Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • lfb les 91 bl. 212-bl. 213 par. 1
  • Jesus word lewend gemaak

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jesus word lewend gemaak
  • Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Soortgelyke materiaal
  • God onthou sy Seun
    Leer by die Groot Onderwyser
  • Jesus lewe
    My boek met Bybelverhale
  • ’n Leë graf – want Jesus lewe!
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Jesus leef!
    Die grootste mens wat nog geleef het
Sien nog
Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
lfb les 91 bl. 212-bl. 213 par. 1
Vrouens is verbaas toe hulle sien dat Jesus se graf leeg is

LES 91

Jesus word lewend gemaak

Ná Jesus se dood het ’n ryk man met die naam Josef vir Pilatus gevra of hy Jesus se liggaam van die paal kan gaan afhaal. Josef het die liggaam in fyn linne en speserye toegedraai en dit in ’n nuwe graf neergelê. Hy het ’n groot klip voor die ingang laat rol. Die hoofpriesters het vir Pilatus gesê: ‘Ons is bang dat party van Jesus se dissipels sy liggaam sal vat en dan sal sê dat hy weer lewend geword het.’ Pilatus het toe vir hulle gesê: ‘Maak die graf toe, en laat ’n wag dit oppas.’

Drie dae later het ’n paar vroue, vroeg in die oggend, na die graf toe gegaan en gesien dat iemand die klip weggerol het. Binne-in die graf het ’n engel vir die vroue gesê: ‘Moenie bang wees nie. Jesus is lewend gemaak. Gaan en sê vir sy dissipels om hom in Galilea te ontmoet.’

Maria Magdalena het vinnig na Petrus en Johannes toe gegaan. Sy het vir hulle gesê: ‘Iemand het Jesus se liggaam gevat!’ Petrus en Johannes het na die graf gehardloop. Toe hulle sien dat dit leeg is, het hulle teruggegaan huis toe.

Toe Maria na die graf teruggaan, het sy twee engele daar gesien en vir hulle gesê: ‘Ek weet nie waarheen hulle my Here geneem het nie.’ Toe het sy ’n man gesien. Sy het gedink dat hy die tuinier is en het vir hom gesê: ‘Asseblief meneer, sê vir my waarheen u hom gevat het.’ Maar toe die man sê: “Maria!”, het sy geweet dat dit Jesus is. Sy het uitgeroep: “Leermeester!” en hom vasgehou. Jesus het vir haar gesê: ‘Gaan sê vir my broers dat jy my gesien het.’ Maria het dadelik na die dissipels toe gehardloop en vir hulle gesê dat sy Jesus gesien het.

Later daardie dag was twee dissipels besig om van Jerusalem af na Emmaus toe te loop. ’n Man het saam met hulle begin loop en vir hulle gevra waaroor hulle praat. Hulle het gesê: ‘Het jy nie gehoor nie? Die hoofpriesters het Jesus drie dae gelede laat doodmaak. Nou is daar vrouens wat sê dat hy lewe!’ Die man het gevra: ‘Glo julle nie die profete nie? Hulle het gesê dat die Christus sou sterf en dan weer lewend gemaak sou word.’ Hy het vir hulle nog dinge uit die Skrif verduidelik. Toe hulle by Emmaus aankom, het die dissipels die man gevra om saam met hulle te kom. Nadat hy by die aandete vir die brood gebid het, het hulle besef dat dit Jesus was. Toe het hy verdwyn.

Die twee dissipels het vinnig na Jerusalem toe gegaan. Hulle het na die huis gegaan waar die apostels bymekaar was en vir hulle vertel wat gebeur het. Terwyl hulle daar binne-in die huis was, het Jesus aan hulle almal verskyn. Eers kon die apostels nie glo dat dit Jesus is nie. Toe het hy gesê: ‘Kyk na my hande; raak aan my. Daar staan geskryf dat die Christus uit die dood sou opstaan.’

“Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.” – Johannes 14:6

Vrae: Wat het gebeur toe die vroue na Jesus se graf gegaan het? Wat het op pad na Emmaus gebeur?

Matteus 27:57–28:10; Markus 15:42–16:8; Lukas 23:50–24:43; Johannes 19:38–20:23

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel