Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • kl hfst. 19 bl. 181-191
  • Wanneer die kennis van God die aarde vul

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wanneer die kennis van God die aarde vul
  • Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • NÁ ARMAGEDDON—’N PARADYSAARDE
  • DIE MENSE VERANDER
  • DIE VREUGDEVOLLE OPSTANDING
  • UITEINDELIK VOLMAAKTHEID!
  • WAT GAAN JY DOEN?
  • God se voorneme met die aarde sal binnekort vervul word
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Wat is God se voorneme met die aarde?
    Wat vereis God van ons?
  • Jy kan ’n gelukkige toekoms hê!
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • “Kyk, Ek maak alles nuut”
    “Kyk, Ek maak alles nuut”
Sien nog
Kennis wat tot die ewige lewe lei
kl hfst. 19 bl. 181-191

Hoofstuk 19

Wanneer die kennis van God die aarde vul

1, 2. Hoe is Jehovah se skepping beskadig?

GESTEL ’n groot kunstenaar het pas ’n pragtige skildery voltooi. Hy beskou dit tereg as baie goed—’n meesterstuk! Maar gedurende die nag ontsier ’n jaloerse mededinger dit. Dit besorg die kunstenaar begryplikerwys groot pyn. Hoe gretig is hy tog om te sien dat die vandaal opgesluit word! En jy kan jou indink hoe die kunstenaar daarna smag dat sy skepping tot sy vroeëre prag herstel moet word.

2 Soos daardie kunstenaar, het Jehovah ’n meesterstuk geskep toe hy die aarde voorberei en die mens daarop gesit het. Nadat hy die man en die vrou geskep het, het hy gesê dat al sy aardse werk “baie goed” was (Genesis 1:31). Adam en Eva was God se kinders, en hy het hulle liefgehad. Hy het ’n gelukkige, heerlike toekoms vir hulle voorgehad. Satan het hulle weliswaar in opstand laat kom, maar God se wonderlike skepping is nie onherstelbaar beskadig nie.—Genesis 3:23, 24; 6:11, 12.

3. Wat is “die werklike lewe”?

3 God het hom voorgeneem om dinge reg te stel. Hy wil ons baie graag sien lewe soos hy oorspronklik bedoel het. Ons kort en veelbewoë bestaan is nie “die werklike lewe” nie, want dit skiet ver te kort aan wat Jehovah in gedagte het. “Die werklike lewe” wat God vir ons wil hê, is “die ewige lewe” onder volmaakte toestande.—1 Timoteus 6:12, 19.

4, 5. (a) Hoe sal die Paradyshoop verwesenlik word? (b) Waarom moet ons oor ons hoop vir die toekoms dink?

4 Die kennis van God bring verantwoordelikheid voor Jehovah mee (Jakobus 4:17). Maar dink aan die seëninge wat jy sal geniet as jy daardie kennis toepas en die ewige lewe nastreef. In sy Woord, die Bybel, het Jehovah God ’n pragtige beeld geskilder van hoe daardie lewe sal wees in die Paradysaarde wat nou so naby is. As Jehovah se volk dien ons God natuurlik nie net uit ’n begeerte na ’n beloning nie. Ons dien God omdat ons hom liefhet (Markus 12:29, 30). Boonop kan ons die lewe nie verdien deur Jehovah te dien nie. Die ewige lewe is ’n gawe van God (Romeine 6:23). Dit sal vir ons goed wees om oor so ’n lewe te peins, want die Paradyshoop herinner ons aan watter soort God Jehovah is—die liefdevolle ‘beloner van dié wat hom ernstig soek’ (Hebreërs 11:6). ’n Hoop wat helder in ons verstande en harte brand, sal ons in staat stel om ontberinge in Satan se wêreld te verduur.—Jeremia 23:20.

5 Laat ons nou ons aandag vestig op die Bybelse hoop van die ewige lewe in die toekomstige aardse Paradys. Hoe sal die lewe wees wanneer die kennis van God die aarde vul?

NÁ ARMAGEDDON—’N PARADYSAARDE

6. Wat is Armageddon, en wat sal dit vir die mensdom beteken?

6 Soos vroeër getoon is, sal Jehovah God binnekort die huidige goddelose stelsel van dinge vernietig. Die wêreld kom vinnig nader aan wat die Bybel Har–Magedon, of Armageddon, noem. Daardie woord laat party mense dalk aan ’n kernslagting dink wat deur strydende nasies veroorsaak word, maar Armageddon is niks van die aard nie. Soos Openbaring 16:14-16 toon, is Armageddon “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige”. Dit is ’n oorlog waarby “die konings van die hele bewoonde aarde”, of die nasies, betrokke sal wees. Jehovah God se Seun, die aangestelde Koning, sal binnekort die stryd aanknoop. Die uit–slag is wis en seker. Almal wat God se Koninkryk teëstaan en wat deel van Satan se goddelose stelsel is, sal uitgewis word. Slegs dié wat teenoor Jehovah lojaal is, sal behoue bly.—Openbaring 7:9, 14; 19:11-21.

7. Waar sal Satan en sy demone gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus wees, en hoe sal dit die mensdom tot voordeel strek?

7 Stel jou voor dat jy daardie groot ommekeer oorlewe het. Hoe sal die lewe op die aarde in God se beloofde nuwe wêreld wees? (2 Petrus 3:13). Ons hoef nie daaroor te gis nie, want die Bybel vertel ons, en wat dit sê, is opwindend. Ons leer dat Satan en sy demone onskadelik gemaak sal word deur gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Jesus Christus in ’n afgrond van onbedrywigheid toegesluit te word. Daardie bose, kwaadwillige skepsele sal nie meer op die loer lê en moeilikheid stook en ons tot ontroue dade teen God probeer aanhits nie. Wat ’n verligting sal dit tog wees!—Openbaring 20:1-3.

8, 9. Wat sal in die nuwe wêreld word van gebreke, siekte en veroudering?

8 Alle vorme van siekte sal mettertyd verdwyn (Jesaja 33:24). Die lammes sal dan op gesonde, sterk bene staan, loop, hardloop en dans. Nadat die dowes jare lank in hulle wêreld van stilte gelewe het, sal hulle die vreugdevolle geluide om hulle hoor. Die blindes sal in ontsag na hulle asem snak wanneer ’n wêreld van kleur en vorm hom voor hulle oë ontvou (Jesaja 35:5, 6). Uiteindelik sal hulle die gesigte van hulle dierbares sien! Miskien sal hulle oë dan net vir ’n oomblik verdof weens trane van vreugde.

9 Dink net! Daar sal nie meer brille, krukke en kieries, medisyne, tandeklinieke of hospitale wees nie! Emosionele siekte en depressie sal mense nooit weer van geluk beroof nie. Geen kinderlewe sal deur siekte bederf word nie. Die agteruitgang wat met veroudering gepaardgaan, sal ongedaan gemaak word (Job 33:25). Ons sal gesonder, sterker word. Elke oggend sal ons met hernieude energie uit ’n verkwikkende nag se slaap wakker word, vol lewenskrag en gretig vir ’n nuwe dag van opwindende lewe en bevredigende werk.

10. Watter werkstoewysing sal Armageddon-oorlewendes onderneem?

10 Die Armageddon-oorlewendes sal volop aangename werk hê om te doen. Hulle sal die aarde in ’n paradys omskep. Alle spore van die besoedelde ou stelsel sal uit die weg geruim word. Parke en tuine sal in die plek van krotbuurte en geruïneerde grond verskyn. Almal sal gerieflike, aangename huisvesting geniet (Jesaja 65:21). Met verloop van tyd sal daardie paradysagtige dele van die aarde groei en inmekaarloop totdat die hele aarde voldoen aan die standaard van prag wat destyds deur die Skepper in die tuin van Eden gestel is. Hoe bevredigend sal dit tog wees om aan daardie herstelwerk deel te neem!

11. Wat sal die mensdom se toekomstige verhouding met die aarde se omgewing en dierelewe wees?

11 Dit sal alles onder Goddelike leiding gedoen word sodat die omgewing nie beskadig word nie. Daar sal vrede tussen die mense en die diere wees. Pleks van hulle voor die voet dood te maak, sal die mens die aarde weer op verantwoordelike wyse begin bestuur en goed vir hulle sorg. Stel jou wolwe en lammers, leeus en kalwers voor wat saam wei—en die mak diere is heeltemal veilig. Selfs ’n klein kindjie sal nie vir wilde diere bang hoef te wees nie, en ook sal die rustigheid van die nuwe wêreld nie deur wrede, woeste mense versteur word nie (Jesaja 11:6-8). Wat ’n vreedsame nuwe wêreld sal dit tog nie wees nie!

DIE MENSE VERANDER

12. Hoe word Jesaja 11:9 vandag vervul, en hoe sal dit in die Paradys vervul word?

12 Jesaja 11:9 sê vir ons waarom geen kwaad op die hele aarde gedoen sal word nie. Dit sê: “Die aarde sal vol wees van die kennis van [Jehovah, NW] soos die waters die seebodem oordek.” Dit het betrekking op mense, want diere kan nie “die kennis van Jehovah” inneem en veranderinge maak nie, aangesien hulle deur instink gelei word. Maar die kennis van ons Skepper verander mense wel. Jy het ongetwyfeld self al veranderinge gemaak omdat jy die kennis van God in jou lewe toepas. Miljoene het dit al gedoen. Hierdie profesie het dus reeds in vervulling begin gaan in diegene wat Jehovah dien. Maar dit wys ook op ’n tyd wanneer mense oor die hele wêreld alle dierlike of gewelddadige eienskappe sal aflê en vir ewig vreedsaam sal word.

13. Watter opvoedkundige program sal op die aarde plaasvind?

13 Hoe wonderlik sal dit tog wees wanneer die kennis van God die aarde vul! Daar sal ’n uitgebreide opvoedkundige program onder leiding van die Koning Jesus Christus en sy 144 000 medeheersers wees. Nuwe “boekrolle” sal dan gebruik word. Hulle is blykbaar God se geskrewe instruksies wat as grondslag sal dien om die aarde se bewoners te onderrig (Openbaring 20:12). Die mensdom sal nie oorlog leer nie, maar vrede. Alle vernietigende wapens sal vir ewig weggedoen wees (Psalm 46:10). Bewoners van die nuwe wêreld sal geleer word om hulle medemens met liefde, respek en waardigheid te behandel.

14. Hoe sal die wêreld anders wees wanneer die mensdom een verenigde familie is?

14 Die mensdom sal een verenigde familie word. Daar sal niks wees wat die eenheid en broederskap sal belemmer nie (Psalm 133:1-3). Niemand se huis sal gesluit hoef te word om diewe uit te hou nie. Vrede sal in elke hart, in elke huis, in elke deel van die aarde heers.—Miga 4:4.

DIE VREUGDEVOLLE OPSTANDING

15. Watter twee groepe sal op die aarde opgewek word?

15 Gedurende daardie Millennium sal die opstanding plaasvind. Dié wat opsetlik teen God se heilige gees, of werkende krag, gesondig het deur op onberouvolle wyse in stryd met die openlike werking of leiding daarvan op te tree, sal nie opgewek word nie (Matteus 23:15, 33; Hebreërs 6:4-6). God sal natuurlik besluit wie sodanig gesondig het. Maar twee afsonderlike groepe sal opgewek word—“die regverdiges sowel as die onregverdiges” (Handelinge 24:15). Aangesien daar behoorlike orde sal wees, is dit redelik om tot die gevolgtrekking te kom dat die regverdiges, dié wat Jehovah lojaal gedien het, eerste tot lewe op die aarde terugverwelkom sal word.—Hebreërs 11:35-39.

16. (a) Wie sal onder “die regverdiges” wees wat op die aarde opgewek sal word? (b) Watter getroues van die ou tyd wil jy besonder graag ontmoet, en waarom?

16 In plaas van nuus omtrent oorloë, rampe en sterftes te hoor, sal Jehovah se knegte wonderlike berigte oor die opstanding ontvang. Dit sal opwindend wees om te hoor van die terugkeer van getroue manne en vroue soos Abel, Henog, Noag, Abraham, Sara, Job, Moses, Ragab, Rut, Dawid, Elia, Ester. Watter boeiende geskiedenisfeite sal hulle tog verstrek wanneer hulle agtergrondbesonderhede oor talle Bybelverslae gee! Hulle en regverdiges wat in onlangser tye gesterf het, sal ongetwyfeld net so gretig wees om van die einde van Satan se stelsel te hoor en van hoe Jehovah sy heilige naam geheilig en sy soewereiniteit geregverdig het.

17. Hoe sal getroues diegene help wat opgewek word?

17 Van watter groot hulp sal hierdie getroues tog gedurende die volgende fase van die opstanding wees, wanneer miljarde “onregverdiges” van die bande van die dood verlos word! Die meeste mense het nooit ’n geleentheid gehad om Jehovah te leer ken nie. Satan het ‘hulle verstande verblind’ (2 Korintiërs 4:4). Maar die Duiwel se werk sal ongedaan gemaak word. Die onregverdiges sal terugkom na ’n pragtige en vreedsame aarde. Hulle sal deur ’n volk verwelkom word wat goed georganiseer is om hulle van Jehovah en sy heersende Seun, Jesus Christus, te leer. Namate miljarde verresenes hulle Skepper leer ken en liefhê, sal die kennis van Jehovah die aarde op ’n ongekende wyse vul.

18. Hoe dink jy sal jy voel wanneer jy dierbares verwelkom wat opgewek is?

18 Watter vreugde sal die opstanding tog nie in ons harte meebring nie! Wie het nie weens ons vyand, die dood, gely nie? Ja, wie het nie al heeltemal verpletter gevoel wanneer die een of ander liefdes- of vriendskapsband uitmekaargeruk is omdat siekte, ouderdom, ’n ongeluk of geweld die lewe van ’n dierbare geëis het nie? Stel jou dan die vreugde van die herenigings in die Paradys voor. Moeders en vaders, seuns en dogters, vriende en familielede, sal laggend en met trane van vreugde in mekaar se arms inhardloop.

UITEINDELIK VOLMAAKTHEID!

19. Watter wonderwerk sal gedurende die Millennium plaasvind?

19 Deur die hele Millennium heen sal ’n heuglike wonderwerk plaasvind. Vir die mensdom sal dit moontlik die opwindendste aspek van Christus se Duisendjarige Heerskappy wees. Jehovah sal sy Seun opdrag gee om die voordele van die losprysofferande op elke getroue en gehoorsame man en vrou toe te pas. Deur middel daarvan sal alle sonde uit die weg geruim en die mensdom tot volmaaktheid verhef word.—1 Johannes 2:2; Openbaring 21:1-4.

20. (a) Wat sal dit beteken om volmaak te wees? (b) Wanneer sal die Armageddon-oorlewendes en verresenes in die volle sin van die woord begin lewe?

20 Volmaaktheid! Wat sal dit beteken? Dit sal ’n terugkeer beteken tot die soort lewe wat Adam en Eva geniet het voor hulle teen Jehovah God gesondig het. Volmaakte mense sal fisies, verstandelik, emosioneel, sedelik, geestelik—in elke denkbare opsig—ten volle aan God se standaarde voldoen. Maar sal al die mense dan identies wees? Glad nie! Al Jehovah se skeppingswerke—die bome, blomme, diere—leer ons dat hy van verskeidenheid hou. Volmaakte mense sal verskillende persoonlikhede en talente hê. Elkeen sal die soort lewe geniet wat God beoog het. Openbaring 20:5 sê: “Die res van die dooies het nie lewend geword totdat die duisend jaar geëindig het nie.” Soos die groot skare Armageddon-oorlewendes, sal die verresenes ten volle lewend word wanneer hulle sondelose volmaaktheid bereik.

21. (a) Wat sal aan die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy gebeur? (b) Wat sal uiteindelik gebeur met Satan en almal wat hulle aan sy kant skaar?

21 Volmaakte mense sal voor een finale toets te staan kom. Aan die einde van die Millennium sal Satan en sy demone ’n kort rukkie uit die afgrond vrygelaat word en sal hulle toegelaat word om ’n finale poging aan te wend om mense van Jehovah weg te rokkel. Party sal verkeerde begeertes bo liefde vir God stel, maar hierdie opstand sal kortgeknip word. Jehovah sal hierdie selfsugtiges saam met Satan en al sy demone teregstel. Alle oortreders sal dan vir ewig uit die weg geruim wees.—Openbaring 20:7-10.

WAT GAAN JY DOEN?

22. Wat sien jy uit om in die Paradys te doen?

22 Die ewigheid sal voor diegene lê wat Jehovah God liefhet en op die Paradysaarde woon. Ons kan ons skaars hulle vreugde voorstel, en jy kan ook hierin deel. Musiek, kuns, handwerk—ja, die volmaakte mensdom se prestasies sal die beste werke van die groot meesters van die ou wêreld oortref! Mense sal immers volmaak wees en grenslose tyd voor hulle hê. Stel jou voor wat jy as ’n volmaakte mens sal kan doen. Dink ook aan wat jy en ander mense van Jehovah se skepping sal leer—van die miljarde melkweë in die ganse heelal tot die allerkleinste subatomiese deeltjies. Alles wat die mensdom bereik, sal die hart van ons liefdevolle hemelse Vader, Jehovah, verder verbly.—Psalm 150:1-6.

23. Waarom sal die lewe in die Paradys nooit vervelig wees nie?

23 Die lewe sal dan nie vervelig wees nie. Met verloop van tyd sal dit al hoe interessanter word. Jy sien, daar is geen einde aan die kennis van God nie (Romeine 11:33). Deur die ewigheid heen sal daar altyd meer wees om te leer en nuwe horisonne om te verken (Prediker 3:11, NW). En namate jy voortgaan om van Jehovah God te leer, sal jy aanhou lewe—nie net ’n paar jaar nie, maar vir ewig!—Psalm 22:27.

24, 25. Waarom moet jy nou in ooreenstemming met die kennis van God lewe?

24 Is ’n verruklike toekoms op ’n paradysaarde nie enige inspanning of opoffering van jou kant werd nie? Natuurlik is dit! Wel, Jehovah het vir jou die sleutel tot daardie pragtige toekoms aangebied. Daardie sleutel is die kennis van God. Gaan jy dit gebruik?

25 As jy Jehovah liefhet, sal jy behae daarin skep om sy wil te doen (1 Johannes 5:3). Watter seëninge sal jy tog nie ervaar wanneer jy daardie weg volg nie! As jy die kennis van God toepas, kan dit jou selfs in hierdie veelbewoë wêreld ’n gelukkiger lewe besorg. En die toekomstige beloninge is ontsaglik, want dít is die kennis wat tot die ewige lewe lei! Nou is die gunstige tyd vir jou om op te tree. Wees vasbeslote om in ooreenstemming met die kennis van God te lewe. Toon jou liefde vir Jehovah. Eer sy heilige naam en bewys dat Satan ’n leuenaar is. Dan sal Jehovah God, die Bron van ware wysheid en kennis, hom in sy groot en liefdevolle hart oor jou verheug (Jeremia 31:3; Sefanja 3:17). En hy sal jou vir ewig liefhê!

TOETS JOU KENNIS

Wat is “die werklike lewe”?

Wat sal ná Armageddon op die aarde plaasvind?

Wie sal op die aarde opgewek word?

Hoe sal die mensdom volmaak word en finaal getoets word?

Watter hoop het jy ten opsigte van die Paradys?

[Prent op bladsy 188, 189]

Hoop jy om in die Paradys te lewe wanneer die kennis van God die aarde vul?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel