Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 4/15 bl. 5-8
  • Het God ’n naam?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Het God ’n naam?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WAT IS GOD SE NAAM DAN?
  • WAAR WORD DIE NAAM GEVIND?
  • WAAROM “JAHWEH”?
  • “JEHOVAH” IS BAIE BEKENDER
  • Jehovah
    Redenering uit die Skrif
  • A4 God se naam in die Hebreeuse Geskrifte
    Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
  • God se naam
    Ontwaak!—2017
  • God se naam—Die gebruik en betekenis daarvan
    Wat leer die Bybel werklik?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 4/15 bl. 5-8

Het God ’n naam?

BAIE mense dalk: ‘Maak dit saak wat God se naam is? Daar is tog net een Opperwese.’ ’n Geestelike in Kanada het byvoorbeeld eenkeer gesê: “Die naam wat mense aan God gee, is ook onbelangrik.” Hierdie geestelike het aangevoer dat dit geen verskil sal maak indien ’n mens “Allah” sou sê, soos die Moslems sê, of, soos party Noord-Amerikaanse Indiane, “Manitou” sou gebruik nie. Talle geestelikes is dieselfde mening toegedaan.

Maar kom ons dink ’n bietjie: Waarom gebruik ons name? Wat behels ’n naam?

Name word basies as identifikasie gebruik. Hulle staan ook dikwels nou in verband met persoonlike prestasies of roem. Name soos Alexander die Grote of Ghandi laat miljoene dadelik aan die prestasies van hierdie manne dink.

Maar waarom het God ’n naam nodig? Omdat, alhoewel baie mense slegs in een God glo, tallose ander meer as een god aanbid. Hindoes het miljoene gode. In ander dele van Asië en in Afrika aanbid miljoene hulle voorouers. Baie aanbid die Staat, politieke leiers, verhoogkunstenaars of rolprent-“sterre”. En van ander word daar gesê: “Hulle god is die buik.”—Filip. 3:19.

Om die Opperwese van hierdie menigte gode te onderskei, het hy ’n baie eksklusiewe en persoonlike naam. En soos ons sal sien, is hierdie naam nie alleen belangrik om hom te identifiseer nie, maar is dit ook onafskeidbaar aan sy reputasie verbonde. Hy het vir homself naam gemaak.

WAT IS GOD SE NAAM DAN?

Is God se naam dalk “Allah”? Nee. Soos ’n goeie woordeboek sal toon, is “Allah” ’n verkorting van die Arabiese uitdrukking wat “die god” beteken. Dit is vanselfsprekend nie ’n naam nie.

Wat van “Here”? Dit is ook nie ’n naam nie. “Daar [is] baie gode en baie here”, sê die Bybel (1 Kor. 8:5). Die Spaanse woord vir “Here”, wat dikwels in Spaanse vertalings van die Bybel gebruik word, is Señor, wat gewoonlik “meneer” beteken. Hoe kan dit ’n persoonlike, eksklusiewe naam vir die Opperwese wees?

Party sê moontlik: ‘Is God se naam dan nie Jesus nie?’ Toe Maria van Jesus se geboorte verwittig is, het die hmelse boodskapper of engel vir haar gesê: “Jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word” (Luk. 1:30-32). Jesus is dus die naam van God se Seun, nie die van die Opperwese nie. Jesus het self gesê: ‘My Vader is groter as Ek.’—Joh. 14:28; vergelyk Spreuke 30:4.

Omdat Jesus God se Seun is, geniet hy ’n intieme verhouding met sy Vader. En Jesus het duidelik gesê dat sy Vader ’n naam het. Toe Christus sy dissipels die beroemde Onse Vader geleer het, was sy heel eerste woorde: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word” (Matt. 6:9). In ’n latere gebed tot sy Vader het Jesus gesê: “Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. . . . Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak” (Joh. 17:6, 26). Jesus het gevolglik die volle betekenis van sy Vader se naam aan hulle geopenbaar.

Dit is interessant dat die Hebreeuse vorm van “Jesus” “Jehosua” is, en dit is ’n verkorting van “Jehovah-jesua”, wat beteken “Jehovah is redding”. Daar het ons dit—die naam van die Vader, die Opperwese, is JEHOVAH. En hoe gepas dat Jesus, as Jehovah se agent vir redding, na sy Vader vernoem is!

WAAR WORD DIE NAAM GEVIND?

Die naam “Jehovah” word in talle geskrifte en in baie ander plekke aangetref. Maar die vernaamste bron van die naam is antieke Hebreeuse geskrifte wat deel van die Bybel uitmaak. Jy sê moontlik: ‘Maar ek het nog nooit daardie naam in my Bybel gesien nie.’ Dit is waar dat party Bybels nie God se naam gebruik nie. Maar onthou dat ons Bybels bloot vertalings is, en vertalers verskil in die wyse waarop hulle die oorspronklike teks weergee. Dit gebeur nie net met die Bybel nie, maar ook met enige boek of artikel wat deur verskeie persone vertaal word.

Die New World Translation of the Holy Scriptures, wat dikwels in hierdie tydskrif aangehaal word, bevat byvoorbeeld die naam “Jehovah” duisende kere. Maar in die bekende King James Version word dit slegs ’n paar keer aangetref. Indien jy ’n eksemplaar van laasgenoemde Bybel het, kan jy die boek Exodus, hoofstuk 6, vers 3 naslaan en sal jy hierdie woorde daar aantref: “And I appeared unto Abraham, unto Isaac, and unto Jacob, by the name of God Almighty, but by my name JEHOVAH was I not known to them.”

Jy verkies moontlik ’n Katolieke vertaling. Baie van hulle bevat nie God se naam nie. Maar indien jy ’n eksemplaar van The Jerusalem Bible, ’n hedendaagse Katolieke vertaling, besit en die bogemelde vers naslaan, sal jy vind dat dit die naam “Yahweh” in plaas van “Jehovah” gebruik. Waarom is dit die geval?

WAAROM “JAHWEH”?

“Jahweh” (soms “Jahveh” of “Yahweh”) is eenvoudig ’n poging om God se naam weer te gee in ’n vorm wat nader is aan die oorspronklike Hebreeus. Toe antieke Hebreeus geskryf is, is slegs konsonante en geen vokale gebruik nie. God se naam in die ouer Hebreeuse manuskripte word aangegee as יהוה (YHWH of JHVH), en Bybelkommentators verwys dikwels na hierdie letters as die “Tetragrammaton”, wat “vier letters” beteken.

Deur die eeue heen het die korrekte uitspraak van die goddelike naam in Hebreeus verlore gegaan. Daar bestaan gevolglik onsekerheid oor watter vokale gebruik moet word om die naam te vorm. Deur die vokaaltekens van die twee Hebreeuse woorde Adonaï (Here) en Elohim (God) met die Tetragrammaton te verbind, is die uitspraak Ye·ho·wah’ gevorm. In ’n verlatynste vorm het dit eindelik “Jehovah” geword. Talle Hebreeuse geleerdes sê nietemin dat “Jahweh” korrekter is. Maar Rudolph Kittel, redakteur van Biblia Hebraica, vokaliseer die Hebreeuse tetragram as “Yehwah” in al sy uitgawes.

“JEHOVAH” IS BAIE BEKENDER

Die naam “Jehovah” is egter baie bekender en word baie meer gebruik. Eeue lank al het dit in Bybelvertalings en allerhande literatuur verskyn.a Dit verskyn ook in verskeie inskripsies. ’n Latynse inskripsie op die munisipale wapen van die stad Plymouth, Engeland, lui byvoorbeeld Turris Fortissima Est Nomen Jehova, wat beteken “Die naam Jehovah is die sterkste toring.” (Kyk Spreuke 18:10.) Die naam “Jehovah” verskyn dus selfs op die plaaslike busse.

Kom ons “besoek” nou kortliks die eiland Menorca in die Middellandse See langs die kus van Spanje. Hier, in die hoofdorp Mahón, verskyn die Tetragrammaton op die muur van ’n openbare groentemark wat voorheen ’n klooster was. Daar naby, in die dorpie San Luis, is die Hebreeuse letters van Jehovah se naam op die plaaslike kerktoring aangebring.

Kom ons kyk nou binnekant die beroemde katedraal van Toledo, Spanje se antieke kerkstad. Let op die pragtige fresko teen die plafon van die hoofkonsistorie. Dit is die werk van Lucas Giordano, ’n beroemde Italiaanse skilder van die 17de eeu. Daar, in ’n prominente posisie, pryk die vier Hebreeuse letters van God se naam.

Die beroemdste van al die Christendom se kerke is waarskynlik die St. Petrus-basiliek in die Vatikaanstad. Daar word die graftombe van pous Pius X (1835-1914) versier deur ’n skildery van die hoëpriester van Israel met die Tetragrammaton op sy hooftooisel. Dit word ook aangetref op ’n band op die voorhoof van ’n beeld wat die graftombe van pous Clemens XIII (1693-1769) versier.

Het jy al ooit van die “Flavit Jehovah” medalje gehoor? Dit was gemunt om die oorwinning van die Engelse vloot oor die Spaanse Armada in 1588 G.J. te herdenk—toe ’n kwaai storm met die invallers klaargespeel het. Die volgende woorde kom in Latyn en Hebreeus op hierdie medalje voor: Flavit יהוה et dissipati sunt —“Jehovah het geblaas en hulle is verstrooi.”

Liefhebbers van ernstige musiek is goed bekend met die majestueuse “Halleluja-koor” van Händel se beroemde oratorium, Die Messias. Sedert die eerste uitvoering in 1743 het miljoene gehoor hoedat dit gesing word. Maar hoeveel het besef dat “Halleluja” (of “Alleluja”) “Loof Jehovah” beteken?

’n Ander beroemde musikus, Franz Schubert, het die musiek gekomponeer vir ’n lied met die titel “Die Almag” (Duits, die Allmacht), en die tema daarvan is: “Groot is Jehovah, die Heer!” (Kyk bladsy 17.)

God se eienaam word op tallose ander plekke vertoon en vereer. ’n Bietjie navorsing laat ook geen twyfel dat JHVH (YHWH) die NAAM van die Opperwese is soos in die Hebreeuse Bybel aangetoon word nie. En hoeveel keer verskyn daardie heilige naam daar? SESDUISEND-NEGEHONDERD-EN-SESTIG KEER! Is dit nie baie duidelik dat die goddelike naam NOOIT VERONDERSTEL WAS OM UITGELAAT TE WORD NIE?

En tog het baie Bybelvertalings God se naam weggelaat. Waarom? Kom ons kyk eers na God se naam in die geskiedenis voordat ons daardie vraag beantwoord.

[Voetnoot]

a Webster’s New International Dictionary (1955) sê oor “Jehovah”: “Die Opperwese; God; die Almagtige . . . ’n Christelike vorm wat aan die Tetragrammaton gegee is.”

[Prente op bladsy 7]

Kerktoring in Menorca, Spanje

Munisipale busse in Plymouth, Engeland

Standbeeld op die graftombe van pous Clemens XIII

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel