Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • kp bl. 28-31
  • ‘Bo alles moet julle intense liefde hê’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Bo alles moet julle intense liefde hê’
  • Hou aan waak!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Intense liefde”—Wat is dit?
  • Waarom moet ons mekaar liefhê?
  • Hoe om te toon dat jy ander liefhet
  • “Die einde van alles het naby gekom”
  • “Hou aan om liefde te betoon”
    Kom nader aan Jehovah
  • Hoe om ons liefde vir mekaar sterk te hou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Word opgebou deur liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Die grootste hiervan is die liefde”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Hou aan waak!
kp bl. 28-31

‘Bo alles moet julle intense liefde hê’

“Die einde van alles het naby gekom. . . . Bo alles moet julle intense liefde vir mekaar hê.”—1 PETRUS 4:7, 8.

JESUS het geweet dat sy laaste paar uur saam met sy apostels kosbaar was. Hy het geweet wat vir hulle voorgelê het. Hulle het ’n groot werk gehad om te doen, maar hulle sou, net soos hy, gehaat en vervolg word (Johannes 15:18-20). Gedurende daardie laaste nag saam met hulle het hy hulle meer as een keer daaraan herinner dat hulle “mekaar moet liefhê”.—Johannes 13:34, 35; 15:12, 13, 17.

2 Die apostel Petrus, wat daardie nag teenwoordig was, het die punt gesnap. Jare later, toe hy kort voor die vernietiging van Jerusalem ’n brief geskryf het, het Petrus die belangrikheid van liefde beklemtoon. Hy het Christene gemaan: “Die einde van alles het naby gekom. . . . Bo alles moet julle intense liefde vir mekaar hê” (1 Petrus 4:7, 8). Petrus se woorde is baie betekenisvol vir diegene wat gedurende “die laaste dae” van hierdie teenswoordige stelsel van dinge lewe (2 Timoteus 3:1). Wat is “intense liefde”? Waarom is dit belangrik dat ons hierdie soort liefde vir ander moet hê? En hoe kan ons toon dat ons dit het?

“Intense liefde”—Wat is dit?

3 Baie mense dink aan liefde as ’n gevoel wat natuurlik moet ontstaan. Maar Petrus het nie van sommer enige soort liefde gepraat nie; hy het van die edelste vorm van liefde gepraat. Die woord “liefde” in 1 Petrus 4:8 is ’n vertaling van die Griekse woord a·gaʹpe. Hierdie term verwys na onselfsugtige liefde wat deur beginsels gerig word. Een naslaanwerk sê: “Agape-liefde staan onder jou beheer omdat dit nie allereers ’n emosie is nie, maar ’n wilsbesluit wat tot optrede lei.” Omdat ons ’n oorgeërfde neiging tot selfsug het, het ons herinneringe nodig om liefde aan mekaar te betoon en dit te doen op maniere wat met goddelike beginsels ooreenstem.—Genesis 8:21; Romeine 5:12.

4 Dit wil nie sê dat ons mekaar bloot uit pligsgevoel moet liefhê nie. A·gaʹpe is nie sonder hartlikheid of gevoel nie. Petrus het gesê dat ons ‘intense [letterlik, “uitgestrekte”] liefde vir mekaar moet hê’ (Kingdom Interlinear).a Hierdie soort liefde verg nogtans inspanning. Een geleerde sê aangaande die Griekse woord wat met “intense” vertaal word: “Dit skep die beeld van ’n atleet se gespanne spiere terwyl hy aan die einde van ’n wedloop sy laaste greintjie krag deur wilskrag inspan.”

5 Ons liefde moet dus nie beperk word tot net ’n paar mense of tot dinge wat vir ons maklik is om te doen nie. Christelike liefde vereis dat ons ons hart “uitstrek” en liefde betoon selfs wanneer dit ’n uitdaging is om dit te doen (2 Korintiërs 6:11-13). Dit is duidelik dat hierdie soort liefde iets is wat ons moet aankweek en waarop ons ons moet toelê, net soos ’n atleet moet oefen en hom daarop moet toelê om sy vaardighede te verbeter. Dit is noodsaaklik dat ons sulke liefde vir mekaar moet hê. Waarom? Daar is ten minste drie redes.

Waarom moet ons mekaar liefhê?

6 Eerstens, “want die liefde kom van God” (1 Johannes 4:7). Jehovah, die Bron van hierdie aantreklike eienskap, het ons eerste liefgehad. Die apostel Johannes sê: “Hierdeur is die liefde van God in ons geval openbaar gemaak, want God het sy enigverwekte Seun in die wêreld uitgestuur sodat ons deur hom die lewe kan verkry” (1 Johannes 4:9). God se Seun is “uitgestuur” deurdat hy ’n mens geword het, sy bediening uitgevoer het en aan ’n folterpaal gesterf het—dit alles ‘sodat ons die lewe kan verkry’. Hoe moet ons op hierdie allergrootste blyk van God se liefde reageer? Johannes sê: “As dit is hoe God ons liefgehad het, dan staan ons ook onder verpligting om mekaar lief te hê” (1 Johannes 4:11). Let op dat Johannes skryf: “As dit is hoe God ons liefgehad het”—nie net vir jou nie, maar vir ons. Die punt is duidelik: As God ons medeaanbidders liefhet, dan moet ons hulle ook liefhê.

7 Tweedens, dit is uiters belangrik dat ons nóú groter liefde vir mekaar moet hê sodat ons ons broers kan help as hulle hulp nodig het, want “die einde van alles het naby gekom” (1 Petrus 4:7). Ons lewe in “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1). Wêreldtoestande, natuurrampe en teenstand laat ons swaar kry. Onder moeilike omstandighede moet ons steeds nader aan mekaar kom. Intense liefde sal ons saambind en ons beweeg om ‘vir mekaar te sorg’.—1 Korintiërs 12:25, 26.

8 Derdens, ons moet mekaar liefhê omdat ons nie wil “plek toelaat vir die Duiwel” nie (Efesiërs 4:27). Satan staan gereed om die onvolmaakthede van ons medegelowiges—hulle swakhede, tekortkominge en foute—as struikelblokke te gebruik. Sal ons ons aan die gemeente onttrek as gevolg van ’n onbedagsame aanmerking of ’n liefdelose daad deur ’n medegelowige? (Spreuke 12:18). Nie as ons intense liefde vir mekaar het nie! Hierdie soort liefde help ons om die vrede te bewaar en God in eenheid “skouer aan skouer” te dien.—Sefanja 3:9.

Hoe om te toon dat jy ander liefhet

9 Die betoning van liefde moet tuis begin. Jesus het gesê dat sy ware volgelinge geïdentifiseer sal word aan die liefde wat hulle vir mekaar het (Johannes 13:34, 35). Liefde moet nie net in die gemeente gesien kan word nie, maar ook in die gesin—tussen huweliksmaats en tussen ouers en kinders. Dit is nie genoeg om liefde vir gesinslede te voel nie; ons moet dit op positiewe maniere betoon.

10 Hoe kan huweliksmaats liefde aan mekaar betoon? ’n Man wat sy vrou werklik liefhet, laat haar deur sy woorde en dade—in die openbaar en wanneer hulle alleen is—weet dat sy vir hom dierbaar is. Hy respekteer haar persoonlike waardigheid en neem haar gedagtes, beskouings en gevoelens in ag (1 Petrus 3:7). Hy stel haar welsyn voor sy eie, en hy doen alles in sy vermoë om in haar materiële, geestelike en emosionele behoeftes te voorsien (Efesiërs 5:25, 28). ’n Vrou wat haar man werklik liefhet, het “diep respek” vir hom, al skiet hy soms te kort aan haar verwagtinge (Efesiërs 5:22, 33). Sy ondersteun haar maat en is onderdanig aan hom, stel nie onredelike eise nie, maar werk saam met hom om hulle fokus op geestelike sake ingestel te hou.—Genesis 2:18; Matteus 6:33.

11 Ouers, hoe kan julle liefde aan julle kinders betoon? Julle bereidwilligheid om hard te werk om materieel vir hulle te voorsien, is ’n blyk van julle liefde (1 Timoteus 5:8). Maar kinders het meer as net kos, klere en blyplek nodig. As julle wil hê dat hulle volwassenes moet word wat die ware God liefhet en dien, het hulle geestelike opvoeding nodig (Spreuke 22:6). Dit beteken dat julle as ’n gesin tyd moet maak om die Bybel te bestudeer, aan die bediening deel te neem en Christelike vergaderinge by te woon (Deuteronomium 6:4-7). Om gereeld aan hierdie bedrywighede deel te neem, verg groot opofferinge, veral in hierdie kritieke tye. Julle besorgdheid en julle pogings om in julle kinders se geestelike behoeftes te voorsien, is ’n blyk van liefde, want julle wys daardeur dat julle hulle ewige belange op die hart dra.—Johannes 17:3.

12 Dit is noodsaaklik dat ouers ook liefde betoon deur in hulle kinders se emosionele behoeftes te voorsien. Kinders is kwesbaar; hulle tere hartjies moet van julle liefde verseker word. Sê vir hulle dat julle vir hulle lief is en tree baie liefdevol teenoor hulle op, want dit verseker hulle dat ander hulle kan liefhê en dat hulle waarde het. Prys hulle hartlik en opreg, want dit vertel vir hulle dat julle hulle pogings raaksien en waardeer. Dissiplineer hulle in liefde, want hierdie soort teregwysing wys vir hulle dat julle omgee watter soort mense hulle word (Efesiërs 6:4). Al hierdie heilsame blyke van liefde help om ’n gelukkige, hegte gesin te bou wat beter toegerus is om die druk van hierdie laaste dae te deurstaan.

13 Liefde beweeg ons om die tekortkominge van ander oor te sien. Let daarop dat Petrus, toe hy sy lesers gemaan het om “intense liefde vir mekaar [te] hê”, die rede gegee het waarom dit so belangrik is: “Want die liefde bedek ’n menigte sondes” (1 Petrus 4:8). Om sondes te “bedek”, beteken nie dat ’n mens ernstige sondes toesmeer nie. Sulke sake moet tereg aan verantwoordelike persone in die gemeente gerapporteer word en deur hulle hanteer word (Levitikus 5:1; Spreuke 29:24). Dit sou uiters liefdeloos—en onskriftuurlik—wees om toe te laat dat growwe sondaars voortgaan om onskuldiges seer te maak of te veronreg.—1 Korintiërs 5:9-13.

14 In die meeste gevalle is die tekortkominge en foute van medegelowiges onbeduidend. Ons struikel almal soms in woord en daad en stel mekaar teleur of maak mekaar selfs seer (Jakobus 3:2). Moet ons gou wees om ander se tekortkominge uit te basuin? Dit sal net wrywing in die gemeente veroorsaak (Efesiërs 4:1-3). As ons deur liefde gerig word, sal ons nie ’n medeaanbidder se ‘tekortkoming verraai’ nie (Psalm 50:20). Net soos pleister en verf die gebreke van ’n muur bedek, so bedek liefde die onvolmaakthede van ander.—Spreuke 17:9.

15 Liefde sal ons tot die hulp laat kom van dié wat dit werklik nodig het. Terwyl toestande gedurende die laaste dae aanhou versleg, sal daar dalk tye wees wanneer ons medegelowiges materiële of fisiese hulp nodig het (1 Johannes 3:17, 18). Byvoorbeeld, het iemand in ons gemeente dalk ’n ernstige finansiële terugslag gehad of sy werk verloor? Dan kan ons miskien, na gelang van ons omstandighede, materiële bystand gee (Spreuke 3:27, 28; Jakobus 2:14-17). Moet herstelwerk aan die huis van ’n bejaarde weduwee gedoen word? Dan kan ons miskien die inisiatief neem om daarmee te help.—Jakobus 1:27.

16 Die betoning van liefde aan ander word nie beperk tot mense wat in ons omgewing woon nie. Ons hoor soms van God se knegte in ander lande wat slagoffers van groot storms, aardbewings of burgerlike onrus was. Hulle het moontlik ’n dringende behoefte aan kos, klere of ander benodigdhede. Dit maak nie saak of hulle tot ’n ander ras of etniese groep behoort nie. Ons is “lief vir die hele gemeenskap van broers” (1 Petrus 2:17). Net soos gemeentes in die eerste eeu is ons dus gretig om noodlenigingspogings te ondersteun wat gereël word om hulp te voorsien (Handelinge 11:27-30; Romeine 15:26). Wanneer ons ons liefde op al hierdie maniere betoon, versterk ons die band wat ons in hierdie laaste dae saambind.—Kolossense 3:14.

17 Liefde beweeg ons om die goeie nuus van God se Koninkryk aan ander oor te dra. Dink aan die voorbeeld van Jesus. Waarom het hy die predikings- en onderrigtingswerk gedoen? Hy is “ontroer deur innige jammerte” vir die skare as gevolg van hulle jammerlike geestelike toestand (Markus 6:34). Hulle is verwaarloos en mislei deur die valse godsdiensherders, wat hulle geestelike waarhede moes geleer het en hoop moes gegee het. Daarom het Jesus, aangedryf deur innige, hartgrondige liefde en meegevoel, die mense met “die goeie nuus van die koninkryk van God” vertroos.—Lukas 4:16-21, 43.

18 Daar is ook vandag baie mense wat geestelik verwaarloos, mislei en sonder hoop is. As ons ons, soos Jesus, fyner instel op die geestelike behoeftes van dié wat die ware God nog nie ken nie, sal ons deur liefde en meegevoel beweeg word om hulle van die goeie nuus van God se Koninkryk te vertel (Matteus 6:9, 10; 24:14). Met die oog op die kort tydjie wat oorbly, is dit nou dringender as ooit om hierdie lewensreddende boodskap te verkondig.—1 Timoteus 4:16.

“Die einde van alles het naby gekom”

19 Onthou, Petrus het sy raad om mekaar lief te hê, ingelei met die woorde: “Die einde van alles het naby gekom” (1 Petrus 4:7). Binnekort gaan hierdie goddelose wêreld vervang word deur God se regverdige nuwe wêreld (2 Petrus 3:13). Dit is derhalwe nie vandag die tyd om oorgerus te wees nie. Jesus het ons gewaarsku: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe, en dié dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom soos ’n strik nie.”—Lukas 21:34, 35.

20 Laat ons dus alles in ons vermoë doen om ‘aan te hou waak’ en ingestel bly op waar ons in die tydstroom is (Matteus 24:42). Laat ons op ons hoede wees teen enige van Satan se versoekings wat ons aandag kan aftrek. Mag ons nooit toelaat dat hierdie koue, liefdelose wêreld ons daarvan weerhou om ons liefde vir ander te toon nie. Mag ons bowenal steeds nader kom aan die ware God, Jehovah, wie se Messiaanse Koninkryk binnekort sy glorieryke voorneme met die aarde sal verwesenlik.—Openbaring 21:4, 5.

[Voetnoot]

a In 1 Petrus 4:8 sê ander Bybelvertalings dat ons mekaar “opreg”, “hartlik” en “vurig” moet liefhê.

STUDIEVRAE

• Watter afskeidsraad het Jesus vir sy dissipels gehad, en wat toon dat Petrus die punt gesnap het? (Par. 1-2)

• Wat is “intense liefde”? (Par. 3-5)

• Waarom moet ons mekaar liefhê? (Par. 6-8)

• Hoe kan jy toon dat jy ander liefhet? (Par. 9-18)

• Waarom is dit nie nou die tyd om oorgerus te wees nie, en wat moet ons vasbeslote wees om te doen? (Par. 19-20)

[Prent op bladsy 29]

’n Hegte gesin is beter toegerus om die druk van hierdie laaste dae te weerstaan

[Prent op bladsy 30]

Liefde beweeg ons om tot die hulp te kom van dié wat dit werklik nodig het

[Prent op bladsy 31]

Dit is ’n daad van liefde om ander van die goeie nuus van God se Koninkryk te vertel

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel