Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ct hfst. 8 bl. 120-143
  • Die Skepper openbaar hom—Tot ons nut!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Skepper openbaar hom—Tot ons nut!
  • Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Deel een—’n Nasie word deur die Skepper regeer
  • Die tog na ’n beloofde land
  • Heerskappy sonder ’n mensekoning
  • Deel twee—Voorspoed onder konings
  • Wyse koning Salomo en die sin van die lewe
  • Deel drie—Die koninkryk word verdeel
  • Naderende vernietiging
  • Die regering wat die Paradys gaan bring
    Die regering wat ’n Paradys gaan bring
  • Die Bybel—’n Boek van akkurate profesie, Deel 1
    Ontwaak!—2012
  • Bybelboek nommer 2—Exodus
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Getuies teen die valse gode
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Sien nog
Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?
ct hfst. 8 bl. 120-143

Hoofstuk Agt

Die Skepper openbaar hom—Tot ons nut!

TE MIDDE van donder en blitse het sowat driemiljoen mense voor ’n hoë berg op die Sinai-skiereiland gestaan. Wolke het die berg Sinai omhul en die aarde het gebewe. In sulke onvergeetlike omstandighede het Moses eertydse Israel in ’n formele verhouding met die Skepper van die hemel en aarde laat tree.—Exodus hoofstuk 19; Jesaja 45:18.

Maar waarom sou die Skepper van die heelal hom op ’n spesiale manier aan ’n enkele nasie openbaar, en dit nogal ’n betreklik geringe nasie? Moses het hierdie insig verskaf: “Omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het.”—Deuteronomium 7:6-8.

So ’n verklaring toon dat die Bybel vir ons baie meer inligting bevat as net feite oor die oorsprong van die heelal en lewe op die aarde. Dit het baie te sê oor die Skepper se handelinge met mense—in die verlede, hede en toekoms. Die Bybel is die wêreld se mees bestudeerde en wyds verspreide boek, en daarom behoort elkeen wat waarde aan opvoeding heg met die inhoud daarvan vertroud te wees. Kom ons kyk na ’n oorsig van wat ons in die Bybel kan vind deur ons eers toe te lê op die deel wat dikwels die Ou Testament genoem word. Terwyl ons dit doen, sal ons ook waardevolle insig in die persoonlikheid van die Skepper van die heelal en Outeur van die Bybel verkry.

In Hoofstuk 6, “’n Ou skeppingsverslag—Kan jy dit vertrou?”, het ons gesien dat die Bybel se skeppingsverslag feite oor ons eerste voorouers—ons afkoms—bevat wat nêrens anders beskikbaar is nie. Hierdie eerste Bybelboek bevat baie meer. Soos wat?

Griekse en ander mitologieë beskryf ’n tyd toe gode en halfgode met mense omgegaan het. En antropoloë sê dat daar regoor die aarde legendes is oor ’n vloed van die ou tyd waarin die meerderheid van die mensdom uitgewis is. Jy verwerp sulke mites moontlik tereg. Maar het jy geweet dat net die boek Genesis vir ons die fundamentele geskiedkundige feite gee wat later in sulke mites en legendes weergegee is?—Genesis, hoofstukke 6, 7.a

In die boek Genesis sal jy ook lees van manne en vroue—geloofwaardige mense met wie ons ons kan vereenselwig—wat geweet het dat die Skepper bestaan en wat sy wil in hulle lewe in aanmerking geneem het. Ons is dit aan onsself verskuldig om te weet van manne soos Abraham, Isak en Jakob, wat van die “vaders” was wat Moses gemeld het. Die Skepper het Abraham leer ken en hom “my vriend” genoem (Jesaja 41:8; Genesis 18:18, 19, NW). Waarom? Jehovah het gesien en al hoe meer vertroue gekry dat Abraham ’n man van geloof is (Hebreërs 11:8-10, 17-19; Jakobus 2:23). Abraham se ondervinding toon dat God genaakbaar is. Sy mag en vermoëns is ontsagwekkend, en tog is hy nie bloot ’n onpersoonlike krag of oorsaak nie. Hy is ’n werklike persoon met wie mense soos ons ’n eerbiedige verhouding kan opbou—tot ons ewige nut.

Jehovah het Abraham belowe: “Deur middel van jou saad sal al die nasies van die aarde hulleself gewis seën” (Genesis 22:18, NW). Dit is ’n uitbreiding van die belofte wat in Adam se tyd oor ’n komende “saad” gedoen is (Genesis 3:15). Ja, wat Jehovah vir Abraham gesê het, het die hoop bevestig dat iemand—die Saad—met verloop van tyd sou verskyn en ’n seën vir alle volke moontlik sou maak. Jy sal vind dat dit ’n sentrale tema is wat dwarsdeur die Bybel voorkom, wat beklemtoon dat hierdie boek nie ’n versameling van verskillende mensegeskrifte is nie. En as jy weet wat die tema van die Bybel is, sal dit jou help besef dat God een nasie van die ou tyd gebruik het—met die doel om alle nasies te seën.—Psalm 147:19, 20.

Die feit dat dít die oogmerk van Jehovah se handelinge met Israel was, toon dat ‘hy nie partydig is nie’ (Handelinge 10:34; Galasiërs 3:14). Wat meer is, selfs terwyl God hoofsaaklik met Abraham se nakomelinge gehandel het, was mense uit ander nasies welkom om Jehovah ook te kom dien (1 Konings 8:41-43). En soos ons later sal sien, is God se onpartydigheid van so ’n aard dat ons almal—ongeag ons volks- of etniese agtergrond—hom vandag kan leer ken en behaag.

Ons kan baie leer uit die geskiedenis van die nasie met wie die Skepper eeue lank gehandel het. Kom ons verdeel daardie geskiedenis in drie dele. Terwyl ons hierdie dele bespreek, kan ons let op hoe Jehovah die betekenis van sy naam, “Hy laat word”, nageleef het en hoe sy persoonlikheid deur sy handelinge met werklike mense geopenbaar is.

Deel een—’n Nasie word deur die Skepper regeer

Abraham se nakomelinge het slawe in Egipte geword. Uiteindelik het God Moses verwek, wat hulle in 1513 v.G.J. na vryheid gelei het. Toe Israel ’n nasie geword het, was God hulle heerser. Maar in 1117 v.G.J. wou die volk ’n mensekoning hê.

Watter gebeure het daartoe gelei dat Israel saam met Moses by die berg Sinai was? Die Bybelboek Genesis verskaf die agtergrond. Vroeër, toe Jakob (wat ook Israel genoem is) noordoos van Egipte gewoon het, het ’n hongersnood dwarsdeur die destyds bekende wêreld geheers. Besorgdheid oor sy familie het Jakob voedsel by Egipte laat soek, waar ’n ruim voorraad graan opgeberg was. Hy het ontdek dat die voedseladministrateur in werklikheid sy seun Josef was, wat Jakob gedink het jare tevore gesterf het. Jakob en sy familie het na Egipte verhuis en is genooi om daar te bly (Genesis 45:25–46:5; 47:5-12). Maar ná Josef se dood het ’n nuwe Farao Jakob se nakomelinge aan dwangarbeid onderwerp en “hulle lewe verbitter deur swaar werk met klei en bakstene” (Exodus 1:8-14). Jy kan hierdie aanskoulike verslag en nog baie meer in die tweede Bybelboek, Exodus, lees.

Die Israeliete is dekades lank sleg behandel en ‘hulle geroep om hulp het tot God opgeklim’. Dit was wys van hulle om hulle tot Jehovah te wend. Hy het in Abraham se nakomelinge belanggestel en was vasbeslote om Sy voorneme te vervul om ’n toekomstige seën aan alle volke te voorsien. Jehovah ‘het Israel se gekerm gehoor’ en daarvan kennis geneem, wat vir ons wys dat die Skepper simpatiek staan teenoor mense wat verdruk word en swaar kry (Exodus 2:23-25). Hy het Moses uitgekies om die Israeliete uit slawerny te lei. Maar toe Moses en sy broer, Aäron, Egipte se Farao gaan vra om hierdie verknegte volk te laat wegtrek, het hy uitdagend geantwoord: “Wie is Jehovah, sodat ek sy stem moet gehoorsaam om Israel weg te stuur?”—Exodus 5:2, NW.

Kan jy jou voorstel dat die Skepper van die heelal vir so ’n uitdaging sou terugdeins, al het dit ook van die heerser van die grootste bestaande militêre moondheid gekom? God het Farao en die Egiptenaars met ’n reeks plae getref. Uiteindelik, ná die tiende plaag, het Farao ingestem om die Israeliete te laat gaan (Exodus 12:29-32). So het Abraham se nakomelinge Jehovah as ’n werklike persoon leer ken—een wat op sy bestemde tyd vryheid voorsien. Ja, soos sy naam aandui, het Jehovah op dramatiese wyse ’n vervuller van sy beloftes geword (Exodus 6:3, NW). Maar Farao sowel as die Israeliete sou nog meer omtrent daardie naam leer.

Dít het gebeur omdat Farao gou van gedagte verander het. Hy het sy leër gelei om die vertrekkende slawe vinnig agterna te sit en het hulle naby die Rooi See ingehaal. Die Israeliete was tussen die see en die Egiptiese leër vasgekeer. Toe het Jehovah tussenbeide getree deur ’n weg deur die Rooi See te open. Farao moes besef het dat dit ’n vertoning van God se onoorwinlike krag is. In plaas daarvan het hy sy strydmagte halsoorkop agter die Israeliete aan gelei—maar hy het saam met sy leër verdrink toe God die see na sy normale posisie laat terugkeer het. Die verslag in Exodus sê nie presies hoe God hierdie merkwaardige dade verrig het nie. Ons kan hulle tereg wonderwerke noem, want die dade en die tyd waarop hulle plaasgevind het, was buite die mens se beheer. Sulke dade sou beslis nie onmoontlik wees vir die Een wat die heelal sowel as al die wette daarvan geskep het nie.—Exodus 14:1-31.

Hierdie gebeurtenis het vir die Israeliete bewys—en dit moet ook vir ons beklemtoon—dat Jehovah ’n Redder is wat sy naam naleef. Maar ons behoort selfs meer omtrent God se weë uit hierdie verslag te leer. Hy het byvoorbeeld in geregtigheid teen ’n verdrukkende nasie opgetree, terwyl hy liefderyke goedhartigheid bewys het aan sy volk deur wie die Saad sou kom. Wat laasgenoemde betref, is wat ons in Exodus lees alles behalwe ou geskiedenis; dit hou verband met God se voorneme om ’n seën vir almal moontlik te maak.

Die tog na ’n beloofde land

Nadat Moses en die volk Egipte verlaat het, het hulle deur die woestyn na die berg Sinai getrek. Wat daar gebeur het, het bepaal hoe God eeue lank met die nasie sou handel. Hy het wette voorsien. Die Skepper het natuurlik reeds eeue tevore die wette ingestel wat materie in ons heelal beheer, wette wat steeds van krag is. Maar by die berg Sinai het hy Moses gebruik om volkswette te voorsien. Ons kan in die boek Exodus en die daaropvolgende drie boeke—Levitikus, Numeri en Deuteronomium—lees van God se dade sowel as die Wet wat hy voorsien het. Geleerdes meen dat Moses ook die boek Job geskryf het. Ons sal van die belangrike inhoud daarvan in Hoofstuk 10 bespreek.

Selfs vandag nog weet miljoene mense regoor die wêreld van die Tien Gebooie, die vernaamste sedevoorskrif van hierdie volledige Wet, en hulle probeer dit nakom. Hierdie Wet bevat egter baie ander voorskrifte wat weens hulle voortreflikheid bewonder word. Dit is te verstane dat baie bepalings om die Israelitiese lewenswyse van destyds gedraai het, soos reëls oor higiëne, sanitasie en siekte. Hoewel hierdie wette aanvanklik vir ’n volk van die ou tyd ingestel is, weerspieël dit kennis van wetenskaplike feite wat deskundiges maar eers in die afgelope eeu of wat ontdek het (Levitikus 13:46, 52; 15:4-13; Numeri 19:11-20; Deuteronomium 23:12, 13). ’n Mens kan tereg vra: Hoe het dit gekom dat die wette vir eertydse Israel kennis en wysheid weerspieël het wat dié van ander nasies van dieselfde tyd ver oortref het? ’n Redelike antwoord is dat daardie wette van die Skepper afkomstig was.

Die wette het ook geslagslyne help bewaar en godsdienspligte vir die Israeliete voorgeskryf wat hulle moes nakom totdat die Saad sou verskyn. As hulle sou instem om alles te doen wat God gevra het, sou hulle onder verpligting kom om volgens daardie Wet te lewe (Deuteronomium 27:26; 30:17-20). Hulle kon die Wet weliswaar nie volmaak onderhou nie. Maar selfs dít was van nut. ’n Regsdeskundige het later verduidelik dat die Wet ‘oortredings openbaar gemaak het, totdat die saad sou kom aan wie die belofte gedoen is’ (Galasiërs 3:19, 24). Die Wet het hulle dus ’n afgeskeie volk gemaak, hulle daaraan herinner dat hulle die Saad, of Messias, nodig het en hulle voorberei om hom te verwelkom.

Die Israeliete, wat by die berg Sinai vergader was, het ingestem om God se Wet na te kom. Sodoende het hulle gekom onder wat die Bybel ’n verbond (’n ooreenkoms) noem. Die verbond was tussen daardie nasie en God. Hoewel hulle hierdie verbond vrywillig gesluit het, het hulle getoon dat hulle ’n hardnekkige volk is. Hulle het byvoorbeeld ’n goue kalf gemaak as hulle voorstelling van God. Dít was ’n sonde, want afgodediens was ’n regstreekse oortreding van die Tien Gebooie (Exodus 20:4-6). Daarbenewens het hulle oor hulle lewensmiddele gekla, teen God se aangestelde leier (Moses) in opstand gekom en hulle oorgegee aan onsedelike omgang met vreemde vroue wat afgode aanbid het. Maar waarom moet dit vir ons, wat so lank ná Moses se tyd lewe, van belang wees?

Dit is weer eens nie bloot ou geskiedenis nie. Bybelverslae oor Israel se ondankbare dade en God se reaksie toon dat hy waarlik omgee. Die Bybel sê dat die Israeliete Jehovah “herhaaldelik” op die proef gestel het en hom “gegrief” en “bedroef” het (Psalm 78:40, 41, NW). Ons kan dus daarvan seker wees dat die Skepper gevoelens het en dat hy omgee wat mense doen.

Uit ons standpunt gesien, sou ’n mens dalk dink dat Israel se oortredings sou veroorsaak het dat God sy verbond beëindig en moontlik ’n ander nasie kies om sy belofte te vervul. Maar hy het dit nie gedoen nie. Hy het eerder die skaamtelose oortreders gestraf, maar aan sy weerspannige nasie as ’n geheel barmhartigheid bewys. Ja, God het lojaal gebly aan sy belofte wat hy aan sy getroue vriend Abraham gedoen het.

Kort voor lank het Israel naby Kanaän gekom, wat die Bybel die Beloofde Land noem. Dit is bewoon deur magtige volke wat in sedelik verlagende gebruike verstok was. Die Skepper het 400 jaar laat verloop sonder om teen hulle op te tree, maar toe het hy tereg besluit om die land aan eertydse Israel te gee. (Genesis 15:16; sien ook “’n Jaloerse God—In watter sin?”, bladsye 132-3.) Ter voorbereiding het Moses 12 verkenners na die land gestuur. Tien van hulle het ’n gebrek aan geloof in Jehovah se reddingskrag getoon. Hulle verslag het gemaak dat die volk teen God murmureer en saamspan om na Egipte terug te keer. Gevolglik het God die volk gevonnis om 40 jaar in die woestyn rond te trek.—Numeri 14:1-4, 26-34.

Wat het daardie vonnis bereik? Voor sy dood het Moses die kinders van Israel gemaan om daardie jare te onthou waartydens Jehovah hulle verootmoedig het. Moses het vir hulle gesê: “Erken dan in jou hart dat die HERE jou God jou onderrig soos ’n man sy seun onderrig” (Deuteronomium 8:1-5). Ondanks hulle krenkende optrede teenoor Jehovah het hy hulle van die nodige lewensbehoeftes voorsien, wat getoon het dat hulle van hom afhanklik is. Die nasie het byvoorbeeld aan die lewe gebly omdat hy hulle van manna voorsien het, iets eetbaars wat gesmaak het soos koeke wat met heuning gemaak is. Dit is duidelik dat hulle baie uit hulle woestynondervinding moes geleer het. Dit moes getoon het hoe belangrik dit is om hulle barmhartige God te gehoorsaam en op hom te vertrou.—Exodus 16:13-16, 31; 34:6, 7.

Ná Moses se dood het God Josua aangestel om Israel te lei. Hierdie dapper en lojale man het die nasie in Kanaän ingelei en die verowering van die land moedig onderneem. Binne ’n kort rukkie het Josua 31 konings verslaan en die grootste deel van die Beloofde Land in besit geneem. Jy kan hierdie opwindende geskiedenis in die boek Josua vind.

Heerskappy sonder ’n mensekoning

Gedurende die hele woestyntrek en die vroeë jare in die Beloofde Land het die nasie Moses en toe Josua as leier gehad. Die Israeliete het nie ’n mensekoning nodig gehad nie, want Jehovah was hulle Soewerein. Hy het voorsiening gemaak vir aangestelde oudstes, oftewel ouer manne, om regsake by die stadspoorte te verhoor. Hulle het die orde gehandhaaf en die volk geestelik gehelp (Deuteronomium 16:18; 21:18-20). Die boek Rut bied ’n fassinerende blik op hoe sulke ouer manne ’n regsaak hanteer het op grond van die wet wat inDeuteronomium 25:7-9 gevind word.

Deur die jare heen het die nasie hulle dikwels God se misnoeë op die hals gehaal deur herhaaldelik aan hom ongehoorsaam te wees en hulle tot Kanaänitiese gode te wend. Maar wanneer hulle in groot benoudheid verkeer het en tot Jehovah om hulp geroep het, het hy hulle onthou. Hy het rigters verwek wat die leiding geneem het om Israel te bevry en hulle van verdrukkende buurvolke te verlos. Die boek genaamd Rigters gee ’n lewendige beskrywing van die heldedade van 12 van hierdie dapper rigters.—Rigters 2:11-19; Nehemia 9:27.

Die verslag sê: “In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë” (Rigters 21:25). Die nasie het die standaarde gehad wat in die Wet uiteengesit is, en daarom het die volk met behulp van die ouer manne en onderrigting van die priesters ’n grondslag gehad om met gerustheid ‘te doen wat reg was in hulle oë’. Verder het die Wet voorsiening gemaak vir ’n tabernakel, of draagbare tempel, waar offerandes gebring is. Ware aanbidding is daar beoefen en het gehelp om die nasie gedurende daardie tyd te verenig.

Deel twee—Voorspoed onder konings

Terwyl Samuel ’n rigter in Israel was, het die volk ’n mensekoning gevra. Die eerste drie konings—Saul, Dawid en Salomo—het elk 40 jaar lank regeer, van 1117 tot 997 v.G.J. Israel het sy toppunt van rykdom en heerlikheid bereik, en die Skepper het belangrike stappe gedoen ter voorbereiding vir die koningskap van die toekomstige Saad.

As rigter en profeet het Samuel goed na Israel se geestelike welsyn omgesien, maar sy seuns het nie. Die volk het uiteindelik by Samuel aangedring: “Stel nou ’n koning oor ons aan om ons te rig soos by al die nasies.” Jehovah het vir Samuel verduidelik wat hulle versoek beteken: “Luister na die volk . . . , want nie jou het hulle verwerp nie, maar My het hulle verwerp om nie koning oor hulle te wees nie.” Jehovah het vooruitgesien watter jammerlike gevolge hierdie verwikkeling sou hê (1 Samuel 8:1-9). Maar in ooreenstemming met hulle versoek het hy ’n beskeie man met die naam Saul as koning oor Israel aangestel. Ondanks sy goeie begin het Saul, nadat hy koning geword het, eiesinnige neigings getoon en God se gebooie oortree. God se profeet het aangekondig dat die koningskap aan ’n man na Jehovah se hart gegee sou word. Dit moet vir ons beklemtoon hoe belangrik hartgrondige gehoorsaamheid in die Skepper se oë is.—1 Samuel 15:22, 23.

Dawid, wat die volgende koning van Israel sou wees, was die jongste seun in ’n gesin uit die stam Juda. Wat hierdie verbasende keuse betref, het God vir Samuel gesê: “Die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan” (1 Samuel 16:7). Is dit nie bemoedigend dat die Skepper kyk na wat ons innerlik is en nie na die uiterlike nie? Saul het egter sy eie idees gehad. Van die tyd dat Jehovah Dawid as die toekomstige koning gekies het, was Saul soos ’n besetene—behep met die idee om Dawid dood te maak. Jehovah het dit nie laat gebeur nie, en uiteindelik het Saul en sy seuns gesneuwel in ’n stryd teen ’n oorlogsugtige volk wat die Filistyne genoem is.

Dawid het vanuit die stad Hebron as koning regeer. Toe het hy Jerusalem verower en sy hoofstad soontoe verskuif. Hy het ook Israel se grense uitgebrei sodat dit die hele land ingesluit het wat God belowe het om aan Abraham se nakomelinge te gee. Jy kan van hierdie tydperk (en die geskiedenis van latere konings) in ses geskiedkundige Bybelboeke lees.b Hulle toon dat Dawid se lewe nie sonder probleme was nie. Hy het byvoorbeeld aan menslike begeerte toegegee en hom aan owerspel met die pragtige Batseba skuldig gemaak en toe ander verkeerde dade gepleeg om sy sonde te bedek. As die God van geregtigheid kon Jehovah nie Dawid se oortreding sommer net oorsien nie. Maar as gevolg van Dawid se hartgrondige berou het God nie vereis dat die Wet se straf streng toegepas word nie; Dawid sou nietemin baie gesinsprobleme as gevolg van sy sondes hê.

Deur al hierdie krisisse heen het Dawid God as ’n persoon—iemand met gevoelens—leer ken. Hy het geskryf: “Jehovah is naby almal wat hom aanroep . . . en hulle hulpgeroep sal hy hoor” (Psalm 145:18-20, NW). Dawid se opregtheid en toegewydheid kan duidelik gesien word in die pragtige liedere wat hy gekomponeer het, wat omtrent die helfte van die boek Psalms uitmaak. Miljoene mense het al troos en bemoediging uit hierdie gedigte geput. Kyk hoe na aan God was Dawid, soos blyk uitPsalm 139:1-4 (NW): “O Jehovah, u het my deurvors, en u ken my. U het my sit en my opstaan te wete gekom. U het my gedagte van ver beskou. . . . Want daar is geen woord op my tong nie, of kyk! o Jehovah, u weet dit reeds alles.”

Dawid was veral bewus van God se reddingskrag (Psalm 20:7; 28:9; 34:8, 10; 37:39). Elke keer dat hy dit ervaar het, het sy vertroue in Jehovah toegeneem. Jy kan inPsalm 30:6; 62:9 en 103:9 bewys hiervan sien. Of leesPsalm 51, wat Dawid geskryf het nadat hy oor sy sonde met Batseba tereggewys is. Hoe verfrissend is dit tog om te weet dat ons ons geredelik teenoor die Skepper kan uitspreek, in die versekering dat hy nie trots is nie, maar nederig bereid is om te luister! (Psalm 18:36; 69:34; 86:1-8). Dawid het nie bloot deur ondervinding tot hierdie besef gekom nie. “Ek peins oor al u dade”, het hy geskryf, “ek dink ná oor die werk van u hande.”—Psalm 63:7; 143:5.

Jehovah het ’n spesiale verbond vir ’n ewige koninkryk met Dawid gesluit. Dawid het waarskynlik nie die volle betekenis van hierdie verbond begryp nie, maar uit besonderhede wat later in die Bybel opgeteken is, kan ons sien dat God aangedui het dat die beloofde Saad in Dawid se geslagslyn sou kom.—2 Samuel 7:16.

Wyse koning Salomo en die sin van die lewe

Dawid se seun Salomo was bekend vir sy wysheid, en ons kan daarby baat vind deur die uiters praktiese boeke Spreuke en Prediker te leesc (1 Konings 10:23-25). Laasgenoemde boek is veral nuttig vir mense wat sin in hulle lewe soek, net soos wyse koning Salomo gedoen het. As die eerste Israelitiese koning wat in ’n koninklike familie gebore is, het die lewe eindelose moontlikhede vir Salomo ingehou. Hy het ook ontsaglike bouprojekte aangepak, ’n indrukwekkende verskeidenheid voedsel op sy tafel gehad en musiek en die geselskap van uitsonderlike metgeselle geniet. Tog het hy geskryf: “Ek [het] gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het—en kyk, dit was alles tevergeefs” (Prediker 2:3-9, 11). Wat het dit beteken?

Salomo het geskryf: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg” (Prediker 12:13, 14). In ooreenstemming hiermee het Salomo ’n sewe jaar lange projek onderneem om ’n glorieryke tempel te bou waar mense God kon aanbid.—1 Konings, hoofstuk 6.

Salomo se bewind is jare lank deur vrede en oorvloed gekenmerk (1 Konings 4:20-25). Maar sy hart was nie so volkome met Jehovah soos Dawid s’n nie. Salomo het talle vreemde vroue geneem en toegelaat dat hulle sy hart tot hulle gode neig. Jehovah het uiteindelik gesê: “Ek [sal] verseker die koningskap van jou afskeur . . . ; een stam sal Ek aan jou seun gee ter wille van my kneg Dawid en ter wille van Jerusalem.”—1 Konings 11:4, 11-13.

Deel drie—Die koninkryk word verdeel

Ná Salomo se dood het tien noordelike stamme in 997 v.G.J. weggebreek. Hulle het die koninkryk van Israel gevorm, wat in 740 v.G.J. deur die Assiriërs verower is. Die konings in Jerusalem het oor twee stamme regeer. Hierdie koninkryk, Juda, het voortbestaan totdat die Babiloniërs Jerusalem in 607 v.G.J. verower en die inwoners gevange geneem het. Juda het 70 jaar lank verlate gelê.

Toe Salomo sterf, het sy seun Rehabeam aan bewind gekom en die lewe vir die volk moeilik gemaak. Dit het tot ’n opstand gelei, en tien stamme het weggebreek om die koninkryk van Israel te word (1 Konings 12:1-4, 16-20). Deur die jare heen het hierdie noordelike koninkryk nie aan die ware God getrou gebly nie. Die volk het hulle dikwels voor afgode in die vorm van ’n goue kalf neergebuig of in ander vorme van valse aanbidding verval. Party van die konings is vermoor en hulle dinastieë is deur verdringers omvergewerp. Jehovah het groot verdraagsaamheid getoon en herhaaldelik profete gestuur om die nasie te waarsku dat tragedie voorlê as hulle met hulle afvalligheid sou voortgaan. Die boeke Hosea en Amos is deur profete geskryf wie se boodskappe tot hierdie noordelike koninkryk gerig was. Uiteindelik, in 740 v.G.J., het die Assiriërs die tragedie gebring wat God se profete voorspel het.

In die suide het 19 opeenvolgende konings van Dawid se huis tot 607 v.G.J. oor Juda regeer. Koning Asa, Josafat, Hiskia en Josia het soos hulle voorvader Dawid regeer, en hulle het Jehovah se guns verkry (1 Konings 15:9-11; 2 Konings 18:1-7; 22:1, 2; 2 Kronieke 17:1-6). Toe hierdie konings regeer het, het Jehovah die nasie geseën. The Englishman’s Critical and Expository Bible Cyclopædia sê: “Die grootse konserwatiewe kenmerk van J[uda] was die Goddelik ingestelde tempel, priesterdom, geskrewe wet en erkenning van die een ware God Jehovah as die ware teokratiese koning daarvan. . . . Hierdie getrouheid aan die wet . . . het ’n opeenvolging van konings voortgebring waaronder daar talle wyse en goeie vorste was . . . Gevolglik het J[uda] haar volkryker noordelike suster oorleef.” Hierdie goeie konings was baie minder as dié wat nie in die weg van Dawid gewandel het nie. Jehovah het sake nietemin so bewerk dat ‘sy kneg Dawid altyd ’n lamp kon hê voor sy aangesig in Jerusalem, die stad wat God vir hom verkies het om sy naam daar te vestig’.—1 Konings 11:36.

Naderende vernietiging

Manasse was een van die konings van Juda wat van ware aanbidding afgewyk het. “[Hy het] sy seun deur die vuur laat deurgaan en met goëlery en verklaring van voortekens omgegaan en dodebesweerders en waarsêers aangestel; hy het baie gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE om Hom te terg” (2 Konings 21:6, 16). Koning Manasse het sy volk verlei ‘om meer kwaad te doen as die nasies wat Jehovah verdelg het’. Nadat die Skepper Manasse en sy volk herhaaldelik gewaarsku het, het hy gesê: “[Ek sal] Jerusalem wegvee soos ’n mens ’n skottel uitvee.”—2 Kronieke 33:9, 10; 2 Konings 21:10-13.

As ’n voorspel het Jehovah toegelaat dat die Assiriërs Manasse gevange neem en met koperkettings boei (2 Kronieke 33:11). In ballingskap het Manasse tot besinning gekom en “hom diep verootmoedig voor die aangesig van die God van sy vaders”. Hoe het Jehovah gereageer? “[God het] na sy smeking geluister en hom na Jerusalem in sy koningskap teruggebring. Toe het Manasse erken dat die HERE God is.” Koning Manasse en sy kleinseun, koning Josia, het albei nodige hervormings tot stand gebring. Nietemin het die nasie hulle nie vir goed van grootskaalse sedelike en godsdienstige verdorwenheid afgewend nie.—2 Kronieke 33:1-20; 34:1–35:25; 2 Konings, hoofstuk 22.

Dit is noemenswaardig dat Jehovah ywerige profete gestuur het om sy beskouing bekend te maak oor wat besig was om te gebeur.d Jeremia het Jehovah se woorde oorgedra: “Van die dag af dat julle vaders uit Egipteland uitgetrek het tot vandag toe het Ek na julle al my knegte, die profete, gestuur, daagliks, vroeg en laat.” Maar die volk het nie na God geluister nie. Hulle het slegter as hulle voorvaders opgetree! (Jeremia 7:25, 26). Hy het hulle herhaaldelik gewaarsku, ‘want hy het medelyde met sy volk gehad’. Hulle het steeds geweier om gehoor te gee. Gevolglik het hy die Babiloniërs in 607 v.G.J. toegelaat om Jerusalem te vernietig en die land te verwoes. Dit het 70 jaar lank verlate gelê.—2 Kronieke 36:15, 16; Jeremia 25:4-11.

Hierdie kort oorsig van God se dade behoort ons te help sien dat Jehovah oor sy nasie besorg was en hulle regverdig behandel het. Hy het hom nie onttrek en bloot gewag om te sien wat die volk sou doen, asof dit hom glad nie aangaan nie. Hy het hulle daadwerklik probeer help. Jy kan sien waarom Jesaja gesê het: “O Jehovah, u is ons Vader. . . . Ons almal is die werk van u hand” (Jesaja 64:8, NW). Gevolglik verwys baie vandag na die Skepper as “Vader”, want hy reageer soos ’n liefdevolle, belangstellende mensevader sou reageer. Maar hy besef ook dat ons vir ons eie handelswyse en die gevolge daarvan verantwoordelik moet wees.

Nadat die nasie 70 jaar lank in Babilon in gevangenskap was, het Jehovah God sy profesie vervul om Jerusalem te herstel. Die volk is bevry en toegelaat om na hulle vaderland terug te keer om ‘die huis van Jehovah te herbou, wat in Jerusalem was’ (Esra 1:1-4, NW;Jesaja 44:24–45:7). ’n Aantal Bybelboekee handel oor hierdie herstelling, die herbouing van die tempel of die daaropvolgende gebeure. Een van hulle, Daniël, is besonder interessant omdat dit voorspel het presies wanneer die Saad, of Messias, sou verskyn, en dit het wêreldgebeure in ons tyd voorspel.

Die tempel is uiteindelik herbou, maar Jerusalem was in ’n jammerlike toestand. Die stad se mure en poorte was vervalle. God het dus manne soos Nehemia verwek om die Jode te bemoedig en te organiseer. ’n Gebed wat ons inNehemia hoofstuk 9 kan lees, som Jehovah se handelinge met die Israeliete goed op. Dit toon dat Jehovah “’n God van dade van vergewing [is], goedgunstig en barmhartig, stadig tot toorn en oorvloedig in liefderyke goedhartigheid” (NW). Die gebed toon ook dat Jehovah in ooreenstemming met sy volmaakte standaard van geregtigheid optree. Selfs wanneer hy goeie rede het om sy krag te gebruik om oordeel te voltrek, is hy bereid om geregtigheid met liefde te versag. Dit verg wysheid van hom om dit op ’n ewewigtige en bewonderenswaardige wyse te doen. Die Skepper se handelinge met die nasie Israel behoort ons beslis tot hom aangetrokke te laat voel en ons te beweeg om sy wil te probeer doen.

Wanneer hierdie deel van die Bybel (die Ou Testament) eindig, is Juda, met sy tempel in Jerusalem, herstel maar onder heidense bewind. Hoe kon God se verbond met Dawid oor ’n “saad” wat “vir ewig” sou heers dan vervul word? (Psalm 89:3, 4, NW;132:11, 12). Die Jode het nog steeds uitgesien na die verskyning van ’n “Messias die Leier” wat God se volk sou bevry en ’n teokratiese (Godbeheerde) koninkryk op aarde sou oprig (Daniël 9:24, 25, NW). Maar was dít Jehovah se voorneme? Indien nie, hoe sou die beloofde Messias dan verlossing bewerkstellig? En hoe raak dit ons vandag? Die volgende hoofstuk sal hierdie uiters belangrike vrae bespreek.

[Voetnote]

a Die name van Bybelboeke is in vetdruk as ’n hulpmiddel om hulle inhoud te identifiseer.

b Dit is 1 Samuel, 2 Samuel, 1 Konings, 2 Konings, 1 Kronieke en 2 Kronieke.

c Hy het ook Hooglied van Salomo geskryf, ’n liefdesgedig wat die lojaliteit van ’n jong vrou teenoor ’n nederige herder na vore bring.

d ’n Aantal Bybelboeke bevat sulke geïnspireerde profetiese boodskappe. Hulle sluit Jesaja, Jeremia, Klaagliedere, Esegiël, Joël, Miga, Habakuk en Sefanja in. Die boeke Obadja, Jona en Nahum het die aandag gevestig op omliggende nasies wie se handelinge God se volk geraak het.

e Hierdie geskiedkundige en profetiese boeke sluit Esra, Nehemia, Ester, Haggai, Sagaria en Maleagi in.

[Venster op bladsy 126, 127]

Wonderwerke—Kan jy daaraan glo?

“Dit is onmoontlik om elektriese lig en die radio te gebruik en moderne mediese en chirurgiese ontdekkings te benut en terselfdertyd aan die Nieu-Testamentiese wêreld van geeste en wonderwerke te glo.” Hierdie woorde van die Duitse teoloog Rudolf Bultmann weerspieël talle hedendaagse mense se beskouing van wonderwerke. Is dit hoe jy wonderwerke beskou wat in die Bybel opgeteken staan, soos God se verdeling van die Rooi See?

The Concise Oxford Dictionary omskryf “wonderwerk” as “’n buitengewone gebeurtenis wat aan ’n bonatuurlike mag toegeskryf word”. So ’n buitengewone gebeurtenis behels ’n versteuring van die natuur se orde, wat die rede is waarom baie nie geneig is om aan wonderwerke te glo nie. Maar wat na ’n verbreking van ’n natuurwet lyk, kan dalk maklik verklaar word in die lig van die ander betrokke natuurwette.

Ter toeligting: New Scientist het berig dat twee fisici by die Universiteit van Tokio ’n horisontale buis wat gedeeltelik vol water was in ’n baie sterk magnetiese veld gebring het. Die water het vinnig na weerskante van die buis beweeg sodat die middelste gedeelte droog was. Die verskynsel, wat in 1994 ontdek is, werk omdat water ietwat diamagneties is en dus deur ’n magneet afgestoot word. Die bewese verskynsel van water wat beweeg van waar ’n magnetiese veld baie hoog is na waar dit laer is, is Die Moses-effek genoem. New Scientist het gesê: “Dit is maklik om water te laat rondbeweeg—as jy ’n groot genoeg magneet het. En as jy een het, dan is feitlik enigiets moontlik.”

’n Mens kan natuurlik nie met sekerheid sê watter proses God gebruik het toe hy die Rooi See vir die Israeliete verdeel het nie. Maar die Skepper ken al die natuurwette tot in die fynste besonderheid. Hy kan sekere aspekte van een wet maklik beheer deur een van die ander wette te gebruik wat hy ingestel het. Vir mense kan die gevolg wonderdadig lyk, veral as hulle nie die betrokke wette volkome verstaan nie.

Wat wonderwerke in die Bybel betref, sê Akira Jamada, emeritus professor van die Universiteit van Kioto in Japan: “Hoewel dit korrek is om te sê dat [’n wonderwerk] op die oomblik nie verstaan kan word uit die standpunt van die wetenskap waarby ’n mens betrokke is (of uit die bestaande toestand van die wetenskap) nie, is dit verkeerd om bloot op grond van die gevorderde moderne fisika of die gevorderde moderne Bybelkunde tot die gevolgtrekking te kom dat dit nie plaasgevind het nie. Oor tien jaar sal vandag se moderne wetenskap ’n outydse wetenskap wees. Hoe vinniger die wetenskap vooruitgaan, hoe groter is die moontlikheid dat vandag se wetenskaplikes die skyf van grappe sal word soos: ‘Wetenskaplikes van tien jaar gelede het sowaar dit en dat geglo.’”—Gods in the Age of Science.

As die Skepper, wat al die natuurwette kan laat saamwerk, kan Jehovah sy krag gebruik om wonderwerke te verrig.

[Venster op bladsy 132, 133]

’n Jaloerse God—In watter sin?

“Jehovah, wie se naam Jaloers is—’n jaloerse God is hy.” Ons kan hierdie woorde inExodus 34:14 (NW) lees, maar wat beteken dit?

Die Hebreeuse woord wat met “jaloers” vertaal word, kan “vereis uitsluitlike toegewydheid, duld geen mededinging nie” beteken. Jehovah is, in ’n positiewe sin wat sy skepsele tot voordeel strek, jaloers ten opsigte van sy naam en aanbidding (Esegiël 39:25, NW). Sy ywer om na te leef wat sy naam verteenwoordig, beteken dat hy sy voorneme met die mensdom sal vervul.

Kyk byvoorbeeld na sy veroordeling van die mense wat in die land Kanaän gewoon het. Een geleerde gee hierdie skokkende beskrywing: “Die aanbidding van Baäl, Astarte en ander Kanaänitiese gode het uit die buitensporigste swelgpartye bestaan; hulle tempels was sentrums van ontug. . . . Kanaäniete het aanbid deur losbandigheid, . . . en dan deur hulle eersgebore kinders te vermoor, as ’n offerande aan daardie selfde gode.” Argeoloë het flesse met die oorblyfsels van die geofferde kinders daarin gevind. Hoewel God die Kanaäniete se sonde in Abraham se dag gesien het, het hy 400 jaar lank geduld teenoor hulle beoefen en hulle oorgenoeg tyd gegee om te verander.—Genesis 15:16.

Was die Kanaäniete bewus van hoe ernstig hulle sonde was? Wel, soos alle mense het hulle ’n gewete gehad, wat deur regsgeleerdes as ’n universele grondslag vir sedelikheid en geregtigheid erken word (Romeine 2:12-15). Ten spyte daarvan het die Kanaäniete voortgegaan met hulle afskuwelike kinderofferandes en verdorwe seksgebruike.

Jehovah het in sy ewewigtige geregtigheid besluit dat die land gereinig moes word. Dit was nie volksmoord nie. Kanaäniete wat God se hoë sedelike standaarde uit vrye wil aanvaar het, individue soos Ragab sowel as hele groepe soos die Gibeoniete, is gespaar (Josua 6:25; 9:3-15). Ragab het ’n skakel geword in die koninklike geslagslyn wat tot die Messias gelei het, en nakomelinge van die Gibeoniete het die voorreg gehad om by Jehovah se tempel te dien.—Josua 9:27; Esra 8:20; Matteus 1:1, 5-16.

Wanneer ’n mens dus die hele, duidelike en feitelike beeld probeer kry, is dit makliker om Jehovah as ’n bewonderenswaardige en regverdige God te sien, wat jaloers is op ’n goeie manier wat sy getroue skepsele tot voordeel strek.

[Prent op bladsy 123]

Die Skepper het ’n verknegte volk bevry en hulle gebruik om sy voorneme uit te voer

[Prent op bladsy 129]

Die eertydse nasie Israel het by die berg Sinai in ’n verbondsverhouding met die Skepper getree

[Prent op bladsy 130]

Gehoorsaamheid aan die Skepper se weergalose wette het sy volk gehelp om die Beloofde Land te geniet

[Prent op bladsy 136]

Jy kan die gebied suid van Jerusalem se muur besoek waar koning Dawid sy hoofstad gehad het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel