Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • be studie 12 bl. 121-bl. 123 par. 2
  • Gebare en gesigsuitdrukkings

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gebare en gesigsuitdrukkings
  • Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • Soortgelyke materiaal
  • Entoesiasme
    Leer hoe om beter te lees en onderrig
  • Natuurlik maar respekvol
    Leer hoe om beter te lees en onderrig
  • Hartlikheid en empatie
    Leer hoe om beter te lees en onderrig
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
be studie 12 bl. 121-bl. 123 par. 2

STUDIE 12

Gebare en gesigsuitdrukkings

Wat moet jy doen?

Gebruik bewegings van die hande, die skouers of die hele liggaam om gedagtes, gevoelens of gesindhede uit te druk.

Gebruik die oë en die mond sowel as die posisie van die kop om die gesproke woord te beklemtoon en om gevoelens oor te dra.

Waarom is dit belangrik?

Gebare en gesigsuitdrukkings gee groter visuele en emosionele klem aan wat jy sê. Dit kan jou gevoelens opwek en dus jou stem lewendiger maak.

MENSE van sekere kulture maak makliker gebare as diegene uit ander agtergronde. Maar feitlik almal verander hulle gesigsuitdrukking en gebruik die een of ander vorm van gebare wanneer hulle praat. Dit is waar van persoonlike gesprekke sowel as in toesprake.

Gebare was iets natuurliks vir Jesus en sy vroeë dissipels. Eenkeer het iemand vir Jesus gesê dat sy moeder en sy broers met hom wou praat. Jesus het geantwoord: “Wie is my moeder, en wie is my broers?” Dan voeg die Bybel by: “Hy het sy hand na sy dissipels uitgesteek en gesê: ‘Kyk! My moeder en my broers!’” (Matt. 12:48, 49). Die Bybel toon onder meer in Handelinge 12:17 en 13:16 dat die apostel Petrus en Paulus ook spontaan gebare gemaak het.

Ons dra gedagtes en gevoelens nie net met ons stem oor nie, maar ook deur gebare en gesigsuitdrukkings. As ’n spreker nie goed hiervan gebruik maak nie, kan hy die indruk skep dat hy nie belangstel in wat hy sê nie. Maar wanneer hierdie kommunikasiemiddele op ’n smaakvolle wyse gekombineer word, is ons woorde baie doeltreffender. Selfs wanneer jy oor die telefoon praat, sal gepaste gebare en gesigsuitdrukkings help dat die belangrikheid van jou boodskap sowel as jou persoonlike gevoelens oor wat jy sê, makliker deur jou stem oorgedra word. Gebare en gesigsuitdrukkings is dus nuttig, of jy nou direk met die gehoor praat en of jy lees, of jou gehoor na jou kyk en of hulle in hulle Bybel kyk.

Jou gebare en gesigsuitdrukkings moet nie uit ’n boek geleer wees nie. Jy het nooit geoefen hoe om te lag of verontwaardig te wees nie. Gebare moet ook jou innerlike gevoelens uitdruk. Hoe spontaner jou gebare, hoe beter.

Gebare val in twee algemene kategorieë: beskrywingsgebare en nadruksgebare. Beskrywingsgebare beeld handelinge uit of toon grootte en plek aan. Wanneer jy in die skool aan die gebruik van gebare werk, moet jy nie met net een of twee gebare tevrede wees nie. Probeer om deur jou hele toespraak natuurlike gebare te maak. As jy hiermee sukkel, sal jy dit dalk nuttig vind om na woorde te soek wat rigting, afstand, grootte, plek of relatiewe posisies aandui. Maar in baie gevalle moet jy eenvoudig op jou toespraak konsentreer en nie te besorg wees oor die indruk wat jy skep nie, maar dinge op jou gewone manier sê en doen. Wanneer ’n mens ontspanne is, kom die gebare vanself.

Nadruksgebare druk gevoel en oortuiging uit. Hulle beklemtoon en gee lewe aan gedagtes. Nadruksgebare is belangrik. Maar wees versigtig! Nadruksgebare kan maklik aanwensels word. As jy dieselfde gebaar oor en oor gebruik, sal dit aandag begin trek in plaas daarvan dat dit jou toespraak verbeter. As jou skoolopsiener vir jou sê dat jy hierdie probleem het, kan jy probeer om ’n ruk lank slegs beskrywingsgebare te maak. Begin ná ’n ruk weer nadruksgebare maak.

Om te bepaal tot watter mate jy nadruksgebare moet gebruik en watter soort gebare gepas is, moet jy die gevoelens van jou gehoor in ag neem. Die gehoor sal dalk ongemaklik voel as jy met jou vinger na hulle wys. As ’n man in party kulture sekere gebare maak, soos om sy hand oor sy mond te sit om verbasing te toon, sal dit as vroulik beskou word. In sommige wêrelddele beskou mense dit as onbeskeie as vroue vryelik handgebare maak. In daardie plekke moet veral susters dus goed van gesigsuitdrukkings gebruik maak. En groot gebare voor ’n klein groepie sal in byna enige wêrelddeel as koddig beskou word.

Namate jy ondervinding opdoen en meer op jou gemak raak wanneer jy praat, sal enige nadruksgebare wat jy gebruik, jou innerlike gevoelens op ’n natuurlike wyse uitdruk en jou oortuiging en opregtheid weerspieël. Dit sal jou woorde betekenisvoller maak.

Die uitdrukking op jou gesig. Jou gesig toon dikwels meer as enige ander liggaamsdeel hoe jy werklik voel. Jou oë, die vorm van jou mond, hoe jy jou kop hou, speel alles ’n rol. Sonder dat jy ’n woord sê, kan jou gesig onverskilligheid, misnoeë, verwarring, verbasing of vreugde weerspieël. Wanneer sulke gesigsuitdrukkings met die gesproke woord gekombineer word, verleen dit visuele en emosionele impak aan wat jy sê. Die Skepper het jou gesig met baie spiere ontwerp—altesaam oor die 30. Byna die helfte hiervan word gebruik wanneer jy glimlag.

Hetsy jy op die verhoog is of aan die veldbediening deelneem, jy probeer ’n pragtige boodskap aan mense oordra wat hulle harte kan verbly. ’n Hartlike glimlag bevestig dit. Maar as jou gesig uitdrukkingloos is, sal mense moontlik aan jou opregtheid twyfel.

Verder sê ’n glimlag vir ander dat jy hulle goedgesind is. Dit is veral belangrik in hierdie tyd wanneer mense dikwels bang is vir vreemdelinge. Jou glimlag kan mense help om te ontspan en ontvankliker te wees vir wat jy sê.

PUNTE OM IN GEDAGTE TE HOU

  • Die doeltreffendste gebare en gesigsuitdrukkings is dié wat natuurlik en spontaan kom. Kyk wat ander doen, maar moenie alles wat hulle doen, probeer naboots nie.

  • Bestudeer die materiaal vir jou toespraak totdat jy dit goed ken. Kry die gevoel daarvan, visualiseer dit, en gebruik dan jou stem, jou hande en jou gesig om dit oor te dra.

OEFENINGE: (1) Lees Genesis 6:13-22. Beskryf in jou eie woorde hoe die ark gebou en die diere versamel is. Moet jou nie oor besonderhede kwel nie; vertel net wat jy onthou. Maak beskrywingsgebare terwyl jy dit doen. Vra iemand om te kyk hoe jy dit doen en jou daarop raad te gee. (2) Praat asof jy vir iemand getuig oor God se Koninkryk en die seëninge wat dit sal bring. Maak seker dat jou gesigsuitdrukkings weerspieël hoe jy werklik voel oor wat jy beskryf.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel