Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • kr hfst. 12 bl. 118-131
  • Georganiseer om “die God van vrede” te dien

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Georganiseer om “die God van vrede” te dien
  • God se Koninkryk regeer!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Ek sal vrede as jou opsieners aanstel”
  • Hoe Christus die gemeente lei
  • ‘Word voorbeelde vir die kudde’
  • Hoe ouer manne vandag as herders toesig hou oor die kudde van God
  • Beter toesig versterk die eenheid onder God se volk
  • Die ontwikkeling van die organisasie se struktuur
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Opsieners wat as herders oor die kudde toesig hou
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • Wees gehoorsaam aan diegene wat die leiding neem
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Herders, volg die grootste Herders na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
Sien nog
God se Koninkryk regeer!
kr hfst. 12 bl. 118-131

HOOFSTUK 12

Georganiseer om “die God van vrede” te dien

KERNGEDAGTE VAN DIE HOOFSTUK

Jehovah organiseer sy volk progressief

1, 2. Watter verandering het Zion’s Watch Tower in Januarie 1895 ondergaan, en hoe het die broers daarop gereageer?

TOE die ywerige Bybelstudent John A. Bohnet sy eksemplaar van Zion’s Watch Tower van Januarie 1895 ontvang het, was hy verheug oor wat hy gesien het. Die tydskrif het ’n indrukwekkende nuwe voorblad gehad—’n prent van ’n vuurtoring wat bo ’n stormagtige see uittroon en sy ligstrale deur die donkerte beweeg. Die aankondiging in die tydskrif oor die nuwe ontwerp is “Ons nuwe baadjie” genoem.

2 Broer Bohnet was beïndruk en het ’n brief aan broer Russell gestuur. “Bly om te sien dat die WAGTORING op ’n modeparade is”, het hy geskryf. “Dit lyk mooi.” Nog ’n getroue Bybelstudent, John H. Brown, het oor die voorblad geskryf: “Dit is baie treffend. Hoe stewig is die toring se fondasie tog, terwyl daardie golwe en storms daarteen woed.” Hierdie nuwe voorblad was die eerste verandering wat ons broers daardie jaar gesien het—maar dit was nie die laaste nie. In November het hulle van nog ’n groot verandering te wete gekom. Interessant genoeg het dit ook met ’n stormagtige see te doen gehad.

3, 4. Watter probleem is in die Watch Tower van 15 November 1895 bespreek, en watter verreikende verandering is aangekondig?

3 ’n Breedvoerige artikel wat in die Watch Tower van 15 November 1895 verskyn het, het ’n probleem blootgelê: Stormagtige golwe van onenigheid het die vrede van die vereniging, of organisasie, van die Bybelstudente ontwrig. Daar was al hoe meer stryery onder die broers oor wie die leier in die plaaslike gemeente moet wees. Om die broers te help sien wat nodig is om hierdie verdelende gees van wedywering teë te werk, het die artikel die organisasie met ’n skip vergelyk. Toe het dit reguit erken dat diegene wat die leiding geneem het, versuim het om die skipagtige organisasie op stormagtige weer voor te berei. Wat was nodig?

4 Die artikel het daarop gewys dat ’n bekwame kaptein seker maak dat daar reddingsbaadjies op die skip is en dat die bemanning gereed is om die luike vas te skroef wanneer ’n storm aan die kom is. Net so moes diegene wat die leiding in die organisasie geneem het, seker maak dat al die gemeentes voorbereid is om stormagtige toestande die hoof te bied. Met die oog hierop het die artikel ’n verreikende verandering aangekondig wat onmiddellik in werking sou tree. Dit het gesê dat “ouer manne in elke groep gekies moet word” om “‘toesig te hou’ oor die kudde”.—Hand. 20:28.

5. (a) Waarom was die eerste ouermanreëling ’n tydige stap vorentoe? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

5 Hierdie eerste ouermanreëling was ’n tydige stap vorentoe in die proses om ’n stewige gemeentelike struktuur tot stand te bring. Dit het ons broers gehelp om deur die stormagtige golwe te stuur wat deur die Eerste Wêreldoorlog veroorsaak is. In die daaropvolgende dekades het verdere organisatoriese verbeterings God se volk beter toegerus om Jehovah te dien. Watter Bybelprofesie het hierdie verwikkeling voorspel? Watter organisatoriese veranderinge het jy al gesien? Hoe het jy daarby baat gevind?

“Ek sal vrede as jou opsieners aanstel”

6, 7. (a) Wat beteken Jesaja 60:17? (b) Waarop dui die vermelding van “opsieners” en “taakgewers”?

6 Soos ons in Hoofstuk 9 bespreek het, het Jesaja voorspel dat Jehovah sy volk met vermeerdering sou seën (Jes. 60:22). Maar Jehovah het belowe om selfs meer te doen. In dieselfde profesie het hy gesê: “In die plek van die koper sal ek goud bring, en in die plek van die yster sal ek silwer bring, en in die plek van die hout koper, en in die plek van die klippe yster; en ek sal vrede as jou opsieners aanstel en regverdigheid as jou taakgewers” (Jes. 60:17). Wat beteken hierdie profesie? Hoe is dit vandag op ons van toepassing?

Die vervanging is ’n verandering, nie van iets slegs tot iets goeds nie, maar van iets goeds tot iets beters

7 Jesaja se profesie sê dat een materiaal met ’n ander vervang sou word. Maar let daarop dat die vervanging ’n verandering is, nie van iets slegs tot iets goeds nie, maar van iets goeds tot iets beters. Om koper met goud te vervang, is ’n verbetering, en dit is ook die geval met die ander materiale wat hier genoem word. Met hierdie illustrasie het Jehovah dus voorspel dat die toestand van sy volk stapsgewys sou verbeter. Na watter soort verbetering verwys die profesie? Deur “opsieners” en “taakgewers” te meld, het Jehovah aangedui dat daar geleidelike verbeterings sou wees in die manier waarop sy volk versorg en georganiseer word.

8. (a) Deur wie word die verbeterings wat in Jesaja se profesie gemeld word, teweeggebring? (b) Hoe vind ons by die verbeterings baat? (Sien ook die venster “Hy het teregwysing nederig aanvaar”.)

8 Wie bring hierdie organisatoriese vooruitgang teweeg? Jehovah sê: ‘Ek sal goud bring, . . . ek sal silwer bring . . . en ek sal vrede aanstel.’ Ja, verbeterings in gemeentelike organisasie word teweeggebring, nie deur mensepogings nie, maar deur Jehovah self. En sedert Jesus as Koning gekroon is, het Jehovah hierdie verbeterings deur middel van sy Seun teweeggebring. Hoe vind ons by hierdie veranderinge baat? Dieselfde teks sê dat hierdie verbeterings “vrede” en “regverdigheid” tot gevolg sal hê. Wanneer ons God se leiding aanvaar en aanpassings maak, heers daar vrede onder ons en beweeg liefde vir regverdigheid ons om Jehovah, wat die apostel Paulus as “die God van vrede” beskryf het, te dien.—Fil. 4:9.

9. Wat is die regte grondslag vir orde en eenheid in die gemeente, en waarom?

9 Aangaande Jehovah het Paulus ook geskryf: “God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede” (1 Kor. 14:33). Let op dat Paulus nie wanorde met orde gekontrasteer het nie, maar met vrede. Waarom? Dink hieraan: Orde op sigself het nie altyd vreedsame toestande tot gevolg nie. Byvoorbeeld, ’n groep soldate trek moontlik in ’n ordelike wyse op na die gevegsfront, maar hulle ordelike opmars lei tot oorlog, nie vrede nie. Gevolglik wil ons as Christene ’n belangrike feit in gedagte hou: Enige orde wat nie op vrede gegrond is nie, sal vroeër of later tot ’n einde kom. Daarenteen bevorder goddelike vrede die soort orde wat blywend is. Hoe dankbaar is ons tog dat ons organisasie gerig en gelouter word deur “die God wat vrede gee”! (Rom. 15:33). Godgegewe vrede vorm die grondslag vir die voordelige orde en die opregte eenheid wat ons in ons gemeentes regoor die wêreld so geniet en waardeer.—Ps. 29:11.

10. (a) Watter verbeterings het gedurende die vroeë jare in ons organisasie plaasgevind? (Sien die venster “Hoe opsienerskap verbeter het”.) (b) Watter vrae sal nou bespreek word?

10 Die venster “Hoe opsienerskap verbeter het” gee ’n oorsig van die voordelige en ordelike veranderinge wat gedurende die vroeë jare in ons organisasie plaasgevind het. Maar watter veranderinge ‘van koper tot goud’ het Jehovah in onlangser tye deur middel van ons Koning teweeggebring? Hoe het hierdie aanpassings in opsienerskap die vrede en eenheid van die gemeentes regoor die wêreld versterk? Hoe help dit jou om “die God van vrede” te dien?

Hoe Christus die gemeente lei

11. (a) Tot watter aanpassing in begrip het ’n studie van die Bybel gelei? (b) Wat was die broers van die bestuursliggaam vasbeslote om te doen?

11 Van 1964 tot 1971 het die bestuursliggaam toesig gehou oor ’n omvattende Bybelstudieprojek wat onder andere ondersoek het hoe die eerste-eeuse Christengemeente gefunksioneer het.a Wat organisatoriese struktuur betref, is daar gevind dat ’n liggaam van ouer manne, nie net een ouer man, of opsiener nie, in die eerste eeu oor elke gemeente toesig gehou het. (Lees Filippense 1:1; 1 Timoteus 4:14.) Toe hierdie punt beter verstaan is, het die bestuursliggaam besef dat hulle Koning, Jesus, hulle rig om verbeterings aan te bring in die organisatoriese struktuur van God se volk—en die broers van die bestuursliggaam was vasbeslote om die Koning se leiding te volg. Hulle het onmiddellik organisatoriese aanpassings gemaak om die ouermanreëling wat in die Bybel uiteengesit word, noukeuriger te volg. Wat is ’n paar aanpassings wat in die vroeë 1970’s gemaak is?

HY HET TEREGWYSING NEDERIG AANVAAR

DIE Finse uitgawe van Die Wagtoring van 1 April 1916 het ’n brief bevat van broer Russell aan ’n paar broers in Skandinawië, insluitende broer Kaarlo Harteva. Broer Russell het aan hulle geskryf: “Ons spoor julle almal aan, dierbare broers in die geloof, om terug te keer na die waarheid en die werk wat tot hierdie era behoort.” Waarom het broer Russell hierdie beroep gedoen?

Kaarlo Harteva

Kaarlo Harteva

Broer Harteva, wat in 1882 gebore is, was een van die eerste Bybelstudente in Finland. Hy is in April 1910 gedoop, en in die somer van 1912 het broer Russell hom gevra om Die Wagtoring in Fins uit te gee. Alles het goed verloop totdat die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het. Broer Harteva het in Die Wagtoring van 1 Desember 1914 geskryf: “As gevolg van die moeilike ekonomiese situasie . . . kan ons nie belowe dat Die Wagtoring dieselfde aantal bladsye sal hê of hierdie jaar so dikwels gedruk sal word nie.” Maar in 1915 het broer Harteva en ander, in ’n poging om fondse in te samel, ’n koöperatiewe vereniging met die naam Ararat gestig, wat ’n tydskrif met hierdie naam begin uitgee het.

Terwyl broer Harteva sy aandag op die nuwe vereniging en die nuwe tydskrif gevestig het, het ’n ander broer as die redakteur van die Finse Wagtoring begin dien. Die Ararat-tydskrif het Bybelartikels gepubliseer, maar ook artikels oor onderwerpe soos natuurlike geneesmiddels en die nuwe taal, Esperanto. Kort voor lank het die nuwe tydskrif die broers se aandag van die duidelike leringe van die waarheid afgelei. Op hierdie stadium het broer Russell uit besorgdheid oor hulle geestelike welsyn die beroep op broer Harteva en ander gedoen om “terug te keer na die waarheid”.

Hoe het broer Harteva gereageer? Hy het broer Russell se brief, saam met sy antwoord daarop, in die Ararat-tydskrif gepubliseer. Broer Harteva het om verskoning gevra vir wat hy gedoen het en gesê: “As ek die saak mag regstel, wil ek doen wat ek kan.” Kort daarna het broer Harteva in die laaste nommer van die Ararat-tydskrif weer om verskoning gevra vir die verwarring wat hy veroorsaak het en bygevoeg: “Ek sal versigtiger probeer wees in verband met elke aspek van die huidige waarheid.” In teenstelling met party trotse verkose ouer manne van destyds het Kaarlo Harteva teregwysing nederig aanvaar.

Later is broer Harteva weer as die redakteur van die Finse Wagtoring en as takopsiener aangestel. Hy het tot 1950 na hierdie verantwoordelikhede omgesien. Hy het sy aardse loopbaan in 1957 voltooi, getrou aan Jehovah en aan die waarheid. Ja, diegene wat teregwysing van hulle Koning, Jesus, nederig aanvaar, word gelouter en ontvang Jehovah se seën.

12. (a) Watter aanpassing is in verband met die bestuursliggaam gemaak? (b) Beskryf hoe die Bestuursliggaam nou georganiseer is. (Sien die venster “Hoe die Bestuursliggaam na Koninkryksbelange omsien.”)

12 Die eerste aanpassing was in verband met die bestuursliggaam self. Tot op daardie stadium het hierdie groep gesalfde broers uit die sewe lede van die direksie van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië bestaan. Maar in 1971 is die bestuursliggaam van 7 tot 11 lede vergroot en was hulle nie meer deel van die direksie nie. Die lede het mekaar as gelyke beskou en het die voorsitterskap jaarliks in alfabetiese volgorde begin roteer.

13. (a) Watter reëling het 40 jaar lank bestaan? (b) Wat het die Bestuursliggaam in 1972 gedoen?

13 Die volgende aanpassing het elke gemeente geraak. Hoe? Van 1932 tot 1972 is toesig oor die gemeente hoofsaaklik deur een broer behartig. Tot 1936 is hierdie aangestelde broer die diensleier genoem. Daarna is die naam verander na groepskneg, toe na gemeentekneg en uiteindelik na gemeenteopsiener. Hierdie aangestelde broers het ywerig na die geestelike welsyn van die kudde omgesien. Die gemeenteopsiener het gewoonlik besluite namens die gemeente geneem sonder om ander knegte in die gemeente te raadpleeg. Maar in 1972 het die Bestuursliggaam die weg gebaan vir ’n geskiedkundige verandering. Wat het hierdie verandering behels?

14. (a) Watter nuwe reëling het op 1 Oktober 1972 in werking getree? (b) Hoe pas die koördineerder van ’n liggaam van ouer manne die raad in Filippense 2:3 toe?

14 In plaas daarvan dat een broer in elke gemeente as die gemeenteopsiener dien, sou ander broers wat aan die skriftuurlike vereistes voldoen, nou ook teokraties aangestel word om as Christen- ouer manne te dien. Saam sou hulle ’n liggaam van ouer manne vorm wat oor die plaaslike gemeente toesig hou. Hierdie nuwe ouermanreëling het op 1 Oktober 1972 in werking getree. Vandag beskou die koördineerder van ’n liggaam van ouer manne homself nie as belangriker as die ander ouer manne nie, maar “as ’n mindere” (Luk. 9:48). Wat ’n seën is sulke nederige broers tog vir die wêreldwye broederskap!—Fil. 2:3.

Dit is duidelik dat ons Koning, met versiendheid, sy volgelinge op die regte tyd van die nodige herders voorsien het

15. (a) Watter voordele het die reëling om ’n liggaam van ouer manne in elke gemeente te hê, meegebring? (b) Wat toon dat ons Koning met versiendheid opgetree het?

15 Die reëling om verantwoordelikheid in die gemeente onder lede van ’n liggaam van ouer manne te verdeel, was ’n groot verbetering. Kyk na hierdie drie voordele: Die eerste en vernaamste is dat die reëling alle ouer manne help—ongeag hoe groot hulle gemeentelike verantwoordelikhede is—om altyd daarvan bewus te wees dat Jesus die Hoof van die gemeente is (Ef. 5:23). Die tweede voordeel is, soos Spreuke 11:14 sê: “Daar is redding in die veelheid van raadgewers.” Wanneer ouer manne mekaar raadpleeg oor sake wat die geestelike welsyn van die gemeente raak en mekaar se voorstelle in ag neem, help dit hulle om besluite in ooreenstemming met Bybelbeginsels te neem (Spr. 27:17). Jehovah seën hierdie besluite, en dit lei tot sukses. Die derde voordeel is dat die organisasie in die toenemende behoefte aan toesig en herderswerk in die gemeentes kan voorsien omdat meer bekwame broers as ouer manne dien (Jes. 60:3-5). Dink net—die aantal gemeentes regoor die wêreld het van oor die 27 000 in 1971 tot meer as 113 000 in 2013 toegeneem! Dit is duidelik dat ons Koning, met versiendheid, sy volgelinge op die regte tyd van die nodige herders voorsien het.—Miga 5:5.

HOE OPSIENERSKAP VERBETER HET

  • 1881—Om Bybelstudente wat in dieselfde gebied woon, met mekaar in aanraking te bring, vra broer Russell diegene wat gereeld vergaderinge hou, om die Wagtoringkantoor te laat weet waar hulle bymekaarkom.

  • 1895—Alle gemeentes word aangesê om broers uit hulle midde te kies wat as ouer manne kan dien.

  • 1919—In elke gemeente word ’n diensleier teokraties aangestel deur die takkantoor. Sy verantwoordelikhede behels die organisering van die predikingswerk en die bevordering van deelname aan die veldbediening. Party van die gemeentelike ouer manne ondersteun nie die reëling om ’n diensleier te hê nie.

  • 1932—Die jaarlikse verkiesing van ouer manne deur die gemeente word afgeskaf. Die gemeente kies eerder ’n dienskomitee wat uit broers bestaan wat ywerig aan die predikingswerk deelneem en wat die nuwe naam Jehovah se Getuies naleef. Een van hulle, wat deur die gemeente benoem word, word deur die Genootskap of takkantoor aangestel om die diensleier te wees.

  • 1937—Broers wat deel van die groot menigte is, kan saam met hulle gesalfde broers op dienskomitees dien.

  • 1938—Gemeentes neem ’n resolusie aan waarin versoek word dat alle gemeenteknegte teokraties aangestel word. Dit is die einde van demokratiese verkiesings in die gemeentes.

Om meer te leer oor geskiedkundige verwikkelinge in die organisatoriese struktuur, sien Jehovah se Getuies​—Verkondigers van God se Koninkryk, bladsye 204-235.

’n Jaarlikse verkiesing van ouer manne deur die gemeente in die 1920’s

“Ons het vir die ouer manne gestem deur ons regterhand op te steek. Dan het ’n broer in die gang afgeloop en die stemme getel.”—Suster Rose Swingle, Chicago, Illinois, VSA.

‘Word voorbeelde vir die kudde’

16. (a) Watter verantwoordelikheid het ouer manne? (b) Hoe het die Bybelstudente Jesus se vermaning beskou om ‘as herders toesig te hou oor die skape’?

16 Reeds in die vroeë dae van die Bybelstudente het die ouer manne verstaan dat hulle ’n verantwoordelikheid het om medegelowiges te help om knegte van God te bly. (Lees Galasiërs 6:10.) In 1908 het ’n artikel in die Watch Tower Jesus se vermaning bespreek: “Hou as herder toesig oor my skapies” (Joh. 21:15-17). Die artikel het vir ouer manne gesê: “Dit is baie belangrik dat die Heer se opdrag in verband met die kudde ons baie na aan die hart lê, dat ons dit tereg beskou as ’n groot voorreg om die Here se volgelinge te voed en te versorg.” In 1925 het The Watch Tower weer die belangrikheid daarvan beklemtoon dat ouer manne as herders moet dien deur hulle te vermaan: “Die kerk van God is sy eiendom, . . . en hy sal almal wat die voorreg het om hulle broers te dien, tot verantwoording roep.”

17. Hoe is opsieners gehelp om bekwame herders te word?

17 Hoe het Jehovah se organisasie ouer manne gehelp om hulle vaardighede as herders van ‘yster tot silwer’ te verander? Deur opleiding te voorsien. In 1959 is die eerste Koninkryksbedieningskool vir opsieners gehou. Een klassessie het gehandel oor die onderwerp “Gee persoonlike aandag”. Hierdie verantwoordelike broers is aangespoor om “’n rooster op te stel om verkondigers by die huis te besoek”. Die sessie het verskeie maniere bespreek waarop herders hierdie besoeke opbouend kan maak. In 1966 het ’n bygewerkte Koninkryksbedieningskool begin. Dit het die onderwerp “Die belangrikheid van die herderswerk” bespreek. Wat was die hoofpunt van hierdie klassessie? Diegene wat die leiding neem, “moet help om liefdevolle sorg aan die kudde van God te voorsien, terwyl hulle nie versuim om gepaste aandag aan hulle gesin en aan die veldbediening te gee nie”. In onlangse jare is nog skole vir ouer manne gehou. Wat was die resultaat van die voortgesette opleiding wat Jehovah se organisasie voorsien het? Vandag is daar duisende bekwame broers in die Christengemeente wat as geestelike herders dien.

’n Klas van die Koninkryksbedieningskool in die Filippyne, 1966

Koninkryksbedieningskool in die Filippyne, 1966

18. (a) Watter gewigtige verantwoordelikheid is aan ouer manne toevertrou? (b) Waarom het Jehovah en Jesus hardwerkende ouer manne lief?

18 Christen- ouer manne is deur Jehovah, deur middel van ons Koning, Jesus, daar gestel om ’n gewigtige taak te verrig. Wat is dit? Om God se skape deur die mees kritieke tyd in die mensegeskiedenis te lei (Ef. 4:11, 12; 2 Tim. 3:1). Jehovah en Jesus het hardwerkende ouer manne baie lief omdat hierdie broers ag slaan op die skriftuurlike vermaning: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is . . . , gewillig . . . , gretig . . . , deur voorbeelde vir die kudde te word” (1 Pet. 5:2, 3). Kom ons bespreek twee van die talle maniere waarop Christenherders voorbeelde vir die kudde is en grootliks tot die vrede en vreugde in die gemeente bydra.

“ONS WAS VERSTOM”

’N SENDELINGEGPAAR in Asië is gestuur na ’n gemeente waar daar jare lank geen groei was nie. Hulle het opgemerk dat die plaaslike broers liefdevol is, maar nie organisatoriese instruksies volg nie. Nadat die sendelinge vriende gemaak het met die verkondigers, het die sendelingbroer die gemeente se struktuur stap vir stap in ooreenstemming begin bring met hoe Jehovah se volk regoor die wêreld georganiseer is. Wat was die resultaat? Binne twee jaar het die vergaderingbywoning verdubbel, het nuwelinge aan die predikingswerk begin deelneem en is meer as 20 gedoop. “Ons was verstom”, vertel die egpaar. “Jehovah het ons oorvloedig geseën! Toe die gemeente die resultate van gehoorsaamheid aan die instruksies van God se organisasie sien, was almal vreugdevol.”

Hoe ouer manne vandag as herders toesig hou oor die kudde van God

19. Hoe voel ons oor ouer manne wat saam met ons in die bediening werk?

19 Eerstens, ouer manne werk saam met lede van die gemeente. Die Evangelieskrywer Lukas het oor Jesus gesê: “Hy [het] van stad tot stad en van dorpie tot dorpie begin reis en gepreek en die goeie nuus van die koninkryk van God bekend gemaak. En die twaalf was saam met hom” (Luk. 8:1). Net soos Jesus saam met sy apostels gepreek het, werk voorbeeldige ouer manne vandag sy aan sy met hulle medegelowiges in die predikingswerk. Hulle besef dat hulle sodoende grootliks tot die heilsame gees van die gemeente bydra. Hoe voel gemeentelede oor sulke ouer manne? Jeannine, ’n suster in haar laat 80’s, sê: “Wanneer ek saam met ’n ouer man velddiens doen, gee dit my ’n gulde geleentheid om met hom te gesels en hom beter te leer ken.” Steven, ’n broer in sy middel-30’s, sê: “Wanneer ’n ouer man saam met my in die deur-tot-deur-bediening werk, wys dit vir my dat hy my wil help. Dit maak my baie bly om hierdie hulp te ontvang.”

’n Herder vind ’n eensame, verlore skaap op ’n stormagtige aand

Soos ’n herder na ’n verlore skaap soek, probeer ouer manne diegene vind wat kontak met die gemeente verloor het

20, 21. Hoe kan ouer manne die herder in Jesus se gelykenis navolg? Gee ’n voorbeeld. (Sien ook die venster “Produktiewe weeklikse besoeke”.)

20 Tweedens, Jehovah se organisasie het ouer manne opgelei om besorgdheid te toon oor diegene wat kontak met die gemeente verloor het (Heb. 12:12). Waarom moet ouer manne diegene help wat geestelik swak is, en hoe moet hulle dit doen? Jesus se gelykenis van ’n herder en ’n verlore skaap voorsien die antwoorde. (Lees Lukas 15:4-7.) Wanneer die herder in die gelykenis agterkom dat ’n skaap weg is, soek hy na die verlore skaap asof dit sy enigste skaap is. Hoe volg Christen- ouer manne vandag die voorbeeld van hierdie herder? Net soos die verlore skaap kosbaar bly in die oë van die herder, bly diegene wat kontak met God se volk verloor het, kosbaar in die oë van die ouer manne. Hulle beskou iemand wat geestelik swak is, as ’n verlore skaap—nie as ’n verlore saak nie. Wat meer is, net soos die herder besluit om “die een wat verlore is, [te] gaan soek totdat hy dit vind”, neem ouer manne die inisiatief om die swakkes te vind en te help.

21 Wat doen die herder in die gelykenis wanneer hy die skaap vind? Hy tel dit liefdevol op, ‘sit dit op sy skouers’ en dra dit terug na die kudde. Net so kan ’n ouer man se blyke van opregte belangstelling iemand wat geestelik swak is, liefdevol oprig en hom help om na die gemeente terug te keer. Dit is wat gebeur het met Victor, ’n broer in Afrika wat opgehou het om met die gemeente te assosieer. Hy vertel: “Gedurende die agt jaar dat ek onbedrywig was, het die ouer manne my voortdurend probeer help.” Wat het hom veral geraak? Hy verduidelik: “Eendag het John, ’n ouer man wat saam met my by die Pionierdiensskool was, die tyd geneem om my te besoek en my ’n paar foto’s te wys wat hy gedurende die skool van ons geneem het. Dit het soveel wonderlike herinneringe teruggebring dat ek begin smag het na die vreugde wat ek gehad het toe ek Jehovah gedien het.” Kort ná John se besoek het Victor na die gemeente teruggekeer. Vandag dien hy weer as ’n pionier. Ja, liefdevolle Christen- ouer manne dra grootliks tot ons vreugde by.—2 Kor. 1:24.b

Twee Christenbroers het ’n liefdevolle gesprek met ’n bejaarde onbedrywige Christenbroer

PRODUKTIEWE WEEKLIKSE BESOEKE

WEENS ’n begeerte om die verlore skape te help, het die ouer manne in ’n gemeente in die Verenigde State gedink aan wat hulle kan doen om diegene te help wat kontak met die kudde verloor het. Hulle het vasgestel dat omtrent 30 mense wat Jehovah dekades tevore ophou dien het, nog in die gemeente se gebied woon. Die meeste van hulle was toe al bejaard.

Alfredo, een van die ouer manne, het ’n lys van hulle name gekry en hulle begin besoek. “Elke Vrydagoggend klop ek aan die deur van ’n onbedrywige”, vertel hy. Wanneer die onbedrywige die deur oopmaak, probeer Alfredo ’n ontspanne gesprek voer waarin hy sy opregte besorgdheid oordra. Hy sê vir die onbedrywige broer of suster dat die gemeente nie die goeie werk vergeet het wat hy of sy vir Jehovah se Koninkryk gedoen het nie. Alfredo sê: “Toe ek vir ’n bejaarde onbedrywige broer sê hoeveel ure hy gepreek het en hoeveel tydskrifte hy versprei het gedurende die laaste maand dat hy in 1976 velddiens gerapporteer het, het die broer se oë vol trane geskiet.” Alfredo lees ook Lukas 15:4-7, 10 saam met diegene wat hy besoek, en dan vra hy hulle: “Wat gebeur wanneer ’n verlore skaap na die gemeente terugkeer? Jehovah, Jesus en die engele is verheug—dink net daaraan!”

Alfredo reik nou al die afgelope twee jaar na onbedrywiges uit. Wat was die resultate van sy geduldige pogings? Hy het die vreugde gesmaak om twee broers te help om weer met die gemeente te begin assosieer. Hulle woon die Sondagvergadering nou gereeld by. “Toe hulle in die Koninkryksaal instap, was dit my beurt om ’n paar trane te stort”, sê hy met ’n glimlag. Hy voeg by: “Hoewel hierdie onbedrywiges die vergaderinge begin bywoon het, besoek ek hulle nog steeds elke Vrydag, want hulle sê dat hulle na hierdie weeklikse besoeke uitsien—en ek sien ook daarna uit!”

Beter toesig versterk die eenheid onder God se volk

22. Hoe versterk regverdigheid en vrede die eenheid van die Christengemeente? (Sien ook die venster “Ons was verstom”.)

22 Soos vroeër gemeld is, het Jehovah voorspel dat regverdigheid en vrede bestendig sou toeneem onder God se volk (Jes. 60:17). Albei hierdie eienskappe versterk die eenheid van die gemeentes. Hoe? Wat regverdigheid betref, “God is een Jehovah” (Deut. 6:4). Sy regverdige standaarde verskil nie van gemeentes in een land tot gemeentes in ’n ander land nie. Nee, hy het net een standaard van reg en verkeerd, en dit bly dieselfde vir “al die gemeentes van die heiliges” (1 Kor. 14:33). ’n Gemeente sal dus net floreer wanneer God se standaarde toegepas word. Wat vrede betref, wil ons Koning nie net hê dat ons vrede in die gemeente moet geniet nie, maar ook dat ons vredemakers moet wees (Matt. 5:9). Daarom ‘streef ons die dinge na wat vrede bevorder’. Ons neem die inisiatief om geskille op te los wat soms onder ons ontstaan (Rom. 14:19). Só dra ons tot die vrede sowel as die eenheid van ons gemeente by.—Jes. 60:18.

23. Wat geniet ons vandag as Jehovah se knegte?

23 In November 1895, toe die Watch Tower die eerste ouermanreëling aangekondig het, het die verantwoordelike broers ook ’n opregte begeerte uitgespreek. Wat was dit? Hulle het gewens en gebid dat hierdie nuwe organisatoriese reëling God se volk sou help om “gou die eenheid van die geloof te bewerkstellig”. Wanneer ons oor die dekades terugkyk, is ons dankbaar om te sien dat die geleidelike verfynings in opsienerskap wat Jehovah deur ons Koning teweeggebring het, inderdaad ons eenheid van aanbidding versterk het (Ps. 99:4). Gevolglik is al Jehovah se knegte regoor die aarde vandag verheug terwyl ons “in dieselfde gees” wandel, “dieselfde voetstappe” volg en die “God van vrede” “skouer aan skouer” dien.—2 Kor. 12:18; lees Sefanja 3:9.

a Die resultate van hierdie omvattende navorsing is in die naslaanwerk Aid to Bible Understanding gepubliseer.

b Sien die artikel “Christen- ouer manne—‘Medewerkers vir ons vreugde’”, in Die Wagtoring van 15 Januarie 2013.

Hoe werklik is die Koninkryk vir jou?

  • Watter organisatoriese verbeterings het die Koninkryk teweeggebring?

  • Hoe het aanpassings in die opsienerskap van die gemeente jou gehelp om “die God van vrede” te dien?

  • Watter woorde en dade van ’n ouer man het tot jou vreugde bygedra?

  • Hoe kan jy tot die vrede sowel as die eenheid van die gemeente bydra?

’n Vergadering van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies

HOE DIE BESTUURSLIGGAAM NA KONINKRYKSBELANGE OMSIEN

DIE Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies bestaan uit broers wat gesalfde knegte van Jehovah God is. As ’n groep maak hulle die “getroue en verstandige slaaf” uit. Hulle het die verantwoordelikheid om geestelike voedsel te voorsien en die Koninkrykspredikingswerk regoor die aarde te rig en te bevorder.—Matt. 24:14, 45-47.

Die Bestuursliggaam vergader elke week, gewoonlik op ’n Woensdag. Dit stel hierdie broers in staat om in eenheid saam te werk (Ps. 133:1). Die lede van die Bestuursliggaam dien ook op verskillende komitees. Elke komitee hou toesig oor sekere aspekte van die werk om na Koninkryksbelange om te sien. Hier is ’n opsomming van hulle verantwoordelikhede.

  • Christenbroers koördineer pogings om na die Christenbroederskap om te sien

    Koördineerderskomitee

    Die broers wat op hierdie komitee dien, hou toesig oor regsaangeleenthede asook die gebruik van die media wanneer dit nodig is om ’n akkurate beeld van ons oortuigings oor te dra. Hulle reageer ook op rampe, vervolging en ander noodgevalle wat ons broederskap op enige plek in die wêreld raak.

  • Bethelgesinslede verrig verskeie take

    Personeelkomitee

    Hierdie komitee hou toesig oor reëlings om in die fisiese en geestelike behoeftes van Bethelgesinslede regoor die aarde te voorsien en bystand aan hulle te verleen. Dit hou toesig oor die aanstelling van nuwe Bethelgesinslede en beantwoord vrae oor hulle Betheldiens.

  • ’n Betheliet help met die druk en versending van Bybellektuur

    Uitgewerskomitee

    Die lede van hierdie komitee hou toesig oor die druk en versending van Bybellektuur regoor die aarde. Hulle hou ook toesig oor drukkerye en eiendomme wat besit en bestuur word deur die verskeie korporasies wat deur Jehovah se Getuies gebruik word, sowel as oor alle bouwerk regoor die wêreld, insluitende die bou van Koninkryksale. Hulle reël dat fondse wat vir die Koninkrykswerk bygedra word, ten beste benut word.

  • ’n Christenbroer berei items by ’n lessenaar voor en doen navorsing daarvoor

    Dienskomitee

    Die broers wat hierdie komitee uitmaak, hou toesig oor alle aspekte van die evangelisasiewerk en sake rakende gemeentes, verkondigers, pioniers, ouer manne, reisende opsieners en sendelinge. Hulle hou ook toesig oor talle ander dinge, onder andere die bedrywighede van Hospitaalskakelkomitees.

  • ’n Christenbroer hou ’n toespraak by ’n rostrum

    Onderrigtingskomitee

    Hierdie komitee hou toesig oor die onderrigting wat by byeenkomste en gemeentelike vergaderinge voorsien word. Dit hou ook toesig oor die Gileadskool, die Skool vir Koninkrykspredikers, die Pionierdiensskool sowel as ander skole. Daarbenewens hou hierdie komitee toesig oor die voorbereiding van Ons Christelike Lewe en Bediening—Vergaderingwerkboek en die ontwikkeling van oudio- en videoprogramme.

  • Verskillende publikasieformate, insluitende die webwerf jw.org

    Skryfkomitee

    Die broers wat op hierdie komitee dien, hou toesig oor die voorbereiding van geestelike voedsel in geskrewe en elektroniese formaat vir medegelowiges en die algemene publiek. Dit sien ook om na die organisasie se webwerf en hou toesig oor die vertaalwerk wat regoor die aarde gedoen word. Hierdie komitee beantwoord ook vrae aangaande die betekenis van sekere tekste en punte wat in die publikasies bespreek word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel