“Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak”
1-3. (a) Vir watter werk het Jesus mense genooi om hom te volg? (b) Hoe toon die reaksie van die eerste genooides dat hulle geloof gehad het?
JOHANNES DIE DOPER het sy werk voltooi, en nou het die gesalfde Jesus self begin om die opwindende aankondiging te maak: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matt. 3:2; 4:12-17). Maar Jesus Christus sou nie die goeie nuus alleen verkondig nie. Toe hy langs die See van Galilea geloop het, het hy gesien hoedat Simon Petrus en Andreas ’n visnet in die water gooi. Hy het hulle genooi: “Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak.” Hulle het nie geaarsel nie. Hulle het hulle nette “dadelik” verlaat en Jesus gevolg. Toe het Jesus Jakobus en Johannes in ’n visserskuit gesien en hulle geroep. Hulle het die skuit en hulle vader “dadelik” verlaat om Jesus te volg.—Matt. 4:18-22.
2 Jesus het ’n goeie voorbeeld vir hierdie nuwe dissipels gestel terwyl hy hulle opgelei het om “vissers van mense” te wees. Hulle was sy troue metgeselle terwyl hy “deur die hele Galilea rondgegaan en in [die] sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees” het.—Matt. 4:23.
3 In Kapernaüm, in Galilea, het Jesus Mattheüs (Levi) by die tolhuis sien sit en die uitnodiging tot hom gerig: “Volg My.” Mattheüs het dadelik opgehou om belasting in te vorder en Jesus gevolg (Matt. 9:9; Mark. 2:14). Weer eens het Jesus “by al die stede en dorpe rondgegaan” om die goeie nuus van die koninkryk te verkondig en aan ander te leer, terwyl hy ook genesingswerke verrig het. Al het sy volgelinge toegeneem, het Jesus vir hulle gesê: “Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur.”—Matt. 9:35-38.
4. (a) Waarom is die apostels gekies? (b) Wat verwag Jesus van diegene wat hom volg?
4 Uit hierdie eerste dissipels het Jesus toe 12 gekies om apostels te wees, “sodat hulle saam met Hom kon wees en Hy hulle kon uitstuur om te preek” (Mark. 3:14). Later sou die getroue apostels die fondamentstene van die Christengemeente word (Ef. 2:20; Openb. 21:14). Hulle was gewillig, bereid om te dien en bly om die Koninkrykswerk saam met Jesus te doen. Jesus het hulle instruksies gegee en hulle beveel om na die stede en dorpe te gaan en die huise van die mense te besoek. Hy het vir hulle gesê: “Gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom.” Jesus het vir sy dissipels laat verstaan dat die werk nie maklik sou wees nie en dat baie sou weier om na hulle woorde te luister. Maar hulle moes getuig, selfs voor heersers en nie-Jode. Hulle sou selfopofferend en moedig moes wees, want Jesus het gesê: “Wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.”—Matt. 10:7-18, 38.
5. Waarom is party onaanneemlik as volgelinge van Christus?
5 Nie almal het Jesus se uitnodiging om hom te volg aanvaar nie. Daar was byvoorbeeld die ryk man wat materiële besittings verkies het bo die geestelike skat wat hy kon geniet het terwyl hy die goeie nuus van die Koninkryk verkondig het (Matt. 19:16-24). Ander het ook verskonings aangevoer, soos die verslag in Lukas 9:57-62 toon:
“Terwyl hulle op reis was, sê iemand op die pad vir [Jesus]: Here, ek sal U volg, waar U ook mag gaan! Toe sê Jesus vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie. En Hy sê aan ’n ander een: Volg My. Maar hy antwoord: Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe. En Jesus sê vir hom: Laat die dooies hulle eie dooies begrawe; maar gaan jy en verkondig die koninkryk van God. En ’n ander een het ook gesê: Here, ek sal U volg, maar laat my eers toe om afskeid te neem van die wat in my huis is. En Jesus antwoord hom: Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.”
6. Hoe het Jesus sy volgelinge opgelei en bemoedig, soos in Lukas 10:1-20 beskryf word?
6 Nadat hy hierdie negatiewe voorbeelde verstrek het, het Lukas ’n positiewe toon aangeslaan. Hy het beskryf hoedat Jesus 70 van sy volgelinge gekies het en hulle twee-twee uitgestuur het om die werk in die gebied voor hom uit aan te voor. Hulle moes vir die mense laat weet: “Die koninkryk van God het naby julle gekom” (Luk. 10:1-16). Die 70 het groot vreugde uit hulle diens geput. Maar Jesus het vir hulle getoon dat hulle selfs groter rede gehad het om bly te wees toe hy gesê het: “Wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskrywe is.”—Luk. 10:17, 20.
JESUS STEL DIE VOORBEELD
7, 8. Meld ‘n paar voordele wat die vroeë “vissers van mense” ontvang het omdat hulle Jesus gereeld in die werk vergesel het.
7 Die geïnspireerde Bybelskrywers Mattheüs, Markus, Lukas en Johannes vertel hoedat die vroeë dissipels van Jesus hom vergesel het in die predikings- en onderrigtingswerk wat hulself en ander tot groot voordeel gestrek het. Jesus het vir hulle talle wonderlike dinge oor die Koninkryk geleer, en hulle kon hierdie waarhede verkondig aan persone wat wou luister. Jesus het sy dissipels bowenal gehelp om hulle baie kosbare verhouding as slawe, diensknegte of bestuurders van Jehovah God en Christus Jesus te waardeer.—Matt. 6:24; vergelyk Lukas 12:37, 42, 43.
8 Jesus was ’n werker, net soos sy Vader. Hy wou ook hê dat sy dissipels werkers moes wees en die koninkryksboodskap moes verkondig (Joh. 4:34; 5:17; 9:4). Jesus het dus sy dissipels ongeveer drie jaar lank opgelei om “vissers van mense” te wees. Hy het hulle ook gewaarsku dat hulle op dieselfde wyse behandel sou word as wat hy, hulle Heer, behandel is. Hulle het gesien hoe hy op lyding reageer terwyl hy vir hulle ’n voorbeeld gestel het wat hulle noukeurig moes navolg (Matt. 10:22-26; 1 Pet. 2:21). Jesus het vir hulle baie dinge geleer wat hy van God ontvang het, en hulle het gesien hoe hy talle profesieë vervul. Al hierdie dinge het hulle geloof versterk.
9. Wat het Jesus vir sy volgelinge geleer oor hulle verhouding tot God as slawe?
9 Jesus het hulle ook nederig aangespoor om sy voorbeeld as slawe van God te volg. Hy het gesê:
“Wie is daar van julle wat ’n dienskneg het wat ploeg of vee oppas, en as hy inkom van die veld vir hom sal sê: Kom dadelik hier aan tafel? Sal hy nie eerder vir hom sê nie: Maak vir my die aandete klaar en omgord jou en bedien my totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink? Bedank hy daardie dienskneg, omdat hy gedoen het wat hom beveel is? Ek glo nie. So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.”—Luk. 17:7-10; vergelyk 1 Korinthiërs 7:22, 23; Openbaring 19:5.
10. Hoe was Jesus se voorbeeld deel van sy volgelinge se opleiding om God te dien?
10 Toe Jesus se werk op aarde besig was om ten einde te loop, het hy sy apostels vir die Pasgafees byeen laat kom en hier, privaat, het hy hulle baie raad en bemoediging gegee. Hy het ook hulle voete gewas om hulle dit op die hart te druk dat hulle ander moet dien, en gesê: “Ek het julle ’n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, ’n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ’n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie. As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen.”—Joh. 13:15-17.
11. (a) Waar vind ons die verslag van Jesus se intieme gesprek met sy dissipels voor sy inhegtenisname? (b) Hoe het Jesus by daardie geleentheid klem gelê op die verband tussen geloof en werke? (c) Hoe kon die dissipels groter werke as Jesus doen?
11 Nadat hy die verraaier Judas uitgestuur het, het Jesus instruksies aan sy 11 getroue apostels gegee oor ’n nuwe viering—die herdenking van sy dood. Hy het baie intiem met hulle gepraat en hulle voorberei vir die verantwoordelikheid wat hulle na sy vertrek sou moes dra (Joh. 13:30—16:33). Om hulle geloof in Christus te toon, sou die dissipels werke soos syne moes doen. Hy het hulle dus bemoedig met die woorde: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan” (Joh. 14:12). Jesus het sy werk tot die land Palestina beperk, maar die Koninkrykswerk sou na sy dood en opstanding uitbrei. Sy dissipels moes die voortou in daardie toekomstige werk neem. Eindelik sou die goeie nuus van die koninkryk in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis aan al die nasies, en dan sou die einde kom.—Matt. 24:14.
12. Wat is die verband tussen liefde vir Christus en dit wat ons doen?
12 Tydens hierdie laaste geleentheid saam met sy dissipels het Jesus klem gelê op die nodigheid van selfopofferende liefde toe hy gesê het:
“As julle My lief het, bewaar my gebooie. Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar. . . . As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het” (Joh. 14:15, 21, 23, 24).
Hoe noodsaaklik tog om Jesus Christus se gebooie te gehoorsaam!
’N HELPER BELOOF
13. Hoe sou Jesus se volgelinge na sy vertrek hulp ontvang, en wat sou dit hulle beweeg om te doen?
13 Die apostels het intiem met Jesus verkeer. Wanneer hulle iets wou weet of daar ’n probleem ontstaan het, kon hulle die saak met Jesus bespreek. Maar nou sou Jesus na sy Vader gaan. Hy het dus sy Vader gevra om vir hulle ’n ander helper, God se heilige gees, te gee wat hulle sou leer en hulle sou herinner aan alles wat Jesus vir hulle gesê het (Joh. 14:16, 17, 25, 26). Dit het beteken dat hulle baie getuieniswerk sou hê om te doen, want Jesus het gesê: “Wanneer die Voorspraak [helper, NW] kom wat Ek vir julle van die Vader af sal stuur, die Gees van die waarheid, wat van die Vader uitgaan, sal Hy oor My getuig. En julle moet getuig, want julle is van die begin af by My.”—Joh. 15:26, 27, NAB.
14. Hoe sou die dissipels later baie bykomende waarhede leer?
14 Jesus kon nie destyds alles vir sy dissipels vertel nie. Maar met die koms van die heilige gees sou hulle groter begrip verkry wat hulle sou toerus vir die werk wat voorgelê het (Joh. 16:12-14). Hoe bemoedigend! Diegene wat Jesus as slawe van God volg, kan altyd daarvan seker wees dat hulle hulp van bo en leiding in die waarheid sal ontvang deur middel van die heilige gees.
15. (a) Waarom moet Christene te alle tye ’n hegte verhouding met Christus Jesus bewaar, volgens sy gelykenis van die wynstok? (b) Watter rol speel Christelike liefde hierin?
15 Om in hulle werk te slaag, moet Jesus se volgelinge een met hom bly en toon dat hulle sy dissipels is. Jesus het dit toegelig met die wynstok en sy lote, en het beklemtoon dat dit vir hulle nodig is om in die wynstok te bly en vrug te dra sodat sy Vader verheerlik kan word. Hulle moes vrug dra deur oor die Koninkryk te getuig en deur ’n Christelike persoonlikheid aan die dag te lê. Mense sou sien dat hulle sy dissipels is omdat hulle opregte liefde onder mekaar het.—Matt. 21:43; Joh. 13:34, 35; 15:1-12; kyk ook Die Wagtoring, 1 Maart 1979.
GEEN DEEL VAN HIERDIE WÊRELD NIE
16. (a) Wat het Jesus sy volgelinge in Johannes 15:17-22 oor hulle posisie in die wêreld geleer? (b) Waarom het hy hulle dit geleer?
16 Diegene wat “vissers van mense” word, toon hierdie sterk liefde vir mekaar. Maar omdat hulle volgelinge van die Heer, Christus Jesus, is, het die wêreld hulle nie lief nie. Die wêreld het Jesus nie liefgehad nie, want hy was geen deel daarvan nie (Joh. 15:17-22; 16:1). Hierdie kennis is vir alle ware Christene nuttig wanneer hulle tydens beproewing onkreukbaarheid moet handhaaf—net soos Jesus onkreukbaarheid gehandhaaf het. Diegene wat van die wêreld is, ken Jehovah God of die Een wat hy uitgestuur het, Jesus Christus, nie. Hulle verstaan nie Jesus se leer of wat Christelike liefde is nie. Hulle haat sy volgelinge, want hulle doen die begeertes van die Duiwel.—Joh. 8:42-44; 14:30; 16:11.
17. Wat sou met party Christene gebeur omdat hulle, as volgelinge van Christus, nie van die wêreld is nie?
17 Aangesien ware Christene “nie van die wêreld is nie”, moet hulle nooit die wêreld se selfsugtige, trotse en verdelende gees verkry nie. Dit stel hulle in staat om God te verheerlik en om veel vrug te dra as bewys van hulle dissipelskap. Maar dit beteken beproewing vir hulle, soos Jesus gewaarsku het:
Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Ja, daar kom ’n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ’n diens aan God bewys.”—Joh. 16:2-4; 15:8-10.
NOOIT ALLEEN IN GOD SE DIENS NIE
18, 19. (a) Van wie se liefde is Jesus se dissipels verseker, en hoekom so? (b) Waarom is dit belangrik om bewus te wees van die feit dat ’n kneg van Jehovah nooit alleen is nie, en wat moet hy dus doen?
18 Jehovah se knegte kan op Hom reken omdat hy groot liefde het. Jesus het hierdie versekering gegee: “Die Vader self het julle lief, omdat julle My liefgehad en geglo het dat Ek van God uitgegaan het” (Joh. 16:27). Jehovah se knegte werk nie alleen nie. Dit is God se werk wat hulle as sy bestuurders verrig, en dit staan hulle altyd vry om Jehovah se hulp in gebed te vra. Jesus het gesê: “Alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee” (Joh. 16:23, 24). Wanneer Jesus in hegtenis geneem word, sou daar ’n moeilike tyd vir sy volgelinge aanbreek, soos hy dan ook gewaarsku het:
“Kyk, die uur kom en het nou gekom dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie toe, en My alleen sal laat; tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader met My is. Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”—Joh. 16:32, 33.
19 Hoe uiters belangrik is dit tog om te onthou dat ons nie alleen is nie, net soos Jesus nie alleen was toe hy in hegtenis geneem is nie! En hoe noodsaaklik is dit tog om in gebed op Jehovah staat te maak, veral in tye van beproewing of moeilikheid! Tydens sy uur van beproewing het Jesus vurig en dikwels gebid (Matt. 26:36-46; 27:46). Sy volgelinge moes eweneens nooit aarsel om Jehovah se hulp te vra nie, maar in vertroue en geloof tot hom bid.—Matt. 7:7, 8.
JESUS SE BEDE
20. Wat is party gedagtes wat Jesus in sy wonderlike gebed in Johannes 17 gemeld het?
20 Nadat Jesus sy getroue dissipels daardie laaste nag van sy aardse lewe onderrig het, het hy sy oë opgeslaan na die hemel en ’n wonderlike gebed ten behoewe van hulle tot Jehovah gedoen. Sy gebed het gemeld dat hy sy werk op aarde volbring het, maar dat sy volgelinge steeds in die wêreld was. Hierdie dissipels sou voortgaan om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig en Jehovah se naam bekend te maak, net soos Jesus gedoen het. Hy het dus versoek:
“Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, . . . Ek het hulle u woord gegee, en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie. Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid. Soos U My gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur.”—Joh. 17:11, 14-18.
21. Hoe het Jesus sy vertroue uitgespreek in die toekomstige uitbreiding van die Christengemeente?
21 Jesus se gebed het baie meer as daardie 11 getroue apostels ingesluit. Hy het vooruitgekyk na ’n gemeente wat steeds sou uitbrei en wat oor die hele aardbol aangetref sou word, met baie meer manne en vroue wat hulle geloof in Jesus stel deur die woord wat deur sy volgelinge verkondig is. Jesus het gesê:
“Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo—dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.”—Joh. 17:20, 21.
22. Hoe het Jesus sy werk op aarde as een van Jehovah se getuies volbring?
22 Kort nadat Jesus hierdie gebed gedoen het, is hy in hegtenis geneem. Toe hy voor die heerser, Pilatus, verskyn, het hy getuig dat, aangesien sy koninkryk nie van die wêreld is nie, sy knegte—wat ook nie van die wêreld is nie—nie sou veg nie. As die vernaamste Getuie van Jehovah het hy gesê: “U sê dat Ek ’n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem” (Joh. 18:33-37). Jesus het dus ’n goeie voorbeeld nagelaat wat Christene kon navolg gedurende die jare nadat hy die aarde verlaat het. Daardie selfde dag is hy om die lewe gebring nadat hy getrou die werk volbring het wat Jehovah aan hom opgedra het (Joh. 17:4). Wat ’n wonderlike voorbeeld het hy tog tydens sy aardse bediening vir sy volgelinge gestel! Hulle word voorwaar aangespoor om hom na te volg as Jehovah se getuies in hulle wonderlike werk as “vissers van mense”!
[Prent op bladsy 14]
Jesus het sy dissipels na die mense se huise gestuur
[Prent op bladsy 15]
Jesus se laaste aandmaal op aarde bevat ’n kragtige boodskap vir ons wat vandag lewe