Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • jy hfst. 96 bl. 224-bl. 225 par. 7
  • Jesus antwoord ’n ryk jong heerser

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jesus antwoord ’n ryk jong heerser
  • Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Soortgelyke materiaal
  • Jesus en ’n ryk jong owerste
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • Jesus en ’n ryk jong owerste
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • ’n Ryk heerser maak ’n slegte keuse
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Die seën van Jehovah maak ryk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
jy hfst. 96 bl. 224-bl. 225 par. 7
Ryk jong heerser kniel terwyl hy met Jesus praat

HOOFSTUK 96

Jesus antwoord ’n ryk jong heerser

MATTEUS 19:16-30 MARKUS 10:17-31 LUKAS 18:18-30

  • ’N RYK MAN VRA ’N VRAAG OOR DIE EWIGE LEWE

Jesus reis nog steeds deur Perea op pad na Jerusalem. ’n Ryk jong man hardloop na Jesus toe en val op sy knieë voor hom neer. Die man is “een van die heersers”. Hy dien dalk as ’n hoofbeampte van die sinagoge of as ’n lid van die Sanhedrin. Hy vra: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?” – Lukas 8:41; 18:18; 24:20.

“Hoekom noem jy my goed?” vra Jesus. “Niemand is goed nie, behalwe een, God.” Die jong man gebruik “goed” as ’n formele aanspreekvorm, soos wat die rabbi’s doen. Al is Jesus ’n goeie onderrigter, maak hy dit duidelik aan die man dat God die enigste een is wat “Goed” genoem kan word.

“As jy egter die lewe wil ingaan, moet jy aanhou om die gebooie te gehoorsaam,” sê Jesus. Dan vra die jong man: “Watter gebooie?” Jesus noem vyf van die Tien Gebooie – dié oor moord, egbreuk, diefstal, valse getuienis en respek vir jou ouers. Dan noem hy ’n gebod wat belangriker is: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” – Matteus 19:17-19.

“Ek was gehoorsaam aan al hierdie dinge,” antwoord die man. “Wat moet ek nog doen?” (Matteus 19:20). Hy voel dalk dat hy die een of ander heldedaad moet doen om die ewige lewe te kry. Omdat Jesus kan sien dat hy opreg is, voel hy “liefde vir hom” (Markus 10:21). Maar daar is iets wat die man moet oorkom.

Die man is baie geheg aan sy besittings, en daarom sê Jesus: “Daar is nog een ding wat jy moet doen: Gaan verkoop wat jy het en gee die geld vir die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. En kom word my volgeling.” Ja, die man kan sy geld gee aan die armes, wat hom nie kan terugbetaal nie, en ’n volgeling van Jesus word. Maar wanneer Jesus sien hoe die man opstaan en hartseer wegloop, voel hy waarskynlik jammer vir hom. Die man is so geheg aan sy rykdom, aan sy “baie besittings”, dat hy nie kan sien wat werklik waardevol is nie (Markus 10:21, 22). Jesus sê: “Hoe moeilik sal dit tog vir mense met geld wees om in die Koninkryk van God in te gaan!” – Lukas 18:24.

Die dissipels is verbaas deur hierdie woorde en deur wat Jesus volgende sê: “Om die waarheid te sê, dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die Koninkryk van God in te gaan.” Dit laat die dissipels vra: “Wie kan dan gered word?” Hulle wil weet of dit dan te moeilik is vir mense om gered te word. Jesus kyk reguit na hulle en sê: “Die dinge wat onmoontlik is vir mense, is moontlik vir God.” – Lukas 18:25-27.

Petrus noem dat hulle ’n ander keuse as die ryk man gemaak het en sê: “Ons het alles agtergelaat en u gevolg. Wat sal daar dan vir ons wees?” Jesus sê dan wat die gevolg van hulle goeie keuse sal wees: “In die herskepping, wanneer die Seun van die mens op sy glorieryke troon gaan sit, sal julle wat my gevolg het, op 12 trone sit en die 12 stamme van Israel oordeel.” – Matteus 19:27, 28.

Dit is duidelik dat Jesus praat van ’n tyd in die toekoms wanneer alles op die aarde nuut gemaak sal word en toestande sal wees soos dit in die tuin van Eden was. Petrus en die ander dissipels sal beloon word – hulle sal saam met Jesus oor die aardse Paradys regeer, ’n beloning wat enige opoffering werd is!

Maar hulle sal nie net in die toekoms beloon word nie. Sy dissipels word selfs nou beloon. Jesus sê: “Ek verseker julle dat elkeen wat huis of vrou of broers of ouers of kinders ter wille van die Koninkryk van God verlaat het, in hierdie tyd baie keer soveel sal kry, en in die wêreld wat kom, die ewige lewe.” – Lukas 18:29, 30.

Ja, waar sy dissipels ook al gaan, hulle kan ’n unieke band hê met hulle mede-aanbidders wat hegter en kosbaarder is as die band wat hulle met hulle natuurlike familielede het. Dit lyk ongelukkig of die ryk jong heerser nie hierdie seëning of die beloning van lewe in God se Koninkryk gaan ontvang nie.

Jesus voeg by: “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en baie wat laaste is, sal eerste wees” (Matteus 19:30). Wat bedoel hy?

Die ryk jong heerser is onder dié wat “eerste is,” die Joodse leiers. Omdat hy God se gebooie gehoorsaam, het hy baie potensiaal en word daar dalk baie van hom verwag. Maar rykdom en besittings is vir hom belangriker as enigiets anders in die lewe. In teenstelling hiermee sien die gewone mense van die land die waarheid en die weg na die lewe in Jesus se leringe. Tot nou toe was hulle “laaste”, maar hulle sal “eerste” word. Hulle kan daarna uitsien om saam met Jesus in die hemel op trone te sit en om oor die Paradysaarde te regeer.

  • Watter soort man kom na Jesus toe?

  • Hoekom wil Jesus nie “goed” genoem word nie?

  • Watter belonings belowe Jesus sy volgelinge?

  • Hoe word die “eerste” “laaste” en die “laaste” “eerste”?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel