Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • dp hfst. 3 bl. 30-45
  • Getoets—Maar getrou aan Jehovah!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Getoets—Maar getrou aan Jehovah!
  • Gee ag op Daniël se profesie!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • NEBUKADNESAR IN JERUSALEM
  • DIE ROOM VAN DIE JEUG VAN JERUSALEM
  • ’N STRYD OM DIE VERSTAND
  • VASBESLOTE OM AAN JEHOVAH GETROU TE BLY
  • MOED EN VOLHARDING HET GOEIE VRUGTE AFGEWERP
  • ’N TOETSTYD VAN TIEN DAE VOORGESTEL
  • INSIG EN WYSHEID IN PLAAS VAN KOS EN WYN
  • EINDELIK, DIE KRITIEKE TOETS
  • TOT DIE EINDE TOE GETROU
  • Die boek Daniël en jy
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Glanspunte uit die boek Daniël
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Jehovah beloon geloof en moed
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Jehovah verseker Daniël van ’n wonderlike beloning
    Gee ag op Daniël se profesie!
Sien nog
Gee ag op Daniël se profesie!
dp hfst. 3 bl. 30-45

Hoofstuk drie

Getoets—Maar getrou aan Jehovah!

1, 2. Watter betekenisvolle gebeure het as ’n voorspel tot Daniël se verslag plaasgevind?

DIE profetiese boek Daniël begin op ’n tyd wanneer betekenisvolle veranderinge op die wêreldtoneel plaasvind. Assirië het pas tevore beheer oor sy hoofstad Nineve verloor. Egipte is beperk tot ’n posisie van mindere belang suid van die land van Juda. En Babilon was vinnig besig om opgang te maak as die vernaamste moondheid in die stryd om wêreldoorheersing.

2 In 625 v.G.J. het die Egiptiese farao Nego ’n laaste bittere poging aangewend om die Babiloniese uitbreiding na die suide te stuit. Om dit te doen, het hy sy leër na Karkemis gelei, wat aan die oewer van die boloop van die Eufraatrivier geleë was. Die slag by Karkemis, soos dit genoem word, was ’n beslissende, historiese gebeurtenis. Die Babiloniese leër, wat deur kroonprins Nebukadnesar aangevoer is, het farao Nego se magte ’n verwoestende slag toegedien (Jeremia 46:2). Voortgedryf deur die momentum van sy oorwinning het Nebukadnesar Sirië en Palestina ingeneem en Egiptiese oorheersing in hierdie gebied so te sê beëindig. Dit was net die dood van sy vader, Nabopolassar, wat sy veldtog tydelik onderbreek het.

3. Wat was die uitslag van Nebukadnesar se eerste veldtog teen Jerusalem?

3 Die daaropvolgende jaar het Nebukadnesar—nou gekroon as die koning van Babilon—weer sy aandag by sy krygsveldtogte in Sirië en Palestina bepaal. Dit was gedurende hierdie tydperk dat hy vir die eerste keer na Jerusalem gekom het. Die Bybelverslag sê: “In sy dae het Nebukadnesar, die koning van Babel, opgetrek, en Jojakim het drie jaar lank sy dienaar geword; daarna het hy weer teen hom gerebelleer.”—2 Konings 24:1.

NEBUKADNESAR IN JERUSALEM

4. Hoe moet die uitdrukking “die derde jaar van die regering van Jojakim” inDaniël 1:1 verstaan word?

4 Die uitdrukking “drie jaar lank” is vir ons van besondere belang, want die openingswoorde van Daniël sê: “In die derde jaar van die regering van Jojakim, die koning van Juda, het Nebukadnesar, die koning van Babel, na Jerusalem gekom en dit beleër” (Daniël 1:1). In die derde jaar van die volle ampstermyn van Jojakim, wat van 628 tot 618 v.G.J. regeer het, was Nebukadnesar net die kroonprins en nog nie “die koning van Babel” nie. In 620 v.G.J. het Nebukadnesar Jojakim gedwing om skatting te betaal. Maar ná ongeveer drie jaar het Jojakim in opstand gekom. Dit was dus in 618 v.G.J., of gedurende die derde jaar van die regering van Jojakim as onderhorige koning aan Babilon, dat koning Nebukadnesar vir ’n tweede keer na Jerusalem gekom het, om die opstandige Jojakim te straf.

5. Wat was die gevolg van Nebukadnesar se tweede veldtog teen Jerusalem?

5 Die gevolg van hierdie beleëring was dat Jehovah “Jojakim, die koning van Juda, in sy hand gegee [het], met ’n gedeelte van die voorwerpe van die huis van God” (Daniël 1:2). Jojakim het heel waarskynlik gedurende die vroeë deel van die beleëring gesterf—hy is moontlik vermoor of hy het gedurende ’n oproer omgekom (Jeremia 22:18, 19). In 618 v.G.J. het sy 18-jarige seun, Jojagin, hom as koning opgevolg. Maar Jojagin se regering het net drie maande en tien dae geduur, en hy het in 617 v.G.J. oorgegee.—Vergelyk 2 Konings 24:10-15.

6. Wat het Nebukadnesar met die heilige voorwerpe van die tempel in Jerusalem gedoen?

6 Nebukadnesar het heilige voorwerpe uit die tempel in Jerusalem as buit geneem en “hulle na die land Sinear gebring in die huis van sy god, en die voorwerpe het hy [gebring] in die skathuis van sy god”, Mardoek, of Merodag in Hebreeus (Daniël 1:2; Jeremia 50:2). ’n Babiloniese inskripsie is ontdek waarop daar getoon word dat Nebukadnesar die volgende oor die tempel van Mardoek gesê het: “Ek het daarin silwer en goud en kosbare stene bewaar . . . en dit die skathuis van my koninkryk gemaak.” Ons sal weer in die dae van koning Belsasar van hierdie heilige voorwerpe lees.—Daniël 5:1-4.

DIE ROOM VAN DIE JEUG VAN JERUSALEM

7, 8. Wat kan ons uit Daniël 1:3, 4 en 6 aflei omtrent die agtergrond van Daniël en sy drie metgeselle?

7 Nie net die skatte van Jehovah se tempel is na Babilon gebring nie. Die verslag sê: “Daarop het die koning aan Aspenas, die owerste van sy hofdienaars, bevel gegee om uit die kinders van Israel, uit die koninklike geslag sowel as uit die edeles, te bring: jong seuns aan wie geen enkele liggaamsgebrek was nie, maar wat mooi van aansien was en vernuftig in allerhande wysheid en in besit van kennis en insig in wetenskap, en wat bekwaam was om in die paleis van die koning te dien.”—Daniël 1:3, 4.

8 Wie is gekies? Ons lees: “Onder hulle was uit die kinders van Juda: Daniël, Hananja, Misael en Asarja” (Daniël 1:6). Dit werp lig op die andersins onbekende agtergrond van Daniël en sy metgeselle. Ons sien byvoorbeeld dat hulle “kinders van Juda”, die koninklike stam, was. Of hulle uit die koninklike lyn was of nie, dit is redelik om te dink dat hulle ten minste uit belangrike en invloedryke families gekom het. Buiten dat hulle fisies en verstandelik gesond was, het hulle insig, wysheid, kennis en onderskeidingsvermoë gehad—terwyl hulle nog jonk genoeg was om “jong seuns” genoem te word, moontlik in hulle vroeë tienerjare. Daniël en sy metgeselle moes besondere jong manne gewees het—die room van die jeug van Jerusalem.

9. Waarom is dit feitlik seker dat Daniël en sy drie metgeselle godvresende ouers gehad het?

9 Die verslag sê nie vir ons wie die ouers van hierdie jongmense was nie. Maar hulle was ongetwyfeld godvrugtige mense wat hulle ouerlike verantwoordelikhede ernstig opgeneem het. As ’n mens die sedelike en geestelike verdorwenheid in ag neem wat destyds in Jerusalem aan die orde van die dag was, veral onder ‘die koninklike geslag sowel as die edeles’, is dit duidelik dat die besonderse eienskappe van Daniël en sy drie metgeselle geen toeval was nie. Dit is onnodig om te sê dat dit vir hulle ouers hartverskeurend moes gewees het om te sien hoe hulle seuns na ’n verre land geneem word. Hoe trots sou hulle tog gewees het as hulle net geweet het wat die resultaat sou wees! Hoe belangrik is dit tog dat ouers hulle kinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” opvoed!—Efesiërs 6:4.

’N STRYD OM DIE VERSTAND

10. Wat is die jong Hebreërs geleer, en waarom?

10 Die stryd om die jong verstande van hierdie ballinge het onmiddellik begin. Om te verseker dat die Hebreeuse tieners gevorm sou word sodat hulle by die Babiloniese stelsel sou inpas, het Nebukadnesar sy amptenare beveel “om hulle die skrif en die taal van die Chaldeërs te leer” (Daniël 1:4). Dit was nie sommer alledaagse opleiding nie. The International Standard Bible Encyclopedia verduidelik dat dit “’n studie van Sumeries, Akkadies, Aramees . . . en ander tale, sowel as die omvangryke literatuur daarvan behels het”. “Die omvangryke literatuur” het geskiedenis, wiskunde, sterrekunde, ensovoorts ingesluit. Maar “verwante godsdiensgeskrifte, voortekens sowel as astrologie . . . , het ’n groot deel daarvan uitgemaak”.

11. Watter stappe is gedoen om te verseker dat die Hebreeuse jong manne heeltemal in die lewe aan die Babiloniese hof opgeneem sou word?

11 Sodat hierdie Hebreeuse jong manne die gewoontes en kultuur van die Babiloniese hof heeltemal sou aanneem, het die koning “vir hulle ’n daaglikse porsie bestem uit die spys van die koning en van die wyn wat hy gedrink het; om hulle so drie jaar lank op te voed, sodat hulle aan die einde daarvan voor die koning kan dien” (Daniël 1:5). Daarbenewens het “die owerste van die hofdienaars . . . hulle ander name gegee: Daniël het hy Beltsasar genoem, en Hananja Sadrag, en Misael Mesag, en Asarja Abednego” (Daniël 1:7). In Bybeltye was dit ’n algemene gebruik om vir iemand ten tye van ’n betekenisvolle gebeurtenis in sy lewe ’n nuwe naam te gee. Jehovah het byvoorbeeld Abram en Sarai se name na Abraham en Sara verander (Genesis 17:5, 15, 16). Dit is ’n duidelike bewys van gesag of oorheersing as ’n mens iemand se naam kan verander. Toe Josef die voedseladministrateur van Egipte geword het, het Farao hom die naam Safenat-Paneag gegee.—Genesis 41:44, 45; vergelyk 2 Konings 23:34; 24:17.

12, 13. Waarom kan daar gesê word dat die verandering van die name van die jong Hebreërs ’n poging was om hulle geloof te ondermyn?

12 In die geval van Daniël en sy drie Hebreeuse vriende, was die naamveranderinge betekenisvol. Die name wat hulle ouers hulle gegee het, was in ooreenstemming met die aanbidding van Jehovah. “Daniël” beteken “My regter is God”. Die betekenis van “Hananja” is “Jehovah het guns betoon”. “Misael” beteken moontlik “Wie is soos God?” “Asarja” beteken “Jehovah het gehelp”. Dit was ongetwyfeld die vurige hoop van hulle ouers dat hierdie seuns onder Jehovah God se leiding sou grootword en getroue en lojale knegte van hom sou wees.

13 Die nuwe name wat aan die vier Hebreërs gegee is, het egter almal nou verband gehou met dié van valse gode, wat geïmpliseer het dat die ware God deur daardie gode oorwin is. Wat ’n listige poging om die geloof van hierdie jongmense te ondermyn!

14. Wat beteken die nuwe name wat aan Daniël en sy drie metgeselle gegee is?

14 Daniël se naam is na Beltsasar verander, wat “Beskerm die lewe van die koning” beteken. Dit was klaarblyklik ’n verkorte vorm van ’n gebed tot Bel, of Mardoek, die hoofgod van Babilon. Of Nebukadnesar ’n aandeel daarin gehad het om hierdie naam vir Daniël te kies of nie, hy was trots om te erken dat dit “na die naam van [sy] god” was (Daniël 4:8). Hananja is Sadrag genoem, wat volgens party gesaghebbendes ’n saamgestelde naam is wat “Bevel van Aku” beteken. Dit is interessant dat Aku die naam van ’n Sumeriese god was. Misael is Mesag (moontlik Mi·sja·aku) genoem, blykbaar ’n slim verdraaiing van “Wie is soos God?” na “Wie is wat Aku is?” Asarja se Babiloniese naam was Abednego, wat moontlik “Kneg van Nego” beteken. En “Nego” is ’n wisselvorm van “Nebo”, die naam van ’n god na wie ’n aantal Babiloniese heersers ook vernoem is.

VASBESLOTE OM AAN JEHOVAH GETROU TE BLY

15, 16. Voor watter gevare het Daniël en sy metgeselle nou te staan gekom, en wat was hulle reaksie?

15 Die Babiloniese name, die heropvoedingsprogram en die spesiale dieet—al hierdie dinge was ’n poging om Daniël en die drie jong Hebreërs nie net in die Babiloniese lewenswyse op te neem nie, maar ook om hulle van hulle eie God, Jehovah, en van hulle godsdiensopvoeding en -agtergrond te vervreem. Wat sou hierdie jongmense doen, noudat hulle voor al hierdie druk en versoekings te staan gekom het?

16 Die geïnspireerde verslag sê: “Daniël het hom voorgeneem [“het in sy hart besluit”, NW] om hom nie te verontreinig met die spys van die koning of met die wyn wat hy gedrink het nie” (Daniël 1:8a). Al is Daniël die enigste een wie se naam genoem word, blyk dit duidelik uit die daaropvolgende gebeure dat sy drie metgeselle sy besluit ondersteun het. Die uitdrukking “het in sy hart besluit” toon dat die onderrigting wat Daniël se ouers en ander gegee het toe hy nog in die huis was sy hart bereik het. Soortgelyke opleiding het ongetwyfeld ook die ander drie Hebreërs gerig wanneer hulle besluite geneem het. Dit lig op treffende wyse toe hoe belangrik dit is om ons kinders te onderrig, al lyk dit of hulle te jonk is om te verstaan.—Spreuke 22:6; 2 Timoteus 3:14, 15.

17. Waarom het Daniël en sy metgeselle net beswaar gemaak teen die koning se daaglikse voedselvoorsienings en nie teen die ander reëlings nie?

17 Waarom het die jong Hebreërs net teen die kos en die wyn beswaar gemaak en nie teen die ander reëlings nie? Daniël se redenasie toon duidelik waarom: ‘Om hom nie te verontreinig nie.’ Ongeag hoe min ’n mens daarvan hou om “die skrif en die taal van die Chaldeërs” te moet leer en om ’n Babiloniese naam gegee te word, dit sal jou nie noodwendig verontreinig nie. Neem die voorbeeld van Moses, byna 1 000 jaar vroeër. Al is hy “in al die wysheid van die Egiptenaars onderrig”, het hy aan Jehovah lojaal gebly. Die opvoeding wat hy van sy eie ouers ontvang het, het hom ’n vaste grondslag gegee. Gevolglik het Moses deur geloof, “nadat hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word en gekies om liewer saam met die volk van God sleg behandel te word as om die tydelike genieting van sonde te hê”.—Handelinge 7:22; Hebreërs 11:24, 25.

18. In watter opsigte kon die koning se voedselvoorsienings die jong Hebreërs verontreinig het?

18 Hoe sou die Babiloniese koning se voedselvoorsienings die jong manne verontreinig? In die eerste plek het die lekkernye dalk voedselsoorte ingesluit wat deur die Mosaïese Wet verbied is. Die Babiloniërs het byvoorbeeld onrein diere geëet, wat vir die Israeliete onder die Wet verbode was (Levitikus 11:1-31; 20:24-26; Deuteronomium 14:3-20). Tweedens was dit nie die Babiloniërs se gewoonte om geslagte diere se bloed te laat uitloop voordat hulle die vleis geëet het nie. As hulle vleis geëet het waarvan die bloed nie uitgeloop het nie, sou dit lynreg in stryd wees met Jehovah se wet oor bloed (Genesis 9:1, 3, 4; Levitikus 17:10-12; Deuteronomium 12:23-25). Derdens offer aanbidders van valse gode gewoonlik hulle kos aan afgode voordat hulle dit as deel van ’n gemeenskaplike maaltyd eet. Knegte van Jehovah was glad nie hiervoor te vinde nie! (Vergelyk 1 Korintiërs 10:20-22.) Laastens sou dit beslis nie vir mense van enige ouderdom gesond wees om elke dag ryk kos en sterk drank in te neem nie, wat nog te sê vir jongmense.

19. Hoe kon die Hebreeuse jong manne geredeneer het, maar wat het hulle gehelp om die regte besluit te neem?

19 Dit is een ding om te weet wat om te doen, maar iets heeltemal anders om die moed te hê om dit te doen wanneer ’n mens voor druk of versoeking te staan kom. Daniël en sy drie vriende kon geredeneer het dat hulle so ver van hulle ouers en vriende af was dat niemand ooit sou weet wat hulle gedoen het nie. Hulle kon ook geredeneer het dat dit die koning se bevel was en dat dit gelyk het asof daar geen ander keuse was nie. Buitendien sou ander jongmense die reëlings ongetwyfeld gretig aanvaar het en dit as ’n voorreg eerder as ’n beproewing beskou het om daaraan deel te neem. Maar sulke verkeerde denke kan maklik tot die lokval van geheime sonde lei, wat vir baie jongmense ’n strik is. Die Hebreeuse jong manne het geweet dat ‘die oë van Jehovah op elke plek is’ en dat die ware God ‘elke werk in die gerig sal bring wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg’ (Spreuke 15:3; Prediker 12:14). Mag ons almal uit die optrede van hierdie getroue jongmense leer.

MOED EN VOLHARDING HET GOEIE VRUGTE AFGEWERP

20, 21. Wat het Daniël gedoen, en met watter gevolg?

20 Daniël het in sy hart besluit om verderflike invloede te weerstaan en het in ooreenstemming met sy besluit opgetree. “Hy [het] die owerste van die hofdienaars vergunning gevra [“bly versoek”, NW] dat hy hom nie hoef te verontreinig nie” (Daniël 1:8b). “Bly versoek”—dit is ’n uitdrukking waarop ons kan let. Gewoonlik is volgehoue pogings nodig as ons suksesvol wil wees in die stryd teen versoekings of sekere swakhede.—Galasiërs 6:9.

21 In Daniël se geval is volharding beloon. “En God het aan Daniël guns en barmhartigheid verleen by die owerste van die hofdienaars” (Daniël 1:9). Dit was nie omdat Daniël en sy metgeselle aangename en intelligente mense was dat dinge uiteindelik vir hulle goed uitgewerk het nie. Dit was eerder as gevolg van Jehovah se seën. Daniël het ongetwyfeld die Hebreeuse spreuk onthou: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak” (Spreuke 3:5, 6). Omdat hy daardie raad gevolg het, het dit werklik goeie vrugte afgewerp.

22. Watter geregverdigde beswaar het die hofdienaar gemaak?

22 Die owerste van die hofdienaars het aanvanklik kapsie gemaak: “Ek vrees my heer die koning, wat julle voedsel en julle drank vasgestel het; want waarom moet hy sien dat julle aangesigte meer vervalle is as dié van die jong seuns wat van julle leeftyd is, sodat julle my hoof by die koning met skuld sou belaai?” (Daniël 1:10). Dit was geregverdigde besware en vrese. Koning Nebukadnesar was nie iemand wat ongehoorsaamheid geduld het nie, en die hofdienaar het geweet dat dit sy lewe kon kos as hy nie die koning se instruksies gehoorsaam het nie. Wat sou Daniël doen?

23. Hoe het die weg wat Daniël ingeslaan het bewys gelewer van insig en wysheid?

23 Hier was insig en wysheid nou nodig. Die jong Daniël het waarskynlik die spreuk onthou wat sê: “’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom” (Spreuke 15:1). Daniël het nie eiesinnig daarop aangedring dat sy versoek toegestaan word en ander daardeur rede gegee om ’n martelaar van hom te maak nie, maar hy het die saak daar gelaat. Op die regte tyd het hy “die bediende” genader, wat moontlik bereid was om ’n bietjie toegeefliker te wees omdat hy nie direk teenoor die koning aanspreeklik was nie.—Daniël 1:11.

’N TOETSTYD VAN TIEN DAE VOORGESTEL

24. Watter toets het Daniël voorgestel?

24 Daniël het ’n toets aan die bediende voorgestel en gesê: “Stel tog u dienaars tien dae lank op die proef, en laat hulle ons van die groente gee om te eet en water om te drink; laat daarna ons voorkoms en die voorkoms van die jong seuns wat die spys van die koning eet, deur u besigtig word; handel dan met u dienaars soos u bevinding sal wees.”—Daniël 1:12, 13.

25. Wat het die “groente” wat Daniël en sy drie vriende geëet het moontlik ingesluit?

25 Tien dae van ‘groente en water’—sou hulle in vergelyking met die ander “meer vervalle” lyk? “Groente” word uit ’n Hebreeuse woord vertaal wat basies “sade” beteken. Party Bybelvertalings gee dit weer as “peulvrugte”, wat gedefinieer word as “die eetbare sade van etlike peulplante (soos ertjies, boontjies of lensies)”. Party geleerdes is van mening dat die konteks op ’n dieet dui wat uit meer as net eetbare sade bestaan het. Een naslaanwerk sê: “Wat Daniël en sy metgeselle gevra het, was die eenvoudige groente wat die gewone mense geëet het in plaas van die ryker vleisdieet van die koninklike tafel.” Groente kon dus voedsame disse ingesluit het wat met boontjies, komkommers, knoffel, preie, lensies, waatlemoene en uie voorberei is, sowel as brood wat van verskeie graansoorte gemaak is. Niemand sou tog dink dat dit ’n hongerdieet is nie. Die bediende het blykbaar die punt ingesien. “Hy het toe na hulle geluister in hierdie saak en hulle tien dae lank op die proef gestel” (Daniël 1:14). Wat was die gevolg?

26. Wat was die uitslag van die tien dae lange toets, en waarom het sake so afgeloop?

26 “Aan die einde van tien dae het hulle voorkoms beter en hulle voller van vlees gelyk as al die jong seuns wat die spys van die koning geëet het” (Daniël 1:15). Dit moet nie beskou word as ’n bewys dat ’n groentedieet beter is as ’n ryker dieet met vleis nie. Tien dae is ’n kort tyd om merkbare resultate te sien, maar dit is nie te kort vir Jehovah om sy voorneme uit te voer nie. “Die seën van Jehovah—dít maak ryk, en hy voeg daar geen pyn by nie”, sê sy Woord (Spreuke 10:22, NW). Die vier jong Hebreërs het hulle geloof en vertroue in Jehovah gestel, en hy het hulle nie in die steek gelaat nie. Eeue later het Jesus Christus 40 dae lank sonder kos gebly. In hierdie verband het hy die woorde aangehaal wat in Deuteronomium 8:3 opgeteken staan, waar dit sê: ‘Die mens lewe nie van brood alleen nie, maar van alles wat uit die mond van Jehovah uitgaan.’ Die ondervinding van Daniël en sy vriende is ’n sprekende voorbeeld hiervan.

INSIG EN WYSHEID IN PLAAS VAN KOS EN WYN

27, 28. In watter opsig het die dieet wat Daniël en sy drie vriende gekies het hulle voorberei vir groter dinge wat voorgelê het?

27 Die tien dae was net ’n toets, maar die uitslag was baie oortuigend. “So het dan die bediende hulle spys en die wyn wat hulle moes drink, weggeneem en aan hulle groente gegee” (Daniël 1:16). Dit is nie moeilik om jou voor te stel wat die ander jongmense op die opleidingskursus van Daniël en sy metgeselle gedink het nie. Dit het seker vir hulle baie dwaas gelyk om ’n koningsfees van die hand te wys en elke dag net groente te eet. Maar groot toetse en beproewinge het voorgelê, en dit sou al die wakkerheid en nugterheid verg wat die Hebreeuse jong manne gehad het. Bowenal sou hulle geloof en vertroue in Jehovah hulle help om die toetse van hulle geloof te deurstaan.—Vergelyk Josua 1:7.

28 Dat Jehovah met hierdie jong manne was, kan duidelik gesien word uit wat die verslag verder sê: “Hierdie vier jong seuns—God het aan hulle wetenskap en verstand in allerhande geskrifte en wysheid gegee; ook het Daniël verstand gehad van allerhande gesigte en drome” (Daniël 1:17). Hulle het meer as net fisiese krag en goeie gesondheid nodig gehad om die moeilike tye wat voorgelê het te deurstaan. “Wanneer wysheid in jou hart kom en kennis vir jou siel aangenaam word, sal denkvermoë oor jou wag hou, sal onderskeidingsvermoë jou beveilig, om jou van die slegte weg te verlos” (Spreuke 2:10-12, NW). Dit is presies wat Jehovah die vier getroue jong manne gegee het om hulle toe te rus vir wat voorgelê het.

29. Waarom kon Daniël ‘allerhande gesigte en drome verstaan’?

29 Ons lees dat Daniël “verstand gehad [het] van allerhande gesigte en drome”. Dit beteken nie dat hy ’n spiritistiese medium geword het nie. Dit is interessant dat Daniël, hoewel hy as een van die groot Hebreeuse profete beskou word, nooit geïnspireer is om uitdrukkings te gebruik soos “dit is wat die Soewereine Heer Jehovah gesê het” of “dit is wat Jehovah van die leërs gesê het” nie (Jesaja 28:16, NW;Jeremia 6:9, NW). En tog was dit net onder die leiding van God se heilige gees dat Daniël gesigte en drome kon verstaan en uitlê waarin Jehovah se voorneme bekend gemaak is.

EINDELIK, DIE KRITIEKE TOETS

30, 31. Hoe het Daniël en sy metgeselle baat gevind by die weg wat hulle ingeslaan het?

30 Die drie jaar van heropvoeding en voorbereiding het geëindig. Daarna het die kritieke toets gekom—’n persoonlike onderhoud met die koning. “Aan die einde van die dae wat die koning vasgestel het om hulle in te bring, het die owerste van die hofdienaars hulle voor Nebukadnesar gebring” (Daniël 1:18). Dit was tyd vir die vier jong manne om van hulleself rekenskap te gee. Het hulle daarby baat gevind omdat hulle eerder by Jehovah se wette gebly het as om voor Babiloniese weë te swig?

31 “Die koning het met hulle gespreek, en onder hulle almal is daar niemand gevind soos Daniël, Hananja, Misael en Asarja nie. So het hulle dan voor die koning gedien” (Daniël 1:19). Wat ’n algehele regverdiging van hulle handelswyse van die vorige drie jaar! Dit was nie blote dwaasheid om hulle by ’n dieet te hou wat hulle geloof en gewete vir hulle voorgeskryf het nie. Omdat Daniël en sy vriende getrou gebly het in wat dalk na die geringste gelyk het, is hulle met groter dinge geseën. Die voorreg om ‘voor die koning te dien’, was die doelwit van al die jongmense wat die opleidingskursus bygewoon het. Die Bybel sê nie of die vier Hebreeuse jong manne die enigstes is wat gekies is nie. Hoe dit ook al sy, hulle getroue weg het hulle inderdaad “’n groot beloning” besorg.—Psalm 19:11, NW.

32. Waarom kan daar gesê word dat Daniël, Hananja, Misael en Asarja ’n groter voorreg geniet het as om aan die hof van die koning te dien?

32 “Sien jy ’n man wat vaardig is in sy werk—hy kan voor konings staan”, sê die Skrif (Spreuke 22:29). Daniël, Hananja, Misael en Asarja is dus deur Nebukadnesar gekies om voor die koning te staan, dit wil sê om ’n deel van die koninklike hof te wees. In al hierdie dinge kan ons sien hoe Jehovah se hand sake bewerk het sodat belangrike aspekte van God se voorneme deur hierdie jong manne—veral deur Daniël—bekend gemaak sou word. Hoewel dit ’n eer was om gekies te word om ’n deel van Nebukadnesar se koninklike hof te wees, was dit ’n baie groter eer om op so ’n wonderlike manier deur die Universele Koning, Jehovah, gebruik te word.

33, 34. (a) Waarom was die koning beïndruk deur die jong Hebreërs? (b) Watter les kan ons uit die ondervinding van die vier Hebreërs leer?

33 Nebukadnesar het gou uitgevind dat die wysheid en insig wat Jehovah die vier Hebreeuse jong manne gegee het veel groter was as dié van al die raadgewers en wyse manne aan sy hof. “In enige saak van wyse insig waarin die koning hulle ondervra het, het hy bevind dat hulle al die geleerdes [“towerpriesters”, NW] en besweerders in sy hele koninkryk tien maal oortref het” (Daniël 1:20). Hoe kon dit anders wees? Die “towerpriesters” en “besweerders” het op die wêreldse en bygelowige geleerdheid van Babilon staatgemaak, terwyl Daniël en sy vriende hulle vertroue in wysheid van bo gestel het. Daar kon eenvoudig geen vergelyking wees nie!

34 Deur die eeue heen het dinge maar min verander. In die eerste eeu G.J., toe Griekse filosofie en Romeinse wetgewing in die mode was, het die apostel Paulus onder inspirasie geskryf: “Die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God; want daar staan geskrywe: ‘Hy vang die wyses in hulle eie listigheid.’ En weer: ‘Jehovah weet dat die redenasies van die wyses vergeefs is.’ Laat niemand derhalwe op mense roem nie” (1 Korintiërs 3:19-21). Ons moet vandag stewig vashou aan wat Jehovah ons geleer het en nie maklik beïnvloed word deur die aanloklikheid en glans van die wêreld nie.—1 Johannes 2:15-17.

TOT DIE EINDE TOE GETROU

35. Hoeveel weet ons van Daniël se drie metgeselle?

35 Die sterk geloof van Hananja, Misael en Asarja word op dramatiese wyse inDaniël hoofstuk 3 getoon, in die verslag van Nebukadnesar se goue beeld in die dal Dura en die toets van die vuuroond. Hierdie godvresende Hebreërs het ongetwyfeld tot hulle dood aan Jehovah getrou gebly. Ons weet dit omdat die apostel Paulus ongetwyfeld na hulle verwys het toe hy geskryf het van diegene “wat deur geloof . . . die krag van vuur gestuit het” (Hebreërs 11:33, 34). Hulle is uitstekende voorbeelde vir knegte van Jehovah, oud en jonk.

36. Waarom was Daniël se loopbaan iets besonders?

36 Van Daniël sê die laaste vers van hoofstuk 1: “Daniël was daar tot die eerste jaar van koning Kores.” Die geskiedenis toon dat Kores Babilon in 539 v.G.J. in een nag tot ’n val gebring het. Daniël is klaarblyklik weens sy reputasie en posisie toegelaat om aan die hof van Kores te dien. Trouens, Daniël 10:1 sê dat Jehovah “in die derde jaar van Kores, die koning van die Perse,” ’n belangrike saak aan Daniël geopenbaar het. As hy ’n tiener was toe hy in 617 v.G.J. na Babilon gebring is, sou hy byna 100 jaar oud gewees het toe hy daardie laaste visioen ontvang het. Wat ’n lang en geseënde loopbaan van getroue diens aan Jehovah!

37. Watter lesse leer ons uit Daniël hoofstuk 1?

37 Die eerste hoofstuk van die boek Daniël vertel ons meer as net die verhaal van vier getroue jongmense wat toetse van hulle geloof met welslae die hoof gebied het. Dit toon hoe Jehovah net wie hy wil kan gebruik om sy voorneme uit te voer. Die verslag bewys dat Jehovah iets kan toelaat wat dalk vir ons soos ’n ramp lyk, maar dat dit wel nuttige gevolge kan hê. En dit vertel ons dat getrouheid in klein dingetjies ’n groot beloning meebring.

WAT HET JY GELEER?

• Wat kan oor die agtergrond van Daniël en sy drie jong vriende gesê word?

• Hoe is die goeie opvoeding van die vier Hebreeuse jong manne in Babilon op die proef gestel?

• Hoe het Jehovah die vier Hebreërs vir hulle moedige standpunt beloon?

• Watter lesse kan Jehovah se hedendaagse knegte by Daniël en sy drie metgeselle leer?

[Volbladillustrasie op bladsy 30]

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel