Hoofstuk twee
’n Vader en sy opstandige kinders
1, 2. Verduidelik hoe dit gekom het dat Jehovah opstandige kinders het.
HY HET soos enige liefdevolle ouer goed vir sy kinders voorsien. Hy het baie jare lank gesorg dat hulle kos, klere en huisvesting het. Wanneer dit nodig was, het hy hulle gedissiplineer. Maar hulle straf was nooit onredelik streng nie; dit is altyd “in die regte mate” toegedien (Jeremia 30:11). Ons kan ons dus net indink watter pyn hierdie liefdevolle vader voel wanneer hy moet sê: “Kinders het ek grootgemaak en opgevoed, maar hulle het teen my in opstand gekom.”—Jesaja 1:2b.
2 Die opstandige kinders waarvan ons hier praat, is die volk van Juda, en die veronregte vader is Jehovah God. Hoe tragies tog! Jehovah het die Judeërs gevoed en tot ’n hoë posisie onder die nasies verhef. “Ek het vir jou ’n geborduurde kleed aangetrek en jou met robbevel geskoei en jou in fyn linne gehul en jou met kosbare materiaal bedek”, herinner hy hulle later deur die profeet Esegiël (Esegiël 16:10). Maar oor die algemeen waardeer die volk van Juda nie wat Jehovah vir hulle gedoen het nie. Hulle kom eerder in opstand.
3. Waarom roep Jehovah die hemele en die aarde as getuies van Juda se opstandigheid?
3 Met goeie rede lei Jehovah sy woorde oor sy opstandige kinders in deur te sê: “Hoor, o hemele, en luister, o aarde, want Jehovah het gespreek” (Jesaja 1:2a). Eeue vroeër het die hemele en die aarde as ’t ware gehoor hoe die Israeliete duidelik gewaarsku is wat die gevolge van ongehoorsaamheid sou wees. Moses het gesê: “Ek [neem] vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle dat julle gewis gou uit die land sal vergaan waarheen julle deur die Jordaan trek om dit in besit te neem” (Deuteronomium 4:26). In Jesaja se dag roep Jehovah nou die onsigbare hemele en die sigbare aarde as getuies van Juda se opstandigheid.
4. Hoe openbaar Jehovah hom aan Juda?
4 Die erns van die situasie vereis ’n direkte benadering. Selfs in hierdie moeilike omstandighede is dit egter opmerkenswaardig—en hartverblydend—dat Jehovah hom aan Juda openbaar as ’n liefdevolle ouer en nie bloot as die eienaar wat hulle gekoop het nie. In werklikheid smeek Jehovah sy volk om die saak uit die standpunt van ’n vader te beskou wat smart ervaar oor sy eiesinnige kinders. Miskien kan party ouers in Juda weens hulle eie ondervinding self so ’n moeilike posisie verstaan en word hulle deur die illustrasie getref. In elk geval, Jehovah gaan nou sy saak teen Juda stel.
Redelose diere weet beter
5. Hoe lê die bul en die esel, in teenstelling met Israel, getrouheid aan die dag?
5 Jehovah sê deur Jesaja: “’n Bul ken sy koper goed en die esel die krip van sy eienaar; Israel het nie kennis gehad nie, my volk het hulle nie verstandig gedra nie” (Jesaja 1:3).a Die bul en die esel is trekdiere waarmee die bewoners van die Midde-Ooste bekend was. Trouens, die Judeërs moes erken dat selfs hierdie nederige diere ’n mate van getrouheid aan die dag lê, ’n duidelike bewustheid dat hulle aan ’n eienaar behoort. Let in hierdie verband op wat een Bybelnavorser aan die einde van ’n dag in ’n Midde-Oosterse stad gesien het: “Die trop was nog skaars binne die stadsmuur toe hulle uitmekaar begin gaan het. Elke os het sy eienaar en ook die pad na sy huis maar alte goed geken, en hy was nie eers ’n oomblik verward in die doolhof van nou en kronkelende straatjies nie. Die esel het reguit na die deur en ‘die krip van sy eienaar’ gegaan.”
6. Hoe het die volk van Juda onverstandig opgetree?
6 Aangesien sulke tonele ongetwyfeld algemeen in Jesaja se dag is, is die punt van Jehovah se boodskap duidelik: As selfs ’n redelose dier sy eienaar en sy eie krip herken, watter verskoning het die volk van Juda dan omdat hulle Jehovah verlaat het? Hulle het hulle beslis “nie verstandig gedra nie”. Dit is asof hulle glad nie bewus is van die feit dat hulle voorspoed en selfs hulle bestaan van Jehovah afhang nie. Dit is beslis ’n blyk van barmhartigheid dat Jehovah die Judeërs nog “my volk” noem.
7. Wat is party maniere waarop ons kan toon dat ons Jehovah se voorsienings waardeer?
7 Ons wil nooit onverstandig optree deur nie waardering te toon vir alles wat Jehovah vir ons gedoen het nie! Ons moet eerder die psalmis Dawid navolg, wat gesê het: “Ek sal u prys, o Jehovah, met my hele hart; ek sal al u wonderlike werke bekend maak” (Psalm 9:1). As ons voortdurend kennis van Jehovah inneem, sal dit ons in hierdie verband aanmoedig, want die Bybel sê: “Die kennis van die Allerheiligste is verstand” (Spreuke 9:10). As ons daagliks oor Jehovah se seëninge peins, sal dit ons help om dankbaar te wees en nie die seëninge wat van ons hemelse Vader kom as vanselfsprekend te aanvaar nie (Kolossense 3:15). “Die een wat danksegging as sy offerande bring, hy verheerlik my”, sê Jehovah, “en wat die een betref wat op ’n vaste weg bly, ek sal hom redding deur God laat sien.”—Psalm 50:23.
’n Skokkende belediging vir “die Heilige van Israel”
8. Waarom kan die volk van Juda “die sondige nasie” genoem word?
8 Jesaja sit sy boodskap met sterk woorde aan die nasie van Juda voort: “Wee die sondige nasie, die volk swaar belaai met dwaling, ’n saad van kwaaddoeners, verderflike kinders! Hulle het Jehovah verlaat, hulle het die Heilige van Israel met minagting bejeën, hulle het agtertoe gedraai” (Jesaja 1:4). Goddelose dade kan ophoop totdat hulle soos ’n swaar las word. In Abraham se dag het Jehovah die sondes van Sodom en Gomorra as “baie swaar” beskryf (Genesis 18:20). Iets soortgelyks kan nou onder die volk van Juda gesien word, want Jesaja sê dat hulle “swaar belaai [is] met dwaling”. Daarbenewens noem hy hulle “’n saad van kwaaddoeners, verderflike kinders”. Ja, die Judeërs is soos ongehoorsame kinders. Hulle het “agtertoe gedraai”, of soos die New Revised Standard Version sê, hulle is “heeltemal vervreemd” van hulle Vader.
9. Wat is die betekenis van die frase “die Heilige van Israel”?
9 Deur hulle eiesinnige weg toon die volk van Juda hulle absolute minagting vir “die Heilige van Israel”. Wat is die betekenis van hierdie frase, wat 25 keer in die boek Jesaja voorkom? Om heilig te wees, beteken om rein en suiwer te wees. Jehovah is heilig in die hoogste graad (Openbaring 4:8). Elke keer as die Israeliete die gegraveerde woorde “Heiligheid behoort aan Jehovah” op die blink goue plaat aan die hoëpriester se tulband sien, word hulle aan hierdie feit herinner (Eksodus 39:30). Deur Jehovah “die Heilige van Israel” te noem, onderstreep Jesaja dus die erns van Juda se sonde. Hierdie opstandiges doen net mooi die teenoorgestelde van wat hulle voorvaders beveel is: “Julle moet julle heilig en julle moet julle heilig betoon, want ek is heilig”!—Levitikus 11:44.
10. Hoe kan ons dit vermy om minagting vir “die Heilige van Israel” te toon?
10 Christene van vandag moet dit ten alle koste vermy om Juda se voorbeeld van minagting vir “die Heilige van Israel” te volg. Hulle moet Jehovah se heiligheid navolg (1 Petrus 1:15, 16). En hulle moet ‘die kwaad haat’ (Psalm 97:10). Onrein dade soos geslagsonsedelikheid, afgodediens, diefstal en dronkenskap kan die Christengemeente besmet. Om daardie rede word diegene wat weier om op te hou om hierdie dinge te beoefen uit die gemeente gesit. Uiteindelik sal diegene wat sonder berou ’n onreine weg volg, nie toegelaat word om die seëninge van God se Koninkryksregering te geniet nie. Ja, al hierdie goddelose werke is ’n skokkende belediging vir “die Heilige van Israel”.—Romeine 1:26, 27; 1 Korintiërs 5:6-11; 6:9, 10.
Siek van die kop tot die voetsool
11, 12. (a) Beskryf Juda se slegte toestand. (b) Waarom moet ons nie jammer voel vir Juda nie?
11 Jesaja probeer vervolgens met die volk van Juda redeneer deur hulle aandag op hulle siek toestand te vestig. Hy sê: “Waar anders wil julle nog geslaan word, aangesien julle voortgaan met julle opstand?” Jesaja vra hulle in werklikheid: ‘Het julle nie al genoeg gely nie? Waarom bring julle nog verdere leed oor julleself deur steeds opstandig te wees?’ Jesaja gaan voort: “Die hele kop is siek, en die hele hart is kragteloos. Van die voetsool tot die kop is daar geen gesonde plek aan nie” (Jesaja 1:5, 6a). Juda verkeer in ’n verfoeilike, siek toestand—geestelik siek van die kop tot die voetsool. Inderdaad ’n sombere diagnose!
12 Moet ons jammer voel vir Juda? Beslis nie! Eeue vroeër is die hele nasie Israel duidelik gewaarsku wat die straf vir ongehoorsaamheid sou wees. Daar is onder meer vir hulle gesê: “Jehovah sal jou tref met kwaadaardige swere aan albei knieë en albei bene, waarvan jy nie gesond sal kan word nie, van die sool van jou voet tot die kroon van jou kop” (Deuteronomium 28:35). Figuurlik gesproke pluk Juda nou juis hierdie wrange vrugte van sy wederstrewige weg. En dit alles kon vermy gewees het as die volk van Juda net gehoorsaam was aan Jehovah.
13, 14. (a) Watter beserings is Juda toegedien? (b) Laat Juda se beserings hom sy opstandige weg heroorweeg?
13 Jesaja gaan voort met sy beskrywing van Juda se beklaenswaardige toestand: “Wonde en kneusplekke en vars hale—hulle is nie uitgedruk of verbind of met olie versag nie” (Jesaja 1:6b). Hier noem die profeet drie soorte beserings: wonde (snye, soos dié wat deur ’n swaard of ’n mes veroorsaak word), kneusplekke (merke soos wanneer iemand geslaan is) en vars hale (nuwe, oop sere wat lyk of dit nie kan genees nie). Die beeld wat geskep word, is dié van ’n man wat op elke denkbare manier kwaai gestraf is, en daar is nie ’n plekkie op sy liggaam wat gespaar is nie. Juda is beslis in ’n desperate situasie.
14 Laat Juda se ellendige toestand hom na Jehovah terugkeer? Nee! Juda is soos die opstandige persoon wat in Spreuke 29:1 beskryf word: “’n Man wat herhaaldelik tereggewys word maar sy nek verhard, sal skielik verbreek word, en dit sonder genesing.” Dit lyk nie of die nasie meer genees kan word nie. Soos Jesaja dit stel, is sy wonde “nie uitgedruk of verbind of met olie versag nie”.b Juda is as ’t ware soos ’n oop seer wat nie verbind is nie en wat oor die hele liggaam versprei is.
15. Op watter maniere kan ons ons teen geestelike siekte beskerm?
15 Ons kan ’n les by Juda leer en waak teen geestelike siekte. Soos fisiese siekte kan dit enigeen van ons aantas. Wie van ons is immers immuun teen vleeslike begeertes? Hebsug en ’n begeerte na oormatige vermaak kan in ons hart wortelskiet. Daarom moet ons onsself leer om te “verafsku wat goddeloos is” en ‘vas te hou aan wat goed is’ (Romeine 12:9). Ons moet ook die vrugte van God se gees in ons daaglikse lewe aankweek (Galasiërs 5:22, 23). As ons dit doen, sal ons die toestand waarin Juda was—om geestelik gesproke van die kop tot die voetsool siek te wees—vermy.
’n Verwoeste land
16. (a) Hoe beskryf Jesaja die toestand in die land van Juda? (b) Waarom sê party dat hierdie woorde waarskynlik gedurende die heerskappy van Agas uitgespreek is, maar hoe kan ons dit verstaan?
16 Jesaja beëindig nou sy mediese vergelyking en vestig sy aandag op die toestand in die land van Juda. Asof hy afkyk op ’n slagveld ná ’n oorlog, sê hy: “Julle land is ’n woesteny, julle stede is met vuur verbrand; julle grond—reg voor julle word dit deur vreemdelinge verteer, en die woesteny is soos ’n omkering deur vreemdelinge” (Jesaja 1:7). Party geleerdes sê dat hierdie woorde, hoewel dit vroeg in Jesaja se boek aangetref word, waarskynlik later in die profeet se loopbaan uitgespreek is, moontlik gedurende die heerskappy van die goddelose koning Agas. Hulle beweer dat Ussia se heerskappy te voorspoedig was om so ’n sombere beskrywing te regverdig. Daar kan weliswaar nie met sekerheid gesê word of Jesaja se boek in chronologiese volgorde saamgestel is nie. Maar Jesaja se woorde oor verwoesting is waarskynlik profeties. Toe hy die woorde hierbo uitgespreek het, maak Jesaja heel waarskynlik gebruik van ’n tegniek wat op ander plekke in die Bybel voorkom—om ’n toekomstige gebeurtenis te beskryf asof dit reeds gebeur het, waardeur die sekerheid van ’n profesie se vervulling beklemtoon word.—Vergelyk Openbaring 11:15.
17. Waarom behoort die profetiese beskrywing van verwoesting nie vir die volk van Juda ’n verrassing te wees nie?
17 Hoe dit ook al sy, die profetiese beskrywing van die verwoesting van Juda behoort nie vir hierdie wederstrewige en ongehoorsame volk ’n verrassing te wees nie. Eeue vroeër het Jehovah hulle gewaarsku teen die gevolge van opstandigheid. Hy het gesê: “Ek sal die land verwoes, en julle vyande wat daarin woon, sal eenvoudig in verbasing daaroor staar. En ek sal julle onder die nasies verstrooi, en ek sal agter julle ’n swaard uittrek; en julle land sal ’n woesteny word, en julle stede sal ’n verlate puinhoop word.”—Levitikus 26:32, 33; 1 Konings 9:6-8.
18-20. Wanneer word die woorde van Jesaja 1:7,8 vervul, en hoe laat Jehovah by hierdie geleentheid ‘’n paar oorbly’?
18 Die woorde in Jesaja 1:7, 8 word blykbaar vervul gedurende Assirië se invalle wat tot die vernietiging van Israel en tot groot vernietiging en lyding in Juda gelei het (2 Konings 17:5, 18; 18:11, 13; 2 Kronieke 29:8, 9). Maar Juda word nie heeltemal uitgewis nie. Jesaja sê: “Die dogter van Sion het oorgebly soos ’n hut in ’n wingerd, soos ’n uitkykhut in ’n komkommerland, soos ’n ingeslote stad.”—Jesaja 1:8.
19 Te midde van al die vernietiging sal “die dogter van Sion”, Jerusalem, bly staan. Maar sy sal glad nie sterk lyk nie—soos ’n hutjie in ’n wingerd of ’n wagtershut in ’n komkommerland. Toe een 19de-eeuse geleerde op die Nyl gevaar het, het hy aan Jesaja se woorde gedink toe hy soortgelyke hutte gesien het, wat hy beskryf as “beswaarlik meer as ’n skuilplek teen ’n noordewind”. In Juda is hierdie hutte ná die oes toegelaat om uitmekaar te val. Maar ongeag hoe swak Jerusalem voor die allesverowerende Assiriese leër gelyk het, sy sal behoue bly.
20 Jesaja sluit hierdie profetiese verklaring soos volg af: “As Jehovah van die leërs nie vir ons net ’n paar oorlewendes laat oorbly het nie, sou ons net soos Sodom geword het, sou ons soos Gomorra gewees het” (Jesaja1:9).c Jehovah sal Juda uiteindelik te hulp kom teen die mag van Assirië. Anders as Sodom en Gomorra sal Juda nie uitgewis word nie. Dit sal behoue bly.
21. Waarom het Jehovah ‘’n paar laat oorbly’ nadat Babilon Jerusalem vernietig het?
21 Meer as 100 jaar later is Juda weer bedreig. Die volk het nie geleer uit die dissipline wat hulle deur Assirië ontvang het nie. “Hulle het voortdurend die boodskappers van die ware God uitgelag en sy woorde verag en met sy profete die spot gedryf.” Gevolglik het “die woede van Jehovah teen sy volk opgekom . . . , totdat daar geen genesing was nie” (2 Kronieke 36:16). Die Babiloniese koning Nebukadnesar het Juda verower en hierdie keer was daar niks wat “soos ’n hut in ’n wingerd” oorgebly het nie. Selfs Jerusalem is vernietig (2 Kronieke 36:17-21). Jehovah het nogtans ‘’n paar laat oorbly’. Al het Juda 70 jaar in ballingskap verduur, het Jehovah gesorg dat die nasie voortbestaan, en veral ook die Dawidiese geslagslyn, waardeur die beloofde Messias sou kom.
22, 23. Waarom het Jehovah in die eerste eeu ‘’n paar laat oorbly’?
22 In die eerste eeu het Israel voor sy finale krisis as God se verbondsvolk te staan gekom. Toe Jesus hom as die beloofde Messias aangebied het, het die nasie hom verwerp, en as gevolg daarvan het Jehovah hulle verwerp (Matteus 21:43; 23:37-39; Johannes 1:11). Het Jehovah toe nie meer ’n spesiale nasie op aarde gehad nie? Nee. Die apostel Paulus het getoon dat Jesaja 1:9 ’n verdere vervulling gehad het. Hy het uit die Septuagint-vertaling aangehaal en geskryf: “Net soos Jesaja tevore gesê het: ‘As Jehovah van die leërs nie vir ons ’n saad gelaat het nie, sou ons net soos Sodom geword het en sou ons net soos Gomorra gemaak gewees het.’”—Romeine 9:29.
23 Hierdie keer was die oorlewendes die gesalfde Christene, wat in Jesus Christus geloof gestel het. Hulle was om mee te begin gelowige Jode. Later het gelowige nie-Jode bygekom. Saam het hulle ’n nuwe Israel, “die Israel van God”, uitgemaak (Galasiërs 6:16; Romeine 2:29). Hierdie “saad” het die vernietiging van die Joodse stelsel van dinge in 70 G.J. oorleef. Trouens, “die Israel van God” is nou nog met ons. Saam met hulle is daar nou miljoene gelowiges uit die nasies, “’n groot skare, wat geen mens [kan] tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale”.—Openbaring 7:9.
24. Waarop moet almal let as hulle die mensdom se grootste krisis wil oorleef?
24 Binnekort sal die slag van Armageddon oor hierdie wêreld kom (Openbaring 16:14, 16). Hoewel dit ’n groter krisis sal wees as die Assiriërs of die Babiloniërs se aanval op Juda, selfs groter as die Romeine se vernietiging van Judea in 70 G.J., sal daar oorlewendes wees (Openbaring 7:14). Hoe belangrik is dit dus dat almal noukeurig let op Jesaja se woorde aan Juda! Hulle het redding beteken vir getroues wat destyds gelewe het. En hulle kan redding beteken vir gelowiges wat vandag lewe.
[Voetnote]
a In hierdie konteks verwys “Israel” na die tweestammeryk van Juda.
b Jesaja se woorde gee ’n aanduiding van die mediese gebruik in sy dag. Die Bybelnavorser E. H. Plumptre sê: “Om die swerende wond ‘te bedek’ of ‘te druk’, was die proses wat heel eerste gebruik is om van die sug ontslae te raak; daarna, soos in die geval van Hiskia (hfst. xxxviii. 21), is dit ‘verbind’ met ’n pap daarop en dan met die een of ander stimulerende olie of salf, moontlik, soos in Lukas x. 34 beskryf word, is olie en wyn gebruik om die sweer skoon te maak.”
c Die Commentary on the Old Testament deur C. F. Keil en F. Delitzsch sê: “Die profeet se woorde het hier ’n rusplek bereik. Die feit dat dit hier in twee afsonderlike dele verdeel word, word in die teks aangedui deur die ruimte wat tussen verse 9 en 10 gelaat word. Hierdie metode om groter of kleiner afdelings te skei, óf deur ruimte te laat óf deur die reël af te breek, is ouer as die vokaalpunte en aksenttekens en word gebaseer op ’n oeroue tradisie.”
[Prent op bladsy 20]
Anders as Sodom en Gomorra sal Juda nie vir ewig onbewoond bly nie