Hoe ons baat kan vind by “een Middelaar tussen God en die mense”
1. (a) Waarom stel die Jode van vandag nie in ’n nuwe verbond belang nie? (b) Wie alleen kon die nuwe verbond en die middelaar daarvan voorstel?
VANDAG stel nie een van die 152 ledenasies van die Verenigde Volke daarin belang om ’n verbond met Jehovah, die God van Abraham, Isak en Jakob, te sluit nie. Nee, nie eens die 15 000 000 Jode wat op die oomblik dwarsoor die aarde verstrooi is nie. Ten spyte van die profesie in Jeremia 31:31-34 verkies hulle om te glo dat hulle steeds in die ou Wetsverbond is waarvan Moses die middelaar was. “Omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig [deur te poog om die Wetsverbond te hou], het hulle hul aan die geregtigheid van God [wat deur die nuwe verbond vir hulle beskikbaar was] nie onderwerp nie” (Rom. 10:1-3). Jehovah, die God van ware geregtigheid, het die nuwe verbond voorgestel. Hy alleen kon dit bevestig en die geskikte middelaar daarvoor uitsoek.
2. Met wie het Jehovah gesê dat hy die nuwe verbond sou sluit, en wat sou hy daardeur met hulle ongeregtigheid en sonde en hulle kennis van hom doen?
2 “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit; . . . Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.”—Jer. 31:31-34.
3. Wie se verskyning sou bepaal wanneer die nuwe verbond gesluit word, en was Moses by die saak betrokke?
3 Wanneer het Jehovah daardie nuwe verbond “met die huis van Israel en die huis van Juda” gesluit? Dit het afgehang van die middelaar wat Jehovah vir die verbond gekies het. Moses sou nie uit die dood opgewek word om die nuwe verbond te bemiddel nie. Hy kon diegene in die nuwe verbond net so min help as wat hy Israel kon help.
4. Wie is God se middelaar van die nuwe verbond volgens ’n Hebreeuse student van die Fariseïese leraar Gamaliël?
4 Daar word by ons geen twyfel gelaat oor wie die vereiste middelaar was nie. Ons blaai hier na die geïnspireerd brief wat aan die Hebreërs geskryf is deur ’n Hebreër, deur daardie student wat aan die voete van die bekende Fariseïese leraar van die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling, naamlik Gamaliël, gesit het. Hy toon die verskil tussen Moses en die nuwe middelaar deur te sê: “Soos Moses ’n goddelike bevel ontvang het toe hy die tabernakel sou voltooi; want Hy het gesê: Kyk dat jy alles maak volgens die voorbeeld wat jy op die berg [Sinai] getoon is. Maar nou het Hy ’n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ’n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is” (Hebr. 8:5, 6). “By Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en by die besprinkelingsbloed wat van iets beters getuig as die bloed van Abel.”—Hebr. 12:24, Nuwe Afrikaanse Bybel.
5. Hoe het Jesus voor sy dood getoon dat hy besef het dat die tyd aangebreek het dat die ou Wetsverbond deur die nuwe verbond vervang moes word?
5 Jesus het besef dat die tyd aangebreek het vir Jehovah om die ou Mosaïese Wetsverbond deur die nuwe verbond te vervang. Op die Pasganag voor sy dood op Vrydag, 14 Nisan 33 G.J., het hy dus ’n gedenkmaal van sy offerdood ingestel. Toe hy die Gedenkmaalwynbeker opneem, het hy vir sy 11 getroue apostels gesê: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes” (Matt. 26:27, 28, NAB). Of, soos die apostel Paulus Jesus se woorde weergee: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis” (1 Kor. 11:25, NAB). Vir dele van drie dae was hy dood in ’n gedenkgraf en kon hy nie begin om as die middelaar van daardie nuwe verbond op te tree nie.
6. Wat was nodig sodat God se woorde dat hy ongeregtigheid sal vergewe en aan sonde nie meer sal dink nie bewaarheid kon word?
6 Hoewel Jeremia 31:31-34 dit nie meld nie, was ’n offerande nietemin nodig om die nuwe verbond geldig te maak. ’n Offerande was nodig, want in die verklaring oor die nuwe verbond het God gesê: “Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jer. 31:34). Die bloed van diere-offers is gebruik toe die ou Mosaïese Wetsverbond gesluit is, asook om dinge te reinig. In ooreenstemming hiermee het die middelaar Moses “ook die tabernakel en al die gereedskap van die diens net so met die bloed besprinkel. En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie” (Hebr. 9:21, 22). Die waarde van Jesus se lewensbloed was nog in sy besit toe hy op Sondag, 16 Nisan 33 G.J., opgewek is. Dit is wat Hebreërs 13:20 (NW) aandui wanneer dit sê: “Die God van vrede . . . het die groot herder van die skape met die bloed van ’n ewige verbond, onse Here Jesus, uit die dode opgebring.”—Joh. 10:11.
7. Wat doen Christus se bloed vir die gewete en ook ten behoewe van God se ‘geroepenes’, aangesien Christus ’n beter offer ter wille van die nuwe verbond gebring het?
7 Omdat die nuwe verbond deur ’n beter offerande in werking gestel is, is daar vir die gekerstende Hebreërs gevra: “Hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien”? Omdat Christus se bloed wel sulke krag het om ons te reinig van die sonde wat ons veroordeel, lees ons vervolgens: “En daarom is Hy Middelaar van ’n nuwe [verbond], sodat, terwyl daar ’n dood plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste [verbond], die wat [deur God] geroepe is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang” (Hebr. 9:14, 15, vgl. NW). Maar wanneer het Christus se bloed begin om die gewetens van daardie geskerstende Hebreërs te reinig, Hebreërs wat onder die vorige verbond was, die Wetsverbond wat deur Moses by die berg Sinai bemiddel is?
8. Wanneer het Christus se bloed begin om die gewetens van die gekerstende Hebreërs wat onder die vorige Wetsverbond was, te reinig?
8 Nie met Christus se opstanding uit die dode nie, maar die 50ste dag daarna. Dit wil sê, die Pinksterdag nadat hy opgevaar het na die hemel en na God se teenwoordigheid “in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn”.—Hebr. 9:24.
9. Wat het dit omtrent verbonde bewys toe Petrus op Pinksterdag vir die Jode wat deur hulle gewete gekwel is, gesê het dat hulle sondes vergewe sou word indien hulle in die naam van Jesus Christus gedoop word?
9 Op daardie Pinksterdag het die apostel Petrus ’n toespraak vir die Jode en besnede Joodse proseliete gehou wat hulle gewetens gekwel het. “Wat moet ons doen, broeders?” het hulle gevra. Petrus het geantwoord: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Hand. 2:37, 38). Hierdie belofte van vergifnis van hulle sondes waaroor hulle berouvol was, het iets bewys. Wat? Dat God se nuwe verbond met sy voorsiening vir die vergewing van sondes daardie einste dag in werking getree het, aangesien die ou Mosaïese Wetsverbond genael was aan die folterpaal waaraan Jesus Christus gesterf het!—Ef. 2:15, 16; Kol. 2:14; Hebr. 8:8-13; Jer. 31:34.
10. Hoe het Petrus hierdie feit oor verbonde ’n paar dae later beklemtoon toe hy met bloedskuldige Jode by Jerusalem se tempel gepraat het?
10 Hierdie selfde feit is ’n paar dae later beklemtoon. Petrus het toe vir ’n groep bloedskuldige Jode by die tempel gesê: “Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer, sodat julle sondes uitgewis kan word. Dan sal daar tye van verkwikking van die Here af kom en sal Hy Jesus stuur, wat vooraf vir julle as die Christus aangewys is. Hy moet in die hemel bly totdat God alles nuut gemaak het. Dit het God reeds lank gelede deur sy heilige profete gesê.” Petrus het eindelik sy toespraak afgesluit met die woorde: “Daarom het God sy Dienaar na die wêreld toe laat kom en Hom heel eerste na julle toe gestuur om vir julle tot ’n seën te wees deur elkeen van julle van sy verkeerde paaie af terug te bring.”—Hand. 3:19-21, 26, NAB.
HOEVEEL SE “MIDDELAAR”?
11. Wat toon die feite oor die moontlikheid dat God die nuwe verbond met die natuurlike, vleeslike huise van Israel en Juda gesluit het?
11 Het God egter die nuwe verbond met die natuurlike, vleeslike “huis van Israel” en die natuurlike, vleeslike “huis van Juda” gesluit? Hoe kon dit moontlik wees, aangesien die natuurlike Jode van daardie twee huise die aanstaande Middelaar van daardie nuwe verbond gewelddadig verwerp het en as ’n nasie die Pinksterfees op die vasgestelde dag by die tempel in Jerusalem gevier het? God kon dit nie doen nie. Hy was van voorneme om die nuwe verbond te sluit met die pasgebore Christelike Israel, die geestelike Israel, wat op daardie einste Pinksterdag gebore is toe die heilige gees op ongeveer 120 van Jesus Christus se gedoopte dissipels “geval” het (Hand. 11:15). Hulle het nie by die tempel nie, maar in ’n bokamer in Jerusalem gewag. Daar is daardie dissipels, wat reeds in water gedoop was, deur God se gees verwek om sy geestelike kinders, “die Israel van God”, te word. As sodanig is hulle deur die hemelse Middelaar, Jesus Christus, die Profeet groter as Moses, in die nuwe verbond ingebring.—Hand. 2:1-36; Joël 2:28, 29; Joh. 3:3, 5; Gal. 6:16.
12. Hoe het die middelaarskap van Jesus Christus ’n jaar na daardie Pinkster groter afmetings aangeneem, ooreenkomstig die orde wat God bepaal het?
12 Jesus Christus in die hemel is dus die Middelaar tussen God en die geestelike Israeliete solank as wat hulle manne en vroue in die vlees is. Selfs binne die beperkte ledetal van hierdie klein “heilige nasie” het die middelaarskap van Jesus groter afmetings aangeneem, want God het ’n sekere orde gehad waarin hy klasse mense tot die nuwe verbond toegelaat het. Ongeveer ’n jaar lank na die Pinkster van 33 G.J. was Jesus dus die Middelaar van slegs daardie geestelike Israeliete wat vleeslike Jode of besnede Joodse proseliete was. Ongeveer 3 000 van hulle is op daardie Pinksterdag, 33 G.J., by geestelike Israel gevoeg (Hand. 2:10, 37-41). Toe, waarskynlik in die volgende jaar (34 G.J.), is die “goeie nuus” oor die Christus in Samaria verkondig as ’n newegevolg van die vervolging deur Saulus van Tarsus, en het die heilige gees op gedoopte gelowiges aldaar ‘geval’ (Hand. 8:15-17). Van toe af het die middelaarskap van Jesus uitgebrei om geestelike Israeliete wat manne en vroue van Samaria, Samaritane, was tot voordeel te strek.
13. Hoe het Jesus, twee jaar na die toelating van die Samaritane, die middelaar van ’n derde klas geestelike Israeliete geword, en hoe het die gekerstende Jode in Jerusalem dit erken?
13 Twee jaar verstryk nou. Eindelik, in die noordelike herfs van 36 G.J., of drie en ’n halwe jaar na Jesus se dood en opstanding, begin hy om die middelaar van ’n derde klas geestelike Israeliete te wees, diegene wat geneem is uit die onbesnede nie-Jode, waarvan die Italiaanse hoofman oor honderd, Cornelius, die eerste is. Nadat die apostel Petrus aan die gekerstende Jode te Jerusalem verslag gelewer het oor hierdie verbasende wending, het hulle gesê: “So het God dan ook aan die [onbesnede] heidene die bekering tot die lewe geskenk.”—Hand. 8:1-11:18.
14. Wat het Paulus die ouere manne in Efese meegedeel oor sy prediking van bekering tot God, en van watter verbond was hy nou ’n bedienaar?
14 Meer as 20 jaar daarna was Paulus nog steeds ’n apostel vir die nasies en was hy aan die einde van sy derde sendingreis. Op pad terug na Jerusalem het hy Milete aangedoen en met die ouere manne van die gemeente in Efese, Klein-Asië, gepraat. Hy het vir hulle vertel hoe hy gewerk het en gesê: “Ek het sowel die Jode as die Grieke ernstig vermaan om hulle tot God te bekeer en in ons Here Jesus te glo. En nou gaan ek Jerusalem toe, daartoe gedring deur die Gees” (Hand. 20:21, 22, NAB). Hy was nie langer ’n Fariseër wat die belange van die ou Mosaïese Wetsverbond bevorder het nie. Dit was eerder soos hy in 2 Korinthiërs 3:5, 6 (NW) geskryf het: “Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars van ’n nuwe verbond te wees, nie van ’n geskrewe reglement nie, maar van gees; want die geskrewe reglement veroordeel tot die dood, maar die gees maak lewend.”
15. Wie het Paulus ingesluit in die voornaamwoord “ons” toe hy gepraat het van “bedienaars van ’n nuwe verbond”, en was hulle lede van ’n Bemiddelingsraad tussen God en die mense?
15 Wie het die apostel hier bedoel met die voornaamwoord “ons”? Hy identifiseer vir ons wie by “ons” ingesluit is deur in die inleiding van sy brief te sê: “Paulus, ’n apostel van Jesus Christus deur die wil van God, en Timotheüs, die broeder, aan die gemeente van God wat in Korinthe is” (2 Kor. 1:1). Paulus en Timotheüs was dus albei “bedienaars van ’n nuwe verbond . . . van gees”. Met hierdie uitdrukking het Paulus nie bedoel dat hy en Timotheüs ’n Bemiddelingsraad was wat middelaarskap met Jesus gedeel het nie. Nee, want hulle self was bloot geestelike Israeliete ten behoewe van wie Jesus as God se Middelaar gedien het. Jesus alleen is die “Middelaar van die nuwe verbond”.—Hebr. 12:24, NAB.
16, 17. Hoe het Paulus in 1 Timotheüs 1:20 tot 2:7 afgestuur op die vermelding van Christus Jesus as ’n middelaar?
16 Toe hy regstreeks aan Timotheüs geskryf het, het Paulus afgestuur op vermelding van die middelaarskap van Jesus toe hy gesê het: “Daar is Himeneüs en Alexander, wat ek aan die Satan oorgegee het, sodat hulle kan leer om nie te laster nie. In die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense [maar nie vir die lasteraars Himeneüs en Alexander nie]; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in ale godsvrug en waardigheid.
17 “Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ’n losprys vir almal [of, vir alle soorte mense, NW-kantlesing], as die getuienis op die regte tyd, waartoe ek aangestel is as ’n prediker en apostel—ek sê die waarheid in Christus, ek lieg nie—’n leraar van die [onbesnede] heidene in geloof en waarheid.—1 Tim. 1:20-2:7.
18. (a) Het Paulus Timotheüs aldus aangespoor om as ’n middelaar tussen God en daardie openbare amptenare op te tree? (b) Wie sou baat vind by daardie pleidooie tot God in verband met sulke openbare amptenare?
18 Paulus het dus vermaan dat “smekinge, gebede, voorbedes” gedoen moet word “vir konings en almal wat hooggeplaas is”. Maar hy het Timotheüs nie aangespoor om op te tree as ’n middelaar tussen God en daardie openbare amptenare nie. Die beweegrede agter daardie “smekinge, gebede, voorbedes” was nie dat sulke openbare amptenare hulle tot die Christelike geloof moes bekeer nie. Wie sou in werklikheid baat vind by sulke pleidooie wat tot God gerig is? Wat was die doel van sulke vertoë tot God? “Sodat ons [Christene soos Paulus en Timotheüs] ’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid.”—1 Tim. 2:2.
19. Wat sou met so ’n godvrugtige lewe bereik word, en vir wie was dit “goed en aangenaam”?
19 So ’n rustige, godvrugtige en waardige lewe sou die redding van Christene wat hierdie versoeke aangaande politieke heersers gerig het, in die hand werk. Die redding van sulke onskadelike Christene was “goed en aangenaam voor God, ons Verlosser”. Waarom? Omdat dit God se wil is “dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom”. Dienooreenkomstig is die een wat hier “ons Verlosser” genoem word, nie Jesus Christus nie, maar “God”.
20. Wat is Christus Jesus se rol in God se program van redding, volgens 1 Timotheüs 2:5, 6?
20 Wat is dus Christus se rol in hierdie reddingsprogram? Paulus sê voorts: “Daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense [nie “alle mense” nie], die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ’n losprys vir almal.”—1 Tim. 2:5, 6.
21. (a) Paulus se brief aan Timotheüs was ’n geval van waar watter bedienaar aan watter ander bedienaar geskryf het? (b) Hoe lank duur daardie verbond, en watter rol speel die ooreenstemmende “losprys vir almal” in hierdie verband?
21 Paulus het geskrywe ooreenkomstig die feite van die eerste eeu van die Christelike geloof, waartydens die nuwe verbond in werking gestel is. “Mense” van alle nasionaliteite, Jode, Samaritane, onbesnede nie-Jode, is reeds daarin gebring nadat hulle deel van geestelike Israel gemaak is. Christus Jesus was die middelaar van daardie nuwe verbond. Paulus se brief aan Timotheüs hieroor was ’n geval van waar een ‘bedienaar van die nuwe verbond’ vir ’n ander ‘bedienaar van die nuwe verbond’ geskryf het. Daardie nuwe verbond tussen “God, ons Verlosser” en geestelike Israel duur voort solank as wat daar geestelike Israeliete as “mense” in die vlees hier op aarde is. Die verbond is dus vandag van krag. Jesus se ooreenstemmende “losprys vir almal” lê die grondslag vir allerhande manne en vroue om geestelike Israeliete te word en in die nuwe verbond ingebring te word waarvan Christus Jesus die “een Middelaar” is.
22. (a) Hoe is dit duidelik dat die nuwe verbond sy einde nader, en wanneer sal Christus ophou om middelaar te wees? (b) Waarom sal die verheerlikte geestelike Israeliete me ’n middelaar nodig hê nie, en in watter hoedanighede sal hulle dan dien?
22 Daar is nog meer as 9 000 wat bely dat hulle geestelike Israeliete in die nuwe verbond is. Net soos Paulus en Timotheüs is hulle “bedienaars van ’n nuwe verbond” (2 Kor. 3:6, NAB; 1:1). Die nuwe verbond sal klaarblyklik eersdaags ten einde loop as ’n middel om 144 000 geestelike Israeliete voort te bring wat God se goedkeuring wegdra om saam met Jesus Christus te heers in die hemelse koninkryk, die ideale regering vir die mensdom. Wanneer die laaste van hierdie goedgekeurde geestelike Israeliete ophou om “mense” te wees weens ’n dood op aarde en ’n opstanding tot ’n aandeel in die hemelse koninkryk, dan sal Jesus Christus se middelaarskap ook ten einde loop. Hulle oorgeërfde sondige toestand in die vlees wat ’n middelaar tussen hulle en die God van heiligheid genoodsaak het, sal agtergelaat word. Net soos die heilige engele van die hemel sal hierdie verheerlikte geestelike Israeliete geen middelaar tussen hulle en Jehovah God nodig hê nie (Openb. 22:3, 4). Onder Jesus Christus sal hulle dien as konings, priesters en mede-regters oor die hele mensdom.—Openb. 7:4-8; 14:1-3; 20:4, 6; Luk. 22:28-30.
’N “GROOT MENIGTE” AARDSE VOORDEELTREKKERS
23, 24. (a) Wie werk nou met die oorblyfsel geestelike Israeliete saam, en watter uitnodiging is aan hulle gerig in verband met die Here se Aandmaal? (b) Wat besef hulle is hulle nie, maar hoe vind hulle nietemin nou by die nuwe verbond baat?
23 Volgens betroubare verslae is daar vandag ’n “groot menigte” toegewyde, gedoopte Christene wat met die klein oorblyfsel geestelike Israeliete saamwerk. Sedert die noordelike lente van 1938 is hulle genooi om die jaarlikse herdenking van Christus se dood by te woon, nie om die Gedenkmaalembleme, die ongesuurde brood en die rooi wyn, te nuttig nie, maar as eerbiedige waarnemers.a Hulle erken Jesus Christus as hulle hemelse Koning sedert die Tye van die Nasies in 1914 geëindig het. Saam met die oorblyfsel geestelike Israeliete verkondig hulle “hierdie evangelie van die koninkryk” ywerig in die hele bewoonde aarde “tot ’n getuienis vir al die nasies” voordat hierdie stelsel van dinge tydens die komende “groot verdrukking” eindig (Matt. 24:14, 21). Hulle besef dat hulle nie geestelike Israeliete in die nuwe verbond is wat deur Jesus Christus bemiddel is nie, en ook dat hulle nie lede van die “uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk” is nie.—1 Pet. 2:9.
24 Hulle vind egter wel by die nuwe verbond baat. Hulle vind daarby baat net soos die “vreemdeling” in eertydse Israel baat gevind het omdat hy onder die Israeliete wat in die Wetsverbond was, gewoon het.—Ex. 20:10; Lev. 19:10, 33, 34; Openb. 7:9-15.
25. Met wie moet die “groot menigte” verenig bly om ’n verhouding met Jehovah God te behou, en waarom so?
25 Om hulle verhouding met “God, ons Verlosser” te behou, moet die “groot menigte” verenig bly met die oorblyfsel geestelike Israeliete. Waarom? Omdat hierdie geestelike Israeliete die “heilige volk” is waarvan ons in Jeremia 31:35, 36 lees reg na God se belofte oor die nuwe verbond: “So sê die HERE wat die son gee tot ’n lig oordag, die ordeninge van die maan en van die sterre tot ’n lig in die nag; wat die see in beroering bring, sodat sy golwe bruis [teen die Egiptenaars wat die Israeliete agtervolg het], HERE van die leërskare is sy Naam: As hierdie verordeninge voor my aangesig sal wyk, spreek die HERE, dan sal die nageslag van Israel ook ophou om ’n volk te wees voor my aangesig vir altyd.”
26. Hoe permanent sal die geestelike Israel in God se universele organisasie wees, en waar sal Jesus Christus oor diegene in die paradysaarde heers?
26 Jehovah kan geestelike Israel net so min tot niet laat gaan in sy universele organisasie as wat hy die hemelse ligte wat lig aan ons aarde verskaf, kan laat ophou bestaan. In die hemele sal geestelike Israel die Nuwe Jerusalem wees waarin Jesus Christus as Koning sal heers oor die oorlewende “groot menigte” en al die mensedode wat tot lewe in ’n paradysaarde opgewek sal word.—Openb. 21:2-24.
[Voetnoot]
a Kyk die aankondiging “Memorial”, bl. 50. Watchtower van 15 Februarie 1938; ook bl. 75, pare. 51, 52, Watchtower van 1 Maart 1938. Let op die aankondiging “Memorial” in Watchtower van 15 Februarie 1937, bl. 50.
[Prente op bladsy 24]
Die ou Wetsverbond is aan die folterpaal genael
Die nuwe verbond het op Pinksterdag in werking getree