Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • be studie 20 bl. 147-bl. 149 par. 2
  • Tekste behoorlik ingelei

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Tekste behoorlik ingelei
  • Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • Soortgelyke materiaal
  • Gebruik van die Bybel aangemoedig
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • Inleiding wek belangstelling
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • Tekste behoorlik ingelei
    Leer hoe om beter te lees en onderrig
  • Leersaam vir jou gehoor
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
Sien nog
Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
be studie 20 bl. 147-bl. 149 par. 2

STUDIE 20

Tekste behoorlik ingelei

Wat moet jy doen?

Berei jou gehoor verstandelik voor voordat jy ’n teks lees.

Waarom is dit belangrik?

’n Doeltreffende inleiding tot ’n teks kan jou gehoor help om die ware betekenis van die teks te verstaan.

DIE Skrif is die grondslag van die onderrigting wat by ons gemeentelike vergaderinge gegee word. Bybeltekste is ook die fokus van ons gesprekke in die veldbediening. Maar die bydrae wat dit tot ons besprekings lewer, hang deels af van hoe doeltreffend dit ingelei word.

Meer is nodig as om net na die teks te verwys en iemand te nooi om dit saam met jou te lees. Wanneer jy ’n teks inlei, moet jy twee dinge probeer bereik: (1) Wek afwagting en (2) vestig die aandag op die rede waarom jy die teks gebruik. Hierdie oogmerke kan op verskillende maniere bereik word.

Stel ’n vraag. Dit is baie doeltreffend as jou gehoor nie reeds die antwoord ken nie. Probeer die vraag so stel dat dit mense laat dink. Jesus het dit gedoen. Toe die Fariseërs hom in die tempel genader het en sy begrip van die Skrif in die openbaar getoets het, het Jesus hulle gevra: “Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is hy?” Hulle het geantwoord: “Dawid s’n.” Daarna het Jesus gevra: “Hoe is dit dan dat Dawid hom deur inspirasie ‘Here’ noem”? En toe haal hy Psalm 110:1 aan. Die Fariseërs is die swye opgelê. Maar die skare het dit geniet om na Jesus te luister.—Matt. 22:41-46.

In die veldbediening kan jy inleidingsvrae soos die volgende gebruik: “Ek en jy het name. Het God ’n naam? Ons kan die antwoord in Psalm 83:18 vind.” “Sal daar ooit een regering vir die hele mensdom wees? Kyk wat sê Daniël 2:44.” “Praat die Bybel werklik van toestande wat in ons dag bestaan? Vergelyk wat 2 Timoteus 3:1-5 sê met toestande waarvan jy weet.” “Sal lyding en die dood ooit tot ’n einde kom? Die Bybel se antwoord kan in Openbaring 21:4, 5 gevind word.”

In ’n toespraak kan die oordeelkundige gebruik van vrae om tekste in te lei jou gehoor help om tekste in ’n nuwe lig te sien, selfs dié wat hulle ken. Maar sal hulle dit doen? Dit sal daarvan afhang of die vrae wat jy stel, werklik vir hulle van belang is. Selfs wanneer die onderwerp vir die gehoor van belang is, sal hulle gedagtes moontlik begin dwaal wanneer jy tekste lees wat hulle al dikwels gehoor het. Om te voorkom dat dit gebeur, moet jy goed genoeg oor die saak nadink om jou aanbieding interessant te maak.

Noem ’n probleem. Jy kan ’n probleem noem en dan na ’n teks verwys wat verband hou met die oplossing. Moenie die gehoor meer laat verwag as wat hulle sal kry nie. Dikwels gee ’n teks net ’n deel van die oplossing. Maar jy kan die gehoor vra om, terwyl jy die teks lees, te dink aan watter leiding dit ons gee om die situasie die hoof te bied.

Jy kan eweneens ’n beginsel van godvrugtige gedrag noem en dan ’n Bybelverslag gebruik om toe te lig waarom dit verstandig is om dit te volg. As ’n teks twee (of dalk meer) spesifieke punte bevat wat verband hou met wat bespreek word, vra party sprekers die gehoor om daarvoor op te let. As dit lyk of ’n probleem te moeilik vir ’n sekere gehoor is, kan jy hulle gedagtes prikkel deur verskeie moontlikhede te noem en dan die antwoord gee deur middel van die teks en die toepassing daarvan.

Haal die Bybel as die gesag aan. As jy reeds belangstelling in jou onderwerp gewek het en een of meer beskouings oor die een of ander aspek daarvan genoem het, kan jy ’n teks inlei deur eenvoudig te sê: “Let op wat God se Woord oor hierdie punt sê.” Dit toon waarom die materiaal wat jy gaan lees, gesaghebbend is.

Jehovah het manne soos Johannes, Lukas, Paulus en Petrus gebruik om dele van die Bybel te skryf. Maar hulle was slegs skrywers; Jehovah is die Outeur. Veral wanneer jy met mense praat wat nie studente van die Heilige Skrif is nie, sal ’n inleiding soos “Petrus het geskryf” of “Paulus het gesê” moontlik nie dieselfde trefkrag hê as ’n inleiding wat die teks as die woord van God identifiseer nie. Dit is opmerkenswaardig dat Jehovah Jeremia in sekere gevalle beveel het om verklarings in te lei deur te sê: “Hoor die woord van Jehovah” (Jer. 7:2; 17:20; 19:3; 22:2). Of ons nou Jehovah se naam gebruik wanneer ons tekste inlei of nie, ons moet voor die einde van ons gesprek probeer toon dat die gedagtes wat in die Bybel opgeteken is, sy woord is.

Neem die konteks in ag. Jy moet die konteks in gedagte hou wanneer jy besluit hoe om ’n teks in te lei. In party gevalle sal jy eenvoudig sê wat die konteks is; maar die konteks kan op ander maniere ’n uitwerking hê op wat jy sê. Sou jy byvoorbeeld die woorde van die godvresende man Job op dieselfde manier inlei as die woorde van een van sy valse vertroosters? Die boek Handelinge is deur Lukas geskryf, maar hy haal onder meer Jakobus, Petrus, Paulus, Filippus, Stefanus en engele aan, sowel as Gamaliël en ander Jode wat nie Christene was nie. Aan wie sal jy die teks toeskryf wat jy aanhaal? Onthou byvoorbeeld dat nie al die psalms deur Dawid gekomponeer is en dat Salomo nie die hele boek Spreuke geskryf het nie. Dit is ook nuttig om te weet tot wie die Bybelskrywer se woorde gerig is en watter algemene onderwerp bespreek is.

Maak gebruik van agtergrondinligting. Dit is veral doeltreffend as jy kan toon dat omstandighede wat geheers het toe die Bybelverslag opgeteken is, ooreenkom met dié wat jy bespreek. In ander gevalle is agtergrondinligting nodig om ’n spesifieke teks te kan verstaan. As jy byvoorbeeld Hebreërs 9:12, 24 in ’n toespraak oor die losprys gebruik, sal jy dit dalk nodig vind om eers die teks te lees nadat jy ’n kort verduideliking gegee het van die binneste vertrek van die tabernakel, wat volgens die vers die plek afbeeld waar Jesus ingegaan het toe hy na die hemel opgevaar het. Maar moenie soveel agtergrondinligting insluit dat dit die teks wat jy inlei, oorskadu nie.

As jy die manier wil verbeter waarop jy tekste inlei, kan jy ontleed wat ervare sprekers doen. Let op die verskillende metodes wat hulle gebruik. Ontleed die doeltreffendheid van hierdie metodes. Wanneer jy jou eie toesprake voorberei, moet jy die sleuteltekste identifiseer en goed nadink oor wat elke teks moet bereik. Berei elkeen se inleiding goed voor sodat dit sy doel op die doeltreffendste manier sal bereik. Later kan jy dit doen met al die tekste wat jy gebruik. Namate hierdie aspek van jou aanbieding verbeter, sal jy groter aandag op die Woord van God vestig.

HOE OM DIT TE DOEN

  • Wanneer jy ’n metode kies wat belangstelling sal wek, moet jy in ag neem wat jou gehoor reeds weet en hoe hulle oor die onderwerp voel.

  • Maak seker dat jy weet wat elke teks moet bereik, en laat jou inleidingskommentare dit weerspieël.

OEFENING: Kies ’n teks wat jy dink jy goed in julle gebied kan gebruik. Berei voor (1) watter vraag of probleem jy sal gebruik om afwagting by die huisbewoner te wek en (2) hoe jy die aandag sal vestig op die rede waarom jy die teks gelees het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel