Hoofstuk elf
Die tyd van die Messias se koms geopenbaar
1. Aangesien Jehovah die Groot Tydhouer is, waarvan kan ons seker wees?
JEHOVAH is die Groot Tydhouer. Al die tye en tydperke wat met sy werk verband hou, is onder sy beheer (Handelinge 1:7). Alles wat volgens sy besluit gedurende hierdie tye en tydperke moet gebeur, sal beslis plaasvind. Dit sal nie onvervuld bly nie.
2, 3. Op watter profesie het Daniël sy aandag gevestig, en watter ryk het destyds oor Babilon geheers?
2 As ’n ywerige student van die Skrif het die profeet Daniël vas geglo dat Jehovah die vermoë het om te bepaal wanneer gebeure moet plaasvind sowel as om hulle uit te voer. Van besondere belang vir Daniël was profesieë oor die vernietiging van Jerusalem. Jeremia het opgeteken wat God geopenbaar het oor die tydperk waartydens die heilige stad woes sou lê, en Daniël het hierdie profesie noukeurig bestudeer. Hy het geskryf: “In die eerste jaar van Darius, die seun van Ahasveros, uit die geslag van die Meders, wat koning gemaak was oor die koninkryk van die Chaldeërs, in die eerste jaar van sy regering het ek, Daniël, in die boeke gemerk dat die getal jare waaroor die woord van die HERE tot die profeet Jeremia gekom het met betrekking tot die puinhope van Jerusalem, sewentig volle jare was.”—Daniël 9:1, 2; Jeremia 25:11.
3 Darius die Meder het destyds oor “die koninkryk van die Chaldeërs” geheers. Die vroeëre voorspelling wat Daniël gemaak het toe hy die skrif aan die muur uitgelê het, is kort daarna vervul. Die Babiloniese Ryk het nie meer bestaan nie. Dit is in 539 v.G.J. “aan die Meders en Perse gegee”.—Daniël 5:24-28, 30, 31.
DANIËL RIG NEDERIG SMEKINGE TOT JEHOVAH
4. (a) Wat was nodig om deur God verlos te word? (b) Hoe het Daniël Jehovah genader?
4 Daniël het besef dat die tydperk van 70 jaar waartydens Jerusalem woes sou lê amper verstreke was. Wat sou hy volgende doen? Hy sê self vir ons: “Ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy. En ek het tot die HERE my God gebid en belydenis gedoen” (Daniël 9:3, 4). Die regte hartstoestand was nodig om God se barmhartige verlossing te ervaar (Levitikus 26:31-46; 1 Konings 8:46-53). Geloof, ’n nederige gees en volkome berou oor die sondes wat tot die ballingskap en slawerny gelei het, was nodig. Daarom het Daniël God ten behoewe van sy sondige volk genader. Hoe het hy dit gedoen? Deur te vas, te rou en deur rouklere, ’n simbool van berou en opregtheid van hart, aan te trek.
5. Waarom kon Daniël vol vertroue wees dat die Jode weer na hulle vaderland sou terugkeer?
5 Jeremia se profesie het Daniël hoop gegee, want dit het getoon dat dit nie lank sou wees voor die Jode weer na hulle vaderland Juda sou terugkeer nie (Jeremia 25:12; 29:10). Daniël was ongetwyfeld vol vertroue dat die onderworpe Jode verligting sou kry omdat ’n man met die naam Kores reeds as koning oor Persië geheers het. Het Jesaja nie voorspel dat Kores ’n rol sou speel in die bevryding van die Jode sodat hulle Jerusalem en die tempel kon herbou nie? (Jesaja 44:28–45:3). Maar Daniël het nie geweet presies hoe dit sou gebeur nie. Daarom het hy aangehou om smekinge tot Jehovah te rig.
6. Wat het Daniël in gebed erken?
6 Daniël het die aandag op God se barmhartigheid en liefderyke goedhartigheid gevestig. Hy het nederig erken dat die Jode gesondig het deur in opstand te kom, van Jehovah se gebooie af te wyk en sy profete te ignoreer. God het die reg gehad om ‘hulle oor hulle ontrouheid te verdryf’. Daniël het gebid: “Here, aan ons kom toe beskaming van die aangesig, aan ons konings, aan ons owerstes en aan ons vaders, omdat ons teen U gesondig het. By die Here onse God is barmhartigheid en vergewing, want ons het teen Hom opgestaan en na die stem van die HERE onse God nie geluister om te wandel in sy wette wat Hy ons deur die diens van sy knegte, die profete, voorgehou het nie. Maar die hele Israel het u wet oortree en afgewyk deurdat hulle nie na u stem geluister het nie; daarom is die vloek en die eed oor ons uitgestort wat geskrywe is in die wet van Moses, die kneg van God, want ons het teen Hom gesondig.”—Daniël 9:5-11; Exodus 19:5-8; 24:3, 7, 8.
7. Waarom kan daar gesê word dat Jehovah se dade geregverdig was toe hy toegelaat het dat die Jode in gevangenskap weggevoer word?
7 God het die Israeliete gewaarsku teen die gevolge daarvan as hulle aan hom ongehoorsaam is en die verbond wat hy met hulle gesluit het, verontagsaam (Levitikus 26:31-33; Deuteronomium 28:15; 31:17). Daniël erken dat God se dade geregverdig was, en sê: “Hy het sy woorde in vervulling laat gaan wat Hy oor ons gespreek het en oor ons rigters wat ons bestuur het, deur groot onheil oor ons te bring wat onder die ganse hemel nie gebeur het soos in Jerusalem nie; soos in die wet van Moses geskrywe is—al hierdie onheil het oor ons gekom, en ons het die aangesig van die HERE onse God nie om genade gesmeek deur ons te bekeer van ons ongeregtighede en ag te gee op u waarheid nie. Daarom was die HERE wakker oor die onheil, om dit oor ons te bring; want die HERE onse God is regverdig by al sy werke wat Hy doen, maar ons het nie na sy stem geluister nie.”—Daniël 9:12-14.
8. Waarop grond Daniël sy versoek tot Jehovah?
8 Daniël probeer nie die dade van sy volk regverdig nie. Hulle het verdien om in ballingskap weggevoer te word, want dit is soos hy ruiterlik erken: “Ons het gesondig, ons was goddeloos” (Daniël 9:15). Hy stel ook nie net daarin belang dat hulle lyding verlig word nie. Nee, hy grond sy versoek op die eer en verheerliking van Jehovah self. Deur die Jode te vergewe en hulle in hulle vaderland te herstel, sal God sy belofte deur Jeremia gestand doen en sal hy Sy naam heilig. Daniël pleit: “o Here, laat tog volgens al u geregtigheid u toorn en u grimmigheid van u stad Jerusalem, u heilige berg, afgewend word, want om ons sondes en die ongeregtighede van ons vaders ontwil is Jerusalem en u volk ’n voorwerp van versmading vir almal rondom ons.”—Daniël 9:16.
9. (a) Met watter smekinge sluit Daniël sy gebed af? (b) Wat kwel Daniël, maar hoe toon hy respek vir God se naam?
9 Daniël bid vurig en sê verder: “Hoor dan nou, onse God, na die gebed van u kneg en na sy smekinge, en laat ter wille van die Here u aangesig skyn oor u heiligdom wat woes lê. Neig u oor, my God, en hoor, open u oë en aanskou ons verwoeste plekke en die stad waar u Naam oor uitgeroep is; want nie op grond van ons geregtigheid werp ons ons smekinge voor u aangesig neer nie, maar op grond van u grote barmhartigheid. Here, hoor! Here, vergeef! Here, merk op en doen dit, vertoef tog nie, om U ontwil, my God; want u Naam is oor u stad en u volk uitgeroep” (Daniël 9:17-19). Sou nasies God as die Universele Soewerein beskou as hy sy volk nie wou vergewe nie, maar hulle in ballingskap laat bly het en sy heilige stad, Jerusalem, vir ’n onbepaalde tyd woes laat lê het? Sou hulle nie gedink het dat Jehovah magteloos was teen die Babiloniese gode nie? Ja, Jehovah se naam sou gesmaad word, en dit kwel Daniël. Van die 19 keer dat God se naam, Jehovah, in die boek Daniël verskyn, is 18 van die kere in verband met hierdie gebed!
GABRIËL KOM GOU
10. (a) Wie is na Daniël gestuur, en waarom? (b) Waarom het Daniël Gabriël ’n “man” genoem?
10 Terwyl Daniël nog bid, verskyn die engel Gabriël. Hy sê: “Daniël, nou het ek heengegaan om jou insig te gee. By die begin van jou smekinge het ’n woord uitgegaan, en ek het gekom om dit mee te deel, want jy is ’n geliefde man; gee dan ag op die woord en verstaan die gesig.” Maar waarom praat Daniël van “die man Gabriël”? (Daniël 9:20-23). Wel, toe Daniël probeer het om sy vroeëre visioen oor die bok en die ram te verstaan, het “iemand . . . wat soos ’n man gelyk het” voor hom verskyn. Dit was die engel Gabriël, wat gestuur is om Daniël insig te gee (Daniël 8:15-17). Ná Daniël se gebed het hierdie engel weer eens in menslike vorm na hom toe gekom en met hom gepraat soos een mens met ’n ander praat.
11, 12. (a) Hoe het getroue Jode respek getoon vir hierdie offers wat die Wet vereis het, al was daar geen tempel of altaar van Jehovah in Babilon nie? (b) Waarom is Daniël “’n geliefde man” genoem?
11 Gabriël kom “omtrent die tyd van die aandspysoffer” daar aan. Jehovah se altaar is saam met die tempel in Jerusalem vernietig, en die Jode was die gevangenes van die heidense Babiloniërs. Die Jode in Babilon het dus nie offerandes aan God gebring nie. Dit was egter gepas dat getroue Jode in Babilon op die tye vir die offers wat volgens die Mosaïese wet voorgeskryf is lof- en smeekgebede tot Jehovah rig. As ’n man wat opreg aan God toegewy was, is Daniël “’n geliefde man” genoem. Jehovah, die “Hoorder van die gebed”, het behae in hom gehad, en Gabriël is gou gestuur in antwoord op Daniël se gebed van geloof.—Psalm 65:3.
12 Selfs toe dit sy lewe in gevaar gestel het om tot Jehovah te bid, het Daniël steeds drie keer per dag tot God gebid (Daniël 6:11, 12). Dit is geen wonder dat Jehovah so lief vir hom was nie! Buiten dat Daniël gebid het, het hy oor God se Woord gepeins en dit het hom in staat gestel om uit te vind wat Jehovah se wil is. Daniël het volhard in gebed en hy het geweet hoe om Jehovah op die regte manier te nader sodat sy gebede verhoor sou word. Hy het die aandag op God se regverdigheid gevestig (Daniël 9:7, 14, 16). En hoewel sy vyande geen fout by hom kon kry nie, het Daniël geweet dat hy in God se oë ’n sondaar was en het hy sy sonde geredelik bely.—Daniël 6:5; Romeine 3:23.
“SEWENTIG WEKE” OM AAN SONDE ’N EINDE TE MAAK
13, 14. (a) Watter belangrike inligting het Gabriël aan Daniël geopenbaar? (b) Hoe lank is die “sewentig weke”, en hoe weet ons dit?
13 Wat ’n antwoord ontvang die getroue Daniël tog! Jehovah verseker hom nie alleen dat die Jode in hulle vaderland herstel sal word nie, maar gee hom ook insig in iets wat van veel groter belang is—die verskyning van die voorspelde Messias (Genesis 22:17, 18; Jesaja 9:5, 6). Gabriël sê vir Daniël: “Sewentig weke is oor jou volk en oor jou heilige stad vasgestel, om die oortreding te beëindig en om aan sonde ’n einde te maak en om vir die dwaling versoening te doen en om regverdigheid vir onbepaalde tye in te bring en om op visioen en profeet ’n seël te druk en om die Heilige der Heilige te salf. En jy moet weet en die insig hê dat daar vanaf die uitgang van die woord om Jerusalem te herstel en te herbou tot op Messias die Leier sewe weke sal wees, ook twee-en-sestig weke. Dit sal terugkeer en herbou word, met ’n openbare plein en grag, maar in die nood van die tye.”—Daniël 9:24, 25, NW.
14 Dit was inderdaad goeie nuus! Jerusalem sou nie alleen herbou word en aanbidding in ’n nuwe tempel herstel word nie, maar ook “Messias die Leier” sou op ’n spesifieke tyd verskyn. Dit sou binne “sewentig weke” gebeur. Aangesien Gabriël nie dae noem nie, is dit nie weke van sewe dae elk wat altesaam 490 dae—net een en ’n derde jaar—sou wees nie. Die voorspelde herbouing van Jerusalem “met ’n openbare plein en grag” het baie langer as dit geduur. Die weke is weke van jare. Dat elke week sewe jaar lank is, word deur etlike moderne vertalings ondersteun. Byvoorbeeld: “sewentig weke van jare” is ’n vertaling wat aangegee word in ’n voetnoot by Daniël 9:24 in die Tanakh—The Holy Scriptures, uitgegee deur The Jewish Publication Society. An American Translation sê: “Sewentig weke van jare moet oor jou volk en jou heilige stad kom.” Soortgelyke weergawes verskyn in die vertalings deur Moffatt en Rotherham.
15. In watter drie tydperke word die “sewentig weke” verdeel, en wanneer sou dit begin?
15 Volgens die engel se woorde sou die “sewentig weke” in drie tydperke verdeel word: (1) “sewe weke”, (2) “twee-en-sestig weke” en (3) een week. Dit sou 49 jaar, 434 jaar en 7 jaar wees—altesaam 490 jaar. Interessant genoeg, The Revised English Bible sê: “Sewentig maal sewe jaar is vir jou volk en jou heilige stad vasgestel.” Ná hulle 70 jaar van ballingskap en lyding in Babilon, sou die Jode 490 jaar lank, 70 jaar vermenigvuldig met 7, God se spesiale guns geniet. Die beginpunt sou “die uitgang van die woord om Jerusalem te herstel en te herbou” wees. Wanneer sou dit wees?
DIE “SEWENTIG WEKE” BEGIN
16. Waarom het Kores die Jode na hulle vaderland laat teruggaan, soos uit sy verordening gesien kan word?
16 Drie merkwaardige gebeure verdien ons aandag met betrekking tot die begin van die “sewentig weke”. Die eerste het in 537 v.G.J. plaasgevind, toe Kores sy verordening uitgevaardig het dat die Jode na hulle vaderland kon teruggaan. Dit sê: “So sê Kores, die koning van Persië: Al die koninkryke van die aarde het die HERE, die God van die hemel, aan my gegee; en Hý het my opgedra om vir Hom ’n huis te bou in Jerusalem wat in Juda is. Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort—mag sy God met hom wees, en laat hom optrek na Jerusalem wat in Juda is, en die huis van die HERE, die God van Israel, bou! Hy is die God wat in Jerusalem is. En enigeen wat oorgebly het, in enige plek waar hy as vreemdeling vertoef—hom moet die manne van sy woonplek ondersteun met silwer en goud en met goed en vee, en met die vrywillige gawes vir die huis van die God wat in Jerusalem is” (Esra 1:2-4). Dit was duidelik dat die spesifieke doel van hierdie verordening was om die tempel—‘die huis van Jehovah’—op sy vorige terrein te herbou.
17. Watter rede het die brief wat aan Esra gegee is vir sy reis na Jerusalem verstrek?
17 Die tweede gebeurtenis het in die sewende jaar van die heerskappy van die Persiese koning Artasasta (Artaxerxes Longimanus, die seun van Xerxes I) plaasgevind. Op daardie tyd het Esra die kopiïs ’n reis van vier maande van Babilon na Jerusalem onderneem. Hy het ’n spesiale brief van die koning by hom gehad, maar dit het nie gesê dat Jerusalem herbou mag word nie. Esra se taak was eerder daartoe beperk ‘om die huis van Jehovah te versier’. Daarom het die brief verwys na goud en silwer, heilige voorwerpe, bydraes van koring, wyn, olie en sout vir die ondersteuning van aanbidding by die tempel, sowel as vrystelling van belasting vir enigiemand wat daar gedien het.—Esra 7:6-27.
18. Watter nuus het Nehemia ontstel, en hoe het koning Artasasta daarvan te hore gekom?
18 Die derde gebeurtenis het 13 jaar later plaasgevind, in die 20ste jaar van die Persiese koning Artasasta. Nehemia het gedurende daardie tydperk in “die vesting Susan” as sy skinker gedien. Jerusalem is tot ’n mate herbou deur die groep wat van Babilon af teruggekeer het. Maar dit het nie goed gegaan nie. Nehemia het gehoor dat ‘die muur van Jerusalem stukkend lê en dat sy poorte met vuur verbrand is’. Dit het hom diep ontstel en hy het neerslagtig geraak. Toe hy gevra is waarom hy so droewig is, het Nehemia gesê: “Mag die koning ewig lewe! Waarom sou my aangesig nie bedroef wees nie, terwyl tog die stad waar my vaders begrawe is, woes lê en sy poorte deur vuur verteer is?”—Nehemia 1:1-3; 2:1-3.
19. (a) Wat het Nehemia heel eerste gedoen toe koning Artasasta hom uitgevra het? (b) Wat het Nehemia gevra, en hoe het hy God se rol in die saak erken?
19 Die verslag oor Nehemia gaan voort: “Daarop vra die koning my: Wat is dan jou begeerte? En ek het tot die God van die hemel gebid en aan die koning gesê: As die koning dit goedvind en as u dienaar welgevallig is in u oë, stuur my dan na Juda, na die stad waar my vaders begrawe lê, dat ek dit kan opbou.” Hierdie voorstel was aanvaarbaar vir Artasasta, wat ook Nehemia se verdere versoek toegestaan het: “As die koning dit goedvind, kan hulle vir my briewe saamgee aan die goewerneurs wes van die Eufraat, dat hulle my laat deurtrek totdat ek in Juda kom; en ’n brief aan Asaf, opsigter van die park van die koning, dat hy aan my hout lewer om die poorte van die vesting wat by die tempel behoort, met balke uit te lê, en vir die muur van die stad en vir die huis waar ek sal intrek.” Nehemia het Jehovah se rol hierin erken deur te sê: “En die koning het my dit [die briewe] toegestaan volgens die goeie hand van my God oor my.”—Nehemia 2:4-8.
20. (a) Wanneer het die woord “om Jerusalem te herstel en te herbou” resultate opgelewer? (b) Wanneer het die “sewentig weke” begin, en wanneer het hulle ten einde geloop? (c) Watter bewyse is daar dat die jaartalle wat aangegee word vir die begin en einde van die “sewentig weke” akkuraat is?
20 Hoewel toestemming in die maand Nisan, gedurende die vroeë deel van die 20ste jaar van die heerskappy van Artasasta, gegee is, het die eintlike “uitgang van die woord om Jerusalem te herstel en te herbou” eers maande later resultate opgelewer. Dit was toe Nehemia in Jerusalem aangekom het en sy herbouingswerk begin het. Esra se reis het vier maande geduur, maar Susan was meer as 320 kilometer oos van Babilon en gevolglik nog verder van Jerusalem af. Nehemia het dus heel waarskynlik eers teen die end van die 20ste jaar van Artasasta, of in 455 v.G.J., in Jerusalem aangekom. Dit is toe dat die voorspelde “sewentig weke”, of 490 jaar, begin het. Dit sou laat in 36 G.J. ten einde loop.—Sien “Wanneer het Artasasta se heerskappy begin?”, op bladsy 197.
“MESSIAS DIE LEIER” VERSKYN
21. (a) Wat sou gedurende die eerste “sewe weke” bereik word, en ondanks watter omstandighede? (b) In watter jaar moes die Messias verskyn, en wat sê Lukas se Evangelie het toe gebeur?
21 Hoeveel jaar het verbygegaan voor Jerusalem werklik herbou is? Wel, die herbouing van die stad sou “in die nood van die tye” plaasvind weens probleme onder die Jode self en teenstand van die Samaritane en ander. Die werk was klaarblyklik teen 406 v.G.J. voltooi in die mate wat nodig was—binne die “sewe weke”, of 49 jaar (Daniël 9:25). ’n Tydperk van 62 weke, of 434 jaar, sou volg. Ná daardie tydperk sou die langverwagte Messias verskyn. As ’n mens 483 jaar (49 plus 434) van 455 v.G.J. af tel, kom jy op 29 G.J. uit. Wat het toe gebeur? Die Evangelieskrywer Lukas sê: “In die vyftiende regeringsjaar van Tiberius Caesar, toe Pontius Pilatus goewerneur van Judea was, en Herodes distriksheerser van Galilea, . . . het God se verklaring in die wildernis tot Johannes, die seun van Sagaria, gekom. Hy het dus in die hele omgewing van die Jordaan gekom en doop as ’n simbool van berou tot vergifnis van sondes verkondig.” Gedurende daardie tyd het “die volk in afwagting [van die Messias] verkeer”.—Lukas 3:1-3, 15.
22. Wanneer en hoe het Jesus die voorspelde Messias geword?
22 Johannes was nie die beloofde Messias nie. Maar Johannes het die volgende gesê van die dinge wat hy by die doop van Jesus van Nasaret in die herfs van 29 G.J. gesien het: “Ek het die gees soos ’n duif uit die hemel sien neerdaal, en dit het op hom gebly. Selfs ek het hom nie geken nie, maar Hý wat my gestuur het om in water te doop, het vir my gesê: ‘Op wie jy ook al die gees sien neerdaal en bly, dit is die een wat in heilige gees doop.’ En ek het dit gesien, en ek het getuig dat dié een die Seun van God is” (Johannes 1:32-34). Toe Jesus gedoop is, het hy die Gesalfde—die Messias, of Christus—geword. Kort daarna het Johannes se dissipel Andreas die gesalfde Jesus ontmoet en toe vir Simon Petrus gesê: “Ons het die Messias gevind” (Johannes 1:41). “Messias die Leier” het dus op presies die regte tyd—aan die einde van 69 weke—verskyn!
GEBEURE GEDURENDE DIE LAASTE WEEK
23. Waarom moes “Messias die Leier” sterf, en wanneer sou dit gebeur?
23 Wat sou gedurende die 70ste week gebeur? Gabriël het gesê dat die tydperk van “sewentig weke” vasgestel is “om die oortreding te beëindig en om aan sonde ’n einde te maak en om vir die dwaling versoening te doen en om regverdigheid vir onbepaalde tye in te bring en om op visioen en profeet ’n seël te druk en om die Heilige der Heilige te salf”. Sodat dit kon gebeur, moes “Messias die Leier” sterf. Wanneer? Gabriël het gesê: “Ná die twee-en-sestig sewetalle [“weke”, NW] sal ’n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom . . . En hy sal een week lank met baie ’n sterk verbond sluit [“van krag laat bly”, NW], en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou” (Daniël 9:26a, 27a). Die kritieke tyd was “gedurende die helfte van die week”, dit wil sê die middel van die laaste week van jare.
24, 25. (a) Wanneer het Christus gesterf, soos voorspel is, en waaraan het sy dood en opstanding ’n einde gemaak? (b) Wat is deur Jesus se dood moontlik gemaak?
24 Jesus Christus se openbare bediening het in die laaste deel van 29 G.J. begin en drie en ’n half jaar geduur. Soos voorspel is, is Christus vroeg in 33 G.J. “uitgeroei” toe hy aan ’n folterpaal gesterf het en sy menselewe as ’n losprys vir die mensdom gegee het (Jesaja 53:8; Matteus 20:28). Die nodigheid vir die diereoffers en die spysoffers wat deur die Wet voorgeskryf is, het verval toe die verrese Jesus die waarde van sy opgeofferde menselewe vir God in die hemel aangebied het. Hoewel die Joodse priesters voortgegaan het om tot die vernietiging van Jerusalem se tempel in 70 G.J. offerandes te bring, was daardie offerandes nie meer vir God aanneemlik nie. Hulle is vervang deur ’n beter offerande, een wat nooit herhaal sal word nie. Die apostel Paulus het geskryf: “[Christus] het vir altyd een offerande vir sondes gebring . . . Want dit is deur een slagoffer dat hy dié wat geheilig word vir altyd vervolmaak het.”—Hebreërs 10:12, 14.
25 Hoewel sonde en die dood die mensdom steeds geteister het, het Jesus se dood en opstanding tot hemelse lewe profesieë vervul. Dit het ‘oortreding beëindig en aan sonde ’n einde gemaak en vir die dwaling versoening gedoen en regverdigheid ingebring’. God het die Wetsverbond, wat getoon het dat die Jode sondaars was en hulle veroordeel het, verwyder (Romeine 5:12, 19, 20; Galasiërs 3:13, 19; Efesiërs 2:15; Kolossense 2:13, 14). Nou kon die sondes van berouvolle sondaars gekanselleer word en die straf daarvoor opgehef word. Deur middel van die Messias se soenofferande was dit vir diegene wat geloof beoefen moontlik om met God versoen te word. Hulle kon daarna uitsien om God se gawe van “die ewige lewe deur Christus Jesus” te ontvang.—Romeine 3:21-26; 6:22, 23; 1 Johannes 2:1, 2.
26. (a) Watter verbond is ‘’n week lank van krag laat bly’, al was die Wetsverbond verwyder? (b) Wat het aan die einde van die 70ste week gebeur?
26 So het Jehovah dan die Wetsverbond deur middel van Christus se dood in 33 G.J. verwyder. Hoe kon daar dan gesê word dat die Messias “een week lank met baie ’n sterk verbond van krag [sal] laat bly”? Omdat hy die Abrahamitiese verbond van krag gehou het. Tot die einde van die 70ste week het God die seëninge van daardie verbond aan Abraham se Hebreeuse nageslag gegee. Maar aan die einde van die “sewentig weke” van jare, in 36 G.J., het die apostel Petrus vir die godvresende Italiaanse man Kornelius, sy huisgesin en ander nie-Jode getuig. En van toe af is die goeie nuus onder mense van die nasies verkondig.—Handelinge 3:25, 26; 10:1-48; Galasiërs 3:8, 9, 14.
27. Watter “Heilige der Heilige” is gesalf, en hoe?
27 Die profesie het ook die salwing van “die Heilige der Heilige” voorspel. Dit verwys nie na ’n salwing van die Allerheiligste, of binneste afdeling, van die tempel in Jerusalem nie. Die uitdrukking “die Heilige der Heilige” verwys hier na die hemelse heiligdom van God. Daar het Jesus die waarde van sy menseoffer vir sy Vader aangebied. Die hemelse, geestelike werklikheid van wat afgebeeld is deur die Allerheiligste van die aardse tabernakel en later van die tempel, is deur daardie offer gesalf, of afgesonder.—Hebreërs 9:11, 12.
DIE PROFESIE DEUR GOD BEKRAGTIG
28. Wat het dit beteken dat daar ‘op visioen en profeet ’n seël gedruk is’?
28 Die Messiaanse profesie wat deur die engel Gabriël uitgespreek is, het ook gesê dat dit ‘op visioen en profeet ’n seël sou druk’. Dit het beteken dat alles wat aangaande die Messias voorspel is—alles wat hy bereik het deur middel van sy offerande, opstanding en verskyning in die hemel, sowel as die ander dinge wat gedurende die 70ste week sou gebeur—met die seël van Goddelike goedkeuring verseël sou word, dat dit bewaarheid sou word en vertrou kon word. Die visioen sou verseël word, met ander woorde, dit sou tot die Messias beperk wees. Dit sou vervul word in hom en in God se werk wat hy gedoen het. Ons kan die korrekte uitlegging van die visioen alleenlik in verband met die voorspelde Messias kry. Niks anders kon sy betekenis openbaar nie.
29. Wat sou met die herboude Jerusalem gebeur, en waarom?
29 Gabriël het vroeër voorspel dat Jerusalem herbou sal word. Nou voorspel hy die vernietiging van daardie herboude stad en sy tempel en sê: “Die volk van ’n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met ’n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings. . . . En op die vleuel van gruwels sal daar ’n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word” (Daniël 9:26b, 27b). Hoewel hierdie verwoesting ná die “sewentig weke” sou plaasvind, sou dit die direkte gevolg wees van gebeure gedurende die laaste “week”, toe die Jode Christus verwerp en hom laat doodmaak het.—Matteus 23:37, 38.
30. Hoe toon die geskiedenisverslag dat wat die Groot Tydhouer beskik het, uitgevoer is?
30 Geskiedenisverslae toon dat Romeinse legioene onder die Siriese goewerneur Cestius Gallus Jerusalem in 66 G.J. omsingel het. Ondanks Joodse weerstand het die Romeinse magte met hulle afgodiese vaandels die stad binnegedring en die tempelmuur aan die noorde begin ondermyn. Die feit dat hulle daar gestaan het, het hulle ’n “walglike ding” gemaak wat algehele verwoesting kon veroorsaak (Matteus 24:15, 16). In 70 G.J. het die Romeine onder generaal Titus soos ’n “oorstroming” gekom en die stad en sy tempel verwoes. Niks het hulle gekeer nie, want dit is deur God beskik—“vasbeslote verwoestings”. Die Groot Tydhouer, Jehovah, het weer eens sy woord gestand gedoen!
WAT HET JY GELEER?
• Watter smekinge het Daniël tot Jehovah gerig toe die 70 jaar waartydens Jerusalem woes sou lê ten einde geloop het?
• Hoe lank was die “sewentig weke”, en wanneer het dit begin en geëindig?
• Wanneer het “Messias die Leier” verskyn, en op watter kritieke tyd is hy “uitgeroei”?
• Watter verbond is ‘een week lank met baie van krag laat bly’?
• Wat het ná die “sewentig weke” plaasgevind?
[Venster/Prent op bladsy 197]
Wanneer het Artasasta se heerskappy begin?
GESKIEDKUNDIGES verskil oor die jaar waarin die heerskappy van die Persiese koning Artasasta begin het. Party sê dat hy in 465 v.G.J. die troon bestyg het omdat sy vader, Xerxes, in 486 v.G.J. begin regeer het en in die 21ste jaar van sy heerskappy gesterf het. Maar daar kan bewys word dat Artasasta die troon in 475 v.G.J. bestyg het en dat sy eerste regeringsjaar in 474 v.G.J. begin het.
Inskripsies en beeldhouwerke wat in die antieke Persiese hoofstad Persepolis uitgegrawe is, dui daarop dat Xerxes en sy vader, Darius I, ’n tyd lank saam regeer het. As dit 10 jaar lank die geval was en Xerxes 11 jaar ná Darius se dood in 486 v.G.J. alleen regeer het, sou die eerste jaar van Artasasta se heerskappy 474 v.G.J. wees.
’n Tweede bewys het te doen met die Ateense generaal Temistokles, wat Xerxes se magte in 480 v.G.J. verslaan het. Hy het later by die Grieke in onguns geraak en is van verraad beskuldig. Temistokles het gevlug en aan die Persiese hof beskerming gesoek, waar hy goed ontvang is. Volgens die Griekse geskiedskrywer Tukidides het dit gebeur toe Artasasta maar “kort tevore die troon bestyg het”. Die Griekse geskiedskrywer Diodorus Sikulus sê dat Temistokles in 471 v.G.J. gesterf het. Aangesien Temistokles gevra het dat hy ’n jaar gegee word om Persies te leer voordat hy ’n oudiënsie met koning Artasasta gehad het, moes hy nie later nie as 473 v.G.J. in Klein-Asië aangekom het. Daardie jaartal word deur Hieronimus se Chronicle of Eusebius ondersteun. Aangesien Artasasta “kort tevore die troon bestyg het” toe Temistokles in 473 v.G.J. in Asië aangekom het, het die Duitse geleerde Ernst Hengstenberg, soos ander kenners, in sy boek Christology of the Old Testament gesê dat Artasasta se heerskappy in 474 v.G.J. begin het. Hy het bygevoeg: “Die twintigste jaar van Artasasta is die jaar 455 voor Christus.”
[Prent]
Borsbeeld van Temistokles
[Diagram/Prente op bladsy 188, 189]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
“SEWENTIG WEKE”
455 v.G.J. 406 v.G.J. 29 G.J. 33 G.J. 36 G.J.
“Die woord om Jerusalem Messias Messias Einde van
Jerusalem te herbou verskyn uitgeroei die
herstel” “sewentig
weke”
7 weke 62 weke 1 week
49 jaar 434 jare 7 jaar
[Volbladillustrasie op bladsy 180]
[Volbladillustrasie op bladsy 193]