Psalms
‘Dien Jehovah met blydskap’
ONS Maker, Jehovah, is ’n “gelukkige God” en wil hê dat sy knegte genot moet put uit die getroue uitvoering van sy bevele (1 Tim. 1:11, NW; Jak. 1:25; Openb. 1:3). Hierdie bevele is in liefde gewortel, want “die liefde doen die naaste geen kwaad nie” (Rom. 13:8-10). Dit is waarom gehoorsaamheid aan die Skepper tot die geluk van ander bydra en ook verseker dat ’n mens ’n gelukkige lewe van vergenoegdheid lei.
Behoort die mense van alle nasies hulle dus nie in Jehovah te verheug nie? Dit is wat die geïnspireerde psalmis voorgestaan het toe hy gesê het: “Juig voor die HERE, o ganse aarde! Dien die HERE met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel” (Ps. 100:1, 2). In ooreenstemming met hierdie vermaning moet ons lofbetuigings nie flou wees nie, maar sterk en kragtig, soos die ‘triomfantelike kreet’ van ’n leer wat ’n klinkende oorwinning behaal het. Die posisie van God se knegte is nie die van vreesagtige, kruipende slawe nie. Diens aan God is nie swaar en verdrukkend nie, en bring nie mee dat ’n mens onnodig ernstig en droefgeestig is nie (1 Joh. 5:3). Daardie diens is verkwikkend, opwekkend, en moet tereg met blydskap gepaard gaan. Dit is om hierdie rede dat die psalmis mense aangespoor het om “met gejubel” in God se teenwoordigheid te verskyn.
’n Basiese vereiste indien ’n mens heilige diens wil lewer, is erkenning van die feit dat Jehovah die mens se God en Maker is. Die psalmis het gesê: “Erken dat [Jehovah] God is: Hy het ons gemaak, en ons is syne, sy volk en die skape van sy weide” (Ps. 100:3). Omdat hy die Skepper is, besit hy ons, net soos ’n herder sy skape besit. Benewens Jehovah se Godheid en sy Skepperskap, bied sy persoonlikheid ’n sterk beweegrede vir die mense van alle nasies om na die voorhowe van sy heiligdom te kom om hom daar te dank en te loof. Daarbenewens moet ons sy naam prys, dit wil sê, goeie dinge sê oor die Allerhoogste, die Een wat deur die naam verteenwoordig word. Die psalmis het ons aangespoor: “Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam. Want die HERE is goed, sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag.”—Ps. 100:4, 5.
Jehovah se eienskappe behoort ons beslis te beweeg om hom te loof. Hy is deur en deur goed, sonder selfs die geringste teken van boosheid. Ons kan altyd staat maak op sy goedertierenheid of medelydende sorg vir sy knegte; dit duur voort tot in ewigheid. Jehovah is getrou “van geslag tot geslag”, onwankelbaar in die betoning van sy liefde aan diegene wat sy wil wil doen (Rom. 8:38, 39). Ons het dus goeie rede om, ‘Jehovah met blydskap te dien’, nie waar nie?
[Prent op bladsy 29]
“ONS IS SYNE, SY VOLK EN DIE SKAPE VAN SY WEIDE.”—PS. 100:3.