Vrae van lesers
• In my man se familie is dit die gebruik vir al die kinders en kleinkinders om op 25 Desember by sy ouers se huis bymekaar te kom vir ’n groot maaltyd. Hy besef dat ek, as een van Jehovah se Getuies, nie Kersfees vier nie. Maar kan ek soontoe gaan vir die maaltyd?
Jy moet self besluit of dit in jou geval die beste sal wees. Hier is ’n paar aspekte van die saak wat jy dalk in ag wil neem.
In talle plekke beteken die feit dat sekere mense nie op sekere vakansiedae hoef te werk nie dat dit gerieflike tye vir families is om bymekaar te kom. Selfs Christelike familielede en vriende het al so ’n dag vir ’n piekniek of ’n maaltyd gebruik, hoewel hulle nie die godsdienstige feesdag vier nie. Een rede waarom jou man se familie op 25 Desember bymekaarkom, is dalk omdat nie een van hulle daardie dag sekulêre werk doen nie. Maar indien die meeste familielede Kersfees vier, is die doel van die byeenkoms dalk ook dat hulle Kersgroete en -geskenke kan uitruil.
Jehovah se Getuies het verduidelik dat Jesus se volgelinge nie beveel is om sy geboorte te herdenk nie, dat hy nie op 25 Desember gebore is nie en dat hierdie datum oorgeneem is van ’n heidense Romeinse fees (1 Kor. 11:23-26). Jehovah se Getuies vier dus nie Kersfees nie, gedagtig aan Jesus se woorde: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”—Joh. 4:24.
Jou man se familielede wat nie jou Bybelgebaseerde opvattings huldig nie, meen dalk dat niks hulle verhinder om Kersfees te vier nie. In alle redelikheid behoort hulle egter jou vryheid om dit nie te doen nie te erken. Sal hulle verleë of ontsteld voel indien jy die familiemaal bywoon maar nie Kersgroete en -geskenke uitruil of aan ander feesdagbedrywighede deelneem nie? Dit is iets wat jy en jou man vooraf sal moet bespreek. As ’n Christin het jy ongetwyfeld respek vir sy hoofskap, en dit sluit klaarblyklik sake in soos waar die gesin sal eet. As jy jou gevoelens op eerbiedige en sagmoedige wyse oordra en jou redelikheid aan die dag lê, sal hy heel moontlik beweeg word om toe te sien dat ’n bevredigende oplossing gevind word.—Filip. 4:5, NW; Kol. 3:18.
Jou man dring dalk by jou daarop aan om hom te vergesel en stel voor dat jy dit as ’n normale maaltyd beskou sonder om aan enige van die feesdagaspekte mee te doen. Dit is ’n moontlikheid, want ’n indiwidu kan teenwoordig wees waar ander godsdienstige dinge doen sonder om self daaraan deel te neem. (Vergelyk 2 Konings 5:17-19.) En die Bybel toon dat die feit dat iemand anders meen dat sekere voedsel spesiale betekenis het, nie verhoed dat ’n Christen dit as normale voedsel eet nie (1 Kor. 8:8; 1 Tim. 4:4). Toe hy daardie punt gestel het, het die apostel Paulus egter beklemtoon hoe belangrik dit is om die gewetens van ander in ag te neem en om nie ’n verkeerde indruk te skep wat ander kan laat struikel nie.—1 Kor. 10:23-30.
Sal jou familielede tot die gevolgtrekking kom dat jy Kersfees saam met hulle vier indien jy die familiebyeenkoms en -maaltyd op 25 Desember bywoon? Of sal hulle moontlik, weens die dinge wat hulle reeds oor jou opvattings te wete gekom het en wat hulle uit jou gedrag by die saamtrek aflei, besef dat jou teenwoordigheid vir omgang en ’n familiemaal geen godsdienstige betekenis vir jou het nie? Jy is in die beste posisie om die situasie en die betrokke gesindhede te beoordeel. En jy moet ’n besluit neem wat jy meen verstandig, Christelik en in harmonie met jou Bybelopgeleide gewete is.
• By my werk kry al die werknemers ’n Kersbonus. Moet ek weier om die bonus te aanvaar omdat ek nie aan Kersfees glo nie?
Dit hang af van wat die bonus in werklikheid aandui en hoe die aanvaarding daarvan beskou sal word.
Soos ons al dikwels getoon het, is Kersfees en talle ander feesdae van die valse Christendom nie op die feite van die Bybel gebaseer nie. Hulle is in werklikheid aan nie-Christelike aanbidding ontleen.a Die Bybel beveel Christene om slegs een godsdiensviering te hou, die jaarlikse herdenking van Christus se dood.—Luk 22:19, 20.
Beteken die aanvaarding van ’n “Kersbonus” dat ’n mens aan daardie fees deelneem? Moontlik nie. Daar word dalk glad nie gemeen dat die bonus beteken dat elkeen wat dit ontvang Kersfees vier nie. Die werkgewer wil dalk graag dat al sy werknemers aan die einde van die jaar deel in die maatskappy se wins en wanneer baie van hulle dit veral sal waardeer om ’n ronde som te ontvang om te gebruik soos hulle wil. Die bonus is moontlik ’n blyk van dank vir diens wat gedurende die jaar gelewer is, asook ’n stimulus tot verdere goeie werk en goeie verhoudings tussen werkgewer en werknemers. Die werkgewer gee dit dalk aan alle werknemers, ongeag of party van hulle, soos Jode, Moslems en ander, nie aan Kersfees glo nie. Die blote tyd wanneer die geskenk gegee word of die naam wat daaraan geheg is, beteken nie noodwendig dat een van Jehovah se Getuies dit nie kan aanvaar nie.
En al is daar ’n godsdienstige rede waarom die gewer die geskenk op ’n bepaalde tyd gee, beteken dit nie dat daar gemeen word dat die ontvanger dieselfde godsdiensbeskouing huldig nie. Dikwels sê ’n medewerker of familielid vir een van Jehovah se Getuies: ‘Ek weet dat jy nie Kersfees (of ’n ander feesdag) vier nie, maar ek wil nogtans graag vir jou ’n geskenk gee.’ As die Christen se gewete hom nie sal kwel indien hy die geskenk aanvaar nie, sal hy dit moontlik aanvaar en sy dank uitspreek sonder enige verwysing na die feesdag (Hand. 23:1). ’n Soortgelyke weg is deur menige Christen ingeslaan wanneer iemand wat nie van sy geloof af weet nie, vir hom ’n geskenk gee. Dan kan die Christen, moontlik op ’n ander tyd, wanneer die kanse kleiner is dat hy aanstoot sal gee, taktvol meld dat hy nie daardie godsdienstige feesdag vier nie en kan hy vriendelik en sagmoedig verduidelik dat dit die rede is waarom hý nie op daardie feesdag ’n geskenk gegee het nie.—1 Pet. 3:15.
Maar indien ’n geskenk gegee word met die duidelike doel om te toon dat die Christen nie vasstaan vir wat hy glo nie of vir gewin ’n vergelyk sal tref, is dit beslis die beste om dit van die hand te wys. Dit is Jehovah God wat Christene moet aanbid. Ons dien hom alleen.—Matt. 4:8-10.
[Voetnoot]
a Kyk Die waarheid wat lei tot die ewige lewe, hfst. 16.