HOOFSTUK TWAALF
Hoe kan jy God se vriend word?
1, 2. Wie was party van Jehovah se vriende?
WIE wil jy as jou vriend hê? Iemand van wie jy hou. Iemand met wie jy goed oor die weg kom. Iemand wat liefdevol is en eienskappe het wat jy bewonder.
2 Jehovah God kies party mense om sy vriende te wees. Abraham was byvoorbeeld een van Jehovah se vriende (Jesaja 41:8; Jakobus 2:23). Jehovah was ook lief vir Dawid. Hy het gesê dat Dawid ‘’n man na sy hart’ was (Handelinge 13:22). En die profeet Daniël was vir Jehovah ’n “baie geliefde man”. – Daniël 9:23.
3. Wat verwag Jehovah van sy vriende?
3 Hoe het Abraham, Dawid en Daniël vriende van Jehovah geword? Jehovah het vir Abraham gesê: ‘Jy het na my stem geluister’ (Genesis 22:18). Jehovah word ’n vriend van mense wat hom nederig gehoorsaam. Selfs ’n hele nasie kan sy vriende word. Jehovah het vir die nasie Israel gesê: “Gehoorsaam my stem, en ek sal julle God word, en julle sal my volk word” (Jeremia 7:23). As jy Jehovah gehoorsaam, kan jy ook sy vriend word.
JEHOVAH BESKERM SY VRIENDE
4, 5. Hoe beskerm Jehovah sy vriende?
4 Die Bybel sê dat Jehovah na maniere soek “om dié te ondersteun wat met hulle hele hart op hom vertrou” (2 Kronieke 16:9). Jehovah belowe sy vriende in Psalm 32:8: “Ek sal jou insig gee en jou die weg wys wat jy moet volg. Ek sal jou raad gee met my oog op jou.”
5 Daar is ’n magtige vyand wat nie wil hê dat ons God se vriende moet wees nie. Maar Jehovah wil ons beskerm. (Lees Psalm 55:22.) Ons is vriende van Jehovah en ons dien hom met ons hele hart. Ons is getrou aan hom selfs onder moeilike omstandighede. En ons het dieselfde vertroue as wat die psalmis gehad het. Hy het oor Jehovah geskryf: “Omdat hy aan my regterhand is, sal ek altyd standvastig wees” (Psalm 16:8; 63:8). Hoe probeer Satan ons keer om God se vriende te wees?
SATAN SE BESKULDIGING
6. Wat het Satan oor mense gesê?
6 In Hoofstuk 11 het ons geleer dat Satan Jehovah se reg om te regeer bevraagteken het. Satan het God ook daarvan beskuldig dat hy ’n leuenaar is en dat hy onregverdig was deur nie toe te laat dat Adam en Eva self besluit wat reg is en wat verkeerd is nie. Die Bybelboek Job leer ons dat Satan mense wat God se vriende wil wees, ook beskuldig. Satan sê dat hulle God dien as gevolg van wat hulle van Hom kan kry en nie omdat hulle Hom liefhet nie. Satan sê selfs dat hy enigiemand teen God kan laat draai. Kom ons kyk wat ons by Job kan leer en hoe Jehovah hom beskerm het.
7, 8. (a) Hoe het Jehovah oor Job gevoel? (b) Wat het Satan oor Job gesê?
7 Wie was Job? Hy was ’n goeie man wat ongeveer 3 600 jaar gelede gelewe het. Jehovah het gesê dat daar op daardie tyd geen mens soos hy op die aarde was nie. Job het diep respek vir God gehad, en hy het gehaat wat sleg is (Job 1:8). Ja, Job was ’n ware vriend van Jehovah.
8 Satan het gesê dat Job God weens selfsugtige redes dien. Satan het vir Jehovah gesê: “Het u nie ’n beskermende muur om hom, sy huis en alles wat hy het, geplaas nie? U seën alles wat hy doen, en sy vee het baie geword. Maar raak net vir ’n verandering aan alles wat hy het, dan sal hy u beslis in u gesig vervloek.” – Job 1:10, 11.
9. Wat het Jehovah Satan toegelaat om te doen?
9 Satan het Job daarvan beskuldig dat hy Jehovah net dien vir wat hy van Hom kan kry. Satan het ook gesê dat hy Job kan kry om op te hou om Jehovah te dien. Jehovah het nie met Satan saamgestem nie, maar Hy het Satan toestemming gegee om te toets of Job ’n vriend van Jehovah is omdat Job Jehovah liefhet.
SATAN VAL JOB AAN
10. Hoe het Satan Job aangeval, en hoe het Job gereageer?
10 Satan het eers gesorg dat al Job se diere gesteel of doodgemaak word. Toe is die meeste van Job se knegte doodgemaak. Job het alles verloor. In ’n finale aanval het Satan Job se tien kinders in ’n storm laat sterf. Maar Job het getrou aan Jehovah gebly. “Ten spyte van alles wat met Job gebeur het, het hy nie gesondig of God van iets verkeerds beskuldig nie.” – Job 1:12-19, 22.
Jehovah het Job beloon vir sy getroue vriendskap
11. (a) Wat het Satan nog aan Job gedoen? (b) Hoe het Job gereageer?
11 Satan het nie opgegee nie. Hy het God uitgedaag deur te sê: “Raak net . . . aan sy liggaam, dan sal hy u beslis in u gesig vervloek.” Toe het Satan Job met ’n baie pynlike siekte getref (Job 2:5, 7). Maar Job het getrou aan Jehovah gebly. Hy het gesê: “Totdat ek sterf, sal ek nie my integriteit prysgee nie!” – Job 27:5.
12. Hoe het Job bewys dat Satan ’n leuenaar is?
12 Job het nie geweet van die beskuldigings wat Satan teen hom gemaak het of hoekom hy so gely het nie. Hy het gedink dat Jehovah sy probleme veroorsaak (Job 6:4; 16:11-14). Maar al het hy so gedink, het Job nog steeds getrou aan Jehovah gebly. Dit alles het bewys dat Job nie selfsugtig was nie en dat hy God se vriend was omdat hy Hom liefgehad het. Al Satan se beskuldigings was leuens!
13. Wat was die gevolg van Job se getrouheid?
13 Al het Job nie geweet wat in die hemel gebeur nie, het hy getrou gebly aan God en bewys dat Satan goddeloos is. Jehovah het Job beloon vir sy getroue vriendskap. – Job 42:12-17.
HOE SATAN JOU BESKULDIG
14, 15. Waarvan het Satan alle mense beskuldig?
14 Jy kan belangrike lesse leer uit wat met Job gebeur het. Vandag beskuldig Satan ons daarvan dat ons Jehovah dien vir wat ons van Hom kan kry. In Job 2:4 het Satan gesê: “’n Mens sal alles gee wat hy het in ruil vir sy lewe.” Satan beskuldig dus alle mense daarvan dat hulle selfsugtig is. Honderde jare nadat Job gesterf het, het Satan Jehovah nog steeds beledig en Sy knegte beskuldig. Byvoorbeeld, in Spreuke 27:11 lees ons: “Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek hom wat my uittart [of beledig], ’n antwoord kan gee.”
15 Jy kan kies om Jehovah te gehoorsaam en Sy getroue vriend te wees. As jy dit doen, sal jy bewys dat Satan ’n leuenaar is. Selfs al moet jy groot veranderinge in jou lewe maak om God se vriend te word, is dit die beste besluit wat jy ooit kan neem! Dit is ’n baie ernstige besluit. Satan sê dat jy nie aan God getrou sal wees wanneer jy probleme het nie. Hy probeer om ons te mislei sodat ons nie aan God getrou sal wees nie. Hoe doen hy dit?
16. (a) Watter metodes gebruik Satan om te probeer keer dat mense Jehovah dien? (b) Hoe sal die Duiwel jou dalk probeer keer om Jehovah te dien?
16 Satan gebruik baie verskillende metodes om ons te probeer keer om God se vriend te wees. Hy val ons aan soos “’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind” (1 Petrus 5:8). Moenie verbaas wees wanneer jou vriende, familielede of ander jou probeer keer om die Bybel te studeer en om te doen wat reg is nie. Jy sal dalk voel asof jy aangeval word (Johannes 15:19, 20).a Satan gee ook voor dat hy “’n engel van lig” is. Daarom sal hy ons dalk probeer mislei om ongehoorsaam aan Jehovah te wees (2 Korintiërs 11:14). Nog ’n metode wat Satan gebruik om te keer dat ons Jehovah dien, is om ons te laat dink dat ons nie goed genoeg is om God te dien nie. – Spreuke 24:10.
GEHOORSAAM JEHOVAH SE GEBOOIE
17. Hoekom is ons gehoorsaam aan Jehovah?
17 Wanneer ons Jehovah gehoorsaam, bewys ons dat Satan ’n leuenaar is. Wat sal ons help om gehoorsaam te wees? Die Bybel sê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en al jou krag” (Deuteronomium 6:5). Ons gehoorsaam Jehovah omdat ons lief is vir hom. Wanneer ons liefde vir Jehovah sterker word, sal ons alles wil doen wat hy ons vra om te doen. Die apostel Johannes het geskryf: “Die liefde vir God beteken dat ons sy gebooie gehoorsaam. En tog is sy gebooie nie swaar nie.” – 1 Johannes 5:3.
18, 19. (a) Wat is van die dinge wat Jehovah sê verkeerd is? (b) Hoe weet ons dat Jehovah ons nie vra om iets te doen wat ons nie kan doen nie?
18 Maar wat is van die dinge wat Jehovah vir ons sê verkeerd is? Daar is ’n paar voorbeelde in die venster “Haat wat Jehovah haat”. Jy sal dalk eers dink dat van hierdie dinge nie so sleg is nie. Maar wanneer jy die Bybelverse lees en mooi daaroor dink, sal jy besef hoe wys dit is om Jehovah se wette te gehoorsaam. Jy sal dalk ook voel dat jy ’n paar veranderinge in jou lewe moet maak. As jy hierdie veranderinge maak, selfs al is dit soms moeilik, sal jy die vrede en geluk ondervind wat ’n mens het wanneer jy ’n getroue vriend van God is (Jesaja 48:17, 18). Hoe weet ons dat dit moontlik is om hierdie veranderinge te maak?
19 Jehovah vra ons nooit om iets te doen wat ons nie kan doen nie (Deuteronomium 30:11-14). Hy is ’n ware Vriend, en hy ken ons beter as wat ons onsself ken. Hy ken ons sterk punte en swakhede (Psalm 103:14). Die apostel Paulus het ons aangemoedig met die woorde: “God is getrou, en hy sal nie toelaat dat julle ’n versoeking deurmaak wat julle nie kan hanteer nie, maar saam met die versoeking sal hy ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur” (1 Korintiërs 10:13). Ons kan die vertroue hê dat Jehovah ons altyd die krag sal gee om te doen wat reg is. Hy sal jou “die krag wat bo die normale is” gee om jou te help om moeilike situasies te verduur (2 Korintiërs 4:7). Nadat Paulus Jehovah se hulp gedurende sulke tye ondervind het, kon hy sê: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.” – Filippense 4:13.
LEER OM DIE DINGE LIEF TE HÊ WAARVOOR GOD LIEF IS
20. Watter eienskappe moet jy hê, en hoekom?
20 As ons Jehovah se vriend wil wees, moet ons ophou om dinge te doen wat Jehovah sê verkeerd is. Maar dit is nie al nie (Romeine 12:9). God se vriende is lief vir die dinge waarvoor hy lief is. Sy vriende word beskryf in Psalm 15:1-5. (Lees.) Jehovah se vriende probeer om dieselfde eienskappe as hy te hê, naamlik “liefde, vreugde, vrede, geduld, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid [en] selfbeheersing”. – Galasiërs 5:22, 23.
21. Wat moet jy doen as jy die eienskappe wil hê waarvoor God lief is?
21 Wat moet jy doen as jy graag hierdie pragtige eienskappe wil hê? Jy moet leer waarvoor Jehovah lief is deur die Bybel gereeld te lees en te studeer (Jesaja 30:20, 21). Wanneer jy dit doen, sal jou liefde vir Jehovah sterker word, en wanneer jou liefde vir hom sterker word, sal jy hom wil gehoorsaam.
22. Wat sal gebeur as jy gehoorsaam is aan Jehovah?
22 Die veranderinge wat jy dalk in jou lewe moet maak, kan daarmee vergelyk word om ou klere uit te trek en nuwe klere aan te trek. Die Bybel sê dat jy “die ou persoonlikheid” moet uittrek en “die nuwe persoonlikheid” moet aantrek (Kolossense 3:9, 10). Al is dit dalk nie maklik nie, belowe Jehovah om ons “’n groot beloning” te gee wanneer ons hierdie veranderinge maak en hom gehoorsaam (Psalm 19:11). Ja, kies om Jehovah te gehoorsaam en bewys dat Satan ’n leuenaar is. Moenie Jehovah dien net omdat jy hoop om in die toekoms beloon te word nie – dien hom eerder omdat jy vir hom lief is. Dan sal jy ’n ware vriend van God word!
a Dit beteken nie dat Satan die mense beheer wat jou probeer keer om die Bybel te studeer nie. Maar Satan is “die god van hierdie wêreld”, en “die hele wêreld is in die mag van die Duiwel”. Daarom verbaas dit ons nie wanneer sommige mense ons probeer keer om Jehovah te dien nie. – 2 Korintiërs 4:4; 1 Johannes 5:19.