Koninkryksnuus nr. 34
Waarom is die lewe so vol probleme?
Is ’n probleemvrye paradys moontlik?
ERNSTIGE PROBLEME WORD ERGER—WAAROM?
Mense het nog altyd probleme gehad. Hoewel baie gedink het dat die moderne tegnologie dit sou kon oplos, word ernstige probleme net erger.
Misdaad: Min mense voel veilig om op straat te loop of selfs in hulle eie huis te sit. In een Europese land was bykans 1 uit elke 3 persone in ’n onlangse jaar die slagoffer van ’n misdaad.
Omgewing: Lug-, land- en waterbesoedeling kom al hoe meer voor. In ontwikkelende lande het ’n kwart van die mense nie toegang tot skoon water nie.
Armoede: Daar is meer arm en honger mense as ooit. Meer as 90 persent van die mense in party lande lewe in armoede; 30 persent van die wêreld se werkkragte, sowat 800 miljoen, is werkloos of ondervind ’n werkskaarste—en die getalle groei.
Honger: Al het jy self genoeg om te eet, is daar toenemende miljoene wat dit nie het nie. In onderontwikkelde lande sterf daar jaarliks ten minste 13 miljoen mense, meestal kinders, weens die gevolge van honger.
Oorlog: Honderdduisende is in onlangse etniese geweld om die lewe gebring. En gedurende die 20ste eeu het oorloë baie meer as honderdmiljoen mense se lewens geëis.
Ander probleme: Voeg by die voormelde probleme die toename in gesinsverbrokkeling, meer ongehude moeders, toenemende haweloosheid, veelvoorkomende dwelmmisbruik, wydverspreide onsedelikheid. ’n Voormalige Amerikaanse kabinetslid het tereg gesê: “Daar is net te veel tekens dat . . . die beskawing verdorwe geraak het.” In ’n onlangse tydperk van 30 jaar het die Amerikaanse bevolking met 41 persent toegeneem, maar gewelddadige misdaad het die hoogte ingeskiet met 560 persent, buite-egtelike geboortes met 400 persent, egskeidings met 300 persent, die tienerselfmoordsyfer met meer as 200 persent. Die situasie is dieselfde in ander lande.
Waarom het probleme vererger?
Ons Skepper voorsien die antwoord. Sy Woord noem hierdie tyd wat so vol probleme is “die laaste dae”, ’n tydperk wanneer daar “kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1). Die laaste dae waarvan? Wel, die Bybel praat van “die einde van hierdie wêreld”.—Matteus 24:3, NAV.
Vandag se toenemende probleme is ’n duidelike bewys dat die einde van hierdie stelsel van dinge naby is, met inbegrip van die einde van goddeloosheid en dié wat daarvoor verantwoordelik is (Matteus 24:3-14; 2 Timoteus 3:1-5; Openbaring 12:7-12). God gaan binnekort ingryp en toesien dat alle hedendaagse probleme geheel en al opgelos word.—Jeremia 25:31-33; Openbaring 19:11-21.
HIERDIE WÊRELD SE GODSDIENSTE HET GEFAAL
In plaas van die hedendaagse probleme te help oplos, dra hierdie wêreld se godsdiensstelsels daartoe by. In oorlogstye maak Katolieke Katolieke dood, Protestante maak Protestante dood—by die miljoene. Nie so lank gelede nie het mense in Rwanda, waar die meeste van hulle Katolieke is, mekaar by die honderdduisende doodgemaak! (Sien die prentjie links.)
Sou Jesus met ’n geweer of ’n kapmes oorlog maak en sy dissipels doodmaak omdat hulle van ’n ander nasionaliteit as hy is? Beslis nie! Die Bybel sê dat “die een wat God liefhet ook sy broer moet liefhê” (1 Johannes 4:20, 21). Hierdie wêreld se godsdienste het versuim om dit te doen. “Hulle verkondig in die openbaar dat hulle God ken, maar hulle verloën hom deur hulle werke.”—Titus 1:16.
Daarbenewens dra die wêreld se godsdienste by tot die skokkende sedelike verval wat wêreldwyd voorkom deurdat hulle nie werklik die Bybelstandaarde van sedelikheid handhaaf nie.
Jesus het gesê dat jy valse godsdiens van die ware godsdiens kan onderskei ‘deur middel van sy vrugte’—deur wat sy lede doen. Hy het ook gesê: “Elke boom wat nie goeie vrugte voortbring nie, word uitgekap en in die vuur gegooi” (Matteus 7:15-20). God se Woord spoor ons aan om te vlug uit godsdiens wat slegte vrugte voortbring en wat dus vernietig gaan word.—Openbaring 18:4.
Die ware godsdiens het nie gefaal nie
Die ware godsdiens ‘bring goeie vrugte voort’, veral liefde (Matteus 7:17; Johannes 13:34, 35). Watter verenigde internasionale broederskap van Christene beoefen sulke liefde? Wie weier om mense van hulle eie geloof of enigiemand anders dood te maak?—1 Johannes 3:10-12.
Jehovah se Getuies is daarvoor bekend dat hulle daardie “goeie vrugte” voortbring. Oor die hele aarde, in meer as 230 lande, ‘het hulle van hul swaarde pikke gesmee’ (Jesaja 2:4). Hulle liefde vir mense blyk ook uit hulle gehoorsaamheid aan Christus se opdrag om die “goeie nuus” van God se Koninkryk wêreldwyd te verkondig (Matteus 24:14). Hulle beoefen en staan ook die hoë sedes voor wat in die Bybel geleer word.—1 Korintiërs 6:9-11.
Die ware godsdiens het nie gefaal nie. Dit rig mense na die enigste Een wat in staat is om die mensdom se probleme op te los. Daardie Een gaan binnekort ’n totaal nuwe wêreld tot stand bring. Wie is Hy? (Sien asseblief die agterblad.)
’N PROBLEEMVRYE PARADYS GAAN GEWIS KOM
Sou jy nie, as jy kon, al die probleme opgelos het wat die mensdom kwel nie? Natuurlik sou jy! Moet ons dan dink dat ons liefdevolle Skepper, wat alleen die mag en die wysheid het om die mensdom se probleme op te los, dit nie sal doen nie?
Die Bybel toon dat God deur middel van sy hemelse regering in die hande van Jesus Christus in menseaangeleenthede sal ingryp. Dit sal die verdorwe regerings op aarde “verbrysel” (Daniël 2:44; Matteus 6:9, 10). En waarom? Waar hy God aanspreek, antwoord die psalmis: “Sodat mense kan weet dat u‚ wie se naam Jehovah is‚ alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is.”—Psalm 83:18, NW.
Sal daar oorlewendes wees wanneer hierdie wêreld tot ’n einde kom? “Die wêreld gaan verby”, sê die Bybel, “maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:17). Waar sal hierdie oorlewendes vir ewig woon? “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon”, antwoord die Bybel.—Psalm 37:9-11, 29; Spreuke 2:21, 22.
In God se nuwe wêreld ‘sal die dood nie meer daar wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn sal daar nie meer wees nie’ (Openbaring 21:4). Geen misdaad, armoede, honger, siekte, droefheid of die dood meer nie! Trouens, selfs die dooies sal weer lewe! ‘Daar gaan ’n opstanding wees’ (Handelinge 24:15). En die aarde self sal in ’n letterlike paradys omskep word.—Jesaja 35:1, 2; Lukas 23:43.
Wat moet ons doen om die lewe in God se nuwe wêreld te geniet? Jesus het gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Oor die hele wêreld is miljoene opregtes van hart besig om daardie kennis in te neem. Dit stel hulle in staat om baie van hulle eie probleme nou die hoof te bied, maar nog belangriker, dit gee hulle die volle vertroue dat probleme wat hulle nie kan oplos nie in God se nuwe wêreld heeltemal ongedaan gemaak gaan word.
[Foto-erkenning op bladsy 2]
WHO photo by P. Almasy
[Foto-erkenning op bladsy 3]
Jerden Bouman/Sipa Press