Jongmense—Wat gaan julle met julle lewe doen?
“EK WIL net die beste uit die lewe hê.” Dit is wat ’n tienermeisie gesê het. Jy wil ongetwyfeld dieselfde hê. Maar presies hoe kry ’n mens die “beste” uit die lewe? Die media en jou portuurs, moontlik selfs jou onderwysers, sê dalk dat jy dit kan doen deur baie geld te verdien en ’n goeie loopbaan met baie prestige te hê—as jy ’n sukses is!
Die Bybel waarsku jongmense egter dat die nastrewing van materiële sukses niks meer as “’n gejaag na die wind” is nie (Prediker 4:4). Om maar een ding te noem, min jongmense kry dit reg om ryk en beroemd te word. Dié wat dit wel regkry, vind dikwels dat hulle bitterlik ontnugter is daardeur. “Dis soos ’n leë boks”, sê ’n Britse jeugdige wat ’n akademiese loopbaan met baie prestige nagestreef het. “Wanneer jy daarin kyk, is daar niks nie.” ’n Werk kan nou wel soms rykdom en erkenning meebring. Maar dit kan nie jou “geestelike behoefte” bevredig nie (Matteus 5:3). Buitendien waarsku 1 Johannes 2:17 dat ‘die wêreld verbygaan’. Selfs al behaal jy sukses in hierdie wêreld, sal dit van korte duur wees.
Prediker 12:1 spoor jongmense dus aan: “Dink dan nou aan jou Grootse Skepper in die dae van jou jonkheid.” Ja, die beste manier waarop jy jou lewe kan gebruik, is in die diens van Jehovah God. Maar jy moet eers aan die vereistes voldoen om in God se diens te wees. Hoe kan jy dit doen? En wat behels ’n lewe van diens aan God?
Voldoen aan die vereistes vir ’n Getuie van Jehovah
In die eerste plek moet jy ’n begeerte aankweek om God te dien—daardie begeerte kom nie vanself nie, al is jou ouers ook Christene. Jy moet jou eie verhouding met Jehovah opbou. “Gebed help ’n mens om jou eie verhouding met Jehovah te hê”, sê ’n tienermeisie.—Psalm 62:8; Jakobus 4:8.
Romeine 12:2 vestig die aandag op nog ’n stap wat jy moet neem. Dit sê: “Maak [seker] wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.” Het jy al ooit gevind dat jy twyfel oor party van die dinge wat jy geleer is? Volg dan die Bybel se raad en ‘maak seker’ dat hierdie dinge waar is! Doen jou eie navorsing. Lees die Bybel en Bybelpublikasies. Maar om van God te leer, is nie net ’n intellektuele oefening nie. Neem die tyd om te peins oor wat jy lees sodat dit in jou figuurlike hart kan insink. Dit sal jou liefde vir God laat toeneem.—Psalm 1:2, 3.
Probeer dan op ’n informele manier vir ander vertel wat jy leer, dalk vir jou skoolmaats. Die volgende stap is om van deur tot deur te getuig. Jy sal miskien af en toe ’n skoolmaat ontmoet terwyl jy die predikingswerk doen, en aanvanklik sal dit jou dalk ontsenu. Maar die Bybel spoor ons aan om ons ‘nie vir die goeie nuus te skaam nie’ (Romeine 1:16). Jy verkondig ’n boodskap van lewe en hoop! Waarom jou daarvoor skaam?
As jou ouers Christene is, gaan jy moontlik reeds saam met hulle in hierdie werk uit. Maar kan jy meer doen as om net stil by die deur te staan of bloot tydskrifte en traktate aan te bied? Kan jy self by die deur praat en die Bybel gebruik om vir die huisbewoner te getuig? Indien nie, kan jy gerus jou ouers of ’n volwasse lid van die gemeente vra om jou te help. Stel jou dit ten doel om aan die vereistes te voldoen om ’n ongedoopte verkondiger van die goeie nuus te wees!
Mettertyd sal jy voel dat jy jou graag wil toewy—dit wil sê om aan God ’n gelofte te doen dat jy hom voortaan sal dien (Romeine 12:1). Maar toewyding is nie bloot ’n private aangeleentheid nie. God vereis van almal om “openbare bekendmaking tot redding” te doen (Romeine 10:10). By jou doop doen jy eers ’n mondelinge bekendmaking van jou geloof. Daarna word jy in water gedoop (Matteus 28:19, 20). Doop is ongetwyfeld ’n ernstige stap. Maar moenie aarsel omdat jy voel dat jy dalk op die een of ander manier sal faal nie. As jy op God staatmaak vir krag, sal hy jou “die krag wat bo die normale is”, gee om jou te help om standvastig te bly.—2 Korintiërs 4:7; 1 Petrus 5:10.
Wanneer jy gedoop word, word jy een van Jehovah se Getuies (Jesaja 43:10). Dit behoort ’n baie groot uitwerking te hê op hoe jy jou lewe gaan gebruik. Toewyding behels dat jy ‘jouself verloën’ (Matteus 16:24). Jy sal moontlik van jou persoonlike doelwitte en ambisies laat vaar en ‘eers die koninkryk van God soek’ (Matteus 6:33). Toewyding en doop skep baie geleenthede om dit te doen. Kom ons kyk na ’n paar van hulle.
Geleenthede om God voltyds te dien
● Die pionierdiens is een van hierdie geleenthede. ’n Pionierverkondiger is ’n voorbeeldige gedoopte Christen wat minstens 70 uur elke maand aan die verkondiging van die goeie nuus bestee. As jy op dié manier meer tyd in die velddiens deurbring, sal dit jou help om jou predikings- en onderrigvermoëns te ontwikkel. Baie pioniers het die vreugde ondervind wat daarmee gepaardgaan om Bybelstudente te help om gedoopte Getuies te word. Watter sekulêre werk kan ooit soveel opwinding en bevrediging verskaf?
Die meeste pioniers doen deeltydse sekulêre werk om hulle lewenskoste te dek. Baie beplan vooruit vir hierdie verantwoordelikheid deur ’n ambag op skool of by hulle ouers te leer. As jy en jou ouers dink dat dit voordelig sal wees as jy ná hoërskool verdere opleiding kry, moet jy seker maak dat jou beweegrede nie is om baie geld te maak nie, maar om jou in die bediening te onderhou en sodat jy moontlik as ’n voltydse bedienaar kan dien.
’n Pionier se lewe draai egter nie om sy sekulêre werk nie, maar om sy bediening—om ander te help om die lewe te verkry! Stel gerus die pionierdiens as ’n persoonlike doelwit. Die pionierdiens lei dikwels tot ander voorregte. Party pioniers trek byvoorbeeld na gebiede waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Ander leer ’n vreemde taal en dien in ’n plaaslike anderstalige gemeente of selfs in ’n ander land. Ja, die pionierdiens is ’n bevredigende lewenswyse!
● Skool vir Koninkrykspredikers is nog ’n geleentheid om aan die voltydse diens deel te neem. Hierdie skool, wat twee maande duur, is bedoel om ervare pioniers op te lei wat bereid is om hulle tuiste te verlaat sodat hulle kan dien waar daar ook al meer hulp nodig is. Hulle sê as ’t ware: “Hier is ek! Stuur my” in navolging van die grootste Koninkryksprediker wat nog ooit op die aarde gedien het, Jesus Christus (Jesaja 6:8; Johannes 7:29). Om ver van die huis af te trek, behels dalk dat iemand by ’n eenvoudiger lewenswyse moet aanpas. Die kultuur, klimaat en kos is dalk heeltemal anders as waaraan ’n mens gewoond is. Dit is dalk selfs nodig om ’n nuwe taal te leer. Hierdie skool help ongetroude broers en susters en getroude paartjies tussen die ouderdomme van 23 en 65 om die geestelike eienskappe aan te kweek wat hulle in hulle toewysing nodig sal hê, asook die vaardighede wat hulle in staat sal stel om in groter mate deur Jehovah en sy organisasie gebruik te word.
● Betheldiens behels diens as ’n vrywilliger by een van die takkantore van Jehovah se Getuies. Party lede van die Bethelgesin is direk betrokke by die druk van Bybellektuur. Ander kry toewysings wat ondersteuningsdienste lewer, soos die instandhouding van geboue en toerusting of om in die fisiese behoeftes van die Bethelgesin te voorsien. Alle toewysings is heilige voorregte van diens aan Jehovah. Daarbenewens verskaf dit diegene by Bethel ook vreugde om te weet dat baie van hulle broers regoor die wêreld baat vind by wat hulle ook al doen.
Soms word broers met spesiale vaardighede genooi om by Bethel te dien. Die meeste broers ontvang egter hulle opleiding nadat hulle daar aankom. Persone by Bethel dien nie vir materiële gewin nie, maar is tevrede met die voorsienings wat gemaak word vir voedsel, verblyf en ’n beskeie vergoeding om persoonlike uitgawes te dek. Een jong lid van die Bethelgesin beskryf sy diens soos volg: “Dis fantasties! Die roetine is ’n uitdaging, maar ek het in die tyd dat ek hier dien al baie seëninge ontvang.”
● Konstruksiediens stel ’n mens in staat om met die bou van takfasiliteite en Koninkryksale te help. Konstruksieknegte, soos hulle genoem word, help met hierdie bouwerk. Dit is ’n vorm van heilige diens, soortgelyk aan die werk van diegene wat Salomo se tempel gebou het (1 Konings 8:13-18). Die reëlings om na die konstruksieknegte om te sien, is soortgelyk aan dié vir die Bethelgesin. Wat ’n voorreg het hierdie broers en susters tog om aan hierdie werk deel te neem tot lof van Jehovah!
Dien Jehovah heelhartig
Daar is geen beter manier waarop jy jou lewe kan gebruik as om Jehovah te dien nie. Oorweeg dit ernstig om voltydse diens aan God jou persoonlike doelwit te maak. Bespreek voltydse diens met jou ouers, die plaaslike ouer manne en die kringopsiener. Normal;As jy in Betheldiens of die Skool vir Koninkrykspredikers belangstel, kan jy die vergaderinge vir voornemende aansoekers bywoon wat by streekbyeenkomste gehou word.
Nie almal voldoen weliswaar aan die vereistes of kan voltyds dien nie. Partykeer beperk gesondheidsprobleme, finansiële situasies en gesinsverantwoordelikhede hoeveel ’n mens kan doen. Maar alle toegewyde Christene moet gehoor gee aan die Bybel se gebod: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Matteus 22:37). Jehovah vereis dat jy jou bes doen na gelang van jou omstandighede. Ongeag wat jou situasie dus is, maak diens aan Jehovah die middelpunt van jou lewe. Stel realistiese teokratiese doelwitte. Ja, ‘dink aan jou Grootse Skepper in die dae van jou jonkheid’—en jy sal vir ewig geseën word omdat jy dit gedoen het!
Tensy anders aangedui, kom alle Skrifaanhalings uit die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif.