STUDIE 44
Doeltreffende gebruik van vrae
OMDAT vrae ’n reaksie vereis—hetsy mondeling of verstandelik—help dit om jou gehoor by die bespreking te betrek. Vrae kan jou help om gesprekke te begin en om ’n stimulerende uitwisseling van gedagtes te geniet. As ’n spreker en ’n onderrigter kan jy vrae gebruik om belangstelling te wek, om iemand te help om oor ’n onderwerp te redeneer of om wat jy sê, te beklemtoon. Wanneer jy vrae goed gebruik, spoor jy ander aan om aktief te dink en nie net passief te luister nie. Hou ’n spesifieke doel in gedagte, en stel vrae op ’n manier wat jou sal help om dit te bereik.
Om gesprekke aan te moedig. Wanneer jy aan die veldbediening deelneem, moet jy soek na geleenthede om mense te nooi om hulle mening uit te spreek as hulle bereid is om dit te doen.
Baie Getuies begin interessante besprekings deur eenvoudig te vra: “Het jy al ooit gewonder . . . ?” Wanneer hulle ’n vraag stel wat baie mense werklik kwel, kan hulle amper seker wees dat hulle ’n aangename tyd in die veldbediening sal hê. Al handel die vraag oor iets waaraan die ander persoon nog nooit gedink het nie, kan dit sy nuuskierigheid prikkel. ’n Groot verskeidenheid sake kan ingelei word deur iets te sê soos: “Wat dink jy . . . ?”, “Hoe voel jy . . . ?” en “Glo jy . . . ?”
Toe die evangeliedienaar Filippus ’n Etiopiese hofdienaar genader het wat hardop uit die profesie van Jesaja gelees het, het Filippus eenvoudig gevra: “Verstaan u werklik wat u lees?” (Hand. 8:30). Hierdie vraag het Filippus die geleentheid gegee om waarhede aangaande Jesus Christus te verduidelik. Party hedendaagse Getuies het met behulp van ’n soortgelyke vraag mense gevind wat werklik gesmag het na ’n duidelike begrip van Bybelwaarheid.
Baie mense sal meer geneig wees om na jou te luister as hulle die geleentheid gehad het om hulle mening te lug. Luister aandagtig nadat jy ’n vraag gestel het. Wees vriendelik wanneer jy op die persoon se kommentare reageer, nie krities nie. Prys die persoon wanneer jy dit opreg kan doen. By een geleentheid, nadat ’n skrifgeleerde “intelligent geantwoord” het, het Jesus hom geprys en gesê: “Jy is nie ver van die koninkryk van God af nie” (Mark. 12:34). Al stem jy nie saam met die ander persoon se beskouing nie, kan jy hom bedank vir die feit dat hy hom uitgespreek het. Wat hy gesê het, kan jou van ’n gesindheid bewus maak wat jy in ag moet neem wanneer jy Bybelwaarheid aan hom meedeel.
Om belangrike gedagtes in te lei. Wanneer jy met ’n groep of met ’n individu praat, moet jy vrae probeer gebruik om belangrike gedagtes in te lei. Maak seker dat jou vrae oor sake handel waarin jou gehoor werklik belangstel. Jy kan ook interessante vrae gebruik wat belangstelling wek omdat die antwoord nie voor die hand liggend is nie. As jy kortliks pouseer nadat jy ’n vraag gestel het, sal jou gehoor waarskynlik met groter belangstelling luister na wat volg.
By een geleentheid het die profeet Miga ’n aantal vrae gestel. Nadat die profeet gevra het wat God van sy aanbidders verwag, het hy nog vier vrae gestel, en ’n moontlike antwoord by elkeen ingesluit. Al daardie vrae help om lesers voor te berei vir die insiggewende antwoorde waarmee hy daardie deel van sy bespreking afgesluit het (Miga 6:6-8). Kan jy iets soortgelyks doen wanneer jy onderrig? Stel dit gerus op die proef.
Om oor ’n onderwerp te redeneer. Vrae kan gebruik word om ander te help om die logika van ’n argument te volg. Jehovah het dit gedoen toe hy ’n ernstige uitspraak teen Israel gedoen het, soos in Maleagi 1:2-10 opgeteken staan. Hy het eers vir hulle gesê: “Ek het julle liefgehad.” Hulle het nie daardie liefde waardeer nie, en daarom het hy gevra: “Was Esau nie die broer van Jakob nie?” Daarna het Jehovah na die verlate toestand van Edom verwys as ’n bewys dat God daardie nasie, weens hulle goddeloosheid, nie liefgehad het nie. Hy het toe illustrasies gebruik wat hy met vrae afgewissel het om te beklemtoon dat Israel nie op ’n gepaste wyse op sy liefde gereageer het nie. Party van die vrae is gestel asof die ontroue priesters dit vra. Ander is vrae wat Jehovah die priesters gevra het. Die dialoog is roerend en boeiend; die logika is onweerlegbaar; die boodskap is onvergeetlik.
Party sprekers maak op ’n soortgelyke manier goed gebruik van vrae. Hoewel daar nie van die gehoor verwag word om hardop te antwoord nie, reageer hulle verstandelik en is dit asof hulle aan ’n gesprek deelneem.
Wanneer ons Bybelstudies hou, gebruik ons ’n metode wat deelname van die student vereis. Dit is natuurlik beter as die student nie die gedrukte antwoord net aflees nie. Gebruik bykomende vrae op ’n vriendelike manier om met die student te redeneer. Moedig hom by sleutelgedagtes aan om sy antwoord op die Bybel te baseer. Jy kan ook vra: “Hoe sluit die onderwerp wat ons bespreek, aan by hierdie ander punt wat ons bestudeer het? Waarom is dit belangrik? Hoe behoort dit ons lewe te raak?” Dit is beter om so te werk te gaan as om jou eie oortuigings uit te spreek of om self ’n lang verduideliking te gee. So help jy die student om sy “denkvermoë” te gebruik om God te aanbid.—Rom. 12:1.
Wees geduldig as ’n student ’n sekere gedagte nie verstaan nie. Hy probeer dalk wat jy sê, vergelyk met wat hy al baie jare lank glo. Dit kan nuttig wees om die onderwerp uit ’n ander hoek te benader. Maar soms moet ’n mens ’n baie eenvoudige redenasie gebruik. Maak vryelik gebruik van die Skrif. Gebruik illustrasies. Kombineer dit met eenvoudige vrae wat die persoon oor die bewyse sal laat redeneer.
Om mense hulle innerlike gevoelens te laat uitspreek. Wanneer mense vrae beantwoord, sê hulle nie altyd hoe hulle werklik voel nie. Hulle gee dalk net die antwoorde wat hulle dink jy wil hê. Onderskeidingsvermoë is nodig (Spr. 20:5). Jy kan soos Jesus vra: “Glo jy dit?”—Joh. 11:26.
Toe baie van Jesus se dissipels aan sy woorde aanstoot geneem en hom verlaat het, het Jesus sy apostels gevra hoe hulle voel. Hy het gevra: “Julle wil nie miskien ook gaan nie?” Petrus het hulle gevoelens in woorde uitgedruk en gesê: “Here, na wie toe sal ons weggaan? U het woorde van die ewige lewe; en ons het geglo en te wete gekom dat u die Heilige van God is” (Joh. 6:67-69). By ’n ander geleentheid het Jesus sy dissipels gevra: “Wie sê die mense is die Seun van die mens?” Daarna het hy ’n vraag gestel wat hulle die geleentheid gegee het om te sê wat in hulle harte was. “Maar julle, wie sê julle is ek?” Hierop het Petrus gesê: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”—Matt. 16:13-16.
Wanneer jy ’n Bybelstudie hou, sal jy dit dalk nuttig vind om sekere kwessies ook so te benader. Jy kan vra: “Hoe beskou jou klasmaats (of werksmaats) hierdie saak?” Dan kan jy vra: “Hoe voel jy daaroor?” Wanneer jy weet hoe iemand werklik voel, is dit vir jou as onderrigter moontlik om hom die beste hulp te gee.
Om te beklemtoon. Vrae kan ook gebruik word om gedagtes te beklemtoon. Die apostel Paulus het dit gedoen, soos in Romeine 8:31, 32 opgeteken staan: “As God vir ons is, wie sal teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar hom vir ons almal oorgelewer het, waarom sal hy ons dan nie ook saam met hom alle ander dinge goedgunstig gee nie?” Let op dat die vraag in elke geval voortbou op die deel wat dit onmiddellik voorafgaan.
Nadat die profeet Jesaja Jehovah se oordeel oor die koning van Babilon opgeteken het, het hy sy sterk oortuiging uitgespreek deur by te voeg: “Jehovah van die leërs het dit besluit, en wie kan dit verbreek? En sý hand is uitgesteek, en wie kan dit afwend?” (Jes. 14:27). Bloot deur die manier waarop hierdie vrae gestel is, toon dit dat die gedagte wat uitgespreek word, nie ontken kan word nie. Geen antwoord word verwag nie.
Om verkeerde denke bloot te lê. Weldeurdagte vrae kan ook goed gebruik word om verkeerde denke bloot te lê. Voordat Jesus ’n man genees het, het hy die Fariseërs en ’n paar kenners van die Wet gevra: “Is dit op die sabbat geoorloof om te genees of nie?” Nadat hy die man genees het, het hy nog ’n vraag gestel: “Wie van julle sal, as sy seun of bul in ’n put val, hom nie onmiddellik op die sabbatdag uittrek nie?” (Luk. 14:1-6). Geen antwoord is verwag of gegee nie. Die vrae het hulle verkeerde denke blootgelê.
Soms kan verkeerde denke selfs by ware Christene wortelskiet. Sommige in eerste-eeuse Korinte het hulle broers hof toe geneem om probleme op te los wat hulle onder mekaar moes kon uitstryk. Hoe het die apostel Paulus die saak hanteer? Hy het ’n aantal pertinente vrae gevra om hulle denke reg te stel.—1 Kor. 6:1-8.
Met oefening kan jy leer om vrae goed te gebruik. Maar onthou om respekvol te wees, veral wanneer jy met ouer mense, mense wat jy nie goed ken nie en diegene in gesagsposisies praat. Gebruik vrae om Bybelwaarheid op ’n manier aan te bied wat byval vind.