Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • dp hfst. 4 bl. 46-67
  • Die opkoms en ondergang van ’n ontsaglike beeld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die opkoms en ondergang van ’n ontsaglike beeld
  • Gee ag op Daniël se profesie!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N KONING STAAN VOOR ’N MOEILIKE PROBLEEM
  • DANIËL RED DIE SITUASIE
  • DIE DROOM HERROEP
  • ’N UNIEKE KONINKRYK
  • BALLINGE DEUR ’N KONINKRYK BEVRY
  • ’N KONINKRYK—GROOT MAAR MINDERWAARDIG
  • ’N KONINKRYK WAT ALLES FYNSTAMP EN VERGRUIS
  • ’N BROS MENGSEL
  • ’N DRAMATIESE KLIMAKS!
  • ‘’N BERG VUL DIE AARDE’
  • Gee ag op God se profetiese woord vir ons dag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • ’n Profetiese reus—Wat sal sy val beteken?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Glanspunte uit die boek Daniël
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • ’n Koninkryk wat vir ewig sal bestaan
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
Sien nog
Gee ag op Daniël se profesie!
dp hfst. 4 bl. 46-67

Hoofstuk vier

Die opkoms en ondergang van ’n ontsaglike beeld

1. Waarom moet ons in ’n situasie belangstel wat ontstaan het ’n dekade nadat koning Nebukadnesar Daniël en ander in ballingskap weggevoer het?

’N DEKADE het verbygegaan nadat koning Nebukadnesar Daniël en ander “magtiges van die land” van Juda in ballingskap na Babilon weggevoer het (2 Konings 24:15). Terwyl die jong Daniël aan die koning se hof dien, ontstaan daar ’n lewensgevaarlike situasie. Waarom moet ons daarin belangstel? Omdat die manier waarop Jehovah God in die saak ingryp nie net die lewe van Daniël en ander red nie, maar ook vir ons insig gee in die opmars van die wêreldmoondhede van Bybelprofesie wat tot in ons dag voortduur.

’N KONING STAAN VOOR ’N MOEILIKE PROBLEEM

2. Wanneer het Nebukadnesar sy eerste profetiese droom gehad?

2 “In die tweede jaar van die regering van Nebukadnesar”, het die profeet Daniël geskryf, “het Nebukadnesar ’n droom gehad, sodat sy gees onrustig geword het en dit met sy slaap gedaan was” (Daniël 2:1). Die dromer was Nebukadnesar, die koning van die Babiloniese Ryk. Hy het in 607 v.G.J. in die ware sin van die woord die wêreldheerser geword toe Jehovah God hom toegelaat het om Jerusalem en sy tempel te vernietig. In die tweede jaar van Nebukadnesar se heerskappy as wêreldheerser (606/605 v.G.J.) het God hom ’n skrikwekkende droom laat kry.

3. Wie kon die koning se droom nie uitlê nie, en hoe het Nebukadnesar hierop gereageer?

3 Hierdie droom het Nebukadnesar so ontstel dat hy nie kon slaap nie. Hy was natuurlik baie gretig om te weet wat dit beteken. Maar die magtige koning het die droom vergeet! Daarom het hy Babilon se towenaars, goëlaars, en besweerders laat roep en daarop aangedring dat hulle hom moet vertel wat hy gedroom het en dit moet uitlê. Hulle kon dit glad nie doen nie. Nebukadnesar was so woedend oor hulle onvermoë dat hy ’n bevel uitgevaardig het “om al die wyse manne van Babel om te bring”. Hierdie opdrag sou die profeet Daniël voor die laksman laat beland. Waarom? Omdat hy en sy drie Hebreeuse metgeselle—Hananja, Misael en Asarja—onder die wyse manne van Babilon gereken is.—Daniël 2:2-14.

DANIËL RED DIE SITUASIE

4. (a) Hoe het Daniël te wete gekom wat Nebukadnesar se droom was en wat dit beteken het? (b) Wat het Daniël uit dankbaarheid teenoor Jehovah God gesê?

4 Nadat Daniël uitgevind het wat die rede vir Nebukadnesar se streng bevel was, “het [hy] ingegaan en die koning versoek dat hy hom tyd moes gee om die uitlegging aan die koning te kenne te gee”. Sy versoek is toegestaan. Daniël het na sy huis teruggegaan, en hy en sy drie Hebreeuse vriende het gebid en ‘barmhartigheid van die God van die hemel afgesmeek oor hierdie geheim’. Daardie selfde nag het Jehovah die geheim van die droom in ’n visioen aan Daniël bekend gemaak. Daniël het uit dankbaarheid gesê: “Mag die Naam van God geprys word van ewigheid tot ewigheid, want die wysheid en die krag is syne. Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het; Hy openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge; Hy weet wat in die duister is, en die lig woon by Hom.” Daniël het Jehovah geloof omdat hy hom hierdie insig gegee het.—Daniël 2:15-23.

5. (a) Hoe het Daniël aan Jehovah die eer gegee toe hy voor die koning verskyn het? (b) Waarom stel ons vandag in Daniël se uitlegging belang?

5 Die volgende dag het Daniël na Ariog, die hoof van die lyfwag, gegaan, wat die opdrag gekry het om die wyse manne van Babilon dood te maak. Toe Ariog hoor dat Daniël die droom kon uitlê, het hy hom gou na die koning geneem. Daniël het geen erkenning vir homself gesoek nie, maar het vir Nebukadnesar gesê: “Daar is ’n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnesar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur.” Daniël was nie net gereed om die toekoms van die Babiloniese Ryk te openbaar nie, maar ook om ’n oorsig van wêreldgebeure te gee, van Nebukadnesar se dag af tot selfs ná ons tyd.—Daniël 2:24-30.

DIE DROOM HERROEP

6, 7. Wat was die droom wat Daniël vir die koning herroep het?

6 Nebukadnesar het aandagtig geluister terwyl Daniël verduidelik: “U, o koning, het ’n gesig gehad—kyk, daar was ’n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik. Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei. U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ’n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ’n groot rots geword wat die hele aarde gevul het.”—Daniël 2:31-35.

7 Hoe opgewonde moes Nebukadnesar tog gewees het toe hy hoor hoe Daniël die droom bekend maak! Maar wag! Babilon se wyse manne sou alleenlik gespaar word as Daniël ook die droom uitgelê het. Daniël het namens homself en sy drie Hebreeuse vriende gepraat en gesê: “Dit is die droom; sy uitlegging sal ons nou voor die koning sê.”—Daniël 2:36.

’N UNIEKE KONINKRYK

8. (a) Wie of wat was volgens Daniël se uitlegging die kop van goud? (b) Wanneer het die kop van goud ontstaan?

8 “U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het, en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het—ú is die hoof van goud” (Daniël 2:37, 38). Hierdie woorde was op Nebukadnesar van toepassing nadat Jehovah hom gebruik het om Jerusalem in 607 v.G.J. te vernietig. Dit was omdat die konings wat in Jerusalem op die troon gesit het uit die geslagslyn van Dawid, Jehovah se gesalfde koning, gekom het. Jerusalem was die hoofstad van Juda, die tipiese koninkryk van God, wat Jehovah se soewereiniteit oor die aarde afgebeeld het. Toe daardie stad in 607 v.G.J. vernietig is, het hierdie tipiese koninkryk van God tot ’n einde gekom (1 Kronieke 29:23; 2 Kronieke 36:17-21). Die opeenvolgende wêreldmoondhede wat deur die metaaldele van die beeld verteenwoordig is, kon nou oor die wêreld heers sonder inmenging deur God se tipiese koninkryk. As die kop van goud, die kosbaarste metaal wat in die ou tyd bekend was, was Nebukadnesar uniek in die sin dat hy die enigste koning was wat daardie koninkryk omvergewerp het toe hy Jerusalem vernietig het.—Sien “’n Kryger-koning bou ’n ryk”, op bladsy 63.

9. Wat is deur die kop van goud afgebeeld?

9 Nebukadnesar, wat 43 jaar lank regeer het, het aan die hoof gestaan van ’n dinastie wat oor die Babiloniese Ryk geheers het. Dit het sy skoonseun Nabonidus en sy oudste seun, Evil-Merodag, ingesluit. Daardie dinastie het nog 43 jaar voortbestaan, tot die dood van Nabonidus se seun Belsasar in 539 v.G.J. (2 Konings 25:27; Daniël 5:30). Die beeld in die droom se kop van goud het dus nie net Nebukadnesar afgebeeld nie maar die hele Babiloniese koningslyn.

10. (a) Hoe het Nebukadnesar se droom getoon dat die Babiloniese Wêreldmoondheid tot ’n einde sou kom? (b) Wat het die profeet Jesaja aangaande die veroweraar van Babilon voorspel? (c) In watter opsig was Medo-Persië ondergeskik aan Babilon?

10 Daniël het vir Nebukadnesar gesê: “Ná u sal daar ’n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u” (Daniël 2:39). ’n Koninkryk wat deur die beeld se bors en arms van silwer afgebeeld is, sou op Nebukadnesar se dinastie volg. Sowat 200 jaar vroeër het Jesaja voorspel dat hierdie koninkryk sou heers en het selfs gesê wat die naam van sy seëvierende koning sou wees—Kores (Jesaja 13:1-17; 21:2-9; 44:24–45:7, 13). Dit was die Medo-Persiese Ryk. Al het Medo-Persië ’n grootse beskawing opgebou wat gelykstaande aan die Babiloniese Ryk was, word hierdie latere koninkryk deur silwer afgebeeld, ’n metaal wat nie so kosbaar soos goud is nie. Dit was ondergeskik aan die Babiloniese Wêreldmoondheid omdat dit nie die unieke onderskeiding gehad het dat dit Juda, die tipiese koninkryk van God met sy hoofstad in Jerusalem, omvergewerp het nie.

11. Wanneer het Nebukadnesar se dinastie tot ’n einde gekom?

11 Sowat 60 jaar nadat Daniël die droom uitgelê het, het hy die einde van Nebukadnesar se dinastie gesien. Daniël was daar op die nag van 5/6 Oktober 539 v.G.J., toe die Medo-Persiese leër die skynbaar onverowerbare stad Babilon oorwin en koning Belsasar doodgemaak het. Met die dood van Belsasar het die goue kop van die beeld in die droom—die Babiloniese Ryk—tot ’n einde gekom.

BALLINGE DEUR ’N KONINKRYK BEVRY

12. Hoe het die verordening wat Kores in 537 v.G.J. uitgevaardig het die Joodse ballinge tot voordeel gestrek?

12 Medo-Persië het die Babiloniese Ryk in 539 v.G.J. as die heersende wêreldmoondheid vervang. Darius die Meder het op 62-jarige leeftyd die eerste heerser van die verowerde stad Babilon geword (Daniël 5:30–6:1). Hy en Kores die Pers het ’n kort tydjie saam oor die Medo-Persiese Ryk regeer. Toe Darius sterf, het Kores die enigste hoof van die Persiese Ryk geword. Vir die Jode in Babilon het die heerskappy van Kores verlossing uit ballingskap beteken. In 537 v.G.J. het Kores ’n verordening uitgevaardig wat die Joodse ballinge in Babilon toegelaat het om na hulle vaderland terug te keer en Jerusalem en Jehovah se tempel te herbou. Die tipiese koninkryk van God is egter nie in Juda en Jerusalem herstel nie.—2 Kronieke 36:22, 23; Esra 1:1–2:2a.

13. Wat het die silwer bors en arms van die beeld in Nebukadnesar se droom afgebeeld?

13 Die silwer bors en arms van die beeld in die droom het die Persiese koningslyn afgebeeld wat met Kores die Grote begin het. Daardie dinastie het meer as 200 jaar lank bestaan. Kores het blykbaar tydens ’n militêre veldtog in 530 v.G.J. gesterf. Van sowat 12 konings wat ná hom op die troon van die Persiese Ryk gesit het, het ten minste 2 Jehovah se uitverkore volk goed behandel. Een was Darius I (die Pers), en die ander een was Artasasta.

14, 15. Hoe het Darius die Grote en Artasasta die Jode gehelp?

14 Darius I was die derde in die lyn van Persiese konings ná Kores die Grote. Die vorige twee was moontlik Kambuses II en sy broer Bardija (of moontlik ’n Magiese aanspraakmaker met die naam Gaumata). Teen die tyd dat Darius I, wat ook as Darius die Grote bekend gestaan het, die troon in 521 v.G.J. bestyg het, was die herbouingswerk aan die tempel in Jerusalem reeds verbied. Toe Darius die dokument met Kores se verordening in die argief in Ekbatana vind, het hy in 520 v.G.J. verder gegaan as om net die verbod op te hef. Hy het ook geld uit die koninklike skatkis voorsien om die tempel te herbou.—Esra 6:1-12.

15 Die volgende Persiese heerser wat met die Joodse herstellingspogings gehelp het, was Artasasta (Artaxerxes I), wat sy vader Ahasveros (Xerxes I) in 475 v.G.J. opgevolg het. Artaxerxes het die bynaam Longimanus gekry omdat sy regterhand langer as sy linkerhand was. Gedurende die 20ste jaar van sy heerskappy, in 455 v.G.J., het hy sy Joodse skinker Nehemia as goewerneur van Juda aangestel en hom die opdrag gegee om Jerusalem se mure te herbou. Hierdie daad het die beginpunt van die ‘sewentig weke van jare’ aangedui wat indie 9de hoofstuk van Daniël bespreek word en het die tyd bepaal wanneer die Messias, of Christus, Jesus van Nasaret, sou verskyn en sterf.—Daniël 9:24-27, NW; Nehemia 1:1; 2:1-18.

16. Wanneer en met watter koning het die Medo-Persiese Wêreldmoondheid tot ’n einde gekom?

16 Die laaste van die ses konings wat ná Artasasta op die troon van die Persiese Ryk gesit het, was Darius III. Sy heerskappy het skielik in 331 v.G.J. geëindig toe Aleksander die Grote hom ’n verskriklike nederlaag by Gaugamela, naby antieke Nineve, toegedien het. Hierdie nederlaag het die einde van die Medo-Persiese Wêreldmoondheid beteken wat deur die silwer deel van die beeld in Nebukadnesar se droom afgebeeld is. Die moondheid wat sou volg, was in sekere opsigte meerderwaardig, maar in ander opsigte ook minderwaardig. Dit word vir ons duidelik wanneer ons luister na die manier waarop Daniël Nebukadnesar se droom verder uitlê.

’N KONINKRYK—GROOT MAAR MINDERWAARDIG

17-19. (a) Watter wêreldmoondheid is deur die buik en lendene van koper voorgestel, en hoe uitgebreid was die heerskappy daarvan? (b) Wie was Aleksander III? (c) Hoe het Grieks ’n internasionale taal geword, en waarvoor was dit ideaal?

17 Daniël het vir Nebukadnesar gesê dat die buik en lendene van die ontsaglike beeld “’n ander, ’n derde koninkryk [is], van koper, wat oor die hele aarde sal heers” (Daniël 2:32, 39). Hierdie derde koninkryk sou ná Babilonië en Medo-Persië kom. Net soos koper minder waarde het as silwer, sou hierdie nuwe wêreldmoondheid ook minderwaardig wees in vergelyking met Medo-Persië omdat dit nie vereer sou word met ’n voorreg soos om Jehovah se volk te bevry nie. Die koperagtige koninkryk sou egter ‘oor die hele aarde heers’, wat aandui dat dit ’n meer uitgebreide ryk as Babilonië of Medo-Persië sou wees. Wat toon die feite van die geskiedenis oor hierdie wêreldmoondheid?

18 Kort nadat die ambisieuse Aleksander III in 336 v.G.J. op 20-jarige leeftyd die troon van Masedonië bestyg het, het hy ’n veroweringsveldtog aan die gang gesit. Weens sy militêre sukses is hy Aleksander die Grote genoem. Hy het die een oorwinning ná die ander behaal en al hoe dieper in Persiese gebied ingedring. Toe hy Darius III in 331 v.G.J. by Gaugamela verslaan het, het die Persiese Ryk in duie begin stort, en Aleksander het Griekeland as die nuwe wêreldmoondheid bevestig.

19 Ná die oorwinning by Gaugamela het Aleksander verder gegaan en die Persiese hoofstede Babilon, Susa, Persepolis en Ekbatana ingeneem. Hy het die res van die Persiese Ryk onderwerp en sy verowerings tot in westelike Indië uitgebrei. Griekse kolonies is in die verowerde lande gevestig. Gevolglik het die Griekse taal en kultuur deur die hele ryk versprei. Om die waarheid te sê, die Griekse Ryk het groter geword as enige ryk wat vroeër bestaan het. Soos Daniël voorspel het, het die koninkryk van koper ‘oor die hele aarde geheers’. Een resultaat hiervan was dat Grieks (Koine) ’n internasionale taal geword het. Omdat gedagtes duidelik uitgedruk kon word in daardie taal, was dit ’n besonder geskikte medium om die Christelike Griekse Geskrifte in te skryf en die goeie nuus van God se Koninkryk bekend te maak.

20. Wat het ná die dood van Aleksander die Grote van die Griekse Ryk geword?

20 Aleksander die Grote het net agt jaar as wêreldheerser gelewe. Al was hy nog so jonk, het die 32-jarige Aleksander ná ’n feesmaal siek geword en kort daarna, op 13 Junie 323 v.G.J., gesterf. Mettertyd is sy ontsaglike ryk in vier verdeel, met een van sy generaals as heerser oor elke gebied. So het daar uit die een groot koninkryk vier koninkryke gekom wat uiteindelik deur die Romeinse Ryk geabsorbeer is. Die koperagtige wêreldmoondheid het net tot 30 v.G.J. bestaan, toe die laaste van hierdie vier koninkryke—die Ptolemeïese dinastie wat oor Egipte geheers het—eindelik deur Rome verower is.

’N KONINKRYK WAT ALLES FYNSTAMP EN VERGRUIS

21. Hoe het Daniël “die vierde koninkryk” beskryf?

21 Daniël het voortgegaan met sy uitlegging van die beeld in die droom: “Die vierde koninkryk [ná Babilon, Medo-Persië en Griekeland] sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis” (Daniël 2:40). Wat sy krag en vermoë om fyn te stamp betref, sou hierdie wêreldmoondheid soos yster wees—sterker as die ryke wat deur goud, silwer of koper afgebeeld is. Die Romeinse Ryk was so ’n moondheid.

22. Hoe was die Romeinse Ryk soos yster?

22 Rome het die Griekse Ryk fyngestamp en vergruis en die oorblyfsels van die Medo-Persiese en Babiloniese wêreldmoondhede geabsorbeer. Dit het geen respek getoon vir God se Koninkryk wat deur Jesus Christus verkondig is nie en het hom in 33 G.J. aan ’n folterpaal tereggestel. In ’n poging om die ware Christelike godsdiens te vergruis, het Rome Jesus se dissipels vervolg. Daarbenewens het die Romeine Jerusalem en sy tempel in 70 G.J. vernietig.

23, 24. Wat word, benewens die Romeinse Ryk, deur die bene van die beeld afgebeeld?

23 Die ysterbene van die beeld in Nebukadnesar se droom het nie net die Romeinse Ryk afgebeeld nie, maar ook die politieke uitgroeisel daarvan. Kyk na hierdie woorde wat in Openbaring 17:10 opgeteken staan: “Daar is sewe konings: vyf het geval, een is, die ander een het nog nie gekom nie, maar wanneer hy wel kom, moet hy ’n kort tydjie bly.” Toe die apostel Johannes daardie woorde neergeskryf het, het die Romeine hom op die eiland Patmos gevange gehou. Die vyf konings, of wêreldmoondhede, wat reeds geval het, was Egipte, Assirië, Babilon, Medo-Persië en Griekeland. Die sesde—die Romeinse Ryk—was nog steeds aan die bewind. Maar hy sou ook val, en die sewende koning sou uit een van Rome se verowerde gebiede opstaan. Watter wêreldmoondheid sou dit wees?

24 Brittanje was vroeër ’n noordwestelike deel van die Romeinse Ryk. Maar teen die jaar 1763 het dit die Britse Ryk geword—die Britannia wat oor die sewe seë geheers het. Teen 1776 het Brittanje se 13 Amerikaanse kolonies hulle onafhanklikheid verklaar om die Verenigde State van Amerika te vorm. In latere jare het Brittanje en die Verenigde State egter in oorlogs- en vredestyd bondgenote geword. Die Anglo-Amerikaanse kombinasie het dus as die sewende wêreldmoondheid van Bybelprofesie ontstaan. Soos die Romeinse Ryk was dit “hard soos yster”, en het dit gesag met die hardheid van yster uitgeoefen. Die ysterbene van die beeld in die droom sluit dus die Romeinse Ryk sowel as die Anglo-Amerikaanse tweeledige wêreldmoondheid in.

’N BROS MENGSEL

25. Wat het Daniël oor die voete en die tone van die beeld gesê?

25 Daniël het vervolgens vir Nebukadnesar gesê: “Dat die voete en die tone, soos u gesien het, deels van pottebakkersklei en deels van yster was—dit sal ’n verdeelde koninkryk wees, en van die hardheid van die yster sal daarin wees, omdat u die yster met kleigrond gemeng gesien het. En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is—’n gedeelte van die koninkryk sal hard en ’n gedeelte sal bros wees. Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het—hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie.”—Daniël 2:41-43.

26. Wanneer sal die vorm van heerskappy gesien word wat deur die voete en die tone afgebeeld word?

26 Die opeenvolging van wêreldmoondhede wat deur die verskillende dele van die beeld in Nebukadnesar se droom afgebeeld word, het met die kop begin en tot by die voete gestrek. Die voete en tone van “yster gemeng met kleigrond” sou logieserwys die finale vorm van menseheerskappy voorstel wat gedurende “die tyd van die einde” sou bestaan.—Daniël 12:4.

27. (a) Watter soort wêreldsituasie word deur die voete en die tone van yster gemeng met klei afgebeeld? (b) Wat beeld die tien tone van die beeld af?

27 Aan die begin van die 20ste eeu het die Britse Ryk oor elke vierde persoon op aarde heerskappy gevoer. Ander Europese ryke het oor miljoene ander regeer. Maar die Eerste Wêreldoorlog het tot gevolg gehad dat groepe nasies ontstaan het in plaas van die ryke van vroeër. Ná die Tweede Wêreldoorlog het hierdie tendens versnel. Namate nasionalisme verder ontwikkel het, het die aantal nasies in die wêreld grootliks toegeneem. Die tien tone van die beeld stel al hierdie magte en regerings voor wat tegelyk bestaan, want in die Bybel dui die getal tien soms aardse volledigheid aan.—Vergelyk Exodus 34:28; Matteus 25:1; Openbaring 2:10.

28, 29. (a) Wat het die klei volgens Daniël afgebeeld? (b) Wat kan oor die mengsel van yster en klei gesê word?

28 Noudat ons in “die tyd van die einde” is, het ons by die voete van die beeld gekom. Party regerings wat afgebeeld word deur die beeld se voete en tone van yster gemeng met klei, is soos yster—outoritêr en tiranniek. Ander is soos klei. In watter opsig? Daniël het die klei met “die nageslag van die mense” geassosieer (Daniël 2:43, NW). Ondanks die bros aard van klei, waaruit die nageslag van die mense gemaak is, moes tradisionele ysteragtige regeringsvorme al hoe meer na die gewone mense luister, wat seggenskap wil hê in die regerings wat oor hulle heers (Job 10:9, NW). Maar daar kan geen samehorigheid wees tussen outoritêre heerskappy en die gewone mense nie—net soos yster en klei nie aan mekaar kan vaskleef nie. Wanneer die beeld tot ’n val kom, sal die wêreld beslis polities versplinter wees!

29 Sal die verdeeldheid waardeur die voete en tone gekenmerk word die hele beeld inmekaar laat stort? Wat gaan met die beeld gebeur?

’N DRAMATIESE KLIMAKS!

30. Beskryf die klimaks van Nebukadnesar se droom.

30 Kyk na die klimaks van die droom. Daniël het vir die koning gesê: “U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ’n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ’n groot rots [“berg”, NW] geword wat die hele aarde gevul het.”—Daniël 2:34, 35.

31, 32. Wat is in verband met die laaste deel van Nebukadnesar se droom voorspel?

31 By wyse van verduideliking gaan die profesie voort: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan—net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande ’n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.”—Daniël 2:44, 45.

32 Nebukadnesar het besef dat sy droom bekend gemaak en uitgelê is en het erken dat slegs Daniël se God “die Here van die konings en die Openbaarder van geheimenisse” is. Die koning het ook aan Daniël en sy drie metgeselle baie verantwoordelike posisies gegee (Daniël 2:46-49). Maar wat is die hedendaagse betekenis van Daniël se ‘betroubare uitlegging’?

‘’N BERG VUL DIE AARDE’

33. Uit watter “berg” het die “klip” losgeraak, en wanneer en hoe het dit plaasgevind?

33 Toe “die vasgestelde tye van die nasies” in Oktober 1914 geëindig het, het “die God van die hemel” die hemelse Koninkryk opgerig deur sy gesalfde Seun, Jesus Christus, as “Koning van die konings en die Here van die here” op die troon te plaas (Lukas 21:24; Openbaring 12:1-5; 19:16).a So het dit dan gebeur dat die “klip”, die Messiaanse Koninkryk, deur Goddelike krag en nie deur mensehande nie uit die “berg” van Jehovah se universele soewereiniteit losgeraak het. Hierdie hemelse regering is in die hande van Jesus Christus, aan wie God onsterflikheid geskenk het (Romeine 6:9; 1 Timoteus 6:15, 16). Gevolglik sal hierdie “koninkryk van ons Here [God] en van sy Christus”—waardeur Jehovah se universele soewereiniteit uitgeoefen word—nie aan enigiemand anders gegee word nie. Dit sal vir ewig bly staan.—Openbaring 11:15.

34. Waarom kan daar gesê word dat God se Koninkryk “in die dae van dié konings” gebore is?

34 Die Koninkryk is “in die dae van dié konings” gebore (Daniël 2:44). Hierdie konings is nie net dié wat deur die tien tone van die beeld afgebeeld is nie, maar ook dié wat deur sy dele van yster, koper, silwer en goud afgebeeld is. Hoewel die Babiloniese, Persiese, Griekse en Romeinse ryke as wêreldmoondhede verbygegaan het, het oorblyfsels van hulle nog in 1914 bestaan. Die Ottomaanse Ryk van Turkye het die gebied van Babilon beslaan en daar was nasionale regerings in die gebiede van Persië (Iran) en Griekeland en Rome, Italië.

35. Wanneer sal die “klip” die beeld tref, en hoe deeglik sal die beeld vernietig word?

35 God se hemelse Koninkryk sal die simboliese beeld binnekort aan sy voete tref. As gevolg daarvan sal al die koninkryke wat daardeur afgebeeld word aan stukke gebreek en tot ’n einde gebring word. Om die waarheid te sê, daardie “klip” sal die beeld tydens “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” met so ’n verpletterende slag tref dat dit tot poeier vergruis sal word, en die wind van God se storm sal dit soos die kaf van ’n dorsvloer wegwaai (Openbaring 16:14, 16). Dan sal God se Koninkryk, soos die klip wat gegroei het totdat dit die aarde soos ’n berg gevul het, die goewermentele berg word wat sy invloed oor “die hele aarde” sal uitoefen.—Daniël 2:35.

36. Waarom kan die Messiaanse Koninkryk ’n stabiele regering genoem word?

36 Hoewel die Messiaanse Koninkryk ’n hemelse koninkryk is, sal dit sy mag oor ons aarde uitbrei sodat alle gehoorsame bewoners van die aarde geseën kan word. Hierdie stabiele regering ‘sal in ewigheid nie vernietig word en aan geen ander volk oorgelaat word nie’. Anders as die koninkryke van sterflike menseheersers ‘sal dit self vir ewig bestaan’ (Daniël 2:44). Mag jy die voorreg hê om tot in alle ewigheid een van die onderdane daarvan te wees.

[Voetnoot]

a Sien hoofstuk 6 van hierdie boek.

WAT HET JY GELEER?

• Watter wêreldmoondhede word deur die dele van die ontsaglike beeld van Nebukadnesar se droom afgebeeld?

• Watter wêreldsituasie beeld die voete en tien tone van yster gemeng met klei af?

• Wanneer en uit watter “berg” het die “klip” losgeraak?

• Wanneer sal die “klip” die beeld tref?

[Venster/Prente op bladsy 63-67]

’N KRYGER-KONING BOU ’N RYK

BABILON se kroonprins en sy leër verpletter die Egiptiese magte van farao Nego by Karkemis in Sirië. Die verslane Egiptenaars vlug suid na Egipte en die Babiloniërs sit hulle agterna. Maar ’n boodskap uit Babilon dwing die seëvierende prins om hulle nie verder te agtervolg nie. Die nuus is dat sy vader, Nabopolassar, gesterf het. Nebukadnesar gee sy generaals opdrag om die gevangenes en buit terug te bring en keer haastig terug huis toe om die troon in die plek van sy vader in te neem.

So het Nebukadnesar in 624 v.G.J. die troon van Babilon bestyg en die tweede heerser van die Neo-Babiloniese Ryk geword. Gedurende sy heerskappy van 43 jaar het hy die gebiede wat vroeër onder die beheer van die Assiriese Wêreldmoondheid was, ingeneem en sy eie gebied uitgebrei sodat dit Sirië in die noorde en Palestina in die weste tot by die grens van Egipte ingesluit het.—Sien die kaart.

Nebukadnesar het in die vierde jaar van sy heerskappy (620 v.G.J.) van Juda ’n onderhorige koninkryk gemaak (2 Konings 24:1). Drie jaar later het ’n opstand in Juda tot gevolg gehad dat Babilon Jerusalem beleër het. Nebukadnesar het Jojagin, Daniël en ander as gevangenes na Babilon weggevoer. Die koning het ook van die voorwerpe van Jehovah se tempel saam met hom geneem. Hy het Jojagin se oom, Sedekia, as onderhorige koning oor Juda aangestel.—2 Konings 24:2-17; Daniël 1:6, 7.

’n Tyd later het Sedekia ook in opstand gekom en ’n bondgenootskap met Egipte aangegaan. Nebukadnesar het Jerusalem weer beleër, en in 607 v.G.J. het hy deur die muur gebreek, die tempel verbrand en die stad vernietig. Hy het al Sedekia se seuns doodgemaak, Sedekia daarna laat verblind en hom geboei om hom as gevangene na Babilon te neem. Nebukadnesar het die meeste van die mense gevange geneem en die oorblywende voorwerpe in die tempel na Babilon geneem. “En Juda is uit sy land in ballingskap weggevoer.”—2 Konings 24:18–25:21.

Nebukadnesar het ook Tirus verslaan deur die stad te beleër—’n beleëring wat 13 jaar geduur het. Tydens die beleëring het die koppe van sy soldate “kaal geword” weens die geskaaf van die helms, en hulle skouers is “seer geskaaf” as gevolg van al die materiaal wat hulle moes dra om die beleëringswerke te bou (Esegiël 29:18). Uiteindelik het Tirus aan die Babiloniese magte oorgegee.

Die Babiloniese koning was klaarblyklik ’n briljante militêre strateeg. Party literêre verwysings, veral dié uit Babilon, beskryf hom ook as ’n regverdige koning. Hoewel die Skrif Nebukadnesar nie uitdruklik regverdig noem nie, het die profeet Jeremia gesê dat Sedekia, ondanks die feit dat hy in opstand gekom het, regverdig behandel sou word ‘as hy vrywillig sou uitgaan na die vorste van die koning van Babel’ (Jeremia 38:17, 18). En ná die vernietiging van Jerusalem het Nebukadnesar Jeremia met respek behandel. Die koning het aangaande Jeremia bevel gegee: “Neem hom en hou jou oë oor hom en doen hom geen kwaad nie; maar doen met hom soos hy jou sal sê.”—Jeremia 39:11, 12; 40:1-4.

As administrateur het Nebukadnesar die eienskappe en vermoëns van Daniël en sy drie metgeselle—Sadrag, Mesag en Abednego—wie se Hebreeuse name Hananja, Misael en Asarja was—gou raakgesien. Die koning het hulle dus in verantwoordelike posisies in sy koninkryk gebruik.—Daniël 1:6, 7, 19-21; 2:49.

Nebukadnesar het veral Mardoek, die hoofgod van Babilon, aanbid. Die koning het aan Mardoek die eer gegee vir al sy verowerings. In Babilon het hy die tempels van Mardoek en talle ander Babiloniese gode gebou en versier. Die beeld van goud wat in die dal Dura opgerig is, was moontlik aan Mardoek gewy. En Nebukadnesar het blykbaar grootliks van waarsêery gebruik gemaak wanneer hy militêre besluite moes neem.

Nebukadnesar was ook trots op sy herbouingswerk in Babilon, die grootste ommuurde stad van daardie tyd. Deur die stad se enorme dubbele mure te voltooi waarmee sy vader begin het, het Nebukadnesar die hoofstad skynbaar onverowerbaar gemaak. Die koning het ’n ou paleis in die middel van die stad herstel en ’n somerpaleis omtrent twee kilometer na die noorde gebou. Om sy Mediese koningin tevrede te stel, wat na die heuwels en woude van haar vaderland terugverlang het, het Nebukadnesar blykbaar die hangende tuine aangelê—wat as een van die sewe wonders van die antieke wêreld beskou is.

“Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot ’n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie?” het die koning eendag gespog toe hy op die koninklike paleis in Babilon rondgeloop het. “Terwyl die woord nog in die mond van die koning was”, het hy kranksinnig geword. Hy was sewe jaar lank nie bevoeg om te heers nie en het plante geëet, net soos Daniël voorspel het. Aan die einde van daardie tydperk is die koninkryk teruggegee aan Nebukadnesar, wat tot sy dood in 582 v.G.J. geheers het.—Daniël 4:30-36.

WAT HET JY GELEER?

Wat kan van Nebukadnesar gesê word as

• ’n militêre strateeg?

• ’n administrateur?

• ’n aanbidder van Mardoek?

• ’n bouer?

[Kaart]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

BABILONIESE RYK

ROOI SEE

Jerusalem

Eufraatrivier

Tigrisrivier

Nineve

Susa

Babilon

Ur

[Prent]

Babilon, die grootste ommuurde stad van sy tyd

[Prent]

Die draak was ’n simbool van Mardoek

[Prent]

Babilon se beroemde hangende tuine

[Diagram/Prent op bladsy 56]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

WÊRELDMOONDHEDE VAN DANIËL SE PROFESIE

Die ontsaglike beeld (Daniël 2:31-45)

BABILONIË vanaf 607 v.G.J.

MEDO-PERSIË vanaf 539 v.G.J.

GRIEKELAND vanaf 331 v.G.J.

ROME vanaf 30 v.G.J.

ANGLO-AMERIKAANSE WÊRELD-MOONDHEID vanaf 1763 G.J.

POLITIES VERDEELDE WÊRELD in die tyd van die einde

[Volbladillustrasie op bladsy 47]

[Volbladillustrasie op bladsy 58]

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel