Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • rj deel 5 bl. 12-15
  • Keer terug na “die herder en opsiener van julle siele”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Keer terug na “die herder en opsiener van julle siele”
  • Keer terug na Jehovah
  • Soortgelyke materiaal
  • “Keer terug na my”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Hy maak jou sterk
    ‘Sing met vreugde’ vir Jehovah
  • Hy maak jou sterk
    Sing vir Jehovah
  • Jehovah is verskriklik lief vir jou!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
Sien nog
Keer terug na Jehovah
rj deel 5 bl. 12-15

DEEL VYF

Keer terug na “die herder en opsiener van julle siele”

Kon jy jou identifiseer met een of meer van die uitdagings wat in hierdie brosjure bespreek is? Indien wel, is jy in goeie geselskap. Talle getroue knegte van God—in Bybeltye sowel as in ons dag—het voor soortgelyke uitdagings te staan gekom. Net soos Jehovah hulle gehelp het om sulke uitdagings die hoof te bied, kan hy jou ook help.

Jehovah sal daar wees vir jou wanneer jy na hom terugkeer

WEES VERSEKER dat Jehovah daar sal wees vir jou wanneer jy na hom terugkeer. Hy sal jou help om sorge die hoof te bied, om seergemaakte gevoelens te verwerk en om die gemoedsrus te vind wat ’n skoon gewete jou sal gee. Dan sal jy dalk weer voel dat jy Jehovah saam met medeaanbidders wil dien. Jou situasie sal soortgelyk wees aan dié van party eerste-eeuse Christene, aan wie die apostel Petrus geskryf het: “Julle was soos skape wat wegdwaal; maar nou het julle teruggekeer tot die herder en opsiener van julle siele.”—1 Petrus 2:25.

Om na Jehovah terug te keer is die heel beste ding wat jy kan doen. Waarom? Jy sal Jehovah se hart bly maak (Spreuke 27:11). Soos jy weet, het Jehovah gevoelens. Wat ons doen, het ’n uitwerking op hom. Jehovah dwing ons natuurlik nie om hom lief te hê en hom te dien nie (Deuteronomium 30:19, 20). Een Bybelgeleerde het dit so gestel: “Daar is geen handvatsel aan die buitekant van die deur tot die mens se hart nie. Dit moet van binne af oopgemaak word.” As ons Jehovah met ’n hart vol liefde aanbid, kan ons besluit om daardie deur oop te maak. Wanneer ons dit doen, gee ons hom ’n kosbare geskenk—ons onkreukbaarheid—en maak ons sy hart baie, baie bly. Daar is niks wat kan vergelyk met die geluk wat ons ervaar wanneer ons Jehovah die aanbidding gee wat hy verdien nie.—Handelinge 20:35; Openbaring 4:11.

’n Onbedrywige Christensuster word liefdevol in die gemeente terugverwelkom

En wanneer jy jou roetine van Christelike aanbidding hervat, sal jou geestelike behoefte bevredig word (Matteus 5:3). Hoe so? Mense regoor die aarde wonder: ‘Waarom is ons hier?’ Hulle smag na antwoorde op vrae oor die doel van die lewe. Mense het hierdie behoefte omdat Jehovah hulle so geskep het. Hy het ons gemaak om bevrediging te vind wanneer ons hom dien. Niks maak ons gelukkiger as om te weet dat ons Jehovah uit liefde aanbid nie.—Psalm 63:1-5.

Wees asseblief verseker dat Jehovah wil hê dat jy na hom moet terugkeer. Waarom sê ons so? Dink hieraan: Hierdie brosjure is biddend en met groot sorg voorberei. Dalk het ’n Christen- ouer man of ’n ander medegelowige dit vir jou gegee of jou daarvan vertel. Toe is jy beweeg om dit te lees en op die boodskap hierin ag te slaan. Dit alles bewys dat Jehovah jou nie vergeet het nie. Trouens, hy trek jou liefdevol terug na hom toe.—Johannes 6:44.

Dit is vertroostend om te weet dat Jehovah nooit vergeet van sy knegte wat weggedwaal het nie. Dit is wat ’n suster genaamd Donna besef het. Sy het gesê: “Ek het geleidelik van die waarheid weggedryf, maar ek het dikwels oor Psalm 139:23, 24 nagedink, wat sê: ‘Deurvors my, o God, en ken my hart. Ondersoek my, en ken my verontrustende gedagtes, en kyk of daar in my enigsins ’n pynlike weg is, en lei my op die weg van onbepaalde tyd.’ Ek het geweet dat ek nie in die wêreld hoort nie—ek het nooit werklik ingepas nie. Ek het geweet dat ek eerder in Jehovah se organisasie moet wees. Ek het besef dat Jehovah my nooit verlaat het nie; ek moes net na hom terugkeer. En ek is so bly dat ek dit gedoen het!”

“Ek het besef dat Jehovah my nooit verlaat het nie; ek moes net na hom terugkeer”

Dit is ons opregte gebed dat jy ook weer “die vreugde van Jehovah” sal ervaar (Nehemia 8:10). Jy sal nooit spyt wees dat jy na Jehovah teruggekeer het nie.

Antwoorde op vrae vir diegene wat na Jehovah wil terugkeer

WAAR BEGIN EK?

’n Onbedrywige Christensuster lees die Bybel

Iemand wat siek was, sal dalk geleidelik weer in sy gewone roetine moet inkom. So ook kan jy jou geestelike krag geleidelik weer opbou deur elke dag ten minste ’n bietjie geestelike voedsel in te neem. Moenie dink dat jy alles op een slag hoef te doen nie. Miskien kan jy ’n paar minute gebruik om die Bybel te lees of na ’n opname daarvan te luister, een van ons publikasies te studeer, die webwerf jw.org te besoek of na een van die programme op jw.org te kyk. Probeer ook om so gou as moontlik ’n gemeentelike vergadering by te woon. Bid bowenal tot Jehovah en vra hom om jou te help. ‘Werp al jou sorge op hom, want hy gee om vir jou.’—1 Petrus 5:7, NW.

“Nadat ek onbedrywig geword het, het ek so skaam gevoel dat ek nie eens wou bid nie. Toe ek uiteindelik die moed bymekaargeskraap het om te bid, het ’n ouer man van die plaaslike gemeente my besoek. Hy het my gehelp om te besef dat Jehovah my nie afgeskryf het nie. Die ouer man het voorgestel dat ek begin deur die Bybel elke dag te lees. Nadat ek dit gedoen het, het ek sterk genoeg gevoel om die vergaderinge weer by te woon. Later het ek weer aan die bediening begin deelneem. Ek is so bly dat Jehovah my nooit afgeskryf het nie.”—Eeva.

HOE SAL DIE GEMEENTE REAGEER?

Jy kan seker wees dat die gemeente jou hartlik sal verwelkom. Hulle sal jou nie kritiseer of oordeel nie, maar eerder hulle liefde vir jou bevestig en alles in hulle vermoë doen om jou aan te moedig.—Hebreërs 10:24, 25.

“Ek was skaam om weer Koninkryksaal toe te gaan. Ek het gewonder hoe die broers my sou behandel. Een van die bejaarde susters wat 30 jaar vroeër daar was, het vir my gesê: ‘Welkom terug, Seun!’ Dit het regtig my hart geraak. Ek het so tuis gevoel.”—Javier.

“Ek het na die Koninkryksaal gegaan en in die agterste ry gesit sodat niemand my sou sien nie. Maar baie het my herken, aangesien ek vergaderinge as ’n kind bygewoon het. Hulle het my so hartlik verwelkom en omhels dat ek ’n onbeskryflike gevoel van vrede ervaar het. Dit was asof ek weer tuis was.”—Marco.

HOE SAL DIE OUER MANNE MY HELP?

Die ouer manne sal jou liefdevol behandel. Hulle sal jou prys vir jou begeerte om “die liefde wat jy eers gehad het” weer aan te wakker (Openbaring 2:4). Hulle sal jou met barmhartigheid en “in ’n gees van sagmoedigheid” help om enige foute wat jy gemaak het, reg te stel (Galasiërs 6:1; Spreuke 28:13). Die ouer manne sal moontlik reël dat iemand met jou studeer, deur dalk gebruik te maak van ’n publikasie soos Geniet die lewe vir ewig! of Kom nader aan Jehovah. Wees verseker dat die ouer manne jou deurgaans sal vertroos en ondersteun.—Jesaja 32:1, 2.

“Gedurende die agt jaar wat ek onbedrywig was, het die ouer manne aangehou om na my uit te reik. Eendag het ’n ouer man vir my foto’s gewys wat hy van ons geneem het. Dit het soveel wonderlike herinneringe teruggebring dat ek begin verlang het na die vreugde wat ek gehad het toe ek Jehovah gedien het. Die ouer manne het my liefdevol gehelp om weer in ’n geestelike roetine te kom.”—Victor.

“Hy maak jou sterk”

Twee susters deel ’n liedereboek tydens ’n gemeentelike vergadering

In ons sangboek ‘Sing met vreugde vir Jehovah’, is daar ’n paar liedjies wat jou hart sal raak. Dit sal jou vertroos en aanmoedig terwyl jy weer geestelik bedrywig raak. Kyk byvoorbeeld na die woorde van lied 38. Hierdie lied, met die titel “Hy maak jou sterk”, is gebaseer op die woorde in 1 Petrus 5:10.

  1. Met goeie rede het Jehovah jou gelei

    uit duisternis na helder waarheidslig.

    Hy’t in jou hart gesien hoe vurig jy begeer

    om hom te dien en sy wil te verrig.

    Jy het beloof dat jy hom sal bly dien;

    soos destyds sal hy nou nog hulp voorsien.

  2. Vir jou het God sy mees geliefde Seun gegee;

    hy wil dus hê dat jy sukses moet smaak.

    Die feit dat hy sy Seun nie t’ruggehou het nie;

    dit waarborg dat Hy jou nooit sal verlaat.

    Jou werk en liefde sal hy nie vergeet;

    hy sorg vir al sy knegte, soos jy weet.

    (REFREIN)

    Jy is gekoop ten duurste, aan God behoort jy nou.

    Jehovah maak jou sterk; standvastig maak hy jou.

    Hy gee jou sy beskerming, sal jou altyd onthou.

    Jehovah maak jou sterk; standvastig maak hy jou.

Sing vir Jehovah—Kooropnames

Jy kan na die musiek van hierdie en ander Koninkryksliedjies luister deur te gaan na jw.org.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel