot neem of struikel, of waarin hy swak is nie.”
Maar toe die superintendent van die Bond vir die Bestryding van Drankgebruik in die Verenigde State hom in 1930 aangematig het om in die openbaar te sê dat sy organisasie “uit God gebore is”, het J. F. Rutherford, wat destyds die president van die Wagtoringgenootskap was, van die geleentheid gebruik gemaak om toesprake oor die radio te hou wat getoon het dat so ’n bewering godslasterlik is. Waarom? Omdat God se Woord nie alle gebruik van wyn verbied nie; omdat die drankverbod nie dronkenskap, iets wat God veroordeel, beëindig het nie; en omdat die drankverbod tot ’n teenreaksie van dranksmokkelary en staatskorrupsie aanleiding gegee het.
Die gebruik van alkoholiese drank, of die onthouding daarvan, word as ’n persoonlike saak onder Jehovah se Getuies beskou. Maar hulle hou hulle by die skriftuurlike vereiste dat opsieners “matig in hulle gewoontes” moet wees (NW). Daardie uitdrukking is ’n vertaling van die Griekse ne·faʹli·on, wat letterlik beteken ‘nugter, matig; wat hom onthou van wyn, hetsy heeltemal of ten minste van die onmatige gebruik daarvan’. Bedieningsknegte moet ook mans wees wat ‘nie aan wyn verslaaf is nie’ (1 Tim. 3:2, 3, 8). Strawwe drinkers kwalifiseer dus nie vir spesiale diensvoorregte nie. Die feit dat diegene wat die leiding onder Jehovah se Getuies neem ’n goeie voorbeeld stel, gee hulle die vrymoedigheid van spraak om ander te help wat moontlik geneig is om op alkohol staat te maak om spanning die hoof te bied of wat inderdaad geheelonthouers moet wees om nugter te kan bly. Wat is die resultate?
’n Nuusberig uit suidelike Sentraal-Afrika sê byvoorbeeld: “Na wat berig word, is daardie gebiede waar Jehovah se Getuies die sterkste onder Afrikane staan nou gebiede wat oor die algemeen minder moeilikheid het. Hulle is beslis bedrywig teen agitators, toorkuns, dronkenskap en enige soort geweld.”—The Northern News (Zambië).
Nog ’n belangrike manier waarop die gedrag van Jehovah se Getuies van dié van die wêreld verskil, is met betrekking tot—
Respek vir lewe
Sulke respek is gewortel in die erkenning dat lewe ’n gawe van God is (Ps. 36:10; Hand. 17:24, 25). Dit behels ook die besef dat selfs die lewe van ongeborenes kosbaar in God se oë is (Ex. 21:22-25; Ps. 139:1, 16). Dit neem in aanmerking dat “elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap [sal] gee”.—Rom. 14:12.
Jehovah se Getuies het in ooreenstemming met hierdie Bybelbeginsels nog altyd kunsmatige aborsies verwerp. Om sy lesers van betroubare riglyne te voorsien, het die Ontwaak! hulle help besef dat sedelike reinheid ’n Goddelike vereiste is; dit het al die wonders van die voortplantingsproses sowel as die sielkundige en fisiologiese faktore wat by kindergeboorte betrokke is breedvoerig bespreek. Die Wagtoring het in die tydperk ná die Tweede Wêreldoorlog, toe aborsies algemener begin word het, duidelik getoon dat hierdie gebruik strydig met God se Woord is. Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 Desember 1969 het reguit gesê: “’n Aborsie net om van ’n ongewenste kind ontslae te raak, is dieselfde as om opsetlik ’n menselewe te neem.”
Waarom bloedoortappings geweier word
Die respek wat Jehovah se Getuies vir lewe toon, beïnvloed ook hulle gesindheid ten opsigte van bloedoortappings. Toe bloedoortappings ’n vraagstuk geword het, het Die Wagtoring van 1 Desember 1945 (Engelse uitgawe, 1 Julie 1945) breedvoerig verduidelik wat die Christelike beskouing oor die heiligheid van bloed is.c Dit het getoon dat die Goddelike verbod wat Noag en al sy nakomelinge opgelê is die bloed van diere sowel as dié van mense ingesluit het (Gen. 9:3-6). Dit het daarop gewys dat hierdie vereiste weer in die eerste eeu beklemtoon is toe Christene beveel is om hulle ‘van bloed te onthou’ (Hand. 15:28, 29). Daardie selfde artikel het duidelik uit die Skrif getoon dat God die gebruik van bloed nog altyd net vir offergawes goedgekeur het en, aangesien die diereoffers wat ingevolge die Mosaiese Wet geoffer is Christus se offer voorafgeskadu het, sou verontagsaming van die vereiste dat Christene hulle “onthou van bloed” ’n blyk van absolute minagting vir die losprysoffer van Jesus Christus wees (Lev. 17:11, 12; Hebr. 9:11-14, 22). In ooreenstemming met hierdie begrip van sake is almal wat die Goddelike vereiste geïgnoreer het, bloedoortappings aanvaar het en ’n onberouvolle gesindheid geopenbaar het van 1961 af uit die gemeentes van Jehovah se Getuies gesit.
Die fisiese newe-effekte van bloedoortappings is aanvanklik nie in die Wagtoringpublikasies bespreek nie. Later, toe sulke inligting beskikbaar gekom het, is dit ook gepubliseer—nie as die rede waarom Jehovah se Getuies bloedoortappings weier nie, maar om hulle waardering te vergroot vir die verbod wat God self op die gebruik van bloed geplaas het (Jes. 48:17). Daarom is die sorgvuldig gedokumenteerde boekie Blood, Medicine and the Law of God in 1961 uitgegee. In 1977 is nog ’n boekie gedruk. Hierdie boekie, Jehovah’s Witnesses and the Question of Blood, het weer eens beklemtoon dat die standpunt wat Jehovah se Getuies inneem godsdienstig van aard is, gegrond op wat die Bybel sê, en dat dit nie van mediese risikofaktore afhang nie. Die onderwerp is in 1990 verder bygewerk in die brosjure Hoe kan bloed jou lewe red? Jehovah se Getuies het hierdie publikasies al dikwels gebruik om die samewerking van dokters te probeer kry en om hulle te help om die Getuies se standpunt te verstaan. Maar medici het die gebruik van bloedoortappings baie jare lank hoog aangeslaan.
Hoewel Jehovah se Getuies vir dokters gesê het dat hulle geen godsdiensbeswaar teen alternatiewe behandeling het nie, was dit nie maklik om bloedoortappings te weier nie. Daar is dikwels groot druk op die Getuies en hulle gesinne uitgeoefen om in te stem tot wat op daardie tydstip as gebruiklike mediese behandeling beskou is. Die 45-jarige Ana Paz de Rosario het in November 1976 in Puerto Rico tot ’n operasie en die nodige medikasie ingestem, maar sy het gevra dat daar vanweë haar godsdiensoortuiging geen bloed gebruik word nie. Vyf polisiemanne en drie verpleegsters, gewapen met ’n hofbevel, het nietemin ná middernag na haar hospitaalkamer gegaan, haar aan die bed vasgebind en, in stryd met haar wense en dié van haar man en kinders, ’n bloedoortapping aan haar opgedwing. Sy het skok opgedoen en gesterf. Dit was geensins ’n alleenstaande geval nie, en dit is nie net in Puerto Rico dat sulke wandade voorgekom het nie.
In 1975 is Getuie-ouers in Denemarke deur die polisie vervolg omdat hulle geweier het om toe te laat dat ’n bloedoortapping aan hulle seuntjie opgedwing word en eerder alternatiewe behandeling gaan soek het. In 1982 is ’n egpaar in Italië, wat uit liefde in vier lande mediese hulp vir hulle ongeneeslike siek dogter gesoek het, op aanklag van moord tot 14 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat die meisie gesterf het terwyl sy weens ’n hofbevel ’n bloedoortapping ontvang het.
Die pers het die publiek al dikwels tot groot vyandigheid opgesweep in gevalle waar daar probeer is om oortappings aan die kinders van Jehovah se Getuies op te dwing. In sommige gevalle het regters, selfs sonder ’n wettige verhoor waar die ouers hulle saak kon stel, beveel dat die kinders oortappings moet ontvang. Maar in Kanada is meer as 40 van die kinders wat bloedoortappings ontvang het dood aan hulle ouers terugbesorg.
Nie alle dokters en regters is dit eens met hierdie eiemagtige metodes nie. Sommige het daarop begin aandring dat ’n hulpvaardiger gesindheid geopenbaar word. Party dokters het hulle vaardighede gebruik om mense sonder bloed te behandel. Hulle het gevolglik baie ondervinding opgedoen in alle soorte bloedlose chirurgie. Daar is gaandeweg getoon dat alle soorte chirurgie, op volwassenes sowel as kinders, met welslae sonder bloedoortappings uitgevoer kan word.d
Om onnodige konfrontasies tydens noodgevalle te voorkom, het Jehovah se Getuies aan die begin van die sestigerjare begin om spesiale besoeke aan hulle dokters te bring om hulle standpunt met hulle te bespreek en hulle van gepaste lektuur te voorsien. Later het hulle gevra dat ’n geskrewe verklaring in hulle mediese lêer geplaas word wat sê dat hulle nie ’n bloedoortapping mag ontvang nie. Teen die sewentigerjare het hulle almal begin om ’n kaart by hulle te dra wat mediese personeel waarsku dat hulle onder geen omstandighede ’n bloedoortapping moet ontvang nie. Nadat daar met dokters en regsverteenwoordigers beraadslaag is, is die kaart verander om dit ’n wettige dokument te maak.
Om Jehovah se Getuies te ondersteun in hierdie voorneme om te voorkom dat hulle bloedoortappings ontvang, om misverstande by dokters en hospitale uit die weg te ruim en om ’n beter gees van samewerking tussen mediese instansies en Getuiepasiënte te skep, is Hospitaalskakelkomitees onder leiding van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gestig. Hierdie komitees het van ’n handjievol in 1979 tot meer as 800 in meer as 70 lande toegeneem. Gekose ouere manne is opgelei en lewer so ’n diens in Noord-Amerika, die Verre-Ooste, vername lande van die Stille Suidsee, Europa en Latyns-Amerika. Hierdie ouere manne verduidelik nie net die standpunt van Jehovah se Getuies nie, maar hulle stel hospitaalpersoneel in kennis dat daar geldige alternatiewe vir bloedoortappings is. Tydens noodgevalle help hulle om afsprake te reël tussen huisdokters en chirurge wat al soortgelyke gevalle vir die Getuies sonder bloed hanteer het. Waar nodig, het hierdie komitees nie net hospitaalpersoneel besoek nie, maar ook regters wat betrokke was by sake waar hospitale ’n hofbevel vir bloedoortappings aangevra het.
Wanneer respek vir hulle godsdiensoortuiging oor die heiligheid van bloed nie op ander maniere verseker kon word nie, het Jehovah se Getuies al selfs hofsake teen dokters en hospitale gemaak. Hulle het gewoonlik net om ’n voorlopige hofbevel aansoek gedoen of ’n interdik ingedien. Maar in onlangse jare het hulle gedinge vir skadevergoeding aanhangig gemaak teen dokters en hospitale wat eiemagtig opgetree het. Die Appèlhof van Ontario in Kanada het in 1990 so ’n eis om skadevergoeding gehandhaaf omdat die dokter ’n kaart in die pasiënt se handsak geïgnoreer het wat duidelik gesê het dat die Getuie onder geen omstandighede ’n bloedoortapping sal aanvaar nie. In die Verenigde State is daar sedert 1985 ten minste tien sulke eise om skadevergoeding ingestel in verskeie dele van die land, en dié wat aangekla is, het dikwels besluit om eerder buite die hof vir ’n vasgestelde bedrag te skik as om voor ’n jurie te verskyn wat dalk groter skadevergoeding sal toeken. Jehovah se Getuies is heeltemal vasbeslote om die Goddelike verbod op die gebruik van bloed te gehoorsaam. Hulle wil nie graag dokters hof toe neem nie, maar hulle sal dit doen as dit nodig is om te keer dat hulle behandeling aan die Getuies opdwing wat vir hulle moreel afstootlik is.
Die publiek raak al hoe meer bewus van die gevare wat met bloedoortappings gepaardgaan. Dit is deels toe te skryf aan die vrees vir vigs. Die Getuies word egter beweeg deur ’n opregte begeerte om God te behaag. In 1987 het die Franse mediese dagblad Le Quotidien du Médecin gesê: “Miskien het Jehovah se Getuies reg wanneer hulle weier om bloedprodukte te gebruik, want ’n betekenisvolle aantal patogene stowwe kan wel deur oortappingsbloed oorgedra word.”
Die standpunt wat deur Jehovah se Getuies ingeneem word, berus nie op beter mediese kennis waaroor hulle beskik nie. Hulle het eenvoudig die vertroue dat Jehovah se weg die regte weg is en dat hy “die goeie nie onthou” aan sy lojale knegte nie (Ps. 19:8, 12; 84:12). Selfs indien ’n Getuie vanweë bloedverlies sou sterf—en dit het al gebeur—het Jehovah se Getuies die volle vertroue dat God nie sy getroue knegte vergeet nie, maar hulle deur middel van ’n opstanding weer tot die lewe sal opwek.—Hand. 24:15.
Wanneer individue Bybelstandaarde ignoreer
Miljoene mense het al die Bybel saam met Jehovah se Getuies gestudeer, maar nie almal het Getuies geword nie. Wanneer sommige mense die hoë standaarde sien wat geld, besluit hulle dat dit nie die soort lewe is wat hulle wil hê nie. Almal wat gedoop word, ontvang eers deeglike onderrig in basiese Bybelleerstellings, en daarna (veral sedert 1967) hersien ouere manne in die gemeente daardie leerstellings met elke doopkandidaat. Alles moontlik word gedoen om seker te maak dat diegene wat gedoop word nie net die leerstellings verstaan nie, maar dat hulle ook verstaan wat Christelike gedrag behels. Maar sê nou party van hulle laat later toe dat liefde vir die wêreld hulle tot ernstige sonde verlok?
Die boek The New Creation het reeds in 1904 aandag gegee aan die belangrikheid daarvan om gepas op te tree sodat daar nie sedebederf in die gemeente intree nie. Die begrip wat die Bybelstudente destyds gehad het oor die manier waarop daar in ooreenstemming met Mattheüs 18:15-17 teenoor sondaars opgetree moet word, is bespreek. In ooreenstemming hiermee was daar nou en dan ‘kerkverhore’ waartydens die bewyse van sonde in ernstige gevalle aan die hele gemeente voorgelê is. Die Wagtoring het jare later, in die nommer van 15 Oktober 1944 (Engelse uitgawe, 15 Mei 1944), die saak in die lig van die hele Bybel hersien en getoon dat sulke sake wat die gemeente raak deur verantwoordelike broers wat opsieners in die gemeente is, behartig moet word. (1 Kor. 5:1-13; vergelyk Deuteronomium 21:18-21.) Dit is opgevolg met artikels in Die Wagtoring van 15 Mei 1952 (Engelse uitgawe, 1 Maart 1952) wat nie net die gepaste prosedure beklemtoon het nie, maar ook hoe belangrik dit is om op te tree om die organisasie rein te hou. Die onderwerp is sedertdien herhaaldelik bespreek. Maar die oogmerke het nog nooit verander nie: (1) om die organisasie rein te hou en (2) om vir die sondaar te toon hoe belangrik dit is dat hy opreg berou toon sodat hy teruggewin kan word.
In die eerste eeu het sommige die geloof laat vaar om ’n losbandige lewe te lei. Ander is deur afvallige leerstellings mislei (1 Joh. 2:19). Dieselfde gebeur steeds in hierdie 20ste eeu onder Jehovah se Getuies. Dit was in onlangse tye ongelukkig nodig om jaarliks tienduisende onberouvolle sondaars uit die organisasie te sit. Onder hulle was daar prominente ouere manne. Dieselfde skriftuurlike vereistes geld vir almal (Jak. 3:17). Jehovah se Getuies besef dat dit noodsaaklik is om hulle organisasie sedelik rein te hou as hulle Jehovah se goedkeuring wil behou.
Die nuwe persoonlikheid
Jesus het mense aangespoor om nie net buitekant nie, maar ook binnekant rein te wees (Luk. 11:38-41). Hy het getoon dat die dinge wat ons sê en doen, weerspieël wat in ons hart is (Matt. 15:18, 19). Soos die apostel Paulus verduidelik het, sal ons, as ons werklik deur Christus geleer is, ‘vernuwe word in die gees van ons gemoed’ en sal ons ons ‘met die nuwe mens beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid’ (Ef. 4:17-24). Diegene wat deur Christus geleer word, streef daarna om “dieselfde geestesgesteldheid as Christus Jesus” te hê sodat hulle soos hy sal dink en optree (Rom. 15:5, NW). Die gedrag van Jehovah se Getuies as individue weerspieël in watter mate hulle dit wel gedoen het.
Jehovah se Getuies beweer nie dat hulle gedrag foutloos is nie. Maar hulle probeer opreg om navolgers van Christus te wees terwyl hulle in ooreenstemming met die Bybel se hoë gedragstandaard lewe. Hulle ontken nie dat daar ander individue is wat hoë sedelike standaarde in hulle lewe toepas nie. Maar in die geval van Jehovah se Getuies word hulle nie net as individue nie, maar as ’n internasionale organisasie maklik herken omdat hulle gedrag met Bybelstandaarde ooreenstem. Hulle word beweeg deur die geïnspireerde raad wat in 1 Petrus 2:12 opgeteken is: “Hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat . . . hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik.”
[Voetnote]
a Die onderwerp is weer, in ’n ietwat korter vorm, in Die Wagtoring van 1 Maart 1942 (Engelse uitgawe, 15 Oktober 1941) onder die opskrif “Karakter of onkreukbaarheid—Watter?” bespreek.
b Die Wagtoring van 1 Julie 1951 (Engelse uitgawe, 15 April 1951) het hoerery as “die opsetlike geslagsomgang van die kant van ’n ongetroude persoon met ’n persoon van die ander geslag” omskryf. Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Januarie 1952 het bygevoeg dat die woord volgens die Skrif ook op geslagsonsedelikheid deur ’n getroude persoon toegepas kan word.
c Vroeëre besprekings oor die heiligheid van bloed het verskyn in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 15 Desember 1927 sowel as Die Wagtoring van 1 Mei 1945 (Engelse uitgawe, 1 Desember 1944) waar daar spesifiek van bloedoortappings melding gemaak is.
d Contemporary Surgery, Maart 1990, bl. 45-9; The American Surgeon, Junie 1987, bl. 350-6; Miami Medicine, Januarie 1981, bl. 25; New York State Journal of Medicine, 15 Oktober 1972, bl. 2524-7; The Journal of the American Medical Association, 27 November 1981, bl. 2471-2; Cardiovascular News, Februarie 1984, bl. 5; Circulation, September 1984.
[Lokteks op bladsy 172]
“Hulle het buitengewone sedelike waardes”
[Lokteks op bladsy 174]
Was daar ooit onsekerheid oor hoe homoseksualiteit beskou sou word?
[Lokteks op bladsy 175]
Die wêreld se sedebederf het nie daartoe gelei dat die Getuies permissiewer geraak het nie
[Lokteks op bladsy 176]
Sommige het Getuies probeer wees sonder om poligamie op te gee
[Lokteks op bladsy 177]
’n Kragtige program om Jehovah se beskouing van egskeiding oor te dra
[Lokteks op bladsy 178]
Dramatiese veranderinge in die lewe van mense
[Lokteks op bladsy 181]
Tabak—Nee!
[Lokteks op bladsy 182]
Alkoholiese drank—matig, indien wel
[Lokteks op bladsy 183]
Vasbeslote om nie bloed te aanvaar nie
[Lokteks op bladsy 187]
Uitsetting—om die organisasie sedelik rein te hou
[Venster op bladsy 173]
‘Karakterontwikkeling’—Die vrugte was nie altyd goed nie
’n Verslag uit Denemarke: ‘Talle, veral onder die ouer vriende, het, in hulle opregte poging om ’n Christelike persoonlikheid aan te kweek, probeer om alles te vermy wat die geringste spoor van wêreldsheid getoon het en sodoende probeer verseker dat hulle die hemelse Koninkryk waardiger is. Dit is dikwels as ongepas beskou om tydens vergaderinge te glimlag, en baie van die ouer broers het net swart pakke, swart skoene en swart dasse gedra. Hulle was dikwels tevrede om ’n stil en vreedsame lewe in die Here te lei. Hulle het geglo dat dit genoeg is om vergaderinge te hou en die kolporteurs die predikingswerk te laat doen.’
[Venster op bladsy 179]
Wat ander in die Getuies sien
◆ “Münchner Merkur”, ’n Duitse koerant, het die volgende oor Jehovah se Getuies berig: “Hulle is die eerlikste en pliggetrouste belastingbetalers in die Bondsrepubliek. Hulle gehoorsaamheid aan die wette blyk uit die wyse waarop hulle bestuur asook uit misdaadstatistiek. . . . Hulle gehoorsaam diegene met gesag (ouers, onderwysers, regering). . . . Die Bybel, die grondslag vir al hulle dade, is hulle steun.”
◆ Die burgemeester van Lens, Frankryk, het die volgende vir die Getuies gesê nadat hulle die plaaslike stadion vir een van hulle byeenkomste gebruik het: “Waarvan ek hou, is dat julle julle beloftes en ooreenkomste hou, en daarbenewens is julle skoon, gedissiplineerd en georganiseerd. Ek hou van julle gemeenskap. Ek is gekant teen wanorde, en ek hou nie daarvan as mense rondgaan en goed vuil maak of breek nie.”
◆ Die boek “Voices From the Holocaust” bevat memoires van ’n Poolse oorlewende van die Auschwitz- en die Ravensbrück-konsentrasiekamp wat geskryf het: “Ek het mense gesien wat baie, baie goed geword het en mense wat absoluut gemeen geraak het. Die gaafste groep was Jehovah se Getuies. Ek haal my hoed vir daardie mense af. . . . Hulle het wonderlike dinge vir ander mense gedoen. Hulle het die siekes gehelp, hulle brood met ander gedeel en almal om hulle geestelike vertroosting gegee. Die Duitsers het hulle terselfdertyd gehaat en gerespekteer. Hulle het hulle die onaangenaamste werk gegee, maar hulle het dit met hulle hoofde omhoog gedoen.”