Les 12
Respekteer lewe en bloed
Wat moet ons beskouing wees van lewe? (1) aborsie? (1)
Hoe toon Christene dat hulle veiligheidsbewus is? (2)
Is dit verkeerd om diere dood te maak? (3)
Wat is party gebruike wat toon dat mense nie lewe respekteer nie? (4)
Wat is God se wet op bloed? (5)
Sluit dit bloedoortappings in? (6)
1. Jehovah is die Bron van lewe. Alle lewende dinge is hulle lewe aan God verskuldig (Psalm 36:9, NW). Lewe is vir God heilig. Selfs die lewe van ’n ongebore kind binne sy moeder is vir Jehovah kosbaar. Dit is verkeerd in God se oë om so ’n ontwikkelende baba opsetlik dood te maak.—Exodus 21:22, 23, NW; Psalm 127:3.
2. Ware Christene is veiligheidsbewus. Hulle maak seker dat hulle motors en hulle huise veilig is (Deuteronomium 22:8). God se knegte stel hulle lewe nie onnodig in gevaar net ter wille van plesier of opwinding nie. Hulle neem dus nie aan gewelddadige sport deel wat ander mense opsetlik seermaak nie. Hulle vermy vermaak wat geweld aanmoedig.—Psalm 11:5; Johannes 13:35.
3. Dierelewe is ook vir die Skepper heilig. ’n Christen kan diere vir voedsel en klere doodmaak of om homself teen siekte en gevaar te beskerm (Genesis 3:21; 9:3; Exodus 21:28). Maar dit is verkeerd om diere te mishandel of om hulle net ter wille van sport of plesier dood te maak.—Spreuke 12:10.
4. Christene mag nie rook, betelneut kou en dwelms vir die plesier gebruik nie. Hierdie gebruike is verkeerd, want (1) hulle maak ons hulle slawe, (2) hulle beskadig ons liggaam en (3) hulle is onrein (Romeine 6:19; 12:1; 2 Korintiërs 7:1). Dit kan baie moeilik wees om hierdie gewoontes af te leer. Maar ons moet dit doen om Jehovah te behaag.
5. Bloed is ook in God se oë heilig. God sê dat die siel, of lewe, in die bloed is. Dit is dus verkeerd om bloed te eet. Dit is ook verkeerd om die vleis van ’n dier te eet wat nie behoorlik gebloei is nie. As ’n dier verwurg word of in ’n valstrik doodgaan, moet dit nie geëet word nie. As dit met ’n spies doodgemaak of geskiet word, moet dit vinnig gebloei word as dit geëet gaan word.—Genesis 9:3, 4; Levitikus 17:13, 14; Handelinge 15:28, 29.
6. Is dit verkeerd om ’n bloedoortapping te aanvaar? Onthou, Jehovah vereis dat ons ons van bloed onthou. Dit beteken dat ons hoegenaamd nie ander mense se bloed of selfs ons eie bloed wat gestoor is op enige manier in ons liggaam moet inneem nie (Handelinge 21:25). Ware Christene sal dus nie ’n bloedoortapping aanvaar nie. Hulle sal ander soorte mediese behandeling aanvaar, soos die oortapping van bloedlose produkte. Hulle wil lewe, maar hulle sal nie hulle lewe probeer red deur God se wette te oortree nie.—Matteus 16:25.
[Prente op bladsy 25]
Om God te behaag, moet ons bloedoortappings, onrein gewoontes en onnodige risiko’s vermy