Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 4/1 bl. 9-15
  • God se regering—die mensdom se enigste hoop

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • God se regering—die mensdom se enigste hoop
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE TEMA VAN DIE BYBEL
  • TEMA VAN BEGIN TOT EINDE
  • MEER LIG OOR DIE KONINKRYK
  • DIE KONING VAN GOD SE REGERING VERSKYN
  • ’N HOOP WAT IN DIE DONKER SKYN
  • ’N BEWIND WAT IN MENSE SE BEHOEFTES SAL VOORSIEN
  • God se koninkryk heers
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Die regering wat die Paradys gaan bring
    Die regering wat ’n Paradys gaan bring
  • Wat is God se Koninkryk?
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Wat is God se Koninkryk?
    Wat kan die Bybel ons leer?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 4/1 bl. 9-15

God se regering—die mensdom se enigste hoop

1-3. (a) Hoe groot is die probleme waarmee die mensdom te kampe het? (b) Hoe kan ons uitvind wat die toekoms inhou?

BY ’N konferensie van wetenskaplikes en godsdiensleiers by Massachusetts se Tegnologiese Instituut tydens verlede jaar se noordelike somer is die probleme waarmee die wêreld te kampe het as ‘so te sê apokalipties’ beskryf. Daar is geen “bloudruk vir oorlewing” nie, het Jerome R. Ravetz, lektor in filosofie aan die Universiteit van Leeds, Engeland, gewaarsku. “Die omvang en ingewikkeldheid van die probleme is so groot dat menslike logika alleen dit nie sal oplos nie.”

2 Wat kan ons dus van die toekoms verwag? ’n Geestelike van die Verenigde Kerk van Kanada het beweer: “Niemand kan met sekerheid voorspel dat ’n beter dag aan die kom is nie. Niemand weet of die beskawing sal verdwyn en of daar eindelik ’n nuwe gemeenskap met oorvloedige lewe vir almal sal wees nie.”

3 Maar is dit waar? Nee! Die feit is dat daar wel Iemand is wat weet wat die toekoms inhou omdat hy die mag en wysheid het om dit na sy wil te vorm. Dit is ons Skepper, Jehovah God. Stem jy, in die lig van die duidelike onvermoë van mense om ’n goeie regering tot stand te bring, nie saam dat dit tyd is om na Hom te begin luister nie? God sê van homself: “Van die begin af verkondig [Ek] die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; [Ek] sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jes. 46:10). En dit behaag God om vir die mens ’n goeie regering te gee.

DIE TEMA VAN DIE BYBEL

4, 5. (a) Wat is die hooftema van die Bybel? (b) Hoe word dit bekend gemaak?

4 Wat sal jy sê indien iemand vir jou vra: “Wat is die hooftema van die Bybel?” Dit is interessant dat die godsdienstydskrif Modern Churchman gesê het: “Die betekenisvolle bydrae van teoloë gedurende die afgelope eeu was dat hulle herontdek het dat die Koninkryk van God die hooftema van die Nuwe Testament is.” Maar verkondig teoloë en geestelikes hierdie belangrike Bybelleerstelling aan die mense? Let op die antwoord wat deur ’n vooraanstaande Presbiteriaanse leek op daardie vraag verstrek is toe hy in Christianity and Crisis geskryf het:

“Indien daar onlangs ’n groot woordestryd onder teoloë gevoer is oor die betekenis van die Koninkryk of oor die verband wat dit met ons wêreld hou, het ek nie daarvan gehoor nie. En wat preke betref, is dit beslis meer as dertig jaar dat ek laas geluister het na ’n predikant wat probeer het om vir sy mense te verduidelik dat die Koninkryk ’n werklikheid is. . . . As ’n leek pleit ek by ons teoloë en by ons geestelikes: Vertel vir ons van die Koninkryk van God; verduidelik vir ons wat dit is en hoe dit verband hou met die wêreld van ons dag.”

5 Maar hierdie godsdiensleiers het dit nie gedoen nie! Wanneer meningspeilings uitgevoer is, was daar skaars ’n enkele kerkganger wat kon sê wat God se koninkryk is, hoe dit gaan kom of wat dit vir die mensdom gaan doen. Die tydskrif wat jy vashou, het andersyds sy titel Die Wagtoring kondig Jehovah se koninkryk aan gestand gedoen. Die bladsye daarvan het gereeld die Koninkryksboodskap beklemtoon. God se regering is in werklikheid die Bybel se hooftema.

TEMA VAN BEGIN TOT EINDE

6-9. (a) Watter verwikkelinge het Jehovah reëlings vir ’n nuwe regering laat tref? (b) Wat het Genesis 3:15 voorspel, en hoe help Openbaring 12 ons om die vervulling te verstaan?

6 Die Bybel begin deur te beskryf hoe God die aarde voorberei het sodat dit deur mense bewoon kon word en hoedat hy die eerste mensepaar in ’n pragtige tuintuiste genaamd Eden geplaas het. Maar voordat die egpaar enige kinders gehad het, het een van God se engele ’n slang gebruik om met die vrou, Eva, te praat en haar te verlei om teen God se bewind in opstand te kom. Die vrou het op haar beurt met haar man, Adam, gepraat en hom oorreed om saam met haar God se leiding te verwerp (Gen. 3:1-6; Openb. 12:9). Jehovah het destyds voorsien dat daar in die toekoms ’n behoefte sou bestaan aan ’n goddelik gereëlde nuwe regering oor die mensdom. Toe God met die aanstigter van die opstand, die engel wat homself Satan die Duiwel gemaak het, gepraat het, het Hy gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.”—Gen. 3:15.

7 Maar jy vra moontlik: “Waar praat hierdie profesie van ’n nuwe regering?” Kom ons ontleed dit en dan sal ons sien. Die teks sê dat daar vyandskap of haat sou bestaan tussen Satan en “die vrou” en tussen Satan se “saad” of kinders en die vrou se “saad” of nageslag. Ons moet eerstens “die vrou” identifiseer.

8 Sy is nie ’n aardse vrou nie—Satan het nie enige menslike vrou besonder veel gehaat nie. Dit is eerder ’n simboliese vrou. Die Bybel se laaste boek Openbaring sê dat sy “met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete, en op haar hoof ’n kroon van twaalf sterre”. Om ons te help om die vrou te identifiseer, kan ons ag slaan op wat Openbaring voorts oor haar kind sê: “Sy het ’n manlike kind gebaar, wat al die nasies met ’n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon.”—Openb. 12:1-5.

9 Wie is hierdie “kind”—hierdie regering-“seun”—wat “al die nasies” as God se verteenwoordiger “sou regeer”? Dit is God se koninkryk in die hande van Christus Jesus, soos ons later sal staaf. En die hemelse vrou is dus God se organisasie getroue engele, daar die Messiaanse koninkryk deur daardie organisasie voortgebring word. Destyds toe Adam en Eva teen God se bewind in opstand gekom het, het Jehovah dus die inisiatief geneem en ’n Koninkryksregering beskik wat as ’n inspirasie en hoop vir liefhebbers van geregtigheid sou dien.

MEER LIG OOR DIE KONINKRYK

10, 11. (a) Op watter koninkryke het God se eertydse knegte nie vertrou nie, en waarom nie? (b) Watter “stad” het God vir hulle berei?

10 Jehovah God het progressief inligting oor hierdie regering aan sy knegte geopenbaar en dit voorgehou as die enigste een waarop die mensdom kan vertrou. Aangesien almag gewisse welslae daarvoor waarborg, het getroue knegte van God nie op mensgemaakte koninkryke vertrou nie. Hulle het openlik bely dat hulle op God se hemelse Koninkryksregering wag. Die apostel Paulus het byvoorbeeld die volgende hieroor geskryf:

“ln die geloof het hulle almal [hierdie getroue voorchristelike knegte van God] gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde wag. . . . Maar nou verlang hulle na ’n beter een, dit is ’n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ’n stad berei.”—Hebr. 11:13-16.

11 Wat is hierdie “stad” wat God vir hierdie eertydse knegte van hom berei het? Dit is die hemelse koninkryk van God, sy regering. Kom ons gaan die voorbereidings na wat getref is vir die oprigting van daardie Koninkryksregering. Soos daar in Paulus se brief aan die Hebreërs gemeld is, het God se knegte van die ou tyd gesterwe “sonder om die beloftes [oor die Koninkryk] te verkry”. Watter beloftes?

12-14. Watter beloftes oor God se koninkryk is aan Abraham, Isak, Jakob, Juda en Dawid gedoen?

12 In Genesis 22:18 het Jehovah vir Abraham belowe: “In jou nageslag [saad, NW] sal al die nasies van die aarde geseën word.” In sy brief aan die Galasiërs het die apostel Paulus Jesus Christus geïdentifiseer as Abraham se saad deur wie die nasies hulself sou seën (Gal. 3:16). Soortgelyke beloftes oor ’n komende “saad” van seën is aan Abraham se seun Isak en sy kleinseun Jakob gedoen (Gen. 26:3-5; 28:13, 14, vgl. NW). Soos hierdie beloftes getoon het, sou die “saad” van God se vrou deur die geslag van Isak en Jakob kom.

13 Let op die verdere belofte aan Jakob se seun Juda: “Die septer sal van Juda nie wyk nie, nog die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees” (Gen. 49:10). Jesus Christus, wat “uit Juda voortgespruit het”, was hierdie “Silo” aan wie ‘die volke gehoorsaam sou wees’. En kyk hoe dit verder in die Bybel gestaaf word.—Hebr. 7:14.

14 Amper 700 jaar na die belofte aan Juda het Jehovah van Dawid van die stam van Juda gesê: “Ek het Dawid, my kneg, gevind, met my heilige olie hom gesalf, met wie my hand bestendig sal wees; ook sal my arm hom versterk. En Ek sal sy nageslag [saad, NW] vir ewig laat duur en sy troon soos die dae van die hemel” (Ps. 89:21, 22, 30). Wanneer God sê dat die “saad” van Dawid “vir ewig” sal duur en dat “sy troon” so lank “soos die dae van die hemel” sal bestaan, verwys hy na die permanensie van die koninkryksregering in die hande van sy aangestelde heerser, Jesus Christus. Hoe weet ons dit?

DIE KONING VAN GOD SE REGERING VERSKYN

15, 16. (a) Hoe weet ons dat Jesus Christus die “saad” van Dawid is? (b) Waarom kon Johannes verkondig: “Die koninkryk van die hemele het naby gekom”?

15 Wel, beskou wat in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling gebeur het. Jehovah het sy engel Gabriël gestuur om vir die maagd Maria te vertel van die kind waaraan sy op wonderdadige wyse die lewe sou skenk. “Jy moet Hom Jesus noem”, het Gabriël gesê. “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie” (Luk. 1:31-33). By Jesus se geboorte het “’n engel van die Here” vir herders gesê dat hy die beloofde Messias, die Saligmaker en Here is.—Luk. 2:8-12.

16 God se regering het dus in die eerste eeu begin om vorm aan te neem. Mettertyd het Johannes die Doper begin preek: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matt. 3:1, 2). Waarom kon Johannes dit sê? Omdat die aangewese Koning van daardie regering in hulle midde was. Nadat Johannes Jesus gedoop het, het God sy heilige gees uitgestort om Jesus te salf as die Een wat koning in die hemelse regering sou word. Toe, gedurende ’n bediening van drie en ’n halwe jaar, het Christus getoon dat hy kwalifiseer om koning te wees deur aan God getrou te bly tot in die dood, toe die Slang hom in die hakskeen gewond het (Gen. 3:15). Aangesien hy tot lewe in die hemel opgewek is, is Christus in die posisie om sy Vader se wil te doen en ‘al daardie koninkryke [van mense] te verbrysel en daar ’n einde aan te maak’ om die weg vir God se inkomende wêreldregering te baan.—Dan. 2:44; Matt. 6:9, 10.

17. Watter verdere openbarings was daar oor die struktuur van God se regering?

17 ’n Verdere openbaring oor hierdie Regering is dat ander uit die mensdom die voorreg sal hê om saam met Christus as konings te heers. Deur sy profeet Daniel het God getoon dat persone genaamd “heiliges” saam met sy Seun sal heers (Dan. 7:13, 14, 27). Christus het ook so ’n belofte aan sy getroue apostels gemaak (Luk. 22:28-30). Aan gesalfde Christene het die apostel Paulus die volgende in sy brief aan die Galasiërs verduidelik: “As julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag [saad, NW] van Abraham.” Paulus het aldus getoon dat hoewel hoofsaaklik Christus die beloofde saad is, God ander sou kies om saam met hom “erfgename van die koninkryk” te wees (Gal. 3:16, 29; Jak. 2:5). Paulus het dienooreenkomstig vir Timotheüs geskryf: “As ons verdra, sal ons met Hom regeer” (2 Tim. 2:12). Later het die apostel Johannes geskryf oor diegene wat saam met Christus Jesus “koningskap oor die aarde [sal] uitoefen”, en gesê dat daar 144 000 van hulle sou wees.—Openb. 5:10, NAB; 14:1-3.

’N HOOP WAT IN DIE DONKER SKYN

18-20. (a) Hoe het ’n elektrisiën die tema van die Bybel mooi opgesom? (b) Wie alleen verkondig die Koninkryksboodskap?

18 Is dit nie aangrypend hoe God sy wonderlike voorneme om ’n regverdige regering op te rig tot die ewige voordeel van diegene wat hom liefhet en hom vertrou, laat ontplooi het nie? Maar hoe hopeloos het die ontroue geestelikes en teoloë van die Christendom tog daarin gefaal om hierdie voorneme aan hulle kuddes bekend te maak! Die mense, wat verduisterd is in die verstand en onkundig is oor die Koninkryk, het dus hulle vertroue in die een menseregering na die ander gestel—tot hulle eie nadeel en teleurstelling. Waardeer jy egter die Bybel se boodskap? Wat sal jy sê as iemand vir jou vra: “Wat is die hooftema van die Bybel?”

19 Enkele jare gelede het een van Jehovah se Getuies, ’n elektrisiën by ’n afdelingswinkel in Dayton, Ohio, ’n goeie geleentheid gehad om ’n antwoord te verstrek. Hy is deur die redakteur van die winkel se koerant versoek om ’n resensie te skryf oor die interessantste boek wat hy onlangs gelees het. Hy het geskryf:

“Ek sal my hele lewe lank aan hierdie boek lees. Dit begin deur te vertel van ’n pragtige tuiste wat deur opstand vernietig word. Tragedie, rampe, smart, moord en die dood volg. Namate die gesin groter word, stort hulle al hoe vinniger in wanhoop en duisternis in. Eeue verstryk, nasies kom op en val, duisende karakters word bespreek, elke menslike emosie van loutere, intense haat tot ’n martelaar se liefde word teëgekom. Hoop, wat as ’n dowwe vonkie begin, groei tot absolute sekerheid. ’n Volmaakte regering gaan die pragtige tuiste herstel. Die heerser is die Koning, Christus Jesus. Die regering, die Koninkryk van God. Die gesin, die mensdom. Die boek is die Bybel!”

20 Wat ’n goeie getuienis het die elektrisiën tog gelewer oor God se koninkryk en wat dit vir die mensdom gaan doen! Waarlik, God se regering is die enigste hoop om ’n ryk en waarlik gelukkige lewe te geniet! Dit is die boodskap wat Jehovah se Getuies dwarsoor die wêreld verkondig in ooreenstemming met Jesus se profesie: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matt. 24:14). Ja, binnekort sal alle menseregerings vernietig word—want hulle het nie daarin geslaag om in die mense se behoeftes te voorsien nie. Dit sal die begin wees van ’n regverdige nuwe stelsel onder die leiding en beheer van die hemelse Koning, Jesus Christus, en sy medeheersers. O, hoe wonderlik tog om ’n onderdaan van daardie regering van God te wees! Beskou kortliks die seëninge wat die Bybel sê dit op die mensdom gaan uitstort.

’N BEWIND WAT IN MENSE SE BEHOEFTES SAL VOORSIEN

21, 22. (a) Watter welslae sal die Koninkryk behaal op die gebied van oorlog, misdadigheid en vrees, in teenstelling met mense se pogings? (b) Wat sal die uitwerking van God se bewind op diere wees?

21 In Psalm 46:9, 10 (Die Blye Boodskap) word ons genooi om ondersoek in te stel na die werke van Jehovah: “Kom kyk wat DIE HERE gedoen het, watter verbasende dinge Hy op die aarde tot stand gebring het.” En wat is party van hierdie verbasende dinge? “Hy wat die oorloë oor die hele aarde laat ophou.” Menseregerings het hopeloos daarin gefaal om ’n einde aan oorlog te maak. Maar God sal nie daarin faal om permanente vrede tot stand te bring nie, want die psalmis sê: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word; . . . Die goddelose sal daar nie wees nie” (Ps. 37:9, 10). Die mensdom sal sonder tronke, sonder polisie, sonder slotte aan deure, ja, sonder vrees wees. God se belofte is dus dat diegene wat onder sy Koninkryksbewind lewe, die lewe sal geniet, “sonder dat iemand hulle verskrik”.—Miga 4:4.

22 Selfs vandag leer persone met dierlike neigings om in vrede met mekaar te lewe deur God se Woord in hulle lewens toe te pas. God se Woord toon dat selfs die diere onder Koninkryksbewind in vrede sal lewe. “Dan wei die wolf by die lam”, sê die Bybel, “en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja.” Geen menseregering kan eens hoop om so iets reg te kry nie!—Jes. 11:6.

23. Watter vermoëns van die aarde se nuwe heerser sal verseker dat daar genoeg voedsel vir alle Koninkryksonderdane is?

23 Nog ’n vereiste vir die soort wêreld waarin ons almal graag wil lewe, is dat daar genoeg voedsel vir almal moet wees. Menseregerings het nie daarin geslaag om van voedselskaarstes en hongersnode ontslae te raak nie, maar die Koninkryksbewind sal nie daarin faal nie. Toe Jesus op die aarde was, het hy getoon dat hy, deur middel van God se gees, in staat is om beheer uit te oefen oor die wind en die see, oor plante en visse (Mark. 4:39; Matt. 21:19; Joh. 21:6). Dink net wat dit onder die Koninkryk sal beteken! Dwarsoor die aarde sal daar volmaakte klimaatbeheer wees, wat beteken dat daar geen misoeste sal wees nie. Dit sal weer oorgenoeg voedsel vir almal waarborg. Die Bybel sê: “Mag daar volop graan in die land wees, mag dit selfs bo-op die bergtoppe wuif.”—Ps. 72:16, NAB.

24-26. Wat sal die Koninkryk doen vir die siekes, die lammes, die dowes, en selfs vir diegene wat oud word?

24 Menseregerings het daarin gefaal om die mensdom te bevry van siekte en kwale, ’n vereiste om ’n waarlik gelukkige lewe te lei. Maar toe Jesus op aarde was, het hy elke kwaal en elke gebrek genees en sodoende getoon wat hy dwarsoor die aarde gaan doen om gesondheid en lewe aan al sy onderdane te gee. Onder Koninkryksbewind sal die Bybelbelofte ’n letterlike vervulling hê: “Geen inwoner sal sê: Ek is siek nie” (Jes. 33:24). Ja, geen dokters- en tandartsrekeninge meer nie! Geen klinieke, hospitale en hospitaalrekeninge meer nie!

25 Selfs die verouderingsproses kan vandag ’n uiters ontstellende ervaring wees. Een vrou het geskryf: “Ek raak nie maklik terneergedruk nie, maar dit gebeur nou met my en ek weet waarom: Ek word oud. . . . Die gewone pyne hinder my nie soveel soos my voorkoms nie. Ek was baie mooi toe ek jonk was, maar nie nou nie. Ek het groewe en plooie wat geen skoonheidsbehandeling kan regstel nie en my hare is grys. . . . Hoe kan ek van die neerslagtigheid ontslae raak?”—New York se Post, 23 Maart 1979.

26 Die waarheid is dat God se koninkryk die enigste gewisse raat vir sulke probleme is. Onder die bewind daarvan sal die verouderingsproses deur God se krag omgekeer word sodat liggaam en verstand jonger sal word totdat dit volmaak is! Mense sal weer volmaakte gesondheid terugkry sodat ‘’n man se vlees die frisheid van jeugdige krag sal verkry’ (Job 33:25). Toestande soos die wat in Jesaja 35:5, 6 beskrywe word, sal heers: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel.”

27. Watter getuienis is daar dat selfs die dood oorwin sal word?

27 Maar iemand sê dalk: “Indien mense nie siek of oud word nie sal hulle nie doodgaan nie.” Hy het reg. Dit is presies wat sal gebeur. Lykbesorgers of begrafnisondernemers sal ander werk moet soek, want God beloof: “Daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie” (Openb. 21:4; Jes. 25:8). Die psalmis het van Jehovah gesê: “U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae” (Ps. 145:16). Dink net wat dit beteken! Die regmatige behoeftes en begeertes van elke persoon sal bevredig word, en dit sal baie beter wees as wat enige van ons onvolmaakte mense ons nou kan voorstel.

28, 29. (a) Watter verdere begeerde seëninge sal die Koninkryk bring? (b) Watter getuienis is daar dat die dooies opgewek sal word? (Luk. 7:11-15; 8:49-56)

28 Watter vreugde tog! Onder die regverdige toestande van die Koninkryksbewind sal kinders die geleentheid gebied word om te leer en volmaak groot te word sonder die onveiligheid van hierdie wêreld en die gevare op sy strate. Die gevaar van dwelmverslawing of die verderflike invloed van slegte omgang sal nie meer gevrees hoef te word nie! Elke mens sal die geleentheid hê om sy vermoëns en talente ten volle te ontwikkel, en daar sal aangename, lonende werk vir almal wees. Die profeet Jesaja het toegelig wat die Koninkryksbewind kan doen toe hy gesê het: “Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet; . . . want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet.”—Jes. 65:17-25.

29 Hier is ’n belofte van waardigheid en doel vir elke man, vrou en kind. Die ou lewe sal in die geheue vervaag. Die mens sal dinge bou, plant en oes wat sy eie bly. Kinders sal in ’n rustige, heilsame milieu grootgemaak word. Selfs die dooies sal opgewek word! (Joh. 5:28, 29). Vaders en moeders, broers en susters, ooms en tantes, vriende en bure vanaf die tyd van Abel tot vandag toe sal almal hier op aarde verenig word. Wat ’n heuglike dag sal dit tog wees!

30. (a) Deur middel waarvan sal God se oorspronklike voorneme met die aarde uitgevoer word? (b) Wat spoor die Koninkrykshoop jou aan om te doen?

30 Geen menseregering durf eens daarvan droom om sulke dinge vir sy onderdane te doen nie. Slegs God kan die vervulling van sulke beloftes waarborg. Daarbenewens sal die hele mensdom onder Koninkryksbewind in die aanbidding van Jehovah verenig word. Onder sy hemelse toesig sal die aarde geleidelik in ’n globale paradys, ’n aardwye tuin van Eden, omskep word. En almal wat lewe, sal volmaakte gesondheid en ewige lewe onder die koninkryk van God geniet. Waarlik ’n wonderlike hoop! En dit is gebaseer op die allerbetroubaarste bron, Jehovah God self.

[Prent op bladsy 11]

Abraham het daardie koninkryk “uit die verte” gesien.—Hebr. 11:13-16

[Prent op bladsy 13]

Johannes, wat Jesus as die aangewese Koning geïdentifiseer het, het gepreek: ‘Die koninkryk het naby gekom’

[Prent op bladsy 15]

Onder sy regering sal God “al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie”.—Openb. 21:4

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel