STUDIE 28
Geselstrant
MENSE voel gewoonlik op hulle gemak wanneer hulle met vriende gesels. Hulle druk hulleself spontaan uit. Party persone is opgewek; ander is meer teruggetrokke. Maar die natuurlikheid van sulke gesprekke is iets aangenaams.
Wanneer ’n mens egter met ’n vreemdeling praat, is dit nie gepas om te familiêr of informeel te wees nie. Trouens, in sommige kulture begin alle gesprekke met vreemdelinge op ’n baie formele manier. Eers nadat gepaste respek getoon is, kan ’n mens dalk op oordeelkundige wyse minder formele taal gebruik en meer op ’n geselstrant praat.
Jy moet ook versigtig wees wanneer jy van die verhoog af praat. As ’n mens te informeel is, doen dit afbreuk aan die waardigheid van ’n Christelike vergadering en van die erns van wat gesê word. In party tale moet sekere aanspreekvorme gebruik word wanneer ouer persone, ’n onderwyser, ’n amptenaar of ’n ouer aangespreek word. (Let op watter aanspreekvorme in Handelinge 7:2 en 13:16 gebruik is.) Ander aanspreekvorme word gebruik wanneer ’n mens met jou huweliksmaat of ’n goeie vriend praat. Hoewel ons manier van praat op die verhoog nie onnodig formeel moet wees nie, moet dit respek toon.
Maar daar is faktore wat ’n mens se voordrag onnodig styf of formeel kan laat klink. Een hiervan is sinskonstruksie, of frasering. ’n Probleem ontstaan wanneer ’n spreker uitdrukkings probeer herhaal presies soos dit geskryf is. Die geskrewe woord verskil oor die algemeen heelwat van die gesproke woord. ’n Mens gebruik nou wel gewoonlik gepubliseerde materiaal wanneer jy navorsing doen ter voorbereiding van ’n toespraak. Die toespraak is moontlik op ’n gedrukte skets gebaseer. Maar as jy gedagtes uitdruk presies soos dit geskryf staan of tydens jou toespraak direk van ’n gepubliseerde skets af lees, sal dit heel moontlik nie klink of jy ’n gesprek voer nie. As jy ’n geselstrant wil behou, moet jy gedagtes in jou eie woorde uitdruk en ingewikkelde sinskonstruksies vermy.
Nog ’n faktor is ’n wisseling in tempo. Spraak wat effens styf en formeel is, kan dikwels toegeskryf word aan die feit dat woorde te eweredig gespasieer word en dat die tempo te konstant is. In daaglikse gesprekke is daar tempowisselinge en baie pouses van verskillende lengtes.
Wanneer jy met ’n groot gehoor praat, moet jy natuurlik geselstrant met groter stemsterkte, intensiteit en geesdrif kombineer sodat jy hulle aandag sal boei.
As jy ’n gepaste geselstrant in die bediening wil hê, moet jy ’n gewoonte daarvan maak om elke dag goeie taal te gebruik. Dit beteken nie dat jy hooggeleerd moet wees nie. Maar dit is goed om te leer om so te praat dat ander met respek sal luister na wat jy sê. Kyk of jy, met dit in gedagte, in jou daaglikse gesprekke aan die volgende punte moet werk.
Vermy ongrammatikale uitdrukkings of uitdrukkings wat jou met mense identifiseer wie se lewenswyse in stryd met Goddelike standaarde is. Vermy growwe of vulgêre taal, in ooreenstemming met die raad in Kolossense 3:8. Daar is egter geen beswaar teen omgangstaal nie. Omgangstaal is informeel, maar dit bots nie met algemeen aanvaarde taalgebruik nie.
Moenie dieselfde uitdrukkings en frases herhaaldelik gebruik om elke gedagte wat jy het, te probeer oordra nie. Leer om woorde te gebruik wat duidelik sê wat jy bedoel.
Vermy onnodige herhalings deur eers goed te dink oor wat jy wil sê; begin dan praat.
Moenie goeie gedagtes onder te veel woorde toegooi nie. Maak ’n gewoonte daarvan om die punt wat onthou moet word, duidelik in ’n eenvoudige sin uit te druk.
Praat op ’n respekvolle manier met ander.