Hoofstuk 9
Hoe kan ek versoeking weerstaan?
Karen is skaars tien minute by die partytjie toe sy twee seuns sien instap met ’n hele klomp inkopiesakke. Die inhoud van daardie sakke is geen geheim nie. Vroeër het sy gehoor hoe dieselfde seuns sê dat daar “oorgenoeg dop” by hierdie partytjie gaan wees.
Karen hoor skielik ’n bekende stem agter haar. “Vir wat staan jy net daar, jou nat vadoek?” Karen draai om en sien haar vriendin Jessica met twee oop bottels bier in die hand. Jessica druk een onder Karen se neus in en sê: “Komaan, moenie vir my sê jy’s te jonk om ’n bietjie pret te hê nie!”
Karen wil nee sê. Maar die druk om dit te aanvaar, is groter as wat sy verwag het. Jessica is haar vriendin, en Karen wil nie die indruk skep dat sy . . . ’n “nat vadoek” is, soos Jessica haar genoem het nie. Boonop is Jessica een van die goeie meisies. En as sy drink, wat is dan so erg daaromtrent? ‘Dis net ’n bier’, sê Karen vir haarself. ‘Dis nie soos om dwelms te gebruik of seks te hê nie.’
JONGMENSE kom voor allerhande versoekings te staan. Dit behels dikwels die teenoorgestelde geslag. “Die meisies by die skool is baie opdringerig”, sê die 17-jarige Ramon. “Hulle hou daarvan om aan jou te vat en te sien hoe ver hulle kan gaan. Hulle aanvaar nie nee vir ’n antwoord nie!” Deanna, ook 17, het dit ook ondervind. “Een seun het na my toe gekom en sy arm om my gesit”, sê sy. “Ek het hom op sy arm geslaan en gesê: ‘Wat maak jy? Ek ken jou nie eers nie!’”
Dalk kom jy ook te staan voor versoekings en voel dit vir jou asof die druk net nie wil ophou nie. Voortdurende versoeking kan soos iemand wees wat aanhoudend aan jou deur klop, al het jy gevra om nie gesteur te word nie. Hoor jy daardie geklop meer dikwels as wat jy graag sou wou? Byvoorbeeld, is enige van die volgende vir jou ’n versoeking?
□ Rook
□ Pornografie
□ Drank
□ Seks
□ Dwelms
□ Ander ․․․․․
As jy ’n ✔ langs enige van die bogenoemde gemaak het, moet jy nie dink dat jy eenvoudig nie uitgeknip is om ’n Christen te wees nie. Jy kan leer om verkeerde begeertes te beheer en om versoeking te weerstaan. Hoe? Dit help om te weet wat die oorsake van versoekings is. Kyk na drie faktore.
1. Onvolmaaktheid. Alle onvolmaakte mense het die neiging om verkeerde dinge te doen. Selfs die apostel Paulus—’n geestelik volwasse Christen—het eerlik erken: “Wanneer ek wil doen wat reg is, is die slegte by my aanwesig” (Romeine 7:21). Dit is duidelik dat selfs die ordentlikste persoon nou en dan bewus sal word van “die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë” (1 Johannes 2:16). Maar om aanhoudend aan verkeerde dinge te dink, sal dinge net vererger, want die Bybel sê: “Wanneer die begeerte vrugbaar geword het, baar dit sonde.”—Jakobus 1:15.
2. Eksterne invloede. Versoeking is oral waar jy kyk. “By die skool en by die werk praat mense heeltyd oor seks”, sê Trudy. “Op TV en in flieks laat hulle dit altyd so romanties en opwindend lyk. Maar jy sien bitter selde die negatiewe gevolge!” Trudy weet uit ondervinding watter kragtige invloed portuurs en die media kan hê. “Op 16 het ek gedink dat ek verlief is”, sê sy. “My ma het ernstig met my gepraat en vir my gesê dat ek binnekort swanger sal wees as dinge so aangaan. Ek was geskok dat my ma so iets sou dink! Twee maande later was ek swanger.”
3. “Die begeertes wat eie is aan die jeug” (2 Timoteus 2:22). Hierdie frase kan enige begeerte insluit wat kenmerkend is van jongmense, soos die begeerte om aanvaar te word of jou eie identiteit te hê. Hierdie begeertes is nie op sigself verkeerd nie, maar as ’n mens dit nie beheer nie, kan dit moeiliker wees om versoeking te weerstaan. As jy daarna smag om jou eie identiteit te hê, kan dit jou byvoorbeeld beweeg om die goeie waardes te verwerp wat jy by die huis geleer het. Dit is wat met Steve gebeur het toe hy 17 was. Hy sê: “Ek het teen my ouers gerebelleer en het enigiets en alles gedoen wat hulle my geleer het om nie te doen nie—en dit kort nadat ek gedoop is.”
Hoe om versoeking te weerstaan
Ja, die invloede wat hierbo beskryf word, is kragtig. Nietemin kan jy versoeking weerstaan. Hoe?
● Identifiseer eerstens die versoeking wat vir jou die moeilikste is om te weerstaan. (Jy het dit dalk reeds op bladsy 65 gedoen.)
● Vra jou dan af: ‘Wanneer sal ek heel waarskynlik voor hierdie versoeking te staan kom?’ Maak ’n ✔ langs een van die volgende:
□ By die skool
□ Wanneer ek alleen is
□ By die werk
□ Ander ․․․․․
As jy weet wanneer jy heel moontlik voor ’n versoeking te staan sal kom, kan dit jou help om dit selfs heeltemal te vermy. Dink byvoorbeeld aan die scenario aan die begin van hierdie hoofstuk. Watter waarskuwing het Karen gehad dat daar moeilikheid sou wees by die partytjie wat sy bygewoon het?
․․․․․
Hoe kon sy die versoeking in die eerste plek vermy het?
․․․․․
● Noudat jy die versoeking geïdentifiseer het en vasgestel het wanneer jy heel moontlik daarvoor te staan sal kom, is jy gereed om iets daaromtrent te doen. Jou eerste prioriteit is om uit te vind hoe jy blootstelling aan die versoeking tot ’n minimum kan beperk of dit heeltemal kan vermy. Skryf hieronder neer wat jy kan doen.
․․․․․
(Voorbeelde: As jy ná skool gereeld skoolmaats teëkom wat wil hê dat jy saam met hulle moet rook, kan jy dalk ’n ander pad huis toe neem sodat jy hulle nie raakloop nie. As jy dikwels ongevraagde Internetpornografie ontvang, kan jy dit oorweeg om programme te installeer wat die bron daarvan en alle soortgelyke webwerwe blokkeer. Jy kan ook meer spesifiek wees wanneer jy sleutelwoorde in ’n soekenjin intik.)
Jy kan natuurlik nie alle versoekings vermy nie. Jy sal vroeër of later moontlik voor ’n baie groot versoeking te staan kom—dalk wanneer jy dit die minste verwag. Wat kan jy daaromtrent doen?
Wees voorbereid
Toe Jesus “deur Satan versoek is”, het hy die versoekings onmiddellik verwerp (Markus 1:13). Waarom? Omdat hy reeds geweet het wat sy standpunt is in verband met die geskille wat geopper is. Jesus het hom reeds vas voorgeneem om sy Vader te alle tye te gehoorsaam (Johannes 8:28, 29). Hy het dit werklik bedoel toe hy gesê het: “Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van hom wat my gestuur het.”—Johannes 6:38.
Skryf op die volgende bladsy twee redes neer waarom jy die versoeking waarvoor jy die meeste te staan kom, moet weerstaan, asook twee dinge wat jy kan doen om dit te weerstaan.
Waarom jy die versoeking moet weerstaan:
1 ․․․․․
2 ․․․․․
Wat jy kan doen om dit te weerstaan:
1 ․․․․․
2 ․․․․․
Onthou, wanneer jy voor versoeking swig, word jy ’n slaaf van jou begeertes (Titus 3:3). Waarom sou jy toelaat dat jou begeertes jou beheer? Wees volwasse genoeg om jou drange te beheer en nie toe te laat dat jou drange jou beheer nie (Kolossense 3:5). En bid vir hulp sodat jy kan aanhou om dit te doen.—Matteus 6:13.a
LEES MEER OOR HIERDIE ONDERWERP IN DEEL 2, HOOFSTUK 15
Voel jy die afgelope tyd lusteloos? Vind uit hoe jy jou gesondheid kan verbeter en jou energie kan terugkry!
[Voetnoot]
a Sien ook Hoofstukke 33 en 34 van hierdie boek.
SLEUTELTEKSTE
“God is getrou, en hy sal nie toelaat dat julle versoek word bo wat julle kan verdra nie, maar saam met die versoeking sal hy ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur.”—1 Korintiërs 10:13.
WENK
Gebruik die “Portuurdrukplan” op bladsye 132 en 133 van Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2, om te beplan wat jy gaan sê wanneer iemand jou in die versoeking probeer bring om iets verkeerds te doen.
HET JY GEWEET . . . ?
God het voorspel dat Jesus getrou sou bly, maar dit beteken nie dat Jesus soos ’n robot was wat geprogrammeer is om gehoorsaam te wees nie. Jesus het eerder wilsvryheid gehad. Sy getrouheid was ’n keuse—nie ’n uitgemaakte saak nie. Dit is een rede waarom hy vurig gebid het toe hy beproef is.—Hebreërs 5:7.
AKSIEPLAN!
Om my meer vasbeslote te maak om versoeking te weerstaan, sal ek ․․․․․
Mense, plekke en omstandighede wat ek moet vermy, is ․․․․․
Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․
WAT DINK JY?
● Kan volmaakte skepsele voor versoeking te staan kom?—Genesis 6:1-3; Johannes 8:44.
● Watter uitwerking het jou getrouheid op ander wanneer jy versoeking weerstaan?—Spreuke 27:11; 1 Timoteus 4:12.
[Lokteks op bladsy 68]
Wat my help, is die wete dat ek die kragtigste Persoon in die heelal aan my kant het en dat ek enige tyd sy hulp kan vra!’’—Christopher
[Venster/Prent op bladsy 67]
Probeer die volgende!
Neem ’n kompas en draai dit sodat die naald noord wys. Plaas nou ’n magneet langs die kompas. Wat gebeur? Die naald gee nie meer ’n akkurate lesing nie. Dit wys eerder na die magneet toe.
Jou gewete is soos hierdie kompas. As dit goed opgelei is, sal dit “noord” wys en jou help om wyse besluite te neem. Maar slegte assosiasie is soos ’n magneet—die invloed daarvan kan jou sedelike oordeel belemmer. Die les? Probeer mense en situasies vermy wat ’n negatiewe invloed op jou sedelike oordeel kan hê!—Spreuke 13:20.
[Prent op bladsy 69]
Wanneer jy voor versoeking swig, word jy ’n slaaf van jou begeertes