Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • jy hfst. 101 bl. 236-bl. 237 par. 2
  • ’n Ete by Simon se huis in Betanië

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Ete by Simon se huis in Betanië
  • Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Soortgelyke materiaal
  • In Betanië, in die huis van Simon
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • In Betanië, in die huis van Simon
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Jesus maak Lasarus weer lewend
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Hoekom Jesus nie haastig was nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
Sien nog
Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
jy hfst. 101 bl. 236-bl. 237 par. 2
Maria gooi lekkerruik-olie op Jesus se kop terwyl hy aan tafel is

HOOFSTUK 101

’n Ete by Simon se huis in Betanië

MATTEUS 26:6-13 MARKUS 14:3-9 JOHANNES 11:55–12:11

  • JESUS KEER TERUG NA BETANIË, NABY JERUSALEM

  • MARIA GOOI LEKKERRUIK-OLIE OP JESUS SE KOP EN VOETE

Jesus vertrek uit Jerigo en gaan na Betanië. Hierdie reis sluit ’n klim van sowat 20 kilometer oor moeilike terrein in. Jerigo is omtrent 250 meter onder seevlak, en Betanië is omtrent 610 meter bo seevlak. Lasarus en sy twee susters woon in die klein dorpie Betanië, wat omtrent drie kilometer van Jerusalem en teen die oostelike hang van die Olyfberg is.

Baie Jode is reeds in Jerusalem vir die Pasga. Hulle het vroeg gekom “om hulle seremonieel te reinig” ingeval hulle aan ’n dooie liggaam geraak het of iets anders gedoen het wat hulle onrein maak (Johannes 11:55; Numeri 9:6-10). Party van dié wat vroeg kom, kom by die tempel bymekaar. Hulle wonder of Jesus na die Pasga sal kom. – Johannes 11:56.

Daar is groot onenigheid oor Jesus. Party godsdiensleiers wil hom gevange neem en hom laat doodmaak. Hulle het selfs die bevel gegee dat enigiemand wat weet waar Jesus is, dit aan hulle moet rapporteer “sodat hulle hom gevange kan neem” (Johannes 11:57). Hierdie leiers het alreeds probeer om Jesus dood te maak nadat hy Lasarus opgewek het (Johannes 11:49-53). Dit is dus verstaanbaar dat party dalk twyfel of Jesus in die openbaar sal verskyn.

Jesus kom op die Vrydag in Betanië aan, “ses dae voor die Pasga” (Johannes 12:1). ’n Nuwe dag (Sabbat, 8 Nisan) begin met sononder. Hy het dus sy reis voor die Sabbat voltooi. Hy kon nie op die Sabbat – van sononder Vrydag tot sononder Saterdag – vanuit Jerigo vertrek het nie, want reise op die Sabbat word deur die Joodse wet verbied. Jesus gaan waarskynlik na Lasarus se huis, soos hy al voorheen gedoen het.

Simon, wat ook in Betanië woon, nooi Jesus en sy metgeselle, insluitende Lasarus, om die Saterdagaand by hom te kom eet. Simon word “die melaatse” genoem, miskien omdat hy voorheen ’n melaatse was wat deur Jesus genees is. Soos gewoonlik werk Marta hard om die gaste te bedien. Maria skenk veral aandag aan Jesus, hierdie keer op ’n manier wat ’n probleem veroorsaak.

Maria maak ’n albasterfles oop, wat omtrent “’n pond lekkerruik-olie . . . , egte nardus” bevat (Johannes 12:3). Hierdie olie is baie duur; die waarde daarvan (300 denarii) is gelyk aan omtrent ’n jaar se loon! Maria gooi die olie op Jesus se kop en voete en droog sy voete met haar hare af. Die huis word gevul met die lekker reuk van die olie.

Die dissipels is kwaad en vra: “Hoekom is hierdie olie gemors?” (Markus 14:4). Judas Iskariot vra: “Hoekom is hierdie olie nie vir 300 denarii verkoop en die geld vir die armes gegee nie?” (Johannes 12:5). Judas is nie regtig bekommerd oor die armes nie. Hy steel al ’n tyd lank uit die geldkissie wat hy vir die dissipels hou.

Jesus verdedig Maria deur te sê: “Hoekom maak julle dit so moeilik vir die vrou? Sy het iets goeds vir my gedoen. Want julle het altyd die armes by julle, maar julle sal my nie altyd hê nie. Toe sy hierdie olie op my liggaam uitgegooi het, het sy dit gedoen om my vir my begrafnis voor te berei. Ek verseker julle: Oral waar hierdie goeie nuus in die wêreld verkondig word, sal wat hierdie vrou gedoen het, ook vertel word, en sy sal hiervoor onthou word.” – Matteus 26:10-13.

Jesus is nou al meer as ’n dag lank in Betanië, en die nuus dat hy daar is, het versprei. Baie Jode kom na Simon se huis, nie net om Jesus te sien nie, maar ook om Lasarus te sien, “wat [Jesus] uit die dood opgewek het” (Johannes 12:9). Die hoofpriesters beraam nou planne om Jesus sowel as Lasarus dood te maak. Hierdie godsdiensleiers glo dat baie mense geloof in Jesus stel as gevolg van die feit dat Lasarus weer lewe. Hoe goddeloos is hierdie godsdiensleiers tog!

  • Wat bespreek die Jode by die tempel?

  • Hoekom het Jesus die Vrydag in Betanië aangekom en nie die Saterdag nie?

  • Wat doen Maria wat ’n probleem veroorsaak, en hoe verdedig Jesus haar?

  • Wat wys hoe goddeloos die hoofpriesters is?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel