Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • dp hfst. 5 bl. 68-81
  • Hulle geloof het ’n vuurproef deurstaan

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hulle geloof het ’n vuurproef deurstaan
  • Gee ag op Daniël se profesie!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N GOUE BEELD HOU ’N BEDREIGING IN
  • JEHOVAH SE KNEGTE WEIER OM TOE TE GEE
  • IN DIE VUUROOND GEGOOI!
  • GELOOF SE HEDENDAAGSE VUURPROEF
  • Wie is jou God?
    Leer by die Groot Onderwyser
  • Hulle weier om neer te buig
    My boek met Bybelverhale
  • Hulle het geweier om neer te buig
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • ‘Ons God is in staat om ons te red’
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Gee ag op Daniël se profesie!
dp hfst. 5 bl. 68-81

Hoofstuk vyf

Hulle geloof het ’n vuurproef deurstaan

1. Hoe voel baie mense oor toegewydheid aan God en aan hulle vaderland?

MOET jy toegewyd wees aan God of aan die land waar jy woon? Baie mense antwoord: ‘Ek is aan albei getrou. Ek aanbid God volgens die voorskrifte van my godsdiens en terselfdertyd sweer ek trou aan my vaderland.’

2. Waarom kan daar gesê word dat die koning van Babilon ’n politieke sowel as ’n godsdiensfiguur was?

2 Dit lyk dalk vandag of die skeidslyn tussen godsdienstige toegewydheid en patriotisme onduidelik is, maar in antieke Babilon het dit feitlik nie bestaan nie. Trouens, burgerlike en godsdienstige sake was so ineengestrengel dat hulle soms nie onderskei kon word nie. “In antieke Babilon”, skryf professor Charles F. Pfeiffer, “het die koning as beide Hoëpriester en burgerlike heerser opgetree. Hy het offers gebring en gesag gevoer oor die godsdienslewe van sy onderdane.”

3. Wat toon dat Nebukadnesar ’n baie godsdienstige man was?

3 Dink aan koning Nebukadnesar. Sy naam beteken “O Nebo, beskerm die erfgenaam!” Nebo was die Babiloniese god van wysheid en landbou. Nebukadnesar was ’n baie godsdienstige man. Soos vroeër genoem is, het hy die tempels van talle Babiloniese gode gebou en versier en het hy veral Mardoek aanbid, aan wie hy die eer gegee het vir sy militêre oorwinnings.a Dit lyk ook of Nebukadnesar grootliks van waarsêery gebruik gemaak het om sy oorlogsplanne te formuleer.—Esegiël 21:18-23.

4. Beskryf die godsdienstige gees in Babilon.

4 ’n Godsdienstige gees het in werklikheid in die hele Babilon geheers. Daar was meer as 50 tempels in die stad waar ’n ontsaglike verskeidenheid gode en godinne aanbid is, onder andere die triade van Anu (god van die hemel), Enlil (god van die aarde, lug en storms) en Ea (god oor die waters). Nog ’n drie-eenheid het uit Sin (die maangod), Sjamasj (die songod) en Isjtar (die vrugbaarheidsgodin) bestaan. Toorkuns en astrologie het ’n belangrike rol in Babiloniese aanbidding gespeel.

5. Watter uitdaging het die godsdiensmilieu van Babilon vir die Joodse ballinge gebied?

5 Dit was ’n groot uitdaging vir die Joodse ballinge om tussen mense te lewe wat soveel gode aanbid. Eeue vroeër het Moses die Israeliete teen die ernstige gevolge gewaarsku as hulle teen die Opperste Wetgewer in opstand sou kom. Moses het vir hulle gesê: “Die HERE sal jou en jou koning wat jy oor jou sal aanstel, na ’n nasie laat gaan wat jy en jou vaders nie geken het nie; en daar sal jy ander gode, hout en klip, dien.”—Deuteronomium 28:15, 36.

6. Waarom was dit veral vir Daniël, Hananja, Misael en Asarja ’n uitdaging om in Babilon te woon?

6 Nou het die Jode hulle in juis daardie netelige situasie bevind. Dit sou vir hulle moeilik wees om hulle onkreukbaarheid teenoor Jehovah te handhaaf, veral vir Daniël, Hananja, Misael en Asarja. Hierdie vier jong Hebreërs is spesiaal gekies om opleiding te ontvang om in die staatsdiens gebruik te word (Daniël 1:3-5). Onthou dat hulle selfs Babiloniese name gegee is—Beltsasar, Sadrag, Mesag en Abednego—moontlik as subtiele druk op hulle om hulle by hulle nuwe omgewing aan te pas.b Weens die hoë posisies van hierdie manne sou dit nie net opvallend wees as hulle weier om die gode van die land te aanbid nie—dit sou selfs as verraad beskou kon word.

’N GOUE BEELD HOU ’N BEDREIGING IN

7. (a) Beskryf die beeld wat Nebukadnesar opgerig het. (b) Wat was die doel van die beeld?

7 Nebukadnesar het, klaarblyklik in ’n poging om die eenheid van sy ryk te versterk, ’n goue beeld in die dal Dura opgerig. Dit was 60 el (27 meter) hoog en 6 el (2,7 meter) breed.c Party reken dat die beeld net ’n kolom, of ’n obelisk, was. Dit het moontlik ’n baie hoë voetstuk gehad waarop daar ’n geweldige groot standbeeld van ’n mens was, wat moontlik Nebukadnesar self of die god Nebo voorgestel het. Hoe dit ook al sy, hierdie toringhoë monument was ’n simbool van die Babiloniese Ryk. As sodanig was dit veronderstel om gesien en vereer te word.—Daniël 3:1.

8. (a) Wie moes die inwyding van die beeld bywoon, en wat moes almal doen wat daar teenwoordig was? (b) Hoe sou iemand gestraf word wat geweier het om voor die beeld neer te buig?

8 Nebukadnesar het gevolglik ’n inwydingseremonie gereël. Hy het sy landvoogde, bevelhebbers, goewerneurs, raadsmanne, skatmeesters, regters, hoofamptenare en al die bestuurders van die provinsies bymekaar laat kom. ’n Aankondiger het uitgeroep: “Julle word aangesê, o volke, nasies en tale, sodra julle die geluid hoor van horing, fluit, siter, luit, harp, doedelsak en van allerhande musiekinstrumente, moet julle neerval en die goue beeld aanbid wat koning Nebukadnesar opgerig het. En hy wat nie neerval en aanbid nie, sal op die daad binne-in die brandende vuuroond gegooi word.”—Daniël 3:2-6.

9. Wat het dit blykbaar beteken om voor die beeld wat Nebukadnesar opgerig het neer te buig?

9 Party glo dat Nebukadnesar hierdie seremonie gereël het om die Jode te dwing om ontrou te wees in hulle aanbidding van Jehovah. Dit is onwaarskynlik, want dit was klaarblyklik net regeringsamptenare wat hierdie geleentheid moes bywoon. Gevolglik was die enigste Jode wat daar teenwoordig was dié wat die een of ander regeringsamp beklee het. Dit lyk dus asof die doel van die seremonie om voor die beeld neer te buig, was om die band van eenheid van die heersersklas te versterk. Die geleerde John F. Walvoord sê: “So ’n vergadering van amptenare was aan die een kant ’n oortuigende bewys van die mag van Nebukadnesar se ryk, en aan die ander kant was dit ’n betekenisvolle erkenning van die gode wat na hulle mening verantwoordelik was vir hulle oorwinnings.”

JEHOVAH SE KNEGTE WEIER OM TOE TE GEE

10. Waarom sou nie-Jode geen beswaar daarteen hê om Nebukadnesar se opdrag te gehoorsaam nie?

10 Ondanks hulle toegewydheid aan verskeie beskermgode, sou die meeste van dié wat voor Nebukadnesar se beeld vergader het geen beswaar daarteen hê om dit te aanbid nie. “Hulle was almal daaraan gewoond om afgode te aanbid, en die feit dat hulle een god aanbid het, het nie gekeer dat hulle ook aan ander eer betoon nie”, het een Bybelkenner verduidelik. Hy het verder gesê: “Dit het met die algemene beskouing van afgodedienaars ooreengestem dat daar baie gode is . . . en dat dit nie verkeerd is om die god van enige volk of land te eer nie.”

11. Waarom het Sadrag, Mesag en Abednego geweier om voor die beeld neer te buig?

11 Vir die Jode was dit egter ’n ander saak. Hulle is deur hulle God, Jehovah, beveel: “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ’n jaloerse God” (Exodus 20:4, 5). Daarom het die drie jong Hebreërs—Sadrag, Mesag en Abednego—bly staan toe die musiek begin speel het en dié wat daar versamel was voor die beeld neergeval het.—Daniël 3:7.

12. Waarvan het sekere Galdeërs die drie Hebreërs aangekla, en waarom?

12 Die feit dat die drie Hebreërs geweier het om die beeld te aanbid, het sekere Galdeërs woedend gemaak. Hulle het die koning onmiddellik genader en “die Jode aangeklaag”.d Hulle het nie in ’n verduideliking belanggestel nie. Die aanklaers wou hê dat die Hebreërs vir dislojaliteit en verraad gestraf moes word en het gesê: “Daar is Joodse manne wat u oor die bestuur van die provinsie Babel aangestel het, Sadrag, Mesag en Abednego; hierdie manne het hulle, o koning, aan u nie gesteur nie; hulle dien u gode nie en die goue beeld wat u opgerig het, aanbid hulle nie.”—Daniël 3:8-12.

13, 14. Hoe het Nebukadnesar op Sadrag, Mesag en Abednego se optrede gereageer?

13 Hoe moes dit Nebukadnesar tog gefrustreer het dat die drie Hebreërs nie sy bevel gehoorsaam het nie! Dit was duidelik dat hy dit nie reggekry het om Sadrag, Mesag en Abednego in lojale ondersteuners van die Babiloniese Ryk te verander nie. Het hy hulle nie in die wysheid van die Galdeërs opgelei nie? Hy het dan selfs hulle name verander! Maar as Nebukadnesar gedink het dat ’n indrukwekkende opvoeding hulle ’n nuwe vorm van aanbidding sou leer of dat ’n verandering van hulle name hulle identiteit sou verander, het hy dit heeltemal mis gehad. Sadrag, Mesag en Abednego het lojale knegte van Jehovah gebly.

14 Koning Nebukadnesar was woedend. Hy het Sadrag, Mesag en Abednego onmiddellik laat roep. Hy het gevra: “Is dit met opset, Sadrag, Mesag en Abednego, dat julle my gode nie dien nie en die goue beeld wat ek opgerig het, nie aanbid nie?” Nebukadnesar het hierdie woorde ongetwyfeld in geskokte ongeloof geuiter. Hy het per slot van rekening seker gedink: ‘Hoe kan drie manne met gesonde verstand so ’n eenvoudige opdrag ignoreer—veral as ongehoorsaamheid daaraan so swaar gestraf sou word?’—Daniël 3:13, 14.

15, 16. Watter geleentheid het Nebukadnesar die drie Hebreërs gegee?

15 Nebukadnesar was bereid om die drie Hebreërs nog ’n kans te gee. “As julle dan nou, sodra julle die geluid van horing, fluit, siter, luit, harp en doedelsak en van allerhande musiekinstrumente hoor, bereid is om neer te val en die beeld wat ek gemaak het, te aanbid, goed”, het hy gesê, “maar as julle nie aanbid nie, sal julle oombliklik binne-in die brandende vuuroond gegooi word, en wie is die God wat julle uit my hand kan verlos?”—Daniël 3:15.

16 Die les van die beeld in die droom (wat inDaniël hoofstuk 2 opgeteken is) het blykbaar nie ’n blywende indruk op Nebukadnesar se verstand en hart gemaak nie. Hy het moontlik reeds vergeet wat hy self vir Daniël gesê het: “Julle God is die God van die gode en die Here van die konings” (Daniël 2:47). By hierdie geleentheid het dit gelyk of Nebukadnesar Jehovah uittart deur te sê dat nie eers Hy die Hebreërs kon red van die straf wat op hulle gewag het nie.

17. Hoe het Sadrag, Mesag en Abednego op die koning se aanbod gereageer?

17 Sadrag, Mesag en Abednego het nie nodig gehad om weer oor die saak te dink nie. Hulle het onmiddellik geantwoord: “Ons ag dit nie nodig om u hierop ’n antwoord te gee nie. As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.”—Daniël 3:16-18.

IN DIE VUUROOND GEGOOI!

18, 19. Wat het gebeur toe die drie Hebreërs in die vuuroond gegooi is?

18 Nebukadnesar was woedend en het beveel dat sy knegte die vuuroond sewe keer warmer as gewoonlik maak. Toe het hy “sommige van die sterkste manne” opdrag gegee om Sadrag, Mesag en Abednego te boei en in die “brandende vuuroond” te gooi. Hulle het die koning se opdrag uitgevoer en die drie Hebreërs geboei en met al hulle klere aan—moontlik sodat hulle selfs vinniger verteer sou word—in die vuur gegooi. Maar dit was Nebukadnesar se dienaars wat deur die vlamme gedood is.—Daniël 3:19-22.

19 Nou het iets buitengewoons gebeur. Al was Sadrag, Mesag en Abednego binne-in die vuuroond het die vlamme hulle nie verteer nie. Stel jou voor hoe verwonderd Nebukadnesar was! Hulle is stewig vasgebind en in ’n vlammende vuur gegooi, maar hulle het nog gelewe. Hulle het dan selfs los in die vuur rondgeloop! Maar Nebukadnesar het iets anders opgemerk. “Het ons nie drie manne geboeid binne-in die vuur gegooi nie?” het hy sy raadsmanne gevra. “Sekerlik, o koning!” het hulle geantwoord. “Kyk,” het Nebukadnesar uitgeroep, “ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar ’n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos dié van ’n godeseun.”—Daniël 3:23-25.

20, 21. (a) Wat het Nebukadnesar met betrekking tot Sadrag, Mesag en Abednego opgemerk toe hulle uit die vuuroond gekom het? (b) Wat moes Nebukadnesar erken?

20 Nebukadnesar het nader aan die deur van die vuuroond gekom. “Sadrag, Mesag en Abednego, knegte van die allerhoogste God, gaan uit en kom hier!” Die drie Hebreërs het uit die vuur uitgeloop. Almal wat hierdie wonderwerk gesien het—onder meer die landvoogde, bevelhebbers, goewerneurs en raadsmanne—was ongetwyfeld verstom. Dit was asof hierdie drie jong manne glad nie eers in die vuuroond was nie! Die reuk van die vuur het nie aan hulle gekom nie en nie eers ’n haar op hulle kop is geskroei nie.—Daniël 3:26, 27.

21 Koning Nebukadnesar moes nou erken dat Jehovah die allerhoogste God is. “Geloofd sy die God van Sadrag, Mesag en Abednego,” het hy gesê, “wat sy engel gestuur en sy knegte verlos het wat hulle op Hom verlaat het en die bevel van die koning oortree het, en wat hulle liggame oorgegee het om geen ander god te dien of te aanbid nie, behalwe hulle God.” Toe het die koning hierdie streng waarskuwing bygevoeg: “Daarom word deur my bevel gegee dat enige volk, nasie of taal wat oneerbiedig spreek oor die God van Sadrag, Mesag en Abednego, stukkend gekap en van sy huis ’n mishoop gemaak sal word, omdat daar geen ander god is wat so kan verlos nie.” Daarop is die drie Hebreërs in die koning se guns herstel en was hulle ‘voorspoedig in die provinsie Babel’.—Daniël 3:28-30.

GELOOF SE HEDENDAAGSE VUURPROEF

22. In watter opsig kom Jehovah se hedendaagse knegte voor soortgelyke situasies te staan as Sadrag, Mesag en Abednego?

22 Vandag kom aanbidders van Jehovah te staan voor situasies wat soortgelyk is aan dié van Sadrag, Mesag en Abednego. God se volk is weliswaar nie letterlike ballinge nie. Maar Jesus het gesê dat sy volgelinge “geen deel van die wêreld” sou wees nie (Johannes 17:14). Hulle is “vreemdelinge” aangesien hulle nie die onskriftuurlike gewoontes, gesindhede en gebruike van diegene om hulle aanneem nie. Soos die apostel Paulus geskryf het, moet Christene ‘ophou om na hierdie stelsel van dinge gevorm te word’.—Romeine 12:2.

23. Hoe het die drie Hebreërs standvastigheid aan die dag gelê, en hoe kan Christene vandag hulle voorbeeld volg?

23 Die drie Hebreërs het geweier om na die Babiloniese stelsel gevorm te word. Selfs deeglike opleiding in Galdese wysheid het hulle nie beïnvloed nie. Hulle standpunt wat aanbidding betref, was nie onderhandelbaar nie, en hulle was aan Jehovah getrou. Christene moet vandag nog net so standvastig wees. Hulle hoef nie skaam te wees omdat hulle anders as die mense in die wêreld is nie. Onthou, “die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte” (1 Johannes 2:17). Dit sou dus dwaas en tevergeefs wees om jou na hierdie sterwende stelsel van dinge te skik.

24. Hoe vergelyk die standpunt wat ware Christene inneem met dié van die drie Hebreërs?

24 Christene moet teen alle vorme van afgodery waak, selfs die subtiele vorme (1 Johannes 5:21).e Sadrag, Mesag en Abednego het gehoorsaam en eerbiedig voor die goue beeld gestaan, maar hulle het besef dat dit meer as ’n blote betoning van respek sou wees as hulle daarvoor sou neerbuig. Dit was ’n daad van aanbidding, en as hulle daaraan sou deelneem, sou dit hulle Jehovah se toorn op die hals haal (Deuteronomium 5:8-10). John F. Walvoord skryf: “Dit was soos om die vlag te salueer—al het dit weens die onderlinge verband tussen godsdienstige en nasionale lojaliteit moontlik ook ’n godsdienstige bybetekenis gehad.” Vandag neem ware Christene net so ’n ferm standpunt in teen afgodery.

25. Watter les het jy uit die verhaal van Sadrag, Mesag en Abednego geleer?

25 Die Bybelverslag van Sadrag, Mesag en Abednego is ’n uitstekende praktiese les vir almal wat vasbeslote is om uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah te gee. Die apostel Paulus het blykbaar aan hierdie drie Hebreërs gedink toe hy gepraat het van baie wat geloof beoefen het, onder andere dié wat “die krag van vuur gestuit het” (Hebreërs 11:33, 34). Jehovah sal almal beloon wat sulke geloof betoon. Die drie Hebreërs is uit die vuuroond gered, maar ons kan seker wees dat hy alle lojales wat hulle lewe verloor omdat hulle hulle onkreukbaarheid handhaaf, sal opwek en hulle met die ewige lewe sal seën. Wat ook al gebeur, Jehovah “bewaar die siele van sy gunsgenote, Hy red hulle uit die hand van die goddelose”.—Psalm 97:10.

[Voetnote]

a Party glo dat Mardoek, wat as die stigter van die Babiloniese Ryk beskou is, die vergoddelikte Nimrod voorstel. Dit kan egter nie met sekerheid gesê word nie.

b “Beltsasar” beteken “Beskerm die lewe van die koning”. “Sadrag” beteken moontlik “Bevel van Aku”, die Sumeriese maangod. “Mesag” verwys moontlik na ’n Sumeriese god en “Abednego” beteken “Kneg van Nego”, of Nebo.

c Party Bybelkenners is van mening dat die beeld weens sy enorme grootte van hout gemaak is en toe met goud bedek is.

d Die Aramese uitdrukking wat met “aangeklaag” vertaal word, beteken om ‘die stukke [van iemand] te eet’—om hom deur laster as ’t ware stukkend te kou.

e Die Bybel koppel gulsigheid en hebsug byvoorbeeld met afgodery.—Filippense 3:18, 19; Kolossense 3:5.

WAT HET JY GELEER?

• Waarom het Sadrag, Mesag en Abednego geweier om neer te buig voor die beeld wat Nebukadnesar opgerig het?

• Hoe het Nebukadnesar op die standpunt van die drie Hebreërs gereageer?

• Hoe het Jehovah die drie Hebreërs vir hulle geloof beloon?

• Wat het jy geleer deur ag te gee op die verhaal van Sadrag, Mesag en Abednego?

[Volbladillustrasie op bladsy 68]

[Prente op bladsy 70]

1. Tempeltoring (ziggoerat) in Babilon

2. Tempel van Mardoek

3. Bronsplaat waarop die gode Mardoek (links) en Nebo (regs) op drake uitgebeeld word

4. Kamee van Nebukadnesar, wat beroemd was vir sy bouprojekte

[Volbladillustrasie op bladsy 76]

[Volbladillustrasie op bladsy 78]

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel