Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • dp hfst. 13 bl. 210-229
  • Twee konings voer ’n stryd

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Twee konings voer ’n stryd
  • Gee ag op Daniël se profesie!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • TEEN DIE KONINKRYK VAN GRIEKELAND
  • ’N GROOT KONINKRYK IN VIER VERDEEL
  • TWEE MEDEDINGENDE KONINGS KOM TE VOORSKYN
  • DIE STRYD BEGIN
  • ’N KONING WREEK SY SUSTER SE MOORD
  • DIE SIRIESE KONING VEG TERUG
  • ’N NUWE WENDING
  • DIE VEROWERAAR KEER TERUG
  • ROME BEDWING DIE VEROWERAAR
  • DIE STRYD DUUR VOORT
  • Die strydende konings nader hulle einde
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Jehovah het die toekoms van konings vooruitgesien
    Ons Christelike lewe en bediening — Vergaderingwerkboek — 2017
  • ‘Geen vrede vir die goddeloses nie’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Die wêreldmagstryd—Wie gaan wen?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Gee ag op Daniël se profesie!
dp hfst. 13 bl. 210-229

Hoofstuk dertien

Twee konings voer ’n stryd

1, 2. Waarom moet ons belangstel in die profesie wat in Daniël hoofstuk 11 opgeteken is?

TWEE mededingende konings voer ’n verwoede stryd om oppermag. Deur die jare heen kry eers die een en dan die ander die oorhand. Met tye is een koning oppermagtig terwyl die ander een onbedrywig raak, en daar is tye sonder enige tweestryd. Maar dan vlam die vyandigheid skielik weer op en die stryd gaan voort. Onder die spelers in hierdie drama was die Siriese koning Seleukos I Nikator, die Egiptiese koning Ptolemeus Lagus, die Siriese prinses en Egiptiese koningin Kleopatra I, die Romeinse keisers Augustus en Tiberius en die Palmireense koningin Zenobia. Teen die einde van die stryd was Nazi-Duitsland, die Kommunistiese blok van nasies, die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid, die Volkebond en die Verenigde Nasies ook al hierby betrokke. Die uiteinde is iets wat nie een van hierdie politieke magte verwag het nie. Jehovah se engel het hierdie opwindende profesie sowat 2 500 jaar gelede aan die profeet Daniël bekend gemaak.—Daniël, hoofstuk 11.

2 Hoe verheug moes Daniël tog gewees het toe hy hoor hoe die engel die wedywering tussen twee toekomstige konings in die fynste besonderhede beskryf! Die drama is ook vir ons van belang, want die magstryd tussen die twee konings duur tot in ons dag voort. As ons sien hoe die geskiedenis bewys het dat die eerste deel van die profesie bewaarheid is, sal dit ons geloof en vertroue versterk dat die laaste deel van die profetiese verslag ook sekerlik vervul sal word. Deur op hierdie profesie ag te gee, sal ons duidelik kan sien waar ons ons in die tydstroom bevind. Dit sal ons ook versterk in ons voorneme om neutraal te bly in die stryd terwyl ons geduldig op God wag om ten behoewe van ons op te tree (Psalm 146:3, 5). Laat ons dan aandagtig luister terwyl Jehovah se engel met Daniël praat.

TEEN DIE KONINKRYK VAN GRIEKELAND

3. Wie het die engel “in die eerste jaar van Darius, die Meder,” ondersteun?

3 “En ek”, het die engel gesê, “in die eerste jaar van Darius, die Meder, [539/538 v.G.J.] het ek opgetree as ’n versterking en beskutting vir hóm” (Daniël 11:1). Darius het nie meer gelewe nie, maar die engel het na sy heerskappy verwys as die beginpunt van die profetiese boodskap. Hy was die koning wat beveel het dat Daniël uit die leeukuil gehaal moes word. Darius het ook die opdrag gegee dat al sy onderdane Daniël se God moet vrees (Daniël 6:22-28). Maar die een vir wie die engel as ’n ondersteuner opgestaan het, was nie Darius die Meder nie, maar die engel se metgesel Migael—die vors van Daniël se volk. (Vergelyk Daniël 10:12-14.) God se engel het hierdie ondersteuning gegee terwyl Migael teen die demoonvors van Medo-Persië gestry het.

4, 5. Wie was die voorspelde vier konings van Persië?

4 God se engel het voortgegaan: “Kyk, nog drie konings sal opstaan vir die Perse, en die vierde sal groter rykdom verwerf as almal; en as hy sterk is deur sy rykdom, sal hy alles in beweging bring teen die koninkryk van Griekeland” (Daniël 11:2). Wie was hierdie Persiese heersers?

5 Die eerste drie konings was Kores die Grote, Kambuses II en Darius I. Aangesien Bardija (of moontlik ’n aanspraakmaker met die naam Gaumata) net sewe maande lank regeer het, het die profesie nie sy kort bewindstydperk in ag geneem nie. In 490 v.G.J. het die derde koning, Darius I, probeer om Griekeland vir die tweede keer in te val. Maar die Perse is by Maraton op die vlug gejaag en het tot in Klein-Asië teruggeval. Hoewel Darius goed voorberei het vir nog ’n veldtog teen Griekeland, kon hy dit nie voor sy dood vier jaar later tot uitvoer bring nie. Hy het dit aan sy seun en opvolger, die “vierde” koning, Xerxes I, oorgelaat. Hy was die koning Ahasveros wat met Ester getrou het.—Ester 1:1; 2:15-17.

6, 7. (a) Hoe het die vierde koning ‘alles in beweging gebring teen die koninkryk van Griekeland’? (b) Wat was die uiteinde van Xerxes se veldtog teen Griekeland?

6 Xerxes I het inderdaad ‘alles in beweging gebring teen die koninkryk van Griekeland’, dit wil sê die onafhanklike Griekse state as ’n groep. “Xerxes is deur eersugtige howelinge aangehits”, sê die boek The Medes and Persians—Conquerors and Diplomats, “en hy het ’n aanval oor land en see geloods.” Die Griekse geskiedskrywer Herodotus van die vyfde eeu v.G.J. skryf dat “geen ander ekspedisie in vergelyking met hierdie een na enigiets noemenswaardigs lyk nie”. Sy geskiedenisverslag sê dat die seemag “uit altesaam 517 610 man bestaan het. Die aantal voetsoldate was 1 700 000; die berede soldate was 80 000; en daarby moet die Arabiere gevoeg word wat op kamele gery het en die Libiërs wat in strydwaens geveg het, wat ek op 20 000 skat. Die hele groep, die land- en seemag, was dus altesaam 2 317 610 man.”

7 Aangesien Xerxes I niks minder as ’n totale oorwinning wou behaal nie, het hy met sy enorme krygsmag in 480 v.G.J. teen Griekeland opgeruk. Die Perse het ’n Griekse vertragingspoging by Termopulai te bowe gekom en Atene geplunder. Maar by Salamis het hulle ’n verskriklike nederlaag gely. Die Grieke het in 479 v.G.J. ’n verdere oorwinning by Platea behaal. Gedurende die volgende 143 jaar het nie een van die sewe konings wat ná Xerxes op die troon van die Persiese Ryk gesit het teen Griekeland oorlog gevoer nie. Maar toe staan daar ’n magtige koning in Griekeland op.

’N GROOT KONINKRYK IN VIER VERDEEL

8. Watter “magtige koning” het opgestaan, en hoe het hy ‘groot heerskappy gehad’?

8 “Dan sal ’n dapper [“magtige”, NW] koning opstaan wat groot heerskappy sal hê en sal maak net soos hy wil”, het die engel gesê (Daniël 11:3). Die twintigjarige Aleksander het in 336 v.G.J. as die koning van Masedonië ‘opgestaan’. Hy het inderdaad “’n magtige koning” geword—Aleksander die Grote. Aangedryf deur ’n plan van sy vader, Filippus II, het hy die Persiese provinsies in die Midde-Ooste ingeneem. Hy het die Eufraat en die Tigris oorgesteek, en sy 47 000 man het die 250 000 manskappe van Darius III by Gaugamela verslaan. Daarna het Darius gevlug en is hy vermoor, wat die Persiese dinastie tot ’n einde gebring het. Griekeland het nou die wêreldmoondheid geword, en Aleksander ‘het groot heerskappy gehad en gemaak net soos hy wil’.

9, 10. Hoe is die profesie vervul dat Aleksander se koninkryk nie aan sy nakomelinge sou behoort nie?

9 Aleksander se heerskappy oor die wêreld sou van korte duur wees, want God se engel het bygevoeg: “As hy opgetree het, sal sy koninkryk verbreek word en na die vier windstreke van die hemel verdeel word; en dit sal nie aan sy nakomelinge behoort en nie wees soos die heerskappy wat hy gehad het nie—want sy koninkryk sal verwoes word en nie aan hulle behoort nie, maar aan ander” (Daniël 11:4). Aleksander was nog nie eers 33 jaar oud nie toe sy lewe onverwags in 323 v.G.J. in Babilon deur siekte kortgeknip is.

10 Aleksander se uitgebreide ryk is nie aan “sy nakomelinge” oorgedra nie. Sy broer Filippus III Arrhideus het minder as sewe jaar lank regeer en is in 317 v.G.J. op aanstigting van Olimpias, Aleksander se moeder, vermoor. Aleksander se seun Aleksander IV het tot 311 v.G.J. regeer, toe Kassander, een van sy vader se generaals, hom om die lewe gebring het. Aleksander se buite-egtelike seun Herakles het in sy vader se naam probeer regeer, maar hy is in 309 v.G.J. vermoor. So het die geslagslyn van Aleksander geëindig en het sy “heerskappy” nie aan sy familie behoort nie.

11. Hoe is Aleksander se koninkryk “na die vier windstreke van die hemel verdeel”?

11 Ná die dood van Aleksander is sy koninkryk “na die vier windstreke” verdeel. Al sy generaals het onder mekaar getwis terwyl hulle gebied probeer inpalm het. Die eenoog-generaal Antigonos I het probeer om Aleksander se hele ryk onder sy beheer te bring. Maar hy het tydens ’n veldslag by Ipsus in Frigië gesneuwel. Teen die jaar 301 v.G.J. was vier van Aleksander se generaals aan die bewind oor die ontsaglike gebied wat hulle bevelvoerder verower het. Kassander het oor Masedonië en Griekeland geheers. Lusimagos het die beheer oor Klein-Asië en Trasië verkry. Seleukos I Nikator het oor Mesopotamië en Sirië regeer. En Ptolemeus Lagus het aan die bewind gekom oor Egipte en Palestina. Net soos die profesie getoon het, is Aleksander se groot ryk in vier Hellenistiese koninkryke verdeel.

TWEE MEDEDINGENDE KONINGS KOM TE VOORSKYN

12, 13. (a) Hoe het dit gekom dat die vier Hellenistiese koninkryke tot twee verminder is? (b) Watter dinastie het Seleukos in Sirië begin?

12 ’n Paar jaar nadat Kassander aan die bewind gekom het, het hy gesterf, en in 285 v.G.J. het Lusimagos die Europese gedeelte van die Griekse Ryk in besit geneem. In 281 v.G.J. het Lusimagos in die stryd teen Seleukos I Nikator gesneuwel, wat Seleukos beheer oor die grootste deel van die Asiatiese gebiede gegee het. Antigonos II Gonatas, die kleinseun van een van Aleksander se generaals, het in 276 v.G.J. die troon van Masedonië bestyg. Mettertyd het Masedonië van Rome afhanklik geraak, en dit het in 146 v.G.J. ’n Romeinse provinsie geword.

13 Net twee van die vier Hellenistiese koninkryke het nou oorgebly—een onder Seleukos I Nikator en die ander onder Ptolemeus Lagus. Seleukos het die Seleukiede dinastie in Sirië begin. Onder die stede wat hy gestig het, was Antiogië—die nuwe Siriese hoofstad—en die hawestad Seleukië. Die apostel Paulus het later in Antiogië gepreek, waar die volgelinge van Jesus vir die eerste keer Christene genoem is (Handelinge 11:25, 26; 13:1-4). Seleukos is in 281 v.G.J. vermoor, maar sy dinastie het nog tot 64 v.G.J. regeer, toe Sirië deur die Romeinse generaal Gnaeus Pompejus ’n Romeinse provinsie gemaak is.

14. Wanneer is die Ptolemeïese dinastie in Egipte begin?

14 Die Hellenistiese koninkryk wat die langste van die vier staande gebly het, was dié van Ptolemeus Lagus, of Ptolemeus I, wat in 305 v.G.J. die titel koning aangeneem het. Die Ptolemeïese dinastie wat hy begin het, het in Egipte regeer totdat dit in 30 v.G.J. voor Rome geval het.

15. Watter twee sterk konings het uit die vier Hellenistiese koninkryke te voorskyn gekom, en met watter stryd het hulle begin?

15 Uit die vier Hellenistiese koninkryke het daar dus twee sterk konings te voorskyn gekom—Seleukos I Nikator oor Sirië en Ptolemeus I oor Egipte. Die lang stryd tussen “die koning van die Noorde” en “die koning van die Suide” wat in Daniël hoofstuk 11 beskryf word, het met hierdie twee konings begin. Jehovah se engel het nie die name van die konings genoem nie, want die identiteit en nasionaliteit van hierdie twee konings sou deur die eeue heen verander. Die engel het onnodige besonderhede weggelaat en slegs heersers en gebeure genoem wat met die konflik verband hou.

DIE STRYD BEGIN

16. (a) Noord en suid van wie was die twee konings? (b) Watter konings het eerste “die koning van die Noorde” en “die koning van die Suide” geword”?

16 Luister! Jehovah se engel beskryf die begin van hierdie dramatiese stryd en sê: “Die koning van die Suide sal sterk word, ja, een van sy [Aleksander se] vorste; en hy [die koning van die Noorde] sal die oorhand oor hom kry en sal beslis heers met uitgebreide heerskappy, groter as daardie een se heersersmag” (Daniël 11:5, NW). Die beskrywings “die koning van die Noorde” en “die koning van die Suide” verwys na konings wat noord en suid van Daniël se volk was, wat teen daardie tyd uit gevangenskap in Babilon bevry is en in die land van Juda herstel was. Die eerste “koning van die Suide” was Ptolemeus I van Egipte. Een van Aleksander se generaals wat die oorhand oor Ptolemeus I gekry en “met uitgebreide heerskappy” regeer het, was die Siriese koning Seleukos I Nikator. Hy was “die koning van die Noorde”.

17. Onder wie se beheer was die land van Juda toe die stryd tussen die koning van die Noorde en die koning van die Suide begin het?

17 Aan die begin van die stryd was die land van Juda onder die beheer van die koning van die Suide. Van omtrent 320 v.G.J. af het Ptolemeus I Jode aangemoedig om hulle in Egipte te vestig. Daar was ’n welvarende Joodse kolonie in Aleksandrië, waar Ptolemeus I ’n beroemde biblioteek gebou het. Die Jode in Juda het tot 198 v.G.J. onder die gesag van Ptolemeïese Egipte, die koning van die Suide, gebly.

18, 19. Hoe het die twee mededingende konings met die verloop van die jare ‘vrede gesluit’?

18 Aangaande die twee konings het die engel voorspel: “Ná verloop van jare sal hulle ’n bondgenootskap met mekaar aangaan, en die dogter van die koning van die Suide sal na die koning van die Noorde kom om vrede te sluit; maar sy sal die krag van die arm nie behou nie—hy en sy mag sal nie standhou nie, en sy self sal prysgegee word saam met die wat haar gebring het, sowel as hy wat haar verwek het en haar in dié tyd verwerf [“sterk gemaak”, NW] het” (Daniël 11:6). Hoe het dit gebeur?

19 Die profesie het nie Seleukos I Nikator se seun en opvolger, Antiogos I, in ag geneem nie, want hy het nie ’n groot oorlog teen die koning van die Suide gevoer nie. Maar sy opvolger, Antiogos II, het ’n lang oorlog teen Ptolemeus II, die seun van Ptolemeus I, gevoer. Antiogos II en Ptolemeus II was onderskeidelik die koning van die Noorde en die koning van die Suide. Antiogos II was met Laodice getroud, en hulle het ’n seun met die naam Seleukos II gehad, terwyl Ptolemeus II ’n dogter met die naam Berenice gehad het. In 250 v.G.J. het hierdie twee konings ‘vrede gesluit’. Om die voorwaardes van hierdie ooreenkoms na te kom, het Antiogos II van sy vrou Laodice geskei en met Berenice, “die dogter van die koning van die Suide”, getrou. Hy het by Berenice ’n seun gehad wat die troonopvolger van Sirië geword het in die plek van die seuns van Laodice.

20. (a) Hoe het Berenice se “arm” nie standgehou nie? (b) Hoe is Berenice, “die wat haar gebring het” en ‘hy wat haar sterk gemaak het’ prysgegee? (c) Wie het die Siriese koning geword nadat Antiogos II “sy mag” verloor het?

20 Berenice se “arm”, of ondersteunende krag, was haar vader, Ptolemeus II. Toe hy in 246 v.G.J. sterf, het sy nie “die krag van die arm” by haar man behou nie. Antiogos II het haar verwerp, weer met Laodice getrou en hulle seun as sy opvolger benoem. Later het Laodice Berenice en haar seun laat vermoor. Dieselfde lot het klaarblyklik gewag op die lede van Berenice se gevolg wat haar van Egipte na Sirië vergesel het—“die wat haar gebring het”. Laodice het selfs Antiogos II vergiftig, en gevolglik het “sy mag” ook ‘nie standgehou nie’. Berenice se vader—“hy wat haar verwek het”—en haar Siriese man—wat haar tydelik “sterk gemaak” het—het dus albei gesterf. Seleukos II, die seun van Laodice, het toe die Siriese koning geword. Hoe sou die volgende Ptolemeïese koning hierop reageer?

’N KONING WREEK SY SUSTER SE MOORD

21. (a) Wie was “een uit die spruite” van Berenice se “wortels”, en hoe het hy ‘opgerys’? (b) Hoe het Ptolemeus III in “die vesting van die koning van die Noorde” ingedring en die oorhand oor hom gekry?

21 “Een uit die spruite van haar wortels [sal] in sy plek oprys”, het die engel gesê, “en teen die leër optrek, en hy sal in die vesting van die koning van die Noorde indring en teen hulle optree en magtig wees [“die oorhand kry”, NW]” (Daniël 11:7). “Een uit die spruite” van Berenice se ouers, of “wortels”, was haar broer. Toe sy vader sterf, het hy ‘opgerys’ as die koning van die Suide, die Egiptiese farao Ptolemeus III. Onmiddellik het hy begin planne maak om sy suster se moord te wreek. Hy het opgetrek teen die Siriese koning Seleukos II, wat deur Laodice gebruik is om Berenice en haar seun te vermoor, en het in “die vesting van die koning van die Noorde” ingedring. Ptolemeus III het die versterkte deel van Antiogië ingeneem en Laodice om die lewe gebring. Hy het ooswaarts deur die gebied van die koning van die Noorde beweeg en Babilonië geplunder en tot by Indië gegaan.

22. Wat het Ptolemeus III na Egipte teruggebring, en waarom het hy ‘die koning van die Noorde jare lank met rus gelaat’?

22 Wat het daarna gebeur? God se engel vertel ons: “Ja, [hy sal] ook hulle gode en hulle gegote beelde saam met hulle kosbare voorwerpe, silwer en goud, in gevangenskap na Egipte bring, en hy sal jare lank die koning van die Noorde met rus laat” (Daniël 11:8). Meer as 200 jaar vroeër het die Persiese koning Kambuses II Egipte verower en Egiptiese gode, “hulle gegote beelde”, saam met hom weggeneem. Toe Ptolemeus III Persië se voormalige koninklike hoofstad Susa geplunder het, het hy hierdie gode teruggeneem en hulle “in gevangenskap” na Egipte geneem. Hy het ook baie “kosbare voorwerpe, silwer en goud” as oorlogsbuit teruggebring. Ptolemeus III was verplig om opstande in sy vaderland te onderdruk en het dus ‘die koning van die Noorde met rus gelaat’, en hom geen verdere kwaad aangedoen nie.

DIE SIRIESE KONING VEG TERUG

23. Waarom het die koning van die Noorde ‘na sy land teruggetrek’ nadat hy in die koninkryk van die koning van die Suide ingetrek het?

23 Hoe het die koning van die Noorde gereageer? Daar is vir Daniël gesê: “Dan sal dié in die koninkryk van die koning van die Suide intrek, maar hy sal na sy land terugtrek” (Daniël 11:9). Die koning van die Noorde—die Siriese koning Seleukos II—het teruggeveg. Hy het in “die koninkryk”, of gebied, van die Egiptiese koning van die Suide ingetrek, maar is verslaan. Met net ’n klein oorblyfsel van sy leër, het Seleukos II ‘na sy land teruggetrek’, deur in ongeveer 242 v.G.J. na die Siriese hoofstad Antiogië terug te val. Sy seun Seleukos III het hom by sy dood opgevolg.

24. (a) Wat het met Seleukos III gebeur? (b) Hoe het die Siriese koning Antiogos III in die gebied van die koning van die Suide ‘aangekom en ingestroom en oorgeloop’?

24 Wat is oor die nageslag van die Siriese koning Seleukos II voorspel? Die engel het vir Daniël gesê: “En sy seuns sal hulle in die oorlog begewe en ’n menigte groot leërs versamel; en hy sal sekerlik aankom en instroom en oorloop, en weer terugkom, en hulle sal oorlog voer tot by sy vesting” (Daniël 11:10). Seleukos III se heerskappy is binne drie jaar kortgeknip toe hy vermoor is. Sy broer, Antiogos III, het ná hom op die Siriese troon gesit. Hierdie seun van Seleukos II het groot leërs versamel om die koning van die Suide aan te val, wat destyds Ptolemeus IV was. Die nuwe Siriese koning van die Noorde het die oorwinning oor Egipte behaal en die hawestad Seleukië, die provinsie Coele-Sirië, die stede Tirus en Ptolemaïs en nabygeleë dorpe herower. Hy het ’n leër van koning Ptolemeus IV op die vlug gejaag en het baie stede van Juda verower. In die lente van 217 v.G.J. het Antiogos III uit Ptolemaïs vertrek en noordwaarts gegaan, “tot by sy vesting” in Sirië. Maar ’n verandering was op hande.

’N NUWE WENDING

25. Waar het Ptolemeus IV die stryd met Antiogos III aangeknoop, en wat is ‘oorgegee in die hand’ van die Egiptiese koning van die Suide?

25 Soos Daniël luister ons aandagtig terwyl Jehovah se engel vervolgens voorspel: “Dan sal die koning van die Suide verbitterd word en uittrek en teen hom, die koning van die Noorde, veg, wat ook ’n groot menigte op die been sal bring, maar hierdie menigte sal in sy hand oorgegee word” (Daniël 11:11). Die koning van die Suide, Ptolemeus IV, het met 75 000 manskappe in ’n noordelike rigting teen die vyand opgeruk. Die Siriese koning van die Noorde, Antiogos III, het “’n groot menigte” van 68 000 teen hom versamel. Maar “hierdie menigte” is “in [die koning van die Suide se] hand oorgegee” toe hy hulle by die kusstad Rafia, naby die grens van Egipte, verslaan het.

26. (a) Watter “menigte” is deur die koning van die Suide tydens die slag by Rafia vernietig, en wat was die voorwaardes van die vredesverdrag wat daar gesluit is? (b) Hoe het Ptolemeus IV “nie sy sterk posisie benut nie”? (c) Wie het die volgende koning van die Suide geword?

26 Die profesie gaan voort: “As die menigte vernietig is, sal sy hart hom verhef; en hy sal tienduisende neerslaan, maar nie sterk bly nie [“nie sy sterk posisie benut nie”, NW]” (Daniël 11:12). Ptolemeus IV, die koning van die Suide, het 10 000 Siriese voetsoldate en 300 berede soldate “vernietig” en 4 000 as gevangenes weggevoer. Die konings het toe ’n verdrag gesluit waarvolgens Antiogos III sy Siriese hawestad Seleukië behou het, maar Fenisië en Coele-Sirië verloor het. As gevolg van hierdie oorwinning het die hart van die Egiptiese koning van die Suide “hom verhef”, veral teen Jehovah. Juda het onder die beheer van Ptolemeus IV gebly. Hy het egter nie “sy sterk posisie benut” deur sy sege oor die Siriese koning van die Noorde op te volg nie. Ptolemeus IV het hom eerder aan ’n losbandige lewe oorgegee, en sy vyfjarige seun, Ptolemeus V, het die volgende koning van die Suide geword, ’n hele aantal jare voor die dood van Antiogos III.

DIE VEROWERAAR KEER TERUG

27. Hoe het die koning van die Noorde “ná verloop van tyd” teruggekeer om gebied van Egipte te herower?

27 Weens al sy veroweringsveldtogte het Antiogos III as Antiogos die Grote bekend geword. Van hom het die engel gesê: “Dan sal die koning van die Noorde weer ’n groter menigte op die been bring as die eerste, en ná verloop van tyd, van jare, sal hy sekerlik kom met ’n groot leër en ’n groot gevolg” (Daniël 11:13). Hierdie “tyd” was 16 jaar of meer ná die Egiptenare die Siriërs by Rafia verslaan het. Toe die jong Ptolemeus V die koning van die Suide geword het, het Antiogos III uitgetrek met ‘’n groter menigte as die eerste’ om die gebied wat hy aan die Egiptiese koning van die Suide moes afstaan te herower. Met daardie doel het hy met die Masedoniese koning Filippus V saamgespan.

28. Watter probleme het die jong koning van die Suide gehad?

28 Die koning van die Suide het ook in sy koninkryk probleme gehad. “In dié tye sal baie teen die koning van die Suide opstaan”, het die engel gesê (Daniël 11:14a). Baie het inderdaad ‘teen die koning van die Suide opgestaan’. Buiten die magte van Antiogos III en sy Masedoniese bondgenoot, het die jong koning van die Suide ook in sy vaderland Egipte probleme ondervind. Omdat sy voog Agatokles, wat in sy naam regeer het, die Egiptenare op hooghartige wyse behandel het, het baie in opstand gekom. Die engel het voortgegaan: “En die gewelddadige mense van jou volk sal hulle verhef om ’n gesig in vervulling te laat gaan, maar hulle sal omkom” (Daniël 11:14b). Selfs party van Daniël se volk het “gewelddadige mense”, of opstandelinge, geword. Maar enige “gesig” wat sulke Joodse manne gehad het dat hulle die nie-Joodse oorheersing oor hulle vaderland sou beëindig, was vals, en hulle sou misluk, of “omkom”.

29, 30. (a) Hoe het “die leërs van die Suide” voor die aanval uit die noorde geswig? (b) Hoe het die koning van die Noorde ‘in die Pragtige Land gaan staan’?

29 Jehovah se engel het verder voorspel: “So sal dan die koning van die Noorde kom en ’n wal opwerp en ’n versterkte stad inneem; en die leërs van die Suide sal nie standhou nie, selfs sy uitgesoekte manskappe nie, sodat daar geen krag sal wees om stand te hou nie. En hy wat uit die Noorde teen hom kom, sal maak net soos hy wil, en niemand sal voor hom standhou nie; hy sal ook gaan staan in die Pragtige Land, terwyl daar verdelging in sy hand is.”—Daniël 11:15, 16.

30 Krygsmagte onder Ptolemeus V, of “die leërs van die Suide”, het voor die aanval uit die noorde geswig. By Paneas (Sesarea-Filippi) het Antiogos III Egipte se generaal Skopas en 10 000 “uitgesoekte manskappe”, tot in Sidon, “’n versterkte stad” gedryf. Daar het Antiogos III ‘’n wal opgewerp’ en daardie Fenisiese hawestad in 198 v.G.J. ingeneem. Hy het ‘gemaak net soos hy wil’ omdat die magte van die Egiptiese koning van die Suide nie voor hom kon standhou nie. Antiogos III het daarna teen Jerusalem, die hoofstad van “die Pragtige Land”, Juda, opgetrek. In 198 v.G.J. het die Siriese koning van die Noorde die bewind oor Jerusalem en Juda van die Egiptiese koning van die Suide oorgeneem. En Antiogos III, die koning van die Noorde, het “gaan staan in die Pragtige Land”. Daar was “verdelging in sy hand” vir alle Jode en Egiptenare wat hom teëgestaan het. Hoe lank sou hierdie koning van die Noorde kon doen wat hy wou?

ROME BEDWING DIE VEROWERAAR

31, 32. Waarom het die koning van die Noorde uiteindelik ‘vrede gesluit’ met die koning van die Suide?

31 Jehovah se engel gee ons hierdie antwoord: “Hy [die koning van die Noorde] sal sy aangesig daarop rig om met die sterkte van sy hele koninkryk te kom, maar hy sal met hom vrede sluit; en hy sal vir hom ’n jongedogter gee om die land te gronde te rig. Maar dit sal nie tot stand kom nie, en daar sal niks vir hom wees nie [“sy sal nie syne bly nie”, NW].”—Daniël 11:17.

32 As koning van die Noorde het Antiogos III ‘sy aangesig daarop gerig’ om Egipte te oorheers “met die sterkte van sy hele koninkryk”. Maar hy het uiteindelik ‘vrede gesluit’ met Ptolemeus V, die koning van die Suide. Rome se eise het Antiogos III van plan laat verander. Toe hy en koning Filippus V van Masedonië teen die jong Egiptiese koning saamgespan het om sy gebied te verower, het Ptolemeus V se voogde hulle tot Rome gewend om beskerming. Rome het hierdie geleentheid aangegryp om sy invloed uit te brei.

33. (a) Wat was die vredesvoorwaardes tussen Antiogos III en Ptolemeus V? (b) Wat was die doel van die huwelik tussen Kleopatra I en Ptolemeus V, en waarom het die plan misluk?

33 Onder dwang van Rome het Antiogos III vrede gemaak met die koning van die Suide. Antiogos III het nie die verowerde gebiede afgestaan soos Rome vereis het nie, maar het besluit om dit in naam aan hom oor te dra deur sy dogter Kleopatra I—“’n jongedogter”—met Ptolemeus V te laat trou. Provinsies wat Juda, “die Pragtige Land”, ingesluit het, sou as haar bruidskat gegee word. Met die huwelik in 193 v.G.J. het die Siriese koning egter nie hierdie provinsies aan Ptolemeus V oorgegee nie. Dit was ’n politieke huwelik, wat aangegaan is met die doel om Egipte aan Sirië onderworpe te maak. Maar die plan het misluk omdat Kleopatra ‘nie syne gebly het nie’, want sy het later haar man se kant gekies. Toe oorlog tussen Antiogos III en die Romeine uitgebreek het, het Egipte hom aan Rome se kant geskaar.

34, 35. (a) Na watter “kuslande” het die koning van die Noorde sy aangesig gewend? (b) Hoe het Rome ’n einde aan die “gesmaad” van die koning van die Noorde gemaak? (c) Hoe het Antiogos III gesterf, en wie het die volgende koning van die Noorde geword?

34 Die engel het na die terugslae verwys wat die koning van die Noorde sou ly en gesê: “Daarna sal hy [Antiogos III] sy aangesig wend na die kuslande en baie daarvan verower; maar ’n aanvoerder [Rome] sal aan sy gesmaad ’n einde maak, ja, hy [Rome] sal sy gesmaad [dié van Antiogos III] op homself laat terugval. Dan sal hy [Antiogos III] sy aangesig wend na die vestings van sy land, maar hy sal struikel en val en nie meer gevind word nie.”—Daniël 11:18, 19.

35 Die “kuslande” was dié van Masedonië, Griekeland en Klein-Asië. ’n Oorlog het in 192 v.G.J. in Griekeland uitgebreek en Antiogos III is oorreed om na Griekeland te kom. Rome was ontevrede oor die Siriese koning se pogings om nog gebied daar te verower en het formeel oorlog teen hom verklaar. Hy is by Termopulai deur die Romeine verslaan. Omtrent ’n jaar nadat hy die slag van Magnesië in 190 v.G.J. verloor het, moes hy alles in Griekeland, Klein-Asië en in gebiede wes van die Taurusgebergte afstaan. Rome het hom ’n swaar boete opgelê en sy heerskappy oor die Siriese koning van die Noorde bevestig. Nadat Antiogos III uit Griekeland en Klein-Asië verdryf is en byna sy hele vloot verloor het, het hy ‘sy aangesig gewend na die vestings van sy land’, Sirië. Die Romeine het ‘sy gesmaad teen hulle op homself laat terugval’. Antiogos III het in 187 v.G.J. gesterf terwyl hy ’n tempel in Elimaïs, Persië, probeer beroof het. Hy het dus ‘geval’, oftewel gesterf, en is deur sy seun Seleukos IV, die volgende koning van die Noorde, opgevolg.

DIE STRYD DUUR VOORT

36. (a) Hoe het die koning van die Suide die stryd probeer voortsit, maar wat het met hom gebeur? (b) Hoe het Seleukos IV tot ’n val gekom, en wie het hom opgevolg?

36 As die koning van die Suide het Ptolemeus V die provinsies wat hy as Kleopatra se bruidskat moes gekry het, probeer verower, maar hy is vergiftig. Hy is deur Ptolemeus VI opgevolg. Wat van Seleukos IV? Hy het geld nodig gehad om die groot boete te betaal wat hy aan Rome geskuld het en het sy skatmeester Heliodorus gestuur om beslag te lê op die rykdom wat glo in Jerusalem se tempel was. Heliodorus het egter die koningskap begeer en het Seleukos IV vermoor. Maar koning Eumenes van Pergamum en sy broer Attalus het die vermoorde koning se broer Antiogos IV op die troon geplaas.

37. (a) Hoe het Antiogos IV die indruk probeer skep dat hy magtiger as Jehovah God is? (b) Waartoe het die ontheiliging van die tempel in Jerusalem deur Antiogos IV gelei?

37 Die nuwe koning van die Noorde, Antiogos IV, het die indruk probeer skep dat hy magtiger as God is deur Jehovah se reëling van aanbidding te probeer uitwis. Hy het Jehovah getart deur die tempel in Jerusalem aan Zeus, of Jupiter, te wy. In Desember 167 v.G.J. is ’n heidense altaar bo-op die groot altaar opgerig wat in die voorhof van die tempel was en waarop daar elke dag ’n brandoffer aan Jehovah gebring is. Tien dae later is ’n offer aan Zeus op die heidense altaar gebring. Hierdie ontheiliging het tot ’n Joodse opstand onder leiding van die Makkabeërs gelei. Antiogos IV het drie jaar lank teen hulle geveg. In 164 v.G.J., op die herdenking van die ontheiliging, het Judas Makkabeus die tempel weer aan Jehovah toegewy, en die toewydingsfees—Hanukka—ingestel.—Johannes 10:22.

38. Hoe het die Makkabese heerskappy tot ’n einde gekom?

38 Die Makkabeërs het moontlik in 161 v.G.J. ’n verdrag met Rome gesluit en het in 104 v.G.J. ’n koninkryk gestig. Maar die moeilikheid tussen hulle en die Siriese koning van die Noorde het voortgeduur. Uiteindelik is Rome gevra om tussenbeide te tree. Die Romeinse generaal Gnaeus Pompejus het Jerusalem in 63 v.G.J. ná ’n beleg van drie maande ingeneem. In 39 v.G.J. het die Romeinse Senaat Herodes—’n Edomiet—as koning van Judea aangestel. Toe hy in 37 v.G.J. die bewind oor Jerusalem aanvaar het, het dit die Makkabese heerskappy beëindig.

39. Hoe het jy baat gevind by hierdie bespreking van Daniël 11:1-19?

39 Hoe opwindend is dit tog om te sien hoe die eerste deel van die profesie oor die twee strydende konings tot in die fynste besonderhede vervul is! Ja, hoe opwindend is dit tog om die geskiedenisverslag van sowat 500 jaar ná die profetiese boodskap aan Daniël gegee is te ondersoek en die heersers te identifiseer wat die koning van die Noorde en die koning van die Suide was! Die politieke identiteit van hierdie twee konings verander egter terwyl die stryd tussen hulle voortduur, van die tyd toe Jesus Christus op die aarde was tot in ons dag. Deur geskiedkundige verwikkelinge te vergelyk met die fassinerende besonderhede wat in hierdie profesie geopenbaar word, sal ons hierdie twee strydende konings kan identifiseer.

WAT HET JY GELEER?

• Watter twee lyne sterk konings het uit die Hellenistiese koninkryke ontstaan, en met watter stryd het die konings begin?

• Hoe het die twee konings ‘vrede gesluit’, soos in Daniël 11:6 voorspel is?

• Hoe het die stryd voortgegaan tussen

Seleukos II en Ptolemeus III (Daniël 11:7-9)?

Antiogos III en Ptolemeus IV (Daniël 11:10-12)?

Antiogos III en Ptolemeus V (Daniël 11:13-16)?

• Wat was die doel van die huwelik tussen Kleopatra I en Ptolemeus V, en waarom het die plan misluk (Daniël 11:17-19)?

• Hoe het jy baat gevind deur ag te gee op Daniël 11:1-19?

[Tabel/Prent op bladsy 228]

KONINGS IN DANIËL 11:5-19

Die koning Die koning

van die Noorde van die Suide

Daniël 11:5 Seleukos I Nikator Ptolemeus I

Daniël 11:6 Antiogos II Ptolemeus II

(vrou Laodice) (dogter Berenice)

Daniël 11:7-9 Seleukos II Ptolemeus III

Daniël 11:10-12 Antiogos III Ptolemeus IV

Daniël 11:13-19 Antiogos III Ptolemeus V

(dogter Kleopatra I) Opvolger:

Opvolgers: Ptolemeus VI

Seleukos IV en

Antiogos IV

[Prent]

Muntstuk waarop Ptolemeus II en sy vrou uitgebeeld word

[Prent]

Seleukos I Nikator

[Prent]

Antiogos III

[Prent]

Ptolemeus VI

[Prent]

Ptolemeus III en sy opvolgers het hierdie tempel van Horus by Idfu, Bo-Egipte, gebou

[Kaart/Prente op bladsy 216, 217]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die beskrywings “die koning van die Noorde” en “die koning van die Suide” verwys na konings wat noord en suid van die land van Daniël se volk was

MASEDONIË

GRIEKELAND

KLEIN-ASIË

ISRAEL

LIBIË

EGIPTE

ETIOPIË

SIRIË

Babilon

ARABIË

[Prent]

Ptolemeus II

[Prent]

Antiogos die Grote

[Prent]

’n Klipblad met amptelike bevele wat deur Antiogos die Grote uitgevaardig is

[Prent]

Muntstuk waarop Ptolemeus V uitgebeeld word

[Prent]

Poort van Ptolemeus III by Karnak, Egipte

[Volbladillustrasie op bladsy 210]

[Prent op bladsy 215]

Seleukos I Nikator

[Prent op bladsy 218]

Ptolemeus I

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel