Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 3/1 bl. 18-24
  • Spreek Jehovah se woord met vrymoedigheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Spreek Jehovah se woord met vrymoedigheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DAAR WORD VOOR OWERSTES GESPREEK
  • VOLGEHOUE HULP VAN JEHOVAH AF
  • MOED TYDENS BEPROEWING
  • HOE DAAR NOU MET VRYMOEDIGHEID GESPREEK WORD
  • ‘Spreek die Woord van God met vrymoedigheid’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Volg Jesus na—Preek met vrymoedigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Hou aan om God se woord met vrymoedigheid te spreek
    Aanbid die enigste ware God
  • Hou aan om God se woord met vrymoedigheid te spreek
    Ons Koninkryksbediening—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 3/1 bl. 18-24

Spreek Jehovah se woord met vrymoedigheid

“En nou, [Jehovah], . . . gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek.”—Hand. 4:29.

1, 2. (a) Watter belangstelling het Christus na sy opstanding in sy dissipels getoon, en watter instruksies het hy dus aan hulle gegee? (b) Hoe omvattend moes die getuieniswerk gedoen word?

ALHOEWEL die dood Jesus van sy dissipels geskei het, het hulle nie sy uitnodiging om “vissers van mense” te word vergeet nie. Hulle het geweet dit beteken dat hulle God se woord onder die mense moes verkondig. Maar hoe sou hulle te werk gaan? Hulle het leiding en voorligting nodig gehad.

2 Tot die dissipels se groot vreugde het die verrese Jesus ’n aantal kere aan hulle verskyn voordat hy opgevaar het na sy Vader (1 Kor. 15:3-8; Joh. 20:20). Hy kon hulle dus verdere instruksies in verband met hulle toekomstige werk gee. In Galilea het hy gesê:

“Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:18-20).

Die Christelike werk om dissipels te maak, te doop en te leer moes uitbrei om mense van al die nasies in te sluit. Hoe bemoedigend was dit tog om te weet dat hierdie verrese Seun van God daagliks tot aan die voleindiging van die wêreld met Christene in hulle Koninkrykswerk sou wees!

3. Watter rol speel die heilige gees sedert Pinkster daarin?

3 Jesus het vir sy dissipels belowe dat ’n helper, die heilige gees, sou kom (Joh. 14:16, 26, vgl. NW). Wat sou dit wees, en hoe sou dit werk? Net voordat hy na sy Vader opgevaar het, het Jesus vir daardie dissipels gesê:

“Julle sal krag ontvang wanneer die heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8).

Wat ’n wonderlike vooruitsig op ’n uitgebreide getuienis! Die dissipels het na Jerusalem teruggekeer en daar in die gebed volhard. Die 50ste dag na Jesus se opstanding was Pinkster, en die dissipels was almal in een plek bymekaar. Skielik was daar ’n geluid soos “van ’n geweldige rukwind”, tesame met ander wonderdadige verskynsels. Jehovah was besig om die beloofde heilige gees, sy werkende krag, op hulle uit te stort. Wat het daardie gees hulle beweeg om te doen? Dit het hulle laat “spreek”.—Hand. 2:1-4.

4. Hoe is die “goeie nuus” by daardie geleentheid ontvang?

4 Die tyd het aangebreek vir ’n groot ‘visvangwerk onder mense’. Met behulp van die heilige gees kon daardie dissipels God se woord in ’n klomp tale spreek. Mense wat die Pinksterfees uit baie dele van die wêreld bygewoon het, kon dus in hulle moedertaal van die “groot dade van God” hoor. Toeskouers was verstom. Toe het Petrus opgestaan en moedig ’n verduideliking gegee. Hy het kragtig getuig aangaande die opstanding van Jesus Christus en ’n beroep op sy hoorders gedoen om berou te toon, gedoop te word en hulle te laat red uit daardie verdraaide geslag. Wat was die gevolg? Ongeveer 3 000 het die woord aangeneem! Hulle is gedoop en by die Christengemeente gevoeg. Daar was groot blydskap, want “die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is”.—Hand. 2:5-47.

5. (a) Met watter doel verskyn Christene tydens teenstand voor owerstes? (b) Watter bemoediging bevat dit vir ons?

5 Hierdie getuieniswerk in die krag van die heilige gees het baie nuwe lowers van Jehovah voortgebring. Dié het hulle weer daarin verheug om daagliks uit te gaan, en hulle openbare getuieniswerk het Jerusalem met die “goeie nuus” gevul. Petrus en Johannes het die leiding in hierdie werk gegee en ’n beroep op die mense gedoen om hulle te bekeer en hulle sondes te laat uitwis, sodat hulle geestelike verkwikking van Jehovah kon ontvang. Baie van daardie persone het met graagte na die “goeie nuus” geluister—maar nie die owerpriester, die hoofman van die tempel en die Sadduseërs nie. Hulle het Petrus en Johannes in hegtenis geneem en opgesluit. Aldus het die dissipels die gevolge begin ervaar van die haat wat Jesus voorspel het toe hy gesê het:

“Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe. Maar pas op vir die mense; want hulle sal jul oorlewer aan regbanke, en in hulle sinagoges sal hulle julle gesel. En ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word om My ontwil tot ’n getuienis vir hulle en vir die heidene. Maar wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal spreek nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek” (Matt. 10:16-20).

Maar teen hierdie tyd kon daardie “vissers van mense” hulle verheug in ’n groot vangs van ongeveer 5 000 nuwe gelowiges. Hoe moes hulle Jehovah tog gedank het vir daardie vermeerdering! Ons word ook bemoedig deur hulle diensverslag.—Hand. 4:1-4.

DAAR WORD VOOR OWERSTES GESPREEK

6. (a) Wat het Petrus en Johannes gedoen toe hulle voor die owerstes gebring is? (b) Waarom was hulle goed toegerus om dit te doen?

6 Die volgende dag het die owerstes vergader en Petrus en Johannes uitgevra oor hulle bedrywigheid, onder andere hulle genesing van ’n kreupele. Hier was ’n puik geleentheid vir ’n verdere openbare getuienis. Net soos Jesus te kenne gegee het, het heilige gees Petrus nou met krag vervul om te sê:

“Owerstes van die volk en ouderlinge van Israel, as ons vandag ondervra word oor ’n weldaad aan ’n siek man, waardeur hy gesond geword het, laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasarener, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan. Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ’n hoeksteen geword het. En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Hand. 4:8-12).

Hierdie lewensbelangrike waarhede moes verkondig word! Die apostels het dus nie doekies omgedraai nie. Hulle was vrymoedig. Petrus en Johannes was eenvoudige vissermanne, maar hulle is deur Jesus geleer om op ’n dinamiese wyse met vertroue en oortuiging te spreek. As getuies van Jehovah het hulle gespreek omdat hulle God se woord wou verkondig.—Vergelyk Johannes 7:15-18, 45, 46.

7. Wat leer ons uit die verslag in Handelinge 4 aangaande die denkwyse en doelwitte van die teenstanders?

7 Hoe dankbaar moet ons Jehovah tog wees vir die verslag in Handelinge hoofstuk 4! Want dit toon nie alleen duidelik hoe ware Christene met vrymoedigheid moet spreek nie, maar dit openbaar ook die verwronge denkwyse van wêreldse heersers wat God se werk teëstaan. Nadat die apostels daar die moedige getuienis gelewer het, het die owerstes hulle uit die Sanhedrinsaal gestuur terwyl hulle saam beraadslaag het. Wat was hulle doelwit? Hulle kon nie ontken dat ’n merkwaardige teken in die naam van Jesus Christus plaasgevind het nie. Maar hulle plan was om die uitbreiding van ware aanbidding te stuit. Hulle het geredeneer dat hulle die apostels met dreigemente kon bang maak en so ’n einde kon maak aan hulle predikingswerk in Jesus se naam.—Hand. 4:16, 17.

8. Wat toon dat die dissipels nie bang was nie?

8 Maar sou blote dreigemente daardie Christengetuies van Jehovah keer? Laat ware Christene vandag ag slaan op hulle onverskrokke voorbeeld:

“En hulle [die owerstes] het hul geroep en hulle bevel gegee om in die geheel nie in die Naam van Jesus te spreek of te leer nie. Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie” (Hand. 4:18-20).

Uit vrees vir die openbare mening het die owerstes die apostels vrygelaat nadat hulle hulle gedreig het. Met behulp van God se gees het daardie Christene vervolging verydel.

VOLGEHOUE HULP VAN JEHOVAH AF

9, 10. (a) Watter prosedure het Jehovah se diensknegte gevolg, en wat was hulle hartewens? (b) Wat het hulle versoek, en hoe is hulle gebed verhoor?

9 Na hulle vrylating het die apostels na die gemeente teruggegaan. Hulle het vir die broers vertel wat gebeur het, en toe het die gemeente gedoen wat Christene altyd onder sulke omstandighede behoort te doen. Hulle het in die gebed met Jehovah gepraat. Hulle gebed was ’n gebed van geloof waarin hulle hulle opregte begeerte uitgespreek het om God steeds te dien. Hulle het gesê:

“Here, U is die God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het, wat deur die mond van u kneg Dawid gesê het: Waarom het die nasies gewoed en die volke nietige dinge bedink? Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde. Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volk van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind. En nou, Here, let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek, deurdat U u hand uitstrek tot genesing, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Kind Jesus plaasvind.”—Hand. 4:24-30.

10 Die dissipels het nie versoek om van die werk onthef te word of van die dreigemente van die vyande van die waarheid af weggeneem te word nie. Hulle het geweet wat hulle opdrag van Jehovah af is—om sy getuies te wees. Hulle hartewens was om voort te gaan om God se woord met alle vrymoedigheid te spreek, en hulle het sy hulp hierin gevra. Hulle wou nooit voor vrees swig nie. Het hierdie gesindheid Jehovah behaag? Die verslag deel ons mee:

“En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die Woord van God met vrymoedigheid gespreek.”—Hand. 4:31.

11. (a) Wat was die gevolg van hulle vrymoedigheid? (b) Waarom het tronkstraf hulle nie gekeer nie?

11 Daardie getuies van die Koninkryk het hulle werk met hernieude krag voortgesit, en Jehovah was met hulle. “Daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue” (Hand. 5:14). Gevolglik het die godsdiensleiers weer toornig geword en die apostels in die tronk opgesluit. Dit was egter Jehovah se wil dat hulle getuieniswerk in Jerusalem moes voortgaan. Hy het dus sy engel gestuur om die apostels vry te laat en om vir hulle te sê:

“Gaan heen, staan en vertel in die tempel aan die volk al die woorde van hierdie lewe” (Hand. 5:20).

Tronkstraf het die apostels net so min die swye opgelê as die dreigemente van die priesters en owerstes.

12. Hoe het dit gebeur dat die apostels vervolgens voor die hof getuig het, en is hulle geïntimideer?

12 Die apostels is egter weer deur die geregsdienaars in hegtenis geneem en na die Sanhedrinsaal gebring waar hulle te doene gekry het met ’n woedende hoëpriester wat gesê het:

“Het ons julle nie uitdruklik verbied om in dié Naam te leer nie? En kyk, julle het Jerusalem met julle leer vervul; en julle wil die bloed van hierdie Man op ons bring” (Hand. 5:28).

Sou die apostels se moed hulle begewe in daardie onvriendelike hof, met geregsdienaars wat hulle bewaak en die hoëpriester wat so teen hulle uitvaar? Nee.

“En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense. Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle omgebring het deur Hom aan ’n kruishout te hang. Hom het God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk. En ons is sy getuies van hierdie dinge, en ook die Heilige Gees, wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is.”—Hand. 5:29-32.

13. Wat was Gamaliël se raad, en hoe het die hof dit beskou?

13 Hier is ons die Skrifverslag weer eens dank verskuldig dat dit vir ons die verwronge denkwyse toon van diegene wat God se werk teëstaan. Alhoewel die apostels goeie manne was, was dit die hof se plan om van hulle ontslae te raak. Die gerespekteerde leraar van die wet, Gamaliël, het egter opgestaan en tydige woorde van raad tot die godsdiensowerstes gerig. Hy het gesê:

Israeliete, pas op wat julle gaan doen met hierdie manne; want nie lank gelede nie het Theudas opgestaan en gesê dat hy iets besonders was. By hom het ’n aantal mense—omtrent vierhonderd—aangesluit. Hy is gedood, en almal wat na hom geluister het, is uitmekaargejaag en het tot niet geword. En ná hom het Judas, die Galileër, opgestaan, in die dae van die inskrywing, en ’n aansienlike getal mense afvallig gemaak agter hom aan. Hy het ook omgekom, en almal wat na hom geluister het, is verstrooi. En nou sê ek vir julle, bly af van hierdie manne en laat hulle staan; want as hierdie voorneme of hierdie werk uit mense is, sal dit vernietig word; maar as dit uit God is, kan julle dit nie vernietig nie—dat dit nie miskien bevind word dat julle selfs teen God stry nie” (Hand. 5:34-39).

Hierdie wyse raad van Gamaliël is gedeeltelik aanvaar. Alhoewel die godsdiensleiers nie opgehou het om teen God te stry nie, het hulle ten minste nie die apostels om die lewe gebring nie. Hulle het hulle eerder kwaai geslaan, hulle beveel om nie meer oor Jesus te spreek nie en hulle toe laat gaan.—Hand. 5:40.

MOED TYDENS BEPROEWING

14. Hoe het die Christene toe moedig opgetree, en met watter gevolge?

14 Het al hierdie dinge ’n demper geplaas op die apostels se vrymoedigheid om God se woord te spreek? Die verslag antwoord:

“Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly. En hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is” (Hand. 5:41, 42).

Moedig het die apostels en ander Christene hulself met die woord van God besig gehou en met vrymoedigheid gespreek, en Jehovah het hulle werk geseën.

“Die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder, en ’n groot menigte van priesters het gehoorsaam geword aan die geloof.”—Hand. 6:7.

15. Wat is party van die dinge wat Stefanus vrymoedig gespreek het, en hoe het die godsdiensleiers gereageer?

15 Noudat priesters hulle ook bekeer het en Christene geword het, het die teenstand van die godsdiensleiers, wat ten gunste van streng optrede was, onverpoosd voortgeduur. Eerlank het die ywerige getuie Stefanus homself voor die Sanhedrin bevind. Hy het ’n kragtige getuienis gelewer waarin hy die ontplooiing van Jehovah se voornemens verhaal het. Maar die teenstanders het woedend op hom afgestorm en hom gestenig. Sake het vir Stefanus verloop net soos Jesus voorspel het: “Daar kom ’n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ’n diens aan God bewys.”—Joh. 16:2; Hand. 6:8-7:60.

16. (a) Wat het toe met die res van die Christengemeente gebeur? (b) Watter beskouing het hulle van hulle materiële dinge gehad?

16 Stefanus se marteldood was die teken wat ’n vlaag bittere vervolging ontketen het.

“Daardie dag het daar ’n hewige vervolging van die gemeente in Jerusalem begin. Al die gelowiges behalwe die apostels is uitmekaar gejaag en verstrooi oor die gebiede van Judea en Samaria” (Hand. 8:1, NAB).

Maar sou dit Jehovah se getuies van daardie tyd die swye oplê? Hier was voorwaar nog ’n duiwelse poging om die werke van God se knegte te verbreek. Hulle moes huise en besittings verlaat. Hulle het egter die regte beskouing van materiële dinge gehad. In hierdie opsig was hulle soos daardie Christene aan wie die apostel Paulus later geskryf het: “Want julle het ook saam met my gevoel in my boeie, en julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself ’n beter en blywende besitting in die hemel het.”—Hebr. 10:34.

17, 18. (a) Hoe toon die optrede van Filippus en ander Christene wat verstrooi is vir ons hoe ons Satan se metodes kan verydel? (b) Watter seëninge het Jehovah op hulle uitgestort?

17 Die dissipels was terdeë daarvan bewus dat hulle moes voortgaan om getroue getuies van God en van Christus te wees. Gevolglik het “die wat verstrooi was . . . die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig” (Hand. 8:4). Filippus het na die stad Samaria gegaan waar hy die woord met vrymoedigheid bly spreek het en groot blydskap vir die mense veroorsaak het. Eerlank het ander gelowiges hulle by hom gevoeg, en ’n boodskap is na Jerusalem gestuur om die apostels in te lig dat Samaria die woord van God aangeneem het. Petrus en Johannes is soontoe, heilige gees het op die Samaritane geval en die Christengemeente het daar gevestig geraak.—Hand. 8:5-8, 14-17, 25; 9:31.

18 Daardie Christene van die eerste eeu het die regte beskouing gehad. Hulle het gebid dat Jehovah hulle moes help om die woord van God met vrymoedigheid te bly spreek. Dit is wat hulle met behulp van sy gees gedoen het, en hy het hulle geseën. Soos die verslag sê: “Die hand van die Here was met hulle”!—Hand. 11:19-21.

HOE DAAR NOU MET VRYMOEDIGHEID GESPREEK WORD

19. Watter bewys het ons dat Jehovah God en Christus in hedendaagse tye met die Christengetuies is?

19 Dwarsdeur die eeue het Jesus sy belofte gehou: “Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:20). Hoe dankbaar is ons tog, noudat daardie tyd aangebreek het, dat daar meer as 2 000 000 getuies is wat ‘Jehovah se woord met vrymoedigheid spreek’! En ons God het die werk van hierdie “vissers van mense” dermate geseën dat “hierdie evangelie van die koninkryk” bekend geraak het in alle vastelande op die oppervlak van die aarde, selfs in Antarktika. Dit het afgeleë gebergtes asook klein eilandjies wat oor die sewe oseane versprei is, binnegedring (Matt. 24:14). Ja, die getuieniswerk het elke nasie “tot aan die uiterste van die aarde” bereik, en dit alles is deur Jehovah se gees vermag.—Hand. 1:8; Sag. 4:6.

20. Hoe het die Duiwel die draers van God se woord teëgestaan, en kan sy verteenwoordigers ’n einde aan die werk maak?

20 Soos God se Woord voorspel het, is die Duiwel toornig, want hy weet dat hy min tyd het. Hy gaan voort om die getuieniswerk teë te staan (Openb. 12:12, 17). Die Duiwel en sy trawante haat Jehovah se Getuies omdat hierdie Christene “nie van die wêreld” is nie. Baie van hulle is deur vervolging uit hulle huise verdryf. Honderde het ’n gewelddadige dood gesterf, net soos Stefanus in die eerste eeu van ons jaartelling (Openb. 17:6; 20:4). Maar die werk was God s’n. Mense was nie in staat om dit te vernietig nie, aangesien ware diensknegte van God sy woord met vrymoedigheid bly spreek. Sodoende het hulle die Duiwel se planne omvergewerp, ja, verydel.—Vergelyk Efesiërs 6:11, 12; Jakobus 4:7; 1 Petrus 5:8, 9

21. (a) Wat is die werk wat Jehovah nou gedoen wil hê? (b) Waarom wil ons die werk wat aan ons gegee is, volbring, en hoe kan ons die woord met vrymoedigheid bly spreek?

21 Die Koninkryks-‘visserswerk’ brei vandag steeds uit, ondanks toenemende teenstand. En daar is steeds blyke van Jehovah se seën daarop. Gedurende die vorige diensjaar alleen het Jehovah se Getuies hulle verheug om te sien dat 113 672 nuwe persone gedoop is. Hoe bly is dié tog dat hulle Jehovah se woord kan spreek! Dit is vandag God se werk vir ons, en dit behoort almal wat aan Jehovah toegewy is se hartewens te wees om daarin besig te bly, want dit is hulle toewysing (1 Kor. 9:16). Beweeg jou hart jou om Jehovah se woord met vrymoedigheid te spreek? Namate wêreldtoestande vererger, moet dit ons vaste voorneme wees om aan te hou om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig totdat die werk volbring is. Wanneer teenstand ervaar word, word ons nie moedeloos nie. Ons onthou dat Jesus nie alleen die werk aangepak het wat Jehovah hom gegee het nie, maar dit ook volbring het (Joh. 17:4). Hy het ons voorberei om die wêreld se haat te verduur. Mag ons altyd soos hy wees, en soos die apostels en ander Christene van die eerste eeu, terwyl ons vol geloof Jehovah se hulp vra om sy wil vir ons te doen. Mag ons gesamentlike gebed altyd wees: “En nou, [Jehovah], . . . gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u woord te spreek.”—Hand. 4:29.

[Prent op bladsy 23]

Jehovah God seën die werk van hedendaagse “vissers van mense”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel