Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 4/15 bl. 8-11
  • God se naam in die ou tyd

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • God se naam in die ou tyd
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • VROEË GESKIEDKUNDIGE AGTERGROND
  • DIE BEWIND VAN KONING DAWID
  • VERANDERENDE BESKOUINGS
  • WAT HET CHRISTUS EN SY DISSIPELS GEDOEN?
  • Eer Jehovah se groot naam
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Die uitdaging om God by name te ken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • God se naam
    Ontwaak!—2017
  • Jehovah
    Redenering uit die Skrif
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 4/15 bl. 8-11

God se naam in die ou tyd

GOD, die Mag agter die heelal, is ’n werklike Persoon. Daarbenewens het ons gesien dat hy ’n eksklusiewe, persoonlike naam het—Jehovah (of, Jahweh—in Hebreeus, YHWH).

Maar wat van die geskiedkundige agtergrond van daardie naam? Watter lig kan die geskiedenis op die goddelike naam werp?

VROEË GESKIEDKUNDIGE AGTERGROND

Laat ons teruggaan na die 16de eeu v.G.J. Die Israeliete is in Egipte en gaan gebuk onder die hardvogtige bewind van Farao. Moses word deur Jehovah aangesê om te versoek dat Israel vrygelaat moet word. Om te toon in wie se naam Moses moet optree en spreek, sê God vir hom: “Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: [Jehovah]a, die God van julle vaders . . . het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig.”—Ex. 3:15, vgl. NW.

Maar Farao self weier later om te luister en sê: “Wie is Jehovah . . . ? Ek ken Jehovah nie” (Ex. 5:2, NW). Na etlike plae sê God vir Farao: “Juis hierom het Ek jou nog laat bestaan, dat Ek jou my krag kan toon, en dat hulle my Naam op die hele aarde kan verkondig.”—Ex. 9:16.

Die eerste vyf boeke van die Bybel, wat die voormelde verslag bevat, is vol verwysings na God se eienaam. Dit verskyn 550 keer in die Hebreeuse teks van Deuteronomium alleen. Die naam is nie net deur die priesters en Leviete gebruik nie. Moses het geskryf: “Hoor, Israel, [Jehovah] onse God is ’n enige [Jehovah]. Daarom moet jy [Jehovah] jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deut. 6:4-7). God se verhewe naam is ongetwyfeld in daardie dae vryelik tydens gesinsaanbidding gebruik.

DIE BEWIND VAN KONING DAWID

Tydens die bewind van koning Dawid het die gebruik van die naam Jehovah nuwe en glorieryke hoogtes bereik. Onder goddelike inspirasie het Dawid talle mooi psalms of lofliedere tot Jehovah gedig. Dawid het ook ’n groot tempelorkes en -koor, wat uit duisende sangers en spelers bestaan het, georganiseer. Hulle het gereeld pragtige, roerende lofliedere tot Jehovah gespeel en gesing en ‘tot eer van sy Naam psalmgesing’.—Ps. 68:5.

Het hierdie gebruik van sy naam in die openbaar en deur gesinne Jehovah behaag? Het hy Dawid en sy tydgenote veroordeel as oortreders van die derde gebod wat lui: “Jy mag die naam van [Jehovah] jou God nie ydellik gebruik nie”? (Ex. 20:7). Klaarblyklik nie! Dawid is ryklik deur God geseën en sy bewind was uiters geslaagd.

VERANDERENDE BESKOUINGS

Ongeveer vyf eeue later het Jehovah se getroue profeet Maleagi die tetragrammaton (die vier Hebreeuse letters van God se naam) 48 keer in die vier kort hoofstukke van sy profesie gebruik. Die woord van Jehovah wat deur Maleagi gespreek is, het deels gelui: “Van die opgang van die son tot sy ondergang toe is my Naam groot onder die heidene.” En die gedagte word herhaal vir nadruk—“My Naam is groot onder die heidene, sê [Jehovah] van die leërskare.”—Mal. 1:1, 11.

Let ook op wat Maleagi omtrent party van die priesters van sy dag geskryf het: “’n Seun eer die vader, en ’n kneg sy heer. As Ek dan ’n Vader is, waar is my eer? En as Ek ’n Heer is, waar is die vrees vir My? sê [Jehovah] van die leërskare aan julle, o priesters, wat my Naam verag!”—Mal. 1:6.

Die verband toon dat die priesters nie versuim het om God se naam te gebruik nie, maar dit met minagting bejeën het deur onaanvaarbare offerandes te bring. Die Hebreeuse Skrifte en ander geskrifte van daardie tydperk toon dat Jehovah se naam alom gebruik is. Dokumente (genaamd die Elephantine Papyri) wat uit die vyfde eeu v.G.J. dateer en in ’n Joodse kolonie in Bo-Egipte gebruik is, bevat byvoorbeeld die goddelike naam.

Daar is egter bewyse dat ’n bygelowige neiging voor Jerusalem se vernietiging deur die Romeine ontstaan het om die goddelike naam te vermy.b Dit was dalk te wyte aan ’n ekstremistiese, fanatieke vertolking van die derde gebod—om nie God se naam ydellik te gebruik nie (Ex. 20:7). Maar het God, toe hy daardie gebod gegee het, bedoel dat sy naam nooit gebruik moet word nie, behalwe tydens seldsame, spesiale geleenthede, moontlik slegs by die heiligdom? Dit kon nie die geval wees nie, want toe die goddelike naam algemeen gebruik is (soos in Dawid se dag), was God se seën in Israel baie duidelik te sien. Maar God se seën was opvallend afwesig in daardie nasie as ’n geheel tydens Jesus Christus se lewe en bediening op aarde toe God se naam in onbruik geraak het weens die godsdienstradisie van die Jode. Die Joodse godsdiensleiers van daardie dag het so van God en sy beginsels vervreemd geraak dat hulle nie alleen sy naam geheim gehou het nie, maar hulleself ook verantwoordelik gemaak het vir die dood van sy geliefde Seun. Enkele jare later, in 70 G.J., het die Jode ’n verskriklike prys hiervoor betaal toe hulle tempel en die heilige stad Jerusalem deur die Romeinse leërs vernietig is.

WAT HET CHRISTUS EN SY DISSIPELS GEDOEN?

Het Jesus Christus en sy dissipels die Joodse tradisie in verband met God se naam gevolg? Jesus het die tradisie van die Fariseërs en skrifgeleerdes onverskrokke veroordeel en sy dissipels aldus bevry van sulke geestelik dodelike invloede. Hy het vir daardie “geveinsdes” gesê: “Waarom oortree julle ook die gebod van God ter wille van julle oorlewering? . . . So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering.”—Matt. 15:3-9.

Het Jesus en sy dissipels dan God se naam vryelik gebruik? Beslis, want hulle het almal dikwels aangehaal uit die Skrifte wat Jehovah se naam bevat het. Hulle het dikwels die Septuaginta gebruik, ’n vertaling van die Hebreeuse Skrifte in Grieks waarvan die voorbereiding omstreeks die derde eeu v.G.J. in Alexandrië begin het, en waarvan eksemplare nog steeds die Tetragrammaton bevat het. Dit is waar dat afskrifte van die Septuaginta wat eeue later gemaak is die Joodse tradisie gevolg het en God se naam weggelaat het. Maar boekrolle of gedeeltes van die Griekse Septuaginta wat dateer uit die dae toe Jesus op aarde was, bevat die Tetragrammaton in Hebreeuse letters.—Kyk Die Wagtoring van 15 Julie 1978, ble. 6-8.

Jesus self het duidelik getoon dat hy die goddelike naam gebruik het. Hy het byvoorbeeld in gebed tot sy Vader gesê: “Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. . . . Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak” (Joh. 17:6, 26). Daarbenewens het Jesus sy volgelinge geleer om te bid: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word” (Matt. 9:6). Waarom sou Jesus daardie verklarings maak tensy hy God se naam gebruik het?

God se naam is dus algemeen gebruik deur sy nuwe uitverkore volk, geestelike Israel, die Christengemeente (Gal. 6:16). Dit is waarom sekere vertalings van die Griekse Skrifte (die “Nuwe Testament”) wel Jehovah se naam bevat. Dit verskyn byvoorbeeld in die Greek Scriptures in Hebreeus, deur Franz Delitzsch (1877); The Emphatic Diaglott, deur Benjamin Wilson (1864); The Christian’s Bible—New Testament, deur George N. LeFevre (1928), en die New World Translation of the Christian Greek Scriptures (1950), asook ander vertalings. In teenstelling hiermee het die meeste vertalings die tradisie van die Jode gevolg en God se naam weggelaat.

Nie lank na Jesus se dag nie het die voorspelde afval begin om die ware Christelike leer en gees te bederf (2 Thess. 2:3; 2 Pet. 2:1-3). Toe die lang nag van die “Donker eeue” gedaal het, het die goddelike naam in onbruik geraak.c Talle eeue lank was kennis van God se naam hoofsaaklik beperk tot die klooster—slegs beskikbaar vir geleerdes soos monnike.

Hoe het die goddelike naam dan wêreldwyd bekend geword, soos dit vandag die geval is?

[Voetnote]

a In die Afrikaanse Bybel het die vertalers die goddelike naam deur die woord HERE vervang. Oral waar die woord HERE in hoofletters verskyn, behoort dit dus eintlik “Jehovah” te lui. Kyk Ontwaak! van 22 Oktober 1974 vir nadere besonderhede.

b Talle Joodse godsdiensleiers van die eerste eeu G.J. is sterk deur heidense Griekse filosofie beïnvloed. Philo, ’n Joodse filosoof van Alexandrië, het byvoorbeeld geglo dat Plato, die beroemde Griekse filosoof, deur God geïnspireer is en het geleer dat God onomskryfbaar is en dat ’n mens gevolglik nie ’n naam aan hom kan gee nie.

c Meer as 1 000 jaar lank is die leer van die valse Christendom deur die leerstellings van Plato gevorm. Kyk A History of Europe, deur H. A. L. Fisher, bl. 52; The Encyclopœdia Britannica, uitgawe van 1964, DI. 18, bl. 63.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel